Monday, 2 April 2012

Die Koninkryk van God op aarde gevestig


Sagaria 6:1-8

Sagaria is ‘n boek wat vir ons in baie detail God se plan met Israel en die nasies uitbeeld.  Dit is ook ‘n profetiese boek en ek glo dat elke Christen reg oor die wêreld hierin ‘n belang het.

Almal wil die toekoms ken en Christene het die unieke openbaring van God.  Dit gee vir ons baie detail oor die toekoms.  En daarom was profesie nog altyd fasinerend vir Christene om te bestudeer.  En hierdie is een van daardie boeke.

Die mens was nog altyd geïnterreseerd in die toekoms.  Daar was nog altyd die towenaars, sieners en profete.  Hulle kyk in kristal balle, lees teeblare, en bestudeer die sterre om te kan sien wat die toekoms vir ons inhou.

Maar die enigste ware bron weet ons is die Bybel en wat die Bybel vir ons sê oor die toekoms.  Net God ken die toekoms en net Hy ken die einde van die begin af.  Net Hy bepaal die einde van die mensdom en die wêreld.  God weet alles.  Hy is Alwetend.  Hy ken die verlede, hede en toekoms.

Jes 46:9 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;
10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;

Hand 15:18 Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.

God ken al sy werke, tot die laaste werk wat Hy doen aan die einde, van die begin af.  Wat dan van die negatiewe dinge?  Het jy geweet dat God weet van al die boosheid van alle mense en dat niks vir Sy oë verberg is nie.

Amos 9:2 Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal.
3 En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt.
4 En al gaan hulle as gevangenes voor hulle vyande uit, Ek sal van daar die swaard ontbied om hulle dood te maak; en Ek sal my oog op hulle rig ten kwade en nie ten goede nie.

Maw God sal die kwaadoener orals vind.  God weet alles.  Hy weet van elke sonde wat elke mens gedoen het.  Maar daar is ‘n positiewe kant ook.

Mal 3:16 Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.
17 En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien.
18 Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.

Aan die een kant sal God alle ongeregtigheid vind en weet Hy van alles.  Maar aan die ander kant, ken Hy die regverdiges en is hulle name opgeskryf in Sy gedenkboek.   God is Alwetend.  Hy weet alles en ken elke mens en elke daad wat ons gedoen het en nog sal doen.

En iewers in die middel van dit alles het God in Sy Alwetendheid ‘n plan daargestel en Hy sal Sy plan deurvoer.  Die Bybel vertel ons van God se plan, maar die toekoms word dan spesiek aan Sy profete geopenbaar.

Baie van die dinge wat ons lees wat alreeds gebeur het, was nog toekoms vir die skrywers.  Al die profesië waaroor die Ou Testament profete geskryf het oor die eerste koms van die Messias was ongelooflike profetiese waarhede.  Nou is dit vir ons geskiedenis.  Maar God het nog baie ander dinge vir ons oor die toekoms gegee.

God staan nie aan die buite kant en kyk wat gebeur, en dan reageer Hy nie.  Hy is die Een wat Sy plan laat uitwerk vir Sy doel.  Ons het ook laasweek gesien dat God nie altyd gaan swyg nie en dat Hy ‘n einde gaan maak aan sondaars, ‘n einde aan sonde en ook die bose wêreldse sisteem.

God gaan ook Sy koninkryk op die aarde oprig.  Dink net vir ‘n oomblik.  Kan jy jou indink ‘n wêreld waar geregtigheid altyd geld, waar geregtigheid en goedheid heers, waar daar totale en blywende vrede gaan wees?  Waar blydksap heers, waar gesonheid sal wees en as iemand op die ouderdom van 100 jaar sterf, sal hy sterf as ‘n babatjie?

‘n Wêreld waar kinders speel by ‘n gat van ‘n slang en leeus en lammers saam wei?  Kan jy jou indink ‘n wêreld waar landbou oorvloedig sal wees en dat daar oorgenoeg kos is vir almal, selfs met die grootste bevolkingsontploffing in die mens se geskiedenis?

Kan jy jou indink aan ‘n wêreld wat regeer word deur die liefdevolle, reddende, volmaakte Heerser, Jesus Christus? ‘n  Wêreld waar ons saam met Hom gaan regeer en die goddelose geoordeel sal word en goddeloosheid sal met ‘n ysterstaf regeer word deur God self.

Dit is die Millenium Koninkryk van God en dit is wat God beplan vir die toekoms.  Dit is oppad.  Dit is ‘n nuwe wêreld wat kom wanneer Jesus kom.

In Sagaria 6 dan, sien ons twee finale elemente wanneer dit kom by die Koninkryk wat op aarde geverstig gaan word: Eerstens is dit die negatiewe element, nl. die vernietiging van die vyand.  Tweedens is dit die positiewe element, nl. die vestiging van God se Koninkryk hier op die aarde.

Die wêreld word ontroon van hul goddelose monarge.  God gaan skoonmaak, regeringse onttroon, en Christus vestig as die groot finale Heerser.  God gaan alles terugvat wat aan Hom behoort.   Hy gaan alles terugvat wat die duiwel gesteel het.

Kom ons begin en kyk eers na die negatiewe:

1.    God oordeel Sy vyande

Sag 6:1 En ek het weer my oë opgeslaan en gekyk—daar was vier strydwaens wat tussen die twee berge uit te voorskyn kom, en die berge was berge van koper.
2 Voor die eerste wa was bruin perde, en voor die tweede wa swart perde,
3 en voor die derde wa wit perde, en voor die vierde wa bont perde, sterkes.
4 Daarop het ek aangehef en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?
5 En die engel het geantwoord en vir my gesê: Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan nadat hulle hul gestel het by die Here van die ganse aarde.
6 Dié met die swart perde trek uit na die land van die noorde, en die wittes trek uit agter hulle aan; en die bontes trek uit na die land van die suide.
7 En toe die sterkes uittrek, het hulle begeer om weg te trek om die aarde te deurkruis; en Hy het gesê: Trek weg, deurkruis die aarde! En hulle het die aarde deurkruis.
8 Toe het Hy my geroep en aan my dit gesê: Kyk, die wat uittrek na die land van die noorde, hulle bring my Gees tot rus in die land van die noorde.

Nou dit is die einde van die visie.  En hierdie visie spreek van God se oordeel oor Sy vyande.  Hierdie gedagte kry ons ook dan regdeur die Bybel.  Trouens, ons kry in Openbaring 14:6 die verklaring van die engel wat in die middel van die lug vlieg en die ewige evangelie verkondig.  Baie Bybel uitleêrs het al gewonder oor wat  hierdie ewige evangelie is.

As jy net die volgende vers lees, dat sien jy wat dit is.

Op 14:7 En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.

Luister! Die ewige evangelie is die boodskap wat God van die begin af tot aan die einde gegee het.  Dit is die boodskap dat God sonde straf en geregtigheid beloon.  Dit is die inhoud van die ewige evangelie.

En so word hierdie tema oor en oor in die Bybel herhaal.  Dit is ‘n tydlose boodskap.  Vanaf Lucifer geval het tot en met die nuwe hemel en nuwe aarde, sal die ewige evangelie voortgaan om God se handelinge met die mens uit te beeld.  Hy gaan die sondaar straf.  Hy gaan die regverdige beloon. 

Sag 6:1 En ek het weer my oë opgeslaan en gekyk—daar was vier strydwaens wat tussen die twee berge uit te voorskyn kom, en die berge was berge van koper.

Die vier strydwaens verteenwoordig oorlog strydwaens.  Hulle het deel uitgemaak van die storm troepe van ‘n ou weermag.  Hierdie strydwaens is dan die voertuie van God se oordeel op die nasies. 
Let op! Dit sê, dat dit het tussen die twee berge te voorskyn gekom en die berge was van koper.  Hy sê nie net twee berge nie.  Hy sê, tussen die twee berge.  So dit was bekende berge.  En berge spreek van sterkte en die feit dat hulle van koper is, is want koper simboliseer ook op baie ander plekke in die Bybel, oordeel.

Op 1:15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.

Dit beeld Jesus se oordeel uit wanneer Hy verbrysel met Sy voete.  So die berge wat spreek van sterkte en die koper wat spreek van oordeel is ‘n ongelooflike uitbeelding van God se oordeel.  En tussen hulle kom vier strydwaens wat storm in die vallei.

Bybel skoliere was nog altyd eens dat hierdie twee berge verwys na die berg Sion en die Olyfberg.  Maw hierdie strydwaens gaan tussen hierdie twee berge te voorskyn kom.  Die Dome of the Rock (slide) is gebou op Sion en die muur reg agter dit is die oostelike muur van Jerusalem.  Die berg aan die anderkant van die vallei is die Olyfberg.  En in die middel is die Kidron vallei. (slide)

Joël 3:2 sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.

Waar is die dal van Josafat?  Wel, daar is nie so vallei nie, maar dit beteken letterlik Jahwe oordeel.  Dit is die vallei van oordeel.  En Bybelstudente het nog altyd gesien as die vallei van Kidron.  Jode en Moslems stem saam dat dit die plek is waar die finale oordeel van die wêreld gaan plaasvind.

Sag 14:4 En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.

Wanneer Jesus weer kom, gaan Hy op die Olyfberg staan, waar?  Aan die oostekant.  Wat is aan die Oostekant?  Die dal van Kidron.  Die Kidron vallei gaan oop split, die een helfte van die berg na die noorde en die ander helfde na die suide.  Maw God gaan ‘n nuwe vallei skep.  ‘n Groot massiewe vallei en dit is waat Hy gaan oordeel.

Sag 6:2 Voor die eerste wa was bruin perde, en voor die tweede wa swart perde,
3 en voor die derde wa wit perde, en voor die vierde wa bont perde, sterkes.

Hier openbaar God die kleur van die perde.  Die eerste is bruin.  Die KJV sê, red.  So kom ons aanvaar hulle is rooi.  En dan die tweede is swart.  V3 Die derde is wit en die vierde is bont.  So hoekom juis vier waens met perde?  Want dit spreek van universaliteit.

Jesaja 11:12 praat van die vier hoeke van die aarde.  Die Bybel praat van die vier winde van die hemel, noord, oos, suid, wes.  So die idee is dat God se oordeel gaan universieel wees.  Dit gaan ‘n wêreldwye oordeel wees.
Die oordeel van God begin dan wanneer Jesus kom en Sy voete op die Olyfberg sit.  Wanneer dit begin by die vallei van Kidron en daarna die hele wêreld sal oorspoel.

Sag 6:4 Daarop het ek aangehef en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?
5 En die engel het geantwoord en vir my gesê: Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan nadat hulle hul gestel het by die Here van die ganse aarde.

Net interresant is dat die KJV dit vertaal het met “four spirits of the heaven”.  Die “ruachs”.  Dit ka nook dan wys na vier engele.  Engele wat God se oordeel uitvoer.  En let op!  Hierdie vier winde, of dan engele was eers gestel by die Here.  Hulle het voor die Here gestaan.  Dan word hulle uitgestuur.

En as jy mooi lees, sal jy sien word die millennium titel van die Here word hier gebruik. “die Here van die ganse aarde”.  Dit verwys na die dag wanneer Hy die ganse aarde gaan oorneem.

So, die perde spreek van God se oordeel en die strydwaens is die vier engele.  Engele wat uitgestuur word deur die goddelike oordeel teen die goddelose wêreld.  Dit is wat ons hier sien. 

En wat interresant is, is die feit dat Israel nog nooit van die ooste of die weste kant af aangeval is nie.  Hulle het altyd van die noorde af aangeval en van die suide.  Aan die suide kant het jy Egipte.  So waarheen word hierdie strydwaens gestuur?  Na die noorde en die suide.

Sag 6:6 Dié met die swart perde trek uit na die land van die noorde, en die wittes trek uit agter hulle aan; en die bontes trek uit na die land van die suide.

So God is besig om finale oordeel te bring, veral op die nasies wat teen Israel was.  Ons less hiervan in Matteus 25.  Diegene wat geringstes, nl die Jode goedgesind was, en die wat nie die geringstes goedgesind was nie.  In Gen 12 lees ons,

Gen 12:3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

So die weermag van God, strydwaens sal na die noorde toe uittrek en ook na die suide.  Niks van die ooste of weste, bloot om die feit dat die Middellandse see en die Arabiese woestyn dit verhoed.

Sag 6:7 En toe die sterkes uittrek, het hulle begeer om weg te trek om die aarde te deurkruis; en Hy het gesê: Trek weg, deurkruis die aarde! En hulle het die aarde deurkruis.

Dit is baie interessant dat niks word gesê van die rooi perde.  Daar word nie gesê waarheen hulle moet gaan nie.  Hoekom nie?  Die beste wat ons sover kan sê is dat hulle klaarblylik teruggehou word vir laaste.

Eers as die swart perde en die wittes en die bontes die aarde deurkruis het dan kom die verskriklike bloedvergieting.  So op die ou einde deurkruis hierdie strydwaens, die goddelike oordeel, die hele wêreld.

Dit begin in die Kidron vallei, na die noorde en die suide en dan na die hele aarde.  God se oordeel gaan die hele wêreld dek.  Die vraag is dan: wanneer gaan dit gebeur?  Die antwoorde is eenvoudig, wanneer Jesus weer kom.

Ons lees in Matt 24 & 25.  Christus gaan kom in al Sy heerlikheid.  En as jy dit vergelyk met Sagaria, dan dien jy Hy staan op die Olyfberg.  Die Olyfberg sal in twee verdeel.  Die nasies van die wêreld sal in die vallei van Jehosasafat bymekaar kom en hulle sal geoordeel word.

Nou aan die einde van die 1000 jaar vrederyk sien ons is daar weer ‘n finale vonnisoplegging, die wittroon oordeel. 

Sag 6:8 Toe het Hy my geroep en aan my dit gesê: Kyk, die wat uittrek na die land van die noorde, hulle bring my Gees tot rus in die land van die noorde. 

Vers 8 is dan die laaste woorde van hierdie visioen wat Sagaria sien.  En dit praat van tevredenheid.  Die oordeel bring God se Gees tot rus.  Maw God se Gees was nog altyd in ‘n warboel totdat Hy wraag neem en met sonde, sondaars en die sondige wêreldse sisteem afgereken het.  Dan sal Hy tevrede wees.

En ons sien in vers 8 dat Hy veral te vrede is oor die wat na die noorde toe uitgetrek het.  Wat dink julle sit noord van Israel?  Babilon.  En ons sien dit ook in Openbaring.  Ons het laas week daarna gekyk. Die finale vorm van boosheid is Babilon.  Babilon is uiteindelik vernietig.  Sagaria noem die Sinear.

Israel kan nooit in die Koninkryk van God ingaan, as al hierdie dinge nie gebeur het nie.  En dit bring ons by die volgende gedagte, wanneer die Koning gekroon sal word.  Ons sal dan volgende week daarna kyk.

God se oordeel oor sonde

Ons het laas week gekyk na Sag 5:1-4 en ons het gekyk na die eerste visioen wat gegaan het oor God se oordeel oor sondaars. 

Ons het gesien dat die maatstaf waarmee God oordeel is die Woord van God.  Dit is die Woord van God wat die oorlegginge en gedagtes van ons hart beoordeel. 

Ons het ook gesien dat God se oordeel is volledig.  God gaan met alle sondaars afreken.  God gaan nie meer swyg nie.  Christus sal in die 1000 vrederyk met ‘n ysterstaf regeer.

En dan het ons ook gesien dat God se oordeel is verseker.  God sal dit laat gebeur.  Ja, God is lankmoedig en wil nie hê date en verlore moet gaan nie, maar daar gaan ‘n dag aanbreek wanneer Hy verseker gaan optree teen sondaars.

Die tweede visioen het dan te doen met God se oordeel oor sonde.

Sag 5:5 Daarop kom die engel vorentoe wat met my gespreek het, en sê vir my: Slaan tog jou oë op, en kyk wat daar te voorskyn kom.
6 Toe sê ek: Wat beteken dit? En hy antwoord: Dit is die efa wat te voorskyn kom. Verder het hy gesê: So lyk hulle in die ganse land.
7 En meteens word daar ‘n looddeksel opgelig, en daar was ‘n vrou wat binne-in die efa sit.
8 En hy sê: Dit is die goddeloosheid. En hy het haar binne-in die efa teruggewerp en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.
9 Toe slaan ek my oë op en kyk—daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van ‘n groot sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel.
10 Daarop sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Waarheen bring hulle die efa?
11 En hy antwoord my: Om vir haar ‘n huis te bou in die land Sínear; en is dit klaar, dan word sy daar op haar plek neergesit.

v6 sê, “Dit is die efa wat te voorskyn kom” .  Wat is “die efa”? Die freedictionary of Farley sê dit is,

“An ancient Hebrew unit of dry measure, equal to a tenth of a homer or about one bushel (35 liters).”

‘n Efa was ‘n vat waarmee hulle graan afgemeet het of meel of gars gedra het.  Dit was die grootste maat waarmee hulle graan afgemeet het.  Dit was groot genoeg vir ‘n kort person om in te pas.  So wat sien Sagaria?  Hy sien ‘n efa wat vol is en wat dit beteken is dat Israel se maat van sondes is vol.  Israel se sondes het opgehoop.

Die sondes waarna Sagaria dan hier spesifiek verwys, was Israel se sonde van materialisme.  En dit is presies wat in die laaste dae ook sal wees.  God sal na die mensdom kyk en die ganse aarde sal vol wees van die sonde van materialisme.  Die efa wat die maatemmer is van graan, spreek dan ook van handel en ekonomie.

Let dan op wat v7 sê,

Sag 5:7 En meteens word daar ‘n looddeksel opgelig, en daar was ‘n vrou wat binne-in die efa sit.

Wat is hierdie vrou wat in die efa sit?

Sag 5:8 En hy sê: Dit is die goddeloosheid.  En hy het haar binne-in die efa teruggewerp en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.

God hou die deksel op boosheid , niemand kan uitklim nie, wanneer God sonde gaan oordeel en uitwis sal daar nie een graan van sonde buite die efa wees nie.  God gaan met alle sonde afreken.

Let op wat sê die einde van v6, “So lyk hulle in die ganse land.”  Die KJV sê, “This is their resemblance through all the earth.”  Die efa is die maat van die ganse aarde se goddeloosheid.  Jakobus 5 beskryf die goddeloosheid, die materialisme en selfgesentreerde rykdom van die laaste dae.  Hy sê,

Jak 5:1 Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom.
2 Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel.
3 Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot ‘n getuienis teen julle wees en sal soos ‘n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae.
4 Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare.
5 Julle het op die aarde ‘n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ‘n slagdag.
6 Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie.

Daar kom ‘n dag wanneer God gaan oordeel oor die ryk materialistiese sondaars wat in die laaste dae sal wees.  God sal die looddeksel slaan op die efa en meterialistiese boosheid oordeel.  En v6 het gesê dit is ‘n wêreld wye sisteem van materialisme.

En kom ek vertel julle, ons is vinnig oppad soontoe, is ons nie?  Kom ons blaai gou nou Op 18 en kom ons sien hoe Johannes hierdie sisteem beskryf, dieselfde wat Sagaria sien.  Johannes noem dit Babilon.

Op 18:1 En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.
2 En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,
3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.

Die finale vorm van boosheid, die finale vorm van die wêreldse sisteem van ekonomie en materialisme word Babilon genoem.  En in Sagaria se tyd was dit ook Babilon.  Julle onthou die toring van Babel.  Dit is die wêreldse sisteem wat teen God is, wat gedryf is deur materialisme, self-aanbidding.  Dit is Babilon.

Jesus gaan kom en hierdie wêreldse sisteem vernietig.  Op 18:3 sê, al die nasies het gedrink van die wyn.  Al die nasies het deel geword van hierdie sisteem.  Al die konings is deel hiervan.  Op 18 beskryf die Babilon van die laaste dae, die ekonomie van die laaste dae.

Op 18:7 Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het...

Op 18:9 En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het...

Op 18:11 En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie,
12 koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer
13 en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele.

Op 18:15 Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê:
16 Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!

Die stad, die sisteem sal verbrand. V19 sê dit word in een uur verwoes.  Sagaria sien dieselfde ding.  Hy sien die maatemmer, die efa wat spreek van materialisme en handel en vol graan is, wat simbolies is vir sonde.  God slaan die looddeksel toe.  Niks kan uitkom nie.  God sal sonde oordeel.

Wat dan van die vrou?  Hoekom is sy daar?  Die efa, die maatemmer simboliseer die wêreldse sisteem, die ekonomie, materialisme, en die vrou simboliseer die boosheid daarvan.  Die vrou word gebruik om godsienstige boosheid te simboliseer.  En voordat die vrouens dink dit is diskriminasie, onthou, die gemeente van Christus word ook as ‘n vrou voorgestel, die bruid van Christus.

Die valse kerk in die Bybel word dan uitgebeeld as ‘n prostituut.  Ons sien in Op 17 word die valse godsdienstige sisteem Babilon genoem, die moeder van hoere.  Sy is die simbool van sonde.  So ons sien die hele sisteem.  Babilon.  Die valse kerk en die valse meterialistiese ekonomie.  God gaan dit alles oordeel.  God gaan met dit alles afreken.

En aan die einde van die koninkryk van God, het God met sonde afgereken en daar sal ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wees waarin geen sonde meer sal wees nie.  Dit sal die efa wees wat God gaan vernietig.  Gaan dit nie ‘n wonderlike nuwe wêreld wees nie?  Geen sonde.  En ons gaan ook daar wees, want God het ons gereinig en nuut gemaak.

Laastens sien ons God se oordeel op die sisteem.  Ons het reeds dan dit al gesien.  Maar ons sien dit ook v9,

9 Toe slaan ek my oë op en kyk—daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van ‘n groot sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel.
10 Daarop sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Waarheen bring hulle die efa?
11 En hy antwoord my: Om vir haar ‘n huis te bou in die land Sínear; en is dit klaar, dan word sy daar op haar plek neergesit.

Weet julle wat is Sínear?  Dit is ‘n ander naam vir, Babilon.  Sagaria het toe al die finale vorm gesien, die einde van die wêreld, sal Babilon wees, wat opgestel word.  Soos wat ons lees in Op 17 & 18.  En hier is hierdie sisteem vandag.

Wie is hierdie twee vroue wat vlerke het?  Is hulle goeie engele of slegte engele?  Wel, eerstens moet ons onthou dat goeie engele nooit as ‘n vrou gesien word nie.  Engele in die Bybel is altyd ‘n mans persoon, nooit ‘n vrou of ‘n babatjie nie. 

Hierdie twee vroue is simbole van die godsdienstige boosheid.  Ek dink hulle is demone.  Want hulle word geassosieër met die vrou in die efa wat goddeloos is.  En tweedens, hulle beskerm die efa.  En derdens, hulle stel dit weer op.   Hulle is verantwoordelik vir die organisering van die Babiloniese sisteem.

Levitikus 11 en Deut 14 sê hierdie voëls is onrein en ek glo nie God sal onreine voëls gebruik om heilige engele te simboliseer nie.  Hulle is dan bose geeste wat hierdie bose sisteem, die finale koninkryk van die duisternis sal oprig.  Die modern Babilon.

Hulle neem hierdie efa weg en bou vir haar ‘n huis in die land Sinear, die ou naam van Babilon.  Waar het die wêreldwye boosheid begin? Babilon.  By Babel.  Waar gaan dit eindig?  By Babilon.  God sal Babilon oordeel.

God gaan sondaars oordeel en uitwis.  God gaan onde oordeel .  Maar God gaan ook die bose sisteem van die wêreld oordeel gedurende die groot verdrukking.

Mal 4:1 Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.

Maw hy sê, dit kom, die onvermydelike dag, God sal nie swyg nie, God sal nie toelaat dat die goddeloosheid altyd voorspoedig sal wees nie, God sal kom in vuur en reg laat geskiet.

Mal 4:2 Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees...

Is dit nie ongelooflike belofte vir ons nie?  Daar is net twee opsies.  Of jy dien God of jy dien Hom nie.  As jy God dien, is dit omdat jy Jesus Christus liefhet en Sy verlossing aanvaar het.  As jy nie Christus aangeneem het nie, dien jy nie God nie.  Daarom gaan jy ook geoordeel word.

Gal 3:10 Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Sluit dit jou in?  Het jy alles onderhou wat geskryf is in die boek van die wet?  Indien nie, is jy  vervloek. Maar die volgende vers sê,

Gal 3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

Wanneer ons dan ons geloof in die verlossingswerk en die person Jesus Christus plaas sê, Paulus in Rom 8:1 dat daar geen veroordeeling mee is vir die wat in Christus Jesus is nie.  Maar as ons dit verwerp, is ons onder God se oordeel.

Dit is alleen deur geloof wat ons God kan behaag.  Dit is alleen deur geloof in Jesus Christus en Sy versoeningswerk aan die kruis, wat ons die toekomstige oordeel kan ontvlug. 

Joh 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.


Friday, 16 March 2012

Die Grootste Wêreld Oorlog


Teksgedeelte: 2 Kor 10:3-6

2 Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
6 en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is.

Inleiding

Daar is oorlog aan die gang en hierdie oorlog is nie ‘n fisiese oorlog met kern wapens, missiele en vuurwapens nie.  Nee!  Dit is nie ‘n vleeslike stryd nie, maar ‘n geestelike stryd.  Ons kan ook nie hierdie stryd met vleeslike wapens voer nie.  Ek noem dit die grootse wêreld oorlog, want hierdie is die langste oorlog nog ooit en dit  het die meeste geestelike sterftes opgelewer.

Wat is hierdie oorlog?  Waaroor gaan dit? Dit is ‘n oorlog tussen die waarheid en leuens.  Ek wil vir julle sê dat die Bybelse waarhede is onder geweldige aanvalle van die vyand, die Satan.  Veral in hierdie tyd waarin ons leef.

En as jy ingeteken het in God se weermag, as jy ‘n soldaat van die Here is, dan het jy as’t ware gesê, ek sal die waarheid verdedig met my lewe.  Daarom is die opdrag in Judas 3 op elke Christen van toepassing.

Jud 1:3 Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Ons moet nie net stry nie, maar ons moet kragtig stry vir die geloof.  Die geloof wat eenmaal aan ons oorgelewer is.  Dit sluit in die Skrif, die Woord van God, die inhoud van hierdie Woord, die gesonde leer, die Openbaring van God aan ons.  Ons moet hiervoor stry.  Hierdie oorlog is egter nie net daar buite nie, maar ook binne die kerk.  Ons moet ook binne die kerk stry vir die waarheid.  Hoekom?

2 Tim 4:3 want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Let op die woorde: “volgens hulle eie begeerlikhede.”  Die mens wil hoor waarvan hy hou, hy wil dit doen wat hom gelukkig maak en wat hom pas en nie wat die gesonde leer sê nie.  Dit gaan nie oor dit wat God sê nie, dit gaan oor wat hom pas.  Daarom keer hulle hulle af van die waarheid en wend hulle tot fables.

As jy jouself ‘n Christen gaan noem, dan moet jy die stryd gaan veg, daar waar die tyre die teer tref.  En die stryd vandag, en ook regdeur die geskiedenis, gaan oor die waarheid van die Skrif.  Die Bybel word ongelooflik aangeval deur die vyand.  Die waarheid van die Skrif word bevraagteken.  God se Woord word betwyfel.

God is die outeur en die bron van waarheid.  Satan is die outeur en die bron van leuens.  En hier is die oorlog.  God se waarhede teenoor Satan se leuens.  En Satan val die waarheid gedurig aan.  Jesus sê in,

Joh 8:44 (dat die duiwel)…was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.

Hy is die vader van leuens.  En hy het alreeds van die begin af die waarheid aangeval met sy leuens.  Ons sien dit in Gen 3. 

Die sondeval het ontstaan agv ‘n konflik wat onstaan het tussen die waarheid en ‘n leuen.  Die konflik het gegaan oor, “wie vertel die waarheid?”  Het God die waarheid vertel of het die duiwel die waarheid vertel?  Eva het besluit dat dit die duiwel was wat die waarheid vertel het.

Die mensdom het nie in sonde geval primêr omdat Eva ‘n verbode vrug geëet het nie, maar die mensdom het in sonde geval omdat Eva ‘n leuen geglo het.  Die feit dat sy ‘n verbode vrug geëet het, was die gevolge van ‘n leuen wat sy geglo het. 

En dit vind ons regdeur die menslike geskiedenis.  Daar is mense wat God glo, en daar is mense wat God nie glo nie.  Daar is mense wat die Bybel glo en daar is mense wat die Bybel nie glo nie.

Daar is net een ding waarin die duiwel konstant is, en dit is wanneer hy lieg.  Wanneer jy die duiwel en sy trawante gaan bestudeer in die Bybel, sal jy sien dat hulle nooit konstant is nie.  Maar daar is een ding waarin hulle altyd konstant bly, en dit is dat hulle die waarheid haat en hulle vertel leuens.  Hulle doen dit om mense te mislei.

Ons sien dat die duiwel is die vader van leuens en hy vertel die eerste leuen in die Bybel.  Hy is die eerste leuenaar.  As gevolg van die mens se sondige natuur is dit dan ook so dat die mens kies om ‘n leuen te glo en die waarheid te haat.

Ek meen, watter mens sal die waarheid, dat God jou liefhet en Sy Seun gegee het om in jou plek te sterf, sodat jy die ewige lewe kan hê, watter mens sal dit nie wil glo nie?  Die beste geskenk wat ‘n mens ooit kan ontvang.  Maar mense kies om dit nie te glo nie.

In Gen 3:1 sê die slang vir die vrou

Gen 3:1 …Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Die slang kry vir Eva alleen, onbeskermd.  Adam, die een wat haar beskerm, die een wat haar hoof is, is nie daar nie.  Sy is broos.  En ek dink die slang het dit so beplan.   

Eerstens en let op!  Die eerste ding: die eerste woorde wat uit sy mond uit kom, is ‘n vraag?  Hy begin met ‘n baie onskuldige vraag.  Want hy wil hê dat sy God se woord moet betwyfel.  “Is dit ook so dat God gesê het…?”  Maw, “het God regtig dit gesê?”

‘n Letterlike vertaling sou wees: “So, God het gesê, het Hy, dat julle nie mag eet van al die bome van die tuin nie?  Het God dit gesê?”  Wat probeer die duiwel doen?  Hy probeer net ‘n gedagte by haar plant dat daar iets verkeerd is met God se opdrag.  “Het God regtig dit vir julle gesê?”

Dit is die eerste vraag in die Bybel.  Dit mag dalk die eerste vraag wees in die geskiedenis van die mensdom.  Dit is die eerste dilemma.  Daar was nog nooit ‘n dilemma gewees nie.  Daar was nog altyd net antwoorde gewees.  Alles was duidelik.  En die vraag is so gestel om Eva op ‘n rigting te plaas waar sy God se woord betwyfel.  En dit is die kern van sonde.

En vir die eerste keer het die dodelikste mag in hierdie wêreld in die mens se lewe ingetree.  En dit is die veronderstelling dat dit wat God gesê het onderhewig is aan menslike oordeel.  Wie het in elk geval die mens die reg gegee om God se woord te bevraagteken?  Eva het presies geweet wat God gesê het.  Sy het geweet dat God gesê het.

Gen 2:16 Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,
17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Maar nou kom die duiwel en plaas hierdie gedagte in Eva se kop om God se woord te bevraagteken.  “Het God regtig gesê julle mag nie eet van al die bome in die tuin nie?”  Die implikasie is dit: “Hoekom sou God julle beperk?  Hoekom sou Hy dit doen?  Hoekom sou Hy so eng wees?  Wil God nie hê julle moet vry wees nie?  Het Hy dan nie vir julle ‘n vrye wil gegee nie?  Waar is julle vryheid?  Wil God nie hê dat julle kan doen net wat julle wil, watookal goed lyk, watookal goed voel, watookal julle plesier gee, watookal julle blydskap gee nie?  Hoekom beperk Hy julle so?”

Die duiwel skep die gedagte by Eva dat God hulle vryheid beperk, dat God baie eng is, dat God hulle regte wegneem.  Dalk is Hy nie so goeie God as wat hulle gedink het nie.  Dalk kan hulle Hom nie vertrou nie.  Hierdie is mos ‘n perfekte wêreld.  Hoekom sou Hy beperkinge plaas?

Dit is so asof die slang sê, “Ek kan nie glo dat God dit vir julle gesê het nie.  Hoekom sou Hy dit doen?”  So daar is ‘n gedagte van twyfel.  God se goedheid word onder verdenking geplaas.  God se woord word onder verdenking geplaas.  En dit is ‘n gevaarlike plek om te wees.

Eva verdedig dit so half hartiglik in v2&3

Gen 3:2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,
3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.

Nee man! Dit is nie so erg nie.  Dit is net een boom.  God het gesê: “Julle mag nie daarvan eet nie en dit nie aanroer/aanraak nie…”  Kyk mooi!  Het God dit gesê?  Nee!  God het nie gesê, hulle mag dit nie aanraak nie.  Hy het dit nooit gesê nie, maar Eva het reeds geval vir die duiwel se versoeking.  Sy sê dat God het gesê, wanneer God dit nie gesê het nie.  Sy plaas woorde in God se mond waarop sy besluit het om God se engheid te beklemtoon.  “Julle mag dit nie aanraak nie”.  God het dit nie gesê nie.

Die duiwel probeer haar op die plek kry waar sy verstaan dat hy is vir vryheid en menseregte en vrye wil en jou eie keuses en jou eie regte en jou geluk en jou vervulling.  Net die feit dat Eva nou woorde in God se mond plaas is klaar ‘n teken dat sy val vir Satan se versoeking.

Sy was veronderstel om God te verdedig.  Sy het God geken.  Sy het God se goedheid verstaan.  Sy het God se duidelike opdrag gehad.  Dit is nie dat sy nie verstaan het nie.  Sy moes klaar bedenklik gewees het oor die pratende slang.  Maar sy val vir sy leuens.

Luister!  As iemand nie ten volle en met sy hele hart en geheel en al in die Woord van God vertrou nie, het sonde reeds in sy hart ingetree.  Dit is waar die sondeval vandaan gekom het.  Die wantroue wat Eva gehad het in God se woord.  Die sondeval het gekom by ‘n verkeerde gedagte wat sy gehad het oor God.  “God is eng en Hy hou iets goeds terug vir my.”

Sy het God se woord bevraagteken en dit was nie aanvaarbaar nie.  En dit is waar sy geval het.  Sy het die waarheid verruil vir ‘n leuen.  So die eerste ding wat die duiwel vir jou sê is: Jy het die reg om God se woord te oordeel of te bevraagteken. 
Die tweede ding volg in v4

Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;

Hier draai die duiwel dit om.  Hy sê: “God het nie die waarheid gepraat nie, maar ek praat die waarheid.  Moenie die Woord van God glo nie, glo my”.  En dit is dieselfde ou ding: moenie die Bybel glo nie, maar glo hierdie ou of daardie ou of daardie profeet.  En so gaan dit aan. 

Satan doen homself voor as ‘n engel van die lig in ‘n duisend verskillende kostuums, maar sy boodskap bly nog altyd dieselfde. “Moenie God glo nie, Hy vertel nie die waarheid nie.  Jy sal nie sterf nie.  Daar is nie ‘n oordeel nie.  Daar is nie gevolge vir jou dade nie.  Jy kan Hom nie vertrou nie.  Hy is te eng en nougeset.  Hy wil jou van jou vryheid beroof.  Jy mag nie dit nie, jy mag nie dat nie.  Waar is jou vryheid?”  En so gaan hy aan.

Die duiwel sê vir jou “jy kan doen net wat jy wil, jy is vry, jy maak jou eie besluite, daar is geen grense nie.”

Die vraag in Eva se kop teen hierdie tyd is: “Waarom sou God dit doen? Hoekom sou Hy so wees?  Hoekom sou Hy sê ek gaan sterf as ek nie gaan sterf nie?  Hoekom is dit so belangrik dat hulle nie mag eet van die boom van die kennis van goed en kwaad?”  En dan gaan die duiwel verder en sê in v5

Gen 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Eerstens plant die duiwel twyfel in God se Woord en tweedens plant hy nuwe gedagtes in haarr kop.  Gedagtes wat in stryd is met God se Woord.  Hy rig ‘n skans op teen die kennis van God.  Julle sal soos God wees.  Die KJV is reg vertaal wanneer dit sê,

KJV
Gen 3:5 For God doth know that in the day ye eat thereof, then your eyes shall be opened, and ye shall be as gods, knowing good and evil.

“Ye shall be as gods”.  Julle sal soos gode wees.  Maw jy kan ook ‘n god wees.  En ons weet dat dit is die geboorte plek van die New Age beweging.  Die New Age beweging is nie ‘n nuwe beweging nie, maar dit is die ou leuen van die slang.

En hierdie oorlog is steeds vandag aan die gang.  ‘n Oorlog tussen die waarheid en leuens.  Hierdie oorlog is ‘n oorglog vir mense se gedagtes.  As die duiwel eerstens twyfel in jou gedagtes kan saai, dan kom hy met allerhande leuens. 
Kom ons gaan terug na ons teksgedeelte in 2 Kor 10:

2 Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel (en hier praat hy nie van sonde nie, maar hy praat hier van menslik), hoewel ons in die vlees wandel (alhoewel ons menslik is) voer ons die stryd nie volgens die vlees nie (maw ons voer nie die stryd met menslike wapens nie);
4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie (ons stryd is nie menslik nie), maar kragtig deur God om vestings neer te werp,

Ons wapens is kragtig deur God.  Nou, waarom het jy kragtige wapens nodig? Want ons v4, probeer om vestings neer te werp.  KJV sê “the pulling down of strongholds”.

“Vestings” is die Griekse woord “ochuroma” en verwys na ‘n kasteel (a fortress).  Die beeld wat hier geskets word, is dat ons nie ‘n klein huisie van papier probeer afbreek nie.  Ons is besig om groot kastele, “strongholds”, “fortresses” aan te val.  Ons probeer nie ‘n tent omgooi nie, ons probeer massiewe groot strukture, kastele of vestings neerwerp.  En luister!  Jy kan dit nie doen met kunsmatige of oppervlakkige of menslike wapens nie.

“Ochuroma” is ook die woord vir “‘n tronk”, of “‘n graf”.  Ons val hierdie dinge aan.  En waarvan praat Paulus dan.  Hy gebruik hier ‘n metafoor, ‘n vergelyking.  ‘n Kateel, ‘n tronk of ‘n graf is ‘n metafoor.  En dit word verduidelik in die volgende vers.

2 Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

KJV
2 Cor 10:5 Casting down imaginations, and every high thing that exalteth itself against the knowledge of God, and bringing into captivity every thought to the obedience of Christ;

So wat is hierdie vestings, kasteel of tronk of graf wat ons moet aanval en afbreek?  Die Griekse woord is “logismas” = idees, ideologieë, spekulasies.  Die kastele of vestings wat ons aanval en neerwerp is verkeerde idees.  Godsdienstige, sielkundige, filosofiese, teoretiese, morele, intuïtiewe, geestelike idees.  Luister!  Geestelike oorlogvoering beteken nie om demone te jaag nie.  Geestelike oorlogvoering beteken om valse, verkeerde idees aan te val. 

Ons is agter mense se denke aan.  Nie emosies nie.  Ja, emosies volg.  Maar ons val mense se verjeerde denke aan.  Ons moet die ideologieë en idees van mense vernietig.  Verkeerde idees, leuens, wat soos kastele opgerig is.  En kyk wat gebeur, hierdie logismas word vir mense ‘n tronk en maak hulle gevangenisse en dit word vir hulle ‘n graf.

Hierdie “logismas” is elke skans, “every high thing” wat teen die kennis van God opgewerp word.  Enige goddelose idee is ‘n kasteel wat afgebreek moet word.
Nou sê julle vir my: Wat is die een wapen wat jy kan gebruik teen leuens en verkeerde idees?  Die waarheid.  Ons verkondig die waarheid teenoor “logismas”.  Verkeerde denke.  Leuens.  Die kragtige wapen van God is die waarheid.

Ons gebruik die woord van God.  Dit is die wapen wat Jesus gebruik het: daar staan geskrywe.  Dit is ons wapen van ons stryd.  Die swaard van die Gees, is die Woord van God. En wat is die doel?  V5 Om “…elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”.  Daar het jy dit.  Ons is agter mense se gedagtes aan.   En die krag is in die woord, want die waarheid is in die woord.

Kom ek gee vir julle een van die grootste waarhede:  Lewe leef teologie.  Teologie is dit wat glo jy oor God.  Wat glo jy oor God?  Onthou wat het Eva begin dink oor God!

Spr 23:7 Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…

Soos ‘n mens in sy hart bedink, so is hy.  Jy leef jou teologie.  Lewe leef teologie.  Almal doen dit.  Die mees dominerende ding in jou lewe, die sterkste en die kragtigste motivering in jou lewe is, wat jy glo oor God.

As jy oppervlakkige idees het oor God, dan is jy oppervlakkig in jou motivering oor God.  Jy kan nie iets uitleef wat jy nie glo is die waarheid oor God nie. 

Mense is bereid om dinge te doen en selfs te sterf in die naam van God of ‘n god.  Mense sal enigiets doen vir dit waarin hulle glo.  Dit is waarom Moslems bomme aan hulle liggaam vasmaak en hulleself opblaas, want hulle glo hulle doen dit vir God.  Dit is die nommer een rede waarom 915 volgelinge van Jim Jones, ‘n sekte in Amerika selfmoord gepleeg het, want hulle het dit gedoen in die naam van godsdiens.

Dit is die nommer een rede waarom Adolph Hitler 6 miljoen Jode doodgemaak het, want hy het geglo in die evolusie leer en “natuurlike seleksie”.  Hy het gedink hy doen die mensdom ‘n guns, deur die laagste klas mense uit te wis en so daardeur die menslike evolusie te bevorder.

Jy leef jou teologie.  Jy leef dit wat jy glo oor God.  En kan u sien waarom dit van so belangrik is dat ‘n mens nie leuens sal glo en op valse idees sal bou nie.  Daarom is ons enigste wapen, die Woord van God.

Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Daar is net een wapen en dit is die lewende, kragtige wapen van die woord van God.  Luister!  Jesus sê,

Joh 8:31 …As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.
32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Vry van logismas, vry van die tronk, vry van die graf.

Hoekom ek praat met u hieroor?  Luister!  Daar is ‘n oorlog aan die gang.  Hierdie oorlog is ‘n oorlog tussen die waarheid en leuens.  Daar is soveel verkeerde idees en leuens oor God.  Die Bybel se gesag word aangeval.  Daar is selfs Teoloë en Predikante wat nie meer hierdie Woord, elke woord, jota en titteltjie glo nie.

Matt 5:18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.

Ek wil vir julle sê, ek glo in elke woord van hierdie Woord.  En dit is tyd dat die kerk sal opstaan en verkondig dat hierdie die onfeilbare, die onveranderlike, die ewige Woord van God is.

1 Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.

Hoe goed doen ons as Christene in hierdie oorlog?  Kan ons vir mense sê soos wat Jesus gesê het, “Daar staan geskrywe…”?

Die duiwel is ook agter jou gedagtes aan en as jy nie jou gedagtes vul met die Woord van God nie, gaan hy twyfel in jou gedagtes saai.  As jy nie die Woord toelaat om oor jou te spoel en hart te vul nie, gaan jy later begin om leuens te glo.

Wil jy nie vandag ‘n keuse maak om God se Woord elke dag te bestudeer en toe te laat om jou te verander nie?  Die krag is in Sy Woord.  Die kragtige wapen waarmee ons vestings neerwerp is die Woord.

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288