Monday, 25 March 2013

Die helm van verlossing (die hoop op saligheid) – deel 3


Ef 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 
14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 
15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 
16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 
17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Daar is liedere wat ons altyd gesing het, “Let go and let God have His wonderful way” en “I surrender all”.  Kan julle onthou?  Nou, hierdie liedere, so mooi soos wat hulle is, en so wonderlik as wat dit klink om dit te sing, “Gee net oor en laat God Sy weg hê met jou”, kan die verkeerde indruk skep dat jy passief is en niks moet doen in die hele proses nie.

Dit is egter nie die waarheid nie.  Ja, ons is afhanklik van God se krag en sterkte, ja, ons is afhanklik van God se voorsiening en alles wat Hy vir ons gee, maar dit is verkeerd om te dink dat ons net daar moet sit en niks doen nie.  Die idee dat jy net moet oorgee en toelaat dat God jou verander sonder dat jy enigiets moet doen, is onbybels.  God verander ons, maar ons is nie onbetrokke nie.

Die Bybel leer ons dat ons moet onsself commit, ons moet geestelike dissiplines aan kweek, ons moet onsself onderwerp aan God se krag.  Dit is nie net ‘n saak van oorgee (surrender) nie, maar dit is ook ‘n saak van geestelike oefeninge wat jy moet doen.

Kom ons vat ons teksgedeelte as ‘n voorbeeld.  Word kragtig in die Here en in die krag van Sy sterkte.  Trek die volle wapenrusting van God aan.  Jy moet daadwerklik iets doen.  In die teksgedeelte kry jy nie eenkeer die idee dat jy net moet oorgee nie.  Wat ons wel kry is dissipline en commitment.

Die Christen lewe is ‘n oorlog en ons moet die wapenrusting aantrek.  Hebr 12 sê die Christen lewe is ‘n wedloop en ons moet die wedloop met volharding loop.  1 Kor 9 sê dit is ‘n wedstryd en ons moet hardloop sodat ons die prys kan kry.  Tit 3:8 sê ons moet goeie werke voorstaan.  Jak 4 en 1 Pet 5 sê, ons moet die duiwel weerstaan.  Ef 5, ons moet  versigtig wees hoe ons loop.

Fil 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 

2 Kor 7:1 Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. 

Al hierdie gedeeltes stel voor dat ons iets moet doen.  Ons kan nie net terug sit en sê, Here hier is ek, doen die werk nie.  Dit is te eenvoudig.  Ja, ons is afhanklik van Sy krag, en ja dit is God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.  Maar nêrens het dit ooit beteken dat jy net moet terug sit en niks doen nie.

As jy dan vanoggend wil sê, “I surrender Lord”, dan moet dit beteken “I surrender to Your will”, jy gee oor aan Sy wil om te doen wat Hy sê.  Daar moet van jou kant af ‘n vlak van commitment wees.  Daar moet self-beheersing en dissipline wees.  Jy moet jou lewe aan Hom toewy elke dag.  Dit is te eenvoudig om net te sê, ek gee oor en dit is dit.

2 Pet 1:3 Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur (sy) heerlikheid en deug 

KJV - him that hath called us to glory and virtue...

Goed! So volgens hierdie vers het God ons geroep tot heerlikheid en deug.  He called us to glory and virtue.  Letterlik sê dit, Hy het ons geroep tot Sy heerlikheid en deug.   

ESV - him who called us to his own glory and excellence...

En om ons toe te rus daarvoor, het Sy goddelike krag ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.  Luister!  As ‘n Christen het jy nie ‘n te kort aan bronne nie.  God het jou alles geskenk.  Hoe het jy dit ontvang?  Die vers sê, deur die kennis van Hom.  Maw toe jy Hom leer ken het en jy gered is, het Hy jou alles gegee, al die bronne gegee wat jy nodig het om te kan lewe en om Hom te kan dien.

So die goddelike bron is daar.  Die goddelike krag is daar.  Dit is beskikbaar.  En nou sê v4 die volgende,

2 Pet 1:4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het...

Dit is ongelooflike beloftes.  Dit is ongelooflike krag.  En dan word ons deelgenote.  Ons het krag, ons het beloftes en word deelgenote van die goddelike natuur.

...sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 

Dit is wat God doen.  Hy gee jou Sy krag.  Hy gee jou die grootste en kosbare beloftes en dan sê Hy, neem nou deel in My goddelike natuur.  Beteken dit nou dat ek net oorgee en sê, let go and let God have His wonderful way, ek gee alles oor aan Jesus en ek doen absoluut niks nie?  Nee!  Hoor wat sê v5 en verder aan,

2 Pet 1:5 En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, 
6 en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, 
7 en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.

Maw, juis nou dat God jou al hierdie dinge gegee het, juis daarom moet jy begin aan die werk spring.  En dit is nie so maklik as net om voor in ‘n kerk te gaan kniel en te bid en sê, “Here ek gee myself oor aan U” nie.  Ja, dit is deel daarvan, maar daar moet commitment wees.  Jy moet jou onderwerp aan die heerskappy van Christus. 

Eertens moet jy erken dat jou krag en bron is die Here Jesus Christus, maar dit is nie die einde nie.  Dit is net die begin.  In Rom 6 lees ons dat ons vereenselwig word met Christus se dood.  Ons word gelykvormig aan sy dood, ons is saam met Hom gekruisig.  Maar dit eindig nie daar nie.  Dit is juis daarom dat ons nie moet toelaat dat die sonde in ons sterflike liggaam heers nie.  Dit is juis daarom dat ons nie ons lede moet stel tot beskikking van die sonde nie.

Fil 2:12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 

Die sleutel woord hier is “gehoorsaam”.  Jy werk uit jou eie heil met vrees en bewing.  Dit beteken nie jy moet jouself red nie.  Paulus skryf aan geliefdes.  Hy skryf aan gelowiges.  Hy sê, hierdie heil wat jy ontvang het, gaan werk hom uit met vrees en bewing.

Fil 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. 

Aan die een kant is dit God wat in jou Sy wil bewerk en aan die ander kant moet jy dit gaan uitwerk in gehoorsaamheid.  God is @ work.  You are @ work.

Kol 1:29 waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag. 

Paulus sê, ek arbei, ek stry, maar dit is volgens Sy werk in my met krag.  Maw ek en God werk saam.  Jy sien, dit is waarom te eenvoudig is om net te sê, “Let go and let God have His wonderful way”.  Dit is waarom dit te eenvoudig is om te sê, “I surrender all”.  

Daar moet commitment wees in jou lewe.  Daar moet self-dissipline wees.  Daar moet gehoorsaamheid wees.  Dit is nie net die Here nie, anders is al die opdragte in die Bybel aan jou sinneloos.  

Nou kom ons terug na Ef 6.  As dit net “surrender all” was en net “let go and let God”, waarom moes ek die wapenrusting van God dan aantrek.  Wat is die doel daarin?  God sal mos alles vir my doen.  Hy sal mos die geveg vir my veg.  Nee! Daar is meer in die Christen lewe as om net oor te gee.  Jy moet ook effort insit.  Jy moet die regte gesindheid hê.  Jy moet gereed wees vir die oorlog.  Jy moet die wapenrusting aan trek.

Ons moet die helm van verlossing aan trek.  Wat beteken dit?  Dit beteken nie om gered te word nie.  Ons klaar in die oorlog teen die duiwel.  Dit beteken om jou sekerheid van saligheid te beskerm teen moedeloosheid en twyfel waarmee die duiwel jou gaan slaan.

Julle sal onthou ons het gepraat oor die drievoudigheid van verlossing.  En dit is die enigste verlossing waarvan die Bybel praat.  Die Bybel praat nie net van ‘n verlossing net in die verlede nie.  Dit praat nie net van ‘n verlossing in die teenwoordige nie.  Die Bybel praat ook nie net van een in die toekoms nie.  Die Bybel praat van al drie dimensies, verlossing in die verlede, in die hede en in die toekoms.  Hierdie drie vorm saam een volkome verlossing.

Kan julle onthou.  (slide) In die verlede is ek verlos van die straf van sonde.  In die hede word ek verlos van die mag van sonde.  In die toekoms sal ek verlos word van die teenwoordigheid van sonde.  Dit is regverdigmaking, heiligmaking en verheerliking.

Die helm van verlossing, waarna verwys dit?  Dit verwys na die toekomstige verlossing.  Dit gaan nie oor die verlossing in die verlede nie.  Selfs ook nie oor die hede in ‘n sekere sin nie, maar dit gaan eerder hier oor die toekomstige verlossing.

Die helm van verlossing is die sekerheid van jou saligheid in die toekoms.  En die feit dat jy daardie sekerheid het, dat daar vir jou ‘n ewige heerlikheid wag, dat daar vir jou ‘n verlossing is van hierdie sondige liggaam en dat jy verlos sal word van die teenwoordigheid van sonde is juis dit wat jou gaan beskerm teen moedeloosheid en twyfel.

Maw as die duiwel jou kom slaan met moedeloosheid, trek die helm van verlossing aan.  Wat beteken dit?  Wanneer jy moedeloos word, onthou dat jou verlossing is naby.  Onthou dat daar is vir jou groot en heerlike dag wat voorlê.  Onthou dat jy naby die eindstreep is.  Al maak jou bene soos jelly, byt vas, strek jou uit na dit wat voor is.

Fil 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 

Dit is die einde in sig wat jou moed gee, wat jou krag gee om aan te hou en uit te hou.  Moenie jou toekomstige verlossing vergeet nie.  Onthou dat daar vir jou loon is, onthou dat daar vir jou ‘n kroon of krone wag.  Die dag kom wanneer Jesus gaan sê,

Matt 25:21 ...Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. 

So die helm van verlossing is die sekerheid en vertroue wat jy het in ‘n toekomstige verlossing.  Dit is jou hoop op saligheid.  As ek gered was en ek word gered, maar daar is nie vir my ‘n redding in die toekoms nie, hoekom moet ek dan aanhou en volhard.  As daar nie ‘n toekoms is nie, hoekom veg ek in hierdie oorlog?

1 Kor 15:32 As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons! 

Luister!  As daar nie ‘n toekoms is nie, kan ons maar net sowel nou alles vergeet!  Watter soort saligheid of verlossing is dit as dit nêrens heen oppad is nie?  Paulus sê, dink julle ek gaan my lewe op die spel plaas vir ‘n klomp wilde diere?  Dink julle ek gaan ‘n klomp wilde heidene aanvat met die evanglie van Jesus Christus as daar gee opstanding is nie?  Nee wat, ek gee sommer nou op.  Dan kan ons maar net sowel eet, drink en sterf.

Nee!  Dit is daardie hoopvolle toekoms wat jou vlak van commitment gaan behou.  Om te weet dit is nie alles vernuut nie.  Ons gaan opgewek word in heerlikheid.  So die toekomstige dimensie van jou verlossing word ‘n groot krag in jou lewe hier en nou.

Die tweede ding waarmee die duiwel jou gaan probeer slaan is twyfel.  Die duiwel wil hê dat jy moet twyfel in jou eie saligheid.  Meeste gelowiges op een of ander stadium het al getwyfel oor sy saligheid.

Die oomblik wat jy sondig en jy voel skuldig dan kom die duiwel en sê, jy is nie ‘n Christen nie.  Jy kan nie ‘n Christen wees nie.  Hoekom sal die Here iemand soos jy red?  Jy sal dit nooit maak nie.  Jy is nie goed genoeg nie.  Jy verdien dit nie.  Hoe weet jy of jy dit regtig bedoel het toe jy hart vir die Here gegee het?  Jy moet maar weer probeer en kyk of dit vir jou gaan werk.

Ek dan daar is kerke wat leer dat jy jou saligheid kan verloor.  Hulle leef in hierdie staat van onsekerheid die hele tyd.  Daar is ook ander wat vir jou sal sê, jy sal nooit weet nie, totdat jy eendag voor God gaan staan, dan sal jy uitvind of jy nou gered is of nie.  Hulle leef in hierdie vrees, gaan ek dit maak of gaan ek dit nie maak nie?  Wat ‘n verskriklike ding om mee saam te leef.

1 Jon 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. 
13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God. 

Luister!  Dit is nie ‘n raai raai speletjie nie.  Ek kan mos nie weet ek het die ewige lewe as ek dalk wonder of twyfel of ek dit gaan maak of nie.  Daar is sommige wat preek dat elke keer as jy sondig verloor jy jou saligheid.  Maw as ek nou sondig en die Here kom en ek het nie daardie sonde bely nie, is ek verlore en gaan ek hel toe.

Kan jy jouself net indink met watter vrees ‘n mens moet saamleef?  Die duiwel wil hê jy moet twyfel in jou verlossing.  Hy wil hê jy moet twyfel in die beloftes van God.  Hy wil hê jy moet dink dat God nie Sy Woord sal nakom nie.  Hy wil hê dat jy moet glo dat jou saligheid is nie verewig nie.  Wel ek het vir jou nuus,

Heb 5:9 en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword 

Jesus is die bewerker van ewige saligheid.  Hoe kan ons staande bly teen die liste van die duiwel wat ons aanval met hierdie leuens?  Trek die helm van verlossing aan!

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. 

KJV
Joh 6:37 All that the Father giveth me shall come to me; and him that cometh to me I will in no wise cast out. 

“in no wise” beteken onder geen omstandighede nie.  Maw Jesus sal die wat na Hom toe kom onder geen omstandighede uitwerp nie.  Daar is geen manier wat die gelowige weer verlore kan gaan nie.  Kyk mooi!  Die vers sê, “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”

Dit is die Vader se beloning aan Sy Seun vir die versoeningswerk wat Hy aan die kruis gedoen het.  Die Vader gee aan Sy Seun ‘n liefdes geskenk.  Wat is dit?  Die kerk, die gelowiges, ek en jy.  Goed!  Dit is hoe die Vader Sy liefde aan Sy Seun bewys.  Hy gee ons as ‘n geskenk aan Hom.

Nou!  Hoe bewys die Seun Sy liefde aan Sy Vader?

Joh 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. 

Maw die Seun bewys Sy liefde aan Sy Vader deur die geskenk wat die Vader aan Hom gegee het, te bewaar en te verseker dat hy nie daarvan sal verloor nie.  Dat hy nooit iemand wat na Hom toe kom sal uitwerp nie.  Hy hou vas aan daardie kosbare geskenk wat die Vader aan Hom gegee het.  Hy sal dit nooit verloor nie.

Ek wil hê jy moet een ding verstaan.  Dit gaan nie oor jou nie.  Jesus bewaar jou nie omdat jy so spesiaal is nie.  Nee!  Jesus bewaar elke gelowige omdat Hy Sy Vader so liefhet, daarom sal Hy nie een verloor wat ‘n liefdes geskenk van die Vader aan Hom was nie.  Sien jy dit?

Hoeveel het Jesus al verloor? Nie een nie.  So daar is geregtigheid, heiligmaking en verheerliking.  Verlede, hede en toekoms sonder enigeen wat verloor word.

John MacArthur sê, “...the Bible teach that God has a counsel that cannot be changed, a calling that cannot be revoked, an inheritance that cannot be defiled, a foundation that cannot be broken, a seal that cannot be shaken, a life that cannot perish.”

Kom ons kyk na Joh 10:

Joh 10:27 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 

“My skape”, wie se skape is dit?  Christus se skape.  Julle is Christus se skape.  Let op!  As jy Christus se skape is, is dit Sy plig om na Sy skape te kyk en hulle te beskerm, korrek?  As net een van Sy skape verlore gaan, dan is dit ‘n refleksie op die karakter en kwaliteit van die Herder.  So ons is aan Christus verbind, want ons is Sy skape.

“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My”.  Luister mooi!  Wat doen Sy skape?  Hulle luister na Hom en hulle volg Hom.  Daar is geen uitsonderings nie.  Hulle luister nie na vreemdelinge nie.  Hulle luister net na Hom.

Wat beteken dit?  Ware Christene word bewaar in die krag van die groot Herder en tweedens volg hulle Hom.  Hulle mag dalk struikel en sondig, maar hulle is daar, hulle is nie verlore nie.  En nou sê v28, 

Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 

“Ek gee aan hulle die ewige lewe”.  Nou hoe lank is die ewige lewe?  Dit is verewig.  Die ewige lewe het nie ‘n einde nie.  As jy jou saligheid kan verloor en die ewige verloor, dan weerspreek jy jouself, want die ewige lewe kan nie eindig nie.  So as jy die ewige lewe ontvang het, kan dit mos nie eindig nie?

Verder is dit ‘n geskenk.  “Ek gee aan hulle die ewige lewe”.  Jy het niks gedoen om dit te verdien nie.  En daar is niks wat jy kan doen om dit te behou nie.  Dit is ‘n geskenk.  Die teksgedeelte gaan nog verder en sê, 

“hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie”.  As jy sê dat ‘n Christen kan weer verlore gaan, maak jy Jesus ‘n leuenaar.  Jesus sê jy sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie.  As Jesus nie die waarheid gepraat het nie, dan kan jy maar jou Bybel weggooi.  Vergeet van Christenskap.

“niemand sal hulle uit my hand ruk nie”.  Daar is geen mag in die heelal wat groter en sterker is as God nie, en as God jou vashou in sy hand dan is dit so.  

Joh 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 

Let op!  In v28 sê Jesus, niemand kan julle uit My hand ruk nie.  In v29 sê, niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.  Dit is ‘n dubbele versekering en dubbele beskerming.

Hierdie gedeeltes bevestig en verseker jou saligheid.  Dit verseker dat ‘n verlossing in die verlede verseker ook ‘n verlossing in die toekoms.

Paulus het gesê, 

Rom 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 
39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. 

Dit is so duidelik soos daglig.  Paulus sê, dat niks in die heelal nou en in die toekoms kan die gelowige skei van God nie.  Ek het al vir julle gelees Fil 1:6 wat sê dat God sal die werk wat Hy begin het, dit is verlossing in die verlede, Hy sal dit voleindig tot op die dag, dit verlossing in die hede, tot op die dag van Christus, dit is verlossing in die toekoms.

Dit is die helm van verlossing.  Daardie hoop op die saligheid, omdat God dit verseker, omdat Jesus Christus jou bewaar en jou beskerm.  Moenie luister na die duiwel se leuens wat twyfel wil saai en vir jou wil sê, dat jy dit nie gaan maak nie.

Slot

As jy nie vertroue het dat jy dit eendag gaan maak nie is dit een van twee redes.  Dit kan wees dat jy nie regtig ‘n Christen is nie.  Daarom moet jy ook jouself ondersoek, soos Paulus sê, om te sien of jy in die geloof is of nie.  Stel jouself op die proef om te sien of Christus in jou is.

Of tweedens as jy wedergebore is, en die duiwel kom en slaan jou met twyfel, dan beter jy jou helm van verlossing aantrek.  Na wie gaan jy luister.  Gaan jy die duiwel glo of gaan jy God glo.

Heb 6:17 Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; 
18 sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; 
19 en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel 
20 waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgisédek ‘n hoëpriester geword het vir ewig. 

Die helm van verlossing (vervolg)


Ef 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Ons het laas week begin kyk na die helm van verlossing.  Dit is nie ‘n opdrag om gered te word nie, want net gelowiges is in hierdie geestelike stryd gewikkel en dit veronderstel dat jy alreeds jou gordel van waarheid, die borswapen van geregtigheid en die skoene van die evangelie van vrede aan het.  En nou het jy die skild van geloof en dan die helm van verlossing.  

So hierdie opdrag, om die helm van verlossing aan te trek, is gegee vir die gelowiges wat reeds gered is.  So waarvoor is die helm van verlossing?  In kort is dit om die sekerheid van jou saligheid te beskerm teen moedeloosheid en ook teen twyfel.

Ons het laas week dan ook gekyk na die drievoudigheid van ons verlossing.  Jy is gered, jy word gered en jy sal gered word.  Jy is gered van die straf van sonde, maw jy is geregverdig.  Jy word gered van die mag van sonde, en dit is heiligmaking en jy sal gered word van die teenwoordigheid van sonde, en dit is verheerliking.  Volkome saligheid sluit dan al drie hierdie aspekte in en ons saligheid in die verlede, hede en toekoms is in God se hande, want die werk wat Hy begin het sal Hy voleindig.

So God begin die saligheids werk in jou lewe, en Hy is besig met jou elke dag en Hy sal jou op die ou einde verheerlik.  Saligheid is die werk van God en Hy het belowe Hy sal jou volkome red, verlede, hede en toekoms.  As jy nie die hemel eendag maak nie, is daar net twee opsies: Of God het nie Sy verlossingswerk in jou voltooi nie of jy was nooit gered nie.  So watter een is dit?  Jy was nooit gered nie.

As God jou red, dan sal Hy Sy werk in jou voltooi.  Hy belowe dit aan jou en moet daardie sekerheid van jou ewige saligheid hê.  Jy moet die helm van verlossing aantrek, die sekerheid van jou saligheid, hoekom?  Want die duiwel gaan probeer om jou te ontnugter of moedeloos maak en hy gaan twyfel in jou hart saai oor jou saligheid.  Hy wil hê jy moet in God se beloftes twyfel.

As jy glo dat ‘n gelowige weer verlore kan gaan, maak jy God ‘n leuenaar en sê dat Hy nie Sy werk sal voltooi wat hy begin het nie, en dat Hy nie Sy beloftes sal na kom nie.  Dit is in wese wat jy sê.  Of jy sê, dat jou saligheid is nie in God se hande nie, maar dit hang van jouself af.  Dit sou beteken dat jy nie uit genade gered is nie, maar uit jou eie werke.  Ons weet dit is nie die waarheid nie. 

Joh 6:28 Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? (maw, wat moet ons doen om God te vrede te stel?)
29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. 

Daar is baie Christene wat nie seker is of hulle die hemel gaan maak nie, want hulle glo die valse leraars wat vir hulle vertel dat hulle hul saligheid kan verloor as hulle sondig.  Maar wat sê die Bybel as ons sondig?

1 Joh 2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 
  
Hoekom?  Want Jesus het ons nie net verlos in die verlede nie, maar Hy is besig om ons te verlos van die mag van sonde elke dag.

So die duiwel wil jou op die kop kom slaan met sy groot swaard.  Hy wil twyfel in jou hart saai.  Hy kom vertel vir jou jy gaan dit nie maak nie?  Jy verdien dit nie.  Kyk wat het jy nou weer gedoen?    Dink jy God se kinders maak so? En hy kla jou gedurig aan.  So Christene word dan geslaan met twyfel en moedeloosheid.  Daarom moet jy die helm van verlossing aantrek om jou daarteen te beskerm.

Moedeloosheid

Kom ons kyk na 1 Konings 19, die storie van Elia.  Elia was soos die Petrus van die Ou Testament.  Eers op en dan af.  Elia het nou net ‘n groot oorwinning behaal, wat geen ander profeet al behaal het nie.  Hy het met sy swaard 450 Baal profete doodgeslaan.  ‘n Mens sou kon sê hy is ‘n wenner en hy is “on top of the world”, korrek?

Tog nie!  In hoofstuk 19 vertel Agab vir Isebel alles wat Elia gedoen het, hoe hy al die profete met ‘n swaard doodgemaak het.

1 Kon 19:2 Daarop stuur Isébel ‘n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen—sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle. 

Sy sê vir Elia dat sy hom gaan doodmaak.  Eerstens was sy ‘n vrou, en ook ‘n Baal aanbidder.  Nou as Elia 450 Baal profete kon “handle”, wat is een vrou?  Wat doen Elia?  Hy vlug na Berseba.

1 Kon 19:3 Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; 
4 maar self het hy ‘n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ‘n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. 

Hy het nou genoeg gehad!  Hy was moedeloosheid.  Hy wil eerder sterf.  Hy gaan lê onder ‘n besembos.  En ‘n engel kom en raak aan hom en sê, “staan op en eet”.  Hy kyk toe op en sien ‘n broodkoek en water.  Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.

Die engel raak toe weer aan hom en sê, “staan op en eet, anders is die pad te lank”.  Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink en dit het hom krag gegee vir 40 dae en 40 nagte.  Wow!  Ek soek van daai engel kos.  Elia kom toe by die berg van Horeb, en die Here vra vir hom, “wat soek jy hier?”  Elia kla en is moedeloos.  Hy sê, “ek het geywer vir U, maar die kinders van Israel het u verbond verlaat.”

Die Here sê vir hom, “gaan terug na Damaskus.  Gaan salf al hierdie ouens as konings en profete.  Ek sal 7000 in Israel laat oorbly wat die knie nie voor Baal sal buig nie.  Gaan terug en doen wat jy moet doen”.  En hy het gegaan.

Dit is so maklik om moedloos te raak.  Dit is so maklik om te wil opgee.  Selfs net wanneer jy gedink het jy is “on top of the world” gebeur daar iets en jy is moedeloos en begin vra, waar is die Here, het Hy my vergeet?

Ef 3:13 Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukkinge ter wille van julle nie. Dit is julle eer. 

Dit gebeur soms dat jy moedeloos kan raak met ander se probleme en nie noodwendig jou eie nie.

Gal 6:9 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 

En so kan ons aangaan.  Hoe lank moet ek sukkel om van hierdie probleem ontslae te raak?  Hoe lank moet ek sukkel om hierdie sonde in my lewe te oorwin?  Ek is moeg en moedeloos.  Die duiwel gee net nie op nie.

Matthew Arnold het gesê, "For now in blood and battle was my youth, and full of blood and battle is my age and I shall end this life in battle." 

Gaan dit ooit ophou?  Wel Paulus het aan die einde van sy lewe gekom en gesê,

2 Tim 4:7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. 

In Hand 20 het hulle vir Paulus gesê, as jy na Jerusalem toe gaan, gaan hulle jou in boeie sit en gevange neem.  Paulus sê toe,

Hand 20:24 Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. 

Hy het net nie opgegee nie.  In Open 2 kry ons hierdie goeie woorde wat die Here gee oor die Efese gemeente:

Op 2:3 ...dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie. 

So wat is die helm van verlossing?  Byt vas, verdra, wees lankmoedig, bly gehoorsaam, moenie opgee nie.  Die finale oorwinning is joune.  Daar is vir jou ‘n ewige heerlikheid voor.  Moenie in die dag vir dag oorlog gaan lê en moedeloos word nie.  Stry die goeie stryd.  Jy het ‘n ewige hoop.  Hou jou oë gevestig op Jesus, die Leidsman en die Voleinder van jou geloof.

Rom 13:11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. 

Julle saligheid is nader by julle as toe julle gelowig geword het.  Watter saligheid is dit?  Die verlossing van die teenwoordigheid van sonde.  Die verheerliking.  Sit jou helm op!  Byt vas!  Die einde het nader gekom.  Moenie moedeloos word nie.  Moenie nou opgee nie.  Ons is naby die eindstreep.

En daar was Job.  So opregte ou.  Hy het die Here gedien.  Maar hy het alles verloor.  Tog het hy vasgebyt.  

Luk 18:1 En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.

En verseker gaan die duiwel jou slaan met sy swaard van moedeloosheid.  Hy wil hê jy moet opgee en gaan lê.  Die helm van verlossing help my om nie te gaan lê nie.  Dit help my om nie op te gee nie.  Dit help jou om nie moedeloos te word nie.  

Hoekom?  Want jy het ‘n ewige hoop.  Daar is lig aan die einde van die tonnel.  Jy wil aan die einde van die oorlog staan en sê, “ek het die goeie stryd gestry, ek is vol wonde en seerplekke, maar dit was die moeite werd, ek het die geloof behou”.

In Openbaring 2 & 3 word herhaal, “aan hom wat oorwin, gee Ek”, “aan hom wat oorwin, gee Ek.”  Maw, God het spesiale dinge vir die wat oorwin.  En onthou Timotheus.  Toe hy moeilikheid kry, toe was hy ontmoedig.  Hy was jonk en versoek met die begeerlikeheid van jonkheid en hy het moeg geraak daarvoor.

Omdat hy ook jonk was, het mense hom verag en gesê, “wat weet jy”.  Ons lees ook dat hy herhaaldelik ontsteld was, só dat Paulus vir hom gesê het om ‘n bietjie wyn te drink vir sy maag.  Hy was ook verleë oor Paulus omdat hy so gereeld in die tronk was, en was ongelukkig omdat mense gesê het hy is ‘n dissipel van daardie tronkvoël.

Nog meer het daar valse leraars gekom in die Efese gemeente en die dwalinge wat hulle verkondig het was baie gesofistekeerd en Timotheus het nie geweet hoe om dit te hanteer nie.  Dan was daar filosofie en nietige misleiding en die geslagsregisters en Timotheus wat eenvoudig net verdrink was in ‘n see van dinge wat hom ontmoedig.

Paulus skryf aan Timotheus en sê, wakker die genadegawe van God aan.  God het ons nie gegee ‘n gees van vreesagtigheid nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.  Paulus probeer hom aanmoedig.

Petrus sê dieselfde ding vir sy lesers wat vervlog word.  Hy sê, 

1 Pet 3:17 Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen. 

Hy sê dit is beter as julle ly wanneer julle goed doen.

1 Pet  4:19 So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade. 

Jy sê, maar soms word jy moeg.  Dis reg, soms word jou bene jelly as jy die laaste rondte hardloop.  En as dit gebeur dan dink jy aan wat Jes 40 sê, 

Jes 40:29 Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. 

Dit is juis wanneer jy swak is, dan is jy sterk.  Net wanneer jy wil gaan lê, gee Hy jou nuwe krag.  Is dit nie great nie?  Net wanneer jy sê jy het nie meer krag nie, dan versterk Hy jou met Sy krag.

Jes 40:30 (Selfs) Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; 
31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. 

Luister!  Daar is geen rede waarom jy moedeloos hoef te raak nie.  Die helm van verlossing sê daar wag vir jou ‘n dag van oorwinning voor.  As jy getrou bly sal jy ook beloon word.  Daar kom ‘n dag van heerlikheid.  Jy is gered, jy word gered en weet dat jy sal gered word.

En moenie dat die duiwel jou ontmoedig nie.  Moenie dat hy jou vreugde en toekomstige verwagting op heerlikheid steel nie.

1 Joh 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. 
3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is. 

As jy die koms van die Here verwag en daarna uitsien, het dit reeds hier en nou ‘n uitwerking op jou lewe.  Dit gee jou moed, dit gee jou uithou vermoë.  Dit gee jou krag om aan te hou, om vas te byt en om jou te strek na vorentoe, die oog gevestig op Jesus.  Die Leidsman en die Voleinder van jou geloof.

Trek die helm van verlossing aan.




Monday, 25 February 2013

Die praktiese Christen lewe


Rom 12:9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; 
10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; 
11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; 

Daar was ‘n man met die naam van Robert Chapman.  Hy het gelewe vanaf 1803-1902.  Hy was bekend as die apostel van liefde.  Hy was ‘n pastoor, leraar en evangelis.  Hy was ook ‘n vriend van die bekende John Nelson Darby, ‘n leier van die Plymouth Brethren.  Darby het Scoffield beïnvloed wat weer verantwoordelik was vir die Scoffield reference Bible.

Hierdie man, Robert Chapman, vriend van Darby het eenkeer geskryf oor wat sy lewensdoel is, “seeing that so many preach Christ and so few live Christ, I will aim to live Him.”  En Darby het van hom dit van hom gesê, “He lives what I teach.”

‘n Ander gelowige man met die naam van William Arnot word van hom gesê, “His preaching is good. His writing is better. His living is best of all.”  En so is dit veronderstel om te wees met ons almal, is dit nie?

Ons moet lewe wat ons bely.  Hoekom?  Want Christenskap is ‘n leefstyl.  Christenskap gaan oor hoe ons lewe.  Ons verhouding met God word uitgebeeld in ons lewe daar buite.  En dit is ook waaroor Paulus dan skryf in Rom 12, oor die praktiese Christen lewe.

Die lewenswyse waarna Paulus ons toe roep is abnormaal.  Dit is onnatuurlik.  In ‘n sekere sin is dit onmenslik.  Dit is nie natuurlik vir die onweergebore mens nie.  Dit is nie normaal vir die sondaar nie.  Dit is nie iets wat die mens uit homself van nature doen nie.  Dit is ‘n bonatuurlike lewenstyl.

Dit is lewe wat alleen moontlik is wanneer God se Gees dit in jou verwek het.  Dit is net hulle wat deur die eerste 11 hoofstukke van Romeine gekom het, wat kan lewe soos wat hoofstuk 12 van ons verwag.  Hulle wat geregverdig is, hulle wat Jesus Christus leer ken het, hulle wat die Gees van Christus het, hulle wat aan Hom behoort.  Dit is net hulle wat so kan lewe.

Die enigste doel van teologie is ons te lei tot ‘n lewe wat tot eer van God is.  Die enigste doel van leerstellings is om ons te bring tot ons Christelike plig, tot die regte soort diens.

2 Kor 7:1 Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. 

Maw, juis omdat God vir ons al hierdie beloftes gegee het, is dit wat ons moet doen in reaksie daarop. “laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”

As ons kyk na Ef 2 en ons lees hier vanaf 4, dan sê dit in kort, God is barmhartig, Hy het ons lewend gemaak saam met Christus.  Hy red ons uit genade.  Hy laat ons saam met Christus sit in die hemele.  Ons gered uit genade deur die geloof en al hierdie dinge het God gedoen, 

Ef 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. 

Maw ons verlossing was vir een doel, om ons in ‘n nuwe lewe in te bring wat God se geregtigheid uitbeeld.  Dit is ‘n lewenswyse.  Hoe weet ek dat ek waarlik ‘n Christen is en dat ek nie net op een oomblik ‘n emosiontele belewenis gehad het iewers in die verlede nie?  Hoe weet ‘n mens regtig?

Die enigste manier hoe jy weet, is om te kyk na jou lewe en sien hoe jou lewe is.  As jy geregverdig is, maw jou lewe reg is met God, sal dit lei tot heiligmaking, wat beteken om God se geregtigheid uit te leef en om heilig te wees.  Daar sal altyd vrug op ‘n ware bekering wees, al moet jy by sommige Christene baie mooi kyk om die vrug raak te sien, sal dit daar wees.  Dit sal die diepste begeerte van jou hart wees.

Ons is gered om ‘n goddelike lewe te leef.  En wanneer jy ‘n goddelike lewe leef, dan bring jy eer aan Hom wat jou verander het en jy trek ander mense na Hom toe en Hy kry al die eer.  

Fil 2:12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 

Nou ons moet hierdie vers nie verkeerd verstaan nie.  Dit beteken nie dat ons deel het aan ons eie saligheid en dat ons ons eie saligheid moet uitwerk en onsself red nie.  Ef 2 sê baie duidelik dat julle is gered uit genade, deur die geloof en dit nie uit julleself nie.  Saligheid kom deur dit wat ons doen nie.

Let op mooi wat Filipense eintlik sê.  Kom ons gaan terug na hoofstuk 1 vers 27.

Fil 1:27 Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus...

ASV
Php 1:27 Only let your manner of life be worthy of the gospel of Christ...

Maw, as jy sê dat jy ‘n Christen is, dan is jou lewe veronderstel om dit vir ons te wys.

Fil 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. 

Wees soos Jesus!  Dink soos Christus.  Die KJV sê, “Let this mind be in you, which was also in Christ Jesus.”  Maw, dink soos Christus.  Hoe dink Christus?  V6-11 verduidelik vir ons.  En dit gaan oor ‘n nederige gesindheid.  Hy het Homself ontledig.  Hy was gehoorsaam tot die dood toe.  Dan sê v9, dit is waarom God Hom uitermate verhoog het.  

So dit is hoe ons moet wees.  Ons moet dink soos Christus.  Ons moet Sy gesindheid hê.  Hy was nederig.  Hy het Homself onderwerp.  Dit is hoe ons moet wees.

Dan kom Paulus by v12 en sê, 

Fil 2:12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing.

Die konteks van hierdie gedeelte is baie duidelik.  Juis omdat jy aan Christus behoort deur die evangelie, juis omdat Jesus Homself verneder het en gehoorsaam was aan Sy Vader en so vir ons ‘n voorbeeld gegee het, juis daarom moet ons in nederigheid aan God gehoorsaam wees.

Christus het ook vir ons gewys wat die beloning is om soos Hy te wees.  Hy het Homself verneder, God het Hom verhoog.  En om soos Christus te wees is om jou heil uit te werk.  Om Sy gesindheid en Sy sin te hê.

Om jou eie heil met vrees en bewing uit te werk beteken jy moet dit doen met groot inspanning, jy moet hierdie konstante begeerte hê om te lewe tot God se eer, jy moet hierdie konstante begeerte hê om aan Hom toegewyd te leef en aan Sy Woord gehoorsaam te wees.

Jy moet die saligheid wat jy reeds het, uitwerk met vrees en bewing.  Dit is wat dit beteken.  Jy moet buitekant leef wat jy reeds binnekant is.  Dan kry ons hierdie wonderlike vers,

Fil 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. 

God werk in julle.  Hy werk aan die binnekant.  Ons moet buitekant leef wat ons reeds binnekant is.  Dit is die standaard vir die Christen lewe.  Hoe doen ons dit?  Dit is wat Paulus vir ons in Rom 12 probeer sê.  Hy wys vir ons wat die make up is van ‘n Christen.

Ons het laas week gekyk na v9 wat sê, laat die liefde ongeveins wees, verafsku dit wat sleg is en hang die goeie aan.  Kan julle onthou?  Liefde is die primêre kenmerk van ‘n Christen.  Liefde wat opreg is.  En dan nog ‘n kemerk van ‘n Christen is iemand wat sonde haat, soos God sonde haat.  Want dit is teen Sy natuur en dit is teen jou geestelike natuur.  Hang die goeie aan, plak dit soos gom aan jou vas.

Hierdie is die binne sirkel wat gaan oor jou persoonlik.  Maar die sirkel gaan wyer en verder uit na ander toe in v10.  Dit gaan verder na jou mede gelowiges.

Rom 12:10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.

Dit begin by jou liefde wat opreg is en dan sirkel dit verder uit na die familie van God.  Broeder liefde, ons verhouding met die liggaam van Christus.

“wees hartlik teenoor mekaar” is ‘n interresante woord in die Grieks en dit help ons te verstaan wat Paulus sê.  Die Griekse woord is “philostorgos”.  Dit is ‘n kombinasie van twee woorde, “philos” (vriend) en “storge” (liefde).  Dit is liefde in ‘n familie.  ‘n Liefde vir die mense wat naby jou is.  So moet jy die familie van God liefhê.

Ek glo julle het dit al beleef.  Ek het al hierdie liefde baie keer beleef.  Jy kan ‘n vreemde persoon ontmoet wat ook ‘n kind van die Here is, dan is dit nie lank voordat jy ‘n unieke sin van liefde het vir daardie persoon nie.  Daar is band wat bestaan wat wyer gaan as kultuur en tyd en plek en omstandighede is.  Want ons behoort almal aan die familie van God.  Het jy al dit beleef?  Verseker.

Die liefde wat die Here wil hê ons vir mekaar moet hê, is philostorge.  Broeder liefde wat omgee vir sy medegelowiges.  Dit is wat dit beteken om hartlik teenoor mekaar te wees.  Om jou hart oop te maak teen oor jou mede broeder.

Broederlike liefde is die Griekse woord “Philadelphia”.  Weer is dit “philos”.  En ook “adelphos”, broer.  Broederlike liefde.  Liefde wat geassosieer word met ‘n familie.  En Paulus gebruik twee termes wat min of meer dieselfde is in een sin om familie liefde uit te beeld.

1 Joh 5:1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is. 

Dit is ‘n ongelooflike verklaring.  As jy God liefhet, het jy ook die lief wat aan Hom behoort.  En dit is waarom Paulus ook sê, 

Ef 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het. 

Christene word gekenmerk deur hierdie liefde en ontferming teenoor mekaar.

2 Kor 12:15 En ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele, al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin. 

Wow!  Hoor wat sê hy.  Al het julle my minder lief, het ek julle meer en meer lief.  Ek wonder hoeveel Christene is daar wat dit kan sê?  Maar dit is hoe elke Christen behoort te wees.  Kan ek so liefhê?  Ja, verseker.  Rom 5:5 sê dat die liefde van God is in ons harte uitgestort.

1 Thes 4:9 Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê; 

God self leer ons om mekaar lief te hê.

Rom 12:10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.

Hierdie liefde bring ons tot die volgende bestandeel, naamlik nederigheid.  En as jy ander gaan liefhê en vir gaan omgee, dan is eerste ding wat jy moet doen is om van jouself te vergeet.  Om ander se belange bo jou eie te stel.  Ons moet die ander voorgaan in eerbetoning.  Die KJV sê, “in honour preferring one another.”  Om ander te eer bo jouself.

Dit vers sê om voor te gaan in eerbetoning, maw om die weg te wys.  Om te wys hoe word dit gedoen.  Om voor te loop ter wille van ander.  Maw ons moet nie terug sit en wag dat iemand anders iemand se behoefte raaksien en vervul nie.  Ons moet nie sit en wag dat iemand anders omgee en help nie.  Ons moet voorloop en wys hoe dit gedoen word.

Ons moet eerste wees om daar te wees vir ander.  Ons moet eerste wees met eerbetoning.  Ons moet ander hoër ag as onsself.  Ons moet vinnig wees met eerbetoning, vinnig wees om ander te respekteer, vinnig wees om liefde te gee, vinnig wees om ander se nood raak te sien, vinnig wees om te help.  Dit is nederigheid in die ware sin van die woord.

Rom 12:11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; 

Paulus bring dit so bietjie terug na jouself.  Moenie traag wees nie.  Die letterlike vertaling van Grieks sou wees, moenie lui wees nie.  “Not lazy in zeal.”  Maar haastig.  En die issue is ‘n geestelike issue.  Ons moet nie geestelik lui wees wanneer dit kom by ander mense se nood of behoeftes nie.

Gal 6:9 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 

2 Thes 3:13 En julle, broeders, moet nie in goeddoen verflou nie. 

Ons moet nie gaan lê nie.  Ons moet voor loop, ons moet haastig wees om goed te doen.  Ons moet ywerig wees.  Vinnig wees.

Pred 9:10 Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie. 

Doen dit met jou mag.  Doen dit met alles wat jy het.  In Matt 25:26 lees ons van die slegte en lui dienskneg wat een talent gehad het en niks daarmee gedoen het nie.  Hy het dit begrawe en dit het hom die ewigheid gekos.  Ef 5:16 sê ons moet die tyd uit koop, want die dae is boos.

Rom 12:11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; 

Die woord vurig, is die Griekse woord “zeo” wat letterlik beteken om te kook.  Ons moet kook vir die Here.  Soos wat die water die hele tyd kook, so moet ons die hele tyd ywerig wees.  Enigiets, maar net nie lou warm water of koue water nie.

Die Christen se lewe moet gevul wees met entoesiasme.  Dit moet gevul wees met ywer en opgewondenheid.   ‘n Christen se lewe moet gevul wees met energie en lewenslus.  Ons kry die voorbeeld van Apollos in Handelinge 18 wat sê hy as vurig van gees.
En die volgende punt dan wat Paulus maak in vers 11 is, “dien die Here.”  Luister!  Dit is ‘n voorreg om God te dien.  ‘n Voorreg wat jy nie verdien nie.  Dit is ‘n ongelooflike voorreg.  Die wêreld kan nie vir jou iets beter gee as dit nie.

Kom ons wees dit wat God wil hê ons moet wees.  Kom ons lewe die goddelike lewe.  Nou dat ons in die Gees lewe, laat ons in die Gees wandel.


Die helm van verlossing


Ef 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Dit is weer ‘n ongelooflike voorreg om terug te kom na Ef 6.  Paulus sê hier vir ons wat ons moet doen as ons ‘n oorwinnings lewe wil leef in ons Christen lewe.  Soveel Christene, alhoewel hulle op die ou einde die groot finale stryd gaan wen, verloor hulle die daaglikse geestelike stryd, want hulle trek eenvoudig net nie die volle wapenrusting van God aan nie.

Die dag toe jy gered is, is die dag toe jy vyande gemaak het met die duiwel en sy bose magte.  Maar jy hoef nie te vrees nie.  Die Heilige Gees woon binne in jou met al Sy krag en in Christus is jy meer as ‘n oorwinnaar deur Hom wat jou die kag gegee het.  

So ons kan hierdie geestelike stryd toetree met die wete dat ons gaan die oorlog wen.  Maar dit beteken nie dat die oorlog maklik gaan wees nie.  En al is ons almal se oorwinning op die ou einde verseker, is daar somtyds dae wat ons die stryd verloor en ander dae wat ons oorwin.  

En soos wat jy geestelike groei in Christus, en jy voed op die Woord van God en jy geestelike volwasse word, begin jy al meer en meer die daaglikse stryd wen as wat jy dit verloor.  Almal van ons het al tye van oorwinnings beleef en ook tye wat ons verloor het.  En oorwinning in die oorlog hang af of jy die wapenrusting aantrek of nie.  Dit hang alles daarvan af.

Ons het dan laas keer gesê dat die eerste drie dele van wapenrusting, die gordel van waarheid, die borswapen van geregtigheid en die skoene van die evangelie van vrede is die dele wat jy altyd moet aanhê.  Dit is ‘n konstante element in jou voorbereiding op die oorlog.  Dit is iets wat jy nie moet uittrek nie.

En wanneer die oorlog uitbreek, tel jy jou skild op, sit jou helm aan en gryp jou swaard.  Dit is soos ‘n reserwe wat langs die rugby veld opwarm vir die wedstryd.  Hy trek nie sy rugby klere uit nie.  Maar wanneer hy op die veld gaan, sit hy sy mouth guard in en trek sy kopstuk aan.

Die laaste drie dele van die wapenrusting, die skild van geloof, die helm van verlossing en die swaard van die Gees, neem jy op as jy op die oorlogsveld gaan.

Ons het ook gesien dat die skild van geloof is waarmee ons die vurige pyle van die bose uitblus.  Die vurige pyle van die bose is die versoekinge wat die duiwel na ons kant toe skiet.  Die pyle van die begeerlikheid van die vlees, die pyle van die begeerlikheid van die oë en die pyle van die grootsheid van die lewe.

Die skild van geloof is dan waarmee jy sonde oorwin.  God sê so, die duiwel sê so.  Wie glo jy?  Glo jy God, oorwin jy sonde.  Glo jy die duiwel, dan het jy geval vir sy versoekinge.  So elke keer wanneer jy gesondig het, het jy die duiwel se leuen geglo.  Dit is waarom Paulus sê in Rom 14,

Rom 14:23 Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde. 

En solank jy God se Woord glo, sal jy nie die duiwel glo nie.  Dit is met die skild van geloof waarmee jy die vurige pyle van die bose een sal uitblus.

Ons gaan dan vandag kyk na die helm van verlossing.  Wat beteken die helm van verlossing?  Jy mag dalk sê, dit is maklik, dit verwys na die feit dat ek gered is.  Ek is gered.  Nee!  Dit is nie waarna dit verwys nie.

Kom ons kyk gou na die Romeinse soldaat.  Hy het nooit in ‘n oorlog gaan veg sonder sy helmet nie.  Dit sou dom gewees het.  Dit was baie belangrik want dit het sy kop beskerm.  Waarvan?  Dalk van vlieënde pyle, maar die hoofrede was om sy kop te beskerm teen ‘n groot swaard.

Nou, die helm hier is die helm van verlossing.  Dit is egter nie ‘n opdrag om gered te word nie.  Paulus sê nie, jy moet gered word nie.  Jy het reeds die gordel van waarheid aan, die borswapen van geregtigheid en die skoene van die evangelie van vrede.  Jy is klaar gered.  Jy is nie in hierdie geestelike oorlog as jy nie alreeds ‘n gelowige is nie.  

So waarna verwys die helm van verlossing?  Waarna verwys dit?  Om dit te verduidelik gaan ons so bietjie in detail moet gaan.

Heel eerstens, mense is verward wanneer dit kom by ewige sekuriteit.  Is ons een keer gered, altyd gered?  Wat van daai ou wat so lank die Here gedien het, maar nou wil hy niks weet van die Here nie.  Is hy gered of nie?  En mense is bekommerd hieroor, selfs in hulle eie lewens wanneer hulle gesondig het, voel hulle skuldig.  Mense begin te twyfel in hulle eie saligheid.

En dan is daar soveel mense wat hulle lewens al honderd keer vir die Here gegee het.  Hulle kom oor en oor tot bekering net om seker te maak.  So wanneer het ons daardie sekerheid van ons saligheid?  Wanneer is ons verseker van ons verlossing?

Wel, eerstens sal ons moet verstaan wat saligheid beteken.  Wat beteken dit om gered te wees?  Wat beteken dit om verlos te wees?  En dit is waarna ons ook vandag gaan kyk.

Kom ons begin deur te kyk na die drie aspekte van saligheid.  Kom ons noem dit die drie dimensies van verlossing.  Dit is die verlede, die hede en die toekoms.  Die verlede gaan oor dat ons verlos is van die straf van sonde.

So as jy vir my vra: Is jy ‘n Christen, is jy gered?  Dan sou ek antwoord en sê, “Ja”.  Wanneer het dit gebeur?  Wel, die dag toe ek die Here Jesus Christus bely, Hom in my lewe ingenooi het, toe my sondes op Hom op die kruis geplaas is en Hy die straf vir my sonde betaal het.  Dit het in die verlede plaasgevind.  Die straf vir my sonde is klaar betaal.

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 

So Paulus sê nie in Ef 6 dat die oue mens weer saam met Christus gekruisig moet word nie.  Hy sê nie dat jy weer begrawe moet word in Sy dood nie.  Die ou mens is klaar dood en begrawe die dag toe jy jou geloof in Christus geplaas het, jy saam met Hom gekruisig is en die loon van jou sonde reeds betaal is.  Dit is waarom Rom 8 sê,

Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 

Dit is klaar mee afgereken.  So die verlede aspek van jou verlossing is dat jy vrygemaak is van die straf van sonde.  Jy is verlos van die straf van sonde.

Nou die teenwoordige aspek van jou verlossing gaan nie oor die straf van sonde nie, maar oor die mag van sonde.  Sonde het nie meer ‘n houvas op jou lewe nie.  Dit regeer nie meer jou lewe nie.  Hoekom nie?

1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 

Het jy geweet dat daar nie een sonde is wat teen jou gereken kan word nie?  Rom 8 sê, 

Rom 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 

Daar is geen beskuldiging nie, daar is geen veroordeling mee nie.  Hy het jou vergewe van al jou ongeregtighede.  Maw vir dit om waar te wees, is God besig om jou elke dag te reinig.  Dit is soos wat Jesus vir Petrus gesê het, 

Joh 13:10 Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie. 

Jy hoef nie oor en oor gewas te word nie, want jy is heeltemal rein, maar dit is nodig om voete te was.  Maw jy moet net elke dag voete was.  Jy hoef nie oor en oor tot bekering te kom of oor en oor gered te word nie.  Jy moet net elke dag jou voete was van die stof van die wêreld wat aan jou voete kom vas sit.

Ons is klaar gered en verlos deur die bad van wedergeboorte.  Jy word nie twee of meer kere wedergebore nie.  Jy word net een keer wedergebore.  So die Here bad jou by wedergeboorte en stof jou voete elke dag af.  Dit is die teenwoordige aspek van jou verlossing.  Ek is verlos (verlede) en ek word verlos (hede).  Rom 5 sê dit so,

Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun (verlede), veel meer sal ons deur sy lewe gered word (hede) nou dat ons versoen is. 

Sien jy dit?  So daar is die redding in die verlede en daar is die konstante redding in die hede.  Ek is gered van die straf van sonde, ek word gered van die mag van sonde.

Dan is daar ook die toekomsige aspek van jou verlossing.  Ons gaan verlos word van die teenwoordigheid of die bestaan van sonde.  Het jy geweet daar kom ‘n dag wanneer daar nie meer sonde sal wees nie?  Ons sal sonder sonde wees.  

Paulus sê in Rom 7, die sonde leef nog in my, Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? En los nie vraag net so nie.  Hy kom hy in Rom 8 en sê, 

Rom 8:23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. 

Dit sal gebeur wanneer jy verander word en jy ‘n verheerlikte liggaam, ‘n onverganklike liggaam sal ontvang by die opstanding.  Dit sal die finale afhandeling wees van jou volkome verlossing.  Hy regverdig ons (verlede), Hy reinig en heilig ons (hede), en Hy verheerlik ons (toekoms).

So as jou verlossing begin het in die verlede en steeds aanhou in die hede tot op die verheerliking, kan jy dit mos nie verloor nie.

Fil 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.

So jou volkome verlossing is totaal en al in God se hande.  Dit is nie in jou hande nie.  En jou verlossing is nie voorwaardelik nie.  Jy word bewaar in Sy krag nie in jou eie krag nie.  Jou toekomstige verlossing word verseker deur God wat die onderpand, die Heilige Gees aan jou gegee het en waarmee jy verseël is tot op die dag van verlossing.

Ef 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. 

Om dit beter te verstaan gaan ons kyk na ‘n paar teksgedeeltes.  Rom 8:22 & 23 byvoorbeeld praat van die vloek en hoe sonde die hele skepping geraak het en dit aan die nietigheid onderworpe gemaak het, maar daar is hoop op ‘n beter wêreld.  Die wêreld gaan ‘n beter plek wees, maar eers wanneer Jesus kom, dan sal dit volmaak  wees.

Maar die wêreld gaan nie beter word deur die mens se pogings nie.  So ons hoop is op Christus se verskyning.

Rom 8:22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 

Die hele skepping weet daar is groot fout.  Selfs die skepping is in chaos.  Dan sê v23,

Rom 8:23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. 

Maw ons weet ook daar is groot fout.  Dinge is nie reg soos wat God dit wil hê nie.  Daarom sug ons en het ons ‘n afwagting van die verlossing van die liggaam.  

Ons is verlos, ons word verlos en ons gaan verlos word.  Dan sal ons absoluut heilig wees.  En dit is wat v24 sê, dat ons is gered in hoop.  Ons is nie net gered in die verlede en nou hang die res van ons af nie.  Nee, dan is jou verlossing nie volkome nie.  

As jy nie eendag die hemel maak nie, is dit nie omdat jy gered was, maar jy dit langs die pad verloor het nie.  As jy nie die toekomstige verlossing ontvang het nie, was dit omdat jy geen verlossing ontvang het nie.

God verlos nie die mens halfpad nie.  Hy verlos ons volkome en dit sluit in die verlede, die hede en die toekoms.

Heb 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. 

Jesus Christus red ons volkome, want Hy leef.  Heb 5:9 sê Hy is ‘n bewerker van ewige saligheid, van ewige verlossing.  Hy red jou nie net vir ‘n sekere tyd of halfpad nie.  As Hy die verlossingswerk in jou lewe begin, sal Hy dit voleindig, die verlede, die hede en die toekoms.

As jou verlossing nie ‘n toekomstige aspek gehad het nie, waarom dan nou verlos word.

Gal 5:5 Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop. 

Hier praat hy nie van die verlossing in die verlede nie, maar van die toekomstige verlossing, die geregtigheid waarop ons hoop.  Hy praat van die finale afhandeling van jou verlossing.  En ons wag in hoop, ons hoop dat die oorlog sal eindig en alles verby sal wees.  Daar gaan ‘n dag kom wat ons nie meer die stryd hoef te stry nie.  

1 Pet 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. 

Maw ons is gered tot ‘n lewende hoop.  Ons is gered om te hoop.  En wat sal dit wees?

4 sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons 
5 wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. 

Ons hoop is die ewige heerlikheid.  Ons hoop is die hemel.  Ons word in die krag van God bewaar deur die geloof.  Watter saligheid is dit?  Dit is die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.

Daarom verdra ons nou so bietjie pyn en lyding.  Hoekom?  Want daar is ‘n eindstreep.  Daar is ‘n verlossing van die liggaam van hierdie dood.  Daar is ‘n ewige heerlikheid wat vir ons wag.  

So God het nie vir ons net ‘n verlossing gegee van die verlede nie.  Maar Hy bewaar ons in die krag van God, Hy bewaar ons verlossing in die hede.  En nie dit nie, Hy gee vir ons ‘n lewende hoop.

1 Thes 5:8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. 

Let nou op wat sê die volgende vers!

1 Thes 5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus 

Luister!  Ons is nie net in hierdie geestelike oorlog en veg om te oorleef nie.  Die einddoel is om die saligheid te verskry wat vir elke kind van God belowe is.  Daar is steeds ‘n deel van ons saligheid wat ons nog moet verkry.  Die verlossing van die liggaam.

So wat is die helm van verlossing?  Die helm van verlossing is die vertroue wat ons het in die volkome, en finale afhandeling van ons saligheid wat geopenbaar sal word.  Dit is daardie toekomstige hoop.  Dit is die vertroue dat hierdie stryd eendag verby sal wees.  Ek sou nie kon veg as ek nie geweet het dat daar iewers ‘n einde sou kom nie.

Nou is die vraag: hoekom is dit deel van die wapenrusting van God.  Onthou jy die Romeinse soldate met hulle groot swaarde?  Het jy geweet die duiwel het ook ‘n groot swaard waarmee hy jou wil slaan?  Hierdie swaard het twee kante.  Die een kant is ontmoediging of moedeloosheid en die ander kant van die swaard is twyfel.

Dit is wat die duiwel wil doen.  Hy wil jou ontmoedig.  Hy wil hê jy moet as Christen begin om moedeloos te word.  En nog meer wil hy hê jy moet twyfel in God en twyfel in jou verlossing.  Jy lees jou Bybel, bid gereeld, woon die gemeente dienste by, raak betrokke, en leef jou bediening uit, dan gebeur al die slegte dinge en dinge loop verkeerd.  

Wat sê die duiwel vir jou?  Nee wat, jy mors jou tyd.  Hy slaan jou met moedeloosheid en met twfyel.  Daarom moet jy die helm van verlossing aantrek om jou te beskerm teen hierdie dinge, want die duiwel gaan jou probeer ontmoedig en hy gaan twyfel in jou hart saai.  

En jy moet die helm van verlossing aantrek, sodat jy elke dag in die geestelike stryd kan weet, tenspyte van jou omstandighede, het jy ewige sekuriteit.  Jou saligheid is verseker.  Sodat jy kan hoop op die finale oorwinning wat vir jou wag.

Ons sal volgende keer aangaan en meer in diepte kyk na die swaard waarmee die duiwel jou wil slaan.  Ons gaan kyk na moedeloosheid en twyfel.

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288