Sunday 17 April 2011

'n Geestelike huis

Teksgedeelte: 1 Pet 2:4-5

1 Pet 2:4 Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is;
5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

Tema: ‘n Geestelike huis

Die kerk van die Here is ‘n geestelike huis.  Die kerk is nie ‘n gebou waarheen ons elke Sondag heen gaan nie.  Ons is die kerk van die Here.  Ons is lewende stene wat in die geestelike huis ingebou is.  Die geestelike huis is nie van dooie stene, van sand en klip gemaak nie.  Ons is lewende stene.  Ons is ‘n heilige priesterdom en ons bring geestelike offers aan God.

Let op! Ons bring geestelike offers.  Daar is te veel vleeslike aanbidding in die kerk.  Baie mense maak die fout deur geestelikheid te meet aan uiterlike dinge.  Uiterlike manefistasies.  Hoe hard ek kan bid.  Hoe hoog ek kan spring.  Hoe hoog ek my hande kan opsteek.  En in ‘n sekere sin is dit wat die Fariseërs gedoen het.

Hulle het gebid sodat hulle deur die mense gesien kan word.  Hulle wou eer by mense ontvang.  Hulle het ‘n ydele herhaling van woorde gebruik, want hulle het gedink hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.  Daar is baie sulke mense in die kerk vandag.

Nou dit is nie verkeerd om hande te klap en lekker te sing op lekker musiek nie, maar aanbidding is dieper as net dit.  Aanbidding moet in gees en waarheid gebeur.  Aanbidding is ‘n geestelike gebeurtenis.  Ons bring geestelike offers wat aan God welgevallig is, maw wat vir God aanvaarbaar is.  Ek kan nie God aanbid net soos wat ek wil nie.  Ek moet Hom aanbid soos wat dit aan Hom welgevallig is.

So kom ons kyk gou na ons teksgedeelte.  Vers 4 begin deur te sê, “Kom na Hom toe…”  Hierdie klink soos ‘n uitnodiging.  Maar die KJV sê dit beter, “To whom coming…”, aan hulle wat kom.  Hy maak ‘n stelling.  Hulle wat kom.  Ons sê altyd as Christene, “Ons het na Christus toe gekom.”  Ek het na Hom toe gekom.  En dit is wat Petrus hier in gedagte het.

En waar begin dit?  Dit begin wanneer jy gered word wanneer jy na Christus toe kom, wanneer jy kom in die geloof.

Matt 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

Die Bybel sê dat Jesus roep mense na Homself toe.

Joh 6:35 En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.

Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Joh 6:65 En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie.

Joh 7:37 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!

Dit is wat Petrus in gedagte het.  Dit begin alles wanneer jy na Jesus toe kom.  Dit is wanneer jy deel word van die geestelike huis.  ‘n Mens word nie deel van die kerk, wanneer jy ‘n lidmaatskap aansoekvorm voltooi het nie.  ‘n Persoon is nie deel van die geestelike huis as hy nie wedergebore is nie.  Die stene in die geestelike huis is lewende stene.  Hulle is lewend gemaak deur God se Gees.  Die vraag is: wanneer gebeur dit?  Wanneer jy na Christus toe kom deur die geloof.  Dan is jy deel van die geestelike huis.

Die werkwoord hier met sy voornaamwoord beteken om te kom met die idee om te bly.  Jy kom om te bly.  Die idee hier is dat jy na Christus toe kom om te bly, om in Sy teenwoordigheid te bly, om in ‘n intieme persoonlike verhouding met hou te bly, om gemeenskap met Hom te hê.

Die Griekse word is “proserchomai” en beteken “drawing near to God for continuing worship.”  So ek kom nie net op ‘n Sondag kerk toe om God te aanbid en om in Sy teenwoordigeheid te kom en daarna gaan ek huis toe, dan is ek nou uit Sy teenwoordigheid nie. Nee!

Wanneer ek na God toe kom en in Hom bly en Hy in my, dan is Hy elke dag by my en elke oomblik by my.  Sy teenwoordigheid is elke oomblik daar.  Ek is net nie altyd bewus daarvan nie.  Maar God is Emmanuel, God met ons.

Matt 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld…

Joh 14:16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:
17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid:  Die Heilige Gees bly by ons tot in ewigheid.  Hy bly by ons en is in ons elke dag tot in ewigheid.  As dit nie die waarheid was nie, was ons nie ‘n geestelike huis nie.  Dan was ons nie die tempel van die Heilige Gees nie.  En nog meer, dan was ons nie gered nie.

Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.

Maw as jy nie die Heilige Gees het nie, is jy nie ‘n gelowige nie.  Elke gelowige het die Heilige Gees, want wanneer jy na Christus toe kom en jy gered word, word jy soos ‘n lewende steen in die geestelike huis ingebou, die gebou waarin God se Gees woon.

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Ons is ‘n geestelike huis waarin God se Gees woon.  Ons bly in Hom en Hy bly in ons.

In ons teksgedeelte word Jesus “die lewende steen” genoem.  So Petrus gebruik beeldspraak.  En hierdie beeld van Jesus as die lewende steen sluit aan by soveel ander beelde wat ons kry in die Ou Testament.  Die word steen is die Griekse woord “lithos” en dit word algemeen gebruik vir ‘n steen of klip wat gebruik word in ‘n gebou.

In daardie tyd het hulle klippe gebruik om mee te bou en die klippe was uitgekap totdat dit presies in die gebou op sy spesifieke plek ingepas het.  En Jesus word genoem ‘n lewende steen, wat in ‘n sekere sin ‘n paradoks is.  Want ‘n steen is mos nie ‘n lewendige ding nie.  ‘n Steen is dood.  ‘n Steen het nie lewe in hom nie.

En alhoewel die steen prefek uitgekap is om sy plek in te neem in die gebou, word Jesus die hoeksteen genoem van die kerk en hierdie steen speel nie net ‘n belangrike rol nie, maar is die bestaan van die gebou totaal en al afhanklik van hierdie steen.

Matt 21:42 Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?

Jy sien, hierdie steen wat verwerp is, is doodgemaak, maar Hy het opgestaan en Hy lewe.  Jesus Christus is die lewende steen.  Nou kan ons ‘n lewende verhouding met Hom hê. 1 Kor 10:4 noem Hom ‘n geestelike rots.  Julle sal onthou toe die Israeliete in die woestyn was, het Moses ‘n rots geslaan en dit het gekleef en daar het water uitgevloei. 

Jesus is die geestelike rots wat geslaan is en gekleef is en nou vloei daar geestelike water uit Hom wat lewe skenk aan elkeen wat dit drink.

Joh 4:13 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;
14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

Jesus is die rots waarop God Sy kerk bou.  Daar is alleen geestelike lewe in Hom.

1 Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

Luister! Nie net is Jesus die lewende steen nie, maar is Hy ‘n lewenmakende Gees.  Jesus skenk lewe.  En omdat Hy lewe, kan ons lewe. Die ewige is om Jesus te ken.

Hoekom gebruik Petrus die beeld van ‘n steen?  Want hy wil hê ons moet sien dat Christus die fondasie is van die Kerk.  Hierdie is nie my kerk nie.  Hierdie is ook nie ons kerk nie.  Hierdie is die kerk van die Here Jesus Christus.  Hy is die hoof, Hy is die bouer wat Sy kerk oprig.  En my gebed is dat ons Christus die geleentheid sal gee om ons op te bou soos wat Hy wil en nie soos wat ons wil nie.

Jy sien!  Hierdie kerk kan nie bestaan as daar nie ‘n hoeksteen is nie.  Verduideliking van ‘n arch.  Sonder die hoeksteen kan die arch nie werk nie.

So kom ons bely van die begin af ons totale afhanklikheid van God en vertrou God dat Hy nie net hier ‘n nuwe gemeente oprig nie, maar dat ons deel kan wees van ‘n groot werk wat Hy reeds 2000 jaar terug begin.  Ons kan deel wees van Sy werk in Rustenburg.

Slot

Waar pas jy in Sy geestelike huis in?  Wat verlang Hy van jou?  Wat is jou funksie in die liggaam van Christus?

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288