Teksgedeelte: Joh 4:1-14
Joh
4:1 Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer
dissipels maak en doop as Johannes—
2
alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels—
3
het Hy Judéa verlaat en weer na Galiléa gegaan.
4
En Hy moes deur Samaría gaan.
5
Hy kom toe by ‘n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond
wat Jakob aan sy seun Josef gegee het.
6
En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die
reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.
7
Daar kom ‘n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My
water om te drink—
8
want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop.
9
En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van my
vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen
gemeenskap met die Samaritane nie.
10
Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het
wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en
Hy sou vir jou lewende water gegee het.
11
Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep;
waarvandaan kry U dan die lewende water?
12
U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en
self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?
13
Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer
dors kry;
14
maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit
dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van
water wat opspring tot in die ewige lewe.
Julle sal onthou toe ons in die verlede na die
evangelie van Johannes gekyk het, het ons gesê dat die enkele doel van Johannes
is om Christus te beskryf as God was mens geword het. God in ‘n menslike liggaam.
Die sleutel van Johannes hoofstuk 4 is v26 waar
Jesus sê vir die Samaritaanse vrou sê, “Dit is Ek wat met jou spreek!”, maw “Ek is die
Messias.” En wanneer ons hoofstuk 4 lees
is die fokus nie hier op die Samaritaanse vrou nie. Die fokus is nog altyd Jesus. God in ‘n menslike liggaam.
Dit is ook interessant om te sien dat Jesus nie
gepla was oor die tipe persoon waarmee Hy te doen het nie. Hy was lief vir alle mense. Hy was nie kieskeurig nie. Hy het nie gunstelinge gehad nie. God is geen aannemer van die persoon nie.
En in hierdie gedeelte sien ons hoe Hy in liefde
deel met ‘n vrou wat vir ander ‘n totale uitgeworpene was. Vir Hom was dit nie ‘n probleem om met haar
te deel nie, want Sy liefde word nie bepaal deur die objek wat Hy lief het
nie. Sy liefde word bepaal deur die karakter
van Sy liefde. En dit is die verskil
tussen die mens se liefde en goddelike liefde.
Menslike liefde sê, “Ek is lief vir jou, want ek
hou van wie of wat jy is.” Goddelike
liefde sê, “Ek is lief vir jou, maak nie saak wie of wat jy is nie, want dit is
die karakter van liefde.” God het lief,
want dit is liefde, dit is Sy karakter, om lief te hê. God se liefde is nie oordeelkundig nie.
Ons het dan ook hier in ons teksgedeelte met ‘n baie
interessante persoon te doen. Ons het
egter nie baie besonderhede van haar lewe nie.
Wat ons wel weet is dat sy met mans deurmekaar was. En dit is al wat ons hier hoef te weet, want
dit was ‘n illustrasie van haar sonde.
Sy was ‘n Samaritaan, net die teenoorgestelde van
Nikodemus wat ‘n Jood was. Sy was ‘n vrou
en Nikodemus was ‘n man. Sy was ‘n uitgeworpene,
Nikodemus was ‘n geleerde. Sy was laer
klas en Nikodemus ‘n hoër klas. Sy was arm
en swak, Nikodemus was ryk.
Nikodemus het Jesus erken en gesê, “Rabbi, ons weet dat
U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat
U doen as God nie met hom is nie.”
Maar sy het nie geweet wie Jesus was nie.
Twee totaal en al verskillende mense. Maar Jesus lei hierdie vrou tot kennis van
Homself. Want dit gaan alles oor Hom. Dit gaan alles oor Jesus Christus. Dit openbaarmaking van die Messias. Dit is wat saak maak.
Terloops, dit is die eerste keer wat Jesus Homself
as die Messias bekend stel, en dit nog aan ‘n onbekende vrou van Samaria. En baie het gevra waarom het nie Hy eerder
nie net na Jerusalem toe gegaan, na die tempel en vir die leiers daar gaan
vertel wie Hy was nie. Hoekom openbaar
Hy Homself aan ‘n onbekende vrou?
Wel, God se gedagtes is nie ons gedagtes nie,
maar wat ons wel weet is dat God verkies het om nie dit aan die verstandige
mense en wyse te openbaar nie, maar aan die kindertjies. En toe Hy uiteindelik dit aan Israel
geopenbaar het, het hulle in elk geval nie geglo nie.
Vers 1-6 gaan dan oor die omstandighede wat gelei
het tot hierdie konfrontasie.
Joh
4:1 Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer
dissipels maak en doop as Johannes—
2
alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels—
3
het Hy Judéa verlaat en weer na Galiléa gegaan.
So, daar is ‘n storie wat soos ‘n veldbrand
versprei het, dat Jesus baie suksesvol was.
Baie mense het na Jesus toe gegaan.
Hy het meer dissipels gehad as Johannes die Doper. En Johannes die Doper se dissipels kon dit
nie verstaan nie. Waarom sou hulle
Johannes verlaat en na Jesus toe gaan.
En julle onthou wat Johannes gesê het, “Hy moet meer word, maar ek minder.”
Johannes sê inderwaarheid, dit is veronderstel om
so te wees. Hulle moet na Hom toe
gaan. Dit is wat ek kom doen het. Net om die weg van die Here in die woestyn te
berei. Dit gaan oor Hom. En dit gee my vreugde.
Joh
3:28 Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar
dat ek voor Hom uitgestuur is.
29
Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat
na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is
dan hierdie blydskap van my volkome.
Die skare het na Jesus toe gegaan en dit het die
Joodse leiers ontstel. Hulle het eers
nie van Johannes gehou nie en nou nog minder van Jesus. Hoe weet ek dat hulle nie van Johannes die
Doper gehou het nie? In Markus 6 lees
ons dat hulle het sy kop afgekap en hulle was bly daaroor. Vir die Joodse leiers was dit ‘n groot dag.
In hulle oë het hulle ontslae geraak van die godsdienstige
afvalligheid. As daar enigiets was wat ontoelaatbaar
was, was dit iemand wat die waarheid verkondig het in die midde van
valsheid. Dit is juis as gevolg van
hulle geveinsdheid dat hulle nie iemand wat die waarheid verkondig het kon
verdra nie.
Johannes die Doper was iemand wat die waarheid
verkondig het. En as hulle nie van hom
gehou het nie, wat het hulle nie van Jesus gedink nie? Hulle was voortdurend in konflik met Jesus
totdat hulle Hom uiteindelik dood gemaak het.
En toe Jesus verneem dat die fariseërs gehoor het
van al die mense wat na Hom toe gekom het, het Hy na Galilea gegaan. Hoekom?
Was Hy bang vir hulle? Nee! Kon Hy hulle nie face nie? Nee!
Dit was eenvoudig nie God se tyd dat Hy in konfrontasie met hulle moes
kom nie. Dit was nie die regte tyd
nie. Daarom het Hy gegaan.
Jesus het ook nie net weggegaan om weg te kom van
die fariseërs af nie. Hy moes na Samaria
toe gaan, want dit was ‘n goddelike noodsaaklikheid. Hy het gegaan na Samaria, want daar het Hy ‘n
goddelike afspraak gehad met ‘n vrou.
‘n Ou kon sê dat Jesus moes deur Samaria gaan om
na Galilea toe te gaan. Dit sou die korste
en maklikste pad gewees het. Maar die
Jode het eenvoudig net nie deur Samaria gegaan nie. Die Jode het ‘n ander roete gehad. Hulle wou nie hulle voete in Samaria sit nie.
Jode en Samaritane wou niks van mekaar af weet nie. Hulle het mekaar gehaat. Maar Jesus het deur Samaria gegaan. Maar hoor wat sê vers 4,
Joh
4:4 En Hy moes deur Samaría gaan.
Dit was ‘n goddelike noodsaaklikheid. In God se raadsplan was dit so dat die
Verlosser deur Samaria moes gaan, want Hy het ook ‘n afspraak gehad met
sondaars daar. God se genade het ook
begin om te verskuif na heidene. God se guns
het begin swaai na die heidene.
Joh
4:5 Hy kom toe by ‘n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk
grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het.
6
En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die
reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.
Jesus het ook op die regte tyd daar
opgedaag. As Hy twee ure later daar
aangekom het, sou daar geen vroue daar aangekom het nie. Maar God is altyd op tyd. God se skedule is nooit verkeerd nie. Sy goddelike tydsberekening was perfek.
Jesus was moeg en het daar by die fontein gaan
sit. Hoekom? Want Hy was in God se plek op God se tyd om God
se wil te doen. En dit is ‘n ongelooflike
gedagte. Luister! Dit is wat God van elke gelowige wil hê, dat
ons God se man sal wees in God se plek op God se tyd om Sy wil te doen.
Die hartseer is dat meeste van ons wil wees waar
ons wil wees, wanneer ons daar wil wees met die doel om dit te doen wat ons wil
doen. So min Christene is sensitief vir
die Gees van God om te hoor wat God wil hê ons moet doen op die regte plek op
die regte tyd.
So hoe weet ek dan wanneer God wil hê ek moet
iewers op ‘n plek iets vir Hom doen? Die
vraag is, as God wil hê jy moet iets vir Hom doen, dink jy nie Hy sal jou laat
weet nie? God sal jou laat weet! Al hoekom ek nie sou weet wanneer God wil hê
ek moet iets doen nie, is omdat ek te besig is om my eie dinge te doen en nie
sensitief is vir die Heilige Gees nie.
Dit gaan alles oor beskikbaarheid. Die meeste van ons is nie beskikbaar
nie. Ons is te besig met ons eie
lewens. Ons moet net beskikbaar wees.
Joh
4:7 Daar kom ‘n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir
My water om te drink—
8
want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop.
Die fontein waar Jesus sit is ‘n halwe myl uit
die dorp van Samaria uit. En daar was genoeg
water in die dorp. Waarom sou sy dan so
ver loop vir water as daar water in die dorp is? Heel waarskynlik as gevolg van haar agtergrond
en dalk wou die ander vroue haar nie daar gehad het nie.
Sy sê ook later vir Jesus, “Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors
kry en hier hoef te kom skep nie.”
Jesus praat oor die geestelike water en sy praat
van fisiese water. Maar sy was ‘n uitgeworpene,
verstoot deur die samelewing. Daarom kom
sy ‘n half myl om water te kry. Jesus sê
toe vir haar, “Gee
vir My water om te drink”.
Hoekom? V8, want sy dissipels was
in die stad om kos te koop.
Die vraag is tog:
Hoekom kry Jesus nie vir Homself water nie? Want Hy het nie ‘n skepding gehad nie. Dit is waarom die vrou vir Jesus sê, “Here, U het nie
eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende
water?”
En ek wonder wat hierdie vrou gedink het toe sy
hoor dat die dissipels in die Samaritaanse stad is om kos te kry. Kan jy jou indink aan die skok van die
Samaritane toe ‘n klein groepe Jode in hulle stad kom. Hulle het seker gedink hierdie ouens is
mal. Hulle haat ons dan.
Dit vertel ons ook iets mooi, dat in die paar
maande wat die dissipels saam met Jesus was, Hy hulle reeds iets geleer het van
Sy liefde wat nie grense het nie. Hulle was
in die dorp en die Bybel sê nie vir ons wat gebeur het nie, maar dit sou nogals
‘n interessante storie gewees het.
Terug by die put vra Jesus die Samaritaanse vrou
vir water en dit moes haar natuurlik gerattle het. Eerstens het die manne nie met die vroue in
die publiek gepraat nie. Dit was teen
die wet. Jy het selfs nie met jou eie
vrou of sister of dogter in die openbaar gepraat nie. Daar was wel voorsiening dat jy met jou ma
kan praat.
Tweedens het ‘n Rabi of godsdienstige leier nie
met ‘n prostituut gepraat nie. Nog meer
het hulle nooit met vroue gepraat nie, die rabi’s en godsdienstige leiers. Daar was selfs ‘n groep fariseërs wat nie
eers na ‘n vrou gekyk het nie. Hulle het
hulle net toegemaak en aangehou loop.
Derdens het Jode en Samaritane eenvoudig net nie
met mekaar gepraat nie. Hulle het mekaar
gehaat.
Joh
4:9 En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van
my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen
gemeenskap met die Samaritane nie.
Nou hoe het sy dan geweet dat Hy ‘n Jood is? Hy moes soos ‘n Jood gelyk het. Sy moes dit ook in Sy klere gesien het wat Hy
aan gehad het. Die klere wat ‘n Rabi
gedra het. So sy het geweet. Maar sy kon dit nie glo nie. Die Jode het dan geen gemeenskap met die
Samaritane gehad nie. Daar was rasse-haat. Bitterheid oor die ontrouheid.
Sy was geskok waarom ‘n Jood uit haar eie drink
emmer sou drink. En dit is Jesus. Hy vebreek elke grens. Sy liefde verbreek grense. Sy liefde ryk uit na mense wat nie eers na
Hom soek nie. Mense wat dit nie verwag
nie.
Joh
4:10 Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet
het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra
het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
As jy die gawe van God geken het. Wat is die gawe van God? Joh 3:16 “Want so
lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het...” As jy dit geweet het sou jy My gevra het vir die
lewende water.
Jesus draai dit om. Hy is dors en sy het die bron om vir Hom
water te gee. Nou het sy dors en Jesus
is die bron. Jesus begin by die fisiese
dors en draai dit om na ‘n geestelike behoefte en sê, Ek het dit wat jy die
nodigste het. Dit is bedekte stelling,
soortgelyk aan die een wat hy gemaak het aan Nikodemus, “Jy moet weer gebore
word.”
In die Ou Testament kry ons ‘n belofte van die
lewende water.
Jes
55:1 o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom,
koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!
Jesus praat nie van die fountain of youth
nie. ‘n Geheime fontein nie. Maar sy het waarskynlik gedink Jesus weet van
‘n spruit waarvan sy nog nie weet nie.
Joh
4:11 Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is
diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?
12
U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en
self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?
So vra sy vir Hom, as jy ‘n geheim het om hierdie
lewende water te kry, dan moet jy iets kan doen wat selfs Jakob nie kon doen
nie of nie geweet het van nie. Jy is tog
nie groter as Jakob nie? Sy is steeds
verward.
Joh
4:13 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal
weer dors kry;
14
maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit
dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van
water wat opspring tot in die ewige lewe.
En haar reaksie hierop sê, nou weet sy, iets is
anders. Maar sy is nog nie 100% seker
nie. Jesus sê vir haar, wat hierdie
fisiese water vir jou droë mond kan doen, so sal My water vir jou droë siel kan
doen.
Elke mens dors, elke mens soek water. Hoeveel te meer het die mens nie die lewende
water nodig nie. En ek is seker dat haar
reaksie was positief alhoewel sy nie heeltemaal alles verstaan het of die
implikasies besef het nie.
Joh
4:15 Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en
hier hoef te kom skep nie.
En Jesus kon gesê het “goed, hier is dit”, maar
is dit wat Hy doen? Nee! Hoekom nie?
Anders was dit ‘n goedkoop bekering, en hoeveel van hulle is daar
nie? Wat bedoel ek? Hoeveel mense sou nie graag reageer as jy vir
hulle ‘n oorvloedige lewe belowe nie?
Baie. Baie mense soek oorwinning
en as jy dit aan hulle belowe en ‘n uitnodiging maak, gaan hulle kom.
Maar Jesus werk nie so nie. Wat doen Jesus toe die vrou sê, gee my
daardie water? Wat doen Jesus? Hy spreek ‘n belangrike ding aan en dit is
sonde! Sy moet eers besef dat Sy ‘n sondaar
is en Sy moet besef wie Christus is. Net
‘n behoefte om die ewige lewe te hê, of om oorwinning te hê, of om jou ewige
dors te les is nie genoeg nie.
‘n Behoefte na die ewige lewe is nie genoeg
nie. Daar moet ‘n besef van sonde wees
en ‘n daadwerklike bekering van sonde, ‘n wegdraai van sonde en ‘n draai na
Jesus Christus toe. En hierdie vrou het nog nie daar uitgekom nie.
Sy het nog nie geweet wie Jesus is nie. Sy het nog nie besef dat sy ‘n sondaar is
verlore sonder God nie.
Daar is te veel goedkoop bekerings in die
kerk. Mense wat ‘n behoefte het na ‘n
beter lewe, wat graag hemel toe wil gaan, maar hulle besef nog nie dat daar
iets tussen hulle en God staan nie, en dit is sonde. En dit is wat Jesus doen. Hy maak haar bewus van haar sonde, as jy
verder lees wat gebeur.
Jesus het gekom om te soek en te red die wat
verlore is.