Wednesday 12 December 2012

Maak jou hart sterk


Teksgedeelte: Kol 2:1-3

Kol 2:1 Want ek wil hê dat julle moet weet wat 'n groot stryd ek oor julle het, en oor die wat in Laodicéa is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie,
2 dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus,
3 in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.

Tema: Maak jou hart sterk

 

Inleiding

 

Wanneer ons die vraag sou vra: wat is die een belangrikste bestandeel van ‘n dienaar, sou daar sekerlik baie antwoorde wees.  Hy moet geleerd wees of hy moet ‘n lankmoedig wees of hy moet ‘n charismaat wees of ‘n leier wees.  Maar ek dink die mees basiese, die mees effektiewe, die nodigste bestandeel van ‘n dienaar is sy liefde vir die kerk.  Die liefde vir die kerk.

 

Dit is liefde vir die kerk wat ‘n dienaar motiveer.

 

Ef 5:25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

 

Jesus het homself vir die gemeente oorgegee, hoekom?  Omdat Hy hulle liefgehad het.  Hy het nie die organisasie of die struktuur liefgehad nie.  Hy het die mense liefgehad wat die kerk is.  Daarom het Paulus ook sy lewe gegee vir die kerk, omdat hy die kerk liefgehad het.

 

Paulus het nou nie gesterf vir sonde nie, maar hy was lief vir die kerk en dit was nie die denominasie of die organisasie wat hy liefgehad het nie.  Dit was die mense waarvoor hy lief was en waarvoor hy sy lewe gegee het.

 

2 Kor 3:2 Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense;

Julle is in ons harte geskryweOns gee om vir julle.

 

2 Kor 6:11 Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword.

2 Kor 12:15 En ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele, al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin.

Paulus het die kerk liefgehad en ek en jy moet ook die kerk liefhê.  Ons moet mekaar liefhê, en liefde sê ek soek nie my eie belange nie, maar die belange van ander.

 

Die rede waarom Paulus die kerk so liefgehad het was omdat hy die Here so liefgehad het.  As jy die Here liefhet, sal jy ook hulle liefhê vir wie Jesus lief is.

 

1 Joh 5:2 Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar.

Dit is hoekom Johannes sê, dit is onmoontlik om te sê, jy het God lief, maar nie jou broeder nie.  Dit was nooit Paulus se kerk nie, maar Christus se kerk.  En hy het Christus so liefgehad, dat hy ook Sy kerk liefgehad het.  Dit was die motivering agter sy hele bediening.  Dit het hom soveel moed gegee

 

Luister!  Jy sal nooit waarlik ‘n dienaar van Christus en van die kerk kan wees as jy nie liefde het nie.  ‘n Dienaar sal die grootste deel van sy lewe spandeer met ‘n gebroke hart, want daar sal soveel mense wees wat sy hart breek.

 

Die Judeërs het die kerke van Galasiërs geïnfiltreer en dit het Paulus so kwaad gemaak as gevolg van die valse leringe en hulle wat die kerk wou vernietig.  As jy Efesiërs lees, dan sien jy sy trane.  As jy Hand 20 lees sien jy sy trane.  As jy 1 Korinthiërs lees, dan hoor en voel jy sy hart soos hy die waarheid van God uitstort om die sonde aan te spreek.

 

1 Kor 4:11 Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond,
12 en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit;
13 word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.

Dit is alles waardeur ons moet gaan.  Dit is wat ons alles moet verdra.  Hoekom sou enigiemand al hierdie dinge verdra?  Hoor v14:

 

1 Kor 4:14 Ek skrywe hierdie dinge nie om julle te beskaam nie, maar ek vermaan julle as my geliefde kinders.

Dit is hoekom ek dit alles verdra, want julle is my kinders en ek is lief vir julle.  Jy sien, dit is die verskil tussen iemand wat professioneel is en iemand wat passievolle is.

 

Dit is met hierdie liefde vir die kerk wat Paulus aan die gemeente van Kolosse skryf.  En in Kol 2 sluit hy ander gemeentes in soos Laodicea in v1.  Hierdie gemeentes word almal aangeval met valse leringe.  Hulle het te doen met Judeërs wat wetties is, met filosowe, met askete, met mense wat hulle ontrek het van die samelewing en alleen in ‘n klooster gaan bly.

 

‘n Klomp dinge van alle kante af.  En Paulus het so groot liefde vir die gemeentes en al het hy hulle nog nie persoonlik ontmoet nie, al het hy self nie eers daardie gemeentes gestig nie, het hierdie dinge sy hart aangegryp toe hy dit hoor van Epafras.

 

Kol 2:1 Want ek wil hê dat julle moet weet wat 'n groot stryd ek oor julle het, en oor die wat in Laodicéa is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie,

 

Daar is vyf dinge wat Paulus begeer vir die kerk en hierdie vyf dinge is ‘n checklist vir ons almal.  Ons moet ons eie lewens hieraan toets en ons gemeente, want dit is baie belangrik.  Paulus se emosies is nie net eenvoudige persoonlike liefde nie, nie net dat hy omgee vir ander waarvan hy hou nie.  Hy het hierdie stryd oor mense wat hy nog nooit gesien het nie, want hy het die kerk lief.

 

Almal wat wedergebore is, in watter denominasie hulle ookal is, is deel van die kerk van die Here Jesus Christus.  Paulus het ‘n liefde gehad vir die hele kerk.

 

God moet ons help dat ons daardie liefde sal hê vir mekaar, dat ons nie hoogmoedig of inhalig is of ons verbly in ander gelowiges se mislukking nie.  Ons moet dieselfde stryd hê in ons harte oor daardie gelowiges wat dalk nie op die plek is waar God wil hê hulle moet wees nie.

 

Paulus begeer vyf dinge:  Die eerste ding wat Paulus dan vir hulle begeer is dat hulle vertroos mag word.  Die woord troos is die woord “parakaleo” wat ook vertaal kan word met “bemoedig of versterk”.  Sy begeerte is dat hulle harte bemoedig of versterk sal word.  Al het hulle hom nog nooit gesien nie, het hy hierdie groot stryd vir hulle.

 

Hy wil nie hulle moet mislei word deur valse leringe nie.  Hy wil hê dat hulle harte sterk moet wees.  Wanneer hy praat van hulle harte, wat bedoel hy?  Nou vir die gewone mens daar buite vandag, verwys die hart na die plek van emosies.  “Ek het jou lief met my hele hart.”  Maar vir die Hebreërs is die hart nie ‘n simbool van emosies nie.

 

Die Hebreërs het altyd na twee organe in die liggaam verwys.  Jou ingewande, jou binneste of jou maag en dan die hart.  Die Hebreërs het nie dinge in abstrakte terme verklaar nie.  Alles was vir hulle konkreet, ‘n fisiese werklikheid.

 

Psa 22:14 Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande.

 

Hy beskryf hoe hy fisies voel.  Hy sê, ek voel dit in my ingewande.  Dit is sy ervaring.  Wanneer ek sê, ek is bang, dan is dit abstrak.  Maar hoe beskryf jy dit konkreet.  Beskryf vir my hoe dit voel om bang te wees.  Kyk wat skryf Salomo in Hooglied:

 

Jy moet die prentjie raaksien.  Die bruid wag vir die bruidegom.  Dit is die groot oomblik.  En dan lees ons:

 

Hoog 5:4 My beminde het sy hand deur die deuropening gesteek; toe het my binneste oor hom in beroering gekom;

Sy sê nie, ‘n passie het my oorweldig nie, nee!, dis abstrak.  Sy beskryf haar gevoel op ‘n konkrete wyse.

 

Klaagliedere van Jeremia beskryf nou weer heeltemal ‘n ander gevoel.  Jeremia was ‘n patrioot, maar hy was nie ‘n blinde patrioot nie.  Hy was lief vir sy land wanneer sy land God liefgehad het.  En hier beskryf hy eintlik hoe sy eie land uitmekaar val:

 

Kla 2:11 …My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk, omdat kind en suigling op die pleine van die stad versmag,

Maw in die Ou Testament het mense nie hul ervaringe in abstrakte terme beskryf nie, maar konkreet hoe hulle gevoel het.  En wanneer die Skrif praat van jou ingewande of binneste, het dit verwys na emosionele reaksies

 

Maar wanneer dit kom by die hart, was dit nie vir ‘n Jood die setel van emosies nie.  Die ingewande het verwys na emosies, nie die hart nie.

 

Wanneer Jesus die skare sien wat honger is, dan sê die Bybel het Hy hulle innig jammer gekry, en die Griekse woord hiervoor is “splagchizomai”, wat letterlik beteken, Sy ingewande het gedraai.  Jesus se ingewande het gedraai toe hy die skare sien.

 

In die Bybel word emosies beskryf deur na die ingewande of die binneste te verwys.

 

1 Joh 3:17 Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?

Nou kry ons die woord “spagchizomai”, maar ons vertaling is verkeerd vertaal.  Die KJV is reg wanneer dit sê: “and shutteth up his bowels of compassion”, jou ingewande.  Maw wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy binneste vir hom toesluit…maw niks vir hom voel nie.

 

Emosie word beskryf met “binneste of ingewande”.  Waarvan is die hart dan simbolies?

 

Op 2:23 En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.

God is besig om hulle te oordeel en dan sê Hy, Ek deursoek niere en harte.  Wat is die hart?  Luister!  Uit hierdie gedeelte sien ons dat die hart is die plek van verantwoordelikheid.  Die hart is boosJer 17:19 sê, die hart is bedrieglik bo alle dinge, dit is verdorwe.  Dit is die plek van verwoordelikheid.

 

God oordeel die hart van die mens.  God deursoek die hart van die mens.  ‘n Mens se hart is of goed of sleg.  Wanneer God Israel red sal Hy hulle harte van klip uithaal en vir hulle ‘n nuwe (wat gee?) hart gee.  Dit is die plek van verantwoordelikheid.  Die mens se hart gaan geoordeel word.  Ek wil hê u moet sien dat in die Bybel verwys die hart nie na emosies nie.

 

Kyk na Op 18:7, en hier praat hy van die groot Babilon, die finale verwoesting van die wêreldse sisteme in die verdrukking.

 

Op 18:7 Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie

 

Let op!  Om in haar hart te sê, is ‘n metafoor vir?  Dink.  Sy sê in haar hart, maw sy het in haar gedagtes gesê.  Die hart beskryf nie emosies nie, maar jou gedagtes.  Jou intellek en jou wil.  In Bybelse termonologie verwys die hart na die intellek en die wil van die mens, nie na die emosies nie.

 

In die Bybelse tyd het hulle nie na hulle brein verwys nie.  Daar staan nie geskryf, die dwaas sê in sy brein, daar is geen God nie.  Nee!  Die dwaas sê in sy hart, daar is geen God nie.  Hoekom?  Want die hart is die setel vir gedagtes.

 

Die hart verteenwoordig die verstand en die ingewande die emosies wat volg.  Vir ‘n Hebreër het die hart gedink en die ingewande gevoel.  Dit is Bybelse terminologie.

 

Dit is belangrik om dan te onthou dat in die gedagtes van die Hebreër en in die openbaring van God dat dit nooit begin het met die emosies nie, maar dat emosies net die reaksie wasDie hart bedink en die emosies volg.  Dit is die goddelike patroon.  Dit is dan Bybels om te sê dat jou gedagtes beheer jou emosies.

 

Hier is ‘n ongelooflike belangrike waarheid.  Jy sien, die sleutel om jou emosies te beheer is om jou gedagtes te vul met goddelike waarhede.  Dit is hoe jy jou emosies beheer.  Jou emosies reageer op dit wat jou gedagtes sien as die waarheid.

 

Het jy al ooit op jou bed gelê, dan skrik jy wakker met ‘n bewerasie omdat jy gedroom het dat jy afgeval het van ‘n hoë gebou?  Hoekom?  Want jou gedagtes het dit bedink en jou emosies het gevolg.  Weet jy wat leer dit ons?  Moet nooit jou gevoelens vertrou nie.  Emosies is soos stoute kinders.  As jy hulle nie beheer nie, harloop hulle rond en maak droog.


Hoe beheer ek dan my emosies?  Jy beheer dit indirek deur jou gedagtes, jou verstand te voed.  Kom ons terug en kyk weer na:

 

2 Kor 6:11 Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword.

Paulus sê, luister Korinthiërs, my hart, my gedagtes, my verstand het verruim geword, maw vir julle oopgegaan.  Ek het baie waarhede om vir julle te gee en dit is in my gedagtes.  Dit is in my brein en brein is oop. 

 

2 Kor 6:12 Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou.

Weet jy wat beteken dit letterlik vanuit die GrieksJulle is vasgebind in julle ingewandes, in julle binneste.  In julle binneste het julle dit te nou.  Kom ek gee ‘n letterlike vertaling van hierdie verse.  Paulus sê, ek wil graag vir julle die waarheid gee, maar julle is te emosioneel.  Julle is vasgebind aan julle emosies.  Verstaan u dit?

 

Die emosies het oorgeneem.  Dit beheer alles.  En hier het die Korinthiërs hulle emosies eerste geplaas, hulle wou nie Paulus aanvaar nie.  Hulle was emosioneel ontsteld met hom, so hulle was vasgebind en kon nie die waarheid ontvang nie.

 

Wanneer ‘n vrou gewoonlik emosioneel is, dan dink hulle nie.  Is ek reg manne?  Nou het ek die manne se ondersteuning nodig.

 

So is dit ook in die kerk.  Ons kan nie emosionele ervaringe hê, sonder ons gedagtes nie.  Emosies is veronderstel om op die waarheid te volg en nie sonder waarhede met ons weg te hardloop nie.

 

Emosies moet altyd op die waarheid reageer.  Die sleutel dan tot gedrag en die sleutel om emosies te beheer is die hart.  Die hart is die mens se gedagtes.  En hier moet ons die waarheid in ond gedagtes plant, dan sal dit ons emosies beheer.

 

Jy weet, wanneer ‘n mens sing en die Here aanbid, dan raak ‘n mens emosioneel.  En waaroor raak ‘n mens emosioneel?  Oor die waarhede wat jy sing.  Elke keer wanneer ons iets sing oor die waarheid, dan moet dit jou ingewande draai.  Ja die emosies is reaksies op die waarhede.

 

Spr 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Wat beteken dit om jou hart te bewaar?  Dit beteken om jou gedagtes te bewaar, jou denke, want daaruit is die oorspronge van die lewe.  As jou lewe beheersd wil wees, bewaak jou hart.

 

Spr 22:5 Dorings, vangnette lê op die pad van die verkeerde; hy wat sy siel wil bewaar, bly ver weg daarvandaan.

Die siel is hier dieselfde terminologie as om jou gedagtes te bewaar.

 

Spr 23:19 Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.

Rig jou hartBewaar dit en lei dit dat dit die waarheid kan begryp en dat jou emosies op die waarheid kan reageer.  ‘n Mooi teksvers is:

 

Deut 4:9 Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:

Bewaar jou hart!

 

Psa 139:23 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes

Die hart is dieselfde as die gedagtes.


Psa 139:24 en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

Bewaar jou hart!  Here lei my gedagtes.  Vra God om jou hart, jou gedagtes te beskerm.

Jesus sê in:

Matt 12:35 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.

Matt 15:19 Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.

Bewaar jou hart.  Dit is die setel van jou gedagtes.

Kom ons gaan terug na Kol 2 en sien wat dit vir ons beteken:  In v2 wens hy dat hulle harte vertroos, versterk, sal word.  Waarna verwys harte?  Na hulle gedagtes, na hulle verstand.  Hierdie vertroos is die woord wat beteken om versterk te word.

‘n Sterk hart beteken ‘n standvastige verstand.  ‘n Verstand wat vol moed is.  ‘n Verstand wat oortuiging het.  ‘n Verstand wat glo.  ‘n Verstand wat beginsels het.  Maar hoe word jou verstand sterk?

Paulus sê, moenie val vir die valse leringe nie.  Moenie val vir die leuens nie.  Wees sterk in julle verstand.  Hou vas aan die waarheid.  Hoe word ‘n mens dan so sterk in jou hart?

Ef 3:16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens

Deur wie?  Deur die Gees.  Wie is die een wat my hart versterk?  Die Heilige Gees.  Ons leef in ‘n tyd waar mense ‘n swak hart het.  Mense het nie oortuiging nie.  Mense het nie beginsel nie.  Mense glo nie in die waarheid nie.  Maar ek sê, julle harte moet sterk wees.  Julle moet vol moed wees.  En die een wat julle versterk is die Heilige Gees.  Die Gees van die waarheid.

Wanneer jy deur die Gees wandel, dan versterk Hy jou innerlike mens.  Jy gee die Gees van God beheer oor jou lewe van dag tot dag.  Die Gees van God sal deur die openbaring van God, jou verstand voed en jou verstand versterk.

Ek wil vir julle iets wys.  Dieselfde woord vir “versterk”, “parakaleo” is dieselfde stamwoord vir “parakletos”, maamlik die Trooster, die Versterker, die Heilige Gees.  Jesus sê, Ek stuur vir julle die Trooster, die parakletos.

Joh 14:26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Hoe versterk die Heilige Gees ons?  Deur ons alles te leer.  Hy versterk ons verstand.  Hy versterk ons harte.

Luister!  Elke tree wat jy wandel in die Gees, is ‘n tree soos geestelike weight lifting.  Jou hart word sterker.  Jou gedagtes word sterker.  Jou oortuiginge word sterker.  Jou geloof word sterker.

Dit is die Woord van God in die hande van die Gees van God, wat jou hart versterk.  Luister!  Emosionele oefeninge maak jou nie sterk nie.  Dit is die waarheid wat die Heilige Gees in ons harte, in ons verstand vestig, wat jou sterk maak.

Paulus se gebed vir die gemeente van Kolossense is dat hulle harte versterk mag word.  Paulus sê, vat jou verstand en maak dit vol met die waarheid, versterk dit, sodat jy daarop kan reageer.  Dan sal die emosies daarop volg.

Want wanneer ons harte sterk is, sal ons nie meegesleep word met valse leringe nie.  Ons sal nie meegesleep word in emosionalisme nie.  Ons sal nie meegesleep word in ongehoorsaamheid nie.  Want ‘n sterk hart het die wil om te gehoorsaam.

Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Die vraag is: hoe lyk jou hart? 







Thursday 8 November 2012

Christenskap is prakties - 9 September

Rom 12:9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;

Christenskap moet prakties wees.  Ons moet nie net belydende Christene wees nie, maar doenende Christene.  Ons moet die Bybel lees, leer en lewe.  Die Bybel bevat nie net leerstelings nie, maar dit is ‘n praktiese boek in elke opsig.

As die duiwel dit gaan regkry dat jy nie jou Bybel lees of leer nie, dan sal jy dit nie lewe nie.  Jy kan ook nie Christenskap uitleef sonder die woord nie.  Geloof is uit die gehoor, en gehoor is deur die Woord van God.  Die woord en die praktyk gaan altyd saam.  Daar is nie ‘n woord sonder praktyk nie en daar is nie ‘n praktyk sonder die woord nie.

Ek het al in die verlede gesê dat ons moet by die woord aanpas en nie die woord by ons nie.  En wanneer ons lewens nie in lyn met die woord is nie, dan moet ons verander.  As ons nie wil verander nie, dan openbaar dit ons motiewe.

Rom 12 gee vir instruksies oor hoe ons Christenskap practise moet uitleef.  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, weerlegging, teregwysing, en onderwysing in die geregtigheid (2 Tim 3:16).  Maw wanneer ek die vermanings wat Paulus gee in Rom 12, lees en skuldig voel in sekere opsigte, dan is dit omdat die Heilige Gees my oortuig om te verander.

Christenskap is nie net ‘n belydenis nie, maar dit is ‘n leefstyl.  Dit omvat elke aspek van jou lewe.  Toe Jesus gesê het dat ons moet deur ‘n nou poort gaan om in die hemel in te gaan, is dit presies wat Hy bedoel het.  Praktiese Christenkap is baie duidelik en spesifiek uitgespel.

Aan die eenkant het ons vryheid, vry om te doen wat reg is en vry om God te dien, aan die ander kant is ons beperk in die sin dat ons alles moet doen wat Hy ons beveel.

Maw Rom 12:9-21 is riglyne en beginsels vir hoe ‘n Christen moet leef.  Ek is vry en het die keuse om daarvolgens te leef.  Ek doen hierdie dinge nie omdat ek moet nie, maar omdat ek wil en omdat God liefhet.  In hierdie vryheid van gehoorsaamheid vind ons God se seën.

Ef 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Ons is gemaak om die vrug van geregtigheid te openbaar.

Nou, Christenskap is prakties en nie een of ander mistieke leefwyse nie.  Dit is nie een of ander onbeskryflike, onverklaarbare of misterieuse mentaliteit wat nie in die alle daagse lewe toegepas kan word nie.  Christenskap is baie prakties.  Dit gaan daaroor, om die woord te bedink, te bely en te doen.

Agtergrond

Rom 1-11 gaan oor die leerstellinge van saligheid.  Rom 12:1-2 gaan oor toewyding van elke Christen, v3-8 oor geestelike gawes wat elkeen het en vanaf v9 gaan dit oor praktiese Christenskap.  Die eerste 11 hoofstukke is die fondasie.  12:1-2, Wy jou toe aan die Here, v3-8 gebruik jou gawes, en vanaf v9, dis hoe jy moet leef.

Ons teksgedeelte, Rom 12:9 gaan persoonlik oor my – dit begin by my.  Dit gaan oor die kwaliteit van my liefde.  Dit sê ook: verafsku dit wat sleg is, hang die goeie aan.  Dit is ‘n persoonlike commitment. 

Rom 12:10-13 gaan dan verder en wyer as net myself.

Rom 12:10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;

Vanaf v14-16 gaan dit wyer as die familie van God.

Rom 12:14 seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie;

V17-21 sluit in al jou persoonlike vyande en hoe jy moet reageer.  Ons moet nie boosheid aanvaar nie, maar ons moet ook nie kwaad met kwaad vergeld nie.

Rom 12:18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Ons praat vanaand dan spesifiek oor v9, wat gaan oor jou persoonlike verantwoordelikheid.  Hoe moet jy as persoon jou Christenskap prakties uitleef?

Persoonlike verantwoordelikheid (v9)

Paulus gee hier drie basiese beginsels vir hoe ons gesindheid moet wees: “Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan.”

·         Ongeveinsde liefde/ Opregte liefde

Die belangrikste element van ‘n Christen se lewe is liefde.  Paulus sê in 1 Kor 13:13 En nou bly geloof, hoop, liefde--hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”

Rom 13:8 Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul.
Luk 10:27 En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.

In Gal 5:22 lys Paulus liefde as die eerste vrug van die Gees.  Alles begin met liefde.  Die eerste beginsel van praktiese Christenskap is liefde.

Fil 1:9 En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring,

1 Pet 4:8 Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.

Hierdie liefde waarvan die Bybel praat is nie oppervlakkige liefde nie, maar ‘n diepgaande opregte liefde.

D. L. Moody het gesê, "There are a lot of people who talk cream, but live skim milk."

Hierdie liefde is nie skim-milk liefde nie.  Hierdie liefde is nie self-vervullende liefde nie.  Die Griekse woord is die woord “agapé".  Hierdie is nie familie “storgé” liefde of “eros”, die intieme liefde tussen man en vrou of “phileo” vriendskaplike liefde nie.  Hierdie agapé liefde is liefde wat alleen van God af kom.

Christelike liefde reik uit en voorsien aan behoeftes.  Jesus sê in Joh 13:34 dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het.  Jesus het op daardie oomblik Sy liefde aan hulle bewys deur hulle voete te was, wat vuil was.  Dit was hulle behoefte.  En Hy het voorsien.  Sulke liefde kom in nederigheid af na iemand wat in nood is.

Rom 12:9 sê: Julle liefde moet ongeveins wees.  Sommige vertalings vertaal dit met “without hupocrisy”.  Wanneer Jesus die geveinstes aanspreek in die evangelies, dan gebruik hy die woord, “hupokritēs” wat letterlik beteken, ‘n akteur, of in engels, ‘n stage player.  Dit is iemand wat alles na maak.  Dit is iemand wat voorgee.

Paulus sê: julle liefde moenie aangeplak of ‘n toneelspel wees nie, dit moet “genuine” wees.  Julle liefde moet eg wees.  Die NV sê julle liefde moet opreg wees.

Geveinsdheid, “hupocrisy” is sekerlik die lelikste sonde van alles, want dit is liefde wat voorgee, wanneer dit eintlik gevul is met haat.  Daar is niks meer verwoestend as geveinsdheid, of hupocrisy nie.  Aan die ander kant is daar nie ‘n beter kwaliteit om te kan hê as om die agape liefde te hê nie.

Hierdie opregte liefde wat na ander uitreik, word van Christene verwag.

1 Joh 3:14 Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.

Wanneer daar liefde in ons harte is vir God se mense, dan kan ons verseker weet dat ons God se kinders is.  Die toets van hierdie liefde is in v18

1 Joh 3:18 My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.

Opregte, agape liefde sal nie net woorde en mooi belydenisse wees nie, maar dit sal gesien word in dade.  Agape liefde is ‘n praktiese liefde.

Die teenoorgstelde van agape liefde sien ons in Luk 22:48.

Luk 22:48 En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus?

Nadat Jesus in Luk 10 gesê het dat ons ons naaste moet liefhê, vra hulle: wie is ons naaste.  En Jesus vertel die verhaal van die man wat langs die pad gelê het, nadat hy deur rowers aangeval, uitgetrek en geslaan is.  Jesus probeer sê dat wie ookal langs jou pad kom wat in nood is, is jou naaste en jy moet jou liefde aan hom bewys.

Agape liefde beteken om uit te reik na jou naaste wat in nood is.

1 Kor 13:1 Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword.
2 En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.

Alles - liefde = niks.  Christenskap word prakties gedemonstreer deur agape liefde.

Joh 13:35 Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

·         Verafsku wat sleg is

Hierdie opdrag volg logies op die eerste opdrag.  As jy God lief het met jou hele hart en jou naaste liefhet, sal jy die slegte verafsku.  Hoe kan ek sê ek het jou lief en ek verdra ook die kwaad wat ons verhouding vernietig?  Enigiemand wat God en sy naaste liefhet, haat sonde.

Psa 97:10 o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!

(KJV) Psa 97:10 Ye that love the LORD, hate evil:

Om God lief te hê, en om deel te neem aan kwaad is twee dinge wat lynreg teenoor mekaar staan, want God is heilig en verdra nie sonde nie.

Hab 1:13 U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie…

Sonde staan reg teenoor God se heilige natuur.  God is heilig.  Heilig beteken om afgesonderd te wees van die wêreld en sonde.  God is heilig en nie soos die mens nie, want Hy is absoluut sonder sonde.  Gevolglik, kan Hy nie sonde verdra nie.  Daarom as jy God waarlik liefhet, sal jy ook sonde haat.

Die woord “verafsku”, kan ook vertaal word met “haat”, maw: “haat wat sleg is”.  Hierdie woord in Grieks staan in die teenwoordige tyd en dit is ‘n opdrag.  Daar staan in der waarheid: jy moet aanhoudend dit wat sleg is haat.  Ons kan nie sonde op enige vlak verdra nie.  Ons moet dit haat met ‘n passie.

Spr 9:10 Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand.

Die ander kant van hierdie gedeelte is:

Spr 8:13 Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.

Haat u hierdie dinge?  Of het jy aan hierdie dinge gewoond geraak.  Verdra jy maar net mense.  Voel jy gemaklik in ander mense se teenwoordigheid wat vuil taal gebruik, hoogmoedig is, en trots is?

Jud 1:20 Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid
21 en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.
22 En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys;
23 maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.

Judas sê: as jy in die wêreld gaan om ander vir Christus te bereik, moet jy vrees vir die dinge wat deur die wêreld se goddelose sisteem bevlek is.  Jy moet versigtig wees wanneer jy ander red wat oppad hel toe is.  Jy moet hulle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk, en pasop dat jy nie in die proses brand nie.

Jy moet sonde haat omdat jy weet watter vernietgende mag dit is.

1 Thes 5:22 Onthou julle van elke vorm van kwaad.

Onthou jou nie net van elke kwaad nie, van elke vorm van kwaad.  Wanneer enigiets net die vorm van kwaad aanneem, moet jy padgee.  Don’t stick around.  Al het dit net die vorm van kwaad.  When in doubt, get out.

Hier is een gedeelte in die Bybel om te sien dit wat God haat.

Spr 6:16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:
17 trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
18 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.

Ons lees ook in Jes 1:12-16 dat God valse godsdiens haat.

Praktiese Christenskap beteken nie net om te sê: dit en dit is sonde nie, maar dit beteken om waarlik sonde te verafsku en oorlog te verklaar teen sonde.  Om dit te haat in elke vorm, al neem dit net die vorm van kwaad aan.  Jy het alleen waarlik tot bekering gekom wanneer jy sonde haat soos wat God dit haat.

·         Hang die goeie aan

Die Griekse woord hier is die woord “kollao”, wat beteken “om met gom te plak”.  Dit is dieselfde woord wat gebruik word wanneer dit praat van die band in die huwelik.  Die man en die vrou word een, hulle word aan mekaar geplak.  Maw, jy en die goeie moet aan mekaar plak.

Psa 1:1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

Kyk na die verloop van sonde:  eers wandel jy, dan gaan staan jy stil ek kyk, en dan gaan sit jy en neem deel.  Welgeluksalig of geseënd is die man wat nie deel het aan enige van hierdie fases nie.

Fil 4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is--watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Hoe hang ek die goeie dinge aan? Bedink die dinge wat goed is.  Daarom sê Spr 4:23 dat jy jou hart moet bewaak meer as alles, want daaruit is die oorspronge van die lewe.  Die taal wat jy praat, openbaar die toestand van jou hart.

Of jy hang die goeie aan, jy plak dit vas aan jou lewe.  Of jy gaan agter die selgte dinge aan.  Hoe weet ons dan wat is die goeie dinge?  In die Woord van God. 

Ef 5:26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,

Hierdie gedeelte sê: Christus het Homself gegee om die gemeente te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord.  Christus reinig die gemeente met deur die woord.

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Slot

Praktiese Christenskap begin by ‘n opregte liefde, ‘n haat vir sonde, en ‘n commitment om die goeie dinge te doen.  Dit beteken dat jy ‘n liefde vir God se mense het en wil uitreik na hulle toe.  Dit beteken dat jy oorlog maak teen sonde.  Dit beteken om die goeie dinge na te jaag.





Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288