Thursday 8 December 2011

Deel 8 - Die sewevoudige seën van die Gees


1.    Die gawe van die Gees

Hand 2:38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Die Gees is ‘n geskenk van die Vader aan die Kerk, en sonder enige twyfel, aan elke gelowige, volgens die belofte van Jesus in Hand 1:8.  Hierdie belofte was vervul op die dag van Pinkster.  Dit is ‘n historiese feit.

Die Heilige Gees was gegee, soos die erfdeel gegee was aan Abraham en Israel, as ‘n geskenk aan Sy volk.  Al het God aan Israel die hele erfdeel gegee op een oomblik, sê Moses,

Deu 11:24 Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort…

Hoe kon Moses dit sê as hulle reeds hierdie goddelike gawe ontvang het?  Ons moet ‘n onderskeid tref tussen erfdeel en besitting.  Die erfdeel is alles wat God reeds aan Israel gegee het, en die besitting is dit wat hulle in besit neem.

Dit geld ook so wanneer dit kom by die gawe van die Heilige Gees.  God het Hom reeds vir ons gegee en kan Hom nie weer aan ons gee nie.  In dieselfde sin moet ons hierdie erfdeel ons eie maak. 

Die geskenk van saligheid word eers persoonlik ons eie wanneer ons dit aanneem.  Ons neem dit aan deur geloof.

Gal 3:2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

Gal 3:14 sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.

2.    Die seël van die Gees

Ef 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

Ef 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

Ons is verseël deur Hom wie die gawe is en die seël.  Efese was a hawestad wat ‘n groot hout industrie gehad het.  Handelaars het hout gekoop wat dan met die rivier af gedryf het na hul eindbestemming.  Om seker te maar watter hout aan hulle behoort het hulle ‘n seël daarop geplaas wat ‘n bewys was dat hulle die eienaars is tot op die dag wat hulle dit kom opeis.

In hierdie sin word die seël gebruik, nie om klem te lê op die oorspronklike effek van verlossing nie, maar op die finale aspek, die verheerliking van ons liggame. Omdat hierdie dag nog nie aangebreek het nie, dra elke kind van God die seël, wat daarop wys dat hy God se eiendom is.



3.   Die inwoning van die Gees

1 Kor 3:16 Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

Joh 14:17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

Jesus sê vir dissipels dat die Gees by hulle en in hulle sal wees.  Maw die Gees was nog nie in hulle nie.  Die Heilige Gees het in die Ou Testament oor God se mense gekom vir spesifieke take, maar dan het Hy hulle verlaat.  Die Gees het nie in hulle gewoon soos onder die Nuwe verbond nie.

In die Nuwe Testament het die gelowige die Gees van aanneming ontvang (Rom 8:15) sodat sy liggaam die permanente woning van die inwonende Gees kan word.  Dit hang nie af van jou geestelike vlak of karakter nie.  Ons weet in watter toestand die gemeente van Korinthe was, maar Paulus bemoedig hulle om die inwonende Gees te soek.

Paulus gee ook geen aanduiding of waarskuwing dat die Gees hulle kan verlaat nie.  Ons kan Hom bedroef en Sy stem in ons lewens stil maak deur ons sonde, maar ons kan Hom nie uit ons lewens verloor nie.  God maak ons sy eie deur die inwoning van Sy eie Gees.

4.    Die Gees as onderpand

2 Kor 1:22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.

Ef 1:14 (die Heilige Gees van die belofte) wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Die Heilige Gees is die deposito of die waarborg van ons erfdeel.  Sy teenwoordigheid in ons is ‘n voorsmaak van dit wat kom.  Hoe vereikend ons erfaring mag wees in die Heilige Gees, lê die grootste seën vir ons nog voor.  Vir ‘n gelowige lê die beste in die toekoms.

5.    Die Salwing van die Gees

2 Kor 1:21 Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God,

Salwing beteken om eenkant geplaas te word vir diens.  Ons sien dat verskeie objekte gesalf was, wat gebruik was in aanbidding (Eks 30:26-29).  In die Ou Testament, was priesters, konings en profete gesalf vir die bediening wat aan hulle verleen is.

Met Jesus was die salwing nie fisies nie, maar dit het direk gekom vanaf die Heilige Gees (Luk 4:18; Hand 10:38).  Hy was afgesonder vir die bediening van Priester, Koning en Profeet.  Diegene wat deur Hom gered is, is ook afgesonder as konings en priesters (1 Pet 2:5, 9) en het ook ‘n geestelike salwing ontvang by die Gees van aanneming in hulle harte.

1 Joh 2:20 En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.

1 Joh 2:27 En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.

Ons kan egter ook wegvlug van ons verantwoordelikhede soos Saul wat weggekruip het, alhoewel hy ‘n koninklike salwing ontvang het.


     6.  Die volheid van die Gees


Ef 5:18 Moenie dronk word van wyn nie--daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Aangesien die Heilige Gees ‘n persoon is, kan ons nie minder as Sy persoon en die volheid wat Hy verteenwoordig ontvang nie.  Die volheid van die Gees word aan die gelowige gegee aan die begin van sy nuwe lewe, soos ons lees in

Joh 3:34 …want God gee Hom die Gees nie met mate nie.

Die gelowige word opgeroep om tot hierdie volheid te lewe.  Dit is die erfdeel wat jy het.  Nou dat jy ryk geword het, lewe ryk!  Maak die rykdom deel van jou leefstyl.  Ongelukkig is dit moontlik om ‘n Christen te wees sonder om die praktiese volheid van die Gees te proe of te reflekteer in sy lewe.  Jou ewige saligheid word nie daardeur verander nie, maar sal baie areas van jou lewe beïnvloed.

Dit is moontlik vir ‘n gelowige om te lewe en te sterwe en hemel toe te gaan, sonder om ooit die volheid van die Gees te ken.  Jy moet die Gees toelaat om jou te lei.  Om vervul te wees met die Heilige Gees beteken om die Hom toe te laat om elke aspek van jou lewe te vul.


     7.  Die doping van die Gees


Elkeen van die vorige gawes kom van die Heilige Gees alleen.  Die doping van die Gees is nie die gawe of die seël of die inwoning of die salwing of die volheid nie, al het dit alles saam in die wêreld gekom en word dit met mekaar geassosieër.

‘n Kind kom nie in die wêreld in soortgelyke spaar dele nie.  Hy sal ‘n monster wees as ons sê sy kop loop, of sy voete dink, of sy lewer haal asem.  Elke deel het sy plek, en daar is plek vir alles.

Vir 'n meer intense studie rondom die onderwerp, "die doping met die Heilige Gees" - klik hier ---> DIE DOPING MET DIE HEILIGE GEES

Deel 7 - Die einde van tale


In die vorige dele het ons gesien dat:

1.    tale ‘n gesprek is tot God en nie tot mense nie,
2.    tale nie ‘n teken vir die gelowiges is nie,
3.    tale ‘n teken vir die ongelowige Jode was,
4.    tale nie onverstaanbare dialek was nie,
5.    hedendaagse uitleg is ‘n klug,
6.  die rede waarom Jesus nie in tale gespreek het nie die waarheid onderstreep dat dit slegs ‘n teken was vir “hierdie volk”,
7.    die privaat gebruik daarvan onbybels is, want dit was ‘n teken vir ongelowiges.

Punt 3 en 6 alleen is genoeg bewyse, volgens dit wat die Gees sê, dat die gawe lank gelede opgehou het om te bestaan.  Augustinus het dit opgemerk en ook dit so verstaan.  Hy sê, "It was a sign appropriate to that era. It was meant to announce the coming of the Holy Spirit on people of all tongues, to demonstrate that the Gospel was to be announced to every language on earth. This happened to announce something, then disappeared". (Homilies on the first epistle of John).

Hierdie waarheid is so duidelik en logies.  Die vroeë kerk het meer en meer nie-Joods geword en bestaan uit mense van alle tale.  En daarom was hulle ook al hoe meer oortuig dat die offer van saligheid nou universiëel is.  Nadat hierdie waarheid erken is, was daar niemand meer oor om te oortuig nie. 

God was ook die God van ander tale.  Daarom was hierdie teken nie meer nodig nie.  God het hierdie teken onttrek soos wat hy die laken met diere op wat drie keer aan Petrus verskyn het opgetrek het in die hemel.

‘n Bietjie meer Bybelse kennis

Die ondersteuners van spreek in tale word kwaad wanneer enige voorstelling gemaak word dat sekere gawes van die Gees, wat in die apostoliese kerk gebruik was, dalk nie meer vandag bestaan nie.  Hulle is van mening dat as die vroeë kerk dit nodig gehad het, hoeveel te meer het die kerk in vandag se moeilike tye dit nie nodig nie.  Jesus is dan gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde.

Die feit is dat ons egter sekere opdragte en gebruike nie meer gebruik vandag nie, soos die besnydenis of die offers van lammertjies.  Maar wat van die Nuwe Testament?

Die vraag is: bestaan die mees gesaghebbende en gedemonstreerde gawe vandag nog, die gawe om deur kennis en geïnspireerde profesie by die Bybel by te voeg?  Hierdie gawe het in die vroeë kerk ‘n groot en baie belangrike rol gespeel.  Het God hierdie gawe verwyder?  Het hierdie gawe opgehou het?  Natuurlik.  Niemand kan enigiets byvoeg by die kanon nie.

Hoekom is dit so moeilik om dan te glo dat die gawe van tale opgehou het as die Bybel so sê? (1 Kor 13:8)

Die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 het gepaard gegaan met ‘n groot rukwind en tonge van vuur, maar hierdie twee tekens word nie weer herhaal nie.  ‘n Mens kan nie redeneer dat as die vroeë kerk dit nodig gehad het, hoeveel te meer het ons dit vandag ook nodig nie.  Net so kan ‘n mens nie redeneer dat as hierdie twee tekens in die verlede plaasgevind het, dat dit vandag ook moet plaasvind nie.

God het hierdie tekens onttrek net nadat Hy dit gegee het en ons moet dit so aanvaar.  As die kerk heeltemaal te vrede is om sonder die “tonge van vuur” en “’n groot rukwind” en “inspirasie van die skrywe van die Skrif” vir negentien eeue klaar te kom, en dit vandag ook nie sien gebeur nie, is dit omdat die kerk dit nie nodig het nie.  Dit bewys dat sekere gawes en tekens nie permanent is nie.

Wanneer?

Wanneer het tale dan opgehou?

1 Kor 13:10 Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.

Volgens Pinkster en Charismatiese kringe verwys hierdie teksgedeelte na die wederkoms van Jesus Christus.  Maar kom ons lees stadig hierdie gedeelte en vind uit.  Alles is baie duidelik.

1 Kor 13:8 Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë--hulle sal tot niet gaan; of tale--hulle sal ophou; of kennis--dit sal tot niet gaan.

1.    Profesieë sal tot niet gaan
2.    Tale sal ophou
3.    Kennis sal tot niet gaan

Vers 9 sê dan vir ons wat sal tot niet gaan wanneer die volmaakte gekom het (v10).

9 Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.

1.    Ken ten dele (gawe van kennis)
2.    Profeteer ten dele (gawe van profesie)
3.    ???

Wat het gebeur met die gawe van tale?  Dit is nie meer daar nie!  Die einde van tale is nie verbind met die ander twee gawes wat tot niet sal gaan wanneer die volmaakte gekom het nie.  Die Heilige Gees het dit nooit gesê of geleer nie.

Inteendeel leer Hy ons, soos ons alreeds beklemtoon het, dat hierdie gawe verbind is aan heeltemaal iets anders.  Dit is verbind aan die DOEL waarvoor God dit gegee het.

Hierdie doel was ten volle verwesenlik toe die kerk erken dat alle tale, volke en nasies deel is van die kerk.  Daarom het hierdie teken geen doel meer gehad om te bestaan nie.

Wanneer die volmaakte kom (v10), of dit verwys na Jesus se wederkoms en of dit verwys na die afsluiting van die geskrewe openbaring, die Skrif, het geensins enige verband met die ophou van tale nie.  Die Heilige Gees het dit verwyder in v9 en nie vergeet om dit daar te plaas nie.

Ses of Drie?

Net om enige toekomstige argumente te vermy, sal ons vir een oomblik ons verbeel dat tale in v9 geskrywe is.  En ons sal demonstreer dat die “volmaakte wat gekom het” nie kan verwys na die wederkoms van Christus nie.

Paulus praat nie net van drie nie, maar ses:

-       Kennis
-       Tale
-       Profesie
-       Geloof
-       Hoop
-       Liefde

Van hierdie ses is die enigste drie wat nie tot niet gaan nie, die laaste drie, geloof, hoop en liefde wat sal BLY totdat Christus weer kom.  As daar drie is wat sal BLY, dan is daar drie wat NIE BLY NIE.  En watter is dit? Kennis, tale en profesie. 

Om te ontken dat hierdie drie sal verdwyn, is om te sê dat die Heilige Gees sê dat ses bly tot by die wederkoms van Jesus.  Paulus sê egter dat daar net drie oorbly tot by die wederkoms.  Die ander gaan nie bly nie, maar tot niet gaan of ophou voor die tyd.

Wanneer sal dit tot niet gaan?  Nou dat die “volmaakte wat kom” voor die wederkoms plaasvind en net drie sal bly tot aan die einde, kan die “volmaakte wat kom” nie verwys na die wederkoms nie.

Wat beteken “die volmaakte”?

Sommige meen dat as tale opgehou het, het die gawe van kennis en profesie ook opgehou.  Dit is iets wat sonder twyfel aavaar en verduidelik kan word.  Toe Paulus hierdie gedeelte (v8) geskryf het, was die kanon nog nie gefinaliseer nie.  Omtrent die hele Nuwe Testament en selfs drie van die evangelies moes nog geskryf word.

Waaruit bestaan die Woord van God?  Uit die kennis wat dit oordra en die profesie wat dit openbaar.  Op daardie tydstip toe hierdie twee basiese elemente van die Christen geloof nog nie in die Nuwe Testament opgesluit is nie, het die Gees woorde van kennis en profetiese opbouing gegee gedurende byeenkomste in die vroeë kerk (1 Kor 12:8).

Paulus, saam die ander, maak ons bekend met die Here en Sy leringe deur hul geïnspireerde skrywe en gee vir ons al die profetiese openbaringe wat nodig is om geestelik te groei.  Hierdie kennis en profesië, selfs in die skrif, is gedeeltelik (Joh 21:25), maar genoeg vir ons saligheid en opbouing.  God het gedink dat dit nie nodig was om ons meer te vertel oor Sy Seun of oor die toekoms nie. 

Hoe dit ookal sy, nadat al die kennis en al die profesië, selfs ten dele, in die Nuwe Testament opgeteken is, het hierdie twee gawes tot ‘n einde gekom na die afsluiting van die kanon of die Skrif, nadat “die volmaakte gekom het.”

Psa 119:96 Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod (u Woord) is baie wyd.

So is die volmaaktheid dat vir twee duisend jaar niks daarby gevoeg is nie.  Ons het slegs kennis en profesië van ‘n sekondêre aard.  Hulle kan alleen kommentaar lewer op die oorspronklike.  Hulle gee ‘n verduideliking of interpretasie, maar kan niks byvoeg by dit wat reeds geskrywe staan nie.  Die waarde van hul inspirasie kan nie vergelyk word met die oorspronlike nie.  Daar is ‘n fondasie van kennis en profesie waarby niks gevoeg kan word nie.

Paulus sê dat kennis en profesie sal ophou wanneer die volmaakte gekom het.  En met die koms van die volmaakte openbaring, het dit tot niet gegaan met die laaste woorde deur die outeur van die boek van Openbaring.

Dr. Scofield sê oor 1 Kor 14:11 die volgende, "The New Testament prophet was not a simple preacher, but an inspired preacher who communicated the revelations corresponding to the new dispensation (I Cor. 14:29-30) until the writing of the New Testament was finished".

Soos die koperslang

God het vir Moses ‘n opdrag gegee (Num 21:9) om ‘n koperslang te maak.  Dit was ‘n goddelike gawe, ‘n krag van God tot voordeel vir hulle wat die Woord van God geglo het.  Jesus verwys daarna in (Joh 3:14).

Hierdie koperslang was vir eeue deur die Israeliete bewaar.  Wat het die goeie koning Hiskia gedoen?  Hy het die hoogstes verwyder en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op daardie dag offerrook laat opgaan het voot dit (2 Kon 18:4).

Hierdie koperslang het ‘n struikelblok geword vir Israel.  Dit was nie ‘n duplikaat nie, maar die een wat Moses self gemaak het.  Die primêre doel van die koperslang, dat hulle daarna moes kyk om te lewe, was verder uit verband geruk oor die eeue. 

Onder die misleiding dat dit verbind is aan ‘n onveranderlike God, het dit die plek van God ingeneem en ‘n afgod geword.  Diegene wat die gebruik daarvan bevraagteken het, het nie algemene ooreenstemming onder sy volksgenote gevind nie.  Die aanhangers van die koperslang was instaat om die geskiedenis, die bybelse en ongetwyfeld empiriese feite weer te gee.

Hulle kon geargumenteer het dat God wat die opdrag gegee het om die koperslang te maak, gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde bly, dat die krag van God nie verander het nie, en dat daar nie een woord gesê is wat die einde van sy krag of gebruik aangekondig het nie.

En tog het die geestelike praktyk rondom hierdie koperslang ‘n afgodediens geword.  En vir ‘n groot getal mense vandag het spreek in tale ook ‘n afgodediens geword.  Hulle verdedig hul toewyding daardaan deur te sê dat God dit gegee het, maar God het ook die koperslang in die woestyn gegee, vir ‘n beperkte tyd.  Daarna het dit verval, soos goeie medisyne wat na ‘n beperkte tyd gevaarlik kan word.  Die genesing verander in infeksie.

Toe die koperslang weggeneem is, was daar verseker baie mense wat ‘n afname in hul geestelike toewyding beleef het, want hulle het niks anders gehad waaraan hulle kon vashou nie.  Dit is dan verstaanbaar waarom soveel mense aan spreek in tale vashou.  Hulle geestelike lewe is so arm, so min Bybels gebaseerd, dat as hulle dit verloor, is daar niks vir hulle oor nie.

Die Manna

Gedurende die veertig jaar in die woestyn, het die Israeliete manna uit die hemel ontvang, ses dae uit sewe.  Hierdie gawe was ‘n teken, bewys van verwagting, dat ‘n groot oes vir hulle wat in die land Kanaan.  Die manna het egter opgehou die oomblik toe hulle in die Beloofde Land ingegaan het.  Die God wat dit aan hulle gegee het, het dit ontrek.  Hoekom?  Want hulle het die oes ontvang.

Die gawe was ‘n teken sowel as ‘n voorsmaak van die wat sou kom.  En toe hulle die belofte ontvang het, het die teken opgehou.  Net so het die teken van tale die oes van die heidene aangekondig.  Soos die manna nie voortgeduur het nie, net so het die gawe van tale nie voortgeduur toe die oes gekom het nie.

  1. Die oordeel op die ongelowige Jode wat met die teken van die spreek in tale aangekondig is (Jes 28:11-13; 1 Thes 2:6; 1 Kor 14:21) het op hulle gekom met die val van Jerusalem in die jaar 70 nC. en die begin van die diaspora.
Die groot getal volke van ander tale wat in die kerk ingekom het, wat aangekondig is met die spreek in tale, het parallel geloop met die oordeel van Israel.  Die teken se doel was geheel en al vervul.  Net soos die woorde “dit is volbring” op die kruis, is die herhaling van dieselfde offer verbied.

Deel 6 - Tale stig jouself


1 Kor 14:4 Hy wat in 'n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.

Sommige meen dat hierdie gawe nodig is vir jou persoonlike stigting, en omdat ons almal stigting nodig het, moet almal hierdie gawe hê.  Buite die konteks, wil dit so voorkom, maar het ons die reg om twee woorde stig homself” buite die konteks van hoofstuk 12, 13 en 14 te verstaan?  Die sentrale gedagte van hierdie drie hoofstukke is die stigting van ander mense, die gemeente.

12:7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
12:25 … dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.
14:3 Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging.
14:4 …stig die gemeente.
14:5 …sodat die gemeente stigting kan ontvang.
14:6 …tot watter nut sal ek vir julle wees …
14:7 …hoe sal 'n mens weet…
14:8 …wie sal klaarmaak…
14:9 …hoe sal 'n mens weet…
14:16 …hoe sal hy wat die plek van 'n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?
14:17 Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.
14:19 …om ook ander te onderrig…
14:26 …alles tot stigting geskied (van die gemeente).
14:31 …sodat almal kan leer en almal bemoedig word.

Die hele hoofstuk 13 gaan oor liefde, wat ‘n vrug is vir ander, want ‘n boom dra nie vrug vir homself nie.  Reg in die middel kry ons liefde wat onselfsugtig is en Paulus sê in 1 Kor 13:5 dat “(liefde) soek nie sy eie belang nie”.  Hier in die gemeente van Korinthe was die groot probleem, self-gesentreerdheid.  Mense wat nie meer ander stig nie, maar hulleself.

Die gawe wat bedoel was om ‘n teken te wees vir die ongelowiges (vir ander), word nou gebruik om hulleself te stig.  Paulus noem hulle kinders in die verstand (14:20).  Paulus moedig dit nie aan dat mense in tale bid om hulleself te stig nie, maar spreek dit eerder aan as ‘n probleem.

Dit is opmerklik dat Paulus, in dieselfde sin, die profeet teenoor die spreker in tale stel.  Terwyl tale homself stig, stig hy wat profeteer die gemeente (14:3,4).  Dit impliseer nie dat die profeet nie ook homself stig terwyl hy die gemeente stig nie.  Hy word ook deur die gawe van profesie gestig, maar hy stig nie net homself alleen nie.

Daar is nie ‘n gawe wat nie in homself tot stigting is nie.  Die herder stig ook homself wanneer hy na die Here se kudde omsien, maar hy stig nie net homself nie, hy voed ander.  Die leraar stig nie net homself wanneer hy ander leer en hulle stig nie.  Die evangelis word ook gestig deur sy gawe, maar dit is die ander wat grootsliks daarby baat vind.

Paulus sê aan die Korinthiërs dat hy wat profeteer bereik die doel deur ander te stig, teenoor hy wat in tale bid, soos ons gesien het, die doel geheel en al mis.

1 Pet 4:10 Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.

John Stott, skryf in From Baptism to Fullness of Life, "... edifying oneself does not agree with the teaching in the New Testament on edification... Are we not forced to admit that this gift had been badly misused? What would we think of a professor who gave private lessons to himself? Or of a man with a gift of healing who cured only himself? It is difficult to justify the use for personal ends of a gift given expressly for the well-being of others".

Uit 'n verkeerde interpretasie van die skrif, kom die volgende gedagte dat jy in die privaat in tale met jouself kan spreek.  Maar nêrens ondersteun die Bybel hierdie gedagte nie.  Tale is ‘n teken vir die ongelowige Jode, soos ons alreeds gesien het.

Wat sou dit baat as Paulus Korinthiërs geskryf het en dit net vir homself gehou het om homself daardeur te stig op sy sendingreise.  Op dieselfde wyse is die gawe van tale sinneloos en ‘n teken vir niemand wanneer dit net in die privaat gebruik word nie.  As “hierdie volk (Jode)” (14:21) nie teenwoordig is om die teken van tale te sien wat vir hulle bedoel is nie, maak dit geen sin nie.

Verkeersligte is tekens vir padverbruikers, en dit sou nie sin gemaak het om hulle te verwyder en binne ‘n gebou te sit waar hulle vir mekaar kon staan en kyk hoe hulle werk nie.  Om dit te gebruik anders as by vier rigtings, sou geen sin gemaak het nie.  En wanneer die teken van tale buite die konteks, ‘n teken vir HIERDIE VOLK vir wie dit bedoel is, gebruik word, maak dit absoluut geen sin nie.

Die doel van die teken van tale, soos ons reeds genoem het, was om die ongelowige Jode te oortuig van die universiële karakter van die heilsplan van God.

Paulus sê, dat as daar nie ‘n uitleêr in die gemeente is nie, moet die spreker in tale swyg en met homself en God spreek (14:28).  Hoe kan iemand met ‘n duidelike hoorbare teken met ongelowiges praat, wanneer hy is stilte met homself en God praat.

Dit kom alles daarop neer: dit is ‘n teken en niks meer as dit nie.  Die teken van spreek in tale is ‘n teken vir die ongelowige Jode wat nie wou glo dat God ook nou met die heidene deel nie.

Ongelukkig bly mense nie by die reëls nie.

2 Tim 2:5 En verder, as iemand aan 'n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie. 

Geestelike volwassenheid


1 Pet 5:5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.

6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Elke Christen wat waarlik deur die Gees wandel glo ek wil graag geestelik volwasse wees.  Dit is iemand wat begeer om geestelik effektief te wees en om dit te wees wat God wil hê hy/sy moet wees.  Dit is ‘n goeie begeerte, maar dit kom nie vanself nie.  Jy moet ‘n daadwerklike poging aanwend om jou lewe te bou op sekere fundamentele beginsels. 

Ons het laas week gepraat oor praktiese christenskap.  En dit gaan nie soseer oor ‘n klomp leringe en geloofsbelydenisse nie, maar christenskap is ‘n lewenswyse.  Geestelike volwassenheid word nie gemeet aan hoeveel jy weet nie, maar in die mate wat jy die woord lees, leer en lewe.

Jak 2 sê: geloof sonder die werke is dood.  Jy kan nie sê: ek glo, maar jy tree nie so op nie.  Dis soos om na die diens te sê: sjoe, die pastoor het darem nou maar mooi gepreek, dit was baie interessant, baie dankie vir die inligting.  Maar jy doen niks aan jou eie lewe nie.

Wanneer dit kom by die geestelike volwassenheid, kom dit nie net vanself nie, maar is daar ook verantwoordelikheid.  Jy moet geestelike oefeninge doen.  Jy moet geestelike gedissiplineerd wees.

Hand 24:16 Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense 'n rein gewete te hê.

Hierdie gedeelte sê: ek moet oefen om ‘n rein gewete te hê.  Maw. ‘n rein gewete kom nie vanself nie.  Die Gees van die Here versterk ons en help ons, maar ek is nie onbetrokke in die hele proses nie.

1 Tim 4:7 Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid.
8 Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.

Jy moet jou oefen in die godsaligheid.  Dit sê nie jy moet geestelike oefenninge doen totdat jy die godsaligheid verkry nie.  Nee, dit sê: oefen jou in die godsaligheid. Ons weet saligheid is alleen te vind in Christus Jesus.  Daar is nie ‘n geestelike oefening of godsdienstige ritueel wat jy kan doen om jou saligheid te verdien nie.  Dit is alleen uit genade.  Baie van die engelse vertalings sê: “exercise yourself into godliness”.  Dit beteken jy oefen jouself om heilig te wees, soos wat God heilig is. 

Geestelike volwassenheid kom daardeur dat ‘n mens tyd saam met God en tyd saam met Sy woord spandeer.  Dit is wanneer God jou verander en vorm, sodat jy daar buite jou christenskap prakties kan uitleef.

Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Geestelike volwassenheid beteken om geestesvermoëns te besit.  Hoe besit ek hierdie geestesvermoëns?  Die vers sê: deur die gewoonte geoefen.  Ja, jy kan ook geestesvermoëns besit, maar jy kry dit deur die gewoonte geoefen.

Wat is hierdie geestesvermoëns?  Die vers sê: om goed van kwaad te onderskei.  Iemand wat geestelik volwasse is, is iemand wat die geestesvermoëns besit en hierdie vermoëns is om te kan onderskei tussen goed en kwaad.

Jy kan nie verwag om geestelike te groei en geestelik volwasse te word as jy so af en toe jou Bybel lees en so af en toe bid en so nou en dan kerk toe gaan nie.

Hierdie geestesvermoëns kom deur die gewoonte geoefen.  Kom ons kyk na ‘n slegte gewoonte.  Heb 10:25 sê ons moet nie die onderlinge byeenkomste versuim soos sommige die gewoonte het nie.  Hoekom bly mense eerder by die huis as om kerk toe te kom op ‘n Sondag?  Dit is ‘n slegte gewoonte. 

Ons praat oor geestelike volwassenheid kom ons kyk nou ons teksgedeelte in 1 Pet 5:5-7:

Petrus noem drie belangrike fundamentele beginsels wat deel moet wees van jou geestelike samestelling.

1.            Onderdanigheid
2.            Nederigheid
3.            Vertroue

Petrus sê dat iemand wat geestelik volwasse is, is iemand wat hierdie fundamentele en basiese beginsels klaar reg het.  Dit is nie dinge waaroor daar nog geworstel moet word nie.  Hierdie beginsels moet klaar in plek wees.

V5 begin hy dan met ‘n klomp opdragte: die jonges moet aan die oueres onderdanig wees.  Almal moet met ootmoed bekleed wees.  Onderdanig aan mekaar.  Dit het alles te doen met die gesindheid wat pas by ‘n geestelike volwasse persoon.  Hierdie geestelike beginsels is die boustene van geestelike volwassenheid.

Ons sien vanaf v1-4 vermaan hy die ouderlinge.  Hulle moet as herders toesig hou oor die kudde van God.  Maar in v5 praat hy met die kudde en hy sê: “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees;”

Net soos wat? Net soos wat hy oor onderdanigheid genoem het, so moet die jongeres ook onderdanig wees.  In 1 Pet 2:13, 18 en 3:1 praat hy oor onderdanigheid in verkillende kontekste, maar die fundamentele beginsel wat hy uitlig is onderdanigheid.

Dan kom hy in hoofstuk 5:5 en sê: net so moet julle jongeres onderdanig wees.  Petrus gaan die heeltyd terug na die basiese fundamentele beginsels.  Die beginsel waarop hy die heeltyd hammer is die beginsel van onderdanigheid. 

In hoofstuk 2 het daaroor gepraat.  In hoofstuk 3 het hy daaroor gepraat.  En nou noem hy dit weer.  Onderdanigheid is nie ‘n nuwe tema wat hy hier gebruik nie.  Inteendeel is dit ‘n tema wat regdeur die brief loop.

In 5v5 praat hy nie soseer van ouderdom nie.  Wat hy wel duidelik sê is dat die kudde moet onderdanig wees aan die herders.  Maw hulle moet onderdanig wees aan die wat oor hulle aangestel is in die Here.  Die geestelike jonges moet onderdanig wees aan die geestelike oueres.

Onderdanigheid is die fondasie van ‘n gesonde gemeente.  Daarom is daar soveel talentvolle persone, en aan wie God wonderlike gawes gegee het, maar hulle kan alleen tot geestelike volwassenheid kom wanneer hulle leer om onderdanig te wees. 

Geestelike volwassenheid beteken om onderdanig te wees aan mekaar, aan die geestelike oueres en om mekaar te dien.  Jesus het nie gekom om bedien te word nie, maar om te dien.

Ons praat oor basiese fundamentele beginsels van geestelike volwassenheid.  As ons nie hierdie beginsels toepas soos dit uiteengesit word in die woord van die Here nie, sal dit ‘n struikelblok wees vir ons geestelike groei.

Geestelike volwassenheid vra altyd vir ‘n gesindheid van onderdanigheid.  As daar nie onderdanigheid is nie, kan daar nie effektiewe bediening wees nie.

‘n Tweede gesindheid wat Petrus noem wat hand aan hand gaan met onderdanigheid is die gesindheid van ootmoedigheid of nederigheid.

1 Pet 5:5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar…

Die woord ootmoedig in die KJV is “humility”.  Om bekleed te wees met iets of ‘n persoon, is die Grieke se manier om te sê jy moet dit word waarmee jy jou beklee.  Wanneer Rom 13:14 sê: beklee julle met die Here Jesus Christus, dan beteken dit: word soos die Here Jesus Christus.  In hierdie geval sê Petrus: word ootmoedig.  Hierdie woord, is dieselfde woord as nederigheid.  Maw word nederig.

Trots en self-liefde is vyande van ‘n gesindheid van nederigheid.  Hierdie kleed van nederigheid pas almal en almal moet dit aantrek.  Die woord “ootmoed” is die Griekse woord wat beteken “om nie baie van jouself te dink nie.”  Dit is ‘n vreemde konsep vir die wêreld waarin ons leef wat vir ons leer jy moet baie van jouself dink.  Vandag is die dag van die “macho man”.

Matt 18:4 Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.

Matt 23:12 Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.

In Petrus se tyd en dan ook vandag is ootmoet of nederigheid in die wêreld se oë net vir die swakkes en vir die lafaarts.  

Fil 2:3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

Fil 2:8 en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Geestelike volwassenheid beteken om die gesindheid van nederigheid te hê, en dit beteken om te dien en nie om gedien te word nie.  Dit beteken om nie dinge uit selfsug of uit ydelele eer te doen nie, maar om ander hoër as jouself te ag.

Jy kry twee tipes Christene:  Een wat net wil ontvang.  Ek noem hulle “Bless me” Christene.  Al hoekom hulle kerk toe kom is om iets te ontvang.  Dan is daar die ander groep wat sê:  Here, wat kan ek vir U doen.  Ek kom nie om te ontvang nie, maar om te gee.

Fil 2:4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n.
5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

Hoekom moet ons nederig wees?  Petrus sê, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.  Ons lees dit ook in Jak 4:6.  Hoekom weerstaan God die hoogmoediges?  Baie eenvoudig.  Want Hy haat trots.  Spr 6:17 sê God haat trotse oë.

Spr 8:13 Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.

Jes 57:15 Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.

Die Here sê: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek.  En wie is dit wat by My woon?…nie die “high and mighty” nie, maar die verbryselde en nederige van gees.

Jes 66:2 Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

Aan die nederiges gee God genade.  Daar is mense wat misluk, wanneer hulle hul lewens wil regmaak.  Daar is mense wat dit nie reg kry om hulle probleme op te los nie.  Daar is mense wat elke vorm van terapie gebruik het om van probleme in hul lewens ontslae te raak. 

Daar is mense wat elke boek in die hande gekry het oor hulle dillema, maar die uiteinde is dat daar geen bevryding is nie.  Dalk is dit juis as gevolg van trots en hoogmoed.  Dalk is dit juis om ‘n selfgerigte lewe.  Die wêreld draai om jou.  En as dinge begin verkeerd gaan is dit die wêreld om jou en almal se skuld.

Daarom sê Petrus: wees aan mekaar onderdanig, sodat julle die genade van God kan ervaar en nie Sy teenkanting nie.  Verder sê hy in v6: verneder jou onder die kragtige hand van God

Mig 6:8 Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?

Die kragtige hand van die Here is ‘n Ou Testamentiese simbool van God se oorheersende mag, God se soewereiniteit.  God is in beheer.  Is God in beheer van jou lewe?  Dit is die kragtige hand van God wat jou sal verlos van benoudhede.  Dit is die kragtige hand van God wat jou sal beskerm in tye van nood.

Dis een van twee dinge:  Of jy kies om onder die kragtige hand van God te kom of jy val in die hande van God.  En die tweede een is ‘n verskriklike ding. 

Heb 10:31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.

Petrus sê: verneder jou onder die kragtige hand van God.  Dit is beter.  Elke mens gaan eendag voor God staan.  Jy gaan voor Hom staan of as jou Vader of God as jou Regter.  Of die kragtige hand van God verlos jou, of die kragtige hand van God veroordeel jou.

Hoe verneder ek myself onder die kragtige hand van God?

1 Pet 5:7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Dit is hoe ek myself verneder.  Dit is hoe ek onder God se kragtige hand bly.  En dit bring ons by die derde gesindheid van ‘n geestelike volwasse persoon, naamlik: vertroue.

Jy kan jouself nie verneder onder God se hand as jy nie glo dat God vir jou sal sorg nie.  Maar ek kan myself verneder onder Sy hand as ek glo dat Hy vir my sal sorg.  Daarom: werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Die gedeelte sê eintlik letterlik, ruil jou bekommernisse in vir vertroue op die God wat vir jou omgee.

In die wêreld se oë, sou volwassenheid beteken, sorg vir jouself en jy mag nie bang wees op jou probleme in die gesig te staar nie.  Maar geestelike volwassenheid beteken om jou bekommernisse op Hom te werp.  Geestelike volwassenheid beteken om God te vertrou, want jy weet Hy sorg vir jou.

Psa 55:22 Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.

Fil 4:19 En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Geestelike volwassenheid kom nie vanself nie.  Jy moet jouself in die godsaligheid oefen.   Dit begin by die basiese fundamentele geestelike beginsels van (1) onderdanigheid, (2) nederigheid, en (3) vertroue op God.

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288