Tuesday 24 January 2012

GOD BESTAAN


Teks: Psa 14:1; Rom 1:20; Heb 11:6

Psa 14:1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie.

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.

Inleiding:

Ons hoor vandag al hoe meer in die koerante, tydskrifte en publiek hoe mense, sonder om te skroom, opstaan en verklaar dat daar nie ‘n God is nie.  Hulle sê gelowiges en dan ook veral Christene is wensdenkers, is bygelowig en glo in oudtydse fabels.  Geloof is dus net vir sussies.

Kom ons kyk vanaand wat die implikasies is van so wêreldsiening…M.a.w: Wat is die tragiese gevolge vir die menslike bestaan, gemeenskap, en kultuur as Christenskap vals is.

Nou vanaand se boodskap noem die slim ouens apologetiese prediking genoem.  Wat bedoel ek daarby?

Luk 12:11 En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig (apologeomai), of wat julle sal sê nie;
Luk 12:12  want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.

“apologeomai” = om jou geloof te verdedig.  So ons gaan vanaand die Christelike geloof probeer verdedig en dit noem ons apologetiese prediking.  Apologetiese prediking gaan hand aan hand met evangelie prediking.  Die apostels was gedurig besig om hulle geloof te verdedig en so ook die evangelie aan ander verkondig.

1 Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;

KJV
…be ready always to give an answer to every man that asketh you a reason of the hope that is in you with meekness and fear.

Maw. jy moet altyd gereed wees om ‘n antwoord aan elkeen te gee oor die hoop wat in jou is.

Ongelukkig doen Christene nie so goeie “job”nie, en is ons nie altyd gereed om die skeptiese persone te antwoord nie.  2 Dinge, ons ken nie die Woord nie, en luister nie na wat Die Gees van God vir ons sê nie.

Jes 1:18 Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

KJV

Isa 1:18 Come now, and let us reason together,…

Maw, Kom laat ons die saak uit redeneer, al was jou sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu…

Jesaja koppel die mens rede en saligheid aan mekaar.  “Come let us reason together…”  Te veel mense “kom tot bekering”, maar het nie die saak mooi deurgedink nie…verstaan jy regtig waaroor dit gaan.  Weet jy wat dit gaan kos as jy jou lewe vir God wil gee.

As jy ‘n dissipel van Jesus wil wees, moet jy jou kruis opneem en Hom volg…jy sal eers die koste moet gaan bereken.

Ons gaan vanaand so bietjie redeneer oor die bestaan van God.

1.  ‘n Lewe sonder God

Ek wil vanaand die vraag vra: Hoe sou die lewe van die mens gewees het, as daar nie ‘n God was nie.  Maw hoe lyk ‘n lewe sonder God.  Ons gaan so bietjie binne ‘n at1eïs se kop krap en uitvind hoe lyk ‘n lewe sonder God.

Kan u uself net vir ‘n oomblik indink, hoe moet dit wees as daar nie ‘n God is nie.  Dis absurt.  Dit is waarom Psa 14 sê dis net ‘n dwaas wat in sy hart sê, daar is nie ‘n God nie.

Blaise Pascal (1623-62) verduidelik hoe iemand se lewe moet lyk as hy nie glo daar is ‘n God nie.

“I know not who sent me into the world, nor what the world is, nor what I myself am.  I am terribly ignorant of everything.  I know not what my body is, nor my senses, nor my soul and the part of me which thinks what I say, which reflects upon itself as well as upon all external things, and has no more knowledge of itself than of them.  I see the terrifying immensity of the universe which surrounds me, and find myself limited to one corner of this vast expanse, without knowing why I am set down here rather than elsewhere, nor why the brief period appointed for my life is assigned to me at this moment rather than another in all the eternity that has gone before and will come after me.  On all sides I behold nothing but what I understand least of all is this very death which I cannot escape.  As I know not whence I come, so I know not whether I go.  I only know that on leaving this world I fall forever into nothingness or into the hands of a wrathful God, without knowing to which of these two states I shall be everlasting consigned.  Such is my condition, full of weakness and uncertainty.  From all this I conclude that I ought to spend every day of my life without seeking to know my fate.  I might perhaps be able to find a solution to my doubts; but I cannot be bothered to do so, I will not take one step towards its discovery.”

Al wat vir die ateïs voorlê waarvan hy nie kan ontsnap nie, is die graf.  En dit maak hom bang.  Hierdie kondisie waarin die mens homself bevind is ‘n kondisie wat hom juis na God toe moet dryf. 

Net om te weet dat nou bestaan ek, maar eendag sal ek nie meer bestaan nie.  Wat dit nog erger maak, is dat die mens daaroor dink en weet wat sy noodlot is.  Diere is nie veel gepla oor die dood nie.  In die heelal is dit net die mens wat homself in hierdie posisie vind.

Pascal sê dan: jou lewe is ‘n gamble en jy moet jou bet plaas: Of jy glo in God of jy glo nie in God nie.

Maw. as jy glo dat daar ‘n God is en Hy bestaan, sal jy die ewige lewe beërwe en oneindige geluk vind.  As God nie bestaan nie, dan verloor jy niks.  Aan die ander kant, as jy glo dat daar nie ‘n God is nie en Hy bestaan, dan verloor jy die ewigheid.  As God nie bestaan nie, het jy in elke geval niks gewen nie.  Die enigste sinvolle besluit sou wees om in God te glo.  Hy sê: “for if you win, you win all; if you lose, you lose nothing.”

Om te glo dat daar nie ‘n God is nie, is om alreeds te kies dat jy verloor.  Daar is niks wat jy kan wen nie, al is jy reg.  Net daardie idee moet jou agtervolg soos ‘n donker wolk en moet jou juis daartoe dryf om God te soek.

‘n Ateïs sal vir jou sê: “Jy is perongeluk ‘n by-produk van die natuur, die gevolg van materie plus tyd plus toeval/kans”.  Daar is geen rede vir jou bestaan nie.  Al wat jou in die oog staar, is die dood.

Die moderne mens het gedink dat as hy van God kan ontslae raak, het hy homself bevry van godsdiens wat hom onderdruk en vashou.  Maar instede het hy agtergekom, dat om God dood te maak, maak hy homself dood.  Want as daar nie ‘n God is nie, dan word die mens se lewe absurt.

As God nie bestaan nie, dan is die mens en die heelal in elk geval verdoem tot die dood toe.  Daar is geen hoop van immoraliteit nie.  Die mens se lewe lei net na een plek en dit is die graf.  Die gedagte van, Ek bestaan, Ek lewe, maar eendag sal ek nie meer bestaan nie, ek sal nie meer wees nie, ek gaan sterf.  Hierdie gedagte is verskriklik.

William Lane Craig sê in Reasonable Faith oor hierdie posisie waarin ‘n ateïs homself bevind:

“Mankind is thus more significant than a swarm of mosquitos or a barnyard of pigs, for their end is all the same.  The same blind cosmic process that coughed them in the first place will eventually swallow them all again.”

As elke mens net bestaan en dan sterf, is die vraag: watter betekenis kan aan sy lewe gegee word?  Maak dit dan regtig saak of hy bestaan het in die eerste plek.

Dink net daaraan.  Al die wetenskaplikes wat soveel bydrae gemaak het tot die vordering van tegnologie en menslike kennis, mediese wetenskap wat medisyne ontwikkel vir elke siekte, diplomate wat wêreldvrede probeer verseker, mense wat hul lewens gegee het om die wêreld ‘n beter plek te maak – en dit alles vir niks.  Op die einde maak dit geen verskil nie. 

Elke mens se lewe is daarom sonder enige betekenis.  En omdat ons lewens dan op die ou einde betekenloos is, is alles wat ons doen ook betekenloos.  Die ure wat ons spandeer het op universiteite, ons beroepe, belange, vriende – alles is nutteloos. 

Dit is hoe ‘n lewe lyk sonder God.

2.  Bewyse vir God se bestaan

Hoe weet ek God bestaan?  Is daar enige bewyse?

Die eerste bewyse is die bewyse van die skepping.

Coca Cola Teorie

Biljoene jare gelede was daar ‘n Big Bang in die ruimte.  Niemand weet waar dit vandaan gekom het nie, maar dit het gebeur.  Van hierdie Big Bang het daar ‘n groot rots in die ruimte ingeskiet en in die rondte gespin en soos dit afgekoel het oor miljoene jare, was daar duisende soet bruin vloeistof bo-op die oppervlak.  En oor miljoene jare het aluminium om die kante begin gevorm en blikkie gevorm met ‘n tab.  En oor miljoene jare het wit en rooi en swart verf uit die lug uitgeval op die blikkie en die woorde gevorm, Coca Cola, Brrrr.

Nou as ek so storie vir jou vertel gaan jy vir my sê: ek beledig jou intelek.  Jy weet dat die Coca Cola blikkie was gemaak, so daar moet ‘n Coca Cola blikkie maker wees.  As jy weet dat die blikkie ontwerp is, dan weet jy moes daar was ‘n ontwerper.

Om te dink dat dit alles perongeluk gebeur het, moes jou brein iewers gevries het.

Alles in die skepping dui sonder enige twyfel na die hand van ‘n genie wat dit alles ontwerp het.

Psa 19:1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. (19:2) Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.

Wanneer ek ‘n gebou sien sou dit onlogies wees en dwaas wees om te sê, daar is nie ‘n bouer nie.  Mense sal sê jy is dom en kan nie redeneer nie.  Dieselfde met ‘n skildery.  Die logiese afleiding sou wees as ek ‘n skildery sien, dat daar moet ‘n skilder wees wat dit geskilder het.

Net so as ek na die skepping kyk, die orde in die natuur en hoe kompleks die mens gemaak is, kan ek nie anders as om die afleiding te maak dat daar ‘n Skepper is nie.  Dit sou absurt wees om te dink dat alles perongeluk gebeur het.  Dit sal dom wees en onredelik wees om te sê daar is nie ‘n ontwerper wat al hierdie dinge ontwerp het nie.

En kan jy glo daar is professors en slim wetenskaplikes wat dit nie kan uitfigure nie.

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Geen mens sal eendag vir kan God sê: ek het nie geweet nie.  Dit is net ‘n dwaas wat nie in God wil glo nie.

Ek weet hoekom hulle nie in God wil glo nie, want dit beteken as Hy alles gemaak het, dan besit Hy alles.  En omdat Hy alles besit maak Hy die reëls en ek moet by Sy reëls inval. 

Jy sien, die mens wil leef soos wat hy wil, niemand moet vir hom sê hoe ek moet leef nie.  Daarom beleef ‘n ateïs die Bybel as net ‘n boek vol reëls en moets en moenies.

‘n Kind van God beleef dit egter nie so nie, maar sy ervaring is, hy het ‘n persoonlike verhouding met die Lewende God en Hy kan Sy liefde elke dag ervaar.

Die volgende bewys dat God bestaan is dan natuurlik die Bybel self.  ‘n Ateïs sal natuurlik vir jou sê: hoe kan jy die Bybel gebruik om God se bestaan te bewys.  Hoe weet jy die Bybel is reg? 

1 Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Die woorde in hierdie boek is dwaas en jou argumente is dwaas as jy nie self tot bekering gekom het nie, eers dan word hierdie woorde lewend en waar.

Jy sal nooit weet as jy nie self daarin gaan soek nie en kyk of jy God daarin vind nie. ‘n Ateïs sal vir jou sê: jy kan nie die Bybel bewys deur die Bybel te gebruik nie is om in sirkels te redeneer.  Dit is soos om te sê: jy kan nie bewys dat pastoor in die kerk is sonder om in die kerk te kyk nie.  Dit is dan juis om in die kerk te gaan kyk, wat die bewyse vir jou sal gee dat pastoor daar is.

Jy kan die Bybel bewys deur in die Bybel te kyk.  Moenie glo wat mense vir jou sê nie, gaan kyk vir jouself.  Dit help nie iemand  kritiseer en skiet die Bybel af en sê: daar is nie ‘n God nie, as hy nie self in die Bybel gaan kyk en soek of God daar is nie.

As jy nie God soek nie, sal jy Hom nie vind nie.

Die derde bewys dat God bestaan is dan die gewete van die mens.  Waar kom die mens se gewete vandaan?  Hoe weet hy wat reg en verkeerd is?  Jy hoef nie ‘n slim persoon te wees om te weet dat dit verkeerd is om moord te pleeg of om te steel nie. 

Rom 2:14 Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie;
Rom 2:15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,

God het sy morele kode op elke mens se hart geskryf, en selfs die heidene, wat nie die 10 gebooie het nie, doen dit uit nature.  Jou gewete wat jou aankla is ‘n bewys van God se bestaan.

As God nie bestaan het nie, sou mense geleef en gemaak het soos hulle wou en niemand so verkeerd gewees het.  Dit sou absolute chaos gewees het.

Slot


Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.

As jy God soek met jou hele hart, sal Hy jou beloon.  Logika sê vir ‘n mens, daar moet ‘n God wees.

Maar geloof net dat God bestaan is nie genoeg nie, jy moet Hom soek.  Geloof oor God en geloof in God is twee verskillende konsepte.  Geloof oor God moet jou na Hom toe dryf, sodat jy Hom kan soek.

CEV

Act 17:26 From one person God made all nations who live on earth, and he decided when and where every nation would be.
Act 17:27 God has done all this, so that we will look for him and reach out and find him. He isn't far from any of us,

God het alles gemaak en daarom behoort alles aan Hom.  Hy maak die reëls.  Hoeveel keer het jy nie al Sy reëls oortree nie?

Rom 3:23 sê almal is sondaars en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.

Die loon van die sonde is die dood, maar die genade gawe van God, die onverdiende geskenk van God is die ewige lewe in Christus Jesus.

As jy gesteel het en jy word ‘n R100 000 boete opgelê, gaan dit nie help om vir die regter te sê: ek is so jammer, ek sal dit nooit weer doen nie, vergewe my.  Nee, jy sal moet boet vir die daad wat jy gepleeg het.  Net voordat jy weggeneem word, kom daar ‘n vreemde persoon ingestap en sê: hier is die R100 000, laat hom vry.  Hoe sal jy voel?

Net so word ons die doodsvonnis opgelê vir ons sondes, maar Christus het ingestap en die boete vir ons sondes betaal.  Hy het met Sy bloed die volle prys van sonde betaal.

Al wat jy moet doen is om jou vertroue in Hom te plaas.

Wednesday 18 January 2012

Godsdiens en sy slagoffers


Mar 12:38 En Hy het aan hulle in sy onderrig gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou
39 en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye—
40 hulle wat die huise van die weduwees opeet en vir die skyn lang gebede doen. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.

Hierdie is ‘n waarskuwing wat Jesus gee oor valse leraars.  Ons is bewus daarvan dat daar nog altyd valse leraars, leuen profete, godsdienstige misleiers en korrupte predikers was en altyd sal wees wat sê dat hulle God verteenwoordig.  Maar eintlik is hulle dienaars van Satan wat sê dat hulle die weg na die hemel verkondig, maar is eintlik besig om die weg na die hel toe baan.

Dit is mense wat sê dat hulle goddelike waarhede verkondig, maar eintlik leringe van duiwels bring en leuens spreek.  Die Bybel waarsku ons hieroor.  Satan is ‘n leuenaar en die Vader van leuens.  Hy het sy eerste leuen in die tuin van Eden vertel en dit het gelei tot  die val van die mensdom.  En hy is steeds vandag besig om leuens te versprei.

1 Tim 4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang
2 deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,
3 wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.

Hulle propageer alles wat vals is en enige ding wat nie waar is nie is vals, en alles wat nie van God af is nie, kom van Satan.  Daar is geen “middle ground” nie.  Alles wat waar is, is waar en alles wat nie waar is nie, is vals.  Daar is nie grys area nie.  Daar is nie so iets soos ‘n halwe waarheid of ‘n halwe leuen nie.  Of dit is waar of dit is vals.

So wanneer ‘n godsdienstige persoon enigiets verkondig wat nie waar is nie, is dit ‘n sataniese leuen.  Dit is bedoel om te mislei en die slagoffers daarvan se siele te verdoem.  So daar was nog altyd valse leraars en leuenaars en misleiers.  Die Bybel noem hulle geveinsdes. Hypocrites.  Die Grieks woord “hipokretes” wat letterlik beteken “akteurs”.  Iemand wat toneelspeel.  Dis ‘n act!  Maw hulle is ‘n fake.

Hulle maak daarop aanspraak dat hulle die weg van die waarheid van God vir mense aanwys, die hemel, ‘n beter lewe en seëninge, maar hulle vertel leuens.  Daar is net een weg en dit is die ware evangelie van Jesus Christus.  Enige ander weg is vals en verdoem jou.

Toe Jesus op die aarde was, was Judaïsme onder die valse profete se beheer.  Judaïsme het afvallig geword.  Maar die mense het nie so gedink nie.  Die mense het hulle gesien as die verteenwoordigers van God.   Mense het hulle gesien as die geestelike leiers.  Mense het hulle gerespekteer.  Hulle was die herders van Israel.

En dit is hoe valse leraars gesien wil word, want dit vervul hul behoefte na populariteit en mag en sukses en veral na geld.  Veral geld want valse leraars doen altyd wat hulle doen vir geld.  Hulle doen dit vir vuil wins.

So die leiers van Israel gee voor om God te aanbid.  Hulle gee voor dat hulle God dien.  Hulle gee voor dat hulle God eer met hulle lewens.  Hulle gee voor dat hulle mense in die wil en die kennis van God lei, terwyl hulle eintlik mense mislei en hel toe stuur.  Alle valse leraars en valse godsdienste is vyande van Christus en vyande van die waarheid en die evangelie.

Daar was die Sanhedrin, en al die priesters en fariseërs en skrifgeleerdes en rabbi’s.  Alhoewel hulle nie almal saamgestem het nie, was hulle verenig in hulle pogings om Jesus dood te maak.  Op die ou einde het hulle hom gekruisig.

So dit is ‘n Woensdag toe Jesus en Sy dissipels in die stad gekom het.  Hulle sien die vyeboom wat verdroog het.  Die boom wat Jesus vervloek het.  Dit was ‘n simbool van die vervloeking van die tempel en die volk van Israel.  Jesus het in die tempel ingegaan en die hele dag daar spandeer en die evangelie van die koningkryk gepreek.

Terwyl Hy in die tempel rondwandel het die owerpriesters, skrifgeleerdes en ouderlinge Hom gekonfronteer.  Hulle het probeer om vir Hom ‘n strik te stel en probeer om Hom te kry om iets te sê wat die Jode teen Hom sou draai.  En nog meer dat die Romeine Hom sou arresteer omdat Hy vir hulle bedreiging sou wees.

Ten spyte van die strik vrae wat hulle vir Hom stel, is Sy antwoorde so dat hulle Hom elke keer eerder verlaat en hulle was eerder geskok.  Hulle strikvrae het nie gewerk nie en hulle besluit hulle moet dit op ‘n ander manier doen.  Onthou julle hoe? Wat het hulle gedoen? Hulle het Judas omgekoop.

Die geestelike leiers was korrup.  Ek is seker nadat Jesus in die tempel ingegaan het die vorige dag en die tafels omgegooi het oor die korrupte besigheid in die tempel, het baie ander Hom gevolg, want hulle het geweet van die korrupsie.  Hulle het geweet dat hulle tien keer meer betaal het vir ‘n offerdier.  Hulle was ingedoen.

Mark 11:17 En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet ‘n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak.

Mark 12:37 sê dat hulle het graag na Jesus geluister.  Lukas sê almal het na Hom geluister.  En Hy veroordeel die leiers.  Dit was Sy laaste woorde aan Israel.  Hy het al voorheen gesê hulle is blinde leiers wat die blindes lei.  Dit is die skrifgeleerdes en fariseërs.

Mark 12:38 En Hy het aan hulle in sy onderrig gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou

Jesus vat die valse leraars aan, want Hy het geen tolerasie gehad vir hulle nie.  As iemand die ware betekenis van die Skrif verwerp, verwerp hulle die ware identiteit van Christus en die ware evangelie.  So persoon mag nie verdra word nie.
Daar is geen common ground nie.  Hulle mag so geestelik of godsdienstig of goed wees.  Ons moet hulle nie verwelkom nie.  Ons moet eerder van hulle af wegvlug.  Ons kan nie gesprek aanknoop met mense wat leuens verkoop nie.  Waarheid is in oorlog met leuens, nie in gesprek nie.  Jesus het vir ons ‘n voorbeeld gestel.  Jesus het gewaarsku:

“Pasop vir die skrifgleerdes.”  Die grootste gedeelte van hulle was fariseërs.  Hulle het die wet bestudeer.  Hulle was experts op die wet.  Hulle het die wet geïmplimenteer.  Hulle het gesê wat reg en verkeerd was.  Hulle het gesê wat God se wil is.  En wanneer Jesus sê, pasop vir hierdie ouens, pasop vir die ouens waarna jy kyk vir geestelike leiding, dan het jou probleme.

Die mense wat veronderstel is om beskermers te wees is nou ‘n bedreiging.  As jy nie meer die persone wat vir jou die waarheid moet leer en vir jou moet wys wat reg is en wat God se wil is kan vertrou nie, is jy in groot moeilikheid.

Die mense het hierdie geestelike leiers vertrou wanat hulle het geen ander opsie gehad nie, daarom was hulle ingesluk in hierdie misleiding.  Die gevolg is, soos Jesus in Matt 23 gesê het,

Matt 23:15 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self.

Dit is wat hulle gedoen het.  Mense het vir hulle geval.  So hier waarsku die Here hulle, bly weg van hulle, pasop vir hulle.  Hoekom?  Hoekom is hulle dan so groot bedreiging?  Want hulle is geveinsdes.  Hulle is nie wat hulle voorgee om te wees nie.   Hulle is kinders van die hel en hulle maak kinders van die hel.

Hoe beskyf Jesus hulle?  Wat doen hulle?  Kom ons lees weer v38,

Mark 12:38 En Hy het aan hulle in sy onderrig gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou

Kom ek sê ook dit.  Enige persoon wat ‘n verkeerde siening van Christus en die evangelie het, moet blootgestel word, soos wat Jesus hierdie ouens blootgestel het.  Die groot ding hulle is geestelike bedrog.  En dit waaraan hulle gekenmerk word is uiterlike dinge.  Jesus sê,

Matt 23:27 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.

So Hy praat van die buitekant wat net voorgee is.  Dit is fake.  Hulle dra lang klere.  Hulle loop met lang klere rond.  Dit was ‘n mantel wat tot op die grond was.  Dit was fancy en uniek en ongelooflik duur. 

In Num lees ons dat aan die onderkant van hierdie mantel was some wat vir ander gesê dat hulle aan God behoort en dat hulle aan Hom rekenskap gee.  Maar vir hierdie ouens het ‘n simbool geword van heerlikheid.  So hulle het dit nog groter gemaak.  Hoor wat sê,

Matt 23:5 En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot.

Hulle het dit gedoen sodat die mense kan kyk en sê, hierdie ou is baie heilig.  Dit was uiterlik.  Hulle was leuenaars en misleiers, maar hulle wou soos heilige mense lyk.

Die tweede ding waarvan hulle gehou het was die begroetings op die markte.  Hulle was lief daarvoor.  Soos wat hulle met hulle fancy lang klere op die markte loop, het almal geweet wie hulle is.  Hulle het dan verwag dat hulle op hulle titel aangespreek word.  “More pastoor, more dominee”.

In Matt 23 sê Jesus,

Matt 23:7 en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!

Rabbi beteken leermeester.  Hulle was so hoogmoedig dat die straf groter was as jy iets sê teen ‘n skrifgeleerde as wat jy teen die Woord van God iets sê.  Die Bybel kon nie terug baklei nie, maar hulle kon.  Hulle wou nie as Abraham aangespreek word nie, maar as O grote meester.

Vandag het ons dit maar ook.  Dr so en so.  En vandag is daar nuwe konsepte in die kerk waar die pastoor aangespreek word as die leier leraar.  En julle weet wat het ek vir julle al gesê in die verlede.  Noem my op my naam.  Respek word nie verdien met ‘n titel nie.

Jesus was goed genoeg vir Jesus, Paulus was goed genoeg vir Paulus.  Maar valse leraars is nooit nederig nie.  Hulle wil altyd verhoog word.  Hulle leef met ‘n skuldige gewete, want hulle valse godsdiens kan nie die vlees in toom hou nie.  Hulle valse godsdiens kan nie hulle trots en self-bevordering keer nie.  Godsdiens in daardie sin is ‘n afskuwelike ding.

Mark 12:39 en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye—

In die sinagoges was daar ‘n platform en die voorste banke was daar.  Hulle het gehou daarvan om op die platform voor op die voorste banke te sit.  Hulle soek erkening.  Hulle wil belangriker wees as die ander mense.  Hulle wil die centre of attention wees.  Die geëerdes.

In Luk 14 lees ons waar Jesus bewus was van hierdie hele ding.  Hy sê in v7,

Luk 14:7 En toe Hy merk hoe hulle die voorste plekke uitkies,...

Dit is toe Hy vir hulle gelykenisse vertel.  Hierdie ouens het gestry waar hulle sit.  En luister mooi!  Dit is direk gekoppel aan geestelikheid.  ‘n Gebrek aan geestelikheid lei tot ‘n vermeerdering van simbolisme.  Goed!  Hoe minder realiteit, hoe meer simbole.  Hoe minder geestelike realiteit hoe meer godsdienstige simbole.  As daar niks is aan die binnekant nie, is al wat jy het die buitekant.  Die simbole.  Godsdiens.

Mark 12:40 hulle wat die huise van die weduwees opeet...

Hulle sal die huise van die weduwees opeet?  Dit is verskriklik.  Hulle is veronderstel om herders van die skape te wees, en hulle is veronderstel om die weduwees op te pas en te beskerm.  Maar inteendeel plunder hulle die huise van die weduwees.  Waarna verwys Hy?  Hy verwys na die valse leraars wat agter die weduwees se geld is.

Mense moes hulle saligheid koop.  Hulle moes betaal vir hulle redding.  Dit is hoekom Jesus sê, julle maak van My Vader se huis ‘n roofspulonk.  Hulle is rowers.  Hulle roof mense van hulle geld.  Vandag is nie veel anders nie.  Dit gebeur orals. 

Valse predikers wat ou mense gesondheid belowe en voorspoed belowe en as jy jou geld stuur dan sal Hy jou seën.  Hulle trek voordeel uit die swakkes, die wat desperaat is, die wanhopiges, die eensames, en die hopelose.

Mark 12:40 ...en vir die skyn lang gebede doen. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.

Hulle gee voor en bid lang gebede.  Hulle wil nie regtig met God praat nie.  Hulle het niks om vir God te sê nie.  Maar hulle bid mooi lang gebede wat so heilig klink.  Jesus sê dat hulle gebede word gekenmerk deur eindelose herhaling van woorde.

Matt 6:7 En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.

Dit gebeur so baie vandag.  Maar dit is alles voorgee.  Dit is fake.  Dis ‘n skyn.  Dis ‘n show.  En dit is wat elke valse leraar doen.  Hulle is almal geveinsdes.  Dit vernietig die kerk.  Dit vernietig mense se lewens.  Hierdie ouens sal ‘n groter oordeel ontvang.

Moenie ‘n slagoffer word nie.  Moenie vir al die nuwe geestelike fads val nie.  Pasop!  Dit is gevaarlik.

Thursday 12 January 2012

‘n Hoopvolle toekoms

Rom 8:23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.
24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?
25 Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.
26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

Daar is baie negatiewe vooruitsigte vir 2012.  Die wêreld se ekonomie beleef ‘n groot krisis.  Baie mense het al hulle werk verloor en nog baie gaan.  Soveel mense het verlede jaar in natuurrampe gesterf.  Soveel mense sterf aan allerhande siektes.  En dit word net erger.  Ander is weer besig om die dae af te tel vir die einde van die wêreld op 21 Des 2012.  En so kan ons aangaan.

Wanneer ons die Bybel bestudeer dan sien ons dat alles net erger gaan word.  Dinge gaan nie beter raak nie.  Dit gaan net slegter raak.  Maar ten spyte daarvan kan ek met groot vrymoedigheid sê, ons het ‘n hoopvolle toekoms.  Hoekom?  Want ons hoop is nie gevestig op die tydelike en wêreldse dinge nie.  Ons hoop is nie gevestig op die dinge wat ons sien nie.  Ons hoop is gevestig in die Here.

Ons kry die Griekse woord “stenazo” wat beteken “om te sug”, “om te kreun”.  In boere Afrikaans, “om te groan”.  En hierdie gesug of gekreun of gegroan is die verlange daarna om gered te word uit die huidige omstandighede.  Dit is juis as gevolg van die lyding en pyn en die ongewenste omstandighede waarom daar gegroan word.

Ons kry ‘n voorbeeld hiervan in,

Hand 7:34 Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.

Die Here het hulle gesug gehoor.  Die woord “stenazo”.  Hulle het gegroan.  Hulle was onder slawerny, en hulle het swaar gelewe.  Dit was moeilik, maar die Here het hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos.  En toe stuur die Here vir Moses.  Julle ken die verhaal.

Mark 7:34 en nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug Hy en sê aan hom: Éffata, dit is: Gaan oop!

Hier is dit Jesus wat sug oor ‘n dowe man wat swaar praat.  Hy sug oor die pynlike gevolge van sonde.  Jesus het gesug.  Dan kry ons die woord in ‘n ander konteks hier in,

Heb 13:17 Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.

Wat sê dit? Moenie julle leiers laat sug nie.  Moenie die lewe vir hulle moeilik maak nie.  Wees net gehoorsaam, ok!

So as ons nou terugkeer na ons teksgedeelte in Rom 8, dan is dit wat dit beteken.  Dit is ‘n sugting, ‘n gegroan.  V23 sê “ons sug ook in onsself”.  Daar is ‘n verlange om bevry te word van die huidige omstandighede.  En wat gebeur wanneer ons op die plek kom waar ons nie meer weet watter kant toe nie.  Wanneer ons nie meer weet wat om te bid of te vra nie.

Rom 8:26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

As jy nou teruggaan na v19-21, dan sien jy dat die skepping verlang om vrygemaak te word van die slawerny van die verganklikheid.  Die skepping soek verandering.  Die gelowiges soek verandering.  Die Heilige Gees wat in ons woon soek verandering.  Die Heilige Gees verlang na die vervulling van God se beoogde en uiteindelike en finale doel vir ons.

En as daar iets is waarvoor jy nou regtig kan moan en groan hierdie jaar, dan is dit nie oor die wêreld ekonomie, of swaartye of siekte nie.  Moenie moan en groan oor jou omstandighede nie.  Sug en verlang daarna dat Hy sal kom en ons kom verlos van hierdie wêreld.

Hoekom?  Want ons het ‘n hoopvolle toekoms.  Ons hoop is nie dit wat gesien kan word nie.  Ons hoop is nie op die tydelike dinge nie.  Ons hoop is op die ewige heerlikheid wat vir ons wag.  Ons het ‘n lewende hoop.

Die feit dat jy jou geloof in Jesus Christus geplaas het, plaas jou in ‘n nie veroordelende posisie.  Want daar is geen veroordeling vir die wat in Jesus Christus is nie.  Luister mooi!  Dit beteken jy is vir ewig en altyd veilig. Dit beteken jy is vir ewig gered.  Jy word nie half gered nie.  Jy word nie tydelik gered nie.  Jesus red ons volkome.

Die Heilige Gees is die Goddelike agent wat ons verlossing beskerm.  Jy kan nie jou eie verlossing bewerk of bewaar nie.  Die Heilige Gees bewaar dit.  Die Heilige Gees waarborg ons ewige verlossing.  Jou verlossing is nie in jou hande nie, dit is in Sy hande.

Ons lees in v14-16 dat ons die Gees van aanneming tot kinders ontvang het.  Die Heilige Gees in jou bevestig jou kindskap.  V9 sê as jy die Gees van Christus nie het nie, behoort jy nie aan Hom nie.  Daar bestaan nie so iets soos geeslose kinders van God nie.  As jy ‘n kind van God is, het jy die Heilige Gees ontvang.

Die Heilige Gees verseker en waarborg ons ewige verlossing.  Die Heilige Gees verseker ons ‘n ewige heerlikheid.  V29 sê ons is verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van Jesus.  Luister!  Ons is oppad na heerlikheid.  Omdat ons geregverdig is, gaan ons verheerlik word.  En niks kan dit verander nie. 

V31 sê “as God vir ons is wie kan teen ons wees.”  V33 sê “wie kan beskuldigings inbring teen die uitverkorenes van God?” v35 “wie kan ons skei van die liefde van Christus?”  Niemand of niks kan ons eindbestemming verander nie.  Ons word deur die krag van God bewaar.

Dit is hierdie onvergelykbare wins van heerlikheid waarvoor ons sug en verlang.  En wanneer jy wil moan, moenie moan oor dit wat in die wêreld aangaan of oor jou omstandighede nie.  Moan eerder vir die ewige heerlikheid wat vir jou voorlê en die soeke daarna.  Sug met verlange daarna.  Want jy het ‘n hoopvolle toekoms.

Daar kom ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde.  Dit is waarna die profete ook opsoek was.  Dit gebeur in twee fases.  Eerstens, die duisend jarige vrederyk en tweedens, die nuwe hemel en aarde. 

Rom 8:19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.

Hoekom?  Die vorige vers sê hoekom.

Rom 8:18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

En Jesus het nie gekom om die teenwoordige tyd beter te maak nie.  Hy het gekom om ons te verlos van die verganklike en die sondige wêreld.

1 Kor 15:19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.

Christus het nie gekom dat ons in hierdie lewe, health, wealth en prosperity kan hê nie.  Christus het nie gekom dat ons die wonderlikste lewe hier kan leef nie.  Hoekom het Hy gekom?

Luk 19:10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.

Dit is hoekom.  Daarom sê,

Rom 8:24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?

Hierdie hoop is nie hoop wat gesien kan word nie.  Hierdie hoop is nie vir hier en nou nie.  Dit is nie vir die tydelike nie.  Hierdie hoop is ‘n toekomstige hoop.  Op die ewige heerlikheid wat vir ons wag.  Die heerlikheid wat geopenbaar gaan word kan nie opgeweeg word met die lyding van die teenwoordige tyd nie.

Dan maak dit alles sin wanneer Paulus sê,

Fil 1:19 Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek,
20 volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.
21 Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

Dan maak dit alles sin wanneer Paulus sê in v23,

Fil 1:23 Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.

Die ware gelowige het ‘n groot probleem met die sondige wêreld en sug met verlange om verlos te word van hierdie wêreld, want hy weet dat dit verreweg die beste om by Christus te wees.  Wanneer Paulus homself sien in hierdie sondige wêreld en dat sonde nog in hom woon sê hy,

Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Hy het sy hele Christen lewe gemoan en groan oor sy ellendige toestand.  Hy het gemoan oor sy sonde.

2 Kor 5:4 Want ons wat nog in die tent is (dit is hierdie sterlike ligaam), sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.

Het jy rede om te moan?  Het jy rede om te kla? Ja jy het.  Hoekom?  Want jy is belas met sonde.  En dit is ‘n swaar las om te hê.  Ons is moeg vir sonde, ons is moeg vir hierdie ongewensde wêreld waarin ons leef.  Dit steel ons vreugde.  Dit maak ons onbruikbaar vir Christus. 

So die ware christen, omdat hy die goddelike natuur ontvang het, omdat hy geestelik gebore is, het ‘n groot stryd met sonde en hy haat sonde.

Hoekom het Jesus geween toe Hy by Lasarus se graf gestaan het?  Hy het tog geweet dat Hy Lasarus gaan opwek.

Joh 11:33 Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel.

Hy het geweldig bewoë geword in sy gees en Hy was ontsteld, want Hy het die pyn van sonde gesien.  Hy Hy het die pyn van sonde wat op die mensdom was, gesien.  Lasarus het gesterf as gevolg van sonde.  Die loon van die sonde is die dood.  Die dood is hier omdat sonde hier is.  En dit het Jesus diep geraak.  Hy was ontsteld.

Dit is die soort houding wat ons as gelowiges moet hê oor die sonde in die wêreld en die sonde in ons eie lewens.  Die gelowige moet berou hê oor sy sonde.  Hy moet dit haat.  Dit is die werk van die Heilige Gees in ons lewens.  As Hy nie daar was nie, sou ons nie gegroan het oor sonde in ons lewens nie.

So hier is ‘n groot geestelike stryd aan die gang.  Die Gees wat in ons woon wat ons lewens transformeer en heilige begeertes in ons wek en ‘n verlange na dit wat heilig is, en die teenwoordigheid van sonde in ons lewens en dit is waarom ons sug.  Dit is waarom ons groan.

Ongelowige mense is nie gepla nie.  Hulle geniet hulleself.  Hulle het ‘n goeie tyd.  Hulle leef om die vleeslike begeerlikhede te bevredig.  Maar die gelowige voel nie tuis in hierdie wêreld nie.  Die gelowige smag met verlange na die ewige heerlikheid wat vir hom wag.

Nou kom swaarkry en siekte en nood en verdrukking en vervolging.  Maar raai wat!  Die kind van God sug nie oor hierdie dinge nie.  Die kind van God word nie hopeloos in tye van onsekerheid nie.  Die kind van God gaan sit nie op sak en as omdat hy swaarkry of vervolg word of selfs gemartel word nie.  Die kind van God het ‘n vaste basis.  Hy het ‘n ewige hoop.  Hy het ‘n hoopvolle toekoms.

Rom 13:11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.

Let op!  Die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.  Daar is ‘n element van verlossing wat nog vervul moet word.  Die toekomstige belofte van heerlikheid.  Die finale aanneming tot kinders, die verlossing van ons liggame.

Ons het ‘n hoopvolle toekoms.  Ons wag op die openbaarmaking van die kinders van God.  Wanneer die kinders van God voor die wêreld geopenbaar sal word.  En weet jy wat?  As jy ‘n wedergebore kind van God is, dan is jy verseker van ‘n ewige lewe.  Jy is verseker dat jy ‘n verheerlikte liggaam gaan ontvang.  Jy is verseker dat God die werk wat Hy in jou begin het sal voleindig, want Sy Gees woon in jou.

Dit is jou hoopvolle toekoms.  Wat 2012 ookal mag inhou.  Watookal gebeur.   Nilks kan ons hoopvolle toekoms wegneem nie.  Niks kan dit verander nie.

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288