Thursday 12 January 2012

‘n Hoopvolle toekoms

Rom 8:23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.
24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?
25 Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.
26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

Daar is baie negatiewe vooruitsigte vir 2012.  Die wêreld se ekonomie beleef ‘n groot krisis.  Baie mense het al hulle werk verloor en nog baie gaan.  Soveel mense het verlede jaar in natuurrampe gesterf.  Soveel mense sterf aan allerhande siektes.  En dit word net erger.  Ander is weer besig om die dae af te tel vir die einde van die wêreld op 21 Des 2012.  En so kan ons aangaan.

Wanneer ons die Bybel bestudeer dan sien ons dat alles net erger gaan word.  Dinge gaan nie beter raak nie.  Dit gaan net slegter raak.  Maar ten spyte daarvan kan ek met groot vrymoedigheid sê, ons het ‘n hoopvolle toekoms.  Hoekom?  Want ons hoop is nie gevestig op die tydelike en wêreldse dinge nie.  Ons hoop is nie gevestig op die dinge wat ons sien nie.  Ons hoop is gevestig in die Here.

Ons kry die Griekse woord “stenazo” wat beteken “om te sug”, “om te kreun”.  In boere Afrikaans, “om te groan”.  En hierdie gesug of gekreun of gegroan is die verlange daarna om gered te word uit die huidige omstandighede.  Dit is juis as gevolg van die lyding en pyn en die ongewenste omstandighede waarom daar gegroan word.

Ons kry ‘n voorbeeld hiervan in,

Hand 7:34 Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.

Die Here het hulle gesug gehoor.  Die woord “stenazo”.  Hulle het gegroan.  Hulle was onder slawerny, en hulle het swaar gelewe.  Dit was moeilik, maar die Here het hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos.  En toe stuur die Here vir Moses.  Julle ken die verhaal.

Mark 7:34 en nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug Hy en sê aan hom: Éffata, dit is: Gaan oop!

Hier is dit Jesus wat sug oor ‘n dowe man wat swaar praat.  Hy sug oor die pynlike gevolge van sonde.  Jesus het gesug.  Dan kry ons die woord in ‘n ander konteks hier in,

Heb 13:17 Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.

Wat sê dit? Moenie julle leiers laat sug nie.  Moenie die lewe vir hulle moeilik maak nie.  Wees net gehoorsaam, ok!

So as ons nou terugkeer na ons teksgedeelte in Rom 8, dan is dit wat dit beteken.  Dit is ‘n sugting, ‘n gegroan.  V23 sê “ons sug ook in onsself”.  Daar is ‘n verlange om bevry te word van die huidige omstandighede.  En wat gebeur wanneer ons op die plek kom waar ons nie meer weet watter kant toe nie.  Wanneer ons nie meer weet wat om te bid of te vra nie.

Rom 8:26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

As jy nou teruggaan na v19-21, dan sien jy dat die skepping verlang om vrygemaak te word van die slawerny van die verganklikheid.  Die skepping soek verandering.  Die gelowiges soek verandering.  Die Heilige Gees wat in ons woon soek verandering.  Die Heilige Gees verlang na die vervulling van God se beoogde en uiteindelike en finale doel vir ons.

En as daar iets is waarvoor jy nou regtig kan moan en groan hierdie jaar, dan is dit nie oor die wêreld ekonomie, of swaartye of siekte nie.  Moenie moan en groan oor jou omstandighede nie.  Sug en verlang daarna dat Hy sal kom en ons kom verlos van hierdie wêreld.

Hoekom?  Want ons het ‘n hoopvolle toekoms.  Ons hoop is nie dit wat gesien kan word nie.  Ons hoop is nie op die tydelike dinge nie.  Ons hoop is op die ewige heerlikheid wat vir ons wag.  Ons het ‘n lewende hoop.

Die feit dat jy jou geloof in Jesus Christus geplaas het, plaas jou in ‘n nie veroordelende posisie.  Want daar is geen veroordeling vir die wat in Jesus Christus is nie.  Luister mooi!  Dit beteken jy is vir ewig en altyd veilig. Dit beteken jy is vir ewig gered.  Jy word nie half gered nie.  Jy word nie tydelik gered nie.  Jesus red ons volkome.

Die Heilige Gees is die Goddelike agent wat ons verlossing beskerm.  Jy kan nie jou eie verlossing bewerk of bewaar nie.  Die Heilige Gees bewaar dit.  Die Heilige Gees waarborg ons ewige verlossing.  Jou verlossing is nie in jou hande nie, dit is in Sy hande.

Ons lees in v14-16 dat ons die Gees van aanneming tot kinders ontvang het.  Die Heilige Gees in jou bevestig jou kindskap.  V9 sê as jy die Gees van Christus nie het nie, behoort jy nie aan Hom nie.  Daar bestaan nie so iets soos geeslose kinders van God nie.  As jy ‘n kind van God is, het jy die Heilige Gees ontvang.

Die Heilige Gees verseker en waarborg ons ewige verlossing.  Die Heilige Gees verseker ons ‘n ewige heerlikheid.  V29 sê ons is verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van Jesus.  Luister!  Ons is oppad na heerlikheid.  Omdat ons geregverdig is, gaan ons verheerlik word.  En niks kan dit verander nie. 

V31 sê “as God vir ons is wie kan teen ons wees.”  V33 sê “wie kan beskuldigings inbring teen die uitverkorenes van God?” v35 “wie kan ons skei van die liefde van Christus?”  Niemand of niks kan ons eindbestemming verander nie.  Ons word deur die krag van God bewaar.

Dit is hierdie onvergelykbare wins van heerlikheid waarvoor ons sug en verlang.  En wanneer jy wil moan, moenie moan oor dit wat in die wêreld aangaan of oor jou omstandighede nie.  Moan eerder vir die ewige heerlikheid wat vir jou voorlê en die soeke daarna.  Sug met verlange daarna.  Want jy het ‘n hoopvolle toekoms.

Daar kom ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde.  Dit is waarna die profete ook opsoek was.  Dit gebeur in twee fases.  Eerstens, die duisend jarige vrederyk en tweedens, die nuwe hemel en aarde. 

Rom 8:19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.

Hoekom?  Die vorige vers sê hoekom.

Rom 8:18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

En Jesus het nie gekom om die teenwoordige tyd beter te maak nie.  Hy het gekom om ons te verlos van die verganklike en die sondige wêreld.

1 Kor 15:19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.

Christus het nie gekom dat ons in hierdie lewe, health, wealth en prosperity kan hê nie.  Christus het nie gekom dat ons die wonderlikste lewe hier kan leef nie.  Hoekom het Hy gekom?

Luk 19:10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.

Dit is hoekom.  Daarom sê,

Rom 8:24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?

Hierdie hoop is nie hoop wat gesien kan word nie.  Hierdie hoop is nie vir hier en nou nie.  Dit is nie vir die tydelike nie.  Hierdie hoop is ‘n toekomstige hoop.  Op die ewige heerlikheid wat vir ons wag.  Die heerlikheid wat geopenbaar gaan word kan nie opgeweeg word met die lyding van die teenwoordige tyd nie.

Dan maak dit alles sin wanneer Paulus sê,

Fil 1:19 Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek,
20 volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.
21 Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

Dan maak dit alles sin wanneer Paulus sê in v23,

Fil 1:23 Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.

Die ware gelowige het ‘n groot probleem met die sondige wêreld en sug met verlange om verlos te word van hierdie wêreld, want hy weet dat dit verreweg die beste om by Christus te wees.  Wanneer Paulus homself sien in hierdie sondige wêreld en dat sonde nog in hom woon sê hy,

Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Hy het sy hele Christen lewe gemoan en groan oor sy ellendige toestand.  Hy het gemoan oor sy sonde.

2 Kor 5:4 Want ons wat nog in die tent is (dit is hierdie sterlike ligaam), sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.

Het jy rede om te moan?  Het jy rede om te kla? Ja jy het.  Hoekom?  Want jy is belas met sonde.  En dit is ‘n swaar las om te hê.  Ons is moeg vir sonde, ons is moeg vir hierdie ongewensde wêreld waarin ons leef.  Dit steel ons vreugde.  Dit maak ons onbruikbaar vir Christus. 

So die ware christen, omdat hy die goddelike natuur ontvang het, omdat hy geestelik gebore is, het ‘n groot stryd met sonde en hy haat sonde.

Hoekom het Jesus geween toe Hy by Lasarus se graf gestaan het?  Hy het tog geweet dat Hy Lasarus gaan opwek.

Joh 11:33 Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel.

Hy het geweldig bewoë geword in sy gees en Hy was ontsteld, want Hy het die pyn van sonde gesien.  Hy Hy het die pyn van sonde wat op die mensdom was, gesien.  Lasarus het gesterf as gevolg van sonde.  Die loon van die sonde is die dood.  Die dood is hier omdat sonde hier is.  En dit het Jesus diep geraak.  Hy was ontsteld.

Dit is die soort houding wat ons as gelowiges moet hê oor die sonde in die wêreld en die sonde in ons eie lewens.  Die gelowige moet berou hê oor sy sonde.  Hy moet dit haat.  Dit is die werk van die Heilige Gees in ons lewens.  As Hy nie daar was nie, sou ons nie gegroan het oor sonde in ons lewens nie.

So hier is ‘n groot geestelike stryd aan die gang.  Die Gees wat in ons woon wat ons lewens transformeer en heilige begeertes in ons wek en ‘n verlange na dit wat heilig is, en die teenwoordigheid van sonde in ons lewens en dit is waarom ons sug.  Dit is waarom ons groan.

Ongelowige mense is nie gepla nie.  Hulle geniet hulleself.  Hulle het ‘n goeie tyd.  Hulle leef om die vleeslike begeerlikhede te bevredig.  Maar die gelowige voel nie tuis in hierdie wêreld nie.  Die gelowige smag met verlange na die ewige heerlikheid wat vir hom wag.

Nou kom swaarkry en siekte en nood en verdrukking en vervolging.  Maar raai wat!  Die kind van God sug nie oor hierdie dinge nie.  Die kind van God word nie hopeloos in tye van onsekerheid nie.  Die kind van God gaan sit nie op sak en as omdat hy swaarkry of vervolg word of selfs gemartel word nie.  Die kind van God het ‘n vaste basis.  Hy het ‘n ewige hoop.  Hy het ‘n hoopvolle toekoms.

Rom 13:11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.

Let op!  Die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.  Daar is ‘n element van verlossing wat nog vervul moet word.  Die toekomstige belofte van heerlikheid.  Die finale aanneming tot kinders, die verlossing van ons liggame.

Ons het ‘n hoopvolle toekoms.  Ons wag op die openbaarmaking van die kinders van God.  Wanneer die kinders van God voor die wêreld geopenbaar sal word.  En weet jy wat?  As jy ‘n wedergebore kind van God is, dan is jy verseker van ‘n ewige lewe.  Jy is verseker dat jy ‘n verheerlikte liggaam gaan ontvang.  Jy is verseker dat God die werk wat Hy in jou begin het sal voleindig, want Sy Gees woon in jou.

Dit is jou hoopvolle toekoms.  Wat 2012 ookal mag inhou.  Watookal gebeur.   Nilks kan ons hoopvolle toekoms wegneem nie.  Niks kan dit verander nie.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288