Friday 25 November 2011

Deel 5 - Die uitleg van tale


Wanneer Paulus in tale gepraat het (en hy het meer as die ander in tale gespreek (1 Kor 14:18)), het hy homself nie toegelaat om hierdie gawe in die kerk, onder ‘n groep gelowiges, te beoefen nie.  Hierdie gawe was ‘n teken vir die ongelowige Jode (14:21,22), en hy kies om in die gemeente liewer vyf woorde met sy verstand te spreek as tien duisend woorde in 'n taal (v19).

Hy is 2000 keer meer ten gunste daarvoor om met sy verstand te spreek as om in ‘n ander taal te spreek.  Of anders gestel, hy is 2000 keer teen die spreek in tale in die gemeente onder gelowiges.  Orals waar hy gereis het, was hy altyd in konflik met die Jode, selfs gelowige Jode, wat met hom verskil het oor die universiële karakter van die evangelie.

Paulus het terug gekom van sy eerste sendingreis na Antiogië, waar hy “…verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy 'n deur van geloof vir die heidene geopen het” (Hand 14:27).  Op sulke geleenthede, het hy die gawe om God in heidense tale te aanbid, beoefen.  Daardeur bevestig hy, aan die ongelowige Jode, sy apostelskap vir hulle en dat God ook met die heidene deel (Gal 2:7, 9).

Die verkeerde gebruik

Daar was ook ander wat hierdie charisma gehad het, maar dit verkeerd gebruik het.  Hulle het vergeet vir wie hierdie gawe bedoel was, die ongelowige volk.  Hulle het daardeur persoonlike vervulling gekry deur ander te laat luister na hulle in die gemeente samekomste, en in die afwesigheid van Jode, waar daar geen behoefte was vir hierdie gawe nie.

Op daardie stadium was dit nog ‘n egte gawe van die Gees, en Paulus wou nie die gebruik van die gawe verbied nie.  Vir sommige het hierdie gawe geword soos Simson se krag wat hy gehad het, wat ook ‘n gawe van God was.  Simson het egter hierdie gawe misbruik.

Daar was persone in die gemeente van Korinthe wat hierdie gawe misbruik het sonder om te dink.  Daarom herinner Paulus hulle om ook hulle verstand te gebruik. 

Die Korinthiërs het nie ‘n te kort aan gawes besit nie, maar hulle het dit verkeerd gebruik.  Paulus vermaan hulle, omdat hulle nog kleinkinders in Christus is, dat hy hulle nog met melk moet voed (1 Kor 3:1,2). 

1 Kor 14:16 Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van 'n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?
17 Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.

Wat Paulus sê is dit, “julle bid so mooi in Egipties, of Persies of Latyns, maar daar is nie een Jood hier van Alexandria of Persië of Rome nie.  Dit sal wonderlik wees om te weet dat julle Latyns van die hoogste standaard is, en dat dit julle gelukkig maak en julle stig.  Maar wat op dees aarde is die nut daarvan as niemand dit verstaan nie?  Hoe moet ons daarop “Amen” sê as ons nie weet wat julle sê nie.

Die beoefening van die uitlegging in die gemeente

1.    Dit was gekoppel aan die spreek in tale, en moet die DOEL van die spreek in tale bevestig.  Dat dit ‘n teken is vir “hierdie volk” en hul ongeloof.

2.    Daar moet ‘n uitlegging (vertaling) wees elke keer wanneer daar in ‘n taal gespreek is.  Hoekom?  Sodat dit wat gespreek is, deur die hoorders verstaan kon word, hulle daardeur gestig kon word en ook daarop kon “Amen” sê.  Hiervoor het die Gees van God die gawe van uitlegging gegee.

3.    Tale mag nooit beoefen word, sonder ‘n uitlegging nie.  “Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek” (1 Kor 14:28).  Dit was imperatief om eers seker te maak dat daar ‘n uitlêer is voordat daar begin word om in tale te spreek.  Volgens hierdie duidelike riglyne wat Paulus gee, kan ons aflei dat die Korinthiërs ver van die goddelike model was.

4.    Om saam in tale te bid of te sing is onbybels.  Uitlegging sou onmoontlik gewees het.  Die Heilige Gees sou nie die teenoorgestelde gesê het as dit wat Hy beveel het nie.  “En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê” (1 Kor 14:27). 

‘n Korrekte Vertaling

Die Griekse woord “hermeneia” beteken letterlik, “vertaling”.  Paulus gebruik hierdie woord ook op ander plekke in die Nuwe Testament:

-       Mark 5:41 Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal (hermeneia) word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!
-       Joh 1:38 En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle: (1:39) Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi--dit wil sê, as dit vertaal (hermeneia) word, Meester--waar is U tuis?
-       Joh 1:41 Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind--dit is, as dit vertaal (hermeneia) word, die Christus.
-       Joh 9:7 en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal (hermeneia) word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.
-       Hand 9:36 En in Joppe was daar 'n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal (hermeneia) word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het.
-       1 Kor 12:10 aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg (hermeneia) van tale.
-       1 Kor 14:26 Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging (hermeneia) --laat alles tot stigting geskied.

Die probleem – jou verstand?

Is jou verstand die probleem?  Daar word gesê, “Want as ek in 'n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar (1 Kor 14:14).  Maar die volgende vers word uitgelaat.  “Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing(1 Kor 14:15).  Dit is juis ons verstand wat die mens skei van diere.

Die groot gebod sê, “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand(Matt 22:37). Met ander woorde, met al jou kennis, jou denke, jou wil en jou intelek.

Die teenoorgestelde sê, "Do not resist, abandon yourself, do not reason any longer, let the Spirit take over, let yourself go, yield yourself up, make your mind a blank".  Dan kan ons verseker weet, soos Matt 12:44 sê, dat die vyand ‘n leë huis sal vind wat geen weerstand kan bied nie.

Matt 15:14 Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as 'n blinde 'n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val. 

Deel 4 - Twee soorte tale


Opsomming:

1.    Ons het gesien dat tale nooit aan mense gerig is nie, en nog minder was dit ‘n gawe vir evangelisasie werk.  Donald Gee en Dennis Bennet, uitstaande Pinkster leraars bevestig dit.
2.    Dit is nie ‘n teken vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges.
3.    Hierdie ongelowiges verwys eksklusief na Jode wat nie wou erken dat ander volke met ander tale ook nou God se guns geniet nie.  Die Heilige Gees bevestig dit dat hierdie teken was vir “hierdie volk” van Israel (Jes 28:11; 1 Kor 14:22).

Sommige maak daarop aanspraak dat die spreek in tale, die tale van engele is (1 Kor 13:1).  Dit is egter opmerksaam dat elke keer wanneer engele gepraat het in die Bybel, was dit altyd in ‘n taal wat kontemporêr en verstaanbaar was.

Paulus gebruik die hiperboliese “al so ek...” uitdrukking.  Hy het nie die kennis gehad van elke verborgenheid nie, en voeg die verse ook by dat hy ten dele ken.  In 1 Kor 13:3 sê Paulus dit, “…al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word…”.  Ons weet hy het nie sy liggaam oorgegee om verbrand te word nie.  “En al sou ek al my goed uitdeel…” Hy het ook nie baie besittings gehad om weg te gee nie, en nog minder het hy al die tale van mense en engele gespreek.

Meer nog sê Paulus dat hy nie die tale van engele kon spreek nie, en verwys daarna as “onuitspreeklike woorde … wat 'n mens nie mag uitspreek nie.” (2 Kor 12:4)

Watter tale?

Hand 2:6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek;

Hand 2:8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?

Hand 2:11 Kretense en Arabiere--ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.

Hoe moeilik is dit om dit te verstaan?  Dit was ‘n bestaande, gesproke en kontemporêre menslike taal.  Hoe het daar dan ‘n ander glossa, een wat ons nie verstaan nie, ingesluip?

Hierdie teenstrydigheid kom van 1 Kor 14:2.  Redes word aangevoer dat die spreek in tale in 1 Kor 12-14 nie dieselfde is as Handelinge 2 nie.

1 Kor 14:2 Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie

Op grond van hierdie vers word die afleiding gemaak dat daar twee soorte tale is, een in Handelinge wat verstaanbaar was, en later een wat nie verstaanbaar was nie. 

As dit so was, waarom gebruik Paulus nie ‘n ander term om dit te beskryf nie?  Die outeur van die boek Handelinge, Lukas gebruik dieselfde term as Paulus wat skryf in sy brief aan Korinthiërs.  As daar twee soorte tale was, sou Lukas dit so aangedui het, al was dit net deur ‘n ander woord te gebruik.

Handelinge was na die brief van Korinthiërs geskryf wat reeds in sirkulasie was in die gemeentes.  Lukas was wel bekend met die inhoud van die brief, want hy was Paulus se biograaf en het saam met hom gereis.  Niemand anders as hy was beter bekend met Paulus se gedagtes oor hierdie onderwerp nie. 

As Lukas oor ‘n ander soort taal geskryf het as waarna Paulus verwys het, sou hy dit so aangedui het om enige verwarring te vermy, maar hy het nie.  Hy het daaroor gepraat soos wat Paulus daaroor gepraat het en hy het dieselfde terme gebruik om oor dieselfde ding te praat.  Dit is dieselfde glossa.  Die Griekse tekste is duidelik.

Paulus se tale is net so goeg bekend soos dit waarna Lukas verwys, vandat hy sê, “Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld…” (1 Kor 14:10).  In Paulus se gedagtes, gaan die hele ding oor menslike tale.

Waarom het die Korinthiërs (14:2) dit nie verstaan nie?

Terug na Jerusalem

Wat het regtig gebeur in Jerusalem?  Toe die Heilige Gees gekom het, het tonge van vuur (of soos van vuur, Hand 2:2) op hulle verdeel.

Hand 2:4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

Hierdie tale was dialekte van die skare (Jode uit elke nasie wat onder die hemel is) wat teenwoordig was.  15 verskillende tale word genoem.  Elke persoon het die taal verstaan uit die nasie waarvan hy af gekom het.  Daar was niks wonderbaarliks in die hoor van die taal nie.  Die tale was wonderbaarlik, maar die ontvangs was natuurlik, want dit was hul eie taal wat hulle gehoor het.

Vir die ander 14 tale, tensy hulle dit geken het, was hulle nie in staat om dit te verstaan nie, niks meer as wat die Korinthiërs die tale kon verstaan wat hulle nie geken het nie.

Kom ons veronderstel dat daar was Korinthiërs ook teenwoordig op Pinksterdag, met 15 bandopnemers en dat hulle alles wat gesê is, afsonderlik opgeneem het.  Veronderstel hulle het die 15 tale teruggespeel in hul gemeente in Korinthe aan die ander gelowiges wat net een taal of dalk twee gepraat het.  Die verwagte reaksie sou wees dat “niemand dit verstaan nie”.

Dit is wat gebeur het by die samekomste in Korinthe.  Tale, anders as Grieks was deur die Gees gespreek.  Niemand het dit verstaan nie, nie omdat dit ‘n taal van engele was nie, maar omdat dit nie Grieks was nie.  Dit was vir hulle vreemde klanke, net soos wat Arabies vir Engels sprekendes vreemde klanke is.

Vir dieselfde rede, sien ons, by Pinkster het sommige, soos in Korinthe, nie verstaan wat gesê is nie. 

Dit is duidelik, volgens Hand 2, dat daar twee groepe Jode teenwoordig was by die godsdienstige fees: 1)  Hulle wat Jerusalem besoek het van 15 verskillende lande (v5) en ander tale gepraat het, buiten Aramees,  en 2) die Jode wat in Jerusalem gebly het wat nie een van die ander 15 tale kon praat nie.  Dit is hulle, “die ander” wat gespot het,

Hand 2:13 Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn.

Die inwonende Jode, wat net Aramees gepraat het (soos die Korinthiërs wat net Grieks gepraat het), het niks verstaan nie.  Instede dat hulle uitvind by die ander Jode wat wel kon verstaan het, maak hulle ‘n bespotting daarvan en sê die dissipels is onder die invloed van alkohol.

Dit is gepas om sê dat hulle presies dieselfde kon gesê het as wat Paulus 25 jaar later aan die gemeente van Korinthe gesê het, “…niemand verstaan nie”.  En as niemand verstaan nie, sê Paulus, “…sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?” (1 Kor 14:23).

Wat sê dit vir ons?

Die tale waarvan Paulus praat in Korinthiërs was nie onintelligente ekstatiese klanke of onbereikbare engele tale nie, maar bestaande nationale en kontemporêre tale soos in Hand 2.  En as Paulus sê dat niemand dit kan verstaan nie, is dit eenvoudig omdat hulle nie daardie taal gepraat het nie.

Deel 3 - Jesus en tale

Die voorbeeld van Jesus gee vir ons ‘n beter verstaan van die DOEL van die gawe van tale.  

In die Nuwe Testament het Jesus die aankondiging gemaak, “…hierdie tekens volg…met nuwe tale sal hulle spreek.”  (Mark 16:17), maar Hy het self nooit in tale gespreek nie.  Dit is ‘n probleem vir hulle wat daarop aanspraak maak dat Hy ons voorbeeld is.  Hy is gister, vandag en veraltyd dieselfde en ons moet erken dat die stilte is onvermydelik.  Hoekom?

Een verduideliking sê, as Jesus nie in tale gespreek het nie, was dit omdat Hy volmaak was en nie nodig gehad het om Homself te stig nie.  Die apostel Petrus se reaksie daarop sou wees, “…die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2 Pet 3:16)  Om aanspraak te maak op die afwesigheid van ‘n gawe in die naam van geestelikheid is ‘n swak demonstrasie van misleiding.

Waarom het Jesus daarop aangedring dat Johannes die Doper Hom moet doop met die doop van bekering, as Hy Homself nie hoef te bekeer het nie?  Tog het Hy, om alle geregtigheid te vervul en sodat ons kan weet.

‘n Ander verduideliking sê, Jesus het in tale gespreek, maar nie alles wat Hy gesê en gedoen het is in die Skrif opgeskryf nie. (Joh 21:25)  Niemand was daar toe Hy alleen in tale gebid het nie.  Met hierdie benadering kan ons enige dwaling regverdig

Verduideliking

Jesus was permanent vervul met die Heilige Gees en Hy het al die gawes gehad behalwe hierdie een en sy verwante gawe, nl uitleg.  Hy het dit nie gemis nie.  Hy het nie daarvan gepraat nie.  Hy het nie dit gesoek nie.  Hy het dit ook nie beoefen nie.  Hy het dit nooit gebruik in die teenwoordigheid van die dissipels nie.

Waarom het Hy nie die saam met die engele in hul hemelse taal gesing toe Hy hulle sien opklim en neerdaal uit die hemel nie (Joh 1:51)?  Waarom het Hy nie hierdie gawe bygevoeg by die ander gawes tot voordeel van Sy bediening nie?  Hulle wat dit nodig gehad het om ander tekens te sien, het hulle nie hierdie teken nodig gehad nie?

In 1 Kor 12 kry ons ‘n lys van die nege gawas van die Gees: WYSHEID, KENNIS, GELOOF, GENESING, WERKINGE VAN KRAGTE, PROFESIE, ONDERSKEIDING VAN GEESTE, ALLERHANDE TALE, UITLEG VAN TALE.  Jesus het al hierdie gawes gehad en gebruik behalwe die gawe van tale en sy verwante een, uitleg.

Donald Gee bevestig dit deur te sê, "These gifts were not manifested during the earthly ministry of the Lord Jesus"

As Jesus nie hierdie gawe gehad het nie, was dit omdat Hy dit nie nodig gehad het nie, maar HOEKOM?  Dit is juis dan in die afwesigheid van hierdie gawe wat die algemene lering van die Bybel bevestig word op hierdie onderwerp.

Jesus het nooit werklik Palestina verlaat nie.  Hy het vir sy dissipels gesê om net na die verlore skape van die huis van Israel te gaan (Matt 10:6).  Hy het hulle verbied om na die heidene toe te gaan.  Die wêreldwye aspek van Sy lering was nog verborge.  Daar was nog geen sprake van “ander volke, tale en nasies” nie.  Daar was nog geen aanduiding van ‘n universiële omvang van Sy bediening in die toekoms nie.  So ver was daar niks om die Jode jaloers te maak nie.

Om hierdie rede het die gawe van die spreek in tale nog geen nut gehad nie.  Jesus het net eenkeer daarna verwys aan die einde van Sy bediening aan Israel (Mark 16:17).  Hierdie profesie volg op die vorige vers,

Mark 16:15 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

Aan die ganse mensdom, dit is aan elke taal, en dit is die inleiding tot die teken van spreek in tale.  Die beperking tot Israel is tot ‘n einde.  Jesus het egter geweet dat “HIERDIE VOLK” sou alles doen om die Goeie Nuus te keer om buite die grense van Israel verkondig te word aan ander tale.  Daarom sou Hy aan hierdie volk, deur Sy dissipels, ‘n gepaste teken gee, een wat Hy self nie hoef te gebruik het nie.

Die stilte van hierdie gawe in Jesus se lewe bevestig die DOEL van die gawe van tale.  En dit is wat Petrus en Paulus later sê, dat dit ‘n teken is vir hierdie “ongelowige volk”, dat God, volgens Joël 2, Sy Gees nie net op Israel nie, maar op alle vlees uitgestort het.

Deel 2 - 'n Teken vir die ongelowige


Ons het reeds gesien dat tale is nie ‘n boodskap tot mense nie, maar gebed, psalmsing, en danksegging tot God.

1 Kor 14:2 Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God…

Alhoewel hy wat in ‘n taal spreek, tot God spreek, was dit nog steeds ‘n teken.  En die vraag is: vir wie was hierdie 'n teken?  Sommige meen dat dit ‘n teken is van die doping met die Heilige Gees en dat dit die bewys is dat die gelowige ‘n tweede ervaring van die Christen lewe ontvang het.  Hierdie gawe van “tale” is dus ‘n pluspunt vir die gelowige se geestelike lewe.  Volgens hierdie benadering is spreek in tale ‘n teken vir die gelowige, maar dit is nie wat die Bybel ons leer nie.

1 Kor 14:22 Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges

Die teenoorgestelde lering is baie duidelik.  Die Heilige Gees sê dit is ‘n teken vir die ongelowiges. 

Dit lei na ‘n volgende vraag:  Wat dan van ‘n persoon wat in die privaat tale gebruik?  Vir wie is die spreek in tale ‘n teken?  Hoe kan hy die gawe van tale beoefen as ‘n teken vir homself voor God?  Dit is soos ‘n evangelis wat ‘n gawe het wat bedoel is vir ongelowiges, maar hy beoefen dit in die privaat, met homself as die gehoor, en mis die doel geheel en al.

Net so is dit met tale.  Die doel van tale is nie om gelowiges te bereik nie, maar ongelowiges.

Die identiteit van die ongelowiges

As tale dan ‘n teken is vir ongelowiges, wie is die ongelowiges?

1.     Wie is die mense wat teenwoordig is in Jerusalem op Pinksterdag, in Hand 2?  ‘n Skare van godvresende Jode van elke nasie onder die hemel.  Hierdie Jode kan nie as ateïste beskou word nie.  Hul getrouheid en godsdienstige passie het gemaak dat hulle die lang en duur reis na Jerusalem onderneem om die groot fees van Pinkster by te woon.  Dit is egter nie op hierdie gebied waar hulle ongeloof is nie.

2.    In Hand 8, met die bekering van die Samaritane, is die veronderstelling dat tale ook hier ter sprake was, alhoewel dit nie genoem word nie.  Hier is ateïsme of agnostiek ook nie teenwoordig nie.  Hierdie mense het geglo in die Here Jesus.  Daar moet ‘n ander onderliggende rede wees waarom die teken van tale voorgekom het.

3.    In Hand 10 word die eerste heidene gered in Cornelius se huis.  Hier kom die teken van tale ook voor, maar wie is die ongelowiges?  Petrus was ‘n gelowige.

4.    In Hand 11 vertel Petrus aan die apostels in Jerusalem dat tale ook in die huis van Cornelius gespreek is.  Dit is duidelik dat die apostels nie ongelowiges was nie.

5.    In Hand 19 kry ons sommige Joodse dissipels van Johannes wat hul tot Christus bekeer het, en die teken van tale het ook hier voorgekom.  As die tale ‘n teken is vir die ongelowiges, wie was die ongelowiges?

Is 1 Kor 14:22 dan in teenstelling met dit wat in Handelinge gebeur?  Nee!

Verduideliking

1 Kor 14:21 gee vir ons die antwoord.  “In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek…”

Let op!  Elke keer waar die teken van tale voorkom, is dit altyd in die teenwoordigheid van JODE.  En waar die Jode nie teenwoordig was nie, soos in Athene of in Malta, vind ons nie die teken nie.  Ons moet net uitvind wat hierdie ongeloof is wat algemeen was onder hulle, en dit is nie so moeilik om dit raak te sien nie.

Dit is in die karakter van die teken waar ons sien wat die karakter is van hul ongeloof.  Die teken bestaan uit ander tale van ander nasies.  Dit was tale wat vreemd was aan Aramees.  Die teken het gewys na mense van ander nasies wat nie Jode was nie.  Die teken het die Jode se ongeloof aangespreek wanneer dit kom by die saligheid van heidene wat ander tale gespreek het.

Die teken van tale was gepas by die buitengewone gebeure op Pinksterdag: die geboorte van die Kerk waar nie net gelowige Jode nie, maar ook gelowige heidene wat ander tale gepraat het, deel geword het van die Kerk.  Die spreek in tale was die proklamasie van hierdie groot waarheid in die vorm van ‘n teken.

Op Pinksterdag het God ‘n nuwe liggaam saamgestel, wat bestaan uit gelowiges uit die Joodse volk en gelowiges uit die heidene wat ander tale gepraat het.  Hierdie was ‘n nuwe geestelike identiteit: Die Kerk, die liggaam van Christus.

Kol 3:11 waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

En dit is presies wat die Jode nie wou glo nie.  Hulle was gekant daarteen dat vir die heidene gepreek moes word dat hulle gered kon word. (1 Thes 2:16)

C.I. Scofield sê die volgende oor Ef 3:6, "The divine intention was to make a new entity out of the non-Jews: the Church constituting the body of Christ formed by the baptism of the Holy Spirit that destroys any distinction between Jews and non-Jews..."

Hierdie idee dat hulle nou een gemaak is met heidene was meer as wat die Jode kon verdra.  En dit is wat God wou hê hulle moes weet en daarom gee Hy vir “hierdie volk” ‘n teken, naamlik tale.  God het op ‘n wonderbaarlike wyse die Jode laat spreek in ander tale van ander nasies.  Dit was ‘n teken vir die ongelowige Jode wat nie wou glo dat God ook nou met die heidene deel nie.

Die Jode was teen alles wat nie-Joods was.  Kyk vir Jona hoe hy die mense van Ninevé gehaat het tot op die punt waar hy God ongehoorsaam was.  Hy hardloop weg na Tarsis, voordat hy verlossing aan hulle verkondig.  Vir hom is Jahweh die God van Israel.  Hy sterf eerder voordat God ‘n heidense stad verlos.

Hierdie gees van teenkanting vind ons regdeur Israel se geskiedenis.  Die Jode behoort aan Jahweh en Jahweh behoort aan hulle.  Al die ander mense is vervloek.  Hulle kon dit nie aanvaar dat mense met ‘n ander taal as hulle ook dieselfde voordeel by God kon kry nie.

In Luk 4:26-28 sê Jesus dat Elia is net na Sarfat in Sidon, na ‘n weduwee toe gestuur.  Verder was nie een van die melaatses in Israel in die tyd van Elísa gereinig nie, maar net Naäman, die Síriër.  Die sinagoge was met woede vervul toe hulle dit hoor en wou Jesus by ‘n krans afgooi.

Selfs die Samaritane wat aan die Jode verwand was, het ook hierdie teenkanting ervaar.  Op ‘n dag toe Jesus en die dissipels in ‘n Samaritaanse dorp kom en hulle Hom nie wou ontvang nie, het die dissipels gesê,

Luk 9:54 …Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het?
55 Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie;
56 want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na 'n ander dorp vertrek.

Die ergste belediging wat jy aan ‘n Jood kon bring, was om hom ‘n Samaritaan te noem.  Min het die dissipels geweet dat hulle later sou terugkeer en hulle hande op hulle sou lê.

Deut 32:21 Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat 'n nie-volk is, deur 'n dwase nasie sal Ek hulle terg.

Die oomblik wat God Homself aan die heidene openbaar, word hierdie profesie letterlik vervul.  Die Jode was jaloers.  Ons sien in Hand 17:5 hoe die Jode se afgunstigheid maak dat hulle ‘n opskudding in Thesalonika veroorsaak.

Hand 13:45 Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is.
46 Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie--kyk, ons wend ons tot die heidene.

Toe die Jode hoor wat Paulus en Barnabas sê, “Ek het U 'n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (v47), wou hulle Paulus en Barnabas vervolg.  In Hand 22 lees ons,

Hand 22:21 En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die gewone heidene.
22 Tot by hierdie woord het hulle na hom geluister; toe verhef hulle hul stem en sê: Weg van die aarde met so 'n mens, want hy behoort nie te lewe nie!

Die idee dat God met ander volke deel was net te veel vir die Jode om te aanvaar.  Die ongelowige apostels het Petrus aangespreek omdat hy die evangelie aan die heidene verkondig (Hand 11:1-3).  Selfs Petrus was eers ongelowig in die verband, maar God gee hom ‘n gesig van ‘n groot laken met diere op wat volgens hom onheilig en onrein was.  Die Here sê drie keer vir hom, “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.” (v9)

Na die kruis, gee Jesus die opdrag in Matt 28:19, Gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies…

1 Joh 2:2 En Hy is 'n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s'n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Natuurlik was dit so! Maar dit was nie so duidelik vir die Jode nie.

‘n Verborgenheid

Paulus verduidelik dat die heidene en die Jode een liggaam vorm en deel in dieselfde beloftes (Ef 3:6).  Vandag is dit nie meer vir ons so ‘n verborgenheid nie.  Maar vir die Jode was dit ‘n verborgenheid (Ef 3:9), en was die teken van tale nodig om hulle te help verstaan, want hulle vra vir ‘n teken (1 Kor 1:22).

Paulus sê dit so in Titus,

Tit 2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn

Hierdie waarheid was egter nie deur die nuwe Jonas van die Nuwe Testament onmiddelik geglo nie.  Maar die muur wat skeiding bring tussen beide kante word afgebreek deur die teken van tale aan die ongelowige Jode en Paulus se leringe.

Ef 2:13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het
15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep
16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

Ongelukkig het nie almal Paulus se oortuiging dat, “ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.” (1 Kor 12:13), geglo nie.  Hul teenkanting sou hulle blootstel aan die verskriklike doping met vuur.  (1 Thes 2:15,16)  Dieselfde teken van tale word vir hulle ‘n vuur van toorn. (Matt 3:12)

Die gesig van Petrus

Dit was Petrus, die ongelowige gelowige, wat vir ons die duidelike en belangrike bewyse gee van die tipe ongeloof waarop die teken van tale gemik is.  Petrus het nie die omvang van hierdie waarheid “…sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees” besef nie.  In Gal 2:11-14 lees ons waar hy homself onttrek het van die heidene juis as gevolg van sy Joodse agtergrond.

God moes sy weerstand afbreek voordat Hy hom kon stuur na Cornelius se huis.

Hand 10:28 en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir 'n Joodse man om met iemand van 'n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.

Dit verwys na die gesig wat hy gesien het.

Hand 11:5 Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in 'n verrukking van sinne het ek 'n gesig gesien: 'n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos 'n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom.
6 En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel.
7 En ek hoor 'n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet!
8 Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie.
9 En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.

Die onrein diere verwys na alles wat nie-Joods is nie, maw na al die heidense nasies en tale.  Hierdie gesig kon niemand anders as ‘n Jood oortuig nie.  Dit was hulle wat hierdie geloof moes aflê, dat heidene onrein is, want God het hulle rein gemaak.  Die heidense tale het God as rein geag om deur die Heilige Gees gebruik te word.  Die gawe van tale het dan ook dieselfde betekenis as die gesig.

Daarom gee God aan hom ‘n gesig, want hy was nog ongelowig in hierdie veband.  Net so het die Jode (wat gered was of wat nog gered sou word) hierdie tekens nodig gehad wat dieselfde ding sê.  Die teken van (heidense) tale, soos die gesig van Petrus het die ongelowige Jode geleer dat die saligheid was nou vir alle tale.

‘n Vergelyking

1.    Die gesig was aan ‘n gelowige gegee, maar was gerig op Petrus se ongeloof.  Net so was spreek in tale beoefen deur gelowiges en het te doen gehad met dieselfde ongeloof.

2.      Die gesig was ‘n teken vir die apostels van Christus wat nie geglo het in die saligheid van ander volke en tale nie.  Petrus se gesig en die tale in Cornelius se huis het hulle oortuig dat God ook nou met die heidene deel.  En hulle reaksie kry ons in Hand 11:18, “En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

3.    Die gesig kom herhaaldelik voor en daarna opgeneem in die hemel, maar ons word herinner daaraan elke keer as ons Hand 10 & 11 lees.  Net so was die teken van tale net vir ‘n tydperk en die einde van hierdie teken word aangekondig deur die Heilige Gees in 1 Kor 13:8.

4.    Die gesig verkondig die universiële dimensie van die nuwe boodskap en so ook die gawe van tale.  Dit demonstreer aan die “Israel alleenlik” lering dat die evangelie nou aan elke volk en taal verkondig word.

5.   Die gesig kry eers sy volle verduideliking by die bekering van Cornelius.  Net so, word spreek in tale eers ten volle begryp in die lig van die bekering van mense van ander tale wat nie-Joods is.

6.    Petrus se gesig dien geen doel in ‘n gemeente van gelowiges wat reeds oortuig is dat die offer van saligheid universieël is nie.  Dieselfde met tale, dit is nie ‘n teken vir gelowiges nie en dien geen doel anders as wat dit ‘n teken is vir ongelowige Jode nie.

7.    Petrus was persoonlik gestig deur die gesig wat hy gehad het, maar in die sin wat dit hom geleer het.  Geen ander betekenis kan bygevoeg word of weggeneem word nie.  Net so met die spreek in tale; hulle was gestig binne in die betekenis daarvan en niks meer nie.  Dit het hulle geleer dat die Heilige Gees uitgestort is op alle vlees, alle mense, alle tale en dat hulle nie iemand onrein moet ag wat God rein gemaak het nie.  Geen ander betekenis kan daarby gevoeg word of weggeneem word nie.

8.    Die gesig was drie keer herhaal vir Petrus.  Nadat die boodskap verstaan is, was dit nie nodig dat dit herhaal word vir die res van sy bediening nie.  Net so met die spreek in tale.  Spreek in tale kom drie keer voor in Hand 2, 10, 19 en het geduur totdat die Judeo-Christen Kerk dit volkome verstaan het en nie verder as dit nie.

Opsomming

Die doel van die teken van tale word uitgespel in Handelinge by die Pinkster gebeure, “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees…” en wieookal die Naam van die Here aanroep, sal gered word.  Die doel van tale was om vir die ongelowige Jode te vertel dat die Evangelie ook vir ander volke en tale is.  Daarom is tale ‘n teken vir die ongelowiges en nie vir die gelowiges nie. “Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek…”

Waarom het Cornelius in tale gebid?

Die teken van tale in die huis van Cornelius was ‘n bewys dat heidene ook toegang het tot die Kerk en Petrus kan dit as bewyse aan die Joodse apostels oor vertel.  Toe die apostels dit hoor (Hand 11:18) het hulle geswyg en gesê dat God ook aan die heidene die bekering tot die lewe skenk.  Cornelius dra die teken, maar die teken is vir “hierdie volk”. 

Deel 1 - 'n Gesprek met God

D. Cornier sê, “The spirit that is in contradiction with the Scriptures cannot be the Holy Spirit.” (Charismatic Renewal in the Catholic Church)

‘n Skriftuurlike patroon

1 Kor 14:2 Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

Wanneer tale in die gemeente uitgelê word, dan is die vraag: Wat is die inhoud van daardie boodskap?  Sommige sê, dit is ‘n woord van bemoediging, of profesie, of vermaning, of selfs evangelisasie.  Maar dit is egter nie in lyn met die skriftuurlike patroon nie.  Die Heilige Gees sê net die teenoorgestelde.  “…spreek nie tot mense nie”.  Dit is so onbybels soos om met Maria te praat.  Die beoefening van ‘n gawe wat nie ooreenstem met die Skriftuurlike patroon nie, kan nie kom van die Heilige Gees nie, maar eerder van ‘n ander  gees.

Maar wat van 1 Kor 14:21?

1 Kor 14:21 In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here.

Beteken dit hier dat tale tot mense spreek en is dit in teenstelling met v2?  Nee!

Verduideliking:  Dit is duidelik dat alle tekens, wat dit ookal mag wees, tot mense spreek.  Wanneer dit van God af kom, kan dit nie ‘n teken wees vir God nie.  Wanneer ons dan na Joh 17 kyk na Jesus se priesterlike gebed, dan gee dit vir ons ‘n paar antwoorde.  Jesus praat alleen met Sy Vader.  Maar op ‘n ander vlak, sonder om direk met ons te praat, praat Hy ook met ons.  Hierdie gebed wat Jesus tot Sy Vader bid, praat met ons.

So was dit ook met ander tale.  God het toegelaat dat mense wonderbaarlik tot Hom bid in ander tale (dit was ‘n gebed tot God), maar dit was God se manier om “…tot hierdie volk…” te spreek. Hierdie volk verwys na Israel.  God gebruik die teken van ander tale (heidense tale) om vir Israel te sê dat die heidene ook dieselfde toegang tot die God van Israel het.  Dit is wat die teken aan hulle gekommunikeer het.

Dit is wat Petrus beskryf in sy boodskap op die dag van Pinkster.  Die vraag was:

Hand 2:12 En hulle (die Jode) was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees?

Wat kan hierdie ander tale (15 verskillende nationale tale) dan wees?  Dan gee Petrus God se antwoord:

Hand 2:17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees…en dit is, op alle tale, op alle mense, alle nasies.

‘n Skriftuurlike bevestiging

Op Pinksterdag was dit nie heidene wat bymekaar gekom het nie, maar Jode.

Hand 2:5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.

Dit was JODE van elke nasie onder die hemel wat die pinksterfees kom bywoon het.  Hier was Jode saam wat 15 verskillende tale verteenwoordig.

Hand 2:14 Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde.

Hand 2:22 Israeliete, luister na hierdie woorde! …

Hand 2:29 Broederswat ongetwyfeld verwys na sy Joodse broers.

Hand 2:37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

Vyf keer bevestig die Skrif dat die godsdienstige manne, Jode was wat van ver lande af gekom het om die pinksterfees te kom bywoon in Jerusalem.  Die fees was net op hulle van toepassing gewees.  Die skare op pinksterdag was Jode wat Aramees gepraat het en hulle het almal Petrus verstaan wat in heirdie taal vir hulle gepreek het, sonder dat hy die ander 15 tale gebruik het.

Wat het hulle in tale gespreek?

Hand 2:11 …ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.

Dit was nie die tale nie, maar Petrus se prediking (wat nie in ander tale was nie) wat 3000 tot bekering gebring het.  Tale het die mense net laat vrae vra.

Donald Gee, een van die grootste denkers onder Pinkster geledere, sê (in Spiritual Gifts):

"On the day of Pentecost, they all spoke in tongues before the crowd assembled. The crowd ran to see what all the noise was about. They found the disciples speaking of the wonders of God in their own dialects. It is clear that this crowd heard words THAT WERE NOT ADDRESSED TO THEM (klem bygevoeg). When it was time to preach, it was Peter, and Peter alone, who spoke to the crowd whilst the eleven remained with him. He used a language common to all so that everyone would understand him... Thus the erroneous and time-honoured assertion that the gift was for the preaching of the Gospel to the Gentiles is refuted."

Dennis Bennett, bekende skrywer in Pinkster kringe sê,

"It is surprising to note how many Christians, even those who are well-grounded, think that the languages spoken at Pentecost were given to proclaim the Gospel in the languages of the people who were listening, because they came ‘from every nation under heaven’. In fact this passage states, ‘Now there were staying in Jerusalem JEWS from all nations...’ It was simply Jews who lived in other countries and who had travelled up to Jerusalem for the feast. There was no need for foreign languages. What they heard was not a proclamation of the Gospel but the first Christians PRAISING AND GLORIFYING God for the wonders He had done" (v.11).

Hiermee kan ons saamstem.

Hand 11:15 En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.
16 En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.
17 As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?

Die natuur van hierdie glossolalia was identies as die eerste keer, want Petrus verwys daarna, “…soos ook op ons in die begin.”  Maw, daar was niks aan mense geadreseer nie.  Hulle het in ander tale God verheerlik.

Hand 19:6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Hierdie gebeurtenis van die twaalf dissipels van Johannes sê vir ons niks meer nie.

Hoe verstaan Paulus dit alles?  In 1 Kor 14 sien hy dit presies dieselfde as die gebeure in Handelinge.  Dit is ‘n gebed (v2), psalmsing (v15) en danksegginge (v16) aan God in ander tale.  Gebede en psalmsing kan onbevraagd net aan God gerig word.  Tale is nie ‘n boodskap aan mense nie.

1 Kor 14:2 Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

"...an experience, the’ baptism of the Holy Spirit’ that lures souls to practise the contrary of what the Scriptures say, is not of the Holy Spirit."

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288