Tuesday 28 June 2011

GODDELIKE BELOFTES GEWAARBORG


Goddelike beloftes gewaarborg: Ef 1:11-14

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
12 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,
13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

God het beloftes gemaak aan elke gelowige wat in Jesus Christus is.  Ja, die Here gee vir jou persoonlik sekere spesifieke beloftes wat jou lewe meer betekenisvol maak, maar ek wil hê jy moet die ongelooflike dinge raaksien wat God beplan het vir dié wat in Christus is. 

God hou altyd Sy beloftes.  Maar daar is sekere beloftes waaroor jy nooit nooit hoef enigsins te twyfel nie en waaroor jy nooit hoef eers twee keer oor te dink nie.  Baie mense maak beloftes en breek dit, maar daar is Een wat beloftes maak en dit nooit verbreek nie.  Dit is Jesus Christus.  En die belofte wat Hy hier in Efesiërs vir ons gee, is die mees opwindenste en ongelooflikste beloftes van almal.

In 2 Pet 3 lees ons dat die Here vertraag nie Sy beloftes nie.  Paulus sê in Tit 1:2 dat God nie kan nie lieg nie.  Hebr 10:23 sê dat Hy wat beloof is getrou.  Rom 4:21 sê dat Hy die mag het om te doen wat Hy belowe het.  So kom ons gaan kyk na hierdie beloftes waarvan ons gelees het in Ef.

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het...

Hierdie is God se belofte aan ons.  God sê dat ons ‘n erfdeel ontvang het.  Nou in watter tyd is die werkwoord?  In die verlede tyd.  Maw dit beteken dat dit het alreeds gebeur.  Ons het alreeds ‘n erfdeel ontvang.  Die oomblik toe jy Jesus Christus aangeneem het, het die erfdeel joune geword.

Beteken dit dat jy dit al gekry het?  Wel, ‘n gedeelte kry jy eers as jy in die hemel is, maar ‘n gedeelte daarvan is nou joune.  Ons sal nou sien wat dit beteken.  Verder is die werkwoord in ‘n passiewe vorm en dit kan op twee maniere vertaal word.

Die eerste moontlike manier kan so vertaal word, “in wie ons die erfdeel gemaak is”.  Maw dit beteken dan dat ons Christus se erfdeel gemaak is.  Maw Christus erf ons.  Wel as die vers so vertaal het sou dit nie teologies verkeerd gewees het nie, want ons, die kerk is ‘n liefdesgeskenk van die Vader aan Jesus.

Jy sien, toe ek Jesus aangeneem het, het God gesê, hier is Rudi Botha.  Hy behoort nou aan jou.  Die kerk is in daardie sin die erfdeel wat Jesus van die Vader ontvang, omdat Hy getrou was tot die dood.

Mal 3:17 En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep...

17 And they shall be mine, saith the LORD of hosts, in that day when I make up my jewels...

Ons is die tempel van die Heilige Gees en ons behoort nie aan onsself nie.  Ons behoort aan Hom.  Hand 20:28 sê dat die kerk het Hy deur Sy eie bloed verkry.  Ja, in daardie sin is ons Chrisrtus se erfdeel gemaak.  Dit is hoe die vers vertaal kan word agv die passiewe vorm van die werkwoord.

Maar die vers kan ook vertaal word soos ons Afrikaanse vertaling dit ook dan vertaal het, dat ons ‘n erfdeel ontvang het.  Dit kan dit ook beteken.  Dit kan beteken dat ons Christus as erfdeel ontvang het.  So aan die eenkant is ons Sy erfdeel gemaak, aan die ander kant is Hy ons erfdeel wat ons ontvang het.  Ons behoort aan Hom en Hy behoort aan ons.  Beide is waar.

Maar in die konteks dink ek die tweede vertaling is korrek.  Want dit gaan tog om die belofte wat God vir ons gegee het.  Paulus praat tog oor die dinge wat God vir ons gee.  Hy praat hier dan eerder van dit wat ons in Christus ontvang het.

En die Nuwe Testament praat so baie hieroor.

1 Pet 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,
4 sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons

Hierdie erfdeel word vir ons bewaar, dit word vir ons gehou, dit is onverganklik, onbesmet, onverwelklik.  Dit kan nie verbygaan nie.  Wanneer jy dan gered word dan is deel van hierdie erfdeel reeds nou joune, alhoewel die vervulling daarvan nog in die toekoms lê.

Wat is hierdie erfdeel?  Wat het ek reeds ontvang?  Wil jy weet?  Is jy gereed?  Alles wat God ooit belowe het.  Elke belofte wat God gemaak het.  Dit is jou erfdeel.

2 Pet 1:4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het...

2 Kor 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.

In Hom is hulle ja en in Hom amen.  Is dit nie wonderlik nie?  Dit is God se besigheid, om te gee.  Hy gee groot en kosbare beloftes.  Waarna is jy opsoek? Vrede?  Hy het dit gegee.  Liefde?  Genade?  Wysheid?  Ewige lewe?  Vreugde?  Oorwinning?  Krag?  Leiding?  Hy het dit gegee.  Krag, genade, vergifnis, geregtigheid, gawes, hemelse rykdom.

Jy sien, wanneer jy ‘n Christen word, word jy een met Jesus Christus.

1 Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.

En nou dat jy een is met Hom ontvang jy alles wat die Vader vir Hom gegee het.  Paulus sê,

Rom 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Ons is erfgename van die beloftes wat God gegee het.

So kom ons kyk na drie dinge wat ons kan aflei uit ons teksgedeelte:  Eerstens, die basis van ons erfdeel.  Tweedens, die waarborg van ons erfdeel en, derdens die doel van ons erfdeel.

1.    Die basis van ons erfdeel

Maw, hoe ontvang ons hierdie erfdeel?

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het...

Daar is net een manier waarop jy God se beloftes, die erfdeel kan ontvang.  IN HOM, IN CHRISTUS.  Die basis van ons erfdeel is Christus.  Jy sien, daar is geen manier om enigiets wat God wil gee te kry buite Christus nie.  Daar is niks buite Christus nie.  Daar is geen verlossing buite Hom nie, want daar is geen ander naam onder die hemel waardeur die mens gered kan word nie.  God sê, dit is in Hom.

Ef 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,

Dit is in Christus.  Dit is in eenheid met Hom.

Rom 6:3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

Nou hier praat Paulus nie van die waterdoop nie.  Hy praat van ons vereniging met Christus.  Die woord doop is die woord “baptizo” wat ook vertaal kan word “om in te plaas”. Maw ons is in Christus geplaas.  Ons is in ‘n geestelike eendheid met Christus gebring.  Verder sê dit, ons is in sy dood gedoop. 

Rom 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;

Hier is ‘n ongelooflike gedagte.  Die dag toe jy ‘n christen geword het, het God op een of ander wonderbaarlike manier, jou twee duisend jaar terug gevat, en is jy saam met Christus gekruisig, saam met Hom begrawe, het jy saam met Hom opgestaan.  Jy het verewig en altyd een geword met Christus.

God doen ‘n ongelooflike wonderwerk.  God plaas jou in ‘n eenheid met Jesus.  Jy het saam met Hom gesterf, so jou sondestraf is klaar betaal.  Jy het saam met Hom opgestaan, en nou wandel jy in ‘n nuwe lewe.  Jy is nou een met Hom en alles wat God aan Sy seun gegee het jou ook nou deel aan.  Dit is eenheid met Christus.  Dit is wat dit beteken om in Christus te wees.

Maar hoe het dit gebeur?

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.

Dit het so gebeur, want God het so besluit.  God het dit so verordineer.  Dit is God se wil dat dit so moet gebeur.  Alles werk volgens die raad van Sy wil.  En wanneer God reeds voor die grondlegging van die wêreld besluit het dat dit Sy plan is en dit is hoe dit moet gebeur, dan sal dit so gebeur.  Want Hy is God.  Wie kan Hom voorskryf?  Wat God besluit, wat God sê, dit sal so wees!

Fil 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;

KJV
Php 1:6 Being confident of this very thing, that he which hath begun a good work in you will perform it until the day of Jesus Christ:

Luister! God red nie iemand en dan iewers langs die pad gooi Hy hom weg agv sekere redes en dan hou Sy werk op in daardie persoon se lewe nie.  God maak klaar met dit wat Hy begin het.

God se reddings werk is nie onvolkome nie.

Heb 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.

KJV
Heb 7:25 Wherefore he is able also to save them to the uttermost...

Wanneer God iets begin, sal Hy dit klaar maak.  Dit is nie God wat jou red en nou moet jy klaar maak nie.  Nee!  Hy voleindig die werk wat Hy begin het.  Jou saligheid, jou redding hang nie van jou af nie, dit hang alles af van die werk wat God in jou begin het. 

Ef 1:12 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het.

Die rede hoekom God ons red is, sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid.  God red ons, sodat Hy die eer daarvoor kan ontvang.  Sien jy dit?
God soek al die eer.  God soek al die erkenning.  Ek meen, kom ons erken dit, niemand kan met Hom kompeteer nie.  God verdien al die eer.  Maar wat is my verantwoordelikheid, wat moet ek doen?  Ons kan maar net op Christus hoop.  Ons kan maar net ons vertroue op Christus plaas.

Ef 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

Dit is al wat jy kan doen.  Jy moet glo.  Jy moet glo in dit wat God vir jou gedoen het.  God kry al die eer en krediet wanneer dit kom by jou saligheid.  Dit is nie iets wat jy gedoen het of verdien het nie.  Jy reageer op God se genade deur te glo.  Ons hoop op Christus.  Moet dit nie meer ingewikkeld maak as dit nie.

Jy hoef nie geestelike oefeninge te doen, of allerhande rituele te onderhou nie.  Nee!  Jy moet net glo.  Want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die  mond bely ons tot redding.  Dit is deur geloof.  En dit is waarom God ‘n godsdienstige sisteem haat, want mense dink hulle kan hulle weg na die hemel toe verdien.

Wat van goeie werke?  Goeie werke is nie die wyse waarop jy in die hemel gaan ingaan nie.  Goeie werke is die vrug van ware geloof.  Dit is die vrug van ‘n ware bekering nie die wyse waarop jy bekering ontvang nie.

2.    Die waarborg van ons erfdeel

Maw hoe behou ons hierdie erfdeel wat ons ontvang het?  Is daar ‘n waarborg dat ek nie hierdie erfdeel kan verloor nie?  Kyk wat sê vers 13,

Ef 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

Nou dit is belangrik dat ons sal besef dat ons redding is klaar ‘n werklikheid maar dit is nog nie volkome afgehandel.  Wat bedoel ek?  Ons is geestelik gered, ons is wedergebore, maar ons het nog nie ‘n verheerlikte liggaam ontvang nie.  Ons leef nog in ‘n sondige liggaam.  En ons sal eers verlos wees van hierdie liggaam by die opstanding, wanneer ons ‘n verheerlikte liggaam ontvang.

Ons is nog nie in die hemel, in ons Vader se huis nie.  Ons het nog nie alles in daardie sin ontvang nie.  Ons het die beloftes van ons erfdeel klaar ontvang, in Christus het ons ‘n erfdeel ontvang, maar daar is nog baie beloftes wat in die toekoms lê. 

Maar hoe weet ek dat ek hierdie beloftes wat ek nou reeds het, dat dit ‘n werklikheid gaan word?  Dat ek die erfdeel wat God aan my belowe het gaan ontvang?  Wat is die waarborg wat ek het?  Die Heilige Gees.  Ons is verseël met die Heilige Gees van die belofte.  Jy sien.  Die Heilige Gees is die waarborg dat die beloftes van jou erfdeel wat jy het, dat jy dit gaan kry.

Die Heilige Gees waarmee jy verseël is, waarborg God se beloftes.  Maw toe jy ‘n kind van God geword het, het God die Heilige Gees aan jou gegee.

Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.

As jy nie die Heilige Gees het nie, behoort jy nie aan Hom nie.  Maw as jy ‘n kind van God is, het jy die Heilige Gees.  Paulus sê, jou liggaam is die tempel van God se Gees.  God het in jou kom woon.  Dit is hoekom daar ‘n verandering plaasgevind het.  Dit is hoekom jy ‘n nuwe skepsel is.  Want die Gees van God het ingetrek.

En die Heilige Gees is nie net daar om jou te versterk en krag te gee nie, maar Hy is die waarborg van jou erfdeel.  Die Heilige Gees getuig saam met jou gees dat jy ‘n kind van God is.  Die Heilige Gees bevestig die goeie werk wat God in jou begin en waarborg dat God dit sal voleindig.

Wat beteken hierdie woord “verseël”?  In daardie tyd het mense as hulle ‘n dokument verseël het, het hulle kerswas gebruik.  Die koning het dan sy ring gevat en dit in die was gedruk en die dokument verseël.

Nou in die geval is Heilige Gees die seël.  Wat beteken dit?  Eerstens, was die seël ‘n teken van sekuriteit.  Kom ek gee vir julle ‘n voorbeeld in Daniël.  Hulle het vir Daniël gesê dat hy nie tot God mag bid nie, anders het hy in groot moeilikheid gekom.  Maar wat doen hy?  Hy bid tot God en hulle gooi hom in die leeukuil.

Dan 6:16 Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos!
17 En ‘n klip is gebring en op die opening van die kuil gelê, en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met Daniël sou gebeur nie.

Maw as enigiemand verby die leeukuil gestap het en die koning se seël op die klip gesien het, het hulle geweet dat niemand mag daardie kuil oopmaak nie.  Hoekom nie?  Want die koning, die hoogste outoriteit in die land het die kuil verseël.  Dit was die merk van die koning.  Net iemand wat hoër as die koning was, kon die seël breek.

Kom ons kyk na nog ‘n voorbeeld.  Toe Jesus begrawe is, het hulle ‘n klip voor die graf gerol en wat het hulle gedoen?  Hulle het dit verseël met ‘n seël van Rome.  Niemand mag die graf oopgerol het nie.  Net ‘n hoër gesag mag die seël gebreek het.  Ja, en ‘n hoër gesag, groter as Rome het die seël gebreek.

Dit is wat gebeur.  Wanneer jy ‘n kind van God word, kom plaas God ‘n seël op jou.  Hy verseël jou met die Heilige Gees en sê, jou saligheid is verseker.  En niemand kan daardie seël breek nie, tensy jy groter as God is nie.  En daar is niemand.  Die seël is God se waarborg, die Heilige Gees waarmee jy verseël is, is God se waarborg dat jy nooit verlore sal gaan tot in alle ewigheid nie.
Is daar so iets soos ewige sekuriteit? Een honderd persent, een duisend maal JA!  God verseker my saligheid en Hy waarborg dit met Heilige Gees wat in ons woon.  Die seël spreek van sekuriteit wat nooit verbreek word nie. 

Die seël spreek ook van ‘n volledige transaksie wat plaas gevind het.  Dit is afgehandel.  Dit is volbring.  Daar is niks meer wat nodig is om jou erfdeel te verseker nie.

My vriende, ons is nie nog in die proses om gered te word nie.  Wanneer jy jou geloof in Jesus Christus plaas en God die Heilige Gees vir jou gee, is jou redding afgehandel.  Dit is verseker.  Die transaksie is afgehandel.  Jy hoef nie te bekommer of jy dit gaan maak of nie.  Jy gaan.  Dit is finaal.  Jy is verseël met die Heilige Gees en dit verseker die erfdeel, dit waarborg volkome redding.  Dit waarborg ewige verlossing.

3.    Die doel van ons erfdeel?

Hoekom doen God dit?

Ef 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Die vers eindig met... “tot lof van sy heerlikheid.”

God doen dit sodat Hy daardeur verheerlik kan word.  Luister!  Die dag wat jy jouself probeer red.  Die dag wat jy jouself wil verhoog en jouself wil laat geld of probeer om een of ander belangrike ou te wil wees, is die dag wanneer jy in kompetisie met God gaan.  En raai wat? Jy gaan verloor.  Want ons is slawe van Christus en God deel nie Sy eer met enige mens nie.

Ons moet onsself verneder voor God.  Sy genade maak ons nederig.  En al wat ons moet doen is om Jesus te verhoog, om Hom te verheerlik.

Slot

God het dit alles vir ons gedoen.  Vers 14 sê dat die Heilige Gees is die onderpand van ons erfdeel.  Die Griekse vir onderpand is “arrabon”.  Dit beteken twee dinge:  dit beteken ‘n afbetaling, ‘n deposito.  Dit is wat God sê vir jou en my sê:  Hy sê, Rudi Botha, Ek gaan jou al My beloftes gee, en net sodat jy kan weet dat Ek die waarheid praat, gee Ek jou ‘n deposito, ‘n Goddelike waarborg, die Heilige Gees.

Die ander betekenis is dit: dit verwys na ‘n verloof ring, ‘n pand.  Het jy geweet daar gaan ‘n bruilof in die hemel plaasvind?  Het jy geweet dat Christus is die bruidegom en ons, die kerk is die bruid.  Maar hoe weet ons dat die bruilof sal plaasvind?  God het my ‘n verloofring gegee, die Heilige Gees.

Dit is God se belofte aan ons, die Heilige Gees, om ons erfdeel te verseker.  Om te verseker dat ons kinders van God is.  Om ons ewige lewe te verseker.  Dit is ons ewige sekuriteit.

Sal nooit die dood sien nie


Sal nooit die dood sien nie (Joh 8:48-59)

Joh 8:48 Die Jode antwoord toe en sê vir Hom: Sê ons nie met reg dat U ‘n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie?
49 Jesus antwoord: Ek is nie van die duiwel besete nie; maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan.
50 En Ek soek nie my eer nie; daar is Een wat dit soek en wat oordeel.
51 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.
52 Toe sê die Jode vir Hom: Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete, en U sê: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie.
53 Is U dan groter as ons vader Abraham wat gesterf het? En die profete het gesterwe. Vir wie gee U Uself uit?
54 Jesus antwoord: As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is.
55 En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ‘n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en bewaar sy woord.
56 Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.
57 Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
58 Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.
59 Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.

Hierdie teksgedeelte is belangrik vir ons, nommer een sodat jy kan weet dat jy hoef nie dood te gaan nie en tweedens sodat jy kan weet dat Jesus, wat hierdie belofte vir jou gee, is God.  En derdens die implikasie daarvan vir jou deur te weet dat jy nie gaan doodgaan nie.

Daar is egter ook ‘n ander groot realiteit in hierdie gedeelte en dit is die teenstand wat Jesus kry van die Jode.  En die rede waarom die teenstand van die Jode vir ons in hierdie gedeelte uitgewys word, is nie omdat dit nie lekker is om dit te sien.  Dit is ‘n eenvoudig ‘n tragedie.  Jesus se eie mense noem Hom duiwel besete.  Hierdie teenkanting is ‘n tragedie, maar dit wys vir ons die grootheid en die verborgenheid van wie Jesus is net duideliker uit.  Hulle beveel dit.  Kyk na vers 53, die laaste deel,

Joh 8:53 ...Vir wie gee U Uself uit?

“whom makest thou thyself? KJV.”  En nadat Jesus hulle geantwoord het, tel hulle klippe op om Hom te stenig, want dit was die straf vir godslastering vlg Lev 24:16.  Jesus het toe stilletjies uit die tempel gegaan, want dit was nog nie Sy tyd om te sterf nie en ook nie die manier hoe Hy moes sterf nie.

So hier is die twee grootste realiteite, werklikhede in die teksgedeelte.  Die Godheid van Jesus en die onsterflikheid van Sy volgelinge.  En ons verstaan dit beter met die teenkanting wat ons sien in die gedeelte.  En kom ons sien ook die implikasies van ons onsterflikheid en wat dit vir ons lewens inhou.

Die gedeelte begin met teenkanting, want die konflik wat ons kry in die eerste gedeelte van die hoofstuk was alreeds intens.  Jesus het gesê in vers 47,

Joh 8:47 Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.

So hulle het reeds gewys dat hulle nie na Hom luister nie en dat Sy woorde vir hulle aanstootlik is.  So hulle reageer negatief op Sy woorde.  Hulle begin Hom te veroordeel.  Hulle begin om Hom te beskuldig van dinge.  Hulle sê in vers 49 Hy is ‘n Samaritaan en Hy is duiwel besete.

Nou die Jode het die Samaritane verag.  Hulle was mense wat uitgebaster het met heidene en ook die Ou Testamentiese godsdiens probeer volg het.  Hulle het die Samaritane gehaat en nou dat hulle Jesus ‘n Samaritaan noem, was dit soos om ‘n rasistiese opmerking te maak.  Hulle insinueer dat Sy vader was onbekend.  Hulle beledig Hom en wat dit nog erger maak is die feit dat hulle sê Hy is duiwel besete.  En dit is geweldige teenkanting.

Wat verbasend is, is dat Jesus nog steeds met hulle praat.  Hy antwoord hulle,

Joh 8:49 Jesus antwoord: Ek is nie van die duiwel besete nie; maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan.
50 En Ek soek nie my eer nie; daar is Een wat dit soek en wat oordeel.

Jesus sê in wese, Ek hoef nie myself te verdedig nie.  God die Vader soek My eer.  As julle My oneer aandoen, dan is julle teen God, want Hy is daartoe verbind om My te eer.  Is julle seker julle wil dit doen, want God is die Een wat oordeel?

Maw, die wyse waarop ons reageer op Jesus het uiterste gevolge.  Die Almagtige God verdedig Sy eer.  En wanneer dit kom by die finale oordeel, dan is die maatstaf, die eer van Jesus.  Die vraag gaan wees, wat het jy gedoen met Jesus, die eer van Jesus?  As jy van dit af weggedraai het, of teen Hom gedraai het, sal God jou oordeel.  So vers 49 & 50 is ‘n waarskuwing.

Maar die boodskap van die begin af van Johannes was dat die Seun van God nie gekom het om te oordeel nie, maar om te red.

Joh 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

So Jesus gee Sy laaste antwoord op hulle beskuldigings en veroordeling in vers 51,

Joh 8:51 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.

Maw julle het tot op die plek gekom waar julle teen My laster, sê dat Ek heidense bloed in My het, en dat Ek duiwel besete is.  En julle loop die groot gevaar van God se oordeel.  Maar Ek sal steeds nog eenkeer na julle toe uitreik en die geskenk van redding aan julle bied.  As julle My woord bewaar, dan sal julle nooit die dood sien nie.

Wat ‘n ongelooflike belofte.  KJV,

Joh 8:51 Verily, verily, I say unto you, If a man keep my saying, he shall never see death.

Wat beteken dit om in der ewigheid nie die dood te sien nie?  Ons gaan nou dit beantwoord, maar kyk hoe herhaal die Jode dit wat Jesus sê, maar hulle verander Sy woorde effens.

Joh 8:52 Toe sê die Jode vir Hom: Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete, en U sê: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie.

Hulle verander die woorde “nie sien nie” na “nie smaak nie.”  Maar Jesus korregeer hulle nie.  Maw Hy sê, as julle My woorde bewaar, as julle glo wat Ek sê, oor Myself, My Vader, en ons reddingswerk, sal jy die dood nie sien nie.  Jy sal dit nie smaak nie.

Die evangelie eindig met Jesus wat doodgemaak is en opgestaan het.  En die dood van Jesus is ‘n plaasvervanging vir sondaars soos hierdie ouens, soos ons.

Joh 10:15 ...Ek lê my lewe af vir die skape.

So wat beteken dit om Jesus se woorde te bewaar?  Dit beteken om die woorde wat Hy gespreek het aan te neem, dit wat Hy gesê het oor Homself en Sy Vader en hulle werk van saligheid deur die dood en opstanding.  Om Sy woorde te bewaar beteken om dit te glo, om dit te koester, daarin te bly, dit te leef, deur dit verander te word.  Dan sal jy die dood in der ewigheid nie sien nie.

Die dood is oral om ons.  Dit gebeur elke dag.  Mense sterf om ons.  Almal van ons gaan eendag sterf.  Jy gaan ook eendag sterf en ek ook.  En gaan seker maak dit is die laaste ding wat ek gaan doen. 

Dood is die gelykmaker.  Dit plaas ons almal op dieselfde vlak.  Dit gee nie om hoe wonderlik jy is of wat jou status is nie.  Almal sterf.  Wat beteken dit dan om nie die dood te sien nie as ons almal gaan sterf?

Joh 8:51 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.

Hy sal die dood nie smaak nie.  Wat beteken dit?  Jesus sê vir Martha by Lasarus se graf,

Joh 11:25 Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?
Joh 11:25 Jesus said unto her, I am the resurrection, and the life: he that believeth in me, though he were dead, yet shall he live:
26 And whosoever liveth and believeth in me shall never die. Believest thou this?

“though he were dead, yet shall he live”  Dan sê Jesus, elkeen wat glo sal nooit sterf nie.  Al sterf hy, sterf hy nie.  Ja!  Ons sterf en, Nee!  Ons sterf nie.

Lasarus se liggaam lê dood in die graf.  Maar Lasarus was nie dood nie.  Sy liggaam was dood, maar hy was nie dood nie.  Hy het nie gesterf nie.  Net so belangrik is dit wat Jesus sê in Joh 5,

Joh 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Jy het nou alreeds die ewige lewe.  Die ewige lewe kan by definisie nie eindig nie.  Gelowiges sien nie die dood nie.  Gelowiges smaak nie die dood nie.  Ons liggame sterf, maar ons sterf nie.

Ons liggame sterf.  Dit lyk of hy slaap.  Dit is waarom die Nuwe Testament somtyds die dood vergelyk met ontslaap, of iemand wat slaap.  Die liggaam lê in die graf totdat die laaste trompet blaas.

1 Kor 15:51 Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word,
52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.

Maar wanneer ons liggame sterf, sterf ons nie.  Ons het oorgegaan van die dood na die lewe.  Hierdie lewe is die Ewige lewe.  Dit is ‘n ongebroke lewe.  Oneindige lewe.  Wat dit beteken is, toe ons wedergebore is, het ons die geskenk van die ewige lewe ontvang.  Dit is die geestelike lewe.

Ef 2:4 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,
5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—

Hierdie lewe, is die ewige lewe.  Hierdie lewe is die geeslike lewe.  Nou kan ons gemeenskap hê met God, ons kan God ken, met God praat, Sy stem hoor wanneer Hy met ons praat deur Sy Woord, die liefde van God ervaar wat Hy in ons harte uitgestort het.

Hierdie gemeenskap met God kan nie eindig nie.  Dit kan nie gebreek word nie.  Dit is ewig.  Wanneer ons liggame sterf, is daar nie ‘n breuk of pouse in ons gemeenskap met God deur Jesus Christus nie.  Ons gemeenskap is volmaak. 

Die lewe wat ons deur Christus in God het, as gevolg van wedergeboorte, sal nooit eindig nie.  Ons sal die nie einde daarvan sien nie.  Ons sal nie die einde daarvan smaak nie.  Anders is dit nie ewige lewe nie.

Jesus se teenstanders spot Hom juis om hierdie belofte. 

Joh 8:52 Toe sê die Jode vir Hom: Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete, en U sê: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie.
53 Is U dan groter as ons vader Abraham wat gesterf het? En die profete het gesterwe. Vir wie gee U Uself uit?

Jesus antwoord hulle in twee dele.  Beide antwoorde het hulle so ontstel dat hulle Hom wou doodmaak.  Dit is tog op die einde hoekom hulle Hom gekruisig het.  Hulle het gesê Hy is godslasterlik.  En ons almal moet ook vandag hierdie antwoord hoor, want ons word voor dieselfde keuse gestel as hulle.  Of Hy was godslasterlik of Hy is God.

Die eeste deel van Jesus se antwoord lees ons in vers 54-56:

Joh 8:54 Jesus antwoord: As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is.
55 En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ‘n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en bewaar sy woord.
56 Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.

Wat het Abraham gesien?  V56 sê “dat hy my dag sou sien.”  Hy het gesien toe Ek lewend was en regeer het.  Dit is My dag.  Die dag van my heerskappy en heerlikheid.  Abraham het dit gesien.  En Hy was bly.

Baie kommentators het al probeer om vas te stel waarna dit verwys.  Ons weet egter nie.  En Jesus het nie probeer om dit te verduidelik nie, want Sy teenstanders het in elk geval nie omgegee nie.  Hulle het wel die implikasie van dit wat Jesus sê gesien.  En dit lei tot die tweede deel van Jesus se antwoord.

Hulle het vir Jesus gevra in v53: vir wie gee U Uself uit? En Jesus antwoord dit in die tweede deel van Sy antwoord in v57-59:

Joh 8:57 Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
58 Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.
59 Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.

En hier die grootste verklaring wat Jesus maak.  Hier sê Hy baie duidelik dat Hy is Yahweh, die God van Israel, die Groot Ek is.  As Jesus net wou bewys dat Hy voorheen bestaan het, sou Hy dalk gesê het, “voordat Abraham was, was Ek.”  Maar dit is nie wat Jesus sê nie.  Hy sê “voordat Abraham was, is Ek.” In Eks 3:14 sê God an Moses,

Eks 3:14 En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.

En die implikasie van die wat Jesus sê is vir jou en my lewe ontsettend belangrik in hierdie lewe en in die ewigheid.  Dit is ‘n ongelooflike waarheid.  Dit wat vir ons dit so belangrik en relevant maak is: Omdat Jesus God is, beteken dit dat Sy werk op die kruis en Sy belofte sal in vervulling kom.  So wanneer Jesus sê, jy sal nooit die dood sien nie, dan beteken dit, God het gepraat.  En God se woorde sal nooit misluk nie.

Yahweh het gesê,

Jes 46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;

Dit is wat dit beteken om God te wees.  Hy spreek en dit sal so wees.  En Jesus is God.  So wanneer Hy sê in v51,

Joh 8:51 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.

Dan beteken dit dat jy sal nooit die dood sien nie!  Wat ‘n ongelooflike waarheid.

Slot

Heb 2:14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—
15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Die skrywer van Hebreërs sê dat die hele mensdom is hulle hele lank onderworpe uit vrees vir die dood aan slawerny.

Ernest Becker skryf in The Denial of Death 1973, oor die boek Hebreërs,

The main thesis of this book is that the fear of death haunts the human animal like nothing else; it is a mainspring of human activity—activity designed largely to avoid the fatality of death, to overcome it by denying in some way that it is the final destiny for man. (New York: Free Press, 1973, page xvii)

Hy het ongelukkig nie antwoord gehad vir hierdie problem nie.  Die antwoord wat Jesus gee is dat Hy is die groot EK IS van alle ewigheid en dat Hy mens geword het om vir sonde te sterf en daardeur die dood te vernietig.  Hierdeur word ons bevry van die lewenslange slawerny van die vrees vir die dood.

Die boek Hebreërs en Becker beide sê dat die vrees vir die dood beïnvloed ons hele lewe, selfs al besef mense dit nie.  Dit beïnvloed mense se besluite.  Maar Jesus het ons vrygemaak.

Tuesday 14 June 2011

HOEKOM KERK? 'N LIEFDE VIR SY KERK


HOEKOM KERK? ‘N LIEFDE VIR SY KERK

Michael Griffiths het gesê,
A high proportion of people who “go to church” have forgotten what it is all for. Week by week they attend services in a special building and go through their particular, time-honored routine, but give little thought to the purpose of what they are doing. The Bible talks about the “the bride of Christ” but the church today seems like a ragged Cinderella. It needs to reaffirm the nonnegotiable, essential elements that God designed for it to be committed to. [God’s forgetful Pilgrims (Grand Rapids: Eerdmans, 1978)]

Hoekom moet ek lief wees vir die kerk? 

1.    Want die Kerk word deur God self gebou.  En ons praat nie hier van ‘n gebou nie.  Ons praat van die liggaam van gelowiges.

1 Pet 2:5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

Die kerk van die Here is ‘n geestelike huis.  Dit is die plek waar God se Gees woon.

1 Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

Ons, die kerk is die tempel van God en Sy Gees woon in ons.  En die Bybel sê dat God is die argitek en die bouer van die tempel.

Ef 2:19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,
20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,
21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,
22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.

Matt 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

En die rede waarom God nog nie Sy kerk kom haal het nie, is omdat Hy nog nie klaar gebou het nie.  Die deur van verlossing is nog oop vir die mens.  Hy is vandag steeds besig om Sy kerk te bou.  En ons kan al die beste strategieë en probeer om die kerk te laat groei, maar ek wil jou verseker as God nie hierdie kerk bou nie, is ons besig om ons tyd te mors.  God is die bouer van Sy kerk.

Psa 127:1 ...As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.

Dit is God wat mense red.  Dit is God wat Sy kerk bou.  Dit is God wat die groei gee.  Dit is Hy wat mense byvoeg by die gemeente.  En dalk dink jy jy is maar net toevalig hier.  Maar kyk daarby verby en sien die groot hand van God in alles raak.

1 Kor 3:6 Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.

Hand 2:47 terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.

Kan jy dit sien? Kan jy sien hoekom jy die kerk van die Jesus Christus moet liefhê? Want dit is deur God self opgerig en gebou.

Hoekom moet ek lief wees vir die kerk? 

2.    Dit is die uitwerking van ‘n ewige plan

Tit 1:1  Paulus, ‘n dienskneg van God en ‘n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is,
2 in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het.

Vers 1 praat van die geloof van die uitverkorens van God, en dit is natuurlik die kerk.  En Paulus sê ek is ‘n dienskneg (doulos) slaaf en ‘n apostel van Jesus Christus volgens die geloof van die kerk.  Let op vers 2! In die hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het.

Reeds voor die grondlegging van die wêreld het God ‘n ewige plan gehad vir die gereddes, vir die gelowiges, en hulle sal die uitwerking wees van God se ewige plan.  Aan wie het God hierdie ewige plan belowe, aan wie het Hy redding en heiligheid en finale heerlikheid belowe?  Aan ons, aan Sy kerk.  Ons is die uitwerking, die vervulling van God se ewige plan.  Is dit nie genoeg rede om die kerk lief te hê nie?

2 Tim 1:9 wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is.

Hierdie belofde, hierdie plan van God word aan ons geskenk in Christus Jesus.  So maw, as jy deel wil wees van God se ewige plan, as jy deel wil wees van God se beloftes wat Hy gemaak het nog voor die grondlegging van die wêreld, dan moet jy Christus Jesus aanneem, want hierdie plan word in Christus Jesus aan jou geskenk.  Jy word alleen deel van God se ewige plan as jy deel is van die kerk in Christus.

Die kerk is die uitwerking, die uitdrukking van God se ewige liefde.  Die verlostes, die gereddes, ons, die kerk is ‘n geskenk van die Vader aan Jesus.

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.

Elke mens wat gered is, almal wat glo, wat vergewe en geregverdig is voor God deur genade, is 'n liefdesgeskenk van die Vader aan die Seun.  En Jesus sê, ek sal hulle nooit uitwerp nie. 

Joh 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.

Die kerk is die Vader se geskenk aan Jesus en Je/sus sê al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie.  Jesus verloor nie Sy eiendom nie, Jesus verloor nie die wat aan Hom behoort nie.  Dit is ‘n bewys dat as jy eenkeer aan Hom behoort, dat jy altyd aan Hom behoort.  Jy word deel van die groot ewige plan van God.  Jy word deel van die kerk wat die uitwerking van God se ewige plan is.

Jesus bewys Sy liefde aan Sy Vader deur Hom te onderwerp aan die wil van Sy Vader deur te sterf aan die kruis.  Die Vader bewys Sy liefde aan Jesus deur vir Hom ‘n kerk te bou.  En hier speel ‘n drama af in die ewigheid, die Vader wat Sy liefde aan Sy Seun bewys deur vir Hom ‘n kerk te bou en te gee en Jesus wat Sy liefde aan Sy Vader bewys deur Sy Vader se wil te doen.

Die ware doel van God se ewige plan is nie bloot om ons net in die hemel te kry nie, maar dit is ‘n uitdrukking van ‘n ewige liefde wat bestaan in die Drie-eenheid.  Ons is slegs die geskenk.  Die kerk is net die uitwerking en uitdrukking van daardie ewige liefde.

Hoekom moet ek lief wees vir die kerk?

3.    Die kerk is die kosbaarste realiteit op aarde

Die kerk is die kosbaarste ding op aarde, meer as goud of sliwer of enige aardse besitting.  Hoe kosbaar is die kerk nie?  Dit het die hoogste prys gekos wat nog ooit betaal is.

1 Kor 6:20 Want julle is duur gekoop...

Die kerk was gekoop met die kosbare bloed van die Lam, die bloed van Jesus Christus.

1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.

Die Kerk is so kosbaar dat Jesus bereid was om te ly en te sterf in gehoorsaamheid aan die Vader sodat hierdie ewige liefdes geskenk ‘n realiteit kan word.  Paulus herinner die Korinthiërs,

2 Kor 8:9 Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

Nou ons weet dit gaan nie oor aardse rykdom of materiële dinge nie.  Christus was ryk in heerlikheid, maar Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem, so het Hy arm geword en God se toorn was op Hom uitgegiet.  Daardeur word ons ryk gemaak.

Rom 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Maw, deurdat Jesus Sy rykdom in die hemele tydelik opgegee het, het Hy dit moontlik gemaak dat die kerk nou kan deel in daardie rykdom.  En dit maak die kerk die mees kosbaarste ding op aarde.

Hoekom moet ek lief wees vir die kerk?

4.    Die kerk is ‘n aardse uitdrukking van die hemelse.

Die rede waarom ons die kerk moet lief hê is omdat die kerk soos hemel op aarde is.  Dit beteken nie die kerk is volmaak nie.  Of dat dit ‘n ontvlugting vir mense bied uit hierdie sondige wêreld nie.  Maar die kerk is die plek waar alles wat in die hemel gebeur ook in sekere wyse op die aarde gebeur.

Jesus het gesê, so moet julle bid

Matt 6:10 ...laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

Waar gesied God se wil op aarde?  Beslis nie in die regering nie.  Beslis nie in skole of universiteite nie.  Waar word God se wil geskied soos in die hemel net so ook op die aarde?  Net op een plek, en dit is die kerk.

Daar is ‘n paar dinge wat in die hemel gebeur, wat ook op die aarde gebeur in die kerk?

Eerste van alles, is aanbidding.  In elke bybelse beskrywing waar ‘n godsman ‘n visie van die hemel gehad het, is daar een ding wat uitstaan bo alles, en dit is aanbidding.  Lof, aanbidding en toewyding word voortdurend aan God gebring.  Ons sien dit in Jes 6:1-3,

Jes 6:1 In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.
:2 Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg.
3 En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!

Ons sien dit ook Openbaring 4:8-11,

Almal in die hemel is voordurend besig om God te aanbid.  En daarom is aanbidding is die hoof aktiwiteit van die kerk.

‘n Tweede aktiwiteit van die hemel is die verheerliking van Christus.  Nadat Jesus Sy aardse werk afgehandel, is Hy verheerlik en het Hy gaan sit aan die regterhand van die Vader.

Fil 2:9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,

In die hemel word Hy verheerlik en op die aarde is die kerk die plek waar Jesus Christus se naam verhoog word.

‘n Derde aktiwiteit wat in die hemel plaasvind  is die behoud van suiwerheid en heiligheid.  Die hemel is ‘n heilige plek.  Niemand sal in die hemel toegelaat word wat onheilig is nie.

Heb 12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.

Soos die hemel die plek is van heiligheid en daar geen onreinheid en onheiligheid sal wees nie, so moet die kerk op aarde ‘n plek wees van heiligheid en ook daarom sy heiligheid bewaar.  Die kerk moet rein bly.  In Matt 18:15-20 kry ons die dissiplinêre proses in die kerk, sodat die kerk suiwer kan bly.  Let op vers 18,

Matt 18:18 Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

Dit het niks te doen met duiwels bind en ontbind nie.  Dit het te doen met die persoon wat nie hom wil bekeer van sy sonde nie, hy word gebind en die persoon wat hom bekeer, hy word ontbind. 

Jesus stel voor dat wanneer die kerk op aarde die dissiplinêre proses volg, dan is hulle besig om in ‘n sekere sin die uitspraak van die hemel in die kerk op aarde te bemiddel.  Die hemel is in ooreenstemming met die besluit op aarde.

Nog ‘n aktiwiteit van die hemel wat in die kerk op aarde is, is die gemeenskap van gelowiges.  Ons gemeenskap op aarde is ‘n voorsmaak van perfekte gemeenskap wat ons sal geniet in die hemel.

Die kerk dan is ‘n aardse uitdrukking van die hemel.

Hoekom moet ons lief wees vir die kerk?

5.    Die kerk is ‘n pilaar en grondslag van die waarheid. 

1 Tim 3:15 Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.

Meer as enige ander instelling op aarde, is die kerk die plek waar die waarheid verkondig moet word.  Die kerk is die plek waar alle valse idees en leuens vernietig moet word en die waarheid verdedig moet word.

2 Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

En dit is in hierdie doel waarna die kerk streef wanneer dit sy grootste oorwinning besef.

Dit is hoekom ons die kerk moet liefhê.


Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288