Wednesday 27 March 2013

Alles oor die salwing


Ou Afrikaanse 1953 vertaling

Die woord “salwing” kom een keer in die Ou Testament en twee keer in die Nuwe Testament voor.  “Salf” of “gesalf” kom 77 keer in die Ou Testament en 27 keer in die Nuwe Testament voor.  “Gesalfde” kom 35 keer in die Ou Testament en net een keer in die Nuwe Testament voor.

King James Version

In die KJV kom die woord “anointing” 24 keer voor in die Ou Testament en 2 keer in die Nuwe Testament.  “Anoint” kom 28 keer in die Ou Testament en 5 keer in die Nuwe Testament voor.  “Anointed” kom 84 keer in die Ou Testament en 12 keer in die Nuwe Testament voor.

Opmerkings

  • Nêrens in die Bybel verwys die salwing na ‘n bonatuurlike mistiese krag wat aan mense gegee is waardeur hulle wonderwerke kan doen nie.
  • Nêrens in die Bybel lees ons van ‘n dubbele-porsie salwing nie.
  • Nêrens in die Bybel lees ons van die salwing wat van een persoon na ‘n ander persoon oorgedra word deur handoplegging nie.
  • Nêrens in die Bybel kry ons metodes, sleutels of maniere waardeur individue die salwing kan ontvang, vermeerder, of verloor nie.
  • Nêrens leer Jesus vir mense oor “hoe om die salwing te onvang nie.”
  • Nêrens lees ons van Paulus wat die salwing oorgedra het na ander deur handoplegging nie.
  • Nêrens in die Nuwe Testament kry ons enige leerstellige verklarings wat oor die salwing gaan nie.


“Salwing” 

Ou Testament

Exo 40:15 Salf hulle dan, soos jy hulle vader (Aaron) gesalf het, dat hulle vir My die priesteramp kan bedien. En hul SALWING moet vir hulle 'n ewige priesterskap in hulle geslagte wees. 

Hier verwys dit na Aäron en sy nageslag wat hoëpriesters sou wees in Israel.  Hierdie salwing was nie vir almal nie, maar net vir Aäron en sy familie.  Elkeen wat gebore is uit Aäron se nageslag was geregtig tot die priesteramp.

In die Ou Testament is net Priesters, Profete en Konings gesalf en nie almal nie.  Dit was ‘n gruwel om hierdie salwing oor ‘n onbevoegde persoon uit te giet.

Eks 30:31 En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My 'n heilige salfolie wees in julle geslagte. 
32 Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees. 
33 Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan 'n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. 

Volgens die Tora is dit ‘n gruwel om JOU SALWING vir iemand anders te gee.  Dit was ‘n sonde om die salfolie wat vir iemand bedoel was te neem en dit op iemand anders te laat kom wat onbevoegd was, en so ‘n persoon moes uit sy volksgenote uitgeroei word.

Nuwe Testament

1 Joh 2:20 En julle het die salwing van die Heilige en weet alles. 

1 Joh 2:20 But ye have an unction from the Holy One, and ye know all things. 

Let op!  Julle HET DIE SALWING van die Heilige Een.  Wie is die Heilige Een?  Jesus Christus.  Die salwing kom van Jesus af en nie van ‘n mens nie.

Ons lees nêrens in die Bybel dat die salwing oorgedra word van een persoon na ‘n ander persoon deur handoplegging nie.  Die apostels het nie gepreek oor hoe om die salwing te ontvang deur hulle hande of bediening nie.  

Wanneer die apostels op mense hande gelê het, het die Heilige Gees nie van hulle af gekom nie.  In Hand 19 sien ons toe Paulus op die gelowiges van Efese hande lê, het die Gees gekom “epi”, op hulle en nie “dia”, deur hom nie.  Die Gees het nie deur Paulus se hande gekom nie, maar dit het op hulle gekom, van bo af.

In elke voorbeeld in die Nuwe Testament het die gawe van die Gees gekom vanaf Christus en deur die apostel se bediening, nie deur enige ander persoon nie (Hand 2, 8, 10, 19).  

1 Joh 2:27 En die salwing wat julle van Hom (Jesus) ontvang het, BLY IN JULLE, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly. 

Maw die salwing het julle van Jesus ontvang en BLY IN JULLE.  Gaan dit weg?  NEE.  Waarna verwys die salwing.  Na die Heilige Gees.  Is die salwing in jou, op jou of oor jou?  Die salwing BLY IN JULLE.

Joh 14:16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by JULLE TE BLY tot in ewigheid: 

Die salwing verwys na die Heilige Gees en die Heilige Gees kom maak woning in jou by die dag van jou wedergeboorte.

Kan ‘n wedergeborene die salwing verloor? NEE! Die Heilige Gees sal by ons BLY TOT IN EWIGHEID.  Kan die salwing oud word?  NEE.  Die Heilige Gees word nie oud nie.  Moet dit aangevul word?  NEE.  Die Heilige Gees word nie uitgedien of uitgeput nie.  Die Heilige Gees is ‘n persoon wat in jou woon.  Die Heilige Gees word nie meer of minder nie.  Jy moet Hom meer toelaat in jou lewe om jou te leer en te lei.

Salwing is nie “die krag van God” nie, maar die daad om af te sonder of eenkant te plaas.  In die Ou Testament word net Priesters, Profete en Konings gesalf.

In die Nuwe Testament is alle gelowiges gesalf.  Nie net sekere persone maar almal het een en dieselfde salwing.  Niemand is beter of groter of het meer krag as die ander een omdat hy nou ‘n salwing het en die ander gelowige nie.

2 Kor 1:21 Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, 
22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het. 

(1 Joh 2:20 en 27)


“Salf” of “gesalf”

Ou Testament

Gesalf as priester

Eks 28, 29 30 en 40 gaan oor die priesteramp.  Aäron en sy seuns word gesalf om die priesteramp te bedien en sekere voorwerpe in die tent van samekoms is gesalf om dit te heilig.  Niemand anders mag hierdie salwing ontvang het nie (Eks 30:31-32).

(Lev 6:20,22; 7:36; 8:10-12; 16:32; Num 7:1,10, 84,88; 35:25)

Die priesteramp en tabernakel is afgesluit met die Nuwe Testament.  Solank as wat die eerste tabernakel nog standhou is die weg na die heiligdom nog nie geopen nie (Heb 9:8).  V9 sê dat dit ‘n beeld was met die oog op die teenwoordige tyd.  V11 sê dat Christus het opgetree as Hoëpriester van die toekomstige weldade.  Hy het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie ingegaan en ewige verlossing gebring (v12).

In die Nuwe Testament word mense nie gesalf op hierdie wyse nie, want die ou tabernakel en priesteramp is afgesluit met die kruis van Golgota toe die voorhangsel in twee geskeur het.  Ons kry ook geen voorbeeld van huise of voorwerpe wat vandag gesalf moet word nie.

1 Kron 9:30 praat van die seuns van die priesters wat die salf meng. (Eks 30)

Dan 9:26 gaan oor die nuwe tempel wat gesalf word.

Gesalf as koning

Rig 9:8,15 gaan oor die salf van ‘n koning.  Die salwing van ‘n koning is gelykstaande wanneer ‘n koning gekroon word.

1 Sam 9:16 gaan oor die salwing van ‘n vors oor die volk Israel (10:1).  In 15:1 sien ons dat Samuel die opdrag van die Here kry om Saul as koning oor Israel te salf (15:17).  Maar vanweë Saul se ongehoorsaamheid is hierdie koningskap vir sy naaste gegee (v28).  In hoofstuk 16 lees ons van Dawid wat gesalf is as koning (v13) en die Here het van daardie dag af oor hom vaardig geword.

Let op!  Net Dawid is hier gesalf en niemand anders nie.  Hy is gesalf as koning.

1 Kon 1:34 gaan oor Salomo wat as koning oor Israel gesalf is.  1 Kon 19:15 gaan oor Hasael wat as koning oor Aram gesalf is.  1 Kon 19:16 moet Jehu gesalf word as koning oor Israel en Elisa moet gesalf word as profeet.  2 Kon 9:3,6,12 gaan oor Jehu wat gesalf word as koning.

Gesalf met parfuum

Rut 3:3 het niks te doen met salf tot ‘n amp nie.  Naomi sê vir Rut om haar te was, te salf en klere aan te trek.  Sy het haar gesalf sodat sy kon lekker ruik.

In 2 Sam 14:2 moes ‘n skrander vrou haar nie met olie salf nie, maar hou soos ‘n vrou wat baie dae rou oor ‘n dode.  Sy moes nie haarself mooi maak en olie smeer om lekker te ruik nie.

Shemen

Pred 10:1 is die woord “shemen” wat verwys na die olie of salf.

Hoogl 1:3, 4:10 praat van die aangename geur van salf “shemen” (parfuum). 

Jes 57:9 gaan oor die onregverdiges wat aan die koning van Asirië of Egipte, offers bring.  Hulle gee “shemen”, “salf” aan die koning om sy guns te verkry.

Amos 6:6 verwys na die “shemen”, salf met parfuum om lekker te ruik.

Ander

Jes 21:5 “salf die skuld” om dit “supple / flexible” te kry vir oorlog. 

Mig 6:15 sê dat hulle sal werk, maar nie God se seën ontvang nie.  Die woord hier is die Aramese woord “suk”, “om te smeer.”

Nuwe Testament

Matt 6:17 sê wanneer jy vas, salf jou hoof.  Die woord is “aleipho” wat beteken om te salf met parfuum.  Die rede dat niemand kon sien jy vas nie. 

Matt 26:7-12, Mark 14:4, Luk 7:37,38, Joh 11:2, 12:3-5: “muron”.  Dit kan nie verwys na Jesus wat ‘n salwing ontvang het om te bedien nie.  Hy was reeds in Matt  3:16 gesalf met die Heilige Gees.  Let op!  Hierdie gebeurtenis het net eenmaal gebeur en nie gereeld nie.

Mark 16:1, Luk 23:56: Maria het speserye gaan koop om Jesus te salf.  Sy het gedink Hy was dood, maar toe sy by die graf kom, het Hy reeds opgestaan.  Het Jesus dan nodig gehad dat Maria Hom moes salf om ‘n salwing te ontvang?  Nee!  Hy het reeds opgestaan.  Dit was algemene praktyk om ‘n dooie te salf.  Dit veronderstel ook dat hulle nie verwag het dat Hy gaan opstaan nie.

Op 3:18 Salf jou oë, sodat jy kan sien.  Die konteks verwys daarna dat hulle geestelik blind is.   Dit is hulle (die onbekeerdes) wat hulle oë moet salf.  Dit is geen model vir die gelowiges nie.

Soos wat die salf gebruik is as ‘n natuurlike middel om iemand se kwaal te genees, so verwys die salf na die genade van die evangelie wat mense se geestelike blindheid kan genees. (Ef 1:18)

Op 18:11-13 praat van die handelaars van die aarde se koopware, waarvan dit salf ook is.


‘n Bybelse siening oor die salwing

Luk 4:18 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; 

Die salwing en die persoon van die Heilige Gees kan nie van mekaar geskei word nie.  Die charasmatiese leraars het die salwing ‘n krag gemaak apart van God wat op mense gegiet word.  Daar is ‘n direkte verbindtenis tussen die Heilige Gees en die salwing.  Hy is die Een wat Christene in staat stel om hul bediening uit te leef.

Hand 10:38 met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe GOD HOM GESALF HET MET DIE HEILIGE GEES EN MET KRAG. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was. 

Die Vader het Jesus gesalf met die Heilige Gees en met krag.  Geen fisiese olie is hier ter sprake nie.  Daar is ‘n verband tussen die salwing en die Heilige Gees.

Luk 1:35 En die engel antwoord en sê vir haar: DIE HEILIGE GEES SAL OOR JOU KOM EN DIE KRAG VAN DIE ALLERHOOGSTE SAL JOU OORSKADU. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. 

Dit is maklik en eenvoudig.  Die Heilige Gees en die salwing is onafskeidbaar.  Jy kan nie die een hê sonder die ander een nie.  Jy kan nie die salwing hê sonder die Heilige Gees nie, en jy kan nie die Heilige Gees hê sonder die salwing nie.

Dit is onmoontlik vir my as ‘n gelowige om God oor te dra na iemand anders toe.  As iemand ‘n gelowige is, woon die persoon van die Heilige Gees in hom.  Hy is God.  Jy het nie nog ‘n salwing nodig nie.  As jy Hom het, het jy alles van Hom.  Jy het nie nog ‘n salwing by die Heilige Gees nodig nie.  As gelowige is het jy reeds die salwing ontvang, deur die Heilige Gees wat in jou woon.

Dit is onmoontlik om die mate van die Heilige Gees in iemand te vermeerder.  Daarom kan die salwing ook nie vermeerder in jou nie.

Jy kan nie die salwing of Heilige Gees op objekte oorplaas nie.  Jy kan nie die Heilige Gees opdragte gee nie.  Jy kan nie die soewereine God beveel om dinge te doen nie.  Hy vloei nie uit die mens tot op ‘n sakdoek of voorwerp nie.  Hy is nie ‘n produk wat jy kan uitgee en nog meer, Sy krag uitdeel soos jy wil nie.

1 Joh 2:27 En die salwing wat julle van Hom (Jesus) ontvang het, BLY IN JULLE, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly. 

Hoe kan die salwing iemand iets leer?  Die enigste manier is, as die salwing die Persoon van die Heilige Gees is.  Net ‘n persoon kan iemand leer.


Raak nie die gesalfde aan nie

Psa 105:15 Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie. 

Benny Hinn het gesê, 

“You cannot win attacking the servants of the Lord, no matter who they are or what they've done ...if the anointing ever comes upon a man, don't touch that man, even if he turns away from God, and serves the devil, Don't touch him. You are in deep, serious danger.”

Dit is belangrik dat ons sal vra: wat beteken om die gesalfdes aan te raak in hierdie gedeelte.  Beteken dit om hom fisies te beseer of om hom verbaal teë te gaan.

Ons sien in 1 Sam 15:3-23 dat Samuel vir Saul, die Gesalfde, bestraf het en dat God hom as koning verwerp.  Dawid wat ook gesalf was voor God, het Saul se posisie weggeneem, maar nie aan Saul fisies geraak nie, toe Dawid en twee ander mans in Saul se laer in gesluip. (1 Sam 26:3-11)

1 Sam 26:9 Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf? 

Dit het Dawid nie egter gekeer om Saul te bestraf nie.  Daarna het Saul hom bekeer en gesê hy het soos ‘n dwaas gehandel (v23).

1 Sam 26:23 Die HERE tog vergeld aan elkeen sy regverdigheid en sy getrouheid--die HERE het u vandag in my hand gegee, maar ek wou nie my hand teen die gesalfde van die HERE uitsteek nie. 

2 Sam 1:16 En Dawid het vir hom gesê: Jou bloed is op jou hoof, want jou mond getuig teen jou, omdat jy sê: Ek het die gesalfde van die HERE gedood.

Die Bybel is baie duidelik, om die gesalfde van die Here aan te raak, beteken om hom fisies te beseer of dood te maak.

Natan het vir Dawid, die Gesalfde, tereggewys oor sy sonde.  Dawid het nie gesê, “jy mag niks teen die gesalfdes sê” om homself te beskerm nie.


Is God se "gesalfdes" verby enige kritiek?

Kan Christene God se “gesalfde” se leringe bevraagteken?  Diegene wat aanspraak maak op so ‘n salwing sê gewoonlik, nee en hulle volgelinge reageer met, “jy mag niks teen ‘n gesalfde sê nie.”  Hulle sê dat jy die gevolge daarvan sal dra.

Kennith Copeland het gesê:

(Why All Are Not Healed) "There are people attempting to sit in judgment right today over the ministry that I'm responsible for, and the ministry that Kenneth E. Hagin is responsible for....Several people that I know had criticized and called that faith bunch out of Tulsa a cult. And some of 'em are dead right today in an early grave because of it, and there's more than one of them got cancer."

Daar is leiers wat sê hulle het ‘n unieke gawe en roeping wat hulle onvoorwaardelike gesag gee.  Om hulle woorde of dade teë te gaan is soos om God self teë te gaan.

Hulle verwys gewoonlik na Psa 105:15, maar ons het reeds gesien dat dit niks daarmee te doen het om die leringe van die kerkleiers uit te daag nie.

In die Ou Testament het die gebruik van “die Here se gesalfde” verwys na die konings van Israel (1 Sam 12:3, 5; 24:6, 10; 26:9, 11, 16, 23; 2 Sam 1:14, 16; 19:21; Psa 20:6; Klaag 4:20), by tye na die koninklike geslag van Dawid (Psa 2:2; 18:50; 89:38, 51), en nie na profete en leraars nie.

Alhoewel Psa 105:15 ook profete noem, verwys dit ongetwyfeld na die patriage in die algemeen (v8:15; 1 Kron 16:15-22) en veral Abraham (God het hom geroep as profeet – Gen 20:7)

Kan hierdie tekste toegepas word op die leiers van die kerk?  Al sou ‘n mens dit kon toepas op hulle, sê die konteks vir ons dat “raak” en “doen geen kwaad nie” te doen het met fisiese besering of self die dood.

Selfs al interpreteer ons hierdie gedeelte verkeerd, hoe moet ons weet wie is hulle wat ons nie mag aanraak nie?  Wie is God se gesalfdes en profete?  Moet ons hulle nou glo omdat hulle en hulle volgelinge so sê?

Sun Myung Moon, Elizabeth Clare Prophet, en bykans alle kult leiers sê hulle is profete.  Doen hulle almal dan nie wonderwerke nie?

Op 13:13 Hy (die Antichris) doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. 

2 Thes 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 

God se verteenwoordigers word bo alles geken aan hulle karakter en leringe.

Tit 1:7 Want 'n opsiener moet as 'n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; 
8 maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; 
9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê. 

Tit 2:7 Betoon jou in alles 'n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid. 
8 Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie. 

2 Kor 4:2 Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan. 

1 Tim 6:3 As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 
4 dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het 'n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 

As ‘n spreker van God nie die Bybelse toets van karakter en leringe slaag nie, is daar geen gronde waarom ons so iemand se aanspraak kan aanvaar nie.  Ons hoef ook nie te vrees dat wanneer ons kritiek lewer oor hul leringe dat God ons sal verwerp nie.

Volgens 1 Joh 2:20 het alle gelowiges die salwing en kan geen mens daarop aanspraak maak dat hy ‘n spesiale status het as God se “onaangeraakte gesalfde” bo ander gelowiges nie.

Geen persoon se leringe of praktyke is bo enige bybelse oordeel nie.  Hoe groter die verantwoordelikheid wat jy het, hoe groter is die aanspreeklikheid wat jy het voor God en Sy mense. (Luk 12:48)

Jak 3:1 Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons 'n groter oordeel sal ondergaan. 

Leraars moet dankbaar wees dat opregte Christene hul met tye teregwys.  En wanneer die teregwysing nie grondig is nie, moet dit gehanteer word soos wat die Skrif van ons verwag.

2 Tim 2:25 Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, 


Verkeerde kritiek

Daar is egter ook verkeerde kritiek wat sondig kan wees en lei na rebellie en onnodige verdeeltheid.  Christene moet respek toon aan leiers wat God aan hulle gegee het (Heb 13:7), maar op dieselfde tyd moet hulle bewus wees van valse leiers wat uit hulle sal opstaan.

Hand 20:28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. 
29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 

2 Pet 2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring; 

Daarom moet ons alles toets met die Skrif, soos die Bereane in Hand 17:11.

Rom 16:17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. 
18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges. 

(1 Tim 1:3-4; 4:16; 2 Tim 1:13-14; Tit 1:9; 2:1; 2 Tim 4:6) 

2 Kor 1:21 Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God

Ons is saam in Christus bevestig en God HET ONS GESALF.  Dit is nie ‘n voortdurende gebeurtenis nie.  v22 sê Hy het ons ook verseël en die Gees as onderpand in ons harte gegee.  Wanneer gebeur dit?  By wedergeboorte.

Heb 1:9 U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle;

Dit praat van Jesus wat deur God gesalf is.  Hy was gesalf as Messias.  Hy was gesalf as Koning.  Hy was gesalf as Priester.  Bo u metgeselle veronderstel dat Jesus bo al die konings wat gesalf was, verhewe is.  

 Vreugde-olie verwys na die feestelikheid wat gepaard gegaan het met die inwyding van ‘n Koning.


Salf die siekes

Jak 5:14 Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. 

Hier kry ons die enigste verwysing in die Nuwe Testament wanneer iemand fisies met olie gesalf is.  Al die ander verwysings in die Nuwe Testament spreek van die Heilige Gees wat in die gelowige kom woning maak by wedergeboorte.

Moet ‘n wedergeborene gereeld gesalf word met olie.  NEE.  Die Bybel sê, net as hy siek is. Jak 5:14

Meeste kommentare verwys na hierdie olie as 'n geneesmiddel van daardie tyd en sou dit verkeerd wees om te dink dat die salfolie een of ander magiese krag besit.  God het buitendien nie olie nodig om iemand gesond te maak nie.

Die Ou Testament

Die Hebreeuse woorde, “mekudesh lacha” beteken letterlik, “om eenkant te plaas” of “om te heilig”.  Ons sien dit toe Elisa vra vir Elia se mantel waarin hy vir hom sê, dit is nie myne om te gee nie.  Hy was gesê om te wag en sien of die Here dit op hom sal plaas (2 Kon 2:10).  As hy hom sien na die hemel toe weggeneem word, sal hy die seën ontvang.  Tog moes Elia eers weggaan voordat hierdie mantel op hom geplaas te word (2 Kon 13:21)

Wat sien ons oor die salwing in die Bybel?  Toe die salwing op Jesus neerdaal, het dit op Hom gerus en nie gekom en gegaan nie.  Jy sal nêrens vind dat die apostels sê dat die salwing oor hulle gekom het om wonderwerke te doen nie.  Hulle doping met die Heilige Gees was niks minder as ons sin vandag nie.  Ons het een en almal dieselfde Gees.

Of nog minder van ‘n dubbele porsie van die salwing of drie-dubbel porsie soos Benny Hinn daarop aanspraak maak nie.

Elisa het nie vir ‘n dubbele porsie van sy salwing gevra nie.

2 Kon 2:9 En nadat hulle deur was, sê Elía vir Elísa: Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word. En Elísa antwoord: Laat dan tog 'n dubbele deel van u gees op my kom. 

2 Kon 2:13 Daarna tel hy die mantel van Elía op wat van hom afgeval het, en hy draai om en gaan op die wal van die Jordaan staan; 

2 Kon 2:15 En die profete-seuns wat in Jérigo was, het dit op 'n afstand gesien en gesê: Die gees van Elía rus op Elísa! En hulle het hom tegemoetgekom en voor hom na die aarde gebuig 

Die mantel was sy outoriteit, en Elisa het gevra vir ‘n dubbele deel van Elia se outoriteit (van u gees – kleinletter “g”).  Vandag beteken dit om meer krag te hê of om ‘n onmiddelike ervaring te hê.  Dit is nie wat ons kry in die Skrif nie.

Elisa het ‘n dubbele porsie gehad, toe hy gelewe het en toe hy dood was.  Toe ‘n dooie persoon in sy graf gegooi is en dit sy gebeente aanraak, het die dooie persoon lewendig geword (2 Kon 13:21).  Dit was nie Elisa wat hom lewendig gemaak het nie, maar God.  Elisa was dood en het niks daarmee te doen gehad nie.  Dit was ‘n opwekking en nie ‘n neerval (in die Gees) nie, maar ‘n opwekking van die dood tot nuwe lewe.  Dit is wat ware salwing doen.

As Elisa gesalf was soos vandag geleer word, sou hy nie dood gegaan het nie en lewendig gebly het.  Hy self sou uit die dood uit opgestaan het vanweë sy dubbele salwing.

Elisa het ‘n profetiese amp gehad vir ongeveer vyftig jaar, toe hy op die ouderdom van tagtig sterf aan ‘n siekte (2 Kon 13:14).  Die doel was om sy bediening te bevestig.  Hy het die mantel ontvang by Elia, wat nooit gesterf het nie, wat spreek van outoriteit wat nie deur Elia oorgedra is aan hom nie, maar deur God.

Sy bediening was dubbel as sy voorganger Elia.  Beide het unieke onderwerke gehad in hul bediening, maar Elisa het iemand gehad wat uit die dood opgewek is.  Die verskil tussen Elia en Elisa was dat die een was weggeneem en het nooit die dood gesien nie, maar Elia het die dood gesien en tog het hy lewe gegee aan iemand ander in sy dood.

Hierdie wonderwerk van Elisa is groter as enige wonderwerk in sy leeftyd.  Dit het gedien as ‘n bevestiging vir sy onvervulde profesië, oor Israel se oorwinning oor Sirië.  Israel was depresief, en hierdie wonderwerk het hulle nuwe moed gegee.  Dit is wat ook bedoel word met die dubbele porsie.  Daar is nie ‘n dubbele porsie vandag nie.  Ons almal deel in dieselfde salwing soos Hy in ons is.

 
Valse salwing

Vandag is daar predikers wat gelowiges uitnooi om 'n salwing te kry deur middel van handoplegging of deur hulle met olie te salf.  Dit is egter onbybels en kan lei tot ernstige misleiding en sulke praktyke moet ten all koste vermy word.  Gelowiges besit reeds die salwing deur die Heilige Gees wat in hulle bly. 


Tuesday 26 March 2013

Die swaard van die Gees


Ef 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Ons kyk dan vandag na die laaste deel van die wapenrusting, die swaard van die Gees.

John Wesley het gesê,

"The Bible must have been written by God or good men or bad men or good angels or bad angels...But bad men and bad angels wouldn't write it because it condemns bad men and bad angels. And good men and good angels wouldn't deceive by lying as to its authority and claiming that God wrote it...And so the Bible must have been written as it claims to have been written by God who by His Holy Spirit inspired men to record His words using the human instrument to communicate His truth." 

Verstaan ons werklik wat dit ten volle beteken om die swaard van die Gees te hê?  Hierdie ongeloooflike, ongeëwenaarde en onvergelykbare boek is die finale wapen in die wapenrusting wat aan die gelowige gegee is in sy stryd teen satan en sy bose magte.

Die hartseer is dit dat soveel Christene weet nie regtig hoe om die swaard van die Gees te gebruik nie.  En daarom word hulle ‘n slagoffer van Satan se leuens.  Besef ons regtig waste boek is dit?  

Watter aansprake maak die Bybel oor homself?  

Eerstens, die Bybel maak daarop aanspraak dat dit onfeilbaar is.  Dit beteken dat in sy totaliteit, in sy geheel is daar geen foute nie.  Die hele Bybel is onfeilbaar.

Psa 19:7 Die wet van die HERE is volmaak...

Dit is volmaak, dit is onfeilbaar.  Tweedens is die Bybel in sy kleiner eenhede foutloos.

Spr 30:5 Elke woord van God is gelouter; Hy is ‘n skild vir die wat by Hom skuil. 

Elke woord is gelouter.  Die engels sê, every word of God is pure.  Elke woord is suiwer.  

Spr 30:6 Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ‘n leuenaar openbaar word nie. 

Maw die hele Bybel is onfeilbaar in geheel en foutloos in elke woord.

Derdens maak die Bybel daarop aanspraak dat dit volkome is.

Op 22:18 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 
19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. 

Maw jy kan niks byvoeg of wegneem nie.  Die Bybel is volkome.  Die Bybel is kompleet.

Vierdens is die Bybel gesaghebbend.  Hoekom?  Want dit is God se Woorde en wanneer God praat beter ons luister.

Jes 1:2 Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek...

Wanneer God praat dan moet die hemele en die aarde luister.  En vyfdens is die Bybel genoegsaam.

2 Tim 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 
17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. 

Die Bybel is genoeg om die mens te bring tot redding en dit is genoeg om hom te bring tot volmaaktheid.  Jy het niks meer as dit nodig nie.  So die Bybel is onfeilbaar in sy geheel, foutloos in elke woord, volkome, gesaghebbend en genoegsaam.

Sesdens is die Bybel effektief.  Die Bybel verander dinge.  Die Woord van God transformeer.

Jes 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur. 

Die Woord van God is altyd effektief.  Luister! As ek dit nie geglo het nie, sou ek dit nie gepreek het nie.  Die rede hoekom ek dit preek is omdat ek dit glo en omdat ek glo dit sal doen wat dit sê.

Sewe, dit is goddelik.

2 Pet 1:21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. 

Die Bybel is God se boek.  ‘n Boek wat onveilbaar is, foutloos, volkome, gesaghebbend, genoegsaam, effektief en goddelik, is ‘n boek wat ons moet koester.  Ons moet dit bewaar.

Vir nog ‘n rede is die Bybel beslissend.  Die wyse waarop jy met die Bybel werk, openbaar jou verhouding met God.

Joh 8:47 Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie. 

As jy na God se Woord luister wys dit net dat jy aan God behoort.  As jy nie luister na die Woord nie, dan is dit ‘n bewys dat jy nie aan God behoort nie.  Daarom is dit beslissend.  Jou ewige eindbestemming hang van hierdie boek af.  Daar is geen ander boek in die wêreld wat hierdie aansprake kan maak en motiveer nie.

Wat beteken die Bybel vir jou?  Wat offer die Bybel aan jou?  Watse bron is die Bybel vir jou?  Kom ek vertel jou:

Eerstens, die Bybel is die bron van waarheid.  As daar enigiets waarna ons samelewing opsoek is, is dit die waarheid, is dit nie?  Mense is opsoek na die waarheid.  En hulle is so sinies soos wat Pilatus was toe hy gesê het, “wat is waarheid?”.  Maar toe draai hy om, sonder om die antwoord te kry.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. 

Dit is die waarheid oor die lewe, die waarheid oor die dood, die waarheid oor tyd en ewigheid.  Die waarheid oor die hemel en hel, oor wat reg en verkeerd is, die waarheid oor man en vrou, oor oud en jonk, oor kinders, gemeenskap, die waaheid oor elke verhouding tussen God en mens, tussen mens en mens, tussen mens en die skepping.  Elke geestelike waarheid wat ons moet weet.

Tweedens is die Bybel die bron van geluk.  Die wêreld om ons jaag na geluk en hulle soek dit op allerhande plekke, maar die Bybel sê vir ons,

Spr 8:34 Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou. 

Luk 11:28 En Hy sê: Ja, maar salig (geseend of gelukkig) is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar. 

Geen mens is gelukkiger as hy/sy wat die waarheid ontdek nie.  

Derdens is die Bybel die bron van groei.  Die lewe gaan alles oor groei.  Maar hier gaan dit om te groei in die kennis van die woord van God.

2 Pet 3:18 Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus...

KJV - But grow in grace, and in the knowledge of our Lord and Saviour Jesus Christ...

Hoe groei ‘n mens in die genade en kennis van Jesus Christus?  Die Woord van God.  Die Bybel is die bron van groei.

1 Pet 2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, 

Die Bybel is ook dan die bron van krag.  As ons nie die Woord van God gebruik nie, is ons magteloos.  Die Bybel is ons bron van krag.  Die Woord is lewendig en kragtig en skerper as ‘n tweesnydende swaard.

Vyfdens is die Bybel ons bron van leiding.

Psa 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. 

Die Bybel is ons bron van vertroosting.  Die Bybel is ons bron van volmaaktheid.  Dit is die bron van so baie dinge.  Dit is ‘n ongelooflike boek met geen foute.  Dit is altyd genoegsaam en volkome.  Dit is gesaghebbend, effektief en beslissend.  Dit gee waarheid, geluk, groei, krag en leiding, vertroosring en volmaaktheid.

En dan ‘n baie belangrike waarheid.  Die Bybel is die bron van jou oorwinning oor die vyand.  En daarmee kom ons dan by ons teksgedeelte in Ef 6:17.  Dit is die swaard van die Gees wat die Woord van God is waarmee ons die vyand kan oorwin.  Dit is hoekom ek besluit het om die Woord te preek en nie allerhande mooi storietjies wat jou net laat beter voel, maar op die ou einde jou niks help nie.

So week na week preek ons die Woord en leer ons die waarheid.  Hoekom?  Want dit is die bron van waarheid, dit is die bron van geluk, dit is die bron van groei, dit is die bron van krag, dit is die bron van leiding, dit is die bron van vertroosting, dit is die bron van volmaaktheid en dit is die bron van oorwinning.

Ons het gekyk na al die ander dele van die wapenrusting, maar nou kom ons by die swaard van die Gees, dit is die Woord van God.  Nou al die ander dele van die wapenrusting was primêr jouself te verdedig, maar die swaard van die Gees is vir beide verdediging en aanval.

Die Griekse woord vir swaard is die woord “makaira” en dit is ‘n baie algemene woord in Grieks.  Dit is nie ‘n groot swaard nie, maar eerder net ‘n gewone swaard wat so 40-50 cm lank is.  Soldate het dit gebruik in naby gevegte.

Dit is dieselfde woord wat gebruik word in Matt 26:47 waar die Romeinse soldate Jesus wou gevange kom neem en Petrus met ‘m “makaira” toe een van die diensknegte se oor afgekap het.  Dit is ook dieselfde woord in Hand 12:2, die swaard waarmee Jakobus, die broer van Johannes doodgemaak is.

So dit was nie ‘n groot swaard nie, maar eerder ‘n swaard wat so 40-50cm is.  En die Romeinse soldate het dit elke dag gebruik.  Petrus sou nie net die ou se oor afgekap het as dit ‘n groot swaard was nie.  Die woord “makaira” kan ook met dolk of mes vertaal word.  Dit is die tipe swaard wat Paulus in gedagte gehad het.

Let op!  V17 sê dit is die swaard van die Gees, “tou pneumatos”.  Dit kan ook vertaal word met die swaard deur die Gees of die geestelike swaard.  Dit sou ook aansluit by 2 Kor 10:4 wat sê dat ons wapens is nie vleestelik nie, maar geestelik.  Ons wapens is geestelik, want dit is wapens wat deur die Gees is.  So ons swaard is ‘n geestelike swaard, want dit is ‘n swaard van of deur die Gees.

Die feit dat v12 sê, ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede en magte, teen die bose geeste sê vir ons dat die swaard waarmee ons veg is ‘n geestelike swaard.  In werklikheid is al die dele van die wapenrusting geestelik.

“to pneumatos” word in Ef 1:3 en 5:19 so vertaal wanneer dit praat van alle geestelike seëninge en geestelike liedere.  So die meer korrekte vertaling is die geestelike swaard.  Dit is ‘n geestelike swaard, want dit is die Gees wat dit aan ons gegee het.

Nou toe jy ‘n Christen geword het, het jy die swaard van die Gees ontvang, maar in watter sin?  Ongelowiges het ook ‘n Bybel.  Maar hulle het nie die iwonende Heilige Gees wat hulle leer nie, wat die Bybel vir hulle oopmaak nie.  Dit is hoekom 1 Joh 2 sê,

1 Joh 2:20 En julle het die salwing van die Heilige en weet alles. 

Ons het ‘n inwonende onderwyser wat ons die waarheid leer.  Dit is die Gees van God in die gelowige se lewe wat die Woord van God aan hom beskikbaar maak.  So wanneer jy ‘n gelowige word, ontvang jy die woord van God en die Gees van God en saam is dit jou swaard.  So jy ontvang die swaard wanneer gered word.

Maar nou moet ons leer hoe om hierdie swaard te gebruik.  En elk Christen het die swaard van die Gees.  Jy het die Bybel, maar jy het ook die inwonende Gees en dit is ‘n geestelike swaard.  Dit is jou wapen.  Jy moet net leer hoe om dit te gebruik.

En om te leer hoe om die swaard te gebruik hang af van hoe ywerig jy betrokke raak om die Woord van God te bestudeer.  Daarom het Paulus vir 3 jaar in Efese tyd spandeer en gesê, 

Hand 20:27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 

Hoekom?  Want hy wou hulle leer hoe om die swaard te gebruik.  Hy wou hulle die hele raad van God gee, sodat hulle in staat kon wees om dit effektief te gebruik.  Dit is so kragtig dat niks teen dit kan opstaan nie en niks dit kan oorweldig nie.

Rom 1:16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo...

Jy swaai die swaard en mense word gered.  Jy gebruik die swaard om siele weg te skeur van die koningkryk van die duisternis af.  Met die swaard sny jy ‘n pad oop deur die middel van Satan se heerskappy.  Die swaard is kragtig.

Dit kan gebruik word in oordeel.

Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. 

Die Griekse woord vir “beoordeelaar” is die woord “krino” wat beteken om te oordeel deur al die bewyse uit te sif.  Die Woord van God is dit wat mense oordeel.  Wanneer jy die Woord van God verkondig, bring dit God se oordeel op hulle lewe.  Hulle lewens word geweeg op God se skaal, sodat hulle die realiteit van hulle sondes kan sien.  Die volgende vers sê,

Heb 4:13 En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het. 

So die Woord van God kom soos ‘n swaard en sny mense se harte oop, en sif die bewyse uit en wys vir hulle hulle sondes en skuld voor ‘n heilige God.  Dit is ‘n kragtige wapen.

Die Woord is kragtig, dit bring waarheid waar daar dwalinge is.  Dit bring geluk waar daar hartseer is.  Dit bring lig waar duisternis is om so vir jou die weg aan te wys.  Dit kan jou hartseer is blydskap verander.  Dit kan jou laat groei.  Dit is die swaard wat jy in hande vashou.  Die swaard van die Gees.

Met hierdie swaard verderdig ons en val ons aan.  

Eerstens gebruik jy hierdie swaard om jouself te verdedig teen aanvalle.  Die duiwel kom en val jou aan met versoekinge.  En jy het die skild van geloof om hierdie vurige pyle van die Bose uit te blus, maar jy kan ook sy aanvalle met die regte gebruik van die swaard afweer.

Ons sien in Matt 4 en Luk 4 toe die duiwel vir Jesus drie keer versoek het in die woestyn.  Waarmee het Jesus sy versoekinge oorwin?  Daar staan geskrywe.  Die eerste versoeking was, moenie God vertrou nie, verander hierdie klippe in brode.  Moenie wag totdat God in jou behoeftes voorsien nie, doen dit self.  Jesus sê, daar staan geskrywe.

Die duiwel kom ‘n tweede keer, “Spring van die tempel se dak af.”  Jesus antwoord hom met Skrif.  Daar is ook geskrywe.  En ‘n derde keer, “val neer en aanbid my”.  Jesus antwoord, daar is geskrywe.  En Jesus het geweet hoe om die Skrif te gebruik.  Hy het regte Skrifte aangehaal om die spesifieke versoekinge af te weer.

Jy moet weet hoe om die Bybel te gebruik.  Daar is te veel Christene wat Bybels het, sit Sondag vir Sodag in ‘n kerk en luister na die Woord en lees selfs hulle Bybel, maar hulle weet nie hoe om dit te gebruik nie.  Daarom kan hulle nie die aanvalle van die duiwel afweer nie.

En die duiwel slaan jou gewoonlik daar waar jy nog onkundig is.  As jy net geweet het wat die Bybel oor ‘n sekere ding leer nie, sou jy nie geval het vir daardie versoeking of sou jy nie gedoen het wat jy gedoen het nie.  So gebruik die geestelike swaard om jou te verdedig.  Leer hoe om dit te gebruik.

Ef 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

“dit is die woord van God”.  Die Griekse woord wat hier gebruik word is nie “logos” nie.  Logos is ‘n woord wat meer algemeen gebruik word.  Die woord van hier gebruik word is “rhema” en dit is iets meer spesifieks.  So wanneer jy nie weet wat die Woord van God spesifieks sê ook die spesifieke versoeking nie, gaan jy nie daarmee kan deel nie.

So jy moet die hele raad van God leer ken, sodat jy met spesifieke dinge kan deel.  Jy moet die beginsels van God se Woord leer.

2 Tim 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. 

Dit is hoe jy Satan gaan oorwin in die geestelike oorlog.  Dit is hoe jy jouself verdedig.

Tweedens gebruik ons die swaard om aan te val.  Ons verdedig nie net onsself nie, maar ons val ook aan met die swaard.  En wanneer ons die Woord van God preek is ons besig om aan te val.  Ons is besig om die duisternis aan te val.

Elke keer as ons die evangelie aan ongeredde mense verkondig is ons besig om die koninkryk van die duisternis aan te val.  En wanneer iemand tot bekering kom, het ons ‘n pad gesny deur die middel van Satan se koninkryk.

Wanneer jy opstaan en die Woord van God verkondig, dit aan jou kinders leer, met jou vriende daaroor praat, by die werk daaroor praat, is die swaard van die Gees in jou hande besig om die koninkryk van Satan aan te val.  Jy is besig om teen die wêreldse sisteem te gaan.

Nou die duiwel weet dat die Woord is effektief en daarom gaan hy jou probeer stop.  Hy sal alles probeer om jou stil te maak.  In Matt 13 kry ons die gelykenis van die saaier.  ‘n Deel van die saad het op die pad geval en die voëls het gekom en dit opgeëet.

Matt 13:19 As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is. 

So wanneer iemand die Woord verkondig, dan kom die duiwel en steel dit wat gesaai is.  Hoekom?  Want hy weet dat die Woord effektief is.  Hy weet watter krag daar is in die Woord.  Hy wil ook nie hê jy moet die saad saai nie, want hy weet as jy saai gaan daar goeie grond wees waarop dit val en gaan dit vrug dra.

Die rede waarom ek die Woord van God aanhou preek is omdat ek weet dat iewers is daar goeie grond en weet ek dat dit gaan iemand se lewe verander.  Wat ook wonderlik is om te weet is dat die Woord van God nooit leeg sal terug keer nie.  Of dit veroordeel die persoon wat dit hoor of dit bring hom tot redding.

Luister!  Mense se woorde sal nooit enige impak hê teen die koninkryk van die duisternis nie.  Net die Woord van God.  Die oomblik wat jy menslike wyshede byvoeg of vermeng met God se Woord, maak jy dit kragteloos.  Die oomblik wat jy iets byvoeg en wegvat, maak jy dit kragteloos.

Ons moet die Woord van God ken, ons moet weet hoe om die swaard te gebruik, sodat ons onsself kan verdedig en sodat ons ook kan aanval.

1 Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; 

KJV - But sanctify the Lord God in your hearts: and be ready always to give an answer to every man that asketh you a reason of the hope that is in you with meekness and fear: 

Jy moet altyd gereed wees om ‘n antwoord te kan gee oor die hoop wat in jou is.  Ons moet die Woord bestudeer.  Ons moet die Woord ken.  Baie mense het ‘n Bybel, maar hulle het nie swaard van die Gees nie.  Baie Christene besit soveel Bybel vertalings, maar hulle weet nie hoe om die swaard van die Gees te gebruik nie.

Hoe hanteer jy God se Woord?  Hoe hanteer jy die swaard van die Gees?

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288