Tuesday 26 March 2013

Die swaard van die Gees


Ef 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Ons kyk dan vandag na die laaste deel van die wapenrusting, die swaard van die Gees.

John Wesley het gesê,

"The Bible must have been written by God or good men or bad men or good angels or bad angels...But bad men and bad angels wouldn't write it because it condemns bad men and bad angels. And good men and good angels wouldn't deceive by lying as to its authority and claiming that God wrote it...And so the Bible must have been written as it claims to have been written by God who by His Holy Spirit inspired men to record His words using the human instrument to communicate His truth." 

Verstaan ons werklik wat dit ten volle beteken om die swaard van die Gees te hê?  Hierdie ongeloooflike, ongeëwenaarde en onvergelykbare boek is die finale wapen in die wapenrusting wat aan die gelowige gegee is in sy stryd teen satan en sy bose magte.

Die hartseer is dit dat soveel Christene weet nie regtig hoe om die swaard van die Gees te gebruik nie.  En daarom word hulle ‘n slagoffer van Satan se leuens.  Besef ons regtig waste boek is dit?  

Watter aansprake maak die Bybel oor homself?  

Eerstens, die Bybel maak daarop aanspraak dat dit onfeilbaar is.  Dit beteken dat in sy totaliteit, in sy geheel is daar geen foute nie.  Die hele Bybel is onfeilbaar.

Psa 19:7 Die wet van die HERE is volmaak...

Dit is volmaak, dit is onfeilbaar.  Tweedens is die Bybel in sy kleiner eenhede foutloos.

Spr 30:5 Elke woord van God is gelouter; Hy is ‘n skild vir die wat by Hom skuil. 

Elke woord is gelouter.  Die engels sê, every word of God is pure.  Elke woord is suiwer.  

Spr 30:6 Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ‘n leuenaar openbaar word nie. 

Maw die hele Bybel is onfeilbaar in geheel en foutloos in elke woord.

Derdens maak die Bybel daarop aanspraak dat dit volkome is.

Op 22:18 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 
19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. 

Maw jy kan niks byvoeg of wegneem nie.  Die Bybel is volkome.  Die Bybel is kompleet.

Vierdens is die Bybel gesaghebbend.  Hoekom?  Want dit is God se Woorde en wanneer God praat beter ons luister.

Jes 1:2 Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek...

Wanneer God praat dan moet die hemele en die aarde luister.  En vyfdens is die Bybel genoegsaam.

2 Tim 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 
17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. 

Die Bybel is genoeg om die mens te bring tot redding en dit is genoeg om hom te bring tot volmaaktheid.  Jy het niks meer as dit nodig nie.  So die Bybel is onfeilbaar in sy geheel, foutloos in elke woord, volkome, gesaghebbend en genoegsaam.

Sesdens is die Bybel effektief.  Die Bybel verander dinge.  Die Woord van God transformeer.

Jes 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur. 

Die Woord van God is altyd effektief.  Luister! As ek dit nie geglo het nie, sou ek dit nie gepreek het nie.  Die rede hoekom ek dit preek is omdat ek dit glo en omdat ek glo dit sal doen wat dit sê.

Sewe, dit is goddelik.

2 Pet 1:21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. 

Die Bybel is God se boek.  ‘n Boek wat onveilbaar is, foutloos, volkome, gesaghebbend, genoegsaam, effektief en goddelik, is ‘n boek wat ons moet koester.  Ons moet dit bewaar.

Vir nog ‘n rede is die Bybel beslissend.  Die wyse waarop jy met die Bybel werk, openbaar jou verhouding met God.

Joh 8:47 Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie. 

As jy na God se Woord luister wys dit net dat jy aan God behoort.  As jy nie luister na die Woord nie, dan is dit ‘n bewys dat jy nie aan God behoort nie.  Daarom is dit beslissend.  Jou ewige eindbestemming hang van hierdie boek af.  Daar is geen ander boek in die wêreld wat hierdie aansprake kan maak en motiveer nie.

Wat beteken die Bybel vir jou?  Wat offer die Bybel aan jou?  Watse bron is die Bybel vir jou?  Kom ek vertel jou:

Eerstens, die Bybel is die bron van waarheid.  As daar enigiets waarna ons samelewing opsoek is, is dit die waarheid, is dit nie?  Mense is opsoek na die waarheid.  En hulle is so sinies soos wat Pilatus was toe hy gesê het, “wat is waarheid?”.  Maar toe draai hy om, sonder om die antwoord te kry.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. 

Dit is die waarheid oor die lewe, die waarheid oor die dood, die waarheid oor tyd en ewigheid.  Die waarheid oor die hemel en hel, oor wat reg en verkeerd is, die waarheid oor man en vrou, oor oud en jonk, oor kinders, gemeenskap, die waaheid oor elke verhouding tussen God en mens, tussen mens en mens, tussen mens en die skepping.  Elke geestelike waarheid wat ons moet weet.

Tweedens is die Bybel die bron van geluk.  Die wêreld om ons jaag na geluk en hulle soek dit op allerhande plekke, maar die Bybel sê vir ons,

Spr 8:34 Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou. 

Luk 11:28 En Hy sê: Ja, maar salig (geseend of gelukkig) is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar. 

Geen mens is gelukkiger as hy/sy wat die waarheid ontdek nie.  

Derdens is die Bybel die bron van groei.  Die lewe gaan alles oor groei.  Maar hier gaan dit om te groei in die kennis van die woord van God.

2 Pet 3:18 Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus...

KJV - But grow in grace, and in the knowledge of our Lord and Saviour Jesus Christ...

Hoe groei ‘n mens in die genade en kennis van Jesus Christus?  Die Woord van God.  Die Bybel is die bron van groei.

1 Pet 2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, 

Die Bybel is ook dan die bron van krag.  As ons nie die Woord van God gebruik nie, is ons magteloos.  Die Bybel is ons bron van krag.  Die Woord is lewendig en kragtig en skerper as ‘n tweesnydende swaard.

Vyfdens is die Bybel ons bron van leiding.

Psa 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. 

Die Bybel is ons bron van vertroosting.  Die Bybel is ons bron van volmaaktheid.  Dit is die bron van so baie dinge.  Dit is ‘n ongelooflike boek met geen foute.  Dit is altyd genoegsaam en volkome.  Dit is gesaghebbend, effektief en beslissend.  Dit gee waarheid, geluk, groei, krag en leiding, vertroosring en volmaaktheid.

En dan ‘n baie belangrike waarheid.  Die Bybel is die bron van jou oorwinning oor die vyand.  En daarmee kom ons dan by ons teksgedeelte in Ef 6:17.  Dit is die swaard van die Gees wat die Woord van God is waarmee ons die vyand kan oorwin.  Dit is hoekom ek besluit het om die Woord te preek en nie allerhande mooi storietjies wat jou net laat beter voel, maar op die ou einde jou niks help nie.

So week na week preek ons die Woord en leer ons die waarheid.  Hoekom?  Want dit is die bron van waarheid, dit is die bron van geluk, dit is die bron van groei, dit is die bron van krag, dit is die bron van leiding, dit is die bron van vertroosting, dit is die bron van volmaaktheid en dit is die bron van oorwinning.

Ons het gekyk na al die ander dele van die wapenrusting, maar nou kom ons by die swaard van die Gees, dit is die Woord van God.  Nou al die ander dele van die wapenrusting was primêr jouself te verdedig, maar die swaard van die Gees is vir beide verdediging en aanval.

Die Griekse woord vir swaard is die woord “makaira” en dit is ‘n baie algemene woord in Grieks.  Dit is nie ‘n groot swaard nie, maar eerder net ‘n gewone swaard wat so 40-50 cm lank is.  Soldate het dit gebruik in naby gevegte.

Dit is dieselfde woord wat gebruik word in Matt 26:47 waar die Romeinse soldate Jesus wou gevange kom neem en Petrus met ‘m “makaira” toe een van die diensknegte se oor afgekap het.  Dit is ook dieselfde woord in Hand 12:2, die swaard waarmee Jakobus, die broer van Johannes doodgemaak is.

So dit was nie ‘n groot swaard nie, maar eerder ‘n swaard wat so 40-50cm is.  En die Romeinse soldate het dit elke dag gebruik.  Petrus sou nie net die ou se oor afgekap het as dit ‘n groot swaard was nie.  Die woord “makaira” kan ook met dolk of mes vertaal word.  Dit is die tipe swaard wat Paulus in gedagte gehad het.

Let op!  V17 sê dit is die swaard van die Gees, “tou pneumatos”.  Dit kan ook vertaal word met die swaard deur die Gees of die geestelike swaard.  Dit sou ook aansluit by 2 Kor 10:4 wat sê dat ons wapens is nie vleestelik nie, maar geestelik.  Ons wapens is geestelik, want dit is wapens wat deur die Gees is.  So ons swaard is ‘n geestelike swaard, want dit is ‘n swaard van of deur die Gees.

Die feit dat v12 sê, ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede en magte, teen die bose geeste sê vir ons dat die swaard waarmee ons veg is ‘n geestelike swaard.  In werklikheid is al die dele van die wapenrusting geestelik.

“to pneumatos” word in Ef 1:3 en 5:19 so vertaal wanneer dit praat van alle geestelike seëninge en geestelike liedere.  So die meer korrekte vertaling is die geestelike swaard.  Dit is ‘n geestelike swaard, want dit is die Gees wat dit aan ons gegee het.

Nou toe jy ‘n Christen geword het, het jy die swaard van die Gees ontvang, maar in watter sin?  Ongelowiges het ook ‘n Bybel.  Maar hulle het nie die iwonende Heilige Gees wat hulle leer nie, wat die Bybel vir hulle oopmaak nie.  Dit is hoekom 1 Joh 2 sê,

1 Joh 2:20 En julle het die salwing van die Heilige en weet alles. 

Ons het ‘n inwonende onderwyser wat ons die waarheid leer.  Dit is die Gees van God in die gelowige se lewe wat die Woord van God aan hom beskikbaar maak.  So wanneer jy ‘n gelowige word, ontvang jy die woord van God en die Gees van God en saam is dit jou swaard.  So jy ontvang die swaard wanneer gered word.

Maar nou moet ons leer hoe om hierdie swaard te gebruik.  En elk Christen het die swaard van die Gees.  Jy het die Bybel, maar jy het ook die inwonende Gees en dit is ‘n geestelike swaard.  Dit is jou wapen.  Jy moet net leer hoe om dit te gebruik.

En om te leer hoe om die swaard te gebruik hang af van hoe ywerig jy betrokke raak om die Woord van God te bestudeer.  Daarom het Paulus vir 3 jaar in Efese tyd spandeer en gesê, 

Hand 20:27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 

Hoekom?  Want hy wou hulle leer hoe om die swaard te gebruik.  Hy wou hulle die hele raad van God gee, sodat hulle in staat kon wees om dit effektief te gebruik.  Dit is so kragtig dat niks teen dit kan opstaan nie en niks dit kan oorweldig nie.

Rom 1:16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo...

Jy swaai die swaard en mense word gered.  Jy gebruik die swaard om siele weg te skeur van die koningkryk van die duisternis af.  Met die swaard sny jy ‘n pad oop deur die middel van Satan se heerskappy.  Die swaard is kragtig.

Dit kan gebruik word in oordeel.

Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. 

Die Griekse woord vir “beoordeelaar” is die woord “krino” wat beteken om te oordeel deur al die bewyse uit te sif.  Die Woord van God is dit wat mense oordeel.  Wanneer jy die Woord van God verkondig, bring dit God se oordeel op hulle lewe.  Hulle lewens word geweeg op God se skaal, sodat hulle die realiteit van hulle sondes kan sien.  Die volgende vers sê,

Heb 4:13 En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het. 

So die Woord van God kom soos ‘n swaard en sny mense se harte oop, en sif die bewyse uit en wys vir hulle hulle sondes en skuld voor ‘n heilige God.  Dit is ‘n kragtige wapen.

Die Woord is kragtig, dit bring waarheid waar daar dwalinge is.  Dit bring geluk waar daar hartseer is.  Dit bring lig waar duisternis is om so vir jou die weg aan te wys.  Dit kan jou hartseer is blydskap verander.  Dit kan jou laat groei.  Dit is die swaard wat jy in hande vashou.  Die swaard van die Gees.

Met hierdie swaard verderdig ons en val ons aan.  

Eerstens gebruik jy hierdie swaard om jouself te verdedig teen aanvalle.  Die duiwel kom en val jou aan met versoekinge.  En jy het die skild van geloof om hierdie vurige pyle van die Bose uit te blus, maar jy kan ook sy aanvalle met die regte gebruik van die swaard afweer.

Ons sien in Matt 4 en Luk 4 toe die duiwel vir Jesus drie keer versoek het in die woestyn.  Waarmee het Jesus sy versoekinge oorwin?  Daar staan geskrywe.  Die eerste versoeking was, moenie God vertrou nie, verander hierdie klippe in brode.  Moenie wag totdat God in jou behoeftes voorsien nie, doen dit self.  Jesus sê, daar staan geskrywe.

Die duiwel kom ‘n tweede keer, “Spring van die tempel se dak af.”  Jesus antwoord hom met Skrif.  Daar is ook geskrywe.  En ‘n derde keer, “val neer en aanbid my”.  Jesus antwoord, daar is geskrywe.  En Jesus het geweet hoe om die Skrif te gebruik.  Hy het regte Skrifte aangehaal om die spesifieke versoekinge af te weer.

Jy moet weet hoe om die Bybel te gebruik.  Daar is te veel Christene wat Bybels het, sit Sondag vir Sodag in ‘n kerk en luister na die Woord en lees selfs hulle Bybel, maar hulle weet nie hoe om dit te gebruik nie.  Daarom kan hulle nie die aanvalle van die duiwel afweer nie.

En die duiwel slaan jou gewoonlik daar waar jy nog onkundig is.  As jy net geweet het wat die Bybel oor ‘n sekere ding leer nie, sou jy nie geval het vir daardie versoeking of sou jy nie gedoen het wat jy gedoen het nie.  So gebruik die geestelike swaard om jou te verdedig.  Leer hoe om dit te gebruik.

Ef 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

“dit is die woord van God”.  Die Griekse woord wat hier gebruik word is nie “logos” nie.  Logos is ‘n woord wat meer algemeen gebruik word.  Die woord van hier gebruik word is “rhema” en dit is iets meer spesifieks.  So wanneer jy nie weet wat die Woord van God spesifieks sê ook die spesifieke versoeking nie, gaan jy nie daarmee kan deel nie.

So jy moet die hele raad van God leer ken, sodat jy met spesifieke dinge kan deel.  Jy moet die beginsels van God se Woord leer.

2 Tim 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. 

Dit is hoe jy Satan gaan oorwin in die geestelike oorlog.  Dit is hoe jy jouself verdedig.

Tweedens gebruik ons die swaard om aan te val.  Ons verdedig nie net onsself nie, maar ons val ook aan met die swaard.  En wanneer ons die Woord van God preek is ons besig om aan te val.  Ons is besig om die duisternis aan te val.

Elke keer as ons die evangelie aan ongeredde mense verkondig is ons besig om die koninkryk van die duisternis aan te val.  En wanneer iemand tot bekering kom, het ons ‘n pad gesny deur die middel van Satan se koninkryk.

Wanneer jy opstaan en die Woord van God verkondig, dit aan jou kinders leer, met jou vriende daaroor praat, by die werk daaroor praat, is die swaard van die Gees in jou hande besig om die koninkryk van Satan aan te val.  Jy is besig om teen die wêreldse sisteem te gaan.

Nou die duiwel weet dat die Woord is effektief en daarom gaan hy jou probeer stop.  Hy sal alles probeer om jou stil te maak.  In Matt 13 kry ons die gelykenis van die saaier.  ‘n Deel van die saad het op die pad geval en die voëls het gekom en dit opgeëet.

Matt 13:19 As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is. 

So wanneer iemand die Woord verkondig, dan kom die duiwel en steel dit wat gesaai is.  Hoekom?  Want hy weet dat die Woord effektief is.  Hy weet watter krag daar is in die Woord.  Hy wil ook nie hê jy moet die saad saai nie, want hy weet as jy saai gaan daar goeie grond wees waarop dit val en gaan dit vrug dra.

Die rede waarom ek die Woord van God aanhou preek is omdat ek weet dat iewers is daar goeie grond en weet ek dat dit gaan iemand se lewe verander.  Wat ook wonderlik is om te weet is dat die Woord van God nooit leeg sal terug keer nie.  Of dit veroordeel die persoon wat dit hoor of dit bring hom tot redding.

Luister!  Mense se woorde sal nooit enige impak hê teen die koninkryk van die duisternis nie.  Net die Woord van God.  Die oomblik wat jy menslike wyshede byvoeg of vermeng met God se Woord, maak jy dit kragteloos.  Die oomblik wat jy iets byvoeg en wegvat, maak jy dit kragteloos.

Ons moet die Woord van God ken, ons moet weet hoe om die swaard te gebruik, sodat ons onsself kan verdedig en sodat ons ook kan aanval.

1 Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; 

KJV - But sanctify the Lord God in your hearts: and be ready always to give an answer to every man that asketh you a reason of the hope that is in you with meekness and fear: 

Jy moet altyd gereed wees om ‘n antwoord te kan gee oor die hoop wat in jou is.  Ons moet die Woord bestudeer.  Ons moet die Woord ken.  Baie mense het ‘n Bybel, maar hulle het nie swaard van die Gees nie.  Baie Christene besit soveel Bybel vertalings, maar hulle weet nie hoe om die swaard van die Gees te gebruik nie.

Hoe hanteer jy God se Woord?  Hoe hanteer jy die swaard van die Gees?

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288