Monday 25 March 2013

Die helm van verlossing (vervolg)


Ef 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Ons het laas week begin kyk na die helm van verlossing.  Dit is nie ‘n opdrag om gered te word nie, want net gelowiges is in hierdie geestelike stryd gewikkel en dit veronderstel dat jy alreeds jou gordel van waarheid, die borswapen van geregtigheid en die skoene van die evangelie van vrede aan het.  En nou het jy die skild van geloof en dan die helm van verlossing.  

So hierdie opdrag, om die helm van verlossing aan te trek, is gegee vir die gelowiges wat reeds gered is.  So waarvoor is die helm van verlossing?  In kort is dit om die sekerheid van jou saligheid te beskerm teen moedeloosheid en ook teen twyfel.

Ons het laas week dan ook gekyk na die drievoudigheid van ons verlossing.  Jy is gered, jy word gered en jy sal gered word.  Jy is gered van die straf van sonde, maw jy is geregverdig.  Jy word gered van die mag van sonde, en dit is heiligmaking en jy sal gered word van die teenwoordigheid van sonde, en dit is verheerliking.  Volkome saligheid sluit dan al drie hierdie aspekte in en ons saligheid in die verlede, hede en toekoms is in God se hande, want die werk wat Hy begin het sal Hy voleindig.

So God begin die saligheids werk in jou lewe, en Hy is besig met jou elke dag en Hy sal jou op die ou einde verheerlik.  Saligheid is die werk van God en Hy het belowe Hy sal jou volkome red, verlede, hede en toekoms.  As jy nie die hemel eendag maak nie, is daar net twee opsies: Of God het nie Sy verlossingswerk in jou voltooi nie of jy was nooit gered nie.  So watter een is dit?  Jy was nooit gered nie.

As God jou red, dan sal Hy Sy werk in jou voltooi.  Hy belowe dit aan jou en moet daardie sekerheid van jou ewige saligheid hê.  Jy moet die helm van verlossing aantrek, die sekerheid van jou saligheid, hoekom?  Want die duiwel gaan probeer om jou te ontnugter of moedeloos maak en hy gaan twyfel in jou hart saai oor jou saligheid.  Hy wil hê jy moet in God se beloftes twyfel.

As jy glo dat ‘n gelowige weer verlore kan gaan, maak jy God ‘n leuenaar en sê dat Hy nie Sy werk sal voltooi wat hy begin het nie, en dat Hy nie Sy beloftes sal na kom nie.  Dit is in wese wat jy sê.  Of jy sê, dat jou saligheid is nie in God se hande nie, maar dit hang van jouself af.  Dit sou beteken dat jy nie uit genade gered is nie, maar uit jou eie werke.  Ons weet dit is nie die waarheid nie. 

Joh 6:28 Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? (maw, wat moet ons doen om God te vrede te stel?)
29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. 

Daar is baie Christene wat nie seker is of hulle die hemel gaan maak nie, want hulle glo die valse leraars wat vir hulle vertel dat hulle hul saligheid kan verloor as hulle sondig.  Maar wat sê die Bybel as ons sondig?

1 Joh 2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 
  
Hoekom?  Want Jesus het ons nie net verlos in die verlede nie, maar Hy is besig om ons te verlos van die mag van sonde elke dag.

So die duiwel wil jou op die kop kom slaan met sy groot swaard.  Hy wil twyfel in jou hart saai.  Hy kom vertel vir jou jy gaan dit nie maak nie?  Jy verdien dit nie.  Kyk wat het jy nou weer gedoen?    Dink jy God se kinders maak so? En hy kla jou gedurig aan.  So Christene word dan geslaan met twyfel en moedeloosheid.  Daarom moet jy die helm van verlossing aantrek om jou daarteen te beskerm.

Moedeloosheid

Kom ons kyk na 1 Konings 19, die storie van Elia.  Elia was soos die Petrus van die Ou Testament.  Eers op en dan af.  Elia het nou net ‘n groot oorwinning behaal, wat geen ander profeet al behaal het nie.  Hy het met sy swaard 450 Baal profete doodgeslaan.  ‘n Mens sou kon sê hy is ‘n wenner en hy is “on top of the world”, korrek?

Tog nie!  In hoofstuk 19 vertel Agab vir Isebel alles wat Elia gedoen het, hoe hy al die profete met ‘n swaard doodgemaak het.

1 Kon 19:2 Daarop stuur Isébel ‘n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen—sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle. 

Sy sê vir Elia dat sy hom gaan doodmaak.  Eerstens was sy ‘n vrou, en ook ‘n Baal aanbidder.  Nou as Elia 450 Baal profete kon “handle”, wat is een vrou?  Wat doen Elia?  Hy vlug na Berseba.

1 Kon 19:3 Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; 
4 maar self het hy ‘n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ‘n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. 

Hy het nou genoeg gehad!  Hy was moedeloosheid.  Hy wil eerder sterf.  Hy gaan lê onder ‘n besembos.  En ‘n engel kom en raak aan hom en sê, “staan op en eet”.  Hy kyk toe op en sien ‘n broodkoek en water.  Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.

Die engel raak toe weer aan hom en sê, “staan op en eet, anders is die pad te lank”.  Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink en dit het hom krag gegee vir 40 dae en 40 nagte.  Wow!  Ek soek van daai engel kos.  Elia kom toe by die berg van Horeb, en die Here vra vir hom, “wat soek jy hier?”  Elia kla en is moedeloos.  Hy sê, “ek het geywer vir U, maar die kinders van Israel het u verbond verlaat.”

Die Here sê vir hom, “gaan terug na Damaskus.  Gaan salf al hierdie ouens as konings en profete.  Ek sal 7000 in Israel laat oorbly wat die knie nie voor Baal sal buig nie.  Gaan terug en doen wat jy moet doen”.  En hy het gegaan.

Dit is so maklik om moedloos te raak.  Dit is so maklik om te wil opgee.  Selfs net wanneer jy gedink het jy is “on top of the world” gebeur daar iets en jy is moedeloos en begin vra, waar is die Here, het Hy my vergeet?

Ef 3:13 Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukkinge ter wille van julle nie. Dit is julle eer. 

Dit gebeur soms dat jy moedeloos kan raak met ander se probleme en nie noodwendig jou eie nie.

Gal 6:9 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 

En so kan ons aangaan.  Hoe lank moet ek sukkel om van hierdie probleem ontslae te raak?  Hoe lank moet ek sukkel om hierdie sonde in my lewe te oorwin?  Ek is moeg en moedeloos.  Die duiwel gee net nie op nie.

Matthew Arnold het gesê, "For now in blood and battle was my youth, and full of blood and battle is my age and I shall end this life in battle." 

Gaan dit ooit ophou?  Wel Paulus het aan die einde van sy lewe gekom en gesê,

2 Tim 4:7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. 

In Hand 20 het hulle vir Paulus gesê, as jy na Jerusalem toe gaan, gaan hulle jou in boeie sit en gevange neem.  Paulus sê toe,

Hand 20:24 Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. 

Hy het net nie opgegee nie.  In Open 2 kry ons hierdie goeie woorde wat die Here gee oor die Efese gemeente:

Op 2:3 ...dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie. 

So wat is die helm van verlossing?  Byt vas, verdra, wees lankmoedig, bly gehoorsaam, moenie opgee nie.  Die finale oorwinning is joune.  Daar is vir jou ‘n ewige heerlikheid voor.  Moenie in die dag vir dag oorlog gaan lê en moedeloos word nie.  Stry die goeie stryd.  Jy het ‘n ewige hoop.  Hou jou oë gevestig op Jesus, die Leidsman en die Voleinder van jou geloof.

Rom 13:11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. 

Julle saligheid is nader by julle as toe julle gelowig geword het.  Watter saligheid is dit?  Die verlossing van die teenwoordigheid van sonde.  Die verheerliking.  Sit jou helm op!  Byt vas!  Die einde het nader gekom.  Moenie moedeloos word nie.  Moenie nou opgee nie.  Ons is naby die eindstreep.

En daar was Job.  So opregte ou.  Hy het die Here gedien.  Maar hy het alles verloor.  Tog het hy vasgebyt.  

Luk 18:1 En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.

En verseker gaan die duiwel jou slaan met sy swaard van moedeloosheid.  Hy wil hê jy moet opgee en gaan lê.  Die helm van verlossing help my om nie te gaan lê nie.  Dit help my om nie op te gee nie.  Dit help jou om nie moedeloos te word nie.  

Hoekom?  Want jy het ‘n ewige hoop.  Daar is lig aan die einde van die tonnel.  Jy wil aan die einde van die oorlog staan en sê, “ek het die goeie stryd gestry, ek is vol wonde en seerplekke, maar dit was die moeite werd, ek het die geloof behou”.

In Openbaring 2 & 3 word herhaal, “aan hom wat oorwin, gee Ek”, “aan hom wat oorwin, gee Ek.”  Maw, God het spesiale dinge vir die wat oorwin.  En onthou Timotheus.  Toe hy moeilikheid kry, toe was hy ontmoedig.  Hy was jonk en versoek met die begeerlikeheid van jonkheid en hy het moeg geraak daarvoor.

Omdat hy ook jonk was, het mense hom verag en gesê, “wat weet jy”.  Ons lees ook dat hy herhaaldelik ontsteld was, só dat Paulus vir hom gesê het om ‘n bietjie wyn te drink vir sy maag.  Hy was ook verleë oor Paulus omdat hy so gereeld in die tronk was, en was ongelukkig omdat mense gesê het hy is ‘n dissipel van daardie tronkvoël.

Nog meer het daar valse leraars gekom in die Efese gemeente en die dwalinge wat hulle verkondig het was baie gesofistekeerd en Timotheus het nie geweet hoe om dit te hanteer nie.  Dan was daar filosofie en nietige misleiding en die geslagsregisters en Timotheus wat eenvoudig net verdrink was in ‘n see van dinge wat hom ontmoedig.

Paulus skryf aan Timotheus en sê, wakker die genadegawe van God aan.  God het ons nie gegee ‘n gees van vreesagtigheid nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.  Paulus probeer hom aanmoedig.

Petrus sê dieselfde ding vir sy lesers wat vervlog word.  Hy sê, 

1 Pet 3:17 Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen. 

Hy sê dit is beter as julle ly wanneer julle goed doen.

1 Pet  4:19 So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade. 

Jy sê, maar soms word jy moeg.  Dis reg, soms word jou bene jelly as jy die laaste rondte hardloop.  En as dit gebeur dan dink jy aan wat Jes 40 sê, 

Jes 40:29 Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. 

Dit is juis wanneer jy swak is, dan is jy sterk.  Net wanneer jy wil gaan lê, gee Hy jou nuwe krag.  Is dit nie great nie?  Net wanneer jy sê jy het nie meer krag nie, dan versterk Hy jou met Sy krag.

Jes 40:30 (Selfs) Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; 
31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. 

Luister!  Daar is geen rede waarom jy moedeloos hoef te raak nie.  Die helm van verlossing sê daar wag vir jou ‘n dag van oorwinning voor.  As jy getrou bly sal jy ook beloon word.  Daar kom ‘n dag van heerlikheid.  Jy is gered, jy word gered en weet dat jy sal gered word.

En moenie dat die duiwel jou ontmoedig nie.  Moenie dat hy jou vreugde en toekomstige verwagting op heerlikheid steel nie.

1 Joh 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. 
3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is. 

As jy die koms van die Here verwag en daarna uitsien, het dit reeds hier en nou ‘n uitwerking op jou lewe.  Dit gee jou moed, dit gee jou uithou vermoë.  Dit gee jou krag om aan te hou, om vas te byt en om jou te strek na vorentoe, die oog gevestig op Jesus.  Die Leidsman en die Voleinder van jou geloof.

Trek die helm van verlossing aan.




No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288