Monday 25 February 2013

Die praktiese Christen lewe


Rom 12:9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; 
10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; 
11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; 

Daar was ‘n man met die naam van Robert Chapman.  Hy het gelewe vanaf 1803-1902.  Hy was bekend as die apostel van liefde.  Hy was ‘n pastoor, leraar en evangelis.  Hy was ook ‘n vriend van die bekende John Nelson Darby, ‘n leier van die Plymouth Brethren.  Darby het Scoffield beïnvloed wat weer verantwoordelik was vir die Scoffield reference Bible.

Hierdie man, Robert Chapman, vriend van Darby het eenkeer geskryf oor wat sy lewensdoel is, “seeing that so many preach Christ and so few live Christ, I will aim to live Him.”  En Darby het van hom dit van hom gesê, “He lives what I teach.”

‘n Ander gelowige man met die naam van William Arnot word van hom gesê, “His preaching is good. His writing is better. His living is best of all.”  En so is dit veronderstel om te wees met ons almal, is dit nie?

Ons moet lewe wat ons bely.  Hoekom?  Want Christenskap is ‘n leefstyl.  Christenskap gaan oor hoe ons lewe.  Ons verhouding met God word uitgebeeld in ons lewe daar buite.  En dit is ook waaroor Paulus dan skryf in Rom 12, oor die praktiese Christen lewe.

Die lewenswyse waarna Paulus ons toe roep is abnormaal.  Dit is onnatuurlik.  In ‘n sekere sin is dit onmenslik.  Dit is nie natuurlik vir die onweergebore mens nie.  Dit is nie normaal vir die sondaar nie.  Dit is nie iets wat die mens uit homself van nature doen nie.  Dit is ‘n bonatuurlike lewenstyl.

Dit is lewe wat alleen moontlik is wanneer God se Gees dit in jou verwek het.  Dit is net hulle wat deur die eerste 11 hoofstukke van Romeine gekom het, wat kan lewe soos wat hoofstuk 12 van ons verwag.  Hulle wat geregverdig is, hulle wat Jesus Christus leer ken het, hulle wat die Gees van Christus het, hulle wat aan Hom behoort.  Dit is net hulle wat so kan lewe.

Die enigste doel van teologie is ons te lei tot ‘n lewe wat tot eer van God is.  Die enigste doel van leerstellings is om ons te bring tot ons Christelike plig, tot die regte soort diens.

2 Kor 7:1 Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. 

Maw, juis omdat God vir ons al hierdie beloftes gegee het, is dit wat ons moet doen in reaksie daarop. “laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”

As ons kyk na Ef 2 en ons lees hier vanaf 4, dan sê dit in kort, God is barmhartig, Hy het ons lewend gemaak saam met Christus.  Hy red ons uit genade.  Hy laat ons saam met Christus sit in die hemele.  Ons gered uit genade deur die geloof en al hierdie dinge het God gedoen, 

Ef 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. 

Maw ons verlossing was vir een doel, om ons in ‘n nuwe lewe in te bring wat God se geregtigheid uitbeeld.  Dit is ‘n lewenswyse.  Hoe weet ek dat ek waarlik ‘n Christen is en dat ek nie net op een oomblik ‘n emosiontele belewenis gehad het iewers in die verlede nie?  Hoe weet ‘n mens regtig?

Die enigste manier hoe jy weet, is om te kyk na jou lewe en sien hoe jou lewe is.  As jy geregverdig is, maw jou lewe reg is met God, sal dit lei tot heiligmaking, wat beteken om God se geregtigheid uit te leef en om heilig te wees.  Daar sal altyd vrug op ‘n ware bekering wees, al moet jy by sommige Christene baie mooi kyk om die vrug raak te sien, sal dit daar wees.  Dit sal die diepste begeerte van jou hart wees.

Ons is gered om ‘n goddelike lewe te leef.  En wanneer jy ‘n goddelike lewe leef, dan bring jy eer aan Hom wat jou verander het en jy trek ander mense na Hom toe en Hy kry al die eer.  

Fil 2:12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 

Nou ons moet hierdie vers nie verkeerd verstaan nie.  Dit beteken nie dat ons deel het aan ons eie saligheid en dat ons ons eie saligheid moet uitwerk en onsself red nie.  Ef 2 sê baie duidelik dat julle is gered uit genade, deur die geloof en dit nie uit julleself nie.  Saligheid kom deur dit wat ons doen nie.

Let op mooi wat Filipense eintlik sê.  Kom ons gaan terug na hoofstuk 1 vers 27.

Fil 1:27 Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus...

ASV
Php 1:27 Only let your manner of life be worthy of the gospel of Christ...

Maw, as jy sê dat jy ‘n Christen is, dan is jou lewe veronderstel om dit vir ons te wys.

Fil 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. 

Wees soos Jesus!  Dink soos Christus.  Die KJV sê, “Let this mind be in you, which was also in Christ Jesus.”  Maw, dink soos Christus.  Hoe dink Christus?  V6-11 verduidelik vir ons.  En dit gaan oor ‘n nederige gesindheid.  Hy het Homself ontledig.  Hy was gehoorsaam tot die dood toe.  Dan sê v9, dit is waarom God Hom uitermate verhoog het.  

So dit is hoe ons moet wees.  Ons moet dink soos Christus.  Ons moet Sy gesindheid hê.  Hy was nederig.  Hy het Homself onderwerp.  Dit is hoe ons moet wees.

Dan kom Paulus by v12 en sê, 

Fil 2:12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing.

Die konteks van hierdie gedeelte is baie duidelik.  Juis omdat jy aan Christus behoort deur die evangelie, juis omdat Jesus Homself verneder het en gehoorsaam was aan Sy Vader en so vir ons ‘n voorbeeld gegee het, juis daarom moet ons in nederigheid aan God gehoorsaam wees.

Christus het ook vir ons gewys wat die beloning is om soos Hy te wees.  Hy het Homself verneder, God het Hom verhoog.  En om soos Christus te wees is om jou heil uit te werk.  Om Sy gesindheid en Sy sin te hê.

Om jou eie heil met vrees en bewing uit te werk beteken jy moet dit doen met groot inspanning, jy moet hierdie konstante begeerte hê om te lewe tot God se eer, jy moet hierdie konstante begeerte hê om aan Hom toegewyd te leef en aan Sy Woord gehoorsaam te wees.

Jy moet die saligheid wat jy reeds het, uitwerk met vrees en bewing.  Dit is wat dit beteken.  Jy moet buitekant leef wat jy reeds binnekant is.  Dan kry ons hierdie wonderlike vers,

Fil 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. 

God werk in julle.  Hy werk aan die binnekant.  Ons moet buitekant leef wat ons reeds binnekant is.  Dit is die standaard vir die Christen lewe.  Hoe doen ons dit?  Dit is wat Paulus vir ons in Rom 12 probeer sê.  Hy wys vir ons wat die make up is van ‘n Christen.

Ons het laas week gekyk na v9 wat sê, laat die liefde ongeveins wees, verafsku dit wat sleg is en hang die goeie aan.  Kan julle onthou?  Liefde is die primêre kenmerk van ‘n Christen.  Liefde wat opreg is.  En dan nog ‘n kemerk van ‘n Christen is iemand wat sonde haat, soos God sonde haat.  Want dit is teen Sy natuur en dit is teen jou geestelike natuur.  Hang die goeie aan, plak dit soos gom aan jou vas.

Hierdie is die binne sirkel wat gaan oor jou persoonlik.  Maar die sirkel gaan wyer en verder uit na ander toe in v10.  Dit gaan verder na jou mede gelowiges.

Rom 12:10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.

Dit begin by jou liefde wat opreg is en dan sirkel dit verder uit na die familie van God.  Broeder liefde, ons verhouding met die liggaam van Christus.

“wees hartlik teenoor mekaar” is ‘n interresante woord in die Grieks en dit help ons te verstaan wat Paulus sê.  Die Griekse woord is “philostorgos”.  Dit is ‘n kombinasie van twee woorde, “philos” (vriend) en “storge” (liefde).  Dit is liefde in ‘n familie.  ‘n Liefde vir die mense wat naby jou is.  So moet jy die familie van God liefhê.

Ek glo julle het dit al beleef.  Ek het al hierdie liefde baie keer beleef.  Jy kan ‘n vreemde persoon ontmoet wat ook ‘n kind van die Here is, dan is dit nie lank voordat jy ‘n unieke sin van liefde het vir daardie persoon nie.  Daar is band wat bestaan wat wyer gaan as kultuur en tyd en plek en omstandighede is.  Want ons behoort almal aan die familie van God.  Het jy al dit beleef?  Verseker.

Die liefde wat die Here wil hê ons vir mekaar moet hê, is philostorge.  Broeder liefde wat omgee vir sy medegelowiges.  Dit is wat dit beteken om hartlik teenoor mekaar te wees.  Om jou hart oop te maak teen oor jou mede broeder.

Broederlike liefde is die Griekse woord “Philadelphia”.  Weer is dit “philos”.  En ook “adelphos”, broer.  Broederlike liefde.  Liefde wat geassosieer word met ‘n familie.  En Paulus gebruik twee termes wat min of meer dieselfde is in een sin om familie liefde uit te beeld.

1 Joh 5:1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is. 

Dit is ‘n ongelooflike verklaring.  As jy God liefhet, het jy ook die lief wat aan Hom behoort.  En dit is waarom Paulus ook sê, 

Ef 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het. 

Christene word gekenmerk deur hierdie liefde en ontferming teenoor mekaar.

2 Kor 12:15 En ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele, al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin. 

Wow!  Hoor wat sê hy.  Al het julle my minder lief, het ek julle meer en meer lief.  Ek wonder hoeveel Christene is daar wat dit kan sê?  Maar dit is hoe elke Christen behoort te wees.  Kan ek so liefhê?  Ja, verseker.  Rom 5:5 sê dat die liefde van God is in ons harte uitgestort.

1 Thes 4:9 Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê; 

God self leer ons om mekaar lief te hê.

Rom 12:10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.

Hierdie liefde bring ons tot die volgende bestandeel, naamlik nederigheid.  En as jy ander gaan liefhê en vir gaan omgee, dan is eerste ding wat jy moet doen is om van jouself te vergeet.  Om ander se belange bo jou eie te stel.  Ons moet die ander voorgaan in eerbetoning.  Die KJV sê, “in honour preferring one another.”  Om ander te eer bo jouself.

Dit vers sê om voor te gaan in eerbetoning, maw om die weg te wys.  Om te wys hoe word dit gedoen.  Om voor te loop ter wille van ander.  Maw ons moet nie terug sit en wag dat iemand anders iemand se behoefte raaksien en vervul nie.  Ons moet nie sit en wag dat iemand anders omgee en help nie.  Ons moet voorloop en wys hoe dit gedoen word.

Ons moet eerste wees om daar te wees vir ander.  Ons moet eerste wees met eerbetoning.  Ons moet ander hoër ag as onsself.  Ons moet vinnig wees met eerbetoning, vinnig wees om ander te respekteer, vinnig wees om liefde te gee, vinnig wees om ander se nood raak te sien, vinnig wees om te help.  Dit is nederigheid in die ware sin van die woord.

Rom 12:11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; 

Paulus bring dit so bietjie terug na jouself.  Moenie traag wees nie.  Die letterlike vertaling van Grieks sou wees, moenie lui wees nie.  “Not lazy in zeal.”  Maar haastig.  En die issue is ‘n geestelike issue.  Ons moet nie geestelik lui wees wanneer dit kom by ander mense se nood of behoeftes nie.

Gal 6:9 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 

2 Thes 3:13 En julle, broeders, moet nie in goeddoen verflou nie. 

Ons moet nie gaan lê nie.  Ons moet voor loop, ons moet haastig wees om goed te doen.  Ons moet ywerig wees.  Vinnig wees.

Pred 9:10 Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie. 

Doen dit met jou mag.  Doen dit met alles wat jy het.  In Matt 25:26 lees ons van die slegte en lui dienskneg wat een talent gehad het en niks daarmee gedoen het nie.  Hy het dit begrawe en dit het hom die ewigheid gekos.  Ef 5:16 sê ons moet die tyd uit koop, want die dae is boos.

Rom 12:11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; 

Die woord vurig, is die Griekse woord “zeo” wat letterlik beteken om te kook.  Ons moet kook vir die Here.  Soos wat die water die hele tyd kook, so moet ons die hele tyd ywerig wees.  Enigiets, maar net nie lou warm water of koue water nie.

Die Christen se lewe moet gevul wees met entoesiasme.  Dit moet gevul wees met ywer en opgewondenheid.   ‘n Christen se lewe moet gevul wees met energie en lewenslus.  Ons kry die voorbeeld van Apollos in Handelinge 18 wat sê hy as vurig van gees.
En die volgende punt dan wat Paulus maak in vers 11 is, “dien die Here.”  Luister!  Dit is ‘n voorreg om God te dien.  ‘n Voorreg wat jy nie verdien nie.  Dit is ‘n ongelooflike voorreg.  Die wêreld kan nie vir jou iets beter gee as dit nie.

Kom ons wees dit wat God wil hê ons moet wees.  Kom ons lewe die goddelike lewe.  Nou dat ons in die Gees lewe, laat ons in die Gees wandel.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288