Thursday 7 February 2013

Wat van vergelding



Rom 12:17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; 
18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 
19 Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. 
20 As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. 
21 Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. 

Ons is steeds besig met ‘n reeks wat gaan oor die praktiese Christen lewe.  En ons kyk na wat dit regtig beteken om ‘n Christen te wees.  Laas week het ons gesien hoe ons moet optree teenoor ons vyande.  Ons moet hulle seën en nie vervloek nie.  Ons moet aan hulle goed doen, al doen hulle sleg aan ons.  Kan jy dit doen?

Ons het ook laas week gesê dan ons almal in die gemeente is gelyk.  Daar is nie ‘n hierargie waar een ‘n hoër posisie as ‘n ander persoon in die kerk het nie.  Die pastoor en die leiers of diakens of ourderlinge en lidmate is almal gelyk.  Daar is net een hoof van die kerk, dit is Jesus.  Hy is die hoof van die liggaam.  

Daar is nie sosiale of intellektuele onderskeid nie.  Die gemeente moet nie sosiaal of intellektueel georienteerd wees nie.  Die gemeente moet geestelik en bybels georienteerd wees en daarom is almal welkom en enigiemand kan deelneem.

En in ons bediening na buite toe, moet ons ook nie onderskeid maak en net aan sekere mense die evangelie verkondig nie.  Ons moet dit aan almal verkondig.  Ons moet na alle soorte mense uitreik.

Rom 12:17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense.

En dit is dieselfde as v14, seën die wat julle vervolg.  Die wêreld reageer op slegte dinge met slegte dinge.  Die wêreld reageer op haat met haat.  Maar jy as kind van God vergeld nie kwaad vir kwaad nie, want jy het ‘n anders as die wêreld.  Jy leef volgens goddelike natuur binne in jou.

Maar die Bybel sê dan in Eks 21, Lev 24 & Deut 19 dat dit ‘n oog vir ‘n oog is en ‘n tand vir ‘n tand.  Dit praat egter van openbare wette.  Waar daar moord is, moet daar doodstraf wees.  Waar daar diefstal is, moet daar met gelyke reg gestraf word.  Dit is openbare wette wat die regering moet toepas.

Rom 12 praat egter nie van openbare wette nie, maar hy praat van persoonlike vergelding.  Daar moet reg en geregtigheid wees in enige land of regering.  Kyk wat sê Paulus net in die volgende hoofstuk.

Rom 13:3 Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; 
4 want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. 

En wanneer ‘n regering nie dit doen nie, dan kom hulle onder God se oordeel.  Maar wanneer dit kom by persoonlike vergelding, sê die Bybel is daar nie plek daarvoor nie.  Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.  Dit is nie jou plek nie.  Ons moenie terug slaan nie.  

1 Thes 5:15 Sorg dat niemand ‘n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal. 

1 Pet 3:9 Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe. 

Jaag na dit wat goed is.  Doen goed teenoor mekaar.  Seën die wat jou vervolg.  Julle is daartoe geroep.  En hierdie dinge kom nie van self nie.  Dit is geestelike dissiplines wat in geoefen moet word.  Dit is net iemand wat geestelik gedissiplineerd is wat dit kan doen.

“bedink wat goed is”.  As jy reg dink, sal jy reg optree.  As jy die hele tyd verkeerde dinge bedink, gaan jy so optree.  Bedink wat goed is voor alle mense.  Wow, dis nie maklik nie.  Nee!  Maar ons is nie van hierdie wêreld nie, ons moet nie dat die vlees ons lei nie, ons moet deur die gees wandel.

Die Christen moet sy reaksies en hoe hy op slegte dinge reageer deurdink en die goeie dinge bedink, sodat wanneer hy gekonfronteer word met selgte dinge, dat hy reeds vooraf weet hoe hy gaan reageer, sodat hy die God waaraan hy behoort kan verteenwoordig.

Tit 2:10 hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier. 

En hier kom dit nou, die vers waarvoor ons almal gewag het.

Rom 12:18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 

Daar is sekere mense met wie jy graag wil vrede maak, maar dit is onmoontlik.  Jy kry dit net nie reg nie.  Jy weet nie meer wat om te doen nie.  Jy het al alles probeer.  So dit is nie altyd moontlik nie, en die Here weet dit.  Maar so ver as dit moontlik is, moet jy.

Vrede kom altyd tussen twee partye of persone.  En sover as dit van jou afhang, maw die konflik moet nie van jou af kom nie.  Maak altyd vrede.  Of die ander persoon reg of verkeerd is.  Maak vrede.

Die vers sê ook, “sover as dit van julle afhang”.  Die KJV sê, “as much as lieth in you”.  Nou hoekom is dit so belangik?  Want jy moet jouself vra hoe ver sal jy gaan om vrede te soek.  Gaan jy kompromië aangaan?  Gaan jy jou geloof opgee nie? Nee!  Daar is sekere dinge wat nie onderhandelbaar is nie.  Ek sal alles doen wat ek kan om in vrede te leef met ander, maar nie ten koste van my geloof nie.

Dit is hoekom Paulus sê, sover as dit van julle afhang.  Kyk selfs na dit wat Jesus gesê het:

Matt 10:34 Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 

Hoekom sou Jesus dit gesê het?  Hy is die Prins van vrede, maar Hy het nie gekom om vrede te bring op aarde tussen waarheid en valsheid nie.  Hy bring nie vrede tussen reg en onreg nie.  Hy het gekom om vrede te bring tussen God en mens.  

Jy weet, die wêreld is vol moeilikheid makers.  Mense wat net moeilikheid soek.  Maar Jakobus sê, 

Jak 3:17 Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. 

Wysheid se lys van bo af, eerste is dit reinheid, en dan vredeliewend.  Kom ek gee vr julle ‘n illustrasie.  Dit gaan oor Simson.  Hy het nie geweet wat dit beteken om vredeliewend te wees nie.  Hy het slegte dinge met slegte dinge vergeld.  En wat het dit hom in die sak gebring?

Daar was ‘n klein dorpie op die grens van Dan en Juda met die naam van Sorea, 15 myl wes van Jerusalem.  In hierdie dorpie het ‘n man gebly met die naam van Manoag.  En sy vrou het ‘n seun gekry, Simson.  Hy mag nie sy hare gesny het of enige drank gebruik het nie.  Hy mag nie aan ‘n dooie geraak het nie.  Dit was alles deel van die Nasareners se geloftes.

Simson sou die Israeliete bevry van die Filistyne.  En hulle was orals in Israel.  Sorea was ‘n Israelitiese dorp, ‘n uur se loop vanaf Timna, so vier myl.  So 20 myl vanaf Jerusalem waar die Filistyne die land beset het.  Hulle was ‘n groot bedreiging vir die Israeliete.  En selfs al was daar op daardie tyd ‘n sekere maat van vrede, was hulle so bedreiging dat God ‘n man opgewek het, Simon om hierdie Filistyne aan te vat.

Rig 14:1 Toe Simson afgegaan het na Timna, sien hy in Timna ‘n vrou uit die dogters van die Filistyne.

En dit is die eerste fout wat hy gemaak het.  Hy het ‘n probleem gehad.  Hy het ‘n oog gehad vir vrouens.  As ek reg verstaan oor hoe hulle aangetrek het, kon hy nie veel gesien het nie, maar hy het wel gehou van wat hy kon gesien het.

Rig 14:2 en hy het opgegaan en dit aan sy vader en sy moeder vertel en gesê: Ek het ‘n vrou uit die dogters van die Filistyne in Timna gesien; neem haar dan nou as vrou vir my. 
3 Maar sy vader en sy moeder sê vir hom: Is daar onder die dogters van jou broers en onder my hele volk nie ‘n vrou, dat jy heengaan om ‘n vrou uit die Filistyne, die onbesnedenes, te neem nie? En Simson sê aan sy vader: Neem haar vir my, want sy geval my. 
4  Maar sy vader en sy moeder het nie geweet dat dit van die HERE kom nie; want hy het rede gesoek teen die Filistyne; in dié tyd naamlik het die Filistyne oor Israel geheers. 

Die feit dat Simson ‘n nie-Joodse vrou wou gehad het, was nie God se wil nie, maar dit was juis uit dit wat alles sou gebeur wat God Sy doel gaan bereik deur die Filistyne te vernietig.  Of Simson reg of verkeerd opgetree het, God se doel sou steeds bereik word.

Rig 14:5 En Simson het met sy vader en sy moeder afgegaan na Timna; en toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar ‘n jong leeu brullende op hom af. 
6 Maar die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword; en hy het dit verskeur soos ‘n mens ‘n bokkie verskeur sonder dat daar iets in sy hand was; maar hy het sy vader en sy moeder nie vertel wat hy gedoen het nie. 

Sy vader en moeder was seker iewers op ‘n ander plek toe dit gebeur het. 

Rig 14:7 Toe gaan hy af en praat met die vrou; en sy het Simson geval. 
8 En ‘n tyd daarna het hy teruggegaan om haar te gaan haal; en toe hy uitdraai om na die dooie leeu te kyk, was daar ‘n swerm bye in die dooie liggaam van die leeu, en heuning. 
9 En hy het dit uitgehaal in sy hande en aldeur geloop en eet, en na sy vader en sy moeder gegaan en aan hulle gegee; en hulle het geëet, maar dat hy die heuning uit die dooie liggaam van die leeu uitgehaal het, vertel hy hulle nie. 

Hy het sy geloftes as ‘n Naserener verbreek.  Hy het aan ‘n dooie liggaam gevat en die heuning vir sy vader en moeder gegee.  Daarna was daar ‘n feesmaal waar hy vir hulle ‘n raaisel gee.  As iemand dit binne 7 dae uitlê, sal hy vir hulle deftige duur klere gee.  Maar as hulle nie die raaisel kan oplos nie, moet hulle vir hom klere gee.

Nou wat was die raaisel?  V14 “Spys het uit die eter uitgegaan, en soetigheid uit die sterke.”

Op die vierde dag kon hulle nog nie die raaisel regkry nie, maar vra toe sy vrou om die raaisel uit hom te kry.  En sy het by hom gehuil tot op di sewende dag en toe vertel hy vir haar.

Rig 14:18 Daarop sê die manne van die stad aan hom op die sewende dag voor sonsondergang: Wat is soeter as heuning, en wat is sterker as ‘n leeu? En hy antwoord hulle: As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle my raaisel nie geraai het nie. 
19 En die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword. Toe gaan hy af na Askelon en slaan dertig man van hulle dood, en neem hulle uitrustings en gee die stelle klere aan die wat die raaisel uitgelê het; en hy het kwaad geword en opgegaan na die huis van sy vader. 

En daarna kry sy beste vriend sy vrou.  Toe hy weg was om 30 manne dood te maak vir hulle klere, het sy vrou se pa haar vir sy beste vriend gegee.  Toe hy terugekom en na haar toe wou gaan met ‘n bokkie, toe sê haar pa, hy het gedink sy het niks om vir haar te gee nie, daarom het hy haar aan sy metgesel gegee.  Maar hier is haar suster, is sy nie mooier nie?

Wel, op die stadium kook sy bloed.  Hy is nie net kwaad vir die manne oor die raaisel nie, maar nou is hy ook kwaad vir die Filistyne wat druk op haar gesit het en haar pa.  Hy is so kwaad dat hy 300 jakkels vang en hulle sterte bind en hulle aan die brand steek.  In daardie tyd as jy kwaad was vir jou vyande, het jy hulle koringvelde aan die brand gesteek.

Rig 15:6 Toe vra die Filistyne: Wie het dit gedoen? En hulle sê: Simson, die skoonseun van die Timniet, omdat dié sy vrou geneem en haar aan sy metgesel gegee het. En die Filistyne het opgetrek en haar en haar vader se huis met vuur verbrand. 

Hoekom sou hulle dit doen?  Hoekom gaan hulle nie agter Simson aan nie?  Ek dink nie hulle wou naby Simson kom nie, so die naaste wat hulle aan hom kan kom is sy vrou haar pa.  Simson sê toe hy sal nie rus voordat hy hom op hulle gewreek het nie.

En die hele ding het begin om te eskaleer.  1000 Filistyne kom teen hom en hy verslaan hulle met ‘n eselkakebeen.  Want hy was kwaad.  Maar vir 20 jaar het God Israel gerig in die day van die Filistyne en daarna ontmoet Simson ‘n ander vrou en julle ken die storie verder.  Die storie van Delila.

Op die ou einde bely hy waar sy sterkte is aan haar.  Hulle vang hom, steek sy oë uit, bind hom vas en sit hom in die gevangenis.  Julle onthou toe dat sy hare het begin om terug te groei en hy het in die Palestynse tempel tussen twee pilare gestaan.

Hy het die pilare omgedruk en ongeveer 20 000 Filistyne en hy sterf.  Die punt is dit: vergelding hou nooit op tot almal wat betrokke is dood is nie.  Dit is die grootste enkele illustrasie van wat wraak kan doen.

So kom ons gaan terug na Rom 12:19 en lees, 

Rom 12:19 Moenie julle wreek nie, geliefdes...

Moenie julle wreek nie.  Moenie oordeel uitvoer nie.  Die woord beteken letterlik moenie straf uitdeel nie.  Jy moenie rondgaan en mense straf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het nie.  

...maar gee plek vir die toorn...

Wat beteken dit?  KJV sê, “but rather give place unto wrath.”  Gee die oordeel vir God.  Gee die straf oor aan God.  Laat Hy met dit afreken.

Deu 32:35 My kom die wraak toe en die vergelding...

Laat God toe om dit te doen.  Nie jy nie.  Moet jy nie kwaad met kwaad vergeld nie.  God sal daarmee afreken.  Die wraag kom Hom toe.  Hy sal met sonde afreken.  Geen sondaar sal God se oordeel kan ontvlug nie.  Jy het nie nodig om kwaad te vergeld nie.

Rom 12:20 As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. 

Nou waar kom die spreekwoord vandaan om vurige kole op te hoop op iemand se hoof?  Dit kom van die Egiptiese kultuur.  En wanneer hulle iemand sy skuld in die openbaar wou demonstreer en hy voor almal hom wou bekeer, het hy ‘n pan met kole op sy kop gedra, wat die brandende seerkry van skuld gesimboliseer het.

En Paulus sê as jy jou vyande met liefde behandel en hulle voed, bring jy groter skuldgevoel oor hom.  Jy laat hom meer skuldig voel.

Rom 12:21 Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. 

Dit is waaraan ‘n Christen gekenmerk word.  Jy oorwin die kwaad deur die goeie.  Moenie ‘n victim wees nie, maar wees ‘n victor.

So kom ek som dit alles op:

‘n Christen is iemand wat opreg liefhet, iemand wat sonde haat, die goeie dinge aanhang.  Iemand wat nederig is en sy broeders liefhet, ander se belange bo ander sin stel, iemand wat vurig die Here dien, wat hom verbly in die hoop en geduldig is in verdrukking, volhard in gebed.  Na die wat in nood is uitreik en die wat hulle vervolg seën.  Nie strewe na hoë dinge nie, maar hom voeg by die nederiges.  Wat almal in die gemeente op ‘n gelyke vlak hanteer en liefhet.  Wat nie kwaad met kwaad vergeld nie en dit oorgee aan die Here.  Wat die kwaad oorwin met die goeie.

Dit is die praktiese Christen lewe.




No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288