Thursday 7 February 2013

Die lewende water (vervolg)


Teksgedeelte: Joh 4:16-26

Joh 4:16 Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier. 
17 Die vrou antwoord en sê: Ek het nie ‘n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; 
18 want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê. 
19 Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ‘n profeet is. 
20 Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. 
21 Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. 
22 Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. 
23 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 
24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. 
25 Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. 
26 Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek! 

Ons het laas week gekyk na Joh 4:1-14.  Wat ons in gedagte moet hou is dat die hooftema van die Johannes evangelie is Jesus Christus.  Hy is die Seun van die Lewende God.  Hy is God wat mens geword het.  En dit bly die tema van die evangelie van Johannes.

Ons het ook gesien dat God se liefde strek oor alle mense en oor alle grense.  God het nie witbroodjies nie.  God het nie gunstelinge nie.  Sy liefde vir ons word nie bepaal deur wie ons is nie, maar deur wie Hy is.

God het jou nie meer lief as jy genoeg kerk toe gaan of jou Bybel meer as gewoonlik lees of as jy ‘n goeie mens is nie.  God se liefde vir jou is onvoorwaardelik.  Sy liefde word bepaal deur wie Hy is.  Hy is liefde.

In Joh 4 deel Jesus met ‘n Samaritaanse vrou, wat in haar eie volksgenote ‘n uitgeworpene was en nog meer ‘n vyand van die Jode was.  Maar Jesus openbaar Homself aan haar.

Eers het Sy nie begryp waarvan Jesus praat toe Hy vir haar die lewende water wil gee nie.  Ja, sy soek daardie water verseker, sodat sy nie weer hoef water te kom skep nie, maar sy het nie besef wie Jesus Christus is nie, dat Hy die Seun van die lewende God is nie, dat Hy God is wat mens geword het nie, dat Hy die Messias is nie.  Sy het ook nie haar eie sondige toestand voor God besef totdat Jesus dit vir haar duidelik gemaak het nie.

Soveel mense wil graag die ewige lewe hê.  Soveel mense wil graag ‘n oorwinnende lewe hê.  Soveel menses al graag ‘n vervulde en gelukkige lewe wil hê.  Voorspoed, gesondheid en geluk, maar dit is nie waarvoor Jesus gekom het.

Luk 19:10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.

Wat is bekering dan?  Dit is wanneer iemand berou het, wanneer iemand besef hy is verlore, sy sonde het ‘n skeidsmuur tussen hom en God gebring.  Dit is wanneer wegdraai van sonde en sonde haat.  Bekering het twee aspekte.  Jy bekeer jou van sonde, jy draai weg van sonde en tweedens, jy keer jou na God, jy draai na God toe.

En dit is waarna Jesus soek.  Hy spreek die hart van die probleen aan, nl. sonde.

Joh 4:16 Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier. 
17 Die vrou antwoord en sê: Ek het nie ‘n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; 
18 want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê. 
19 Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ‘n profeet is. 

Wat doen Jesus hier?  Hy probeer om haar te kry om haar sondes te bely.  Hy gee haar ‘n geleentheid.  Hy sê: “Gaan kry jou man.”  Sy kon geantwoord het: “My lewe is ‘n gemors en alles is deurmekaar.  Ek het al vyf mans gehad.”  Dit sou ‘n belydenis gewees het, maar wat sê sy eerder?  Sy sê, “ek het nie ‘n man nie.”  En wat doen Jesus?  As jy nie jou sondes gaan bely nie, gaan Ek vir jou sê wat dit is.

In vers 19 bely sy wanneer sy sê, “Here, ek sien dat U ‘n profeet is.”  Wat sê sy daardeur?  Sy erken dat Jesus in die kol is.  Sy erken dat dit wat Jesus sê die waarheid is.  En dit is so belangrik wanneer dit kom by bekering.  Jy kan nie kom tot by die lewende water en dit drink as jy nie eers jou sonde in die gesig staar nie.  Wanneer jy jou behoefte na die lewende water sien, sien jy ook iets wat jou keur om daarvan te drink, en dit is jou sonde.

En wanneer sy dit besef is daar nog net een ding oor en dit is om te weet wie Jesus is.  Sy moet weet wie Hy is en haar geloof in Hom plaas.  Dit kry ons in v20-26

Joh 4:20 Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. 

Waarom sou die Samaritaanse vrou dit sê?  Wat het dit enigsins te doen met die hele gesprek?  Sy sê eers, ek sien dat U ‘n profeet is, en uit die bloute sê sy, ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle aanbid in Jerusalem.  Waarom sou sy dit sê?

Kom ek vertel julle wat dink ek beteken dit:  In haar gedagtes sê sy vir haarself, “Ek sal graag van daardie lewende water wil hê.”  Dan slaan Jesus haar met haar sonde.  En sy besef, “O, ek het sonde in my lewe.”  En op hierdie oomblik begin sy haar geestelike nood raaksien.  Sy begin agter kom dat Jesus praat van geestelike dinge.

Sy is oortuig van haar sonde en begin haar behoefte besef.  Toe sê sy vir haarself, “Ek sal dit moet fix.  En om alles reg te maak, moet ek God gaan aanbid.  Maar waar?  Maw sy het haar sondige toestand besef, en sien haar geestelik nood raak en vra, maar waar moet ek nou gaan aanbid?  Waar moet ek dit gaan regmaak?

Dit is dan presies hoe meeste sondaars optree.  Is dit nie wat baie doen nie?  “My lewe is ‘n gemors, alles loop verkeerd, miskien moet ek begin om kerk toe te gaan.  Miskien met ek begin om my Bybel te lees en begin om te bid.  En dan begin hulle godsdienstig raak.  En wag net tot iets verkeerd loop by die kerk, dan draai hulle om en draai hulle teen godsdiens en die kerk en jy sien hulle nooit weer nie.

Dit is waarom die Satan so hard werk aan godsdiens en dit aan mense verkoop.  Godsdiens is sy groot rook skerm.  Godsdiens is die mens se poging om van sy skuld ontslae te raak.  Dit laat mense beter voel oor hulleself, ook net vir ‘n kort tyd, en hulle dink dat hulle deur al hulle werke God te vrede sal stel en so die ewige lewe sal verdien.

Jy sien, wanneer jy kom tot op die punt waar jy jou sondeskuld besef, moet jy nie ‘n ritueel gaan soek of godsdienstig raak om daarvan ontstlae te raak nie.  Jy het Jesus Christus nodig.

Jesus antwoord die Samaritaanse vrou,

Joh 4:21 Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. 

Wat sê Jesus vir haar?  Jesus sê, daar kom ‘n dag wanneer daar ‘n kerk gaan wees en hulle gaan God in gees en waarheid aanbid word.  So Jesus maak ‘n profesie oor die kerk.  Onder die ou verbond het die Jode God in die tempel in Jersusalem aanbid.  Maar onder die nuwe verbond aanbid die gelowiges in gees en in waarheid.  Dan sê Jesus vir haar,

Joh 4:22 Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. 

Nou die Samaritane het slegs die eerste vyf boeke van die Ou Testament aanvaar en die res uitgegooi.  Daarom sê dit vir haar.  Dit beteken nie dat Jesus nou impliseer dat net Jode gered kan word nie.    Jesus sê dat die verlossing kom uit die Jode, maw die Verlosser, die Messias is uit die Jode gebore.

So Jesus sê vir haar, net om jou vraag te antwoord, ja, die Jode is reg wanneer hulle in Jerusalem bid, maar dit gaan nie veraltyd so wees nie.  Die tyd kom wanneer daar ook nie meer in Jerusalem aanbid gaan word nie.  En het daardie tyd aangebreek?  Verseker.

Joh 4:23 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 

Wat bedoel Jesus wanneer Hy sê, daar kom ‘n uur en dit is nou?  Wat sê Jesus vir haar?  Hy sê, Ek is hier.  Ek is die Messias.  Aanbid My!

Wat beteken dit om Hom in gees en waarheid te aanbid?  In gees, kleinletter “g”, maw jou gees, jou binneste, jou innerlike mens.  En in waarheid, eerlik, opreg.
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Jesus sê vir die vrou, “Moenie bekommerd wees oor waar jy God gaan aanbid nie.  God is Gees.  Hy woon nie in ‘n gebou of is op een plek nie.  Wat saak maak is dat jy Hom aanbid in gees, met die binnekant van jou hart.

Jesus sê profeties dat die ou bedeling sal verbygaan, die een wat bestaan het met plekke en seisoene en gebruike van feeste en tempels en slagoffers.  Dit gaan alles verbygaan.  Dit maak nie saak waar en wanneer jy God aanbid nie.  Wat saak maak is dat dit moet in gees en in waarheid moet wees.

Toe Christus gesterf het, het die voorhangsel van bo af tot onder geskeur en God het daardeur gesê dat dit die einde van die hele sakramentele stelsel was.

Die aard van die kerk is:

Is die kerk ‘n gebou?  Is die tempel waar ons aanbid ‘n gebou?  Nee!  Ons sê baie keer dit is die huis van God, maar is dit?  Ek en jy, die wedergebore kinders van God is die huis van God, ons is die tempel van God waarin Hy woon.

1 Pet 2:5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. 

Ek word soos ‘n lewende steen opgebou in hierdie geestelike huis van God.  En die offers wat ons aan God bring is nie uiterlike offers nie, maar dit is geestelike offers.  En ons bring nie net enige offer nie, ons bring offers aan God wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

Ons aanbidding is in gees en in waarheid.  Ons aanbidding is ‘n innerlik gebeurtenis, nie uiterlik nie.  En wanneer Jesus vir die vrou sê, dat aanbidding is in gees en in waarheid, slaan Hy al haar godsdienstige idees stukkend.  Sy is nog steeds verward en sê,

Joh 4:25 Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. 

Wat sê sy?  Sy sê, al hierdie dinge is nog verwarrend, maar een ding weet ek en dit is dat die Messias eendag sal kom en Hy sal alles duidelik maak.  Nou verstaan ek nie heeltemal alles nie, maar eendag sal Hy kom en alles verkondig.  En wat gebeur toe?

Joh 4:26 Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek! 

Sy sê, die Messias sal kom en alles opklaar.  Jesus antwoord en sê, Dit is Ek.  Hier is Ek.  Jy kyk na Hom.  Of sy op daardie oomblik tot bekering gekom het en in Hom geglo het is nie duidelik, maar ons sien dat sy na die stad toe gegaan het en gaan getuig het.

God lei die mens na openbaring van Homself.  Die mense besef hy is ‘n sondaar en plaas sy geloof in Jesus Christus wat sy sondestraf gedra het.  Hy draai weg van sy sonde en draai na God toe.  Dit is bekering.

Elke mens moet eers sy geestelike nood raaksien.  Elke mens moet eers erken dat hy ‘n behoefte het  na lewende water, na ‘n geestelike bron, na wedergeboorte.  Terselfder tyd moet die mens besef dat sy sondige toestand besef en besef dat dit tussen hom en God staan.  Derdens moet elkeen na Christus kyk, die Seun van God, die Vergewer van sonde en ook die Gewer van lewende water.

Dit is die Messias.  Johannes sê dit so duidelik.  Hy is.  Hy is die Christus van God.  Glo jy dit?  Het jou Hom aangeneem as jou Here en Verlosser?


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288