Thursday 7 February 2013

Wat van jou vyande


Rom 12:14  seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; 
15 wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; 
16 wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; 

Ons gesels die afgelope tyd oor die praktiese Christen lewe.  En ons het begin by v9.  Dit begin by onsself, dan kring dit uit na die gemeente en dan verder na ander mense.  Ons wil gereed wees om onsself vir die Here te gee, en dan daarna onsself vir die gemeente te gee.

Kan julle nog als onthou.  V9 het gesê, ons moet ons liefde moet eg wees.  Ons moet die slegte dinge en sonde haat en die goeie dinge aan ons vasplak.  So die praktiese christen lewe begin met ‘n paar prioriteite wat in jou lewe reg moet wees.  Eerlike, opregte liefde, ‘n haat vir sonde, en die goeie en dit wat reg is wat jy aan vasklou.  Dit is basiese waarhede.

In v10 kring dit uit na jou geestelike familie.  En vanaf v10-13 herinner Paulus ons dat ons nie net opreg moet lief wees en die slegte dinge verafsku en die goeie dinge aanhang nie, maar dat ons ons medebroeders moet liefhê en voorgaan in eerbetoning, maw ander hoër ag as onsself.  Ander se belange bo ons eie sal stel.

Hy gaan ook verder en sê in v11 dat ons die Here moet dien, met ywer en energie en lewenslus en vurig van gees.  En as gevolg daarvan sal daar teenkanting en vervolging wees, en Paulus sê daarom moet ons verbly in die hoop.  Ons moet geduldig wees wanneer daar verdrukking is en uitsien met ‘n groot verwagting na die toekomstige hoop.

In v13 het ons laaste gesien dat ons na mekaar se behoeftes omsien.  Ons is geestelike familie wat vir mekaar moet omgee.  Ander se belange moet bo jou eie gestel word.

Maar nou in v14-16 gaan die kring verder.  Paulus gaan wyer en praat oor ons verhouding met alle mense, of hulle gelowiges is of nie.  En hy begin by die ergste.  Hy sê, 

Rom 12:14 seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; 

Dit maak nie saak wie teen jou is nie, die maak nie saak wie jou vervolg nie, jy moet hulle seën en nie vervloek nie.  Dit is hoe ons veronderstel is om te leef, nê?  Jy moet diegene seën wat jou leed aandoen.  En dit is nie ‘n nuwe beginsel nie, maar ‘n ou beginsel in die Skrif.  Jesus het gesê,

Matt 5:44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; 
45 sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. 

Sjoe, christenskap is nie ‘n normale lewenswyse in hierdie wêreld nie.  Hierdie is ‘n baie belangrike beginsel.

Luk 6:27 Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. 

En watter soort liefde sal hierdie liefde wees?  Eerlike en opregte liefde.  Nie ongeveinste liefde nie.  Nie fake liefde nie.  Nie oppervlakkige liefde nie.  Dit is liefde wat v9 gesê het ons moet hê, ongeveinsde liefde.  Doen goed aan hulle wat jou haat.  

Luk 6:28 Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig. 
29 Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie. 
30 Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie. 
31 En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen. 
32 En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. 

Maw, die wêreld reageer op goedheid met goedheid.  Hulle reageer op liefde met liefde.  Maar jy is ‘n Christen en jy is anders.  Jy reageer op haat met liefte.  Jy reageer op die wat slegte dinge aan jou doen, met goeie dinge.  Dit is wat ons anders maak as die wêreld.

Die wêreld reageer nie op slegte dinge wat met hulle gebeur met goedheid nie.  Dit is net God se kinders wat dit doen en ons is geroep om dit te doen deur God se Woord.  Ja en ek weet ek raak nou aan ‘n paar senstiewe dinge.  

Wat doen jy as iemand by jou ingebreek het?  Wat doen jou as jy aangehou was in ‘n rooftog?  Wat doen jy as daar ‘n misdaad gepleeg is teen die mense naaste aan jou?  Ja dit is menslik om kwaad te word, en dit is jou eerste reaksie.  Maar dit is presies waar jou Christenskap getoets gaan word.

Kan jy liefde demonstreer aan die wat jou privaatheid binne gedring het, wat permanent by jou kom leen het, wat slegte dinge teen jou gedoen het?  Dit is wat v14 dan probeer sê.  Die wat teen jou gekom het, of dit geestelike vervolging was, of iemand wat jou fisiese skade aangerig het.  Kan jy met liefde reageer en hulle seën en goed aan hulle doen?

Is dit nie wat Jesus aan die kruis gedemonstreer het nie? “Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”  Hy bid vir vergifnis en vir God se genade op Sy vyande wat besig is om Hom dood te maak.  Is dit hoe jy sou opgetree het?

Ons lees van Stefanus wat gestenig word in Hand 7 en hoor net wat sê hy,

Hand 7:59 En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees! 
60 En hy het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap. 
Dit is ‘n onmenslike en onnatuurlike reaksie.  Maar ons kan, want ons is wedergebore.  Ons van bo af gebore en ons is nie van hierdie wêreld nie, maar in hierdie wêreld.

1 Pet 2:21 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; 
22 Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; 
23 wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; 

Seën die wat jou vervolg!  Seën en moenie vervloek nie.  Dit is die praktiese Christen lewe.  Dit is wat ons anders maak as die wêreld.

Daar is ‘n soort van egoism vandag en mense is so gepla oor hulle regte en as jy net in my pad kom of in my spasie kom, dan is daar moeilikheid.  As jy op my plek gaan staan of voor my indruk, dan is die hel los.  Dit is die wêreld waarin ons leef.  

Dit is nogals angswekkend om in vandag se tyd te leef, want jy weet nie wat mense aan jou gaan doen as jy dalk per ongelukkig binne sy spasie gekom het nie.  Maar Christene is anders.  Ons reageer anders.  

Rom 12:15 wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween.

Dit is nog ‘n kenmerk wat aan Christene behoort.  Wees bly as iemand anders bly is.  Dit is die afwesigheid van jaloesie, is dit nie?  Wanneer dit goed gaan met iemand anders, dan is jy bly saam met daardie persoon.

Spr 17:5 Hy wat die arme bespot, versmaad sy Maker; hy wat bly is oor ‘n ongeluk, sal nie ongestraf bly nie. 

Nee!  Wanneer iemand ween, moet ons saam met hulle ween.  Wanneer hulle bly is, moet ons saam met hulle bly wees, nie jaloers wees nie.  Ons kan ons ook nie verlekker in ons vyande se teëspoed nie.  Nee!  Christene is nie soos die wêreld nie.

Paulus het dalk ook 1 Kor 12:26 in gedagte gehad toe hy Rom 12 geskryf het.

1 Kor 12:26 En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. 
27 Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik. 

Die Griekse woord vir “ween”, is die woord “klaio” wat letterlik beteken, om trane te stort.  Dit is ‘n baie sterk uitdrukking, die bewys van simpatie.  En so moet ons gekenmerk wees as mense wat sensitief is vir ander mense om ons.

Jeremia was so.  Hy het sy hele lewe gehuil en geween, nie oor dit wat met hom gebeur het nie, maar dit wat met Israel gebeur het.  Ja hy was ook geseënd en was vol van blydskap, maar hy was baie sensitief oor Israel.

Jer 9:1 Ag, was my hoof maar water en my oog ‘n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk. 
2 Ag, het ek in die woestyn maar ‘n herberg vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek; want hulle is almal owerspelers, ‘n hoop ontroue mense. 
Israel se verlossing was vir hom so groot las gewees en hy dag en nag gehuil oor haar sonde.  

Dit is opregte sensitiewe liefde.

Rom 12:16 wees eensgesind onder mekaar; moenie eiewys wees nie; 

KJV
Rom 12:16 Be of the same mind one toward another. Mind not high things, but condescend to men of low estate. Be not wise in your own conceits. 

Dit is ‘n eenvoudige gedagte.  Dit beteken eenvoudig, dink van almal dieselfde.  Moenie ‘n behaer wees van mense nie.  Niemand is belangriker as die ander nie.  Voor God is ons almal gelyk.  Jy moet almal dieselfde behandel.  Niemand is beter as die ander een nie.

Fil 2:1 As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, 
2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. 

Vers 2 sê ons moet dieselfde liefde hê.  Wat beteken dit?  Dit beteken ons moet nie mekaar verskillend liefhê nie, ons moet mekaar met dieselfde liefde liefhê.  Dan gaan hy verder en sê,

Fil 2:3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 

Jakobus 2:1 sê ons geloof moenie wees met aanneming van die persoon nie.  Ons moet almal dieselfde liefhê.  Dan vertel hy as iemand met vuil klere in die kerk inkom of iemand met mooi klere en ‘n goue ring, hoe behandel ons die een en die ander? 

Daar is predikante wat nie belangstel om die armes te besoek nie, maar hulle is nie traag wanneer dit kom by die rykes nie.  Ek wonder tog hoekom!

Vers 16 sê, moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige.   Maw, in boere Afrikaans, kom terug aarde toe.  Loop op die grond.  Paulus bedoel nie jy moet die hooggeplaastes ignoreer nie.  Hy sê eenvoudig, moenie daarna streef nie.  Moenie dit najaag nie.

Die hele punt is dit, dat ons nie onderskeid sal maak nie.  Dat ons gemaklik sal wees met die wat op die grond loop en dat ons nie sal opstyg en te belangrik word vir ander nie.  In die kerk is daar nie ‘n hierargie nie.  Niemand is belagriker nie.  Ons almal is dieselfde.

Luk 14:13 Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, 
14 en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges. 

Wat beteken dit?

Nooi die ryk mense oor, dan sal hulle weer jou oor nooi na hulle toe om jou terug te betaal.  Nooi die armes oor, wie gaan jou terug betaal?  Hulle het niks om jou te vergeld nie.  Die Here sal jou terug betaal, Hy sal jou vergeld in die opstanding.

So die vraag is? Wie wil jy graag hê moet jou vergeld vir jou goeie dade?  Die rykste mens op aarde of die Here.  Dit is nice as jy iemand kan oornooi en hulle nooi jou weer oor en gee vir jou ‘n geskenk.  Maar hulle geskenke kan nie vergelyk word met dit God vir jou gaan gee nie.

Dit is hoekom die Bybel sê, nooi die armes, want jy is dan besig om jou rekening op te bou in die hemel.

Hierdie nederiges waarvan Paulus dan ook praat het nie te doen met geestelikheid nie.  Dit beteken nie dat sommige daaronder op grond is in hulle geestelike lewe en die hoë mense is die geestelike volwassenes nie.  Dit het te doen met armes en rykes.  

Dan sê hy in v16, moenie eiewys wees nie.  Moenie dink jy is die kat se snor en alles weet nie.  Moenie dink dat alles begin en eindig by jou nie.  Spr 3:5 sê, steun nie op jou eie insig nie.

So wat sê Paulus?  As jy ander op ‘n gelyke vlak gaan behandel, is daar twee dinge wat jy moet besef.  In die kerk is daar nie sosiale onderskeiding en ook nie intellektuele onderskeiding nie.  Ons is almal gelyk.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288