Monday 18 February 2013

Die wapenrusting (deel 3) - Die borswapen van geregtigheid


Ef 6:14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan.

Ons besig met die wapenrusting van God.  Paulus het vir ons duidelik gewys dat in Christus het ons ‘n ongelooflike bron en krag.  Ons krag is in die Here.  Daarom word kragtig in die Here en in die krag van Sy sterkte.  Ons is in ‘n geestelike stryd gewikkel en dit is nie maklik om die Christen lewe te leef nie.   Ons het ‘n vyand aan die binnekant en ons het ‘n vyand aan die buitekant.

Die binnekant is die sondige vlees en ons oorwin die vlees wanneer ons deur die Gees wandel.  Die buitekant is die duiwel en sy bose magte en sy bose wêreldse sisteem.  Ons oorwin hom deur die volle wapenrusting van God aan te trek.

Luk 14:31 Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie? 

Watter koning gaan veg in ‘n oorlog sonder om nie eers mooi te kyk na al sy bronne en mannekrag nie?  Sonder om ‘n strategie en plan te hê nie?  In ‘n sekere sin is dit presies so met die geestelike oorlog.  Jy kan nie onvoorbereid wees nie.  Jy moet gereed en voorbereid wees.  En dit verg totale commitment.

Ons het dan laas week gekyk na die begin van vers 14, na die eerste deel van die wapenrusting van God.  Die gordel van waarheid, aletheia, wat ook spreek van ‘n gesindheid van egtheid.  Truthfulness.  Gereedheid.  Commitment.  Dit is vanuit hierdie gesindheid van egtheid, waaruit die swaard van die Gees, naamlik die Woord getrek word om die oorlog te wen.

Om jou lendene te gord met die waarheid is die gedagte om jou gereed te kry, om jou voor te berei, om jou commitment reg te kry vir die oorlog.  Toe Israel uit Egipteland getrek het moes hulle hulle heupe omgord.  Maw hulle hets hulle voorberei en gereed kry.  Dit was ‘n algemene sê ding vir die Jode.  En Paulus gebruik dit in ‘n geestelike sin.

Petrus sê,

1 Pet 1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. 

Maw kry jou verstand gereed vir die dinge van God.  Dit is hy sê.  So dit gaan oor commitment.  Dit is die bedoeling in Ef 6:14 met die gordel van waarheid.  Jy gaan nie die oorlog wen as jy nie ernstig is nie.  Sonder commitment gaan jy nie ver kom nie.  So ook in die gemeente.  Sonder commitment gaan ons gemeente nie groei en by dit uitkom by dit wat God vir ons beplan het nie.

Die twee deel van die wapenrusting is dan die borswapen van geregtigheid.  ‘n Romeinse soldaat het net eenvoudig nooit in ‘n oorlog gaan veg sonder sy borswapen nie.  Hy mag dalk ‘n goeie vegter gewees het op die voorpunt, maar hy kan nie altyd keer as iemand hom met ‘n pyl van ver af skiet nie.  So hy het altyd sy borswapen gedra.

So Paulus gebruik die voorbeeld van ‘n Romeinse soldaat wat in die oorlog gaan veg en nie net moet hy gereed wees en commited wees nie, nie net moet sy tuniek wat hy gedra het vasgemaak wees met ‘n gordel sodat hy maklik kan beweeg en veg nie, maar hy moet ook ‘n belangrike deel van sy liggaam beskerm.

Jy het wel twee verskillende borswapens gehad.  Een wat gemaak was uit ‘n swaar materiaal en bedek was met hoewe van diere  Soms het hulle stukke staal gebruik en dit aan die materiaal gehak.  Dan het jy ‘n borswapen gekry wat van soliede stuk metaal gemaak was.  ‘n Plaat wat van die nek tot by die heupe alles toegemaak het.

En as die soldaat nie ‘n borswapen gedra het nie, het al die ander dele van die wapenrusting nie gehelp nie.  So as jy nie die borswapen van geregtigheid aan het nie, as jy nie geregtigheid in jou lewe het nie, sal daar ook nie commitment wees nie.  Daar sal ook nie die skuld van geloof wees nie, die skoene van vrede en ook nie die helm van verlossing nie.

Jy gaan nie die swaard kan gebruik as jy nie committed is tot geregtigheid in jou lewe nie.  Geregtigheid beteken om in die regte verhouding met God te staan.  As dinge nie reg is tussen jou en God nie, maak die res van die wapenrusting nie saak nie.  Dit is uit geregtigheid, uit jou regte verhouding met God, waaruit commitment gebore word.

Die borswapen het die gedeelte van die hart en al  die binnegoed of ingewande beskerm, al die organe van die liggaam.  Die helm beskerm jou kop.  Nou vir die Jood het dit belangrike betekenis.  Die hart verteenwoordig die verstand, die gedagtes.

Spr 23:7 Want soos hy in sy siel (hart) bereken, so is hy...

KJV
Pro 23:7 For as he thinketh in his heart, so is he...

Mar 7:21 Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, 

Maw die hart dink.  Jer 17:9 sê dat die hart is bedrieglik bo alle dinge en dit is verdorwe.  Dit is wat die hart in die Bybel verteenwoordig.  Dit  is die mens se gedagtes, sy verstand.  

Die ingewande of die binnegoed verteenwoordig dan die gevoelens en emosies.  En die duiwel val ook dan die mens primer op hierdie twee plekke, in jou gedagtes en in jou emosies.  Hoe jy dink en hoe jy emosioneel reageer.

En die gelowige moet homself hierteen beskerm, want dit is waar die duiwel aanval.  Hy voed jou gedagtes met valse informasie, valse leerstellinge, leuens en hy wil verkeerde emosies en gevoelens by jou opwek.  Hy wil jou harstogte verdraai. 

So om dit alles op te som, as jy jou denke en jou gevoelens beskerm teen die aanvalle van Satan, is jy onfeilbaar.  Hy sal probeer om jou gedagtes en jou emosies te verwar, sodat jy die verkeerde dinge soek en begeer.

Verkeerde gedages en verkeerde emosies maak dat jy verkeerd optree.  En die doel van die borswapen is om jou gedagtes en jou emosies te beskerm.  Die Satan wil jou gedagtes vul met leuens.  Hy wil jou gedagtes vul met dinge wat nie van God af is nie.  Met teologie wat nie van God af is nie, met allerhande halwe waarhede en onwaarhede.  

Hy wil hê jy moet dink dat sekere sondes is nie so bad nie.  Hy letterlik verdrink jou in die see van sonde, sodat jy nie meer erstig daaroor dink nie en sonde begin verdra.  Hy vermaak jou met sonde op die TV dat jy sit en lag daaroor.  Hy maak mooi musiek daarmee, sodat ons dit oor en oor kan hoor en dat dit ons gedagtes kan beïnvloed.

Want uit die hart van die mens is die oorspronge van die lewe.  As jy verkeerd dink, gaan jy verkeerd lewe en verkeerd optree.  Jy gaan ook dan verkeerde gevoelens hê, want emosies volg altyd op gedagtes.

Daarom moet ons die borswapen van geregtigheid aantrek.  Ons gedagtes en emosies word beskerm deur geregtigheid.  Beskerm jou gedagtes en jou gevoelens en jy sal onfeilbaar wees teen die duiwel.

Waarvan praat Paulus as hy hier praat van geregtigheid?  Daar is net drie moontlikhede.  Die eerste is self-geregtigheid, die tweede is geregtigheid wat toegereken is, en derdens is praktiese geregtigheid.

Dit kan nie self-geregtigheid wees nie.  Self-geregtigheid beteken dat die mens probeer om sy eie geregtigheid op te rig.  Hy dink dat hy ‘n goeie mens is en dat dit hom in die hemel sal kry.  Hy dink sy eie geregtigheid is genoeg.  Maar Jesus het gesê,

Matt 5:20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. 

Rom 10:3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. 

Dit is uit genade wat die mens gered word deur die geloof en nie uit onsself nie.  Dit is die gawe van God.  Jy kan nie deur jou eie geregtigheid en jou goeie werke gered word nie.  Dit is wat godsdiens doen.  Godsdiens is die mens se poging.  Jesus vertel hierdie gelykenis in Luk 18, 

Luk 18:9 En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. 
10 Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. 
11 En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. 

Maw, dit is iemand wat se, dankie tog ek is nie so sleg soos hulle nie.  Ek is ‘n goeie mens.  Dit is self-geregtigheid.

Luk 18:12 Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. 
13 En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! 

Op die ou einde was dit tollenaar wat geregtigheid gevind het en nie die Fariseër nie.  Hy wat homself verhoog sal verneder word en hy wat homself verneder sal verhoog word.  Dit is die mens wat erken dat hy homself nie kan regverdig nie.  Dit is hy wat geregtigheid ontvang het.

So die borswapen van geregtigheid spreek nie van self-geregtigheid nie.  Jesaja 64:6 sê al ons geregtigheid is ‘n besoedelde kleed.  En dit is die beste wat ons het.  As jy hoop om in die hemel te kom op grond van hoe goed jy is, is jy mislei en jy is verlore.

Paulus sê in Fil 3 dat al die dinge wat hy gedoen het, alles wat hy gedink het was vir hom wins, het hy om Christus wil skade geag.  Hy het dit alles prysgegee en as drek beskou om Christus as wins te verkry.  In Christus het hy die geregtigheid gevind wat uit God is.

Paulus sê, my self-geregtigheid gaan my nie help nie.  Ek het die geregtigheid van God nodig wat kom deur die geloof in Christus Jesus.  Christus se geregtigheid word op jou toegereken.  God beklee jou met die geregtigheid van Christus.  Wanneer God na jou kyk, sien hy nie jou geregtigheid nie, maar Hy sien die geregtigheid van Christus.

2 Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. 

Ons sonde word op Hom geplaas en Hy betaal die prys daarvoor en Sy geregtigheid word op ons toegereken.  Die is geregtigheid wat toegerek is.  Dit is die tweede moontlikheid wanneer dit kom by die borswapen van geregtigheid.  Maar ek dink dit spreek van meer as net die geregtigheid wat ons ontvang het toe ons gered is.  Dit spreek van praktiese geregtigheid.

Ja, die geregtigheid van God wat jy ontvang by saligheid is die basis van jou borswapen.  Maar dit gaan verder.

Fil 3:9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 
10 sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 

Jy ontvang die geretigheid van God, sodat jy Hom kan ken, sodat ek sy opstandingskrag kan ken, sodat ek met sy lyde gemeenskap kan hê, sodat ek aan sy dood gelykvormig kan word.  En dit is nie iets wat oornag gebeur nie.

Fil 3:12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. 
13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 
14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 

Wat Paulus sê, ek het die geregtigheid van God wat aan my toegereken is, maar ek jaag daarna, ek leer nog steeds, ek strek my uit na die dinge wat voor is.  Maw, geregtigheid wat toegereken is maak praktiese geregtigheid moontlik.

Kom ek probeer dit meer duideliker maak.  Toe jy gered is, was die geregtigheid van Jesus Christus op jou toe gereken.  Hierdie geregtigheid omvou jou toe tot in alle ewigheid.  Maar vir jou om ‘n lewe te leef wat die geestelike oorlog teen Satan en die wêreld oorwin, moet jy die beginsels van geregtigheid wat nou tot jou beskiking is elke dag toepas.

Daar is christene wat dink, omdat hulle geregverdig is, maak dit nie saak hoe hulle leef nie.  Die geregtigheid van Christus wat op jou toe gereken is, waarborg nie dat jy elke oomblik reg sal lewe soos jy behoort te lewe nie, maar dit is ‘n waarborg dat jy kan.

Daar’s ‘n verskil tussen posisie en praktyk.  Jou posisie is verseker veraltyd, maar in die praktyk moet ek begin om dit uit te leef.  Omdat ek nou die geregtigheid van Christus het, beteken dit nie dat ek alreeds gearriveer het nie.  

In Fil 2 sê Paulus, “werk julle eie heil uit met vrees en bewing.”  Die heil wat jy ontvang het, werk dit nou uit.  Die geregtigheid wat jy ontvang het, werk dit uit.  En dit is wat dit beteken om die borswapen van geregtigheid aan te trek.

Om die borswapen van geregtigheid aan te trek, beteken nie om gered te word nie, maar om jou redding uit te leef, om die geregtigheid wat jy reeds het te begin uit leef.  Dit beteken om ‘n lewe te leef van geregtigheid.  Dit beteken om heilig te lewe.

Paulus het eerder die praktiese geregtigheid in gedagte wanneer hy praat van die borswapen van geregtigheid.  Christene kan die geregtigheid van Christus hê, maar die geestelike stryd verloor, want hulle leef nie die geregtigheid van Christus in hulle lewe uit nie.  Jy moet ‘n lewe van geregtigheid lewe.  Dit is ‘n daaglikse keuse.  Praktiese geregtigheid trek die borswapen aan.

Paulus sê, ek jaag na die doel om die prys te verkry.  Wat is die prys?  Om soos Christus te wees.  Die borswapen van geregtigheid beteken om heilig te lewe.  Dit is so eenvoudig soos dit.  As jy nie ‘n heilige lewe leef en streef na heiligmaking nie, gaan jy nie die geestelike stryd wen nie.

Jy gaan verloor.  Jy gaan jou blydskap verloor.  Die rede waarom soveel Christene hartseer in hulle lewens het, is nie omdat hulle nou sielkundige berading nodig het nie, of omdat hulle verhoudings probleme het nie, maar dit is as gevolg van ‘n te kort aan persoonlike heiligmaking.

Dit is die eerste plek waar jy moet begin kyk as jy probleme in jou lewe het.  Begin kyk na jou heiligmaking.  As jy nie heilig leef nie, sal jy nie die blydskap van jou redding beleef nie.  

Nadat Dawid gesondig het, het hy gesê, “Psa 51:12 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees.”  Jy gaan jou vreugde as kind van God verloor as jy in sonde leef.

Jy het nie 10 sessies by ‘n sielkundige nodig nie.  Trek die borswapen van geregtigheid aan.  Ons lewe in ‘n wêreld vol van immoraliteit, materialisme, en humanisme wat dit moeilik maak om ‘n heilige lewe te leef.  En snaakse gimmicks gaan nie die probleem oplos nie.  Ons moet heilig lewe.

Is jy getrou wanneer dit kom by Bybelstudie?  Is jy getrou in jou gebedslewe?  Het jy jou gesin lief soos wat jy veronderstel is om te wees?  Deel jy die evangelie van Jesus Christus in jou gemeenskap sonder om skaam te wees?  Gee jy vir werk van die Here soos wat jy veronderstel is om te gee?  Lewe jy ‘n lewe van geregtigheid?

Indien nie?  Hoekom sou jy verwag dat alles net wel gaan met jou?  Kom by die wortel van die probleem uit.  Deel eers met die ongehoorsaamheid en die sonde in jou lewe.  Deel eers met die verkeerde gesindheid.  Deel eers met jou verkeerde gedagtes.

As jy nie die borswapen van geregtigheid aantrek nie, gaan jy ook die vrug in jou lewe verloor.  Jy gaan onproduktief word.  Nog iets wat jy kan verloor is jou loon in die hemel.

2 Joh 1:8 Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang. 

God wil hê ons moet ‘n godvrugte lewe leef.  God wil hê ons moet blydskap hê.  God wil ons eendag beloon daarvoor.  Trek die borswapen van geregtigheid aan.  Begin om ‘n lewe van geregtigheid te leef.   As jy die vyand aan die buitekant wil oorwin, is dit wat jy moet doen.

Trek die volle wapenrusting van God aan.  Ons is in ‘n oorlog gewikkel.

1 Pet 2:11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; 
12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking. 


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288