Tuesday 25 September 2012

Christus as wins - 28 Julie 2012

Teksgedeelte: Fil 3:8-11

Fil 3:8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry
9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;
10 sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,
11 of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.

In hierdie gedeelte gee Paulus sy persoonlike getuienis.  Hy vertel ons wat gebeur het by sy bekering, en ons weet dat hy het tot bekering gekom op die Damaskus pad.  Nou, om te verstaan wat Paulus in hierdie gedeelte sê, gaan ons eers kyk na Jesus se woorde in Matt 16.

Matt 16:25 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.
26 Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?

Jesus praat hier van ‘n uitruil transaksie.  Hy sê: jy moet iets verloor om iets te kry.  In hierdie geval, moet jy jou lewe verloor, om dit te vind.  As jy jou lewe wil red, gaan dit jou jou siel kos.  Jesus sê wat help dit jy kry alles wat die wêreld jou offer, maar jou siel gaan verlore. 

Wat dit ookal gaan kos om die die ewige lewe te verkry, moet jy bereid wees om te kan prysgee.  V26 sê: wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Die antwoord is, Niks!  Jy kan niks gee nie, jy moet iets verloor.  Matt 16:24 sê Jesus: as jy Hom wil volg, moet jy jouself verloën.

Wat ek ookal in my lewe bymekaar gemaak het, al het ek die hele wêreld gewin, baat dit my niks.  As ek Christus verloor het, het ek alles verloor.  ‘n Wyse persoon kyk na alles in sy lewe, weeg dit op teenoor die waarde van sy siel wat verlore gaan en sê: dit is nie die moeite werd nie.  So persoon sal alles opgee om sy siel te red.

Matt 13:44 Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.
45 Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek;
46 en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.

Hierdie gelykenisse gaan oor een man wat ‘n skat gekry het en ‘n ander een wat ‘n pêrel gekry het.  Beide van hulle gaan en verkoop alles, sodat hulle daardie skat of pêrel kan kry.

Jy sien die skat of die pêrel verwys na Christus en saligheid word alleen in Hom gevind.  Die man wat die skat gevind het en die koopman wat die pêrel gevind het, sê: Dit wat ek gevind het is meer werd as enigiets wat ek het.  Ek gaan van alles ontslae raak, sodat ek daardie skat of daardie pêrel kan hê.

Ons lees egter van ‘n jongman in Matt 19 wat anders opgetree het.

Matt 19:21 Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.
22 Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.

Dit wat hierdie jongman moes opgee, sodat hy ‘n skat in die hemel kan hê, was vir hom te veel.  Hy het ‘n dwase besluit gemaak, en sy besluit het hom die ewige lewe gekos. 

Hierdie gedeelte gaan nie soseer om geld nie.  Maar dit waarom dit gaan is die vraag: “waarop vertrou jy jou hele lewe?”  Vertrou jy op geld?  Vertrou jy op jou eie geregtigheid of werke, vertrou jy op mense, vertrou jy op ‘n kerk of ‘n pastoor? 

Luister!  Dis nie jou eie geregtigheid of jou werke wat jou hemel toe vat nie.  Dis nie mense wat jou hemel toe vat nie.  Dis nie jou geld wat jou hemel toe vat nie.  Dis nie jou kerk of jou pastoor wat jou hemel toe gaan vat nie.  Ja, ek doen my beste om vir jou die waarheid te preek, maar daar is net EEN en Sy Naam is Jesus Christus.  Hy is die Weg, en die Waarheid, en die Lewe.

Kom ons gaan terug na Fil 3 waar Paulus sy getuienis gee.  Hy sê: ek het na alles gekyk en ek ag dit alles skade.  V8 sê: ek het alles prys gegee en as drek beskou, om Christus as wins te verky. 

Fil 3:7 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.

Alles wat hy gedink het was belangrik en alles wat hy gedink het sal hom geregtigheid bring, toe hy Christus ontmoet, toe besef hy dit was alles skade.  En nou sê hy: hy gaan alles prysgee om daardie skat of daardie pêrel te verky.  Hy sê: Ek het alles opgegee om Christus as wins te verkry.

Op die Damaskus pad, was Paulus, wat eers Saulus genoem was, met Christus gekonfronteer.  Op hierdie stadium het hy gereken dat sy godsdiens ‘n aanwins was en Christus net skade, daarom het hy Christene doodgemaak.  Maar nadat hy Christus ontmoet het, sien ons die bortjies word verhang.  Paulus kom tot bekering en ag Christus as wins en al die ander dinge as skade.

Paulus het nie meer sy godsdiens nodig nie, want hy het nou alles wat hy nodig het, alles wat tot die lewe en godsvrug dien, dit het hy gevind in die persoon van Jesus Christus.

In Fil 3:3, 4 sê hy dat hy op die vlees vertrou het.  Sy vertroue was altyd op sy menslike vermoëns, sy godsdiens, sy opregtheid, sy self-geregtigheid.  Hy het dit alles as wins geag.  Dit was waarop hy sy vertroue geplaas het om hom te red.  Hy het geglo hy was gered op grond van sy godsdienstigheid. 

Skielik word hy met Christus gekonfronteer en sien hy vir die eerste keer die werklike waarde van Christus raak, die skat, die pêrel.  En hy besef dat al die ander dinge is skade.  Hy word fisies blind, maar geestelik het sy oë oop gegaan.

Dit is die boodskap van Fil 3.  Het jy al besef wat Christus werd is.  Net Hy kan jou red.  As jy op enigiets anders vertrou as Jesus, is jy verlore.  Saligheid is niks ander as geloof in Christus Jesus nie

Hand 4:12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Paulus sê nie: ek het iets goeds gehad, en dit wat hy nou gevind het was beter nie.  Hy sê: dit wat ek gehad het, is drek.  Dit is nie iets goeds nie, maar sleg.  Dit is nie wins nie, maar skade.  Is dit sleg om godsdienstig te wees?  Ja, as jy jou vertroue op godsdiens plaas om jou te red. 

Wat bedoel ek as ek sê iemand is godsdienstig?  Dit is soos iemand wat kerk toe gaan, bybel lees, bid, ‘n goeie lewe lei, en dink hy kan daardeur sy eie geregtigheid bewerk.  Godsdiens is die mens se poging om gered te word.

En die moeilikste persone in die wêreld om te wen vir Christus, is godsdienstige mense.  Hoe meer godsdienstig hulle is en hoe meer hulle vashou aan tradisie, hoe moeiliker is dit om hulle te bereik, want hulle vertrou op hierdie dinge en reken dat hulle al hierdie dinge nodig het vir hulle saligheid.

Hoekom ag Paulus dit alles skade?  Want godsdiens verdoem jou siel.  Hy sê: toe hy sien dat dit nie goed was nie, maar sleg, dat dit ‘n mens se siel verdoem, dat dit valse sekerheid gee, ‘n valse hoop, ‘n valse saligheid, het hy dit alles weggegooi en om Christus as wins te verkry.

Kom ons kyk na vyf dinge wat Paulus sê ons verkry as wins as ons Christus het:

Die wins van Christus is – Kennis

Saligheid begin met die kennis van Jesus Christus.

Fil 3:8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om DIE UITNEMENDHEID VAN DIE KENNIS VAN CHRISTUS JESUS, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry

Hy sê in der waarheid: daar is niks beter as om Jesus te ken nie.  Al die ander dinge is drek, in vergelyking met die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus.

Joh 10:14 Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en WORD deur my eie GEKEN.

Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, DAT HULLE U KEN, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

Kyk watter wins kry jy as jy Jesus ken.

1 Joh 5:20 En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.

Saligheid beteken om Jesus te ken.  Die ewige lewe beteken om Jesus te ken.  Nie intellektueel nie, maar persoonlik.  Saligheid beteken om in ‘n persoonlike intieme verhouding met Christus te staan.

Paulus sê: hy het alles prysgegee om Christus te ken, om ‘n persoonlike verhouding met Hom te kan hê.  Daar is niks beter as om Jesus Christus te ken nie.

2 Kor 4:6 Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn--dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van DIE KENNIS VAN DIE HEERLIKHEID VAN GOD in die aangesig van Jesus Christus.
7 Maar ons het HIERDIE SKAT in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.

Die wins van Christus is – Geregtigheid

Die geregtigheid wat uit God is.  Geregtigheid beteken dat alles is reg  tussen jou en die Here.  Dit beteken dat God jou aanvaar.

Fil 3:9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, DIE GEREGTIGHEID WAT UIT GOD IS deur die geloof;

Paulus was ‘n Fariseër en hy het sy hele lewe lank probeer om geregtigheid te verkry deur die wet.  Die Fariseërs het geglo hulle kon geregtigheid verkry deur die wet te onderhou.
In Hand 15:10 sien ons hoe Petrus die Judeërs teëgaan, omdat hulle die dissipels weer onder die wet wil bring.  Dan sê hy: “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?”

Geen mens was nog ooit in staat om die wet te kan onderhou nie.  Die bedoeling van die wet was nog nooit om jou te red nie, maar om vir jou te wys hoe jou sondige toestand lyk.  Daar is net Een Naam waardeur ons gered kan word en dit is Jesus.

Geregtigheid wat uit die vlees is, beskou Paulus as skade.  Fil 3:4 sê hy: ek het rede om op die vlees te vertrou. V5: ek was besny, ek is ‘n Israeliet, ‘n Hebreër, ‘n Fariseër.  Ek het alles reg gedoen tot die beste van my vermoëns.  Wel!  Jou beste is nie goed genoeg vir God nie.

Rom 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

Jy sal nooit geregverdig word deur dit wat jy doen nie.  Dit is wat Paulus sy hele lewe lank probeer doen het.  So ook die volk Israel.

Rom 10:1 Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.
2 Want ek getuig van hulle dat hulle 'n ywer vir God het, maar sonder kennis.
3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.
4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.

Paulus sê in Fil 3:9 dat die geregtigheid wat uit God is, kom deur geloof in Christus.  As jy Christus het, het jy die wins van die geregtigheid van God.

God aanvaar jou nie op grond van wat jy gedoen het nie, maar op grond van dit wat Christus aan die kruis gedoen het.  ‘n Regte verhouding met God is nie deur werke nie, maar deur geloof. 

Geloof beteken nie net om te glo wie Jesus is en wat Hy gedoen het nie, maar dit beteken om jou vertroue op Hom te plaas en van Hom afhanklik te wees.

Dit is baie eenvoudig: Dis om te sê: ek gee op, ek kan dit nie doen nie.  Nou plaas ek al my vertroue op Christus.

Die wins van Christus is – krag

Fil 3:10 sodat ek Hom kan ken en DIE KRAG VAN SY OPSTANDING en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,

Daar is geen krag in die wet nie.  Daar is geen krag in my vlees om sonde te oorwin nie.  Daar is geen krag in my vlees vir geestelike diens nie.  Paulus sê: hy het vir jare geopereer sonder krag en nou sien hy die krag in Christus.  Hoe sien hy dit?  In sy opstanding.

Die krag van sy opstanding.  Dit is by die opstanding van Christus waar Sy krag gedemonstreer is.  Hy het krag oor die fisiese wêreld en die geestelike wêreld.  Hy het krag oor die dood.  Paulus sê: ek wil nie meer godsdiens beoefen nie, NEE, ek wil die krag van Sy opstanding ken.  Ek gee alles prys om sy krag te ken.

Paulus ken sy krag op twee maniere:  In ‘n geestelike sin sê hy in Rom 6 is ek saam met Christus begrawe in Sy dood en saam met Hom opgewek.  Maar meer nog, soek hy die krag van Christus om sy voordurende bron te wees. 

Hy het krag nodig om versoekinge te weerstaan, krag om diensbaar te wees, krag om hom sterk te maak in tye van verdrukkinge. Krag om ‘n getuie te kan wees.

Jy sal nooit sonde oorwin op jou eie nie, maar in Christus is daar krag om sonde te oorwin, krag om versoekinge te weerstaan, krag vir diensbaarheid, krag om jou omstandighede te oorwin, krag om te kan getuig.  Christus is al wat jy nodig het.  Hy is genoegsaam.  JESUS PLUS NIKS IS GELYK AAN ALLES.

Die wins van Christus is – gemeenskap met Hom

V10 “…DIE GEMEENSKAP AAN SY LYDE terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,”

Die wins wat jy verkry in Christus is iemand waarmee jy gemeenskap kan hê, veral wanneer jy lyding ervaar.  Gemeenskap met Iemand wat reeds gely het.  Hy het veel meer gely as wat jy ooit sal besef, veel meer as wat jy ooit sal ervaar. 

En wanneer ons deur moeilike tye gaan, wanneer ons ervaar die omstangdighede is te veel, dan is daar een ding wat ek as wins verkry as ek Christus het en dit is gemeenskap met Hom.  In dit alles, is Hy daar.  Jesus ken dit.  Hy weet waardeur jy gaan. 

Hy was verwerp.  Hy was gespot, gehaat en doodgemaak.  Paulus het ook daardeur gegaan.

2 Kor 12:10 Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.

Ons het ‘n hoëpriester wat met ons swakhede medelye het.  Hy is die Een by wie jy kan skuil.  Hy weet hoe jy voel?  Na wie toe moet jy gaan?  Na Christus toe.  Dit is gemeenskap van lyding.
                                                
Hierdie wins is ver meer as enigiets wat die wêreld kan bied.  Gemeenskap met Jesus Christus. 

Die wins van Christus is – heerlikheid (opstanding)

As jy Christus het, het jy die belofte van die opstanding.

Rom 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Dit is die wins wat jy verkry as jy Jesus Christus het.

1 Kor 15:43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.

54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
56 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.
57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.

Die oorwinning is in Christus Jesus.  Die wins van Christus is oorwinning oor die dood.  Dit is ons heerlikheid wat ons in Christus vind.  Ons sal opgewek word in heerlikheid.  Ons gaan ‘n verheerlikte liggaam ontvang.

Slot

Daar is niks beter as Jesus nie.  Daar is geen groter wins as Christus nie.  Het jy al hierdie skat of pêrel ontdek?  Is jy bereid om jouself te verloën, alles op te gee.  Jou hele lewe aan Hom uit te verkoop.  Het jy al Christus as wins verkry?

“…elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288