Friday 16 March 2012

Die Grootste Wêreld Oorlog


Teksgedeelte: 2 Kor 10:3-6

2 Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
6 en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is.

Inleiding

Daar is oorlog aan die gang en hierdie oorlog is nie ‘n fisiese oorlog met kern wapens, missiele en vuurwapens nie.  Nee!  Dit is nie ‘n vleeslike stryd nie, maar ‘n geestelike stryd.  Ons kan ook nie hierdie stryd met vleeslike wapens voer nie.  Ek noem dit die grootse wêreld oorlog, want hierdie is die langste oorlog nog ooit en dit  het die meeste geestelike sterftes opgelewer.

Wat is hierdie oorlog?  Waaroor gaan dit? Dit is ‘n oorlog tussen die waarheid en leuens.  Ek wil vir julle sê dat die Bybelse waarhede is onder geweldige aanvalle van die vyand, die Satan.  Veral in hierdie tyd waarin ons leef.

En as jy ingeteken het in God se weermag, as jy ‘n soldaat van die Here is, dan het jy as’t ware gesê, ek sal die waarheid verdedig met my lewe.  Daarom is die opdrag in Judas 3 op elke Christen van toepassing.

Jud 1:3 Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Ons moet nie net stry nie, maar ons moet kragtig stry vir die geloof.  Die geloof wat eenmaal aan ons oorgelewer is.  Dit sluit in die Skrif, die Woord van God, die inhoud van hierdie Woord, die gesonde leer, die Openbaring van God aan ons.  Ons moet hiervoor stry.  Hierdie oorlog is egter nie net daar buite nie, maar ook binne die kerk.  Ons moet ook binne die kerk stry vir die waarheid.  Hoekom?

2 Tim 4:3 want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Let op die woorde: “volgens hulle eie begeerlikhede.”  Die mens wil hoor waarvan hy hou, hy wil dit doen wat hom gelukkig maak en wat hom pas en nie wat die gesonde leer sê nie.  Dit gaan nie oor dit wat God sê nie, dit gaan oor wat hom pas.  Daarom keer hulle hulle af van die waarheid en wend hulle tot fables.

As jy jouself ‘n Christen gaan noem, dan moet jy die stryd gaan veg, daar waar die tyre die teer tref.  En die stryd vandag, en ook regdeur die geskiedenis, gaan oor die waarheid van die Skrif.  Die Bybel word ongelooflik aangeval deur die vyand.  Die waarheid van die Skrif word bevraagteken.  God se Woord word betwyfel.

God is die outeur en die bron van waarheid.  Satan is die outeur en die bron van leuens.  En hier is die oorlog.  God se waarhede teenoor Satan se leuens.  En Satan val die waarheid gedurig aan.  Jesus sê in,

Joh 8:44 (dat die duiwel)…was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.

Hy is die vader van leuens.  En hy het alreeds van die begin af die waarheid aangeval met sy leuens.  Ons sien dit in Gen 3. 

Die sondeval het ontstaan agv ‘n konflik wat onstaan het tussen die waarheid en ‘n leuen.  Die konflik het gegaan oor, “wie vertel die waarheid?”  Het God die waarheid vertel of het die duiwel die waarheid vertel?  Eva het besluit dat dit die duiwel was wat die waarheid vertel het.

Die mensdom het nie in sonde geval primêr omdat Eva ‘n verbode vrug geëet het nie, maar die mensdom het in sonde geval omdat Eva ‘n leuen geglo het.  Die feit dat sy ‘n verbode vrug geëet het, was die gevolge van ‘n leuen wat sy geglo het. 

En dit vind ons regdeur die menslike geskiedenis.  Daar is mense wat God glo, en daar is mense wat God nie glo nie.  Daar is mense wat die Bybel glo en daar is mense wat die Bybel nie glo nie.

Daar is net een ding waarin die duiwel konstant is, en dit is wanneer hy lieg.  Wanneer jy die duiwel en sy trawante gaan bestudeer in die Bybel, sal jy sien dat hulle nooit konstant is nie.  Maar daar is een ding waarin hulle altyd konstant bly, en dit is dat hulle die waarheid haat en hulle vertel leuens.  Hulle doen dit om mense te mislei.

Ons sien dat die duiwel is die vader van leuens en hy vertel die eerste leuen in die Bybel.  Hy is die eerste leuenaar.  As gevolg van die mens se sondige natuur is dit dan ook so dat die mens kies om ‘n leuen te glo en die waarheid te haat.

Ek meen, watter mens sal die waarheid, dat God jou liefhet en Sy Seun gegee het om in jou plek te sterf, sodat jy die ewige lewe kan hê, watter mens sal dit nie wil glo nie?  Die beste geskenk wat ‘n mens ooit kan ontvang.  Maar mense kies om dit nie te glo nie.

In Gen 3:1 sê die slang vir die vrou

Gen 3:1 …Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Die slang kry vir Eva alleen, onbeskermd.  Adam, die een wat haar beskerm, die een wat haar hoof is, is nie daar nie.  Sy is broos.  En ek dink die slang het dit so beplan.   

Eerstens en let op!  Die eerste ding: die eerste woorde wat uit sy mond uit kom, is ‘n vraag?  Hy begin met ‘n baie onskuldige vraag.  Want hy wil hê dat sy God se woord moet betwyfel.  “Is dit ook so dat God gesê het…?”  Maw, “het God regtig dit gesê?”

‘n Letterlike vertaling sou wees: “So, God het gesê, het Hy, dat julle nie mag eet van al die bome van die tuin nie?  Het God dit gesê?”  Wat probeer die duiwel doen?  Hy probeer net ‘n gedagte by haar plant dat daar iets verkeerd is met God se opdrag.  “Het God regtig dit vir julle gesê?”

Dit is die eerste vraag in die Bybel.  Dit mag dalk die eerste vraag wees in die geskiedenis van die mensdom.  Dit is die eerste dilemma.  Daar was nog nooit ‘n dilemma gewees nie.  Daar was nog altyd net antwoorde gewees.  Alles was duidelik.  En die vraag is so gestel om Eva op ‘n rigting te plaas waar sy God se woord betwyfel.  En dit is die kern van sonde.

En vir die eerste keer het die dodelikste mag in hierdie wêreld in die mens se lewe ingetree.  En dit is die veronderstelling dat dit wat God gesê het onderhewig is aan menslike oordeel.  Wie het in elk geval die mens die reg gegee om God se woord te bevraagteken?  Eva het presies geweet wat God gesê het.  Sy het geweet dat God gesê het.

Gen 2:16 Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,
17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Maar nou kom die duiwel en plaas hierdie gedagte in Eva se kop om God se woord te bevraagteken.  “Het God regtig gesê julle mag nie eet van al die bome in die tuin nie?”  Die implikasie is dit: “Hoekom sou God julle beperk?  Hoekom sou Hy dit doen?  Hoekom sou Hy so eng wees?  Wil God nie hê julle moet vry wees nie?  Het Hy dan nie vir julle ‘n vrye wil gegee nie?  Waar is julle vryheid?  Wil God nie hê dat julle kan doen net wat julle wil, watookal goed lyk, watookal goed voel, watookal julle plesier gee, watookal julle blydskap gee nie?  Hoekom beperk Hy julle so?”

Die duiwel skep die gedagte by Eva dat God hulle vryheid beperk, dat God baie eng is, dat God hulle regte wegneem.  Dalk is Hy nie so goeie God as wat hulle gedink het nie.  Dalk kan hulle Hom nie vertrou nie.  Hierdie is mos ‘n perfekte wêreld.  Hoekom sou Hy beperkinge plaas?

Dit is so asof die slang sê, “Ek kan nie glo dat God dit vir julle gesê het nie.  Hoekom sou Hy dit doen?”  So daar is ‘n gedagte van twyfel.  God se goedheid word onder verdenking geplaas.  God se woord word onder verdenking geplaas.  En dit is ‘n gevaarlike plek om te wees.

Eva verdedig dit so half hartiglik in v2&3

Gen 3:2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,
3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.

Nee man! Dit is nie so erg nie.  Dit is net een boom.  God het gesê: “Julle mag nie daarvan eet nie en dit nie aanroer/aanraak nie…”  Kyk mooi!  Het God dit gesê?  Nee!  God het nie gesê, hulle mag dit nie aanraak nie.  Hy het dit nooit gesê nie, maar Eva het reeds geval vir die duiwel se versoeking.  Sy sê dat God het gesê, wanneer God dit nie gesê het nie.  Sy plaas woorde in God se mond waarop sy besluit het om God se engheid te beklemtoon.  “Julle mag dit nie aanraak nie”.  God het dit nie gesê nie.

Die duiwel probeer haar op die plek kry waar sy verstaan dat hy is vir vryheid en menseregte en vrye wil en jou eie keuses en jou eie regte en jou geluk en jou vervulling.  Net die feit dat Eva nou woorde in God se mond plaas is klaar ‘n teken dat sy val vir Satan se versoeking.

Sy was veronderstel om God te verdedig.  Sy het God geken.  Sy het God se goedheid verstaan.  Sy het God se duidelike opdrag gehad.  Dit is nie dat sy nie verstaan het nie.  Sy moes klaar bedenklik gewees het oor die pratende slang.  Maar sy val vir sy leuens.

Luister!  As iemand nie ten volle en met sy hele hart en geheel en al in die Woord van God vertrou nie, het sonde reeds in sy hart ingetree.  Dit is waar die sondeval vandaan gekom het.  Die wantroue wat Eva gehad het in God se woord.  Die sondeval het gekom by ‘n verkeerde gedagte wat sy gehad het oor God.  “God is eng en Hy hou iets goeds terug vir my.”

Sy het God se woord bevraagteken en dit was nie aanvaarbaar nie.  En dit is waar sy geval het.  Sy het die waarheid verruil vir ‘n leuen.  So die eerste ding wat die duiwel vir jou sê is: Jy het die reg om God se woord te oordeel of te bevraagteken. 
Die tweede ding volg in v4

Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;

Hier draai die duiwel dit om.  Hy sê: “God het nie die waarheid gepraat nie, maar ek praat die waarheid.  Moenie die Woord van God glo nie, glo my”.  En dit is dieselfde ou ding: moenie die Bybel glo nie, maar glo hierdie ou of daardie ou of daardie profeet.  En so gaan dit aan. 

Satan doen homself voor as ‘n engel van die lig in ‘n duisend verskillende kostuums, maar sy boodskap bly nog altyd dieselfde. “Moenie God glo nie, Hy vertel nie die waarheid nie.  Jy sal nie sterf nie.  Daar is nie ‘n oordeel nie.  Daar is nie gevolge vir jou dade nie.  Jy kan Hom nie vertrou nie.  Hy is te eng en nougeset.  Hy wil jou van jou vryheid beroof.  Jy mag nie dit nie, jy mag nie dat nie.  Waar is jou vryheid?”  En so gaan hy aan.

Die duiwel sê vir jou “jy kan doen net wat jy wil, jy is vry, jy maak jou eie besluite, daar is geen grense nie.”

Die vraag in Eva se kop teen hierdie tyd is: “Waarom sou God dit doen? Hoekom sou Hy so wees?  Hoekom sou Hy sê ek gaan sterf as ek nie gaan sterf nie?  Hoekom is dit so belangrik dat hulle nie mag eet van die boom van die kennis van goed en kwaad?”  En dan gaan die duiwel verder en sê in v5

Gen 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Eerstens plant die duiwel twyfel in God se Woord en tweedens plant hy nuwe gedagtes in haarr kop.  Gedagtes wat in stryd is met God se Woord.  Hy rig ‘n skans op teen die kennis van God.  Julle sal soos God wees.  Die KJV is reg vertaal wanneer dit sê,

KJV
Gen 3:5 For God doth know that in the day ye eat thereof, then your eyes shall be opened, and ye shall be as gods, knowing good and evil.

“Ye shall be as gods”.  Julle sal soos gode wees.  Maw jy kan ook ‘n god wees.  En ons weet dat dit is die geboorte plek van die New Age beweging.  Die New Age beweging is nie ‘n nuwe beweging nie, maar dit is die ou leuen van die slang.

En hierdie oorlog is steeds vandag aan die gang.  ‘n Oorlog tussen die waarheid en leuens.  Hierdie oorlog is ‘n oorglog vir mense se gedagtes.  As die duiwel eerstens twyfel in jou gedagtes kan saai, dan kom hy met allerhande leuens. 
Kom ons gaan terug na ons teksgedeelte in 2 Kor 10:

2 Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel (en hier praat hy nie van sonde nie, maar hy praat hier van menslik), hoewel ons in die vlees wandel (alhoewel ons menslik is) voer ons die stryd nie volgens die vlees nie (maw ons voer nie die stryd met menslike wapens nie);
4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie (ons stryd is nie menslik nie), maar kragtig deur God om vestings neer te werp,

Ons wapens is kragtig deur God.  Nou, waarom het jy kragtige wapens nodig? Want ons v4, probeer om vestings neer te werp.  KJV sê “the pulling down of strongholds”.

“Vestings” is die Griekse woord “ochuroma” en verwys na ‘n kasteel (a fortress).  Die beeld wat hier geskets word, is dat ons nie ‘n klein huisie van papier probeer afbreek nie.  Ons is besig om groot kastele, “strongholds”, “fortresses” aan te val.  Ons probeer nie ‘n tent omgooi nie, ons probeer massiewe groot strukture, kastele of vestings neerwerp.  En luister!  Jy kan dit nie doen met kunsmatige of oppervlakkige of menslike wapens nie.

“Ochuroma” is ook die woord vir “‘n tronk”, of “‘n graf”.  Ons val hierdie dinge aan.  En waarvan praat Paulus dan.  Hy gebruik hier ‘n metafoor, ‘n vergelyking.  ‘n Kateel, ‘n tronk of ‘n graf is ‘n metafoor.  En dit word verduidelik in die volgende vers.

2 Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

KJV
2 Cor 10:5 Casting down imaginations, and every high thing that exalteth itself against the knowledge of God, and bringing into captivity every thought to the obedience of Christ;

So wat is hierdie vestings, kasteel of tronk of graf wat ons moet aanval en afbreek?  Die Griekse woord is “logismas” = idees, ideologieë, spekulasies.  Die kastele of vestings wat ons aanval en neerwerp is verkeerde idees.  Godsdienstige, sielkundige, filosofiese, teoretiese, morele, intuïtiewe, geestelike idees.  Luister!  Geestelike oorlogvoering beteken nie om demone te jaag nie.  Geestelike oorlogvoering beteken om valse, verkeerde idees aan te val. 

Ons is agter mense se denke aan.  Nie emosies nie.  Ja, emosies volg.  Maar ons val mense se verjeerde denke aan.  Ons moet die ideologieë en idees van mense vernietig.  Verkeerde idees, leuens, wat soos kastele opgerig is.  En kyk wat gebeur, hierdie logismas word vir mense ‘n tronk en maak hulle gevangenisse en dit word vir hulle ‘n graf.

Hierdie “logismas” is elke skans, “every high thing” wat teen die kennis van God opgewerp word.  Enige goddelose idee is ‘n kasteel wat afgebreek moet word.
Nou sê julle vir my: Wat is die een wapen wat jy kan gebruik teen leuens en verkeerde idees?  Die waarheid.  Ons verkondig die waarheid teenoor “logismas”.  Verkeerde denke.  Leuens.  Die kragtige wapen van God is die waarheid.

Ons gebruik die woord van God.  Dit is die wapen wat Jesus gebruik het: daar staan geskrywe.  Dit is ons wapen van ons stryd.  Die swaard van die Gees, is die Woord van God. En wat is die doel?  V5 Om “…elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”.  Daar het jy dit.  Ons is agter mense se gedagtes aan.   En die krag is in die woord, want die waarheid is in die woord.

Kom ek gee vir julle een van die grootste waarhede:  Lewe leef teologie.  Teologie is dit wat glo jy oor God.  Wat glo jy oor God?  Onthou wat het Eva begin dink oor God!

Spr 23:7 Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…

Soos ‘n mens in sy hart bedink, so is hy.  Jy leef jou teologie.  Lewe leef teologie.  Almal doen dit.  Die mees dominerende ding in jou lewe, die sterkste en die kragtigste motivering in jou lewe is, wat jy glo oor God.

As jy oppervlakkige idees het oor God, dan is jy oppervlakkig in jou motivering oor God.  Jy kan nie iets uitleef wat jy nie glo is die waarheid oor God nie. 

Mense is bereid om dinge te doen en selfs te sterf in die naam van God of ‘n god.  Mense sal enigiets doen vir dit waarin hulle glo.  Dit is waarom Moslems bomme aan hulle liggaam vasmaak en hulleself opblaas, want hulle glo hulle doen dit vir God.  Dit is die nommer een rede waarom 915 volgelinge van Jim Jones, ‘n sekte in Amerika selfmoord gepleeg het, want hulle het dit gedoen in die naam van godsdiens.

Dit is die nommer een rede waarom Adolph Hitler 6 miljoen Jode doodgemaak het, want hy het geglo in die evolusie leer en “natuurlike seleksie”.  Hy het gedink hy doen die mensdom ‘n guns, deur die laagste klas mense uit te wis en so daardeur die menslike evolusie te bevorder.

Jy leef jou teologie.  Jy leef dit wat jy glo oor God.  En kan u sien waarom dit van so belangrik is dat ‘n mens nie leuens sal glo en op valse idees sal bou nie.  Daarom is ons enigste wapen, die Woord van God.

Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Daar is net een wapen en dit is die lewende, kragtige wapen van die woord van God.  Luister!  Jesus sê,

Joh 8:31 …As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.
32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Vry van logismas, vry van die tronk, vry van die graf.

Hoekom ek praat met u hieroor?  Luister!  Daar is ‘n oorlog aan die gang.  Hierdie oorlog is ‘n oorlog tussen die waarheid en leuens.  Daar is soveel verkeerde idees en leuens oor God.  Die Bybel se gesag word aangeval.  Daar is selfs Teoloë en Predikante wat nie meer hierdie Woord, elke woord, jota en titteltjie glo nie.

Matt 5:18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.

Ek wil vir julle sê, ek glo in elke woord van hierdie Woord.  En dit is tyd dat die kerk sal opstaan en verkondig dat hierdie die onfeilbare, die onveranderlike, die ewige Woord van God is.

1 Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.

Hoe goed doen ons as Christene in hierdie oorlog?  Kan ons vir mense sê soos wat Jesus gesê het, “Daar staan geskrywe…”?

Die duiwel is ook agter jou gedagtes aan en as jy nie jou gedagtes vul met die Woord van God nie, gaan hy twyfel in jou gedagtes saai.  As jy nie die Woord toelaat om oor jou te spoel en hart te vul nie, gaan jy later begin om leuens te glo.

Wil jy nie vandag ‘n keuse maak om God se Woord elke dag te bestudeer en toe te laat om jou te verander nie?  Die krag is in Sy Woord.  Die kragtige wapen waarmee ons vestings neerwerp is die Woord.

Die einde van sondaars en sonde


Sag 5:1 En ek het my oë weer opgeslaan en gekyk—daar was ‘n vlieënde boekrol.
2 En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien ‘n vlieënde boekrol, sy lengte is twintig el en sy breedte tien el.
3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.
4 En laat dit uitgaan, spreek die HERE van die leërskare, en dit sal kom in die huis van die dief en in die huis van hom wat vals sweer by my Naam; en dit sal binne-in sy huis vernag en dit verteer saam met sy balke en sy klippe.

Hierdie gedeelte gaan oor die einde van sondaars en sonde.  En om mee te begin ter inleiding kyk ons gou na,

Psa 5:4 Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.

Psa 11:5 Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.
6 Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.

Hab 1:13 U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie—waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?

God kan nie sonde verdra nie.  Dit is wat al hierdie verse vir ons sê.  1 Pet 1:15 sê dat God ons geroep het om heilig te wees in ons lewenswandel, want Hy is heilig.  God kyk nie met guns na ongeregtigheid nie.  God straf ongeregtigheid.  En Habakuk sê dat Hy is rein van oë en kan nie onreg aanskou nie. 

Maar dan sê die vers verder, waarom aanskou U die trouelose.  Waarom swyg U wanneer die goddelose die regveridge verslind.  Die vraag wat Habakuk vra is: waarom as God dit nie kan aanskou nie, waarom laat Hy dit toe?  Hoekom gaan dit dan so goed met sondaars?  Hoekom is dit dat die onregverdige so voorspoedig is?  Hoekom tree die Here nie op nie?

Psalm 10 vra dieselfde vraag:

Psa 10:1 o HERE, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?

En as jy verder lees, dan sê die Psalmdigter, v15

Psa 10:15 Verbreek die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat U niks vind nie!

Hy bid en sê, wil God nie afreken met sonde en die goddelose nie?  Wil God nie ‘n einde bring aan dit alles nie?  Hoe lank nog?  Het jy nie al so gevoel nie?  Hoe lank gaan die Here nog hierdie ongeregtigheid toelaat?  En ons kry dieselfde uitroep in Open 6.

Op 6:10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?

Hulle almal sê vir die Here, U is dan heilig, U kan nie onheil verdra nie, U kan nie onreg aanskou nie.  Wanneer gaan U dinge regstel?  Wanneer gaan God ‘n einde bring aan sondaars en sonde?  Wanneer gaan God hierdie aarde skoonmaak van alle boosheid en goddeloosheid?

En daar is ‘n antwoord vir al hierdie vrae en die antwoord is dat God sal optree.

Psa 50:3 Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.

En so sê die Psalmdigter dat God iets sal doen.  God gaan optree.  Daar gaan ‘n dag aanbreek wanneer God ‘n einde gaan bring aan alle sondaars en sonde.  God gaan sondaars en sonde oordeel op Sy tyd. 

Jes 42 sê dat daar ‘n dag sal kom wanneer die Here sal sê, te lank het Ek geswyg en My stil gehou, maar dinge gaan verander. 

Jes 42 verwys dan na die tyd van oordeel, wanneer Hy Sy koninkryk gaan oprig.  Dit is wanneer God gaan oordeel en Jesus Sy koninkryk gaan oprig.  Wanneer Jesus kom om Sy 1000 jaar koninkryk op te rig, gaan Hy die nasies oordeel.

Op 19:15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

Wanneer Jesus kom op die wolke en Sy koninkryk op aarde gaan vestig, dit is wanneer Hy met ‘n skerp swaard die nasies gaan verslaan en met ‘n ysterstaf gaan regeer.  Dit is wanneer Hy met sondaars en sonde gaan afreken.

Aan die einde van die 1000 jaar sal daar ‘n wittroon oordeel wees, wanneer alle sonde geoordeel sal word.  Maar van nou af tot wanneer dit alles gaan gebeur gaan dinge net erger en erger word.  En ons sien dit gebeur.

2 Tim 3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.

2 Thes 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;
8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,

So vanaf nou todat Jesus kom op die wolke, gaan boosheid en sonde toeneem en dinge gaan net erger en erger word.  En daar sal afvalligheid wees.  Dit gaan toeneem tot ‘n verskriklike klimaks gedurende die groot verdrukking wanneer die hel gaan losbreek op hierdie aarde en sonde sal wees soos wat dit nog nooit was nie.

Openbaring 9 sê dat, dit is gedurende die 7 jaar groot verdrukking, dat God die put van die afgrond gaan oopmaak en elke demon wat daar gebind was sal losgelaat word en hulle sal oor die aarde gaan en die mense teen God draai in hierdie finale vertoon van sonde.

So graag as wat ons wil hê alles moet beter gaan, gaan dit ongelukkig eers slegter gaan en net erger word.  So tydens die groot verdrukking gaan God oordeel, tydens die koninkryk gaan God oordeel en heel aan die einde gaan God oordeel.  En dit is die tema in Sagaria 5.

Sagaria was geskryf net nadat die Jode uit gevangenisskap gekom het van 70 jaar.  Dit was die prys wat hulle moes betaal het vir die sondaars onder hulle.  Omdat daar so baie sondaars was, moes die hele nasie die prys betaal. 

Nou wil die ouens weet, wat van die toekoms.  Hoe is dit dan dat die goddelose Jode so voorspoedig is?  Hoekom?  En dan gee Sagaria die antwoord in hoofstuk 5.  God sal met hulle afhandel op Sy tyd.  Voordat daar vrede sonder einde kan wees, sal God eers met sondaars en sonde afhandel.

In Sag 5 is daar twee visioene.  En wat dit sê is dat God gaan sondaars oordeel.

‘n Kommentaar met die naam Barron wat oor Sagaria skryf het gesê:

“The message here is this: sin must be purged away, iniquity must be stamped out in the city of God, and when the sinner is so wedded to his sin that he is no longer separable from it he becomes the object of God's curse and must be cleansed away from the earth."

Hierdie twee visoene bevat drie belangrike temas: God se oordeel oor sondaars, God se oordeel oor sonde en God se oordeel oor die sisteem.

God se oordeel oor sondaars lees ons dan in Sagaria 5:1-4 en hier sien ons hoe God teen sondaars optree soos wat Hy Sy aarde suiwer om die Koninkryk op te rig.  Eers is die duisternis voor die Koninkryk aanbreek.

Ons teksgedeelte vanoggend in Sag 5:1-4, wat beteken dit alles?  Waaroor gaan dit alles.  Dit gaan oor God se oordeel oor die sondaar.  V3 is die sleutelvers.

3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.

‘n Vloek gaan oor die ganse land.  Die KJV sê, “This is the curse that goeth forth over the face of the whole earth...”  Dit is ‘n goddelike daad van oordeel oor die sondaar.  Dit lei tot gevolg, aan die einde v4, tot die vertering van sy huis en balke en klippe.  Die KJV sê, “and it shall remain in the midst of his house, and shall consume it with the timber thereof and the stones thereof.”

Dit is wat hierdie visioen sê.  En hier is drie elemente: die maatstaf waarmee God oordeel, die volledigheid van God se oordeel en die sekerheid van God se oordeel.

1.    Die maatstaf van God se oordeel

Sag 5:1 En ek het my oë weer opgeslaan en gekyk—daar was ‘n vlieënde boekrol.

In Hebreeus is dit ‘n “megillah”.  Dit is twee stokke met ‘n lang papirus.  Hy begin op een punt en rol net aan.  En natuurlik het jy in Hebreeus agter begin.  En soos wat jy rol, lees jy.

Nou hierdie megillah is die goddelike standaard.  En hierdie boekrol bevat die vloek van God se oordeel teen sondaars.  En dit is die maatstaf van God se oordeel.  Die maatstaf van God se oordeel is Sy standaard.  Hierdie boekrol is dan ‘n simbool van God se Woord.

Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Die Woord van God is die beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.  Die maatstaf waarmee die mens geoordeel gaan word, is die Woord van God.

Kom ek wys jou iets baie interresant.   Die Afrikaanse vertaling sien ons dit nie, maar in die KJV

Zec 5:3 Then said he unto me, This is the curse that goeth forth over the face of the whole earth: for every one that stealeth shall be cut off as on this side according to it; and every one that sweareth shall be cut off as on that side according to it.

“On this side and on that side”.  Aan hierdie kant en aan daardie kant.  Nou die Afrikaanse vertaling vertaal dit nie so nie, maar dit is baie belangrik.  Want dit is dieselfde wat ons kry wanneer daar gepraat was van die wet van Moses, toe dit op twee tafels geskryf is.  Aan die eenkant en aan die ander kant.

Dit is die goddelike standaard waarmee God die wêreld gaan oordeel.  Dit is die maatstaf van God se oordeel.

Rom 2:1 Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.
2 En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen.

V2 sê, die oordeel van God is na waarheid.  Kan ek jou iets vertel.  God gaan jou nie oordeel op grond van werke nie, nie op grond van jou goeie dade nie, maar op grond van die waarheid.  En wat het Jesus gesê, wat is die waarheid?  Joh 17:17, “...U Woord is die waarheid.”  Die oordeel sal wees op grond van die Woord van God.

Jesus sê in,

Joh 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Maw die oordeel berus alles daarop of jy die woord hoor en Hom glo of nie.  Die Woord is die maatstaf.  Mense sal teen God se Woord geplaas word en as hulle Sy Woord oortree het en nie die offer wat Jesus gebring het vir sonde aanvaar nie, sal hulle geoordeel word.

2.    Die volledigheid van God se oordeel

Sag 5:3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land...(over the face of the whole earth)

Alhoewel hierdie profesie direk hier op Israel van toepassing is, sluit dit ook al die nasies van die wêreld in. 

Wanneer Jesus in Openbaring 5 die boekrol neem met die sewe seëls en die seëls begin oopmaak, dan sien ons die oordele van God wat uitgegiet word.  Die oordele van die sewe seëls, die sewe trompette, die sewe bakke, al die dinge wat die groot verdrukking uitmaak.

So die boekrol met die sewe seëls, is die oordeel megillah.  Die is die boekrol met die al die vloeke teen sonde en dit gaan uit oor die hele wêreld.

Die rede hoekom dit ook nie net na Israel verwys nie maar die hele wêreld is,

3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.

God gaan almal oordeel.  Al die diewe en al die meinediges.  Meinediges is hulle wat valslik sweer.  Hierdie oordeel sal begin by die begin die koninkryk, Sy ysterstaf gedurende die koninkryk en die wittroon by die einde.  En in al hierdie oordele is dit finaal en volledig.

Die Messias gaan nie boosheid verdra nie.  As daar enige boosheid is, sal Hy dit onmiddelik vernietig.  As daar mense is, gedurende die 1000 jaar regering wanneer Jesus met ‘n ysterstaf regeer, wat God se wet oortree, sal hulle onmiddelik Sy ysterstaf voel.

God sal nie meer swyg nie.  God sal nie meer dit toelaat nie.  God sal nie meer geduldig wees nie.  Gedurende die 1000 jaar sal enige oortreding onmiddelike oordeel word.
Maar as die mens uit genade deur die geloof gered is deur die bloed van Jesus Christus sê die Bybel in Rom 8 dat daar geen veroordeling mee is vir die wat in Christus Jesus is nie.  As iemand egter nie die saligheid van Jesus Christus ontvang het nie, sal hy/sy veroordeel word op grond van God se wet wat hulle oortree het.

Die vers sê, hulle sal weggeruim word.  Die KJV sê, they “shall be cut off”.  Dit is die Hebreuse woord “Naqah” wat beteken “om uitgewis te word”, “to be wiped out”.  Ons kry dieselfde woord in Jes 3:26 wanneer dit verwys na ‘n stad wat uitgewis is. 

Let op die totaliteit en volledigheid van oordeel.  Die maatstaf is die Woord van God, die volledigheid is almal wat sondig sal total en al uitgewis word.

3.    Die sekerheid van God se oordeel

Sag 5:4 En laat dit uitgaan, spreek die HERE van die leërskare, en dit sal kom in die huis van die dief en in die huis van hom wat vals sweer by my Naam; en dit sal binne-in sy huis vernag en dit verteer saam met sy balke en sy klippe.

Die KJV sê, “I will bring it forth...”  Die Here sê, Ek sal dit laat gebeur.

Openbaring 6 sê, mense sal uitroep dat die berge op hulle val en hulle sal verberg van die aangesig van God wat op die troon sit.  Dit is ‘n verskriklike oordeel.  En dit is verseker.  Dit sal kom in die huis van die dief.  Dit sal kom in die huis van hom wat vals sweer.  Dit is volledig en verseker.

Vandag leef ons in die tydperk van genade, waar God geduldig is en die evangelie gepreek word en Hy nie wil hê dat enige mens verlore moet gaan nie.  Waar Hy vir almal ‘n geleentheid wil gee om tot bekering te kom.

Maar met die dagbreek van die millennium koninkryk, wanneer Jesus kom, sal die vloek oor die hele wêreld uitgaan en dit sal elke sondaar in die wêreld uitwis en vernietig.  En wanneer daar sondaars gebore word tydens die 1000 vrederyk en hulle sondig, sal Jesus hulle met ‘n ysterstaf onmiddelik oordeel.

Jud 1:14 En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle,
15 om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.

Dit is die eerste visioen wat Sagaria 5 oor praat, en dit het te doen met die oordeel van God op die sondaar.  Die tweede visioen het te doen met God se oordeel oor sonde self.  Ons sal volgende week daarna kyk.

Die EINDE van die WÊRELD (vervolg)


Teksgedeelte 2 Pet 3:5-8

2 Pe 3:5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,
6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.
7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.
8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

Ons het verlede gesien dat daar mense is wat nie wil glo in die skepping nie en hulle wil ook nie glo in ‘n finale oordeel nie.  Die hoofrede waarom hulle dit nie wil glo nie, is omdat hulle word gedryf deur hulle bose begeertes.  As hulle moet erken dat daar ‘n God is en dat Hy alles gemaak het, moet hulle uitvind wat Hy sê en doen wat Hy sê.  Maar dit pas nie in by hulle lewensstyl nie.  Om dit eenvoudig te stel, hulle hou van hulle sondes.

Ray Comfort sê

“A drug addict is dying because of a disease that is related to his addiction.  But when a faithful doctor takes the time to point out the evident symptoms that are all over the addict’s flesh, he responded by saying that the hideous spots are normal, and that all his friends have them.

The doctor pleads with him to listen, and says that a large drug company has developed a cure for the fatal disease.  To which the addicts says, “What if an elephant fell from the sky and swallowed it before I could get to it? Huh doc. Huh!  What about that?  You and your stupid pill!  I don’t believe the drug company even exists. You idiot…

Why would he acts in such a way?  The answer is obvious.  He loves his addiction.”

Joh 3:19 En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.
20 Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.

So hoekom wil mense nie die Here dien nie?  Daar het jy dit: hulle het die duisternis liewer as die lig.

So, nou kom v5 en sê, moedswilliglik vergeet hulle…En dit beteken hulle kies om dom te wees.  In die geval kies hulle om nie aan die skepping te dink nie.  Van lankal af vergeet hulle dat daar ‘n hemele en aarde was, wat deur die woord van God ontstaan het.

Kom ons gaan so bietjie terug na Genesis toe en kyk hoe Petrus by die skeppings verhaal inpas.

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

KJV
Gen 1:2 And the earth was without form, and void…

Dit was ‘n vormlose massa.  En daar was geen lig nie, maar duisternis op die watervloed.  En die Gees van God het op die…? WATERS gesweef.  Maw toe God in die begin geskape het, het Hy ‘n vormlose massa water geskep in die duisternis. 

Die eerste drie dae van die skepping vorm Hy dit as die aarde en die laaste drie dae, skep Hy die plante, die diere en die mens.  Die eerste drie dae gee God vorm aan die aarde, die vormlose water massa en die laaste drie dae vul Hy die aarde.

V2 sê, “die Gees het gesweef op die waters.”

God skep dan lig en daarna sien ons wat gebeur in v6:

Gen 1:6 En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters.
7 God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so.

God maak die uitspansel tussen die waters.  Hy skei die waters.  En v8 sê, Hy noem die uitspansel hemel.  Dit is die eerste hemel.  Wat is hierdie uitspansel?  Die KJV praat van, “…the firmament”

Gen 1:20 En God het gesê: Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel.

Maw, die uitpansel is die hemelruim waar die voëls vlieg.  Die eerste hemel, is ‘n plek waar die voëls vlieg.  Die twee hemel is waar die son, sterre en planete is.  En die derde hemel is waar God woon.

Psa 148:4 Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is!

Dit is interesant.  Die vormlose watermassa skei en tussen in ons kry die hemel.  So daar is bo die hemel water en onder die hemel water. 

Psa 24:1 'n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;
2 want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.

Psa 136:6 Wat die aarde op die water uitgespan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Bo die uitspansel is daar water en onder die uitspansel is daar water.

Gen 1:9 En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so.

(slide)
Sommige wetenskaplikes verneem dat daar ‘n dik water laag was bo die atmosfeer van die aarde en dit was ‘n perfekte omgewing.  Hulle sê ook, dit is die rede waarom mense tot 900 jaar oud geword het.  Die son se UV strale kon nie deur die water bo die aarde se atmosfeer deurdring nie.  Dit was ‘n perfekte omgewing.  Maar ons kan onsself net indink hoe moes dit gewees het in die tuin van Eden.

Maar toe het daar ‘n katastrofe die wêreld getref.  In Genesis 6 kry ons die vloed.  Dit is dan ook dalk waar al die water vandaan gekom het vir ‘n wêreld wye vloed.  Die Bybel sê, (Gen 7:11) dat die fonteine van die groot watervloed het oopgebreek.  Water het uit die hemel neer gestort.

En dan as ons terug kom na dit wat Petrus sê, dan lees ons

2 Pet 3:5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God,
6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

Wanneer ons kyk na die oorspronkike skepping dat is dit opmerklik hoeveel water daar was.  Eers was dit alles water.  En daarna verdeel die watermassa en vorm die uitspandsel met water bo en water onder.  Die water onder het toe versamel en droë land het gevorm.  Petrus sê, die aarde het uit water en deur water ontstaan.  Waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het.

Bottomline is dit:  God het in die oorspronklike skepping water ingebou waardeur Hy dit sou vernietig.  Hy het dit gevorm uit water en Hy het die vernietig met water.

Dit het egter nie die aarde se bestaan totaal en al uitgewis nie.  Dit het ook nie die hemele uitgewis nie.  Dit het wel alles verander.  En daarom gebruik Petrus hier die woord “kosmos” om te sê, die wêreld het vergaan en nie die aarde het vergaan nie.      

Die aarde was nooit weer daarna dieselfde nie.  Dinge het drasties verander.  Ons kry dan in amper al die ou stamme en nasies se geskiendenis, ‘n storie van ‘n wêreld vloed.

En nou is daar mense wat moedswilliglik dit vergeet.  Want as dit waar is, dat God in Sy Almag in die mensdom se geskiedenis kon in stap en hierdie planeet verander het, kan Hy dit weer doen.

Waarom het God dit gedoen?

Gen 6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,
6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.

Die wêreld was nog nooit altyd net dieselfde nie.  Die hele orde van die hemele en die aarde het dramaties verander deur die Woord van God toe Hy al die goddelose mense regoor die hele wêreld laat verdrink het.  En dit is vir ons ‘n getuienis dat sonde nie ongestraf gelaat sal word nie.  Dinge sal ook nie net altyd aangaan soos dit nou aangaan nie.

Ons is bekommerd oor te veel haarsproei en gasse wat uit ons voertuie se uitlaat pype kom, wat die atmosfeer beïnvloed asof dit die einde van die planeet gaan beteken.  Maar daar is Een wat sal sê, dit is genoeg en Hy sal ‘n einde maak aan alles.  Nie ek en jy nie.

Valse leraars weier om die ware geskiedenis te aanvaar.  Hulle weier om al die bewyse wat daar is te aanvaar.  Hulle maak hulle eie geskiedenis op waar God nie deel van is nie en waar mense kan kies hoe om te leef soos hulle wil.  Dinge het nie net aangegaan soos altyd nie.

Kan u uself net indink hoe die vloed moes gewees het.  Alle mense en diere het gesterf, behalwe agt mense.  Alles was vernietig.  En God het dit gedoen.  En dit is vir ons ‘n voorbeeld van dit wat gaan kom.

2 Pe 3:7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.

Die teenswoordige hemele en aarde, die een wat ons ken, die een wat ons ervaar is nie soos die een voor Noag se vloed nie.  Dit is anders.  Hierdie hemele en aarde wat ons ken, word weggelê as ‘n skat deur dieselfde woord van God, nie vir ‘n vloed nie, maar vir die vuur.

Ons leef tans in ‘n tweede ekologiese sisteem, na die vloed.  Dit is deur Sy Woord wat God die eerste sisteem in bestaan gebring het.  En dit is deur Sy Woord wat Hy dit vernietig het.  En die huidige hemele en aarde word ook weggelê vir die oordeel en die verderf van die goddelose mense.  Die eerste keer was dit water, die tweede keer gaan dit vuur wees.

God gaan vuur gebruik om die teenswoordige hemele en aarde te oordeel.  Ons kry in Gen 19 ‘n voorbeeld daarvan met Sodom en Gemora. 

2 Pet 2:6 en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as 'n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees;

Die Ou Testament profete gee vir ons ‘n waarskuwing hiervan.

Jes 66:15 Want kyk, die HERE sal kom in vuur, en sy waens soos 'n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.
16 Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees.

Dan 7, Mig 1 & 4, Johannes die Doper, hulle sê almal dieselfde ding. 2 Thes 1:8 sê Hy kom in vuur en vlam en oefen wraak op die wat Hom nie ken en die evangelie nie gehoorsaam nie.  Vuur gaan uit die hemel neerdaal soos ons lees in Op 20:9.  En dan vermoed ek maar dat dit ook uit die aarde gaan opkom.  Ons lewe bo-op ‘n vuurbal. 

Interesant, vuur kan kom wanneer jy net ‘n atoom split.  Wat as die Here al die atome op een oomblik split?  Die wêreld sal met een groot stormvuur getref word.
Hierdie wêreld gaan nie verewig so aangaan nie.  Die eerste oordeel was deur water, die volgende oordeel kom deur vuur.  Petrus sê, hierdie hemele en aarde word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel.

Kyk na Gen 8, wat gebeur na die vloed. 

Gen 8:2 Ook die fonteine van die watervloed en die sluise van die hemel het toegegaan, en die stortreën uit die hemel het opgehou.

Die water het van onder af gekom en van bo af.  En toe maak die Here die sluise toe.  Die stortreën het opgehou.  Die water het toe stadig teruggetrek, en dit het maande geneem.

Gen 8:13 In die ses honderd en eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die waters weggedroog van die aarde af. En Noag het die deksel van die ark weggeneem en uitgekyk, en die aarde was droog--

In v16 sê God vir Noag, gaan uit die ark uit.

Noag het toe altaar gebou en aan die Here geoffer.  Daarna het God gesê, Hy sal nie meer alle lewende wesens tref soos wat Hy gedoen het nie.  En God maak ‘n belofte wat duidelik gesien kan word.  Hy gee ‘n reënboog.  En wanneer jy ‘n reënboog sien dan herinner dit jou dat God nie weer die wêreld sal vernietig deur water nie.

Maar deur vuur, BESLIS!

Gen 8:22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.

Gen 8:22 While the earth remaineth…

Die aarde sal bly bestaan, en wie bepaal dit?  God.  Saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag sal nie ophou nie.  Dit is God se belofte.  Die mens gaan nie die wêreld uitwis nie.  Solank as wat God hierdie wêreld onderhou, sal ons hier wees om dit te benut.

God onderhou hierdie aarde.  Ons is nog hier, omdat God dit so bepaal.  Dit is God wat die laaste sê sal sê, en dan is dit die einde van die wêreld.

2 Pet 3:8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

God se tyd is nie my en jou tyd nie.  Hy bly in beheer.  Al het daar jare verby gegaan.  Al het daar 2000 jaar verloop.  Moenie dat hierdie een ding julle ontgaan nie.  Dit wat vir ons soos ‘n lang tyd lyk, is nie vir God ‘n lang tyd nie.  God is altyd op tyd.  Hy weet wat Hy doen.

Ek wonder hoeveel smart is daar vandag in God se hart, wanneer Hy na die boosheid van die wêreld kyk.  Ek wonder hoeveel berou het God wanneer Hy sien dat mense net nie omgee nie en net aangaan asof dinge asof Hy nie bestaan nie.

Dit is nie meer lank nie, dan gaan God hierdie aarde ook oordeel met vuur en vlam.  Wanneer Hy Sy wraak uitoefen oor die wat Hom nie geken het nie.

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288