Wednesday 31 August 2011

DIE WAARBORG VAN BEVRYDING EN BLYDSKAP

Rom 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.
10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.
11 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.

Inleiding

Ons het gesien dat die hooftema van Romeine 5 is: die sekuriteit van jou saligheid is. Dit vertel vir ons wat God se beloftes is vir ons. Hy verklaar ons regverdig op grond van ons geloof in Jesus Christus, dit is ‘n geskenk van Hom af. En Hy neem nooit daardie geskenk weer terug nie.

Mense maak beloftes en breek dit. Mense kan nie vertrou word nie. Selfs ons ook wat bely ons is kinders van die Here, stel mense telleur. Ons stel somstyds of baie keer ook God telleur. Dit is deel van die sondige wêreld en die sonde wat in ons woon, soos Paulus daarna verwys in Rom 7. Mense is onbetroubaar.

Maar God is bo dit alles en God is getrou.

Deut 7:9 Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God…(In teenstelling met die ongetrouheid van die mens, God bly getrou)


2 Tim 2:13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.

Hy bly getrou, want dit is wie Hy is. Hy is volmaak en kan nie verander nie. Jes 11:5 sê dat trou die gordel van Sy heupe is.

Psa 36:5 o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke.

Dit beteken jy kan nie verby God se getrouheid beweeg nie.

Heb 10:23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;


1 Kor 1:9 God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.


1 Thes 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

Wat sal Hy doen? Hy sal ons geheel en al onberispelik bewaar tot by die wederkoms van Jesus Christus. Hoekom? Want Hy is getrou.

2 Thes 3:3 Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose.


Fil 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;

Dit is die God wat ons dien. Hy is ‘n getroue God wat sal doen wat Hy sê. Hy sal Sy beloftes na kom. Hy sal die werk wat Hy in ons begin het voleindig. Die tema dan van Rom 5 is die gelowige se sekuriteit. Hoekom? Want God is getrou.

Daar is 6 skakels in die ketting wat ons verewig aan God vasbind, en hierdie ketting kan nie verbreek word nie. Die eerste een is, ons het vrede by God. Ons is nie meer God se vyand nie. Ons is nou Sy vriende.

Die tweede skakel is, ons leef en staan in genade. Ons is nie meer onder die vloek van die wet nie. Ons is gesement in genade. Ons het toegang gekry tot hierdie genade deur die geloof.

Die derde skakel is, ons het ‘n lewende hoop ontvang. ‘n Hoop op die heerlikheid van God. As deel van jou saligheid ontvang jy ook ‘n belofte. Jesus sê, die heerlikheid wat die Vader vir my gegee het, gee Ek aan julle. Hierdie lewende hoop is die hoop op die ewige erfenis, ‘n erfenis wat nie kan vergaan nie, maar wat in die hemele bewaar word in die krag van God.

Die vierde skakel is die realiteit van liefde. God se liefde wat in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat permanent in ons kom woon het. Ons besit die geskenk van liefde. Ons redding is ‘n daad van liefde. Dit is Sy liefde wat jou gekoop het.

Dit is Sy liefde wat jou geroep het. Dit is Sy liefde wat jou gered het. God demonstreer Sy liefde aan ons deurdat Jesus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 1 Kor 13:8 sê, die liefde vergaan nimmermeer.

Ons het permanente vrede, permanente genade, ‘n lewende hoop wat onsterflik is, en ons oneindigende liefde ontvang. Ef 3:17 sê dat ons in die liefde gewortel en gegrond is. V19 sê dit is liefde wat die kennis oortref. Rom 8:35-39 sê, niks sal ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here is nie.

Rom 5 sê dan vir baie duidelik, sonder enige twyfel dat ek en jy as kind van God, ‘n goddelike waarborg het, wat nie gekoop kan word nie en ook nie kan verval nie. Die Heilige Gees in ons, is die onderpand, die waarborg van ons verlossing. En Jesus het gesê dat Hy by ons sal bly tot in alle ewigheid.

Daarom sal ‘n kind van God nooit rustigheid hê en gemaklik voel, wanneer hy sonde doen nie, want die Heilige Gees sal hom gedurig aankla.

God se liefde is anders as die wêreld se liefde. Sy liefde is onvoorwaardelik. Jy kan nie Sy liefde verdien nie. As Hy ons liefgehad het, toe ons nog goddeloos was en Sy vyande was, maar nou dat ons verander is, dat ons ‘n nuwe skepsel is, waarom sou Hy ons minder liefhê. En dit is waar ons dan begin lees het vanaand in v9.

Sover het ons gekyk na 4 skakels wat ons saligheid verseker en dit is ‘n goddelike waarborg. Daar is nog twee skakels. Die vyfde skakel is dan, bevryding of redding en die sesde skakel is blydskap.

5. Bevryding of redding

Kan jy sê, EK IS VRY? Kan jy sê, God het my siel GERED?

Wanneer ons sê ons is vry of ons is gered, dan is die vraag: Waarvan? Waarvan is ons bevry? Waarvan is ons gered? Die antwoord is eenvoudig: Ons is gered van die toorn van God. Ons is gered van die straf wat sonde bring.

Rom 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.
10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.

Hierdie verse is baie belangrik. Hierdie is ‘n ongelooflike belofte aan die gelowige. Dit is dieselfde as,

1 Thes 1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.

Dit is God se belofte aan die gelowige. Let op! Hy verlos ons van die toekomstige toorn. Waarvan is ek bevry? Waarvan is ek gered? Van die toekomstige toorn.

1 Thes 5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus

Dit gaan alles terug na die feit dat God te vrede is met die offer van Christus. God se oordeel oor al ons sondes is klaar afgehandel en daarom is ons gered. Daar is nie ‘n sonde in ons verlede, hede of in die toekoms waarmee God nie alreeds afgehandel het nie. Christus het klaar ons sondestraf gedra. Daarom is ons vry.

Ons is nie net nou gered nie, maar ons is gered van die toekomstige toorn. Ons is gered van die finale oordeel aan die einde. Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Die toekomstige oordeel verwys dan hier na die ewige hel. U het sekerlik al gelees van die Wit troon oordeel in Op 20.

Op 20:11 En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.
12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.
14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.
Dit is die ewige hel waar daar geween en ‘n gekners van tande sal wees. Daar sal net duisternis wees. Daar sal net lyding en smart wees verewig. Ons is daarvan bevry. Ons is daarvan gered.

Wedergebore kinders van God, kan nooit en sal nooit hel toe gaan nie, want hulle is gered van die toekomstige toorn. Jesus sê, hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie. As ‘n geredde persoon weer verlore kan gaan, maw hel toe gaan, was hy nooit waarlik gered in die eerste plek nie.

2 Thes 1:5-9 praat van die regverdige oordeel van God. In v7,8 staan daar, dat Jesus uit die hemel saam met Sy magtige engele in vuur en vlam sal kom en wraak sal uitoefen op die wat God nie ken nie. Hulle straf sal ‘n ewige verderf wees, weg van die aangesig van die Here. Dit is die finale oordeel.

Maar Rom 5:9 sê, Hy het ons gered van die toorn deur Christus. En hoe red Hy ons? In sy bloed. Omdat ons geregverdig is, omdat ons saak reg is met God deur die dood van Sy Seun wat ons sondestraf betaal het, kan ons verseker weet dat ons gered is van die toekomstige oordeel.

Dit is die offer van Christus wat ons aanvaarbaar maak voor God. Ons vrede by God, die genade waarin ons staan, ons lewende hoop op die heerlikheid, die liefde wat in ons harte uitgestort is, ons redding, dit alles is nie gegrond op dit wat ons gedoen het nie, maar op dit wat Christus gedoen het. Onthou, jy kan nie hierdie waarborg koop nie en dit het nie ‘n verval datum nie.

Jy gaan nie eendag die hel mis, omdat jy ‘n goeie lewe geleef het en so sondeloos as moontlik probeer leef het nie, NEE! Jy is alleen gered op grond van die versoeningswerk van Christus. Ons is geregverdig in Sy bloed.

En wanneer die Bybel praat van die bloed van Jesus, praat dit nie van die bloed wat een of ander magiese krag besit nie, NEE! Die bloed verwys altyd na die dood van Jesus op die kruis. Die bloed simboliseer die offer van Christus op die kruis.

Rom 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.

Dit is wonderlik om vrede by God te hê. Dit is wonderlik om onbeperkte genade te hê. Dit is wonderlik om ‘n lewende hoop te hê op die heerlikheid van God. Dit is wonderlik om God se oneindigende liefte te hê, maar VEEL MEER as dit, sal ons deur Hom gered word van die toorn. Veel meer as dit alles, is ons vry. En dit is die hoogtepunt. Ons is vry!!

God het niks binne in ons gevind wat goed genoeg was om ons te bevry nie. Daar was niks binne in ons wat ons waardig gemaak het om die ewige lewe te verdien nie. Niks in ons wat saligheid verdien het nie. Moenie jouself mislei nie. Jy mag dalk die getrouste en die grootste Christen wees, jy mag die heiligste op aarde wees, maar moet nooit dink dat jy enigiets by jou saligheid bygevoeg het nie.

Hy het ons gered tot Sy verheerliking, en Hy belowe aan ons bevryding van die ewige oordeel. Paulus verduidelik dit dan so: hy sê,

Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.

Dit is belangrik dat ons dit sal verstaan. As Hy dit kon doen deur die dood van Sy Seun, hoeveel te meer kan Hy doen deur Sy lewe? Nou het ons ‘n lewende Hoëpriester wat vir ons voorspraak doen. Dit is ons waarborg.

Ons is versoen met God, deur Sy dood, maar veel meer is ons gered deur Sy lewe. Ons saligheid word bewaar deur Christus wat lewe en ons ewige heerlikheid verseker.

Heb 2:17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.
18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Hy is ons voorspraak. Hy is altyd daar om ons te help, om ons by te staan, om ons te ondersteun, wanneer ons versoek word. Kom ons stel dit eenvoudiger: As Christus in sy dood ons kan red, dan kan ‘n lewende Christus ons gered hou. As ons gered kan word en versoen kan word terwyl ons nog Sy vyande was, kan ons saligheid verseker wees, nou dat ons Sy vriende geword het.

Dit bring ons by die laaste skakel:

6. Blydskap

Hierdie realiteit is die samevatting van alles,

Rom 5:11 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.

Ons het vrede, genade, hoop, liefde en bevvryding en dan blydskap. Ons roem ook in God. U sal onthou die woordjie “roem” is die hoogste vorm van blydskap. Ons verbly ons ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou versoening verkry het.

As daar een ding is, een emosie, een gesindheid, een karaktereienskap, wat die Christen se lewe moet domineer, dan is dit blydskap. As al hierdie dinge waaroor ons gesels het, nie vir jou blydskap bring nie, wat sal? Alhoewel saligheid jou ‘n toekomstige hoop gee, bring dit ook ‘n teenwoordige blydskap met die afwagting op daardie toekoms.

Die feit dat jou plek in die hemel verseker is, moet jou met blydskap vervul. Paulus sê,

Fil 4:4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!

Luister! Dit is sonde om nie blydskap te hê nie. Wat wil jy uit die lewe hê? Meer geluk? Meer gemak? Meer plesier? Meer besittings? Wat is die bron van jou vreugde as hierdie dinge waaroor ons gepraat het, dit nie is nie? Niks kan daarby uitkom nie. Alles is drek in vergelyking daarmee. Alles is hout, hooi en stoppels.

Rom 5:11 En nie alleen dit nie, (nie alleen al hierdie wonderlike dinge nie) maar ons roem (ons verbly ons) ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het (wat ons nie verdien het nie).

Elke Christen behoort blydskap te hê. Blydskap is deel van die vrug van die Gees. Ek praat van ‘n diep gewortelde blydskap wat niemand kan verwyder nie. Ek roem in die Here. Die psalmdigter sê dit so,

Psa 34:2 My siel sal hom beroem in die HERE; die ootmoediges sal dit hoor en bly wees.
3 Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!


Hab 3:18 nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.


Psa 43:4 dat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God van my jubelende blydskap en U kan loof met die siter, o God, my God!

Daar is niks in onsself om oor te roem nie. Niks in onsself om oor trots te kan wees nie. Ons roem is in Christus Jesus onse Here. Al hierdie dinge het ons gekry, alles as gevolg van Hom. En die einde van dit alles is blydskap.

Ons het ‘n goddelike waarborg. Hy gee ons vrede, Hy gee ons genade, Hy gee ons hoop, Hy gee ons liefde, Hy gee ons verlossing en Hy gee ons volkome blydskap. Dit is goddelike vrede, goddelike genade, goddelike hoop, goddelike liefde, goddelike bevryding en goddelike blydskap. Dit is jou goddelike waarborg.

Is jy dankbaar daarvoor?

Tuesday 23 August 2011

Die waarborg van hoop en liefde


Teksgedeelte: Rom 5:2-8

Rom 5:2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
3 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,
4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;
5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.
7 Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe
8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Tema:  Die waarborg van hoop en liefde

Inleiding

Hierdie gedeelte het baie temas waaroor ons kan gesels, maar as ons hierdie gedeelte kan opsom in een hooftema, gaan dit oor die sekuriteit van jou saligheid. 

Hoe weet ek ek gaan hemel toe?  Ek het ‘n Goddelike waarborg.  En as ons dan by verlede week kan aansluit, dan sê ons eerstens, dat hierdie waarborg kan nie gekoop word nie en tweedens, dit het nie ‘n verval datum nie.  Dit word in die krag van God bewaar.

As daar een waarheid is wat ons weet is dit dat die sekuriteit van jou saligheid is nie afhanklik van jouself nie, maar dit is afhanklik van God.  As ons ons saligheid moes bewaar, sou ons almal dit nooit gemaak het nie.  Ek en jy kan onsself nie red nie of gered hou nie.  Net God kan ons red en net Hy kan ons ewige saligheid waarborg.

Die verloop van argumente wat Paulus gee in Romeine is dan: alle mense is onder die toorn van God, alle mense het gesondig.  Die enigste wyse waarop jy die oordeel van God kan ontvlug is deur geloof in Jesus Christus.  Ons kan dit nie verdien nie, dit is uit genade deur die geloof in Christus alleen.  Rom 4 gaan oor saligheid deur die geloof en kry die voorbeeld van Abraham.  En dit was nog altyd so gewees.

Die vraag wat opkom is dit: Is geloof dan genoeg?  Goed!  Ek plaas my geloof in Jesus Christus, my sondes word vergewe deur die voorsienning van Christus op die kruis.  Is dit genoeg?  Wat as ek sonde weer doen?  Is my geloof genoeg om my verhouding met God te verseker tot op die laaste dag?  Sal geloof my kan salig hou tot aan die einde en my lei tot in die hemel?

Paulus se antwoord op hierdie vra is…absoluut JA!

En dit is nie omdat jy iets gedoen het nie.  Ons word gered deur die geloof.  Is ons volmaak? Nee!  Maar as wedergeborene word jy in die krag van God bewaar. 

Ek het laas week 6 dinge genoem wat ‘n goddelike waarborg is.  Eerstens het ons deur die geloof in Jesus Christus vrede by God.  Ons is nie meer God se vyand nie, ons is nou Sy vriend.  Ons is geregverdig en dit beteken ons staan nou in die regte verhouding met God. 

Tweedens het ons gekyk na die feit dat ons in die genade staan.  Ons is in gesement in die genade van God en Sy genade is onbeperk.  Ons stap nooit uit die genade gebied uit, terug na die gebied van die Wet en weer onder die oordeel nie. Nee! Jesus het die weg oopgemaak na God, en ons het toegang in Sy teenwoordigheid en dit is ‘n permanente voorreg.  Ons staan in genade.

  1. Die hoop op die heerlikheid

Die derde ding wat dui op die goddelike waarborg is, die hoop op die heerlikheid.  Dit het ons dan gelees aan die einde van v2 tot en met v5.

Rom 5:2 …en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
3 En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,
4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop
5 en die hoop beskaam nie…

Drie keer kry ons die woord “hoop” en dit is die derde skakel in hierdie ketting wat ons verewig aan God vasbind.  Hoop!  Ons lewe in hoop.  Ons het ‘n verhouding met God wat permanente vrede is.  Ons leef en staan in genade.  En ons het hoop. 

Hoop kyk na die toekoms.  Die gelowige kyk voorentoe op die belofte van heerlikheid.  God gee ons ‘n belofte, die ewige lewe, die ewige heerlikheid en daarop kan ons roem, “…ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.”  God het vir jou ‘n ewige heerlikheid belowe.

Die woordjie “roem” is die Griekse woord “kauchaomai” wat beteken “verbly”.  Ons verbly ons in die hoop op die heerlikheid van God.  Die KJV sê, “…rejoice in hope of the glory of God.”  Maar dit is meer as net om te “rejoice”.  In ‘n sekere sin is dit om met volle vertroue te roem.  Dit verwys na die hoogste vorm van blydskap.  Nie ‘n oppervlakkige of emotionele blydskap nie.

Die wete dat jy vrede by God het, dat jy in genade staan, alles as gevolg van die werk van Christus.  Ons vrees nie meer die toekoms nie.  Wat kan verkeerd gaan?  Ons kan met volle vertroue roem in die sekuriteit van ons ewige hoop. 

Ons verhouding met God is ‘n permanente vrede.  Ons posisie waarin ons staan is permanente genade.  Wat kan verkeerd gaan?  Daarom roem ons in die hoop op die heerlikheid van God.  Ons lewe met hierdie hoop.

1 Tim 1:1 …ons Verlosser, en van die Here Jesus Christus, ons Hoop,
Jesus Christus is ons vrede.  Hy is die bron van genade en Hy is ons hoop.  Ons hoop op ‘n ewige toekoms is gebou op Hom.

1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

Ons geloof en hoop is op God.  Jy kan nie ‘n saligheid besit sonder hoop nie.  Jy kan nie ‘n saligheid besit sonder genade nie.  Jy kan nie ‘n saligheid besit sonder vrede nie.

Joh 17:22 En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.

Jesus sê, Hy het ons die heerlikheid gegee wat die Vader aan Hom gegee het.  Hy bid dat ons sal wees waar Hy is, dat ons Sy heerlikheid sal aanskou.  En dit waarvoor Jesus ookal bid, word beantwoord.

Rom 8:18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

Paulus sê, dit maak nie saak wat verkeerd gaan in hierdie lewe nie, dit maak nie saak hoeveel lyding ek moet verdra nie.  Hy sê, niks kan opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.  En dit is volle vertroue.  En dit is wat dit beteken om te roem in die heerlikheid van God.

Rom 8:24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?

Ons word nie gered, sodat ons hier en nou ‘n beter lewe op aarde kan hê nie.  Die hoop op heerlikheid is nie ‘n hoop wat nou gesien kan word nie.

1 Kor 15:19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.

Ons roem nie op ‘n tydelike hoop nie.  Ons het ‘n ewige hoop.  Ons het ‘n toekomstige hoop.  Ons hoop is nie sonder enige rede of sonder enige fondasie nie.  Ons hoop is geanker in die beloftes van God.  Ons hoop is geanker in die krag van God.  Ons hoop is geanker in ons ewige saligheid.  Dit is die volle vertroue wat ons het, dat ons die ewige heerlikheid SAL ingaan.

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.

Joh 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.

Die groot vervulling van ons saligheid sal geopenbaar word in die heerlikheid wat kom…  Die eind resultaat van ons redding.  Dit is die hoop op die heerlikheid.  Ons lewe in ‘n versekerde en gewaarborgde hoop.

En wanneer jy hierdie hoop het, kan jy enigiets verdra, want jy weet dat jy nie in jou eie vermoëns en krag bewaar word nie, maar in die krag van God.

Jud 1:24 Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

Wow!  God is magtig, weereens gaan dit terug na Sy krag, nie ons sin nie, maar dit is Hy wat ons staande hou, Hy wat ons sonder gebrek voor sy heerlikheid stel.  En dit is alleen moontlik deur die genade van God waarin ons staan.

Luister!  Niemand kan hierdie hoop van jou af steel nie.  Niemand kan hierdie hoop van jou af wegneem nie.  Niemand kan hierdie hoop verander nie.  Niemand kan die saligheid wat God voorsien het omkeer nie.  Kyk wat sê Petrus:

1 Pet 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,

Luister mooi wat sê die gedeelte:  Deel van dit wat God jou gee wanneer jy gered word, saam met die wedergeboorte wat God jou skenk, ontvang jy ’n lewende hoop.  En dit is deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode.  Wat is hierdie lewende hoop?  Dat ons ‘n erfdeel sal ontvang. 

En wat is die omvang van hierdie erfdeel? V4 sê, dit is onvernietigbaar.  Hierdie erfdeel kan nie vernietig word nie.  Dit kan nie vergaan nie.  Dit is onverganklik.  Dit is onbesmet en onverwelklik.  V5 sê dit word in die krag van God bewaar deur die geloof wat in die laaste tyd geopenbaar sal word.

Die taal wat Petrus gebruik is baie duidelik.  Die dag wat jy wedergeboorte ontvang, op daardie oomblik ontvang jy ‘n lewende hoop wat nie kan sterf nie.  Hierdie lewende hoop is verseker deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode.  Ons het ‘n erfdeel wat nie kan vergaan nie.  Dit word vir ons bewaar in die krag van God.

Wat dan van beproewinge en lyding?

1 Pet 1:6 Daarin (In die beproewinge) verheug julle jul, al word julle nou--as dit nodig is--'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge

Ons verbly ons in die heerlikheid van God.  Ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.  In die midde van beproewinge, die dinge wat jou geloof gaan beproef, dinge wat twyfel in jou hart gaan saai, deur dit alles word jou geloof nie beïndig of vernietig nie.  Maar,
1 Pet 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof (of anders gestel, julle geloof wat op die proef gestel gaan word) wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

Goud sal vergaan, maar jou geloof sal gevind word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus.  Kom ek probeer dit vereenvoudig dit wat Petrus sê:  Alles sal vergaan, maar jou lewende hoop, jou erfenis, jou geloof, sal nooit vergaan nie.  Dit sal behoue bly tot by die openbaring van Jesus Christus.

Die grootste geskenk wat ‘n Christen ooit kan ontvang is die sekerheid van sy ewige saligheid.  Die teenoorgestelde moet verskriklik wees, om te dink dat jy jouself salig moet behou.  Om te vrees dat jy dalk jou saligheid kan verloor, om te vrees of jy dit eendag dalk nie gaan maak of nie. 

Het ek genoeg kerk toe gegaan, het ek dalk te veel gesondig, het ek te min gebid, het ek te min my Bybel gelees?  Hoe sal ek weet?  Gaan ek dit maak?

Dit moet verskriklik wees om te wonder of jy dit nog gaan maak.  Maar die Bybel sê iets anders.  Die Bybel sê, ons het vrede by God, ons staan in genade, ons het ‘n hoopvolle toekoms en niemand kan dit veander nie.

Petrus sê, die beproewinge gaan kom, nie om ons geloof te breek nie, maar om ons geloof te bewys.  En dit is die grootste geskenk wat jy kan hê, dat niks jou geloof sal vernietig nie, want geloof is ‘n gawe van God.  Beproewinge kom om jou geloof te toets.

Jy kan alles van my af wegvat, my geld, my aardse besittings, my ervaringe, my belewenisse, alles, maar gee my ‘n lewende hoop wat nie uitsterf nie en die sekerheid dat dit sal staande bly deur elke beproewing en elke toets, en wanneer my geloof net sterker en sterker word, dan weet ek dit is nie ek nie, maar geloof wat ek van God ontvang het.  Dit is geloof wat staande bly.  Dit is kosbaarder as goud.  Dit is geloof wat tot lof en heerlikheid van God is.

Ons het ‘n lewende hoop!

Kom ons gaan terug na Rom 5.

Rom 5:2 …en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

Hierdie is die heerlikheid wat God aan ons sal gee, Sy heerlikheid waarin ons sal deel in die hemel.  V3 sê dan min of meer dieselfde wat Petrus gesê het…

3 En nie alleen dit nie, maar ons roem (ons verbly ons) ook in die verdrukkinge (hoekom?), omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,
4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop

Dit is dieselfde ding wat Petrus sê.  Beproewinge kom in ons lewens.  Ons verdra dit en deur dit alles het ons steeds hoop.  Deur dit alles moet jou geloof net sterker en sterker word.  Wees dankbaar vir beproewinge, want dit maak jou sterker.

Rom 5:5 en die hoop beskaam nie…

Hierdie hoop sal jou nooit teleurstel nie.  As jou geloof eg is en jy waarlik ‘n wedergebore kind van God is, sal die lewende hoop wat jy ontvang het, jou nooit teleurstel nie, nooit!

Daar is baie mense in die wêreld sonder hoop.  Ef 2:12 sê dat die hele wêreld leef sonder hoop.  Daar is mense, volgens Spr 11:7 wat ‘n valse hoop het.  Maar ons het ‘n hoop wat nie sal beskaam nie. 

Daar is baie mense wat hulle hoop op verkeerde dinge plaas.  Hulle plaas hulle hoop op ander mense, hulle plaas hulle hoop op geld, hulle plaas hulle hoop op baie ander dinge.  Maar ons het ‘n hoop wat geanker is Christus.

Heb 6:11 Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe

Dit is ‘n hoop tot die einde toe.  Dit sal nie teleurstel nie.

  1. Die realiteit van liefde.

Rom 5:5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.  Omdat die Heilige Gees in ons woon, het ons die vrug van die Gees, naamlik LIEFDE.

Wat hierdie vers sê is dit, dat jou saligheid is verseker omdat God jou verewig liefhet.  En Hy bewys Sy liefde deur aan ons die Heilige Gees te gee om in ons harte woning te kom maak.

Ef 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Die Heilige Gees is die onderpand, die deposito.  Die woord “onderpand” is die Griekse woord, “arrabon”, wat beteken “die verloofring”, of “die belofte”, of “die waarborg”.  Hier praat hy nou nie van ons liefde vir God nie, maar Sy liefde vir ons.  En die rede waarom hoop nie sal teleurstel nie, is omdat God se liefde ‘n ewige liefde is.  Hierdie liefde het Hy in ons harte uitgestort.

Hoe doen Hy dit?  Deur aan ons die Heilige Gees te gee.  God self maak woning in ons deur Sy Gees.

Rom 8:35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?

Sal hierdie dinge ons kan skei?

Die liefde van God wat in Christus Jesus is, is in ons harte uitgestort deur die teenwoordigheid van God se Gees wat in ons kom woon het.  Ons is die tempel van God se Gees.  God woon in ons en niks kan dit verander nie.  Jesus sê, Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.

Rom 8:9 sê dat as ons die Gees van God het, behoort ons aan Hom.  Die Gees van God woon in die gelowige.  Ef 3:16 sê ons word versterk met krag deur die Gees in die innerlike mens.  Ons het die derde persoon van die drie-eenheid ontvang met wedergeboorte en Hy kom woon binne in ons.  Dit is hoe God sy liefde aan ons bewys.

Rom 5:6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.
7 Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. (Mense sal nie vir misdadigers sterf nie.  Hulle sal dalk nog vir goeie mense sterf)
8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Dit is waaroor dit gaan.  Hy het vir ons gesterf toe ons nog sy vyande was.  Hoekom sal Hy ons nou minder liefhê wanneer ons wat Sy kinders is iets verkeerd gedoen het.  As Hy ons liefgehad het toe ons nog sy vyande was, dink jy nie Hy sal ons liefhê nou dat ons Sy kinders is nie?  Dit is ons waarborg. 

Hy het ons die grootste geskenk gegee, vrede, genade, hoop en liefde.  En al hierdie dinge is in Hom gesetel, in Sy krag, in Sy beloftes.  Dit is nie afhanklik van ons nie.  Hy bind ons aan Hom vas.

Slot

Het jy vrede by God?  Staan jy in genade?  Het jy ‘n lewende hoop?  Is God se liefde in jou hart uitgestort?



Tuesday 16 August 2011

Die Goddelike waarborg - DEEL 1


Teksgedeelte: Rom 5:1-2

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;
2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

Inleiding

Julle sal weet. Vandag as ‘n mens iets koop, soos ‘n DVD speller of ‘n Yskas, of ‘n GPS, watookal, dan moet jy seker maak dit het ‘n waarborg.  En meeste van die tyd het dit ‘n jaar waarborg, maar daar is sekere winkelgroepe waar jy so bietjie meer betaal dan kry jy ‘n “verlengde waarborg”. En dit is ‘n goeie ding.

Vandag maak hulle die goed dat dit net werk totdat die waarborg verval, dan breek dit.  Glo my, ek weet waarvan ek praat.  My DVD speller hou gewoonlik net so bietjie langer as ‘n jaar, dan breek dit.  Maar ek het geleer om daardie ekstra waarborg uit te neem.  Al kos dit nou so bietjie meer geld, oor ‘n lang tydperk spaar jy darem baie.

Die “moral of the story” is, moenie iets koop sonder ‘n waarborg nie.

Ek wil vandag met julle praat oor Die Goddelike Waarborg. Maar daar is twee belangrike dinge wanneer dit kom by die goddelike waarborg.  1. Jy kan hierdie waarborg nie koop nie, en 2. Hierdie waarborg is nie tydelik nie. Maw dit het nie ‘n verval datum nie.

Ons sien in Rom 3 en 4 dat geen mens kan sy saligheid verdien nie.  God skenk dit aan ons deur Sy genade.  Genade is die onverdiende guns van God.  Jy kan nie daarvoor werk nie, jy kan ook nie daarvoor betaal nie.  ‘n Mens word geregverdig deur die geloof, maw jy ontvang die geskenk van geregtigheid deur die geloof.

Om dit eenvoudig te stel: Om kind van God te wees, om in die regte verhouding met God te staan, is absoluut ‘n geskenk van God en ons ontvang hierdie geskenk deur die geloof.

1 Joh 5:1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore…

Jy ontvang wedergeboorte, saligheid, regverdigmaking, vrymaking, verlossing, versoening, die ewige lewe, alles in een oomblik, die oomblik wanneer jy jou geloof in Jesus Christus plaas as jou Verlosser en Saligmaker.

Bo op dit alles, is daar ‘n Goddelike Waarborg.  En onthou, hierdie waarborg kan jy nie koop nie, en hierdie waarborg het nie ‘n verval datum nie.  God skenk aan ons die ewige lewe, nie ‘n tydelike lewe nie. En die ewige lewe impliseer, dit is ewig. As ek die ewige lewe kan verloor, was die lewe wat ek ontvang het nie ewig nie.

Maar dank God, Jesus self gee vir ons ‘n Goddelike Waarborg:

Joh 10:28 En Ek gee (geskenk) hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit  verlore gaan tot in ewigheid nie (daar is geen moontlik-heid nie), en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Rom 8:39 sê dat geen skepsel (maw geen mens en jy is ook ‘n mens), jyself kan jou nie skei van Jesus nie.  Niemand sal jou uit Sy hand ruk nie. 

Daarom noem Heb 5:9 Jesus, ‘n bewerker van ewige saligheid. En daarom sê 1 Pet 1:4,5 dat ons erfenis is onverganklik, onbesmet en onverwelklik en dit word in die hemele bewaar is vir ons en v5 sê dit word in die krag van God bewaar deur die geloof.  God bewaar hierdie erfenis.  Ons het ‘n Goddelike Waarborg.

In Rom 5 gee Paulus dan vir ons 6 belangrike dinge wat die saligheid van die gelowige verseker.  Dit wat jou ewige lewe verseker.  6 waarhede wat die ewige karakter en natuur van saligheid opmaak en dit is die Goddelike Waarborg.

Hierdie 6 dinge kom saam met saligheid. Dit is 6 komponente wat saligheid beskryf.

1. Vrede by God
2. Staan in genade
3. Hoop op heerlikheid
4. Sekerheid van liefde
5. Bevryding verseker
6. Blydskap in God.

Ons gaan vanoggend kyk na die eerste 2:

1.    Vrede met God

Die eerste beginsel van die Goddelike Waarborg is dan: Vrede by God. En dit is waar hoofstuk 5 begin.

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus

Ons het vrede. “Ons het” is die Griekse woord “Echo” wat ‘n teenwoordige besitting is.  Ons het vrede, ons besit vrede, ons besit nou vrede…Ons het vrede by God.  En hier verwys dit nie na ‘n positiewe gevoel of ‘n sielkundige rustigheid of ‘n gevoel van welstand nie.  Dit is glad nie eers ‘n gevoel nie.

Wanneer ONS praat van vrede, dan dink ons in terme van gevoelens.  Ek ervaar vrede.  Ek ervaar ‘n rus en vrede.  Dit is nie waarvan hier gepraat word nie.  Hierdie vrede is nie subjektief nie.  Hierdie vrede is objektief.  Dit gaan oor ‘n verhouding.

Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het daar ‘n verhouding ontstaan tussen God en ons.  Die vorige verhouding was een van vyandskap.  Jy was eers vyand van God.  Maar nou het jy vrede…
Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun…

Dit beteken dat elke mens op hierdie planeet wat nie gered is nie, is ‘n vyand van God en God is sy vyand. Dit gaan nie oor jou gesindheid nie, dit gaan nie oor hoe jy voel nie, dit gaan oor jou verhouding met God.  God is die vyand van elke sondaar en elke sondaar is die vyand van God.

En dit is die rede waarom die wêreld die Bybel haat en verwerp. Hulle haat goddelike waarhede.  Jesus sê in Joh 8 dat die sondaar is onder die mag van Satan.  In v44 sê Hy, “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen…”

Ef 2:2 sê dat die hele wêreld is onder die owerste van die mag van die lug, die gees wat in die kinders van die ongehoorsaamheid werk.

1 Joh 5:19 Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.

Dit is waaroor dit gaan. Dit is mense wat in vyandskap is met God. En Heb 10:31 sê,

Heb 10:31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.

Die laaste persoon wie jy wil hê moet teen jou wees, is God.  Om dit eenvoudig te stel: jy is nie in God se goeie bookies nie. Jy is dalk nie so kwaad vir God nie, maar Hy is baie kwaad vir sondaars.

Rom 1:18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk

KJV
Psa 7:11 God judgeth the righteous, and God is angry with the wicked every day.

Wat beteken dit dan om vrede by God te hê? Dit beteken jy is nie meer God se vyand nie.  Dit beteken God is nie meer jou vyand nie.  Hy sal jou nie meer veroordeel nie.  Vrede by God is die nuwe toestand, ‘n nuwe verhouding tussen God en die gelowige wat vloei uit die versoeningswerk van Jesus Christus.

Toe Jesus op die kruis gesterf het, het Hy al ons sondes in Sy liggaam gedra en God se toorn is daardeur te vrede gestel. Die straf van sonde is betaal.  Daar is niks meer om voor te betaal nie.  Dit is wat Jesus gesê het, “Dit is volbring.”

Kol 1:20 en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis…

Vrede by Hom!  Vrede tussen God en die mens!  Vrede tussen die sondaar en God!  God het nie meer nodig om vir ons kwaad te wees nie. God het nie meer nodig om ons te straf vir ons sondes nie, want dit is klaar gedoen.  Die nuwe realiteit is ‘n nuwe vrede.  Instede dat ons vyande van God is, is ons nou vriende van God.  Ons is kinders van God.

God se toorn wat ons in die ewige hel sou gooi is weggeneem en is ten volle opgeneem op Christus by die kruis. En dit is wat ons teksgedeelte sê:

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus

Hy is die Een wat versoening bring.  Hy is die Een wat vrede bewerk. En Hy is die Een wat vrede belowe.

Joh 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

God offer aan jou vrede.  Hierdie is ‘n nuwe status.  Wat dan belangrik is om te verstaan is dat hierdie nuwe status die gevolg is van die kruis.  Omdat Christus se werk dan volkome is, is hierdie nuwe status ook volkome.  Christus se werk hoef nie weer herhaal te word nie en daarom kan die status ook nie verander nie.

Ons het in ‘n nuwe dimensie in beweeg, ‘n nuwe verhouding met God.  God se toorn is afgehandel en ons het vrede by God. Die gevoel van sekerheid en vrede vloei vanuit ‘n objektiewe waarheid wat ‘n onveranderlike realiteit is. Ons is vriende van God.

Psa 37:23 Deur die HERE word die gange van 'n man bevestig, en Hy het 'n welbehae in sy weg.
24 As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand.

KJV
Psa 37:23 The steps of a good man are ordered by the LORD: and he delighteth in his way.
24 Though he fall, he shall not be utterly cast down: for the LORD upholdeth him with his hand.

Dit is jou nuwe status.  Ef 6:15 noem die evangelie, die evangelie van vrede, want dit is wat dit is.  Jesus bring vrede tussen ons en God.

Ef 2:14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het

Die rede waarom jy vrede met God het, is omdat God te vrede is met die offer van Jesus Christus.  Jy het vrede met God en dit is ‘n permanente toestand.  As God nie ten volle te vrede was met die werk van Christus nie, sou ons nie permanente vrede gehad het nie.  Maar nou dat God ten volle te vrede is met die offer van Jesus, is daar permanente vrede. Dit is onveranderlik.

2.    Staan in genade

Rom 5:2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

KJV
Rom 5:2 By whom also we have access by faith into this grace wherein we stand…

Die eerste beginsel is, ons het vrede met God.  Die tweede beginsel: ons staan in genade.

Alles kom deur Christus.  Alles kom as gevolg van Christus.  Christus is die Middelaar tussen God en die mens.  Deur die geloof het ons toegang verkry tot hierdie genade.  KJV sê, …we have access by faith into this grace…  Ons het toegang.  Ons het toegang tot God.

Ef 2:18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.

Ef 3:12 in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom.

Deur Christus se dood is daar toegang tot God vir die mens.  Die voorhangsel van die tempel het geskeur en nou het ons toegang.

1 Pet 3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring…

Christus maak die weg oop, Hy is die weg na God.  Hy bring ons in die teenwoordigheid van God.  Hierdie woord “toegang” kan ook beteken, “‘n veilige hawe of sekuriteit.”

Matthew Clark se kommentaar sê die volgende:

And this access to God, or introduction to the Divine presence, is to be considered as a lasting privilege. We are not brought to God for the purpose of an interview, but to remain with him; to be his household; and, by faith, to behold his face, and walk in the light of his countenance.

Rom 5:2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan…

Die oomblik wat jy na Jesus Christus toe gekom, het jy toegang verkry tot genade.  Nou lewe jy in genade.  Nou staan jy binne in genade en is omring met genade. Die Griekse woord is “hestemi”, (to be fixed, to be settled) wat beteken “om te staan”, of “om gegrond te wees”, “om gesetel te wees”. Om dit eenvoudig te stel, julle is in genade in gesement.

Paulus hou van hierdie woord.  Hy gebruik dit in 1 Kor 15:1 waar hy sê,

1 Kor 15:1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan (gesetel is).

Dit spreek van ‘n permanente posisie waarin ons staan.  Ons staan in genade.  Ons is gesement in genade.  En as ek dan in genade staan, en my hele lewe is omring met genade, dan is dit mos nie die wet nie.  As dit genade is dan is dit mos nie werke nie.

Deur jou saligheid het jy toegang verkry tot genade.  Nou lewe jy in genade.  Jou saligheid word nie nou behou deur jou werke nie.  Jou saligheid is gegrond in die genade waarin jy staan.  Genade is die Goddelike Waarborg.

Wat dan as jy sonde doen?

Rom 5:20 Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword;

Ons leef in genade. Ons staan in genade. Ons is gesement in genade.

Rom 14:4 Wie is jy wat die huiskneg van 'n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.

Ons het ‘n Goddelike Waarborg. Hoor die getuienis van Judas (dit is nou nie Judas die verraaier nie, dit is Judas Jesus se broer).

Jud 1:24 Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig

Hoe doen Hy dit?  Hoe sal Hy ons eendag sonder gebrek voor sy heerlikheid stel?  Deur genade!  Ons sondes kanselleer nie ons saligheid nie, want ons leef in genade.  Hy is magtig, Hy het die krag om ons veilig te bewaar.  Ons staan geanker in genade.  En dit is God se onverdiende guns waardeer Hy ons red.

Omdat ons vrede by God het, het ons toegang tot God se genade deur dit wat Jesus gedoen het.  Ons kan dit nie verdien nie of nog minder kan ons dit behou deur ons werke nie.  Dit is uit genade alleen en dit is genade wat vergewe.  Ons begin nie met genade en eindig met werke nie.  Nee!  Ons staan en lewe in genade.

Gal 5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet (maw hulle is nog nie gered nie maar wil deur die wet geregverdig word), is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval (dit is afvalligheid beteken, om nie God se genade te aanvaar nie, maar staat te maak op jou eie vermoëns).

Dit beteken nie hulle was in die genade en het toe verval nie.  Nee!  Die hele argument is dit: Jy kan nie beide hê nie.  Jy kan nie genade hê en werke hê nie.  Ja!  Goeie werke is die vrug van jou bekering, maar dit sal jou nooit red of gered hou nie.  Jy staan in die genade en dit is jou waarborg.

As ons ons saligheid moet behou deur ons goeie werke, gaan niemand dit maak nie.  Daar is net een waarborg, en dit is genade.  Die genade waarin jy staan, dit is die Goddelike Waarborg.
Dit is Christus wat ons ingebring het en ons daar hou.  Deur genade is al ons sondes vergewe…die verlede, die hede en die toekoms. Die wet het hier geen rol wat dit vervul om ons gered te hou nie.

In God se genade word ons bewaar.  Daar is geen apelhof wat hierdie uitspraak van God kan verander nie.  God het die finale uitspraak gegee, Hy spreek mense vry op die meriete van Christus en dit kan nie omgedraai word nie.

Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

As God ons nie meer veroordeel nie, wie is die mens om te veroordeel.  Daar kan nie nog veroordeling wees nie, want Jesus het die volle prys betaal.

Rom 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge
39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
1 Thes 5:24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

Ons het ‘n Goddelike Waarborg.

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288