Thursday 14 February 2013

Wat is afvalligheid?

Afvalligheid is wanneer ‘n persoon of ‘n groep wegdraai van die waarheid.  Wanneer die evangelie van Jesus Christus aangebied word is daar net twee moontlike reaksies.  Wanneer iemand al die waarhede van die evangelie gehoor het, glo hy dit tot redding of hy glo dit nie en word afvallig.

Afvalligheid is die sonde waarvoor daar geen vergifnis is nie.  God kan jou nie vergewe as jy nie Sy offer van verlossing aanvaar nie.  Iemand wat na Christus toe kom tot op die rand, wat die waarheid ken, wat glo dit is die waarheid, en uiteindelik daarna wegloop in ongeloof en nie homself aan Christus oorgee nie, het afvallig geword.  Dit is wanneer hy sy rug op DIE GELOOF gedraai het na valshede toe.

In Hebreërs 10 kry ons ‘n voorbeeld van afvalligheid, ‘n negatiewe reaksie op die nuwe verbond.  In die boek Hebreërs word Jesus Christus voorgestel as die Middelaar van ‘n beter verbond (Heb 8:6).  En in elke opsig is Christus beter as alles in die ou verbond.  Hy is die volmaakte Hoëpriester wat ‘n volmaakte offer gebring het en daarom ‘n volmaakte saligheid bewerk het.

Jesus voorsien alles wat die ou verbond nie kon voorsien nie.  Dit is volkome en ewige vergifnis van sonde, volkome en ewige toegang tot God, volkome en ewige saligheid (Heb 7:25).  Al hierdie dinge kon die ou verbond net tydelik en gedeeltelik voorsien.

In die eerste 10 hoofstukke van Hebreërs word die voortreflikheid van Christus voorgestel en nou vanaf v19 soek die Here ‘n reaksie.  Die eerste reaksie is positief.  Die Here vra drie dinge: “Laat ons toetree...” (v22), “laat ons vashou...” (v23), en “laat ons op mekaar ag gee”.

Wat die Here nou sê is, “Kom nou, julle het so ver gekom. Julle weet dit is die waarheid.  Moenie so op die rand bly nie.  Kom nou die hele pad na Christus toe.”  Drie dinge word dan gevra as jy na Christus toe kom. 

Eerstens geloof,

Heb 10:22 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid...

Tweedens hoop,

Heb 10:23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou.

En derdens liefde,

Heb 10:24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor.

Die Here vra hierdie drie dinge wat ware verlossing uitmaak: geloof, hoop en liefde.  Laat julle toetree, hou vas en gee ag op mekaar.  Moenie nou omdraai nie.  Dit is die positiewe reaksie.

Nou was daar ook Jode in die gemeente wat die gevaar geloop het om terug te gaan na Judaïsme toe.  Hulle het so ver gekom, alles het goed gelyk.  En aanvanklik was hulle harte warm en daar was ‘n opgewondenheid.  En dan gebeur dit dat hulle vervolg word en verdrukking beleef en hulle was in die gevaar om weer terug te gaan na Judaïsme.  En as hulle dit sou doen, met volle kennis en volle openbaring, sou hulle afvallig word.

Hebreërs 6 sê dan ook as iemand die volle openbaring van verlossing ontvang het en dan omdraai en wegloop, is dit onmoontlik om weer so persoon te vernuwe, tot wat? ...tot bekering (Heb 6:6).  So vir iemand om die waarheid te ken en sy rug daarop te draai en weg te loop is ‘n verskriklike sonde en dit plaas hom buite God se genade.

So die Here dring daarop aan dat hulle in moet toetree en vashou en nie die gemeente byeenkomste versuim nie, sodat hulle na die volmaaktheid kan voortgaan (Heb 6:1) en die saligheid kan verkry en nie omdraai nie. 

Joh 8:30 Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.
31 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Nie net oppervlakkige geloof nie, maar geloof wat behoudend is (Heb 10:39).  In Joh 15:5 sien ons dat die ware lote is hulle wat in die wynstok bly en vrug dra.  Die lote wat net in die wynstok is vir ‘n kort tyd en nie vrug dra nie, word uitgewerp en verbrand.  Die ware loot is die loot wat bly en vrug dra.

So wat die Here vra in Hebr 10 is dat hulle tot bekering sal kom, dat hulle die hele weg sal kom na Christus toe om daar te bly.

Dan kom die negatiewe kant vanaf v26-39.  En die Here sê vir hulle hier, “Moenie die teenoorgestelde doen nie, moenie afvallig raak nie.  Hy beklemtoon drie dinge.  Die kenmerk van afvalligheid, die gevolge van afvalligheid, en die afskrikmiddels tot afvalligheid.

Die kenmerk van afvalligheid

Heb 10:26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het...

Dit is die definisie van afvalligheid.  Dit is iemand wat die waarheid ontvang het en dit verwerp het.  Hy het die volle waarheid ontvang.  Hy het dit totaal en al verwerp.  Dit is ‘n afvallige.

Die woord “afvalligheid”, kom nie hier in die teks voor nie, maar kom wel in ander teksgedeeltes voor.  Dit beteken om weg te val, om te onttrek.  Ons kry die woord in Hand 21:21, wanneer Paulus beskuldig word dat hy die Jode leer om afvallig te word van Moses.  Ons kry dit ook in 2 Thes 2:2 wat sê dat in die laaste dae voor die einde kom, moet daar eers die afval kom. 

Jesus het ook voorspel in Matt 24:10 dat baie mense afvallig sal word.

Matt 24:10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.

Wat van die gelowige?  Beteken dit dat gelowiges kan struikel en afvallig word?  Beteken dit dat gelowiges weer verlore kan gaan?  Kom ons kyk wat sê die Woord.

1 Joh 2:19 Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.

Johannes maak die onderskeid tussen “hulle” en “ons”.  Hy sê “hulle” het van "ons" uitgegaan, maar was nie van “ons” nie.  Maw hulle was saam met ons, maar hulle was nooit deel van ons nie.  Hulle was nooit gered nie.  Want as hulle van ons was, maw gered was, sou hulle gebly het.  Dit bewys dat die ware gelowige nooit sy rug op God sal draai nie. 

Net soos Joh 15 sê dat die ware lote in die wynstok bly en vrug dra.  As jy nie bly nie is dit ‘n bewys dat jy nooit gered was nie.  Jy het wel geglo, maar jou geloof was dood en het geen werke geproduseer nie.  Dooie geloof kan egter nie red nie.  Geloof sonder werke is dood.

Heb 10:39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.

Ware geloof, reddende geloof, is geloof tot behoud van die lewe.  Dit is geloof wat goeie werke produseer, dit waarvoor God ons gered het, om daarin te wandel.  Dit is geloof wat vrug dra, want wie in Hom bly, sal vrug dra.  Die vrug is die bewys van ware redding.

Nie almal wat kerk toe kom en saam deel het in aanbidding en gemeenskap is waarlik gered nie.  Daar is baie wat godsdiensig is, maar nooit wedergebore is nie.

1 Tim 4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.

Let op wat die teksvers nie sê nie.  Dit sê nie dat sommige van “hulle geloof” afvallig sal word nie.  Dit sê dat sommige van “die geloof” afvallig sal word.  Maw hulle sal hul rug draai op die Christen geloof, die waarheid, dit wat hulle weet is die waarheid.  En hulle sal eerder verleidende geeste en leringe van duiwels aanhang.  Dit is afvalligheid.

Judas Iskariot was ‘n afvallige.  Sommige meen hy was gered en het weer verlore gegaan, maar Jesus het self aangedui dat Judas nie gered was nie.

Joh 13:10 Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.
11 Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie almal rein nie.

Jesus sê vir Petrus dat hulle is rein, maar nie almal nie, want Hy het geweet wie Hom sou verraai, naamlik Judas.  In Joh 15 verwys Jesus na die lote wat in Hom is, maar nie in Hom bly en vrug dra nie.  Hier verwys Hy dan spesifieks na Judas wat saam met hulle was, maar nie gered was nie.  Dit was klaar erg genoeg dat hy Jesus sou verraai, maar nog erger dat hy Hom gesoen het.

Hoekom sou iemand wat die waarheid ken en die evangelie verstaan sy rug daarop draai?  Wel die Bybel gee vir ons ‘n paar redes: 

Eerstens is vervolging.  Ons sien dit in die gelykenis van die saaier.

Luk 8:13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.

Let op!  In die tyd van versoeking, val hulle af.  Hulle val weg.  Dit beteken nie omdat hulle vir ‘n tyd geglo het, dat hulle gered was nie.  Die bewys van ware redding is vrug.  Die bewys van ware geloof is werke wat dit produseer.  In die geval is daar geen.

Tweedens is daar valse leraars.  Matt 24:11 sê dat baie balse profete sal opstaan en baie mense mislei.  Afvalligheid kom ook as gevolg van valse leringe.

2 Tim 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Derdens is veronagsaming.  Om na te laat om iets te doen.

Heb 2:3 hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het.

Sommige mense het afvallig geword omdat hulle hul saligheid nagelaat het.  Hulle het net nie te veel omgegee nie.  Hulle harte het hard geword in ongeloof en sonde.

Heb 3:12 Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.
13 Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.

Nog ‘n rede waarom mense afvallig word is omdat hulle vashou aan ou godsdiens.  Ons lees in Heb 6, dat hulle nie bly by die ou verbond nie.  Hulle moet tot die volmaaktheid voortgaan.  Hulle moet by Christus uitkom.  As dit nie gebeur nie, is dit onmoontlik om so iemand tot bekering te vernuwe.

So kom ons weer na die definisie van afvalligheid.

Heb 10:26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,

Dit is iemand wat die kennis van die waarheid ontvang het.  Afvalligheid het te doen met diegene wat die volle aanbieding van die evangelie ontvang het.  Dit het nie te doen met hulle wat dit nie ontvang het nie.  Dit is iemand wat verstaan waaroor dit gaan.  Dit is iemand wat die waarheid ken.

Ons kry ‘n beskrywing van so iemand in Heb 6.

Heb 6:4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5 en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6 en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Dit is iemand wat die hemelse gawe gesmaak het.  Dit beteken nie hy het die hemelse gawe gehad nie.  Hy het dit net gesmaak.  Dit is iemand wat die Heilige Gees deelagtig (partakers of the Holy Ghost - KJV) geword het.  Dit beteken hy deelgeneem (partook) in dit wat die Heilige Gees gedoen het.  Dit beteken nie hy het die Heilige Gees gehad nie.

Dit is iemand wat die goeie woord van God gesmaak het.  In die Bybel word geloof soms beskryf as iemand wat die woord van God eet.  In Eseg 3:3 sien ons dat hy die rol geëet het.  Dit beteken hy het dit geglo.  Om te smaak beteken nie om te glo nie.  Baie mense het al die woord van God gesmaak, maar dit nog nie geëet nie, maw dit deel van hulle gemaak nie, dit geglo nie.

Heb 6:4 & 5 verwys na iemand wat die kennis van die waarheid ontvang het, maar het omgedraai en dit verwerp.  Hulle het die enigste offer vir hul sondes verwerp en daarom is daar geen offer meer oor nie en het hulle afvallig geword.  Daarom is so persoon onmoontlik om tot bekering te vernuwe, want solank as wat hulle in ongeloof bly, kan hulle nie vergifnis ontvang nie.

Dit word ook genoem die onvergeeflike sonde of sonde teen die Heilige Gees.

Matt 12:31 Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.
32 En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.

Hoekom nie?  Wanneer die Heilige Gees jou kom oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel, en jy verwerp dit en loop weg, maak jy Hom ‘n leuenaar en sê dat Hy nie die waarheid praat nie.  Jou ongeloof maak Hom tot leuenaar en daarom laster jy teen die Heilige Gees.

1 Joh 5:10 Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.

Jesus noem ongeloof sonde.

Joh 16:8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:
9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie.

God kan nie jou ongeloof vergewe nie, want dit is deur geloof wat ons die offer van saligheid ontvang.  So nadat iemand die kennis van die waarheid ontvang het en dit nie geglo het nie, sondig hy opsetlik en daarom is daar nie meer ‘n offer vir sy sondes oor nie, want hy het die enigste offer wat sy sondes kan vergewe verwerp.

Dit is wat dit beteken om afvallig te wees.

...(vervolg)

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288