Tuesday 12 February 2013

Onderskeiding

1 Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;

KJV
1 Pet 3:15 But sanctify the Lord God in your hearts: and be ready always to give an answer to every man that asketh you a reason of the hope that is in you with meekness and fear:

Hierdie vers beveel ons as Christene om altyd gereed te wees om ons geloof te kan verdedig, buite die kerk.  Ons noem dit apologetiek.

Jud 1:3 Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Hierdie vers sê ons moet kragtig stry vir die geloof wat eenmaal oorgelewer is, en dit vind binne die kerk plaas.  Ons noem dit polemiek.  Judas was sekerlik bewus van Petrus se woorde, want sy boek brei uit op die tweede brief van Petrus wat praat oor die valse leraars wat begin het om die kerk binne te dring.

Wanneer ‘n lering of praktyk nie in lyn is met God se Woord nie, word ons beveel om met die Woord te vermaan en te weerlê.

Tit 1:9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.

Paulus sê in,

2 Tim 4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;

Ef 5:11 en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.

Hoekom is dit so belangrik?  Want dit is ons plig en verantwoordelikheid om die kudde van God te waarsku en te beskerm, hulle wat nie beter weet nie en wat maklik beïnvloed kan word deur nie-Bybelse dinge wat hul Christen wandel kan benadeel.

Ons moet dit ook doen om die dwaal leraars te stop sodat hulle tereg gewys kan word.  Om ‘n vals leraar toe te laat in enige gemeente is nie ‘n daad van liefde nie.  ‘n Ware herder se eerste prioriteit is om sy kudde te beskerm en daarna om die valse leraar reg te help.

Apologetiek is baie belangrik, maar in ons dag het polemiek nog belangriker geword.  Daar moet groter kommer wees oor wat binne die kerk aangaan as buite.  Wanneer ons valse leringe buite kant die kerk vind, soos byvoorbeeld die Jehovah Getuies, dan stem almal saam dit is ‘n probleem.  Maar wanneer valse leringe binne die kerk gevind word, word dit ‘n baie sensitiewe saak en diegene wat dit aanspreek word beskou as mense wat krities is en net fout soek.

Baie Christene vandag meen dat dit leerstellinge is wat verdeeldheid bring in die kerk.  Dit is egter nie die waarheid nie en sulke mense is juis skuldig daaraan dat hulle nie in die gesonde leer van die Woord bly nie.  Ons moet verstaan dat dit valse leerstellinge is wat verdeeldheid bring in die kerk, want dit skei die gelowige van die waarheid.

Paulus sê in,

Rom 16:17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.

So hoe word tweedrag en aanstoot veroorsaak?  Wanneer iemand teen die gesonde leer van God se Woord leer.  Die Bybel sê ons moet hulle vermy.

Die apostel Johannes sê,

2 Joh 1:10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.
11 Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.

Hoekom is dit so dat die persone wat die kerk leierskap waarsku teen valse leringe en programme, dat hulle soms geviktimiseer word en gedreig word dat hulle uit die kerk gesit sal word?  Hierdie dinge is besig om toe te neem in die kerk en is dalk die vervulling van Petrus se profesie,

1 Pet 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God...

Bekende prediker J. Gresham Machen het die volgende gesê:

“Again, men tell us that our preaching should be positive and not negative, that we can preach the truth without attacking error. But if we follow that advice we shall have to close our Bible and desert its teachings. The New Testament is a polemic book almost from beginning to end ... It is when men have felt compelled to take a stand against error that they have risen to the really great heights in the celebration of the truth” (What Is Christianity, as cited in Biblical Separation, by Ernest Pickering, p. 97).

Walter Martin sê:

“The reason is because the people will not test them. The Church will become fragmented and divided because we won’t put them to the test.”

Daar is belangrike rede waarom ons alles moet beproef, soos Paulus sê,

1 Kor 11:18 Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.
19 Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.

Dit help ons om te sien van wie ons onsself moet distansieer (Rom 16:17).  Die Kerk het nog altyd in die verlede hul gedistansieer van dwalinge en valshede.  Vandag gebeur dit egter nie meer so maklik nie.  Ons moet juis in hierdie tyd waarin ons leef predikers aanmoedig om op te staan en getrou te wees aan die Woord van God.

Onderskeiding is so belangrike geestelike oefening vir jou eie oorlewing in hierdie babelse verwaring van valse leringe.  Slimwees of intelligent wees is nie noodwendig onderskeiding nie.  Onderskeiding beteken om soos die Christene in Berea na die Woord toe te gaan en dit te ondersoek om te sien of die prediking in lyn is met God se Woord.

Dit beteken om God se Woord bo mense se woorde te kies.  Dit beteken om God se Woord bo mense se persoonlikheid en aansien te kies.  Toe die Fariseërs Jesus se woorde betwis het, het Hy hulle na die Woord toe verwys.  Die Christene van Berea het nie net Paulus se woorde aanvaar sonder om dit eers aan die Skrifte te gaan toets nie.

Hand 17:11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge (wat Paulus sê) so was.

Hulle gesindheid was reg.  Hulle het Paulus se woorde beproef nie volgens hulle eie opinies nie, maar volgens die Skrif.  Die grootste deel van die Nuwe Testament is deur Paulus geskryf en tog het hy hulle toegelaat om hom te bevraagteken.  Hy noem hulle edelmoediger.

Om met eerlikheid die waarheid te ondersoek wys dat jy integriteit het en bereid is om God en nie ‘n mens te glo nie.  Ons mag altyd mense se woorde betwyfel, maar nooit God se Woord nie.

1 Kor 2:15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

KJV
1 Cor 2:15 But he that is spiritual judgeth all things, yet he himself is judged of no man.

Hier volg ‘n baie belangrike beginsel.  Ons lees daarvan in Eseg 33,

Eze 33:6 As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ‘n siel uit hulle weg—dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis.
7 En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.

God rig ook vandag mense op om wag te staan oor Sy kerk en hulle te waarsku as die vyand kom om vernietiging te saai in die kerk.  Paulus het die Efese kerk gewaarsku teen wrede wolwe wat onder hulle sou inkom en die kudde nie sou spaar nie.  In Open 2:2 sien ons dat die gemeente van Efese die slegte mense wat gesê het hulle is apostels beproef het en as leuenaars bevind het.

Paulus het vir Timotheus gesê,

2 Tim 4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;

Dit is ons verantwoordelikheid om die waarheid te spreek en op te staan teen valse leraars.  Vandag word diegene wat die negatiewe opdragte in die Bybel gehoorsaam as liefdeloos beskou.  Dit verander egter nie die opdragte nie.  Watookal gebeur sê,

Joh 14:23 ...As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Om Christus se Woord te bewaar beteken om ook te onderskei, te beproef en te oordeel.  Om in liefde te wandel is om ook vir ander uit te kyk, nie net vir jouself nie.  Om ander te waarsku teen valshede en dit wat teen God se Woord is.

Wanneer okkultiese idees in die kerk se praktyke geïntegreer word onder die dekmantel van Christelike terminologië, is daar baie wat dit nie erken of besef nie.  Dan word vereis dat iemand wat hierdie dinge kan onderskei, wat die gawes het, die vermoëns en bereidwilligheid het, om op te staan en te praat.  En ons moet dankbaar wees vir hulle.

Maar in plaas daarvan word vir hulle gesê om nie te oordeel nie en om nie aan die gesalfde van die Here te raak nie.  Om nie te oordeel nie gaan jou beslis nie help as jy dwaal nie, maar ontneem jou van onderskeiding en beskerm die wat valslik onderrig.  Ons moet God se kudde beskerm en nie die valse leraars nie.

Judas vermaan die kerk, “om kragtig te stry vir die geloof...”.  Paulus sê, “Stry die goeie stryd van die geloof...” (1 Tim 6:12).  Dit wat ons glo is dit wat ons moet verdedig.  Christus moet deel wees van elke aspek van ons sosiale en persoonlike lewe.  Ons is nie geroep om niks te doen nie.  Ons almal moet stry vir die geloof en nie net sommige Christene nie.

Hoe ernstig is jou Christenskap?  Hoe helder skyn jou lig?  Die spreekwoord is, “if you don’t speak up for anything you will sit down with everything.”

Heb 5:13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.
14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Dit is net die geestelik  volwasse gelowiges wat kan onderskei.  Hulle wat die geestesvermoëns besit om te kan onderskei.  Diegene wat nie onderskei nie is onervare en kinders in die woord.  Daarom weet hulle nie wat goed en wat kwaad is nie.

Die laaste dae word gekenmerk aan geestelike afvalligheid. 

2 Tim 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Dit gaan goed met die kerke wat preek wat mense wil hoor.  Mense wil gestreel wees in hul gehoor.  Mense hou nie daarvan om te hoor dat hulle lewens nie in lyn is met God se wil nie, daarom versamel hulle leraars wat sal preek wat hulle wil hoor.  Aan die ander kant is die predikers wat getrou bly aan die gesonde leer, nie gewild en populêr nie.

Die kerk het nodig om sterk te staan en nie kompromië aan te gaan nie.  Ons soek nie die guns van mense nie, maar God.  Ons moet nie mense behaag nie, maar God.  Ons moet begin om binne die kerk te oordeel.

1 Kor 5:12 Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie?

Paulus veronderstel hier dat dit ons plig is om binne die kerk te oordeel.  Hoekom?  Sodat ons kan onderskei en onsself kan distansieer van valse leraars en valse leringe wat die kerk binnegedring het.  Dit is belangrik vir ons eie geestelike oorlewing.

Charles Spurgeon het die volgende gesê:

“Complicity with error will take from the best of men the power to enter any successful protest against it ... Fellowship with known and vital error is participation in sin ... As soon as I saw, or thought I saw, that error had become firmly established, I did not deliberate, but quitted the body at once. Since then my counsel has been 'Come out from among them.' I have felt that no protest could be equal to that of distinct separation from known evil ... That I might not stultify my testimony I have cut myself clear of those who err from the faith, and even from those who associate with them”  ( C.H.S., The Sword and the Trowel.)

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288