Friday 15 February 2013

Gehoorsaamheid: Liefde of wetties?

Hand 5:32 En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. 

Inleiding

Die Woord is baie duidelik dat God beveel gehoorsaamheid. Ons teksgedeelte sê dat die Heilige Gees word gegee aan die wat Hom gehoorsaam is.  Die persoon wat bely dat hy Jesus as Verlosser aanvaar, maar nie as Heer van sy lewe nie, het die ware Christus verwerp en is nie ‘n christen nie.

Tit 1:16 Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk. 

Hierdie gedeelte sê nie dat hulle waarlik God geken het nie.  Dit sê: hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke. Dit is maklik om te sê: ek is ‘n Christen en ek ken die Here.  Baie mense sê hulle is christene en ken die Here.  Ek het ook self dit gesê, voordat ek tot bekering gekom het.  Matt 7:17 sê egter dat elke goeie boom dra goeie vrugte en ‘n slegte boom dra slegte vrugte.

Matt 3:8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas. 

Matt 12:33 sê: aan die vrugte word die boom geken.

Ons gehoorsaamheid kan ons nie red nie.  Maar ware bekering bring gehoorsaamheid.  Die Bybel sê nêrens dat gehoorsaamheid ‘n voorwaarde is vir saligheid nie.  Gehoorsaamheid is altyd die vrug van saligheid.  Gehoorsaamheid is die bewyse van ware Christenskap

1 Joh 2:4 Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie. 

1 Joh 3:10 Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. 

3 Joh 1:11 Geliefde, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie. 

Moet ek die gebooie bewaar om ‘n kind van God te word? NEE! Ek bewaar dit omdat ek Hom reeds ken.  Hoe word die kinders van God geopenbaar?  Dit is hulle wat die geregtigheid doen.  Hoe word die kinders van die duiwel geopenbaar?  Dit is hulle wat nie die geregtigheid doen nie.  Hy wat goed doen is uit God.  Hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie.

Gehoorsaamheid is dus die vrug van my redding.  Nie die wyse waarop ek redding kan bekom nie.

Liefde en Verpligting

Kan jy Jesus aanneem as jou Verlosser, maar op dieselfde tyd verwerp jy Sy heerskappy?  NEE!  Enige boodskap wat die heerskappy van Christus in ‘n mens se lewe uitlaat is nie die ware evangelie van Christus nie.  Hy kan nie jou Verlosser wees, maar nie jou Here nie.  Jy kan nie sê: ek is ‘n lid van die koninkryk van God, maar leef net soos wat ek wil nie.

Iemand wat sê hy is ‘n christen, maar leef net soos wat hy wil, het nog nooit homself verloën, die ou lewe begrawe en die heerskappy van Christus is sy lewe aanvaar nie.  So ‘n persoon openbaar eerder sy sondige toestand en dat hy nooit waarlik tot bekering gekom het nie.

Maw ek bely dat Jesus Christus is my Verlosser en Saligmaker wat my skoon gewas het met sy bloed en my sondes vergewe het.  Maar saam met dit bely ek ook dat Hy is my Here en dat ek myself onderwerp aan Sy heerskappy.

Is ek dan aan God gehoorsaam uit liefde of uit verpligting?  Beide!  Liefde en verpligting staan nie teenoor mekaar nie.  Dit loop hand aan hand.  Ek is God gehoorsaam, omdat ek Hom liefhet en omdat dit my plig is.

‘n Vader voorsien aan sy familie, omdat hy hulle liefhet.  Maar hy voorsien ook aan hulle, omdat dit sy wettige en morele plig is.  Die feit dat ‘n pa sy kinders liefhet, beteken nie dat sy plig teenoor hulle minder belangrik is nie.  Dit is hoe ons gehoorsaamheid aan Christus moet wees.  

Ons is aan Hom gehoorsaam, omdat ons Hom liefhet het en Hom met vreugde wil behaag.  Nogtans kan ons dit nie losmaak van die verantwoordelikheid wat ons het nie.  Ons liefde vir Christus kanselleer nie ons onderdanigheid aan Hom nie.  Christus bly steeds ons Meester en ons verhouding met Hom dra steeds verantwoordelikheid.

Ons dien Hom in liefde en ons dien Hom in diensbaarheid.  Paulus verwys na homself in Rom 1:1 as dienskneg van Jesus.  Jakobus ook. Jak 1:1.  Hy sê: hy is 'n dienskneg van God en die Here Jesus Christus.

Joh 14:15 As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 

Ons lees dan in Joh 15:14 dat Jesus noem selfs diegene wat alles doen wat Hy hulle beveel om te doen, sy vriende.  Jesus het ons liefde vir Hom en ons verpligting teenoor Hom gesien as motiewe om gehoorsaam te wees.

Joh 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 

Joh 15:10 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. 

Sien jy: liefde en verpligting loop hand aan hand.  Om jou aan God te onderwerp is nie veronderstel om jou vreugde te steel wanneer jy dit doen nie.  Beide ons liefde vir die Here en ons pligsbesef aan Hom sal ons motiveer om gehoorsaam te wees.  Ons het die Here lief, maar ons het ook ‘n verpligting as Sy kind.  Die een kanselleer nie die ander een uit nie.

Wat beteken dit dan as die Bybel sê in Rom 6:14, “ons is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade?”

Wet en Genade

Paulus sê in Gal 3:23 dat voordat die geloof gekom het, was ons onder die wet in bewaring gehou.  En dan sê hy, in Gal 5:18 as julle deur die Gees gelei word, is julle nie onder die wet nie.

Wat beteken dit: ons is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade. Beteken dit dat daar geen standaard is of wet is wat ons ooit bind nie.  Ons is tog nie ongebonde nie.  Genade beteken nie: jy is vry om te doen net wat jy wil nie.

Die siening dat geen wet op die Christenne van toepassing is nie, noem ons antinomianisme.  Hierdie siening stel genade en die wet teenoor mekaar asof die genade en die wet vyande van mekaar is.  En dit is gevaarlik.  Want dit sou beteken dat as die wet sê: jy mag nie, dan sê genade mos: jy mag.

Genade het nog nooit God se standaard verlaag nie.  Genade beteken nie wetteloosheid nie.  Genade beteken nie ongebondenheid nie.  

Jud 1:4 Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën. 

Genade volgens die Woord beteken die onverdiende guns van ‘n soewereine God.  Meer as dit, beteken dit dat God aan ons barmhartiglik skenk die teenoorgestelde van dit wat ons sondige mens verdien.

Genade is nie net vergifnis van sonde nie, maar ook die krag om te lewe.  Genade is ‘n dinamiese krag, die soewereine werk van God in ons lewens.

Fil 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. 

Genade verander ons en maak ons gewillig om te vertrou en om gehoorsaam te wees.  Genade gee ons die begeerte en die krag om God se welbehae te doen.  Genade vervul dit wat die wet nie kon gedoen het nie.

Rom 8:3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 
4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 

Die morele standaard wat deur die wet daargestel is, het nie verander onder die genade nie.  Hoe kan God se standaard verander? Maar genade bekragtig ons om die reg van die wet te verul wat deur die wet self nie vervul kon word nie.  En hoe doen ons dit?  Wanneer ons wandel nie na die vlees nie, maar na die Gees.

Wat beteken dit dan om nie onder die wet te wees nie?  Wat het Paulus bedoel, toe hy sê: “ons is nie onder die wet nie”?

Ons is nie onder die seremoniële wet nie:

Paulus skryf aan Galasiërs om die invloed van die Judeërs te konfronteer.  Hulle was Joodse wettiesiste wat probeer het om die wette van Moses van seremonies en rituele op die Christene van af te druk.  Hulle het gesê: die mense moet besny word en hulle mag sekere kosse nie eet nie.

Dit was redelik ‘n groot stryd in die vroeë kerk en vandag nog.

Hand 15:5 Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou. 
6 En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek. 
7 En toe daar 'n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. 
8 En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. 
9 En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. 
10 Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? 
11 Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook. 

V19 en 20 kom hulle tot ‘n gevolgtrekking en sê dat die Mosaïtiese wet moet nie op die Christene afgedwing word nie.  En wanneer dit kom by wat ons mag eet sê, dan is daar sekere riglyne, bv.:

1 Tim 4:4 Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; 

Maar…

Rom 14:14 Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein. 
15 Maar as jou broeder deur voedsel gegrief word, dan wandel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur jou voedsel hom te gronde rig vir wie Christus gesterf het nie. 

As dit vir iemand anders ‘n probleem is, moet dit nie voor hom eet nie v20.  Dit is hoe ek dit verstaan.  Dit het spesifiek gegaan oor seremoniële wette en nie oor die morele wet nie.

Die Bybelse wet wat sê: jy mag nie egbreek pleeg nie, dit  is ‘n morele wet en nie ‘n seremoniële wet nie.  Daarom sê Hand 15:20: weerhou julle van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.  Drie van die 10 gebooie, afgode, egbreek en moord.

Maw het die morele wette weggeval? Nee. Die seremoniële wette is nie die standaard van die kerk nie, die morele wet van God is die standaard en dit het nie verander nie.

Kol 2:16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie, 
17 wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. 

Die priesteramp en tempel aanbidding van die Ou Testament was voorbeelde en skaduwees van die hemelse dinge (Heb 8:5).  Christus het al hierdie dinge vervul.  Heb 8:6 sê: Hy is die Middelaar van ‘n beter verbond.  Om nou aan die skaduwee’s van die ou verbond vas te hou, beteken om Christus te verwerp, die Een wat dit vervul.  Daarom het die seremoniële wette geen plek in die Kerk nie.

Hierdie wette het na Christus toe gewys en nou het Hy gekom en daarom is julle nie onder die wet nie, maar onder die genade.  Hier is die antwoord in Gal 2:

Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie. 

Ons word nie deur die wet geregverdig nie

Dit wat Christenskap anders maak as enige ander godsdiens, is die feit dat daar geen sisteem van meriete is vir saligheid nie.  Die sentrale boodskap van saligheid is geloof, en nie die onderhouding van wette nie.

Die mens het twee struikelblokke: die eerste een is sy sonde en die tweede een is sy te kort aan meriete.  Ons maak skuld bymekaar elke keer as ons sondig en ware geregtigheid verlang dat elke sonde gestraf moet word.  Om ‘n boosdoener ongestraf te laat gaan is nie geregtigheid nie, maar ongeregtigheid.  God is geregtig om op grond van Sy perfekte standaard elke sonde te straf.

Nie net maak ons skuld bymekaar elke keer as ons sondig nie, maar ons mis ook die nodige meriete.  Al word ons rekening skoon gemaak kom ons steeds kort.  Om aanvaarbaar vir God te wees het ons die volle meriete nodig wat kom saam met perfekte gehoorsaamheid aan Sy wet. 

Vergifnis van sonde is nie genoeg nie.  Ons het steeds meriete van ‘n absolute perfekte geregtigheid nodig.  Vanuit ‘n menslike oogpunt is hierdie twee strukelblokke onmoontlik om te oorwin.  Dit is hoekom die dissipels hulle kommer uitspreek in:

Matt 19:25 Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word? 

Tog was daar mense in Paulus se tyd wat gedink het hulle kan hulleself regverdig deur so goed te lewe as moontlik.  Hulle het gedink dat hulle daardeur genoeg meriete sal opbou om God te vrede te stel.  Hulle wou hulle eie geregtigheid bewerk.

God is nie te vrede met enigiets minder as absolute perfekte geregtigheid nie.  Die standaard is te hoog vir enige mens.

Jak 2:10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. 

Die gevolgtrekking is dat geen mens deur die wet geregverdig kan word nie, want dit is onmoontlik.

Hand 13:39 en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie. 

Rom 4:15 Want die wet werk toorn;… 

Gal 3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. 

Jy maak ‘n groot fout as jy dink jy kan geregverdig word deur goed genoeg te lewe om om deur God aanvaar te word.  Dit is saligheid van werke en Paulus noem dit in Gal 1 ‘n ander evangelie wat vervloek moet word.

Wanneer Paulus dan praat van mense wat “onder die wet is”, praat hy van mense wat deur die werke van die wet geregverdig wil word.  En wanneer hy sê: “ons is nie onder die wet nie”, maar onder genade in Rom 6:14, verwerp hy nie morele leerstellinge van die wet nie.

Hy skiet nie die wet af nie.  Inteendeel sê hy in:

Rom 7:12 Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. 

Dit is baie duidelik.  Die wet kan jou nie red nie.  En wanneer Paulus sê: ons is nie onder die wet nie, beteken dit ons kan nie deur gehoorsaamheid aan die wet geregverdig word nie.  Ons is alleen geregverdig deur geloof, nie deur die werke van die wet nie.  Hy sê ast’ ware ons is nie meer onder die vloek van die wet nie.

Hoe regverdig God dan die goddelose?

Hoe kan ons dan geregverdig word?  Hoe kan God skuldige sondaars regverdig verklaar sonder om Sy standaard te verlaag of te vander?

Die antwoord lê in die werk wat Christus vir ons onthalwe gedoen het.  Gal 4:4 sê: Hy is gebore “onder die wet”.  Paulus sê dit nie net in die sin van dat Jesus ‘n Jood was en onder die wet was nie, maar Hy was ook verplig om die wet volmaak te vervul om daardeur geregtigheid te verdien.

Gal 4:5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. 

Christus was nie ‘n sondaar nie en het Hy het foutloos onder die wet gelewe.

Heb 4:15 Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 

1 Pet 2:22 Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; 

Jesus se volkome gehoorsaamheid aan die wet het Hom perfekte meriete by God laat verdien, dit wat nodig is om God te vrede te stel.  Omdat Christus volmaak en sonder sonde was, het Hy nie verdien om te sterf nie.  Hy het elke aspek van die wet vervul.

Nog steeds het Hy gesterf.  Nog meer het Hy die volle prys van God se straf op die kruis gedra.  Hoekom?  Want ons sonde was op Hom geplaas en Hy het die prys daarvoor betaal.  Nou kan die meriete van Sy volmaakte gehoorsaamheid op ons rekening aangebring word.

2 Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. 

Sy dood het met al ons skuld afgereken en Sy perfekte lewe voorsien ons van die nodige meriete om deur God aanvaar te word.  Dit is hoe God die twee struikelblokke uit die weg neem.

So bly God steeds regverdig en regverdig Hy die wat in Jesus glo.

Rom 4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. 

Hoe gevaarlik is wettiesisme?

Paulus noem wettiesisme ‘n “ander evangelie” en dit is wanneer iemand geregverdig wil word deur persoonlike gehoorsaamheid eerder as die geregtigheid wat deur Christus kom.  Paulus sê dit is juis dit wat gemaak het dat Israel Christus verwerp het.

Rom 10:3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. 

Hulle het weg gedraai van die volmaakte geregtigheid van Christus, en op hulle eie onvolmaakte geregtigheid staat gemaak.  Net soveel mense maak vandag dieselfde fout.  Hulle dink dat hulle goed genoeg kan wees vir God.

Hier is die goeie nuus van die evangelie: vir elkeen van glo, word Christus se bloed gereken as volle betaling vir al jou sondes, en Sy vervulling van die wet word gereken as al die meriete wat jy nodig het.

Rom 10:4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. 

Christus is die vervulling van alles wat die wet bedoel het.  In Christus word die doel van die wet, naamlik ‘n volmaakte geregtigheid, beskikbaar gemaak vir elke gelowige.  Sy geregtigheid word jou toegereken deur geloof en daarom aanvaar God jou in Christus.

Enige geregtigheid buite Christus se geregtigheid is wettiesisme.  Wettiesisme kan jou nie red nie.

Wat is die verskil tussen ‘n Christen se gehoorsaamheid en wettiesisme? 

Na alles wat ons gesê het, is dit nog steeds nodig vir die kind van God om gehoorsaam te wees?  Ja.  Jy is gehoorsaam, omdat jy reeds gered is en nie omdat jy gered wil word nie.  Dit is die verskil tussen gehoorsaamheid en wettiesisme.  Ons gehoorsaamheid word gemotiveer deur liefde vir die Here en verpligting teenoor die Here.

Ons is vry van die bedreiging van ‘n ewige verderf.

Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 

Ons is vry van die wet van sonde en dood, v2.  En dit is God se genade wat ons in staat stel om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.  Ons het al die rede om Hom met vreugde gehoorsaam te wees – en geen ware Christen sal ooit dink dat gehoorsaamheid is optioneel nie.

Ons is nie onder die wet nie, maar onder die genade.  Genade is nie ‘n lisensie om te doen net wat jy wil nie.  Ons gehoorsaamheid is gegrond in Christus en wat Hy vir ons gedoen het, en nie in onsself en wat ons vir God doen nie.

Ons is vry van die straf van die wet, losgemaak van die oordeel en bekragtig deur genade om gehoorsaam te wees.

Slot

Hand 5:32 En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. 


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288