Friday 15 February 2013

Kurios Doulos - Slaaf van die Here


1 Kor 7:22 Want die slaaf wat in die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, 'n slaaf van Christus. 

Hoe word die gelowige se verhouding met God die beste beskryf?  Wat is die mees omvattende definisie van ‘n Christen? KURIOS DOULOS!! In ons gelese gedeelte kry ons hierdie twee woorde. Nou wat beteken dit?  Kurios is die Griekse woord vir HERE en Doulos is SLAAF.  Maw die gelowige se verhouding word die beste opgesom: “hy is ‘n slaaf van die Here Jesus Christus”.

Ek wil hê ons moet stilstaan by dit, want dit is ‘n ongelooflike belangrike paradigma wat verlore gegaan het in die vertalings.  Die taal hiervan is met baie oordeelkunde vermy in die geskiedenis van die Engels sprekende kerk en die gevolg is dat dit regdeur die wêreld vermy word.

Dit gaan hieroor dat jy jouself in die groter prentjie moet sien as ‘n slaaf.  Die taal van kontemporêre Christenskap is baie mens gesentreerd.  Jy sal nooit hoor dat hulle sê, jy is ‘n slaaf nie.  Nee!  Vir hulle gaan dit oor vryheid, health, wealth en prosperity.  

En dan natuurlik sê hulle ook dat jy ‘n persoonlike verhouding met God moet hê.  Nou luister mooi!  Die duiwel het ook ‘n persoonlike verhouding met God, maar dit is nie baie goed nie.  Elke mens het ‘n persoonlike verhouding met God, want Hy is die God van almal, of tot redding of tot die verderf.  

Dit is so asof God ons God is om vir ons te doen dit wat ons wil hê.  Die taal van moderne evangelisme is die taal van persoonlike vervulling, om jou drome te ontdek, om jou doel te ontdek.  God wil hê dat jy alles moet wees wat jy kan wees.  Jesus wil hê jy moet healthy en wealthy wees.  Dit gaan alles oor persoonlike vervulling en geluk.  Ons hoor dit so baie.  Dit is alles mens gesentreerd.

Die taal van die Nuwe Testament verskil egter baie hiermee.  Die oorheersende prentjie wat gaskets word in die Nuwe Testament vir ‘n Christen is, “hy is ‘n slaaf”.  Die algemene woord is “doulos”. “Doulos” kom 130 keer voor in die Nuwe Testament.  Ander vorme van die woord soos “sun doulos” word nog 10 keer gebruik, die werkwoord vorm “douloo” word ook ‘n hele paar keer gebruik.

Omtrent so 150 keer kry jy ‘n sekere vorm van die woord “doulos”. En “doulos” beteken slaaf.  Dit beteken niks anders nie as slaaf.  Dit beteken nie dienskneg nie.  Dit beteken nie servant of bond-servant soos die Engels dit vertaal nie.  Dit het een betekenis en dit is slaaf.  Maar ons vertaling het dit egter anders vertaal.

Daar is vandag meer as 20 Nuwe Testamentiese vertalings in Engels, en daar is net een vertaling deur EJ Goodspeed, wat elke keer die woord “doulos” vertaal met slaaf, en dit is die “Goodspeed translation”.  Goodspeed was 15 jaar ‘n professor van Nuwe Testamentiese Grieks by die universiteit van Chicago.  Hy is die enigste een wat elke keer die woord “doulos” vertaal met “slaaf”.

Die vertalers van die “English Standard Version” sê dat hulle het lank gedebateer oor hierdie woord “doulos”, want hulle het almal geweet wat dit beteken, maar hulle het besluit om dit nie met slaaf te vertaal nie, omdat hierdie woord so slegte stigma aan hom het.  En wat nou eintlik gebeur het is dat die oorheersende en die belangrikste waarheid in die Nuwe Testament verduister is.

Daar is ten minste sewe ander woorde in die Nuwe Testament vir dienskneg met verskillende vorms, maar daar is net een woord vir slaaf en al die Engelse vertalings en ook ons Afrikaanse vertalings vermy dit net eenvoudig, behalwe dan nou die Goodspeed Translation.

Die rede waarom vertalers die woord “doulos” nie met slaaf wil vertaal nie, is omdat dit so ‘n slegte konnotasie het van slawerny, maar dit is ‘n vryheid wat die vertalers eenvoudig nie het nie, wanneer dit kom by met die Woord van God.

En wanneer “doulos” dan in die Bybel na ‘n spesifieke slaaf verwys, of wanneer die illustrasie gaan oor ‘n fisiese slaaf, dan word dit so vertaal in sekere vertalings, maar andersins word dit net eenvoudig vermy.

Kittel se verklaring van Griekse woorde, sê die volgende:  “All the words in the group with doulos root describe the status of a slave…the meaning is unequivocal and self-contained…”  En wanneer hy hierdie woord beskryf dan sê hy, “(it is) a service which is not a matter of choice for the one who renders it, which he has to perform whether he likes it or not. It describes one’s subject totally to an alien will, the will of the owner and his utter dependence on his master.”

Maw, “doulos” beskryf iemand wat in iemand anders se diens staan, en hy is totaal en al onderworpe aan die wil van sy eienaar en totaal en al afhanklik van sy heer.

En wanneer jy die Bybel lees met die woord slaaf elke keer as jy die Griekse woord “doulos” kry, dan kry jy heeltemal ‘n ander prentjie van ons verhouding met Christus.  Ja, jy het ‘n persoonlike verhouding met Christus, maar dit word so beskryf, Hy is jou Heer, jy is Sy slaaf.  Hy is KURIOS, jy is DOULOS.

Wanneer jy dan na die Grieks Romeinse wêreld toe gaan van die Nuwe Testament en jy gebruik die woord “doulos”, dan het die mense presies geweet waarvan jy praat.  Jesus en die apostels gebruik hierdie woord in die midde van ‘n wêreld waar 10 tot 12 mijoen slawe was.  Jy het van die edelmoedige en liefdevolle en getroue here gekry tot die ergste en verskriklikste mishandelaars.

Hierdie mense het nie ‘n vae idee gehad wat ‘n slaaf is nie, hulle het presies geweet wat ‘n slaaf is.  

Nou vir die Grieke en die belangrike persone en die publiek was vryheid die toppunt van die lewe.  Persoonlike respek was gekoppel aan vryheid.  Vir hulle was ‘n slaaf die laagste sosiale status wat daar was.  

Jy het geen vryheid gehad nie, jy het geen eiendom besit nie, jy het geen regte gehad nie, jy kon nie doen wat jy wou nie, jy het geen toegang tot die howe gehad nie, jy het geen burgerskap gehad nie, jy kon nie in militêre diens staan nie, jy kon nie ‘n slegte taak vermy nie, jy was totaal en al afhanklik van die een wat jou besit vir beskerming en alle voorsiening.

Die Grieke het geen respek vir slawerny gehad nie.  Jy sal dit nooit kry dat hulle in hulle taal na hul verhouding met hul gode verwys het as “doulos” nie.  Wanneer die Grieke verwys na hul verhouding met die gode, verwys hulle altyd na “philos”, vriend.  Nooit het die Grieke hulleself gesien in hul verhouding met hul gode anders as ‘n vriend nie, beslis nie ‘n slaaf nie.  Die idee van slawerny was eenvoudig heeltemal onsmaaklik.

So hier het ons die Christen kerk met ‘n taak wat so lyk:  

Gaan uit en wen mense wat geestelik dood en blind is, gaan preek die evangelie aan die natuurlike mens wat dit nie kan verstaan nie, in wie die god van hierdie wêreld hulle sinne verblind het wie dood is in hulle misdade.  En om ons te help met hierdie onmoontlike taak, is hierdie boodskap vir die Jode ‘n struikelblok en vir die Grieke dwaasheid.  En bo dit alles, moet jy hulle vra om ‘n slaaf te word.

Menslik gesproke lyk dit soos ‘n onmoontlike taak.  Maar dit is presies waarna die evangelie mense toe roep.  Ons vra nie mense om net Jesus in hulle lewens toe te laat, sodat Hy hulle kan maak dit wat hulle wil wees nie.  Ons vra hulle om slawe te word.  Ons praat met die dooies en die blindes oor die dwaasheid van die kruis en vra hulle om slawe te word.  Die Nuwe Testament roep mense tot slawe.

Slaaf vs Dienskneg

Wat is die verskil tussen ‘n slaaf en ‘n dienskeg?  ‘n Dienskneg werk vir ‘n salaris, ‘n slaaf word besit…daar is ‘n groot verskil.  Diensknegte was gehuur om te werk vir ‘n salaris en wanneer die werk gedoen is, dan gaan hulle op hulle eie weg.  

Slawe was besit en kon nie bedank nie.  As hulle probeer het om te bedank, was hulle gearresteer, somtyds doodgemaak, sodat die ander slawe kon vrees, of op hulle voorhoof was gestempel, “fugitivus", sodat hulle die res van hulle lewe uitgeken kon word as ‘n vlugteling.

Ons kry dan ook die verhaal van ‘n slaaf wat weggehardloop het in die boek Filemon in die Nuwe Testament.  Paulus bemoedig Onesimus, die slaaf, om terug te gaan na sy heer omdat dit die regte ding is om te doen en bemoedig Filemon om hom met liefde te behandel en hom te vergewe.

Te midde van hierdie realiteit van slawerny, en omdat dit ‘n slegte smaak in die mond los, het die vertalers van die Nuwe Testament besluit om die woord slaaf te vermy.

Hoe het Paulus homself gesien?  Kyk na Rom 1:1 maar ons sal die regte woord daarin moet sit.

Rom 1:1 Paulus, 'n…wat?... SLAAF van Jesus Christus…

Dit is die eerste ding waarmee hy homself identifiseer.  Daarna, “'n geroepe apostel.”  Maar hy begin deur te sê, “Ek is ‘n slaaf.”  Dit is verregaande.  Geen mens wat eer of waardigheid of respek in die samelewing gesoek het, sou ooit so begin het nie.  ‘n Mens sou dit nooit gedoen het nie.  Jy kanselleer elke moontlike geleentheid uit om ‘n invloed te hê op die wêreld

Fil 1:1 Paulus en Timótheüs, …wat?  SLAWE van Jesus Christus… 

Dis maligheid.  ‘n Slaaf van Christus, ‘n gekruisigde krimineel?  Jy het net eenvoudig nie ‘n gekruisigde krimineel aanbid nie.

Gal 1:10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie 'n SLAAF van Christus wees nie. 

Paulus het presies geweet wat die woord “doulos” beteken.  Hy wil net dit doen wat sy Heer behaag.  Dit kom alles een ding neer: doen wat Hy sê, en doen wat Hom welbehaaglik is.  So eenvoudig soos dit.  Dit is wat ‘n slaaf doen.  Daar is net twee moontlikhede.  

Wanneer jy ‘n direkte opdrag ontvang, dan doen jy dit.  Wanneer jy nie ‘n direkte opdrag kry nie, dan vind jy ‘n manier om iets te doen wat Hom behaag.  Jy het Hom gehoorsaam en jy het Hom behaag.

Dieselfde ding in Tit 1:1.  Kyk wat sê Jakobus, 

Jak 1:1 Jakobus, 'n SLAAF van God en die Here Jesus Christus…

Hy sê nie, Jakobus, half-broer van Jesus nie.  Hy verhoog homself nie.  Hy sê, ek is slaaf van God en die Here Jesus Christus.  Dit is ook hoekom hy in 4:15 sê,

15 In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. 

En dit is die taal van ‘n slaaf.  As die Here wil… Ek is onderworpe aan Sy wil.  

Kyk wat sê Petrus,

2 Pet 1:1 Simeon Petrus, 'n SLAAF en apostel van Jesus Christus…

Kyk wat sê Judas, 

Jud 1:1 Judas, 'n SLAAF van Jesus Christus…

En hierdie is almal die skrywers van die Nuwe Testament.  En hierdie is die hoogste en die beste.  Hulle sien hulleself as “doulos”, slaaf.

Johannes noem homself ‘n SLAAF.  Kyk na die boek Openbaring,

Op 1:1 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy SLAWE te toon wat gou moet gebeur…

Al die gelowiges aan wie die boek Openbaring geskryf is, is slawe.  En dit is verregaande, vir hulle wat sê dat hulle die lewende en waaragtige God verteenwoordig en wat die grootste boodskap in die geskiedenis van die wêreld het, hulle wat die Woord van God verkondig, om hulleself te identifiseer op so manier wat feitlik enige invloed kanselleer in die samelewing.  Hulle het hulleself gesien as SLAWE.  

Kyk na Open 7, ons het hier die 144 000 Jode in die middel van die groot verdrukking, en die Here verseël hulle en gebruik hulle vir die verkondiging van die evangelie, maar v3 sê, 

Op 7:3 … Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die SLAWE van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie. 

Op 10:7 maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy SLAWE, die profete. 

So die profete is slawe, die apostels is slawe, die 144 000 is slawe, ons is slawe en so gaan dit aan.  Kyk na Op 19,

Op 19:2 Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy SLAWE op haar gewreek. 

Jy kan al die pad gaan tot in die toekoms van die groot verdrukking en God se mense bly steeds slawe.  Hulle gaan altyd slawe wees.  Selfs in die hemel.

Op 19:5 En 'n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy SLAWE, en julle wat Hom vrees, klein en groot! 

Almal wat Hom vrees is ‘n slaaf in die hemel

Op 22:3 En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy SLAWE sal Hom dien. 

Op 22:6 En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy SLAWE te toon wat gou moet gebeur. 

En dit is ‘n herhaling van 1:1.  Ons is slawe.  Jy sal nooit jou rol verstaan as Christen as jy nie verstaan dat jy ‘n slaaf is nie.  

Wat beteken dit om ‘n slaaf te wees?  Eerstens beteken dit eksklusiewe eienaarskap. ‘n Dienskneg word gehuur en kan bedank en wegloop.  ‘n Slaaf word besit en kan nie bedank en wegloop nie, dit is eksklusiewe eienaarskap, want hy word gekoop met ‘n prys.  Klink dit nie soos die Nuwe Testamentiese taal nie?  

‘n Slaaf word gekoop en ons geval is ons gekoop met die kosbare bloed van Jesus Christus.  Jy word dan eksklusief besit, en geen slaaf kan twee here dien nie, dit is onmoontlik.  Jy kan nie deur twee persone besit word wat totale beheer oor jou het nie.  Dit is al hoe jy daardie uitdrukking kan verstaan.  

Tweedens is jy geheel en al en die hele tyd beskikbaar en gehoorsaam.  Ons is in ‘n posisie waar ons geheel en al en die hele tyd beskikbaar is en gehoorsaam is tot ons Heer, sodat ons kan sê, “Nie my wil nie, maar U wil geskied”.  Ons het geen ander here wat ons gehoorsaam nie en dit is wat die Nuwe Testament sê, jy kan nie God en Mamon dien nie.  Jy kan nie God dien en ander dinge ook nie.

Derdens is jy onderworpe aan iemand anders se wil.  Jy is nie in beheer nie.  Jy doen wat vir jou gesê word om te doen.  ‘n Dienskneg kan twee werkgewers hê en vir twee base werk, maar ‘n slaaf kan nie twee here hê nie.  

Vierdens beteken dit dat ‘n slaaf afhanklik is van sy heer vir sy beskerming en voorsiening.  Hy is totaal afhanklik van sy heer.  En dit is presies wat Christenskap is.  Ons beskerming en voorsiening kom van Hom alleen af.  Al ons dissipline en vergoeding kom ook van Hom af.  

Die heer besluit hoe sy slaaf dissiplineer en vergoed.  En dit is hoe Christenskap uitgebeeld word.  Ons word gekoop, ons word besit, ons is geheel en al beskikbaar om te doen wat Hy vir ons sê om te doen, ons is afhanklik van Hom om aan ons te voorsien en ons te beskerm, en die finale dissiplinering en vergoeding is in Sy hande.

Die slaaf is iemand wie se lewe en diens totaal aan iemand anders behoort, absolute eienaarskap, absolute beheer, absolute onderwerping, absolute gehoorsaamheid, absolute lojaliteit, absolute afhanklikheid.

Ons verhouding met God word uitgebeeld met hierdie twee woorde, “kurios doulos”.  Hy is ons Here, ons is Sy slawe.

Jy moet hierdie idee vasgryp.  Hierdie paradigma, hierdie idee of hierdie beeld het vervaag met die vertalings, maar dit is nodig dat ons onsself so sal sien.  Wel, dit vat ons nogals baie laag, doen dit nie?  En as jy dink dit is laag, kom ek help julle so bietjie.

Fil 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. 
6 Hy, wat in die gestalte (morphe – vorm) van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 
7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n SLAAF aan te neem…

‘n Slaaf…totale onderwerping, totale gehoorsaamheid…Ek doen net wat die Vader vir My sê om te doen, Ek doen net wat die Vader wil, Ek doen net dit wat die Vader plesier gee…dit is slawerny.  En Sy slawerny het Hom ontledig tot die gelykheid van ‘n mens, laag deur gehoorsaamheid tot by die dood, selfs die dood van die kruis.  Nee!  Dit was nie benede Sy waardigheid nie en, Nee! Dit is nie benede jou waardigheid om ‘n slaaf te wees nie.

Wat ons ook moet sê hieroor is, Hy is ‘n slaaf wat ‘n Heer geword het.  Luister!  Daar is nie so iets soos ‘n “doulos” sonder ‘n “kurios” nie.  En daar is nie so iets soos ‘n “kurios” sonder ‘n “doulos” nie.  Jy is nie die heer van niemand nie.  As jy nie slawe het nie, is jy nie ‘n heer nie.  En as jy slawe het, is jy die heer.  Jy kan nie sê, Jesus is jou Here, maar jy is nie sy slaaf nie.

Nou.  Die Bybel beveel nie slawerny aan nie.  Die Bybel veroordeel ook nie slawerny nie.  Die Bybel sê vir mense wat in ‘n slaaf en heer verhouding staan om goddelik op te tree en die beste daarvan te maak.  Vir sommige mense was dit ‘n wonderlike manier hoe om te leef, want dit het baie voordele ingehou.  Al hulle behoeftes was vervul.  Dit was vir al goed vir mense wat nie vir hulleself kon voorsien en beskerm nie.  

Die Bybel veroordeel egter nie slawerny nie en praat dit ook nie goed nie.  Die Bybel vind egter die perfekte model daarin van hoe die Christen sy verhouding met God moet verstaan…jy is ‘n slaaf.

En dan, wanneer ons aan die einde kom, wanneer ons alles gedoen het wat ons veronderstel was om te doen, dan sê Luk 17:10, “Ons is onverdienstelike slawe”.  Nou, as Jesus ‘n slaaf was, en Paulus ‘n slaaf was, dan is ons ook slawe.

Slot 

Nou daar is soveel om nog daaroor te sê, maar ek wil jou iets vertel van jou Heer.  Hy maak Sy slawe seuns en nie net maak Hy hulle seuns nie, maar Hy maak hulle mede-erfgename van alles wat Hy besit.  Nie net maak Hy hulle erfgename nie, maar Hy laat Sy slawe sit op Sy troon saam met Hom.  En nie net dit nie, maar wanneer ons Hom sien van aangesig tot aangesig en sit by Sy groot feesmaaltyd, sal Hy Homself omgord en ons bedien.

Dit is die God wat ek en jy aanbid.  Ek wil ‘n slaaf wees van so Here.  Ek is ‘n slaaf van so Here.  Ek dink net ons moet dit verstaan, want as ‘n Christen en ‘n dienaar, moet ek hierdie taak vervul as ‘n slaaf om net dit te doen wat my Here vir my sê ek moet doen.  Nie om mense se guns te soek nie, maar om Hom te behaag.

Dit is my ambisie om te doen wat Hom welgevallig is, om verder te gaan, meer te doen as die minimum, nie net om vir sekere dinge te leef nie, maar ook in die onduidelike areas, om so hard as moontlik te probeer om te doen wat Hom behaag.

Is jy ‘n slaaf van Christus?  Is Hy jou KURIOS en jy Sy DOULOS?

Kol 3:22 Diensknegte (SLAWE), julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees. 
23 En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, 
24 omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien (DOULEUETE) die Here (KURIO) Christus. 

Douleuete – letterlik “ye are slaving”.  Afrikaans het nie ‘n woord vir “slaving” nie.  Dit word vertaal met “dien”.  Maar daar staan in werklikheid, wanneer dit sê julle dien die Here, dan sê dit, YE ARE SLAVING FOR THE LORD CHRIST.  Julle doen slawe werk vir die Here.

Is jy ‘n slaaf van Christus?

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288