Wednesday 13 February 2013

Om God lief te hê


Mar 12:28 En toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal? 
29 En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; 
30 en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. 
31 En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie. 
32 En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; 
33 en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. 
34 Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie. 

Die tema  van hierdie gedeelte is dan, “om God lief te hê”.  Dit is die fondasie van ‘n geestelike lewe.  Liefde vir God is die begin van ware geestelike liefde.  Nou het ons God onvolkome lief.  Eendag sal ons Hom volkome liefhê.  

As gelowiges poog ons om die bevel, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele verstand, om hierdie bevel te gehoorsaam, maar ons slaag nie volkome daarin nie.  Daarom verlang ons om eendag in Sy teenwoordigheid Hom volkome lief te hê.

Om God lief te hê is die begin en die einde van ons verhouding met God.  Dit is wat dit beteken om ‘n Christen te wees, om God lief te hê.  Dit is wie ons is.  Ons het die Een ware God lief.  So as iemand sou vra, wat beteken dit om ‘n gelowige te wees?  Wat beteken dit om ‘n Christen te wees?  Beteken dit eenvoudig, dit is iemand wat die Here liefhêt.

En al het ons Hom nie nou volkome lief nie, is dit ons begeerte en wil ons Hom graag volkome liefhê en verlang ons daarna dat ons liefde vir Hom volkome sal wees in die heerlikheid wat vir ons voorlê.  Dit gaan alles oor ‘n verhouding met God.

Hierdie opdrag, om God lief te hê, is dan ook ‘n universiële opdrag aan elke mens en dat enigiemand wat hierdie opdrag ongehoorsaam is, die rede sal wees waarom die hel verewig oorvol sal wees.  Die wêreld was nog altyd vol mense wat weier om God lief te hê.

Hierdie is die groot volkome opdrag en ongehoosaamheid bring mee goddelike en ewige oordeel en straf.  Niks is belangrikger en meer krities as hierdie opdrag nie.  

Dit is Woensdag gedurende die paasweek.  Die vorige dag het Hy die handelaars uit die tempel gegooi.  In Joh 2 het dit ook gedoen in die begin van Sy bediening.  Die Sanhedrin besluit om vir Hom ‘n lokval te stel.  Hulle almal wil van Hom ontslae raak.  Die Fariseërs, Sadduseërs en Skrifgeleerdes.

Jesus was besig om hulle bloot te stel as afvalliges, geveinsdes, geestelike bedriërs en fakes.  Hulle wil in beheer wees, hulle wil hê die mense moet hulle volg.  Maar nou word hulle mag en posisies bedreig, so hulle wil van Hom ontslae raak.  Hulle wil Hom dood hê.

Hulle kan egter nie net gaan en Hom doodmaak nie, anders sal die skare teen hulle draai.  So hulle beraam ‘n bose plan.  Eers was dit die Fariseërs saam met die Herodiane wat vir Hom ‘n strikvraag stel, sodat Hy soos ‘n rebel sou lyk vir die Romeine en hulle Hom sou arresteer.  Dit het nie gewerk nie.

Die Sadduseërs kom toe en wou Hom soos dwaas laat lyk voor die mense, sodat die mens teen Hom sou draai.  Hulle vra Hom toe oor die opstanding, maar Jesus wys dat hulle eintlik dwaas is.  So hulle plan het nie gewerk nie.

Nou kom die Skrifgeleerdes.  Maar voor dit kom die Sanhedrin eers weer bymekaar.  Kom ons kyk eers gou Matt 22:34,

Matt 22:34 En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader. 

Nou hierdie is die vervulling van ‘n profesie in Psalm 2,

Psa 2:2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde... 

Hoe weet ons dat hierdie psalm nou net vervul is in Matt 22:34?  Ons weet dit as ons kyk na Hand 4. Hier kry ons vir Petrus en Johannes en die apostels wat gearresteer was en wat nou in v23 vrygelaat word.

Hand 4:23 En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. 
24 En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, 
25 wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? 
26 (dan haal hulle Psalm 2:2 aan en sê) Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. 

So ons weet dat Psalm 2 verwys na Christus.  Hulle het teen Hom vergader.  Dit verwys na die Sanhedrin.

Hand 4:27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 
28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. 

Alles wat gebeur het was volgens God se raad en plan.  Dit was reeds vooruit bepaal.  Hulle was besig om die profesieë te vervul sonder dat hulle dit besef.  En vanuit hierdie vergadering kom hulle finale poging om van Jesus ontslae te raak.  Hulle wil hê die mense moet teen Hom draai.

Mar 12:28 En toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal? 

Matt 22:35 sê dat hy vir Jesus ‘n vraag gestel het om Hom te versoek.  Hy soek nie informasie nie.  Hy probeer om Jesus te versoek.  Hy probeer om vir Hom ‘n lokval te stel en hulle almal hoop dat Hy iets verkeerd sal sê.  Hy vra vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal?

Nou wonder ‘n ou, hoekom sou hy hierdie vraag vra?  Dit klink soos ‘n onskuldige vraag.  Dit klink nie of hierdie vraag enige verband hou met iets spesifieks nie.  Watse lokval is hierdie vraag?  Wel, die antwoord is eintlik eenvoudig.  

Die Fariseërs het gedink dat die evangelie wat Jesus gepreek het in teenstelling was met die leringe van die Wet.  Inteendeel was dit hulle argument teen Jesus.  Hulle sê Hy praat teen die Wet.  Hulle het dieselfde oor Paulus gesê en ook die apostels.

Nou die Fariseërs het die Ou Testament gevat saam met al hulle interpretasies daarvan en al die tradisies waarmee hulle groot geword het.  Dit was hulle wet.  Die Sadduseërs het net die eerste vyf boeke gevat, die boeke van Moses.  So die Fariseërs en die Sadduseërs het nie saamgestem oor wat die Wet van God is nie, maar hulle het wel saamgestem oor Moses se geskrifte, Gen, Ex, Lev, Num, Deut.  Daaroor het hulle saamgestem.

So waaroor stem hulle nog saam?  Oor die grootste en die belangrikste wet en hulle hoop dat Jesus iets anders sal sê wat nie in die wet van Moses is nie.  So dit is die rede waarom die Skrifgeleerdes vir Jesus hierdie vraag vra.

So dit is die lokval.  Hulle is so seker daarvan dat Jesus iets sal sê wat nie in die wet van Moses staan nie en dat Hy teen Moses is, dat Hy anti-Judaïsme is, anti-Moses.  Dat Hy van hoër gesag is as Moses.  En as Hy Homself verhef bo Moses, dan sal die mense teen Hom draai.  So dit is hulle plan.

Nou hoekom was Moses so belangrik?  Wel, as jy die Ou Testament ken, sal jy weet dat Moses ‘n unieke ervaring met God gehad het.  Hy alleen het God van aangesig tot aangesig gesien.  Dit het ook nie daar begin nie.  Dit het begin by die brandende bos toe God persoonlik direk met Hom gepraat het.

Toe Moses van die berg af kom, het sy gesig geskyn van die heerlikheid van God.  God het aan hom die 10 gebooie gegee.  En die Rabbi’s het gedink dat Moses is die grootste en niemand groter as hy is nie.  Niemand was nader aan God as Moses nie.

So as Jesus enige lering bo die van Moses verhef, so almal Hom verwerp as die Messias.  Dit is hoekom hulle hierdie vraag vra: “Wat is die eerste gebod van almal?”  Nou volgens Matt 22:34, wat praat van dieselfde gebeure, begin weer met, “Meester”.  En ons Here se antwoord is altyd die perfekte en regte antwoord.  Hy onderstreep net die waarheid van God, soos Moses dit oorgedra het.

Mar 12:29 En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; 
30 en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. 
31 En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie. 

Is dit die antwoord wat hulle verwag het?  Nee!  Is dit die regte antwoord?  Ja!  

Mar 12:32 En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie.

So in ‘n sekere sin klink dit of hy bly is daaroor en klink dit of hy objektief is, maar aan die ander kant het hy dit nie verwag nie en gaan hy ook nie slaag in sy doel om vir Jesus ‘n lokval te stel nie. 

Kom ons gaan gou na Deut 6 en kyk gou daarna.  Moses is so 120 jaar oud en aan die einde van sy lewe.  En hy praat basies die laaste keer met volk Israel.  Die vorige 40 jaar was hy in die wildernis.  Hy het Israel gelei orals in die wildernis tussen Egipte en die beloofde land.  ‘n Reistog wat eintlik net ‘n paar dae sou geneem het.

Dit het so lank geneem omdat hulle ongehoorsaam was en ongelowig.  Hulle almal het toe in die wildernis gesterf.  Hierdie 40 jaar is verby en Deuternomium is die boodskap van Moses aan die mense wat die land binne gaan.  Deuternomium gebeur in een maand.  Dit is nie ‘n lang periode nie.  Dit gebeur op een plek.  Net verby die Jordaan oorkant Jerigo.

Deuternomium beteken dan ook die tweede wet.  Dit is wat dit in Latyns beteken.  Moses maak die volk bymekaar en gee vir hulle ‘n reeks boodskappe net voordat hulle die beloofde land sou ingaan.  So paar verse terug na Deut 5

Deu 5:32 Sorg dan dat julle doen soos die HERE julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie. 

En so gaan dit reg deur die boek.  Doen wat God julle beveel het.  Dit word oor en oor herhaal.  Daar is dan ook implikasies en gevolge vir gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid.  So dit is ‘n oproep tot gehoorsaamheid.

Deu 6:1 Dit is dan die gebod, die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem; 

God sê, julle moet oortrek in die land en julle moet die Woord van God gehoorsaam, jy en jou kinders en jou kinders se kinders ens.

Deu 6:3 Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en dat julle baie kan vermenigvuldig soos die HERE die God van jou vaders jou beloof het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. 

Dit is ‘n oproep tot gehoorsaamheid en dit word regdeur die boek oor en oor herhaal.  As jy dit doen sal dit goed gaan.  Jy sal geseënd wees.  Jy sal voorspoedig wees en God sal jou vyande vernietig.  Dit is die tema regdeur die boek.

Maar waar lê die motivering hiervan?  V4 & 5,

Deu 6:4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. 
5 Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. 

Dit word genoem ‘n SHEMA, want die eerste woord HOOR is die woord SHEMA.  Hoor Israel, die Here onse God is ‘n enige God, en hier is die motivering, jy moet die Here jou God liedhê.  Maw jy sal nooit gehoorsaam kan wees en God se opdagte kan uitvoer as jy Hom nie liefhet met jou hele hart, jou hele siel en met al jou krag nie.

Hierdie gehoorsaamheid is nie ‘n uiterlik ding nie, dit is ‘n innerlike ding.  Dit wat jou dryf tot gehoorsaamheid is liefde vir God.

Wat beteken dit om die Here jou God lief te hê met jou hele hart...?  Wat is hierdie hart waarvan dit praat?  Die Bybelse definisie en dan vir die Jood is die hart die plek van begrip en verstand.  Dit is die beheersentrum van jou hele wese.  Dit is die kern van jou wese.

Jy moet God liefhê met die diepste van jou wese.  Dit is jou hart.  Die siel het te doen met jou emosies.  Dit was Jesus wat gesê het in Matt 26:38, 

Matt 26:38 ...My siel is diep bedroef tot die dood toe...

Hy het gepraat van Sy siel as die plek van emosies.  Verstand kan die beste gesien word as die wil van die mens.  Jou intensies.  So jy moet God liefhê met alles wat jy is.  En daarom voeg Jesus by in Mark 12, en uit jou hele krag.

Kom ons kyk net gou weer na Deut want dit is belangrik en so basies, en dit is hoekom die Skrifgeleerde vir Jesus gesê het, Goed Meester, U het met waarheid gesê.

Deu 11:13 As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die HERE julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, 
14 dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel. 

Deu 11:22 Want as julle ywerig al hierdie gebooie hou wat ek julle beveel, om dit te doen deur die HERE julle God lief te hê, in al sy weë te wandel en Hom aan te hang, 
23 dan sal die HERE al hierdie nasies voor julle uit verdrywe, en julle sal groter en magtiger nasies as julle uit hulle besitting verdrywe. 
Deu 13:1 As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 
2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, 
3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. 

So gaan dit regdeur die boek.  Ook Joshua.  Wanneer hy ‘n geleentheid kry om iets te sê, dan sê hy ook dieselfde ding.  Hy het Moses gehoor en verstaan en nou roep hy ook die mense om dieselfde te doen, om God lief te hê.

Paulus sê ons liefde moet meer en meer oorvloediger raak in alle kennis.  En ek dink ons liefde vir God is gekoppel aan ons kennis van God.  Hoe meer ons Hom ken, hoe meer is daar om lief te hê.

Die waarheid egter is dat die Fariseërs en Sadduseërs en Skrifgeleerdes en die leiers van Israel was nie naby dit nie.  En hierdie opdrag is nie ‘n opdrag wat ‘n mens verkeerd moet hê nie.  Dit is nie dat hulle dit nie geweet het nie.  Dit is net dat hulle dit nie op hulle eie kon doen nie.

Hierdie opdrag is ‘n opdrag wat jy nie op jou eie kan doen nie.  Die Fariseërs het nie belangestel om die vermoë te hê om dit te doen nie.  Hulle was ‘n klomp geveinsdes.  Hulle het Hom drie vra gevra.  Die eerste was die Fariseërs, tweede was die Sadduseërs en dan die Skrifgeleerdes.

Maar Jesus draai dit om.  En in Matt 23 sien ons Hy verwerp hulle.  Wee julle Fariseërs en Skrifgeleerdes.  Wee julle geveinsdes.  Julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense.

Wee julle wat tiendes van kruisement gee en asyn en koljander en die swaarste van die wet laat julle na, Matt 23:23.  Julle vergeet die belangrikste van alles.  Julle doen al die uiterlike dinge, maar julle het vergeet van die innerlike.  Jy moet God liefhê.  En hulle het nooit op daardie plek gekom nie.

Hulle het hulleself en hulle geld liefgehad.  Hulle is wit gepleisterde grafte.  Lyk mooi aan die buitekant, maar dood aan die binnekant.  Lyk soos regverdiges aan die buitekant, maar aan die binnekant is hulle vol van geveinsdheid.

Matt 23:25 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. 

Hulle vra vir Jesus wat is die grootste van die wet en Jesus moet op die ou einde vir hulle wys dat hulle nie eers doen wat die wet verlang nie.  Hulle doen nie eers wat Moses geleer het nie.

Hier is die groot waarheid: Daar is net twee tipe mense op hierdie aardbol.  Die wat God liefhet en die wat God haat.  Gelowiges word beskryf as liefhebbers van God.  En ongelowiges as mense wat God haat.

Psa 69:36 En die nageslag van sy knegte sal dit beërwe, en die liefhebbers van sy Naam sal daarin woon. 

Psa 97:10 o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose. 

Dit is hoe ons beskryf word.  Dit is wat ons gelowiges maak.  Mense wat God liefhet.

1 Kor 8:3 Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken. 

Die teendeel is ook waar,

1 Kor 16:22 As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ‘n vervloeking wees! Maranáta! 

Tweedens moet ons ons naaste liefhê soos onsself.  En daar is baie wat hierdie gebruik en sê, jy moet jouself meer liefhê.  Jy moet aan jouself verhouding werk.  Is dit so?  Nee!  Jy het reeds jouself lief.  Jy hoef nie te leer om jouself lief te hê nie.  Jy doen dit klaar.  Ons hele lewe gaan oor om vir onsself te sorg.  Wat Jesus sê is, jy moet so maak met ander.  

Dit is nie ‘n oproep tot selfliefde nie.  Dit is ‘n oproep om ander lief te hê soos jy alreeds jouself liefhet.  Jy moet jou naaste liefhê.  En aan hierdie twee gebooie hang die hele wet.  Die 10 gebooie is hieraan verbind.  Die eerste vier gebooie gaan oor om God lief te hê.  Die laaste vyf gaan oor jou naaste.

Die Farisëers en Skrifgeleerdes het nie dit gedoen nie.  Hull het ander mense as arm en swak gesien en op hulle neergesien.  Hulle geen respek vir hulle gehad nie.  Die Fariseërs het nie eers saam met nie-fariseërs geëet nie.  Hulle godsdiens was fake en korrup.

Die Skrifgeleerde kan nie met Jesus stry nie, want Hy is reg.

Mar 12:33 en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. 
34 Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie. 

Jy is nie ver nie, maar dit is nie genoeg nie.  So naby, maar tog so ver.  Naby want hy verstaan dit is ‘n innerlike saak, maar ver want Hy het nie Jesus geken en geweet dat daar net een weg is tot God nie.  Geloof in Jesus Christus en Sy dood en opstanding.

Die Sanhedrin se lokvalle het misluk, om die mense teen Jesus te draai.  Vir nou, ja.  Maar later die week het die Jode uitgeroep, kruisig Hom.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288