Monday 25 February 2013

Die skoene van die evangelie van vrede


Ef 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 
14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 
15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 
16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 
17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Ek en jy is in ‘n geestelike oorlog gewikkel en die duiwel en sy bose magte is ons vyand.  God het ons geroep en ons afgesonder om heilig te leef.  ‘n Lewe wat Hom verheerlik.  Ons is anders as die wêreld.  Maar aan die ander kant gaan die duiwel alles probeer om ons te verhinder om so te leef soos wat God wil hê ons moet leef.  En dit is elke gelowige se geestelike oorlog.

En hierdie oorlog het begin die dag toe jy wedergebore is.  Selfs voor jy gered was, was daar reeds ‘n aanval op die verkondiging van die Woord aan jou.  Jesus sê,

Matt 13:19 As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is. 

So die duiwel wil die saad wat gesaai kom steel, sodat niemand kan reageer op die boodskap nie.  En wanneer ons ‘n gelowige word en ons nog baba Christene is, gooi hy ons met ‘n klomp valse leringe, sodat ons moet rond val.  Dit is hoekom Paulus die volgende sê,

Ef 4:13 totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 
14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; 
15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus. 

So hy gaan alles probeer om jou te keer om op te groei in Christus.  En as jy onthou, het Satan alles probeer om Jesus dood te maak.  In die Handelinge boek het hy die kerk wat die boodskap van Jesus verkondig het teëgestaan.

Paulus het sy sendingreis begin om die evangelie aan die wêreld te gaan verkondig en hy het te doen gekry met towenaars en demoon besete mense wat probeer om sy pogings te stuit.  Petrus het teenkanting gekry en daar was vervolging.  Die Sanhedrin het probeer om die kerk stil te maak.  En regdeur die Nuwe Testament het die Satan die evangelie teëgestaan.

So ook deur die geskiedenis van die kerk.  Christene wat gemartel en doodgemaak is, die wat die Here liefgehad het.  Die wat die evangelie van Jesus Christus verkondig het.  En die duiwel probeer steeds die werk van die Here keer.  Hy is teen alles wat God doen.

Jesus openbaar die waarheid, Joh 1:17 sê, die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.  Die duiwel wil dit wegsteek en verdraai.  Joh 8:44 sê, hy is ‘n leuenaar en die vader van leuens.  Jesus openbaar die waarheid, die Satan steek dit weg en verdraai dit.

Joh 5:21 sê dat Jesus gee lewe.  En Satan vlg Joh 8:44, is die mensemoordenaar.  Heb 2:14 sê, die duiwel het mag oor die dood.  So Jesus kom gee lewe, en die duiwel kom neem lewe.  Jesus bring geestelike vrug in ons lewens voort, vlg Gal 5:22, maar die duiwel bring die werke van die vlees in ons lewens voort.

Jesus toets ons, sodat ons kan groei tot volmaaktheid, waar die Satan ons versoek om ons te vernietig.  Petrus sê, hy loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.  In Joh 8:31&32 sien ons dat Jesus maak jou vry.  In 2 Tim 2:26 sien ons dat die duiwel wil mense slawe maak.  

Vlg 1 Joh 2:1, as die gelowige sondig dan verdedig Jesus ons by die Vader.  Maar vlg Op 12:10 sien ons die duiwel kla ons aan.  Jesus is ons Voorspraak, die duiwel is ons aanklaer.

So in die gelowige se lewe is hierdie geestelike stryd die hele tyd aan die gang.  En hoe gaan ons hierdie oorlog wen?  Hoe gaan ons op die plek kom waartoe God ons geroep het en waar ons lewens afgesonderd en heilig is wat Hom verheerlik?  Hoe gaan ons staande bly teen die duiwel se aanvalle?  

Daar is net een manier, en dit is God se manier.  En dit word vir ons duidelik in die Bybel uitgespel.  Daar is ander wat sê jy moet allerhande rituele volg of hulle het ‘n klomp formules oor hoe om met die duiwel af te reken.  Maar dit gaan jou niks help nie.  Doen wat die Bybel sê.

Hier is so vyf beginsels om die vyand te oorwin:

1. Besef dat Christus reeds met Satan afgereken het.

1 Joh 3:8 Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. 

Heb 2:14 sê Jesus het hom wat mag oor die dood het tot niet kom maak.  So die eerste ding wat jy moet besef en weet is dat Jesus het klaar die duiwel oorwin.

2. Sy krag is binne in jou.

1 Joh 4:4 Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. 

Wanneer ‘n mens gered word, kom woon die Heilige Gees binne in jou met al Sy krag waarmee die duiwel oorwin is.  Sy krag en sy sterkte is in jou.

3. Gee die duiwel geen plek nie.

1 Pet 5:8 Wees nugter en waaksaam (maw kry jou prioriteit reg, kry jou commitment reg), want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 
9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof...

So besef dat Christus reeds die oorwinning oor die Satan behaal het, en besef dat Sy krag in jou woon, want die Heilige Gees woon in jou en weerstaan hom, weerstaan die duiwel, jy kan want jy het God se krag in jou.

So hoe moet ons hom weerstaan?

Ef 4:27 en gee aan die duiwel geen plek nie. 

Dit is so eenvoudig soos dit.  Gee aan hom geen plek nie.  Hierdie vers impliseer dat as die duiwel plek gekry het in jou lewe, is dit omdat jy vir hom plek gemaak het.  Jy het die keuse gemaak.  Jy het die deur vir hom oopgemaak.  Gee aan hom geen plek nie.

Hoe doen ek dit?  Hoe gee ek nie aan hom plek nie?

2 Kor 2:11 want ons is met sy planne nie onbekend nie. 

Ons moet nie onkundig wees met sy planne nie.  As jy hom nie plek wil gee nie, sal jy moet weet waar hy wil inkom.  Maak toe die deure en vensters en maak seker jy is bewus van sy planne.  So!  Wat is sy planne?

1 Joh 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 

So hoe kom die duiwel na jou toe?  Die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe.  Dit is sy planne.  En ons moet hierdie deure toemaak.  Ons moet nie hierdie dinge plek gee in ons lewens nie.  Dit is hoe jy hom teëstaan.

4. As jy die duiwel sien kom, vlug!

2 Tim 2:22 Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep. 

Dit is baie eenvoudig.  Vlug van begeerlikheid en jaag na geregtigheid.  Moet hom geen plek gee nie en vlug as jy sien hy kom.

5. Neem elke gedagte gevange tot gehoorsaamheid aan Christus.

Maw, ons gedagtes moet beheer word deur die Woord van God.  Daar is nie ander kort paaie nie.  Om ‘n oorwinnende Christen lewe te leef, moet jy gedagtes oorgegee wees aan die Woord van God, sodat jou denke en emosies onder die waarheid is.

Nou al hierdie beginsels is opgesom in Ef 6:13-17.  Hulle word mooi saamgevat in die beeld wat Paulus gebruik van ‘n wapenrusting.  Ons het alreeds gekyk na die gordel van waarheid en die borswapen van geregtigheid.

Derdens kyk ons dan na die skoene van die evangelie van vrede.

Ef 6:15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 

Nou kom Paulus by die soldaat se voete.  Oorspronlik was skoene gebruik om jou voete te beskerm, maar vandag in ons kultuur het dit ‘n fashion statement geword.  Ons het nie vandag soveel beskerming nodig nie.  Ons karre het matte.  Ons het strate het plaveisel, ons werke het matte of teels, en die plekke wat ons besoek se vloere is so te sê veilig om te loop.

Die meeste van die tyd gaan loop ons nie op rowwe plekke nie.  So ons het nie regtig skoene nodig om ons voete te beskerm nie.  Vandag het ons ook skoene vir elke soort okkasie.  Ons het tennis skoene, draf tekkies, rugby tokse en elkeen het ‘n funksie.  Sommige vroue het skoene wat pas by elke soort rok of pakkie wat hulle aantrek.  En ons het seker maar ons redes hoekom dit so is.  Elke soort skoen het ‘n sekere funksie.

Dit is ook waar in oorlog.  ‘n Romeinse soldaat sou nie met vellies gaan baklei het nie, ook nie met plakkies nie.  Hy het spesiale skoene gedra, en in ‘n oorlog situasie kon dit sy lewe red.  Dit moes skoene wees wat hom nie laat gly het nie.  Skoene wat ver afstande kon loop. 

So die Romeinse soldaat het ‘n skoen gehad met ‘n dik sool.  Amper soos landmyne, het die vyand soms skerp stokke geplant om die Romeinse soldate se voete te beseer.  Jy kan jou hand of arm of lyf seermaak en nog veg, maar as jou voete beseer was, was jy in die moeilikheid.  So hulle sole was dik gewees.

Die dik sool het dan orals bande gehad wat vasgemaak het.  Aan die onderkant was daar stukke staal, amper soos rugby tokse, om hulle ‘n lekker grip te gee.  En dit is hierdie beeld wat Paulus in gedagte het wanneer hy praat van die wapenrusting.

Die Christen soldaat het ook skoene nodig.  Jy kan die gordel van waarheid aan hê, maw gereed wees en committed wees, jy kan die borswapen van geregtigheid aan hê, maw ‘n heilige en godvrugtige lewe leef, maar as jou nie kan staan op jou voete nie, gaan jy val.

Ef 6:15 And your feet shod with the preparation of the gospel of peace. 

Die woord “preparation” kom van die Griekse woord “hetoimasia” wat letterlik beteken “voorbereid/toegerus”.  Dit kom van die stamwoord “hetoimazo” wat beteken “om voor te berei”.  Maw as jy voorbereid is, dan is jy toegerus.  “Shod” beteken “om aan te trek”.  So wat sê Paulus?  Hy sê, trek jou skoene wat toegerus is aan.

Jou voete moet toegerus wees.  Hulle moet voorbereid wees.  Tit 3:1 gebruik dieselfde woord “hetoimasia”,

Tit 3:1 Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid (gereed/voorbereid/toegerus) tot elke goeie werk; 

KJV
Tit 3:1 Put them in mind to be subject to principalities and powers, to obey magistrates, to be ready to every good work, 

Gereed te wees.  Toegerus te wees.  Voorbereid te wees om goeie werke te doen.  So jou voete moet toegerus wees met die regte toerusting vir oorlog.  Waarmee moet ons toegerus wees?  Met die wete dat God is aan ons kant.  Kom ek verduidel:

Nou baie mense lees Ef 6:14 en sê dit verwys na iemand wat die evangelie van vrede gaan verkondig.  En hulle kry dit van Rom 10:15 wat sê, hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig.  En die evangelie van vrede moet verkondig word.  Dit is wat Rom 10 sê.  Maar dit is nie wat Ef 6 se bedoeling is nie.  Dit beteken nie om te gaan en te preek nie.  

Wat is die eerste woorde in vers 14?  

Ef 6:14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan. 

Dit sê nie gaan nie, dit sê staan dan vas.  En dit gaan nie hier oor om te gaan en om die evangelie te gaan verkondig of oor die prediking van die Woord nie.  Dit gaan mos hier om ‘n geestelike oorlog teen die duiwel.  Dit gaan hier om vas te staan en die duiwel te veg.

Die gedagte word die beste beskryf in 1 Kor 16:13,

1 Kor 16:13 Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. 

Ef 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 

So die doel van die wapenrusting en dit sluit in die skoene van die evangelie van vrede, die doel is om staande te kan bly teen die liste van die duiwel.  V13 sê, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil.  Dit gaan oor om vas te staan en nie oor om te gaan nie.  So dit is nie bedoeling van Paulus hier nie.

Ja, ons moet gaan en die evangelie van vrede gaan verkondig, maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie.  Dit gaan nie oor evangelisasie nie, dit gaan oor ‘n geestelike oorlog.  So wat Paulus sê is, omdat ons voete aangetrek is met die goeie nuus van vrede, moet ons vas staan en nie gly en val wanneer ons aangeval word nie.

Kom ons kyk gou na die terme, “die evangelie van vrede”.  Evangelie beteken “die goeie nuus”.  So dit is die goeie nuus van vrede.  En wat is die goeie nuus van vrede?  In kort, ons was God se vyand en onder Sy oordeel.  Maar die goeie nuus is dat Christus vrede gebring het tussen God en mens.  Rom 5.

Toe ons swak was het Christus vir ons gesterf.  Hy het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was.  Ons was sy vyande.  Maar God het die oplossing gegee.  In Christus se dood is ons geregverdig.  Deur Hom is ons gered van die toorn.

Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. 

So waaroor gaan die evanglie van vrede?  Die evangelie gaan oor die mens wat vyand van God was, maar in Christus het ons vrede by God.  Dit is die evangelie van vrede.

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus. 

Dit is die goeie nuus.  Jy is nie meer aan God se verkeerde kant nie.  God is nie meer teen jou nie, maar God is vir jou.  2 Kor 5:19 sê ons is met Christus versoen.  Kol 1:20 sê, Hy het vrede gemaak deur die bloed van Sy kruis.  So die evangelie van vrede is dat ons een is met God en dat Hy aan ons kant is.  

Dit beteken dat ‘n Christen wat vasstaan sê, my voete is geanker op vaste grond, want God is aan my kant.  So hoekom moet ek die skoene die evangelie van vrede aantrek?  Want dit help my om staande te bly.  As ek in my eie krag moes staan en in die oorlog moes veg, sou ek beslis verloor het.

Kom ek gee ‘n illustrasie: In Joh 18 lees ons waar die Romeinse soldate Jesus gevange wil neem.  Daar was so 500 honderd soldate.  Petrus en die dissipels was saam met Jesus.  Jesus vra hulle toe, “Wie soek julle?”  En hulle sê hulle is opsoek na Jesus, die Nasarener.  Jesus antwoord toe en sê, “dit is Ek.”

En toe Jesus dit sê, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.  500 soldate val agteroor soos dominoes.  En toe hulle opstaan, toe vat Petrus sy swaard en kap een van die diensknegte van die hoëpriester se oor af.  Hy het tien teen een probeer om hom dood te slaan en toe het die dienskneg gekoes en Petrus slaan toe sy regteroor af.

Nou wat het Petrus besiel?  Waar het hy die selfvertroue gekry en die krag gekry om so iets te doen?  Hy het nou net gesien hoe ‘n hele weermag soldate agteruit struikel toe Jesus net sê, “dit is Ek”.  Petrus het sekerlik onfeilbaar gevoel.  Die gevoel van, niks kan met my gebeur nie, want hierdie Jesus wat 500 soldate laat agteruit struikel, Hy is aan my kant.  Hy het geweet wie is aan sy kant.

Petrus en Johannes het in die Sanhedrin ingegaan en gesê, ons gee nie om wat julle sê nie, maar ons gaan God dien en hulle het nie gevrees nie, want hulle het geweet wie was aan hulle kant.  Paulus het ook Jesus Christus gepreek en geweet wie was aan sy kant.  Al het hy soveel teenkanting gekry, het dit hom nie gekeer nie.

Dieselfde met die skoene van die evangelie van vrede.  Dit is soos om vir die duiwel te sê, gee jou beste hou.  Ek is gereed vir jou.  Ek staan vas, want God is aan my kant.  Om die skoene van die evangelie van vrede aan te trek, beteken om in absolute vertroue te staan dat God aan jou kant is.  Ek het die skoene van die toerusting van die evangelie van vrede aan.

Jy staan vas met die skoene van die evangelie van vrede aan jou voete.  Jy het vrede by God in Jesus Christus.  God is aan jou kant.  Daarom is jy toegerus en voorbereid.  

Ef 6:15 And your feet shod with the preparation of the gospel of peace; 

Die Afrikaanse vertaling sê, die bereidheid van die evangelie.  Dit is egter verkeerd vertaal.  Dit beteken letterlik voorbereid of toegerus.  Ons is toegerus met die evangelie van vrede.  Ons is toegerus met die wete dat God aan ons kant is. 

Wanneer die duiwel ons voete aanval, weet ons dat ons staan op vaste grond.  Ons staan op die grond van die evangelie van vrede wat sê, die goeie nuus dat ek nie meer ‘n vyand van God is nie, maar dat ek vrede by God het, dat God aan my kant is.

So watookal die Satan na jou kant toe bring, kan jy soos v10 sê, kan jy kragtig wees in die Here en in die krag van Sy sterkte.  Dit is die vertroue wat jy het wanneer jy die skoene van die evangelie van vrede aan het.

Luister!  Oorwinning is daar vir jou lewe as ‘n Christus.  Antwoord net hierdie drie vrae:  Wil jy regtig oorwin?  Het jy die gordel van die waarheid aan?  Het jy ‘n gesindheid van egtheid?  Is jy committed?  

Tweedens, is dit jou begeerte om heilig te lewe?  Het jy die borswapen van geregtigheid aan?  Lewe jy ‘n lewe van geregtigheid.  

En derdens, is jy dapper in die oorlog, want jou voete is gegrond in jou vertroue in God.  Hy is aan jou kant.  As jy rond gaan en twyfel oor God se krag, gaan jy verloor.



No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288