Monday 25 February 2013

Die skild van geloof

Ef 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 
14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 
15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 
16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 

Ons is in ‘n oorlog gewikkel, maar daar is geen rede waarom ons bang hoef te wees nie.  Die uiteinde van die oorlog is klaar bepaal.  Ons oorwinning is klaar verseker.  Kom ons kyk gou na Rom 8,

Rom 8:31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 
32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? 

Maw, wie kan ons oorwin?  As God vir ons Sy Seun gegee het, hoekom sou Hy nie vir ons die toerusting gee om die oorlog te wen nie.

Rom 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 

God is die hoogste gesag en Hy het die laaste sê.  As Hy sê jy is geregverdig, wie kan jou aankla?

Rom 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. 

As Christus gesterf en opgestaan het sodat jy geregverdig kan word, waarom sou Hy jou dan nou veroordeel?  As God jou regverdig verklaar het, wie het die reg om jou aan te kla of jou te kom veroordeel en beskuldigings teen jou in te bring.  Niemand kan nie.

Rom 8:35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 
36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 
38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 
39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. 

Die sleutelvers is v37, ons is meer as oorwinnaars, die Griekse woord “hupernika”, wat kom van die woord “nike”, wat beteken “om te oorwin”.  Ons is huper-nika, hyper, meer as oorwinnaars.  Dit is ‘n super oorwinning.  En dit is wat Paulus bedoel in,

1 Kor 15:57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. 

Dit is wat Johannes bedoel wanneer hy sê in, 

1 Joh 5:5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? 

In Christus is ons oorwinnaars.  Ons is super-oorwinnaars.  Maar, dit is wanneer jy kyk na die groot prentjie.  Dit is jou posisie in Christus.  Die groot oorlog aan die einde van die dag het ons klaar gewen.  Maar wat van elke dag se geestelike oorlog?  Elke dag se geestelike stryd waarmee ons worstel?

As jy elke dag se geestelike oorlog wil wen, sal jy moet doen wat Ef 6 sê, trek die volle wapenrusting van God aan.  Deur die wapenrusting aan te trek kan jy vanuit jou posisie van oorinning elke dag prakties jou oorwinning uitleef.  As jy dit nie doen nie gaan jy in jou alledaagse lewe die geestelike oorlog verloor, al is jy op die ou einde van die groot oorlog tog ‘n wenner.

As jy die positionele realiteit, dat jy meer as ‘n oorwinnaar is in Christus, elke dag wil ervaar, moet jy die wapenrusting aantrek.  Hoe doen ons dit?  Dit is waaroor hierdie reeks preke gaan.  En ons laas keer gepraat oor die skoene van die evangelie van vrede, wat eenvoudig beteken, jy staan in die goeie nuus van vrede, jy het vertroue dat God aan jou kant is.

Die eerste deel van die wapenrusting was die gordel van waarheid, dit is gereedheid, voorbereiding en commitment.  Dit gaan oor ‘n gesindheid van egtheid, truthfulness.  

Die tweede deel was die borswapen van geregtigheid.  Dit gaan oor om geregtigheid te lewe, om heilig te lewe.  Dit beskerm ons hart en ingewande wat spreek van ons gedagtes en emosies.  Uit die hart van die mens, uit jou gedagtes is die oorspronge van die lewe.  As jy wil reg lewe, moet jy reg dink.  As jy wil heilig lewe, moet jou gedagtes rein wees.  Bewaak jou hart meer as alle dinge.

Derdens die skoene van die evangelie van vrede.  Om toegerus te wees met die wete dat God aan jou kant is.  Die Christen staan op die basis van vertroue dat God met hom is.

Vandag kyk ons dan na die vierde deel van die wapenrusting, naamlik die skild van geloof.

Ef 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 

Daar was verkillende soorte skilde wat die Romeinse soldate gebruik het.  Maar twee van hulle staan uit.  Die eerste een was ‘n klein ronde skild, amper soos captain American.  Dit was gewoonlik gekom op die voorarm, dit was op die linkerarm vasgemaak.  Dit was nie swaar nie en dit was gebruik deur voetsoldate om naby houe af te weer.  In die regterhand was die swaard.

Daar was ook ‘n ander skild en dit is die een waarna Paulus verwys wanneer hy die woord “thureon” gebruik.  ‘n “Thureon” was ongeveer 1.3m lank en 760mm breed.  Dit was gemaak van ‘n groot stuk plank met ‘n dik metaal of selfs leer aan die buitekant.  Wanneer die pyle dan die metaal tref, deflekteer dit of wanneer dit die leer tref wat met olie gesmeer is, blus dit die vurige pyle uit.

Die geskiedenis sê ook vir ons dat die mense in daardie tyd was kleiner.  So die skild wat hulle gebruik het, het die persoon heeltemaal beskerm.  En wanneer die Romeinse weermag geveg het, was daar ‘n lang ry van hierdie soldate wat voor gestaan het met hierdie groot skilde.  Dit was genoem ‘n falanks.  

Agter hulle was die boogskutters en swaard vegters en al die ander.  Hierdie voorste ry soldate met hulle skulde het soos ‘n muur gevorm om hulle te beskerm.  Agter die muur van skilde het die boogskutters hulle pyle afgevuur.

So die soldate met die skilde was op die voorfront.  Dit het beskerming gegee vir die ouens agter hulle.  Natuurlik het die soldate voor die meeste beskerming gehad, en ‘n ou kan jouself net indink wat moes gebeur as daar ‘n swerm van pyle op jou afkom en jy het nie ‘n skild gehad nie.

So let op wat sê v16 van Ef 6,

Ef 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 

‘n Meer letterlike vertaling sou wees, “bo dit alles”.  Die KJV sê, “Above all”.  Dit beteken egter nie dat die skild van geloof die belangsrikste deel van die wapenrusting is nie.  Al die dele van die wapenrusting is belangrik.  Trek die volle wapenrusting van God aan, nie net sekere dele of die belangriskte dele nie.  Elke deel is belangrik.

Verder, “bo dit alles”, “above all”, verwys nie net die na die skild van geloof nie, maar verwys na die laaste drie.  Dit kan ook vertaal word met “bykomend dit alles”.  Julle het die gordel van waarheid, julle het die borswapen van geregtigheid, jy het die skoene van die evangelie van vrede, bykomend dit alles, bo dit alles, neem die skild van geloof op, en die helm van verlossing, en die swaard van die Gees.

So die “bo dit alles” of die “bykomend dit alles” sluit die laaste drie dele in en ons sien dit ook in die werkwoord wat gebruik word wat anders is as die eerste drie dele.  In die eerste drie dele van die wapenrusting gaan die werkwoord oor “om te hê”.  

Ons sien dit duideliker in die KJV, v14 “having your loins girt about with truth, and having on the breastplate of righteousness;” v15 “And your feet shod with the preparation of the gospel of peace:” So dit gaan daaroor om dit te hê, wat ‘n aandui is dat dit iets permanents is.  Dit is ‘n permanente ding.

Byvoorbeeld sou daar 'n stilte tydperk wees in die oorlog, en in die stilte tyd sou 'n soldaat gaan rus, maar hy trek nie sy gordel en borswapen en skoene uit.  Hy het dit ten alle tye aan.  Maar wanneer die geveg nou warm raak, dan neem hy sy skild, sy helm en sy swaard op.  So die eerste drie gaan oor ‘n lang tyd se voorbereiding en die laaste drie gaan oor onmiddelike gereedheid.

Die veronderstelling ook is dat jy reeds die gordel van waarheid aan het, maw dat jy committed is, dat jy die borswapen van geregtigheid reeds aan het, maw ‘n heilige lewens wandel het, en die skoene van die evangelie van vrede aan het, maw dat jy staan in die voorbereiding dat God aan jou kant is.  Hierdie dinge moet klaar in plek wees.

En wanneer die geveg nou vurig raak, het jy hierdie dubbele beskerm nodig van die laaste drie dele van die wapenrusting.  Die eerste drie dele, commitment, heilige lewe en vertroue in God moet altyd daar wees.  Jy kan nie met die laaste drie dele gaan veg sonder die eerste drie dele nie.  Die eerste drie moet permanent daar wees.  En wanneer die pyle kom en die aanvalle kom, dan neem jy die skild van geloof op en trek jou helm aan en jy gryp die swaard van die Gees.

Dit is soos ‘n rugby speller wat op die reserwe bank sit.  Hy trek nie sy rugby klere en tokse uit nie.  Hy sit daar gereed om enige tyd op die veld te gaan.  En ek dink dit is die beeld wat Paulus hier probeer skets.  So bo dit alles, neem die skild van geloof, die helm van verlossing en die swaard van die Gees op.

En dit is wonderlik om daar aan te dink, dat God dubbele beskerming gee aan Sy kinders.  Dit sou genoeg gewees het om vertroue te hê in God se krag en dat Hy aan jou kant is met die skoene van die evangelie van vrede wat jy aan het.  Dit sou genoeg gewees het om die borswapen van geretigheid aan te hê en gordel van waarheid.  Maar God gee vir ons dubbele beskerming.

Kol 3:3 sê dat ons lewe is verborge met Christus in God.

Die Griekse woord is “krupto” wat beteken ons lewe is “weggesteek of beskermd” met Christus in God.  Maar die konteks sou eerder sê beskermd.  Concealed of covered with Christ in God.  En dit sou vir ons genoeg gewees het om met Christus in God beskermd te wees.  Maar ons het no op die alles ‘n dubbele beskerming.

Wanneer die geestelike oorlog rof raak en die pyle begin vlieg, dan het jy die skild van geloof.  So waarvoor is die skild van geloof?

Ef 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 

Let op! Om “al die vurige pyle”, nie net sommige nie, maar al die vurige pyle uit te blus.  So maak nie saak wat dit is nie, en waarmee die duiwel jou aanval nie, die skild van geloof is oorgenoeg om dit uit te blus.  ‘n Mens sou sê dat dit al deel van die wapenrusting is wat ‘n mens nodig het, dit is hoe volledig dit is, maar dit is ‘n dubbele beskerming.

Waar kom die vurige pyle vandaan? V16 sê die vurige pyle kom van die bose.  Die Griekse woord is, “poneros”, wat verwys na die bose een, die Satan.  Satan self skiet pyle en hy gebruik sy bose magte om vurige pyle te skiet, maar ons blus dit uit met die skild van geloof.

Dit is ook belangrik om te sien dat ons oorlog is teen ‘n persoonlike wese, die Satan, die bose een.  Daar is sommige teoloë wat vandag verkondig dat die duiwel nie ‘n werklikheid is nie, en dat hy maar net ‘n filosofiese idee is.  Die Bybel sê hier duidelik, hy is ‘n persoon.  Ons geveg is nie teen ‘n abstrakte onpersoonlike idee of filosofie nie.  Ons geveg is teen ‘n werklike vyand, die Bose een.

So die vurige pyle kom van die duiwel en sy bose magte.  Hoekom vurige pyle?  Wat is hierdie vurige pyle?  Wat is dit wat ons probeer stop met die skild van geloof?  Waarmee val die duiwel ons aan?  Dit is baie eenvoudig.  Dit verwys na versoekinge.  Hy val ons eenvoudig aan met versoekinge.

Die duiwel skiet ons met pyle van onreinheid, pyle van selfsug, pyle van twyfel en vrees, telleurstelling, wellus, hebsug, ydelheid, gierigheid en nog baie ander dinge.  Dit is alles die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe.  Hy bombardeer ons met al hierdie vleeslike dinge.  En die verdediging wat jy het teen al hierdie aanvalle is die skild van geloof.

So kom ons kyk eers na geloof.  Wat is geloof?  Geloof beteken eenvoudig om God te vertrou.  En dit is die basis van ons Christen geloof.  Christenskap is ‘n daad van vertroue in God.

Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. 

Ons kom na God toe deur Christus Jesus en ons glo dat Hy is.  Ons glo dat Hy het die Skrif vir ons gegee.  Ons glo dat Christus is God.  Ons glo dat Hy het gesterf en opgestaan.  Ons glo dat Hy kom weer.  Ons glo dat deurdat ons in Hom glo, dat ons Sy koninkryk sal ingaan.  Hab 2:4 sê dat die regverdige sal deur sy geloof lewe.  So ook Rom 1:17, Gal 3:11, Heb 10:39 “geloof tot die behoud van lewe”.

Ons leef ‘n lewe van geloof.  En dit gaan alles oor om God te glo.  Ja, elke mens glo in iets.  Jy klim in jou kar en glo en hoop dat dit nie langs die pad sal gaan staan nie en dat jy veilig by die huis sal kom.  Jy klim op ‘n vliegtuig en glo dat jy by jou eindbestemming sal uitkom.  Almal glo in iets.

Die vraag is egter nie of jy geloof het nie.  Almal glo in iets.  Die vraag is, waarin plaas jy jou geloof?  Of op wie plaas jy jou geloof?  Luister!  Dit is nie geloof in iets nie, dit is geloof in wie!  Geloof is in God.  Dit is om God te vertrou.

Elke pyl wat die duiwel na jou die skiet is ‘n leuen, is dit nie so nie?  En as jy geval het vir die leuen dan het jy hom geglo en nie God geglo nie.  Geloof beteken om totaal en al op God te vertrou.  Dit beteken om te sê, as God so gesê het, dan is dit so, dan is dit die waarheid en ek glo dit.  If God said it, I believe it, that settles it.

Nou hoe werk versoeking?  Kom ek verduidelik.  God skep ‘n perfekte omgewing, die tuin van Eden.  Hy skep ‘n perfekte man en vrou.  Hulle was sondeloos.  En hier kom die duiwel en sê vir Evan, “het God gesê?”  En dan plaas hy twyfel in haar hart en bevraagteken God se motiewe.  “God wil niê hê jy moet soos Hom wees wat goed en kwaad kan onderskei nie.  Jy kan Hom nie vertrou nie”. 

So die duiwel wil hê jy moet in God twyfel en jy moet hom glo.  Eva het daarvoor geval.  Sy het die duiwel geglo en in God getwyfel.  En elke versoeking wat ooit na jou toe gekom het, het op hierdie manier na jou toe gekom.  Dat jy nie God moet glo nie.

Ons sien in Matt 4 en Luk 4 toe die duiwel Jesus versoek het in die woestyn.  Hoe versoek hy Jesus?  Hy versoek Hom deur nie in God te glo nie.  Dieselfde ou trick.  “Moenie in God glo nie, glo in my”.  Verander hierdie klippe in brode.  Nou wat is verkeerd daarmee?  Jesus is die Seun van God en Hy kon dit doen as Hy wou.  

So wat is verkeerd daarmee om klippe in brood te verander en dit te eet?  Satan het in ‘n sekere sin vir Hom gesê, “vir veertig dae, niks geëet nie, in die woestyn, het God jou nie dalk verlaat nie?  Hy het mos gesê Hy sal vir jou sorg.  Hy sal mos vir jou onderneem.  As Hy dan die groot voorsiener is, waar is Hy nou?  Hoekom sorg Hy nie vir jou nie?  Het Hy nie van jou vergeet nie?  Moenie vir Hom wag nie, jy kan nie op Hom vertrou nie.”

So die versoeking wat die duiwel aan Jesus gee is om dinge in Sy eie hande te neem.  En dan sê hy vir Jesus, “Het God nie belowe dat jy die Messias gaan word nie, het Hy nie belowe dat elke knie voor jou sal buig nie, het Hy nie belowe dat jy Koning sal wees nie?  Waar is dit alles?  Hier is jy in die woestyn.”  

En hy gaan wys vir Jesus die tempel en sê Hy moet spring.  Hy het mos gesê Hy sal sy engele stuur om jou op die hande te dra.  Of sal Hy?  So hy probeer twyfel skep.  “Het God nie gesê dat Hy al die koninkryke van die wêreld vir jou gee nie?  Dit lyk nie of dit gaan gebeur nie.  Kom saam met my en ek sal dit vir jou gee.”

Maw, “moenie God glo nie, Hy hou nie Sy woord nie.  Glo my.  Doen dit my manier.”  En dit is hoe die duiwel elke gelowige elke keer versoek.  Die Bybel sê, “jy moenie ‘n seksuele verhouding buite die huwelik hê nie, maar ek sê vir jou dit is nie so erg nie.  Die Bybel sê, laat daar geen vuil taal uit jou mond uitgaan, maar ek sê vir jou, ag moenie so eng wees nie, dis nie so bad nie.” 

Dit kom alles daarop neer, wie glo jy?  Of jy glo God, of jy glo die duiwel.  En elke keer as jy sondig, het jy geval vir die duiwel se leuen.  God sê, doen dit.  Die duiwel sê, nee man, doen dit.  God sê, jy moet jou onderwerp aan die owerhede wat bo oor jou aangestel is, maar die duiwel sê nee, jy hoef nie eerlik te wees met jou inkomste belasting opgawes nie.  Ten minste gaan jy so ietsie meer uitkry.

Dit kom alles daarop neer.  As jy sondig, was jy ongelowig.  Jy het die duiwel geglo en geval vir sy leuen.

Rom 14:22 Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie. 
23 Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde. 

Wanneer jy sondig sê jy in werklikheid dat jy God nie glo nie en dat die duiwel beter weet.  Nee!  Jy moet die duiwel so haat dat jy hom nie daardie satisfaksie gee nie.  Dit moet vir jou oor genoeg rede wees om nie te sondig nie.  En die enigste manier waarop jy die vurige pyle van die Bose kan uitblus is eenvoudig, glo God.  Vertrou op God.

2 Kor 1:23 Maar ek roep God as getuie aan oor my siel dat ek om julle te spaar nog nie na Korinthe gekom het nie— 
24 nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas. 

Dit is die skild van geloof.  Om God te vertrou.  Vetrou Hom en jy sal nie val nie.

Spr 30:5 Elke woord van God is gelouter; Hy is ‘n skild vir die wat by Hom skuil. 

KJV
Pro 30:5 Every word of God is pure: he is a shield unto them that put their trust in him. 

Solank as wat jy God vertrou en in Hom glo, sal Hy vir jou ‘n skild wees.

1 Joh 5:4 Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. 

Hoe oorwin jy die wêreld?  Geloof.  Solank as wat jy God vertrou, sal jy altyd die dubbele beskerming hê, en jy sal onfeilbaar wees en oorwin.  Hoe staan jy die duiwel tee?

1 Pet 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 
9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof...

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288