Monday 25 February 2013

Die helm van verlossing


Ef 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Dit is weer ‘n ongelooflike voorreg om terug te kom na Ef 6.  Paulus sê hier vir ons wat ons moet doen as ons ‘n oorwinnings lewe wil leef in ons Christen lewe.  Soveel Christene, alhoewel hulle op die ou einde die groot finale stryd gaan wen, verloor hulle die daaglikse geestelike stryd, want hulle trek eenvoudig net nie die volle wapenrusting van God aan nie.

Die dag toe jy gered is, is die dag toe jy vyande gemaak het met die duiwel en sy bose magte.  Maar jy hoef nie te vrees nie.  Die Heilige Gees woon binne in jou met al Sy krag en in Christus is jy meer as ‘n oorwinnaar deur Hom wat jou die kag gegee het.  

So ons kan hierdie geestelike stryd toetree met die wete dat ons gaan die oorlog wen.  Maar dit beteken nie dat die oorlog maklik gaan wees nie.  En al is ons almal se oorwinning op die ou einde verseker, is daar somtyds dae wat ons die stryd verloor en ander dae wat ons oorwin.  

En soos wat jy geestelike groei in Christus, en jy voed op die Woord van God en jy geestelike volwasse word, begin jy al meer en meer die daaglikse stryd wen as wat jy dit verloor.  Almal van ons het al tye van oorwinnings beleef en ook tye wat ons verloor het.  En oorwinning in die oorlog hang af of jy die wapenrusting aantrek of nie.  Dit hang alles daarvan af.

Ons het dan laas keer gesê dat die eerste drie dele van wapenrusting, die gordel van waarheid, die borswapen van geregtigheid en die skoene van die evangelie van vrede is die dele wat jy altyd moet aanhê.  Dit is ‘n konstante element in jou voorbereiding op die oorlog.  Dit is iets wat jy nie moet uittrek nie.

En wanneer die oorlog uitbreek, tel jy jou skild op, sit jou helm aan en gryp jou swaard.  Dit is soos ‘n reserwe wat langs die rugby veld opwarm vir die wedstryd.  Hy trek nie sy rugby klere uit nie.  Maar wanneer hy op die veld gaan, sit hy sy mouth guard in en trek sy kopstuk aan.

Die laaste drie dele van die wapenrusting, die skild van geloof, die helm van verlossing en die swaard van die Gees, neem jy op as jy op die oorlogsveld gaan.

Ons het ook gesien dat die skild van geloof is waarmee ons die vurige pyle van die bose uitblus.  Die vurige pyle van die bose is die versoekinge wat die duiwel na ons kant toe skiet.  Die pyle van die begeerlikheid van die vlees, die pyle van die begeerlikheid van die oë en die pyle van die grootsheid van die lewe.

Die skild van geloof is dan waarmee jy sonde oorwin.  God sê so, die duiwel sê so.  Wie glo jy?  Glo jy God, oorwin jy sonde.  Glo jy die duiwel, dan het jy geval vir sy versoekinge.  So elke keer wanneer jy gesondig het, het jy die duiwel se leuen geglo.  Dit is waarom Paulus sê in Rom 14,

Rom 14:23 Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde. 

En solank jy God se Woord glo, sal jy nie die duiwel glo nie.  Dit is met die skild van geloof waarmee jy die vurige pyle van die bose een sal uitblus.

Ons gaan dan vandag kyk na die helm van verlossing.  Wat beteken die helm van verlossing?  Jy mag dalk sê, dit is maklik, dit verwys na die feit dat ek gered is.  Ek is gered.  Nee!  Dit is nie waarna dit verwys nie.

Kom ons kyk gou na die Romeinse soldaat.  Hy het nooit in ‘n oorlog gaan veg sonder sy helmet nie.  Dit sou dom gewees het.  Dit was baie belangrik want dit het sy kop beskerm.  Waarvan?  Dalk van vlieënde pyle, maar die hoofrede was om sy kop te beskerm teen ‘n groot swaard.

Nou, die helm hier is die helm van verlossing.  Dit is egter nie ‘n opdrag om gered te word nie.  Paulus sê nie, jy moet gered word nie.  Jy het reeds die gordel van waarheid aan, die borswapen van geregtigheid en die skoene van die evangelie van vrede.  Jy is klaar gered.  Jy is nie in hierdie geestelike oorlog as jy nie alreeds ‘n gelowige is nie.  

So waarna verwys die helm van verlossing?  Waarna verwys dit?  Om dit te verduidelik gaan ons so bietjie in detail moet gaan.

Heel eerstens, mense is verward wanneer dit kom by ewige sekuriteit.  Is ons een keer gered, altyd gered?  Wat van daai ou wat so lank die Here gedien het, maar nou wil hy niks weet van die Here nie.  Is hy gered of nie?  En mense is bekommerd hieroor, selfs in hulle eie lewens wanneer hulle gesondig het, voel hulle skuldig.  Mense begin te twyfel in hulle eie saligheid.

En dan is daar soveel mense wat hulle lewens al honderd keer vir die Here gegee het.  Hulle kom oor en oor tot bekering net om seker te maak.  So wanneer het ons daardie sekerheid van ons saligheid?  Wanneer is ons verseker van ons verlossing?

Wel, eerstens sal ons moet verstaan wat saligheid beteken.  Wat beteken dit om gered te wees?  Wat beteken dit om verlos te wees?  En dit is waarna ons ook vandag gaan kyk.

Kom ons begin deur te kyk na die drie aspekte van saligheid.  Kom ons noem dit die drie dimensies van verlossing.  Dit is die verlede, die hede en die toekoms.  Die verlede gaan oor dat ons verlos is van die straf van sonde.

So as jy vir my vra: Is jy ‘n Christen, is jy gered?  Dan sou ek antwoord en sê, “Ja”.  Wanneer het dit gebeur?  Wel, die dag toe ek die Here Jesus Christus bely, Hom in my lewe ingenooi het, toe my sondes op Hom op die kruis geplaas is en Hy die straf vir my sonde betaal het.  Dit het in die verlede plaasgevind.  Die straf vir my sonde is klaar betaal.

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 

So Paulus sê nie in Ef 6 dat die oue mens weer saam met Christus gekruisig moet word nie.  Hy sê nie dat jy weer begrawe moet word in Sy dood nie.  Die ou mens is klaar dood en begrawe die dag toe jy jou geloof in Christus geplaas het, jy saam met Hom gekruisig is en die loon van jou sonde reeds betaal is.  Dit is waarom Rom 8 sê,

Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 

Dit is klaar mee afgereken.  So die verlede aspek van jou verlossing is dat jy vrygemaak is van die straf van sonde.  Jy is verlos van die straf van sonde.

Nou die teenwoordige aspek van jou verlossing gaan nie oor die straf van sonde nie, maar oor die mag van sonde.  Sonde het nie meer ‘n houvas op jou lewe nie.  Dit regeer nie meer jou lewe nie.  Hoekom nie?

1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 

Het jy geweet dat daar nie een sonde is wat teen jou gereken kan word nie?  Rom 8 sê, 

Rom 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 

Daar is geen beskuldiging nie, daar is geen veroordeling mee nie.  Hy het jou vergewe van al jou ongeregtighede.  Maw vir dit om waar te wees, is God besig om jou elke dag te reinig.  Dit is soos wat Jesus vir Petrus gesê het, 

Joh 13:10 Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie. 

Jy hoef nie oor en oor gewas te word nie, want jy is heeltemal rein, maar dit is nodig om voete te was.  Maw jy moet net elke dag voete was.  Jy hoef nie oor en oor tot bekering te kom of oor en oor gered te word nie.  Jy moet net elke dag jou voete was van die stof van die wêreld wat aan jou voete kom vas sit.

Ons is klaar gered en verlos deur die bad van wedergeboorte.  Jy word nie twee of meer kere wedergebore nie.  Jy word net een keer wedergebore.  So die Here bad jou by wedergeboorte en stof jou voete elke dag af.  Dit is die teenwoordige aspek van jou verlossing.  Ek is verlos (verlede) en ek word verlos (hede).  Rom 5 sê dit so,

Rom 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun (verlede), veel meer sal ons deur sy lewe gered word (hede) nou dat ons versoen is. 

Sien jy dit?  So daar is die redding in die verlede en daar is die konstante redding in die hede.  Ek is gered van die straf van sonde, ek word gered van die mag van sonde.

Dan is daar ook die toekomsige aspek van jou verlossing.  Ons gaan verlos word van die teenwoordigheid of die bestaan van sonde.  Het jy geweet daar kom ‘n dag wanneer daar nie meer sonde sal wees nie?  Ons sal sonder sonde wees.  

Paulus sê in Rom 7, die sonde leef nog in my, Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? En los nie vraag net so nie.  Hy kom hy in Rom 8 en sê, 

Rom 8:23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. 

Dit sal gebeur wanneer jy verander word en jy ‘n verheerlikte liggaam, ‘n onverganklike liggaam sal ontvang by die opstanding.  Dit sal die finale afhandeling wees van jou volkome verlossing.  Hy regverdig ons (verlede), Hy reinig en heilig ons (hede), en Hy verheerlik ons (toekoms).

So as jou verlossing begin het in die verlede en steeds aanhou in die hede tot op die verheerliking, kan jy dit mos nie verloor nie.

Fil 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.

So jou volkome verlossing is totaal en al in God se hande.  Dit is nie in jou hande nie.  En jou verlossing is nie voorwaardelik nie.  Jy word bewaar in Sy krag nie in jou eie krag nie.  Jou toekomstige verlossing word verseker deur God wat die onderpand, die Heilige Gees aan jou gegee het en waarmee jy verseël is tot op die dag van verlossing.

Ef 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. 

Om dit beter te verstaan gaan ons kyk na ‘n paar teksgedeeltes.  Rom 8:22 & 23 byvoorbeeld praat van die vloek en hoe sonde die hele skepping geraak het en dit aan die nietigheid onderworpe gemaak het, maar daar is hoop op ‘n beter wêreld.  Die wêreld gaan ‘n beter plek wees, maar eers wanneer Jesus kom, dan sal dit volmaak  wees.

Maar die wêreld gaan nie beter word deur die mens se pogings nie.  So ons hoop is op Christus se verskyning.

Rom 8:22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 

Die hele skepping weet daar is groot fout.  Selfs die skepping is in chaos.  Dan sê v23,

Rom 8:23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. 

Maw ons weet ook daar is groot fout.  Dinge is nie reg soos wat God dit wil hê nie.  Daarom sug ons en het ons ‘n afwagting van die verlossing van die liggaam.  

Ons is verlos, ons word verlos en ons gaan verlos word.  Dan sal ons absoluut heilig wees.  En dit is wat v24 sê, dat ons is gered in hoop.  Ons is nie net gered in die verlede en nou hang die res van ons af nie.  Nee, dan is jou verlossing nie volkome nie.  

As jy nie eendag die hemel maak nie, is dit nie omdat jy gered was, maar jy dit langs die pad verloor het nie.  As jy nie die toekomstige verlossing ontvang het nie, was dit omdat jy geen verlossing ontvang het nie.

God verlos nie die mens halfpad nie.  Hy verlos ons volkome en dit sluit in die verlede, die hede en die toekoms.

Heb 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. 

Jesus Christus red ons volkome, want Hy leef.  Heb 5:9 sê Hy is ‘n bewerker van ewige saligheid, van ewige verlossing.  Hy red jou nie net vir ‘n sekere tyd of halfpad nie.  As Hy die verlossingswerk in jou lewe begin, sal Hy dit voleindig, die verlede, die hede en die toekoms.

As jou verlossing nie ‘n toekomstige aspek gehad het nie, waarom dan nou verlos word.

Gal 5:5 Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop. 

Hier praat hy nie van die verlossing in die verlede nie, maar van die toekomstige verlossing, die geregtigheid waarop ons hoop.  Hy praat van die finale afhandeling van jou verlossing.  En ons wag in hoop, ons hoop dat die oorlog sal eindig en alles verby sal wees.  Daar gaan ‘n dag kom wat ons nie meer die stryd hoef te stry nie.  

1 Pet 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. 

Maw ons is gered tot ‘n lewende hoop.  Ons is gered om te hoop.  En wat sal dit wees?

4 sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons 
5 wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. 

Ons hoop is die ewige heerlikheid.  Ons hoop is die hemel.  Ons word in die krag van God bewaar deur die geloof.  Watter saligheid is dit?  Dit is die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.

Daarom verdra ons nou so bietjie pyn en lyding.  Hoekom?  Want daar is ‘n eindstreep.  Daar is ‘n verlossing van die liggaam van hierdie dood.  Daar is ‘n ewige heerlikheid wat vir ons wag.  

So God het nie vir ons net ‘n verlossing gegee van die verlede nie.  Maar Hy bewaar ons in die krag van God, Hy bewaar ons verlossing in die hede.  En nie dit nie, Hy gee vir ons ‘n lewende hoop.

1 Thes 5:8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. 

Let nou op wat sê die volgende vers!

1 Thes 5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus 

Luister!  Ons is nie net in hierdie geestelike oorlog en veg om te oorleef nie.  Die einddoel is om die saligheid te verskry wat vir elke kind van God belowe is.  Daar is steeds ‘n deel van ons saligheid wat ons nog moet verkry.  Die verlossing van die liggaam.

So wat is die helm van verlossing?  Die helm van verlossing is die vertroue wat ons het in die volkome, en finale afhandeling van ons saligheid wat geopenbaar sal word.  Dit is daardie toekomstige hoop.  Dit is die vertroue dat hierdie stryd eendag verby sal wees.  Ek sou nie kon veg as ek nie geweet het dat daar iewers ‘n einde sou kom nie.

Nou is die vraag: hoekom is dit deel van die wapenrusting van God.  Onthou jy die Romeinse soldate met hulle groot swaarde?  Het jy geweet die duiwel het ook ‘n groot swaard waarmee hy jou wil slaan?  Hierdie swaard het twee kante.  Die een kant is ontmoediging of moedeloosheid en die ander kant van die swaard is twyfel.

Dit is wat die duiwel wil doen.  Hy wil jou ontmoedig.  Hy wil hê jy moet as Christen begin om moedeloos te word.  En nog meer wil hy hê jy moet twyfel in God en twyfel in jou verlossing.  Jy lees jou Bybel, bid gereeld, woon die gemeente dienste by, raak betrokke, en leef jou bediening uit, dan gebeur al die slegte dinge en dinge loop verkeerd.  

Wat sê die duiwel vir jou?  Nee wat, jy mors jou tyd.  Hy slaan jou met moedeloosheid en met twfyel.  Daarom moet jy die helm van verlossing aantrek om jou te beskerm teen hierdie dinge, want die duiwel gaan jou probeer ontmoedig en hy gaan twyfel in jou hart saai.  

En jy moet die helm van verlossing aantrek, sodat jy elke dag in die geestelike stryd kan weet, tenspyte van jou omstandighede, het jy ewige sekuriteit.  Jou saligheid is verseker.  Sodat jy kan hoop op die finale oorwinning wat vir jou wag.

Ons sal volgende keer aangaan en meer in diepte kyk na die swaard waarmee die duiwel jou wil slaan.  Ons gaan kyk na moedeloosheid en twyfel.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288