Tuesday 12 February 2013

Mag ek oordeel?


Hierdie vraag het al baie mense verwar.  Aan die eenkant sê Jesus in Matt 7:1 “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.”  Aan die ander kant waarsku die Bybel ons teen boosdoenders en valse profete en sê dat ons hulle moet vermy.  Hoe moet ons onderskei wie hierdie mense is as ons nie mag oordeel nie?

Christene word somstyds beskuldig dat hulle oordeel wanneer hulle teen sondige aktiwiteite uitspreek.  Hoe dit ookal sy, dit is nie die betekenis van die Skrifvers, “Moenie oordeel nie.”  Daar is ‘n regverdige oordeel wat ons moet beoefen.  John 7:24 sê, “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.”

So wat is die verskil tussen Matt 7:1 wat sê dat ons nie moet oordeel nie en Joh 7:24 wat sê dat ons met ‘n regverdige oordeel moet oordeel?  Die konteks van Matt 7:2-5 verduidelik vir ons hoe ons nie moet oordeel nie.

Matt 7:2 Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.
3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
4 Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!
5 Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.

Hierdie gedeelte sê duidelik dat ons nie met geveinsdheid moet oordeel nie.  Jesus veroordeel geveinsdheid.  Mense wat ander oordeel terwyl hulle self daardie sonde doen en selfs nog erger.  Met daardie soort oordeel moet ons nie oordeel nie. 

Wanneer ‘n gelowige wel ‘n ander gelowige sien sondig, is dit sy Christelike plig om hom in liefde en respek te konfronteer.  Daarvan kan ons lees in Matt 18:15-17.  Dit is nie die oordeel soos wat Jesus sê ons nie moet oordeel nie.  Dit is om die waarheid vir iemand uit te wys met die hoop en die doel dat daardie persoon hom daarvan sal bekeer.

Jak 5:20 laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.

Ons moet die waarheid in liefde spreek en ons moet dit wat God se Woord oor sonde sê verkondig.  Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy sê in 2 Tim 4:2, “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering”.

Ons moet sonde oordeel, maar met die doel om mense bewus te maak van die gevolge daarvan en ook die oplossing vir sonde, naamlik die Here Jesus Christus.  God verwag van sy mense om regverdig te oordeel.  In werklikheid is dit sonde as jy nie oordeel nie.

Psa 37:30 Die mond van die regverdige verkondig wysheid, en sy tong spreek wat reg is.

KJV
Psa 37:30 The mouth of the righteous speaketh wisdom, and his tongue talketh of judgment.

‘n Regverdige mens sal oordeelkundig optree en regeverdige oordeel spreek.  Hy sal dit nie wyer nie.
Amos 5:14 Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê.
15 Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort—miskien sal die HERE, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef.

Hoe kan ek dit wat sleg is haat en dit wat goed is liefhê as ek wyer om te oordeel.  Jy kan nie.  Jy sondig as jy nie oordeel nie.  Jesaja beskryf vir ons hoe ‘n volk lyk wat nie oordeel nie.

Jes 59:8 Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.
9 Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op ‘n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid.

KJV
Isa 59:8 The way of peace they know not; and there is no judgment in their goings: they have made them crooked paths: whosoever goeth therein shall not know peace.
9 Therefore is judgment far from us, neither doth justice overtake us: we wait for light, but behold obscurity; for brightness, but we walk in darkness.

Hulle het geweier om te oordeel, daarom het hulle nie vrede gehad nie.

Paulus sê in 1 Kor 1:10 dat ons dieselfde gesindheid en dieselfde mening moet hê.  The same mind and the same judgement.  Hoekom sou Paulus dit sê as ons nie mag oordeel nie?

1 Kor 2:15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

KJV
1 Cor 2:15 But he that is spiritual judgeth all things, yet he himself is judged of no man.

Om te oordeel is nie sonde nie.  Dit is wat kinders van God moet doen.  Dit is eerder sonde om nie te oordeel nie.

Mag ons mense oordeel?  Verseker!  En ons moet.  Paulus bestraf die Korinthiërs om hulle nie oordeel nie.

1 Kor 6:1 Durf iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie?
2 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?
3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
4 As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word.
5 Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie?

Paulus kon nie hierdie dinge gesê het as dit verkeerd was om te oordeel nie.  Hier sê hy baie duidelik dat die heiliges moet oordeel.  En dit veronderstel dat ons wys is as ons dit doen, wanneer ons uitspraak doen tussen broeders.

Rom 16:17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.
18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.

Hoe is dit moontlik om hierdie dinge te doen as ons nie mag oordeel nie?  Paulus sê in 2 Tim 3:5 & 6 dat ons ons afkeer van mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het.  Jy kan dit nie doen sonder om hulle te oordeel nie.

1 Joh 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

As ons nie mag oordeel nie, hoe op dees aarde moet ‘n mense die geeste op die proef stel?

Mal 3:18 Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.

As jy nie oordeel nie, sal jy nie kan onderskei tussen wat regverdig en goddeloos is nie, tussen die waarheid en dwalinge nie, tussen die egte en die valse nie.

Op 2:2 Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;

Om iemand op die proef te stel is niks anders as om iemand te oordeel nie.  Waarom sou Jesus sit sê as oordeel so verkeerd was?  Jy sal nie iemand as ‘n leuenaar kan bevind as jy nie oordeel toepas nie.  Die Bybel is baie duidelik oor die belangrikheid van oordeel.  God verwag dit van ons.

Hoe moet ons oordeel?

Jesus sê in Joh 7:24 dat ons moet oordeel met ‘n regverdige oordeel.  Dit beteken dat ons moet oordeel soos wat God dit in Sy Woord vir ons uitgespel het.  Hier volg sewe riglyne in die Woord:

1.       Oordeel volgens die Skrif:

Jes 8:20 Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.

Ons standaard is God se Woord, nie ons gevoelens, ons tradisie of ons eie opinies nie.  Reg en verkeerd word bepaal deur God se Woord.

2.       Moenie oordeel as God se Woord stil daaroor is nie:

As God se Woord niks oor ‘n sekere saak sê nie, mag ons nie oordeel nie.  Moenie meer maak as wat die Woord sê nie.   Bv,

Kol 2:16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie,

Paulus sê hierdeur dat hierdie dinge nie so belangrik is nie en dat ons nie ‘n iets groots daarvan moet maak nie.

3.       Bid vir goeie oordeel en onderskeiding:

Toe Salomo sy koninkryk gehad het, het hy God gevra,

1 Kon 3:9 Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk (to judge thy people - KJV), om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?

Jak 1:5 sê dat as ons wysheid kort kom moet ons dit van God bid.

4.       Moenie partydig wees nie:

Spr 24:23 Ook hierdie spreuke is van die wyse manne afkomstig. Om partydig te wees in die gereg, is verkeerd.

Almal moet regverdiglik behandel word en jy mag nie subjekief optree nie.  Jy moet blind wees en doof wees vir buite invloede (Jes 42:1, 19-21).

5.       Oordeel in waarheid:

Moenie ander oordeel as jy nie al die regte feite agter mekaar het nie.

Jer 5:1 Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek—dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.

Iemand wat in waarheid oordeel is iemand wat die waarheid soek.

6.       Oordeel met barmhartigheid:

Onthou die woorde van Jesus in Matt 7:2, “Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”  Bewys barmhartig teenoor ander wanneer jy oordeel.

7.       Moenie vergeet om jouself te oordeel nie:

1 Kor 11:30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.
31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie (For if we would judge ourselves, we should not be judged - KJV).

As jy ‘n ware Christen is, behoort jy aan God.  As jy weier om jouself te oordeel  met die doel om te groei in die Here, dan sal jy geoordeel word.  Oordeel jouself voordat jy ander oordeel.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288