Monday 25 March 2013

Die helm van verlossing (die hoop op saligheid) – deel 3


Ef 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 
14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 
15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 
16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 
17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— 

Daar is liedere wat ons altyd gesing het, “Let go and let God have His wonderful way” en “I surrender all”.  Kan julle onthou?  Nou, hierdie liedere, so mooi soos wat hulle is, en so wonderlik as wat dit klink om dit te sing, “Gee net oor en laat God Sy weg hê met jou”, kan die verkeerde indruk skep dat jy passief is en niks moet doen in die hele proses nie.

Dit is egter nie die waarheid nie.  Ja, ons is afhanklik van God se krag en sterkte, ja, ons is afhanklik van God se voorsiening en alles wat Hy vir ons gee, maar dit is verkeerd om te dink dat ons net daar moet sit en niks doen nie.  Die idee dat jy net moet oorgee en toelaat dat God jou verander sonder dat jy enigiets moet doen, is onbybels.  God verander ons, maar ons is nie onbetrokke nie.

Die Bybel leer ons dat ons moet onsself commit, ons moet geestelike dissiplines aan kweek, ons moet onsself onderwerp aan God se krag.  Dit is nie net ‘n saak van oorgee (surrender) nie, maar dit is ook ‘n saak van geestelike oefeninge wat jy moet doen.

Kom ons vat ons teksgedeelte as ‘n voorbeeld.  Word kragtig in die Here en in die krag van Sy sterkte.  Trek die volle wapenrusting van God aan.  Jy moet daadwerklik iets doen.  In die teksgedeelte kry jy nie eenkeer die idee dat jy net moet oorgee nie.  Wat ons wel kry is dissipline en commitment.

Die Christen lewe is ‘n oorlog en ons moet die wapenrusting aantrek.  Hebr 12 sê die Christen lewe is ‘n wedloop en ons moet die wedloop met volharding loop.  1 Kor 9 sê dit is ‘n wedstryd en ons moet hardloop sodat ons die prys kan kry.  Tit 3:8 sê ons moet goeie werke voorstaan.  Jak 4 en 1 Pet 5 sê, ons moet die duiwel weerstaan.  Ef 5, ons moet  versigtig wees hoe ons loop.

Fil 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 

2 Kor 7:1 Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. 

Al hierdie gedeeltes stel voor dat ons iets moet doen.  Ons kan nie net terug sit en sê, Here hier is ek, doen die werk nie.  Dit is te eenvoudig.  Ja, ons is afhanklik van Sy krag, en ja dit is God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.  Maar nêrens het dit ooit beteken dat jy net moet terug sit en niks doen nie.

As jy dan vanoggend wil sê, “I surrender Lord”, dan moet dit beteken “I surrender to Your will”, jy gee oor aan Sy wil om te doen wat Hy sê.  Daar moet van jou kant af ‘n vlak van commitment wees.  Daar moet self-beheersing en dissipline wees.  Jy moet jou lewe aan Hom toewy elke dag.  Dit is te eenvoudig om net te sê, ek gee oor en dit is dit.

2 Pet 1:3 Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur (sy) heerlikheid en deug 

KJV - him that hath called us to glory and virtue...

Goed! So volgens hierdie vers het God ons geroep tot heerlikheid en deug.  He called us to glory and virtue.  Letterlik sê dit, Hy het ons geroep tot Sy heerlikheid en deug.   

ESV - him who called us to his own glory and excellence...

En om ons toe te rus daarvoor, het Sy goddelike krag ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.  Luister!  As ‘n Christen het jy nie ‘n te kort aan bronne nie.  God het jou alles geskenk.  Hoe het jy dit ontvang?  Die vers sê, deur die kennis van Hom.  Maw toe jy Hom leer ken het en jy gered is, het Hy jou alles gegee, al die bronne gegee wat jy nodig het om te kan lewe en om Hom te kan dien.

So die goddelike bron is daar.  Die goddelike krag is daar.  Dit is beskikbaar.  En nou sê v4 die volgende,

2 Pet 1:4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het...

Dit is ongelooflike beloftes.  Dit is ongelooflike krag.  En dan word ons deelgenote.  Ons het krag, ons het beloftes en word deelgenote van die goddelike natuur.

...sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 

Dit is wat God doen.  Hy gee jou Sy krag.  Hy gee jou die grootste en kosbare beloftes en dan sê Hy, neem nou deel in My goddelike natuur.  Beteken dit nou dat ek net oorgee en sê, let go and let God have His wonderful way, ek gee alles oor aan Jesus en ek doen absoluut niks nie?  Nee!  Hoor wat sê v5 en verder aan,

2 Pet 1:5 En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, 
6 en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, 
7 en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.

Maw, juis nou dat God jou al hierdie dinge gegee het, juis daarom moet jy begin aan die werk spring.  En dit is nie so maklik as net om voor in ‘n kerk te gaan kniel en te bid en sê, “Here ek gee myself oor aan U” nie.  Ja, dit is deel daarvan, maar daar moet commitment wees.  Jy moet jou onderwerp aan die heerskappy van Christus. 

Eertens moet jy erken dat jou krag en bron is die Here Jesus Christus, maar dit is nie die einde nie.  Dit is net die begin.  In Rom 6 lees ons dat ons vereenselwig word met Christus se dood.  Ons word gelykvormig aan sy dood, ons is saam met Hom gekruisig.  Maar dit eindig nie daar nie.  Dit is juis daarom dat ons nie moet toelaat dat die sonde in ons sterflike liggaam heers nie.  Dit is juis daarom dat ons nie ons lede moet stel tot beskikking van die sonde nie.

Fil 2:12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 

Die sleutel woord hier is “gehoorsaam”.  Jy werk uit jou eie heil met vrees en bewing.  Dit beteken nie jy moet jouself red nie.  Paulus skryf aan geliefdes.  Hy skryf aan gelowiges.  Hy sê, hierdie heil wat jy ontvang het, gaan werk hom uit met vrees en bewing.

Fil 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. 

Aan die een kant is dit God wat in jou Sy wil bewerk en aan die ander kant moet jy dit gaan uitwerk in gehoorsaamheid.  God is @ work.  You are @ work.

Kol 1:29 waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag. 

Paulus sê, ek arbei, ek stry, maar dit is volgens Sy werk in my met krag.  Maw ek en God werk saam.  Jy sien, dit is waarom te eenvoudig is om net te sê, “Let go and let God have His wonderful way”.  Dit is waarom dit te eenvoudig is om te sê, “I surrender all”.  

Daar moet commitment wees in jou lewe.  Daar moet self-dissipline wees.  Daar moet gehoorsaamheid wees.  Dit is nie net die Here nie, anders is al die opdragte in die Bybel aan jou sinneloos.  

Nou kom ons terug na Ef 6.  As dit net “surrender all” was en net “let go and let God”, waarom moes ek die wapenrusting van God dan aantrek.  Wat is die doel daarin?  God sal mos alles vir my doen.  Hy sal mos die geveg vir my veg.  Nee! Daar is meer in die Christen lewe as om net oor te gee.  Jy moet ook effort insit.  Jy moet die regte gesindheid hê.  Jy moet gereed wees vir die oorlog.  Jy moet die wapenrusting aan trek.

Ons moet die helm van verlossing aan trek.  Wat beteken dit?  Dit beteken nie om gered te word nie.  Ons klaar in die oorlog teen die duiwel.  Dit beteken om jou sekerheid van saligheid te beskerm teen moedeloosheid en twyfel waarmee die duiwel jou gaan slaan.

Julle sal onthou ons het gepraat oor die drievoudigheid van verlossing.  En dit is die enigste verlossing waarvan die Bybel praat.  Die Bybel praat nie net van ‘n verlossing net in die verlede nie.  Dit praat nie net van ‘n verlossing in die teenwoordige nie.  Die Bybel praat ook nie net van een in die toekoms nie.  Die Bybel praat van al drie dimensies, verlossing in die verlede, in die hede en in die toekoms.  Hierdie drie vorm saam een volkome verlossing.

Kan julle onthou.  (slide) In die verlede is ek verlos van die straf van sonde.  In die hede word ek verlos van die mag van sonde.  In die toekoms sal ek verlos word van die teenwoordigheid van sonde.  Dit is regverdigmaking, heiligmaking en verheerliking.

Die helm van verlossing, waarna verwys dit?  Dit verwys na die toekomstige verlossing.  Dit gaan nie oor die verlossing in die verlede nie.  Selfs ook nie oor die hede in ‘n sekere sin nie, maar dit gaan eerder hier oor die toekomstige verlossing.

Die helm van verlossing is die sekerheid van jou saligheid in die toekoms.  En die feit dat jy daardie sekerheid het, dat daar vir jou ‘n ewige heerlikheid wag, dat daar vir jou ‘n verlossing is van hierdie sondige liggaam en dat jy verlos sal word van die teenwoordigheid van sonde is juis dit wat jou gaan beskerm teen moedeloosheid en twyfel.

Maw as die duiwel jou kom slaan met moedeloosheid, trek die helm van verlossing aan.  Wat beteken dit?  Wanneer jy moedeloos word, onthou dat jou verlossing is naby.  Onthou dat daar is vir jou groot en heerlike dag wat voorlê.  Onthou dat jy naby die eindstreep is.  Al maak jou bene soos jelly, byt vas, strek jou uit na dit wat voor is.

Fil 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 

Dit is die einde in sig wat jou moed gee, wat jou krag gee om aan te hou en uit te hou.  Moenie jou toekomstige verlossing vergeet nie.  Onthou dat daar vir jou loon is, onthou dat daar vir jou ‘n kroon of krone wag.  Die dag kom wanneer Jesus gaan sê,

Matt 25:21 ...Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. 

So die helm van verlossing is die sekerheid en vertroue wat jy het in ‘n toekomstige verlossing.  Dit is jou hoop op saligheid.  As ek gered was en ek word gered, maar daar is nie vir my ‘n redding in die toekoms nie, hoekom moet ek dan aanhou en volhard.  As daar nie ‘n toekoms is nie, hoekom veg ek in hierdie oorlog?

1 Kor 15:32 As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons! 

Luister!  As daar nie ‘n toekoms is nie, kan ons maar net sowel nou alles vergeet!  Watter soort saligheid of verlossing is dit as dit nêrens heen oppad is nie?  Paulus sê, dink julle ek gaan my lewe op die spel plaas vir ‘n klomp wilde diere?  Dink julle ek gaan ‘n klomp wilde heidene aanvat met die evanglie van Jesus Christus as daar gee opstanding is nie?  Nee wat, ek gee sommer nou op.  Dan kan ons maar net sowel eet, drink en sterf.

Nee!  Dit is daardie hoopvolle toekoms wat jou vlak van commitment gaan behou.  Om te weet dit is nie alles vernuut nie.  Ons gaan opgewek word in heerlikheid.  So die toekomstige dimensie van jou verlossing word ‘n groot krag in jou lewe hier en nou.

Die tweede ding waarmee die duiwel jou gaan probeer slaan is twyfel.  Die duiwel wil hê dat jy moet twyfel in jou eie saligheid.  Meeste gelowiges op een of ander stadium het al getwyfel oor sy saligheid.

Die oomblik wat jy sondig en jy voel skuldig dan kom die duiwel en sê, jy is nie ‘n Christen nie.  Jy kan nie ‘n Christen wees nie.  Hoekom sal die Here iemand soos jy red?  Jy sal dit nooit maak nie.  Jy is nie goed genoeg nie.  Jy verdien dit nie.  Hoe weet jy of jy dit regtig bedoel het toe jy hart vir die Here gegee het?  Jy moet maar weer probeer en kyk of dit vir jou gaan werk.

Ek dan daar is kerke wat leer dat jy jou saligheid kan verloor.  Hulle leef in hierdie staat van onsekerheid die hele tyd.  Daar is ook ander wat vir jou sal sê, jy sal nooit weet nie, totdat jy eendag voor God gaan staan, dan sal jy uitvind of jy nou gered is of nie.  Hulle leef in hierdie vrees, gaan ek dit maak of gaan ek dit nie maak nie?  Wat ‘n verskriklike ding om mee saam te leef.

1 Jon 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. 
13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God. 

Luister!  Dit is nie ‘n raai raai speletjie nie.  Ek kan mos nie weet ek het die ewige lewe as ek dalk wonder of twyfel of ek dit gaan maak of nie.  Daar is sommige wat preek dat elke keer as jy sondig verloor jy jou saligheid.  Maw as ek nou sondig en die Here kom en ek het nie daardie sonde bely nie, is ek verlore en gaan ek hel toe.

Kan jy jouself net indink met watter vrees ‘n mens moet saamleef?  Die duiwel wil hê jy moet twyfel in jou verlossing.  Hy wil hê jy moet twyfel in die beloftes van God.  Hy wil hê jy moet dink dat God nie Sy Woord sal nakom nie.  Hy wil hê dat jy moet glo dat jou saligheid is nie verewig nie.  Wel ek het vir jou nuus,

Heb 5:9 en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword 

Jesus is die bewerker van ewige saligheid.  Hoe kan ons staande bly teen die liste van die duiwel wat ons aanval met hierdie leuens?  Trek die helm van verlossing aan!

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. 

KJV
Joh 6:37 All that the Father giveth me shall come to me; and him that cometh to me I will in no wise cast out. 

“in no wise” beteken onder geen omstandighede nie.  Maw Jesus sal die wat na Hom toe kom onder geen omstandighede uitwerp nie.  Daar is geen manier wat die gelowige weer verlore kan gaan nie.  Kyk mooi!  Die vers sê, “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”

Dit is die Vader se beloning aan Sy Seun vir die versoeningswerk wat Hy aan die kruis gedoen het.  Die Vader gee aan Sy Seun ‘n liefdes geskenk.  Wat is dit?  Die kerk, die gelowiges, ek en jy.  Goed!  Dit is hoe die Vader Sy liefde aan Sy Seun bewys.  Hy gee ons as ‘n geskenk aan Hom.

Nou!  Hoe bewys die Seun Sy liefde aan Sy Vader?

Joh 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. 

Maw die Seun bewys Sy liefde aan Sy Vader deur die geskenk wat die Vader aan Hom gegee het, te bewaar en te verseker dat hy nie daarvan sal verloor nie.  Dat hy nooit iemand wat na Hom toe kom sal uitwerp nie.  Hy hou vas aan daardie kosbare geskenk wat die Vader aan Hom gegee het.  Hy sal dit nooit verloor nie.

Ek wil hê jy moet een ding verstaan.  Dit gaan nie oor jou nie.  Jesus bewaar jou nie omdat jy so spesiaal is nie.  Nee!  Jesus bewaar elke gelowige omdat Hy Sy Vader so liefhet, daarom sal Hy nie een verloor wat ‘n liefdes geskenk van die Vader aan Hom was nie.  Sien jy dit?

Hoeveel het Jesus al verloor? Nie een nie.  So daar is geregtigheid, heiligmaking en verheerliking.  Verlede, hede en toekoms sonder enigeen wat verloor word.

John MacArthur sê, “...the Bible teach that God has a counsel that cannot be changed, a calling that cannot be revoked, an inheritance that cannot be defiled, a foundation that cannot be broken, a seal that cannot be shaken, a life that cannot perish.”

Kom ons kyk na Joh 10:

Joh 10:27 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 

“My skape”, wie se skape is dit?  Christus se skape.  Julle is Christus se skape.  Let op!  As jy Christus se skape is, is dit Sy plig om na Sy skape te kyk en hulle te beskerm, korrek?  As net een van Sy skape verlore gaan, dan is dit ‘n refleksie op die karakter en kwaliteit van die Herder.  So ons is aan Christus verbind, want ons is Sy skape.

“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My”.  Luister mooi!  Wat doen Sy skape?  Hulle luister na Hom en hulle volg Hom.  Daar is geen uitsonderings nie.  Hulle luister nie na vreemdelinge nie.  Hulle luister net na Hom.

Wat beteken dit?  Ware Christene word bewaar in die krag van die groot Herder en tweedens volg hulle Hom.  Hulle mag dalk struikel en sondig, maar hulle is daar, hulle is nie verlore nie.  En nou sê v28, 

Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 

“Ek gee aan hulle die ewige lewe”.  Nou hoe lank is die ewige lewe?  Dit is verewig.  Die ewige lewe het nie ‘n einde nie.  As jy jou saligheid kan verloor en die ewige verloor, dan weerspreek jy jouself, want die ewige lewe kan nie eindig nie.  So as jy die ewige lewe ontvang het, kan dit mos nie eindig nie?

Verder is dit ‘n geskenk.  “Ek gee aan hulle die ewige lewe”.  Jy het niks gedoen om dit te verdien nie.  En daar is niks wat jy kan doen om dit te behou nie.  Dit is ‘n geskenk.  Die teksgedeelte gaan nog verder en sê, 

“hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie”.  As jy sê dat ‘n Christen kan weer verlore gaan, maak jy Jesus ‘n leuenaar.  Jesus sê jy sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie.  As Jesus nie die waarheid gepraat het nie, dan kan jy maar jou Bybel weggooi.  Vergeet van Christenskap.

“niemand sal hulle uit my hand ruk nie”.  Daar is geen mag in die heelal wat groter en sterker is as God nie, en as God jou vashou in sy hand dan is dit so.  

Joh 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 

Let op!  In v28 sê Jesus, niemand kan julle uit My hand ruk nie.  In v29 sê, niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.  Dit is ‘n dubbele versekering en dubbele beskerming.

Hierdie gedeeltes bevestig en verseker jou saligheid.  Dit verseker dat ‘n verlossing in die verlede verseker ook ‘n verlossing in die toekoms.

Paulus het gesê, 

Rom 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 
39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. 

Dit is so duidelik soos daglig.  Paulus sê, dat niks in die heelal nou en in die toekoms kan die gelowige skei van God nie.  Ek het al vir julle gelees Fil 1:6 wat sê dat God sal die werk wat Hy begin het, dit is verlossing in die verlede, Hy sal dit voleindig tot op die dag, dit verlossing in die hede, tot op die dag van Christus, dit is verlossing in die toekoms.

Dit is die helm van verlossing.  Daardie hoop op die saligheid, omdat God dit verseker, omdat Jesus Christus jou bewaar en jou beskerm.  Moenie luister na die duiwel se leuens wat twyfel wil saai en vir jou wil sê, dat jy dit nie gaan maak nie.

Slot

As jy nie vertroue het dat jy dit eendag gaan maak nie is dit een van twee redes.  Dit kan wees dat jy nie regtig ‘n Christen is nie.  Daarom moet jy ook jouself ondersoek, soos Paulus sê, om te sien of jy in die geloof is of nie.  Stel jouself op die proef om te sien of Christus in jou is.

Of tweedens as jy wedergebore is, en die duiwel kom en slaan jou met twyfel, dan beter jy jou helm van verlossing aantrek.  Na wie gaan jy luister.  Gaan jy die duiwel glo of gaan jy God glo.

Heb 6:17 Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; 
18 sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; 
19 en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel 
20 waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgisédek ‘n hoëpriester geword het vir ewig. 

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288