Tuesday 28 June 2011

GODDELIKE BELOFTES GEWAARBORG


Goddelike beloftes gewaarborg: Ef 1:11-14

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
12 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,
13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

God het beloftes gemaak aan elke gelowige wat in Jesus Christus is.  Ja, die Here gee vir jou persoonlik sekere spesifieke beloftes wat jou lewe meer betekenisvol maak, maar ek wil hê jy moet die ongelooflike dinge raaksien wat God beplan het vir dié wat in Christus is. 

God hou altyd Sy beloftes.  Maar daar is sekere beloftes waaroor jy nooit nooit hoef enigsins te twyfel nie en waaroor jy nooit hoef eers twee keer oor te dink nie.  Baie mense maak beloftes en breek dit, maar daar is Een wat beloftes maak en dit nooit verbreek nie.  Dit is Jesus Christus.  En die belofte wat Hy hier in Efesiërs vir ons gee, is die mees opwindenste en ongelooflikste beloftes van almal.

In 2 Pet 3 lees ons dat die Here vertraag nie Sy beloftes nie.  Paulus sê in Tit 1:2 dat God nie kan nie lieg nie.  Hebr 10:23 sê dat Hy wat beloof is getrou.  Rom 4:21 sê dat Hy die mag het om te doen wat Hy belowe het.  So kom ons gaan kyk na hierdie beloftes waarvan ons gelees het in Ef.

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het...

Hierdie is God se belofte aan ons.  God sê dat ons ‘n erfdeel ontvang het.  Nou in watter tyd is die werkwoord?  In die verlede tyd.  Maw dit beteken dat dit het alreeds gebeur.  Ons het alreeds ‘n erfdeel ontvang.  Die oomblik toe jy Jesus Christus aangeneem het, het die erfdeel joune geword.

Beteken dit dat jy dit al gekry het?  Wel, ‘n gedeelte kry jy eers as jy in die hemel is, maar ‘n gedeelte daarvan is nou joune.  Ons sal nou sien wat dit beteken.  Verder is die werkwoord in ‘n passiewe vorm en dit kan op twee maniere vertaal word.

Die eerste moontlike manier kan so vertaal word, “in wie ons die erfdeel gemaak is”.  Maw dit beteken dan dat ons Christus se erfdeel gemaak is.  Maw Christus erf ons.  Wel as die vers so vertaal het sou dit nie teologies verkeerd gewees het nie, want ons, die kerk is ‘n liefdesgeskenk van die Vader aan Jesus.

Jy sien, toe ek Jesus aangeneem het, het God gesê, hier is Rudi Botha.  Hy behoort nou aan jou.  Die kerk is in daardie sin die erfdeel wat Jesus van die Vader ontvang, omdat Hy getrou was tot die dood.

Mal 3:17 En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep...

17 And they shall be mine, saith the LORD of hosts, in that day when I make up my jewels...

Ons is die tempel van die Heilige Gees en ons behoort nie aan onsself nie.  Ons behoort aan Hom.  Hand 20:28 sê dat die kerk het Hy deur Sy eie bloed verkry.  Ja, in daardie sin is ons Chrisrtus se erfdeel gemaak.  Dit is hoe die vers vertaal kan word agv die passiewe vorm van die werkwoord.

Maar die vers kan ook vertaal word soos ons Afrikaanse vertaling dit ook dan vertaal het, dat ons ‘n erfdeel ontvang het.  Dit kan dit ook beteken.  Dit kan beteken dat ons Christus as erfdeel ontvang het.  So aan die eenkant is ons Sy erfdeel gemaak, aan die ander kant is Hy ons erfdeel wat ons ontvang het.  Ons behoort aan Hom en Hy behoort aan ons.  Beide is waar.

Maar in die konteks dink ek die tweede vertaling is korrek.  Want dit gaan tog om die belofte wat God vir ons gegee het.  Paulus praat tog oor die dinge wat God vir ons gee.  Hy praat hier dan eerder van dit wat ons in Christus ontvang het.

En die Nuwe Testament praat so baie hieroor.

1 Pet 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,
4 sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons

Hierdie erfdeel word vir ons bewaar, dit word vir ons gehou, dit is onverganklik, onbesmet, onverwelklik.  Dit kan nie verbygaan nie.  Wanneer jy dan gered word dan is deel van hierdie erfdeel reeds nou joune, alhoewel die vervulling daarvan nog in die toekoms lê.

Wat is hierdie erfdeel?  Wat het ek reeds ontvang?  Wil jy weet?  Is jy gereed?  Alles wat God ooit belowe het.  Elke belofte wat God gemaak het.  Dit is jou erfdeel.

2 Pet 1:4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het...

2 Kor 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.

In Hom is hulle ja en in Hom amen.  Is dit nie wonderlik nie?  Dit is God se besigheid, om te gee.  Hy gee groot en kosbare beloftes.  Waarna is jy opsoek? Vrede?  Hy het dit gegee.  Liefde?  Genade?  Wysheid?  Ewige lewe?  Vreugde?  Oorwinning?  Krag?  Leiding?  Hy het dit gegee.  Krag, genade, vergifnis, geregtigheid, gawes, hemelse rykdom.

Jy sien, wanneer jy ‘n Christen word, word jy een met Jesus Christus.

1 Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.

En nou dat jy een is met Hom ontvang jy alles wat die Vader vir Hom gegee het.  Paulus sê,

Rom 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Ons is erfgename van die beloftes wat God gegee het.

So kom ons kyk na drie dinge wat ons kan aflei uit ons teksgedeelte:  Eerstens, die basis van ons erfdeel.  Tweedens, die waarborg van ons erfdeel en, derdens die doel van ons erfdeel.

1.    Die basis van ons erfdeel

Maw, hoe ontvang ons hierdie erfdeel?

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het...

Daar is net een manier waarop jy God se beloftes, die erfdeel kan ontvang.  IN HOM, IN CHRISTUS.  Die basis van ons erfdeel is Christus.  Jy sien, daar is geen manier om enigiets wat God wil gee te kry buite Christus nie.  Daar is niks buite Christus nie.  Daar is geen verlossing buite Hom nie, want daar is geen ander naam onder die hemel waardeur die mens gered kan word nie.  God sê, dit is in Hom.

Ef 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,

Dit is in Christus.  Dit is in eenheid met Hom.

Rom 6:3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

Nou hier praat Paulus nie van die waterdoop nie.  Hy praat van ons vereniging met Christus.  Die woord doop is die woord “baptizo” wat ook vertaal kan word “om in te plaas”. Maw ons is in Christus geplaas.  Ons is in ‘n geestelike eendheid met Christus gebring.  Verder sê dit, ons is in sy dood gedoop. 

Rom 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;

Hier is ‘n ongelooflike gedagte.  Die dag toe jy ‘n christen geword het, het God op een of ander wonderbaarlike manier, jou twee duisend jaar terug gevat, en is jy saam met Christus gekruisig, saam met Hom begrawe, het jy saam met Hom opgestaan.  Jy het verewig en altyd een geword met Christus.

God doen ‘n ongelooflike wonderwerk.  God plaas jou in ‘n eenheid met Jesus.  Jy het saam met Hom gesterf, so jou sondestraf is klaar betaal.  Jy het saam met Hom opgestaan, en nou wandel jy in ‘n nuwe lewe.  Jy is nou een met Hom en alles wat God aan Sy seun gegee het jou ook nou deel aan.  Dit is eenheid met Christus.  Dit is wat dit beteken om in Christus te wees.

Maar hoe het dit gebeur?

Ef 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.

Dit het so gebeur, want God het so besluit.  God het dit so verordineer.  Dit is God se wil dat dit so moet gebeur.  Alles werk volgens die raad van Sy wil.  En wanneer God reeds voor die grondlegging van die wêreld besluit het dat dit Sy plan is en dit is hoe dit moet gebeur, dan sal dit so gebeur.  Want Hy is God.  Wie kan Hom voorskryf?  Wat God besluit, wat God sê, dit sal so wees!

Fil 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;

KJV
Php 1:6 Being confident of this very thing, that he which hath begun a good work in you will perform it until the day of Jesus Christ:

Luister! God red nie iemand en dan iewers langs die pad gooi Hy hom weg agv sekere redes en dan hou Sy werk op in daardie persoon se lewe nie.  God maak klaar met dit wat Hy begin het.

God se reddings werk is nie onvolkome nie.

Heb 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.

KJV
Heb 7:25 Wherefore he is able also to save them to the uttermost...

Wanneer God iets begin, sal Hy dit klaar maak.  Dit is nie God wat jou red en nou moet jy klaar maak nie.  Nee!  Hy voleindig die werk wat Hy begin het.  Jou saligheid, jou redding hang nie van jou af nie, dit hang alles af van die werk wat God in jou begin het. 

Ef 1:12 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het.

Die rede hoekom God ons red is, sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid.  God red ons, sodat Hy die eer daarvoor kan ontvang.  Sien jy dit?
God soek al die eer.  God soek al die erkenning.  Ek meen, kom ons erken dit, niemand kan met Hom kompeteer nie.  God verdien al die eer.  Maar wat is my verantwoordelikheid, wat moet ek doen?  Ons kan maar net op Christus hoop.  Ons kan maar net ons vertroue op Christus plaas.

Ef 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

Dit is al wat jy kan doen.  Jy moet glo.  Jy moet glo in dit wat God vir jou gedoen het.  God kry al die eer en krediet wanneer dit kom by jou saligheid.  Dit is nie iets wat jy gedoen het of verdien het nie.  Jy reageer op God se genade deur te glo.  Ons hoop op Christus.  Moet dit nie meer ingewikkeld maak as dit nie.

Jy hoef nie geestelike oefeninge te doen, of allerhande rituele te onderhou nie.  Nee!  Jy moet net glo.  Want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die  mond bely ons tot redding.  Dit is deur geloof.  En dit is waarom God ‘n godsdienstige sisteem haat, want mense dink hulle kan hulle weg na die hemel toe verdien.

Wat van goeie werke?  Goeie werke is nie die wyse waarop jy in die hemel gaan ingaan nie.  Goeie werke is die vrug van ware geloof.  Dit is die vrug van ‘n ware bekering nie die wyse waarop jy bekering ontvang nie.

2.    Die waarborg van ons erfdeel

Maw hoe behou ons hierdie erfdeel wat ons ontvang het?  Is daar ‘n waarborg dat ek nie hierdie erfdeel kan verloor nie?  Kyk wat sê vers 13,

Ef 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

Nou dit is belangrik dat ons sal besef dat ons redding is klaar ‘n werklikheid maar dit is nog nie volkome afgehandel.  Wat bedoel ek?  Ons is geestelik gered, ons is wedergebore, maar ons het nog nie ‘n verheerlikte liggaam ontvang nie.  Ons leef nog in ‘n sondige liggaam.  En ons sal eers verlos wees van hierdie liggaam by die opstanding, wanneer ons ‘n verheerlikte liggaam ontvang.

Ons is nog nie in die hemel, in ons Vader se huis nie.  Ons het nog nie alles in daardie sin ontvang nie.  Ons het die beloftes van ons erfdeel klaar ontvang, in Christus het ons ‘n erfdeel ontvang, maar daar is nog baie beloftes wat in die toekoms lê. 

Maar hoe weet ek dat ek hierdie beloftes wat ek nou reeds het, dat dit ‘n werklikheid gaan word?  Dat ek die erfdeel wat God aan my belowe het gaan ontvang?  Wat is die waarborg wat ek het?  Die Heilige Gees.  Ons is verseël met die Heilige Gees van die belofte.  Jy sien.  Die Heilige Gees is die waarborg dat die beloftes van jou erfdeel wat jy het, dat jy dit gaan kry.

Die Heilige Gees waarmee jy verseël is, waarborg God se beloftes.  Maw toe jy ‘n kind van God geword het, het God die Heilige Gees aan jou gegee.

Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.

As jy nie die Heilige Gees het nie, behoort jy nie aan Hom nie.  Maw as jy ‘n kind van God is, het jy die Heilige Gees.  Paulus sê, jou liggaam is die tempel van God se Gees.  God het in jou kom woon.  Dit is hoekom daar ‘n verandering plaasgevind het.  Dit is hoekom jy ‘n nuwe skepsel is.  Want die Gees van God het ingetrek.

En die Heilige Gees is nie net daar om jou te versterk en krag te gee nie, maar Hy is die waarborg van jou erfdeel.  Die Heilige Gees getuig saam met jou gees dat jy ‘n kind van God is.  Die Heilige Gees bevestig die goeie werk wat God in jou begin en waarborg dat God dit sal voleindig.

Wat beteken hierdie woord “verseël”?  In daardie tyd het mense as hulle ‘n dokument verseël het, het hulle kerswas gebruik.  Die koning het dan sy ring gevat en dit in die was gedruk en die dokument verseël.

Nou in die geval is Heilige Gees die seël.  Wat beteken dit?  Eerstens, was die seël ‘n teken van sekuriteit.  Kom ek gee vir julle ‘n voorbeeld in Daniël.  Hulle het vir Daniël gesê dat hy nie tot God mag bid nie, anders het hy in groot moeilikheid gekom.  Maar wat doen hy?  Hy bid tot God en hulle gooi hom in die leeukuil.

Dan 6:16 Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos!
17 En ‘n klip is gebring en op die opening van die kuil gelê, en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met Daniël sou gebeur nie.

Maw as enigiemand verby die leeukuil gestap het en die koning se seël op die klip gesien het, het hulle geweet dat niemand mag daardie kuil oopmaak nie.  Hoekom nie?  Want die koning, die hoogste outoriteit in die land het die kuil verseël.  Dit was die merk van die koning.  Net iemand wat hoër as die koning was, kon die seël breek.

Kom ons kyk na nog ‘n voorbeeld.  Toe Jesus begrawe is, het hulle ‘n klip voor die graf gerol en wat het hulle gedoen?  Hulle het dit verseël met ‘n seël van Rome.  Niemand mag die graf oopgerol het nie.  Net ‘n hoër gesag mag die seël gebreek het.  Ja, en ‘n hoër gesag, groter as Rome het die seël gebreek.

Dit is wat gebeur.  Wanneer jy ‘n kind van God word, kom plaas God ‘n seël op jou.  Hy verseël jou met die Heilige Gees en sê, jou saligheid is verseker.  En niemand kan daardie seël breek nie, tensy jy groter as God is nie.  En daar is niemand.  Die seël is God se waarborg, die Heilige Gees waarmee jy verseël is, is God se waarborg dat jy nooit verlore sal gaan tot in alle ewigheid nie.
Is daar so iets soos ewige sekuriteit? Een honderd persent, een duisend maal JA!  God verseker my saligheid en Hy waarborg dit met Heilige Gees wat in ons woon.  Die seël spreek van sekuriteit wat nooit verbreek word nie. 

Die seël spreek ook van ‘n volledige transaksie wat plaas gevind het.  Dit is afgehandel.  Dit is volbring.  Daar is niks meer wat nodig is om jou erfdeel te verseker nie.

My vriende, ons is nie nog in die proses om gered te word nie.  Wanneer jy jou geloof in Jesus Christus plaas en God die Heilige Gees vir jou gee, is jou redding afgehandel.  Dit is verseker.  Die transaksie is afgehandel.  Jy hoef nie te bekommer of jy dit gaan maak of nie.  Jy gaan.  Dit is finaal.  Jy is verseël met die Heilige Gees en dit verseker die erfdeel, dit waarborg volkome redding.  Dit waarborg ewige verlossing.

3.    Die doel van ons erfdeel?

Hoekom doen God dit?

Ef 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Die vers eindig met... “tot lof van sy heerlikheid.”

God doen dit sodat Hy daardeur verheerlik kan word.  Luister!  Die dag wat jy jouself probeer red.  Die dag wat jy jouself wil verhoog en jouself wil laat geld of probeer om een of ander belangrike ou te wil wees, is die dag wanneer jy in kompetisie met God gaan.  En raai wat? Jy gaan verloor.  Want ons is slawe van Christus en God deel nie Sy eer met enige mens nie.

Ons moet onsself verneder voor God.  Sy genade maak ons nederig.  En al wat ons moet doen is om Jesus te verhoog, om Hom te verheerlik.

Slot

God het dit alles vir ons gedoen.  Vers 14 sê dat die Heilige Gees is die onderpand van ons erfdeel.  Die Griekse vir onderpand is “arrabon”.  Dit beteken twee dinge:  dit beteken ‘n afbetaling, ‘n deposito.  Dit is wat God sê vir jou en my sê:  Hy sê, Rudi Botha, Ek gaan jou al My beloftes gee, en net sodat jy kan weet dat Ek die waarheid praat, gee Ek jou ‘n deposito, ‘n Goddelike waarborg, die Heilige Gees.

Die ander betekenis is dit: dit verwys na ‘n verloof ring, ‘n pand.  Het jy geweet daar gaan ‘n bruilof in die hemel plaasvind?  Het jy geweet dat Christus is die bruidegom en ons, die kerk is die bruid.  Maar hoe weet ons dat die bruilof sal plaasvind?  God het my ‘n verloofring gegee, die Heilige Gees.

Dit is God se belofte aan ons, die Heilige Gees, om ons erfdeel te verseker.  Om te verseker dat ons kinders van God is.  Om ons ewige lewe te verseker.  Dit is ons ewige sekuriteit.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288