Tuesday 5 July 2011

KAP AGAG IN STUKKE


Kap Agag in stukke: 2 Kor 1:12, Rom 6:14-17

2 Kor 1:12 Want ons roem is dit: die getuienis van ons gewete dat ons in eenvoudigheid en reinheid van God, nie in vleeslike wysheid nie, maar in die genade van God in die wêreld verkeer het, en veral by julle.

Rom 6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.
15 Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!
16 Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?
17 Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is

‘n Rein gewete.  Ek dink dit is een van die kosbaarste besittings wat ‘n mens op aarde kan besit.  Paulus sê in 2 Kor 1:12 dit is waarin ons roem.  Hy sê ons gewete was eenvoudig en rein.  Hy is sê dit is iets waaroor jy trots kan wees aan die einde van die dag.  Hy sê, dit is nie in menslike wysheid waarin ons roem nie, maar in die genade van God.  Paulus geniet ‘n rein gewete.

En ons almal weet hoe dit voel wanneer jou gewete jou aankla, wanneer jou gewete jou beskuldig.  Die gewete is die siel se waarskuwings meganisme.  Dit gewete bring skuld gevoelens, skaamte, vrees, onrustigheid, twyfel, en selfs fisiese siekte en pyn.

God het aan elke mens ‘n gewete gegee om ons te waarsku teen die dinge wat ons siel vernietig.  En ons moet op so plek wees soos wat Paulus hier beskryf dat ons ‘n rein gewete het wat ons nie aankla nie.  Nou, Paulus was nie perfek nie, maar hy het oor sonde in sy lewe geheers. 

Ek dink nie daar is een Christen wat met eerlikheid kan sê toe hy gered is, dat sonde in sy lewe totaal en al opgehou het nie.  Christene sondig ook.  Christene sukkel ook met sondige gewoontes en hoe om daarvan ontslae te raak.  En somtyds maak Christene ook groot flaters.

Ons woorde en ons dade is nie altyd wat dit veronderstel is om te wees nie.  Ons tyd word somtyds vermors op wêreldse dinge.  Ons gedagtes en ons belange is soms gerig op dinge wat geen ewigheids waarde het nie.  Ons harte word soms koud teenoor dit wat heilig is en teenoor die werk van die Here.  En die vraag is: Hoekom gebeur dit?

As ons na Rom 6 toe gaan, dank link dit of alles anders moet wees.  V14 sê dat sonde nie meer oor ons heers nie, v17 dat ons is nie meer diensknegte van sonde is nie.  En ja, dit is so, maar hoekom sukkel ons soms om ‘n rein lewe te leef en ‘n rein gewete te geniet.

Hoekom is ons heeltyd in ‘n oorlog gewikkel met sonde?  Die rede is, omdat daar steeds sonde in ons woon.  Ons is gered van die straf van sonde en Christus het ons straf op Hom geneem op die kruis. 

Ons is gered van die heerskappy van sonde in die sin dat ons nie meer gehoorsaam hoef te wees aan sonde nie.  Ons is nie meer slawe van sonde nie, maar die teenwoordigheid van sonde sal eers ophou wanneer ons volkome verlos is van hierdie sondige liggaam by die opstanding.

Alhoewel ons gered is en ons vergifnis van sondes ontvang het, is daar steends sonde wat in ons woon.  En dit is die probleem.  As jy ‘n skoon lewe wil leef en ‘n rein gewete wil hê, sal jy moet deel met hierdie sonde wat nog in jou woon.  Die vraag is: hoe?

Kom ons kyk na ‘n voorbeeld in die Ou Testament wat ons kan help.  Dit kan ons wys hoe om met oorblywende sondes in ons lewe te deel sodat ons ‘n rein gewete kan hê.  As kind van God kan jy ‘n eenvoudige en rein gewete hê.  Kom ons gaan kyk na 1 Sam 15.

1 Sam 15:1 Toe sê Samuel vir Saul: Die HERE het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE.

Saul was gekies omdat hy kop en skouers hoër was as die ander.  Hy was van die stam van Benjamin en hy was wat die mense van ‘n koning verwag het en die Here het besluit om hulle te gee wat hulle wou gehad het.

Maar as Saul hierdie posisie as koning wou opneem sou daar iets wees wat hy moes doen.  Hy moes koning wees oor God se volk en dit sou beteken dat Hy na God moet luister.  God sê dan vir Saul,

1 Sam 15:2 So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte.
3 Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.

Sjoe!  Hy moet ‘n hele volk gaan uitroei.  God se opdrag was duidelik.  Hy moes nie net die manne doodmaak nie, hy moes die vrouens en kinders en babatjies en dan ook al die diere doodmaak.  Hy moes hulle total en al uitwis.  Geen gevangenisse nie. 

Nou die vraag wat sekerlik by julle ook opgekom het is: hoekom sou ‘n God van liefde en genade so verskriklike oordeel oor mense bring?  Sonder om in al die detail in te gaan, was dit die Amalekiete wat Israel aangeval en doodgemaak het, omdat hulle God gehaat het.  Julle sal onthou die oorlog toe God vir Moses gesê het, solank as wat hy sy arms omhoog hou, het Israel die oorlog gewen.

Deut 25:17 Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het,
18 hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie.
19 As dan die HERE jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.

God het Israel gered van die Amalekiete.  En die uiteinde het God vir Moses gesê, in Eks 17:14 dat Hy hulle sal uitdelg.  God se wraak was teen hulle boosheid.  In Num 24:20 het God vir Bileam gesê om die ondergang van Amalek te profeteer.

So in 1 Sam 15 het die tyd aangebreek.  En God sê, nou dat Israel ‘n koning het, het die tyd aangebreek om op te tree.  Gaan nou en verslaan hulle.  Saul en sy weermag is die instrument waardeur God Sy belofte aan Israel gaan vervul.

Maar Saul was nie 100% gehoorsaam nie.  Kom ons lees vanaf vers 7,

1 Sam 15:7 En Saul het die Amalekiete verslaan van Hawíla af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê.
8 En Agag, die koning van Amalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref.
9 Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was—dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.

Saul was ongehoorsaam.  Sy liefde vir geld het gemaak dat hy die beste vir homself gehou het.  En hy neem die koning van Amalek, Agag gevange.  Hoekom?  Hoekom sou hy so blatant ongehoorsaam wees.  In die geval was dit nie net sy materialisme nie, maar ook sy trots.

Saul het een van die grootste vegters en konings gevange en hy wou daarmee spog.  Kyk wie het ek, kyk wie het ek vernietig.  Dit was trots en materialisme.  Maar Saul se sonde was van so aard dat God hom as koning verwerp het (v23).

1 Sam 15:32 Daarop sê Samuel: Bring Agag, die koning van Amalek, na my toe. Terwyl Agag dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk.
33 Maar Samuel het gesê: Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die HERE in Gilgal.

Dis nogals wreed, is dit nie?  God het gesê almal moet sterf en Samuel doen wat Saul moes gedoen het.  Dit was God se oordeel teen sonde.

Hierdie gebeurtenis is ‘n prentjie van God se gesindheid teenoor sonde.  Ongelukkig het die oorlog wat veronderstel was om al die Amalekiete uit te roei nie geslaag nie, want die soldate was waarskynlik te besig om goed bymekaar te maak, dat hulle nie hulle opdrag heeltemal uitgevoer het nie en nie al die Amalekiete verslaan is nie.

‘n Paar jaar later het hulle weer gekom en vrouens en kinders gevange geneem.

1 Sam 30:1 En toe Dawid met sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete ‘n inval gedoen in die Suidland en in Siklag, en hulle het Siklag verslaan en dit met vuur verbrand.
2 En hulle het die vroue en almal wat daarin was, gevange weggevoer, van die kleinste af tot die grootste toe; hulle het niemand gedood nie, maar hulle weggevoer en verder gegaan.

Ook Dawid se twee vroue was gevange geneem.  Dawid verslaan hulle toe, maar 400 manne op kamele het weggevlug.

Hierdie gebeurtenisse gee vir ons ‘n prentjie van God se gesindheid teenoor sondaars en Sy wraak teen sonde.  Maar dit gee vir ons ook ‘n beeld vanoggend van ‘n gelowige se lewe. 

Die oomblik toe jy gered is, was sonde in jou lewe vernietig net soos die Amalekiete.  Maar daar was nog steeds oorblywende sonde.  Nie al die Amalekiete was vernietig nie.  Daar is nog Amalekiete wat los rond hardloop.  Daar is nog Agags in ons lewens.

Alhoewel sonde, Agag oorwin is by ons redding, is dit nodig dat ons die Agags in ons lewens wat nog lewe sal stukkend kap.  As ons dit nie doen nie, sal dit ons van ons geestelike krag beroof.  Ons mag nie genadig wees met die Agags in ons lewens nie.  Ons mag nie genadig wees met oorblywende sonde nie, anders sal hulle terug kom en jou gevange neem en probeer om jou lewe te verwoes.

Ons moet soos Samuel met sonde deel en Agag in stukke kap.  Die sonde in ons moet vernietig word.  En solank as wat jy nie daarmee gaan deel nie, sal jy nooit soos Paulus op die plek kan kom waar jy roem in die feit dat jou gewete eenvoudig en rein is nie.

Kol 3:5 Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,
6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,
7 waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het.

Ons moet ernstig deel met sonde in ons lewens.  Jy moet die Agags doodmaak.  Daar mag nie Agags oorbly nie. 

Rom 8:12 Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie;
13 want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.

Julle moet die werke van die liggaam doodmaak.  Wanneer iemand die werke van die liggaam doodmaak is dit ‘n eienskap van iemand wat lewe.  Maw dit is die eienskap van ‘n gelowige om die werke van die liggaam dood te maak.  En dit gebeur deur die Gees.

Nadat Paulus oorwinning oor sonde verklaar het in Rom 6, beskryf hy in Rom 7 sy stryd met sonde.  Sonde moet in stukke gekap word.  Dit is al hoe jy ‘n eenvoudige en rein gewete sal hê. 

KJV
Rom 8:13 For if ye live after the flesh, ye shall die: but if ye through the Spirit do mortify the deeds of the body, ye shall live.

Luister!  Jy word nie ‘n Christen wanneer jy die werke van die liggaam doodmaak nie.  ‘n Sondaar kan nie die werke van die liggaam doodmaak nie.  Dit is alleen deur die Gees wat die jy die werke van die liggaam kan doodmaak, wat veronderstel dat jy alreeds die Gees van God in jou het.

‘n Ware gelowige sal nie soos Saul optree nie, deur die Agags in sy lewe te pamperlang en te behou nie.  Die ware gelowige sal soos Samuel optree deur die Agags stukkend te kap.  ‘n Mens kan nie Agag mak maak nie.  Jy kan nie saam met jou vyand leef nie.

Jy kan nie vir jouself sê, “ag daar is net ‘n paar wat rondhardloop daar buite” nie, en “hulle sal jou niks skade aanrig nie”.  Paulus sê, jy beter van dit ontslae raak en dit vernietig soos wat God vir Sy volk die opdrag gegee het om die Amalekiete totaal en al uit te wis.

God is baie ernstig oor sonde.  Jesus sê,

Matt 5:29 As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.
30 En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.

Jesus sê nie, jy moet jouself amputeer nie.  Hy sê jy moet die werke van jou liggaam doodmaak.  Daar is sekere dinge in jou liggaam wat jy sal moet doodmaak.  Hierdie doodmaak is ‘n aanhoude proses in jou geestelike lewe. 

Paulus sê nie dat jy die probleem gaan oplos met krisis momente, ‘n tweede ervaring, ‘n tweede genadewerk, of kits oplossings nie.  Dit is nie wat hy sê nie.

Paulus sê ook nie dat die probleem gaan homself oplos en dat jy passief moet wees en net eenvoudig sê,  “let go and let God” ek kan niks doen nie, ek gaan niks doen nie, ek gaan net agteroor sit en laat God alles doen nie.  Dit is nie wat Paulus sê nie.

Paulus sê ook nie dat daar net sekere oomblikke moet wees waarin jy jouself weer toewy of weer bekeer nie.  Wat hy voorstel is dat jy gedurig moet besig wees om die werke van die liggaam dood te maak.  Die werkwoord is in die voortdurende tyd.  Jy moet die hele tyd besig wees om sondes dood te maak.  Dit is ‘n aanhoudende stryd, ‘n oorlog met sonde.

Vernietig sonde in jou lewe, kap dit in stukke, dreineer dit van sy krag en invloed in jou lewe, sodat jy ‘n goeie en rein gewete kan hê wat virjou vrede en blydskap, sekerheid en hoop kan bring.

Nou die Bybel gee vir ons praktiese dinge wat ons kan doen om die Agags stukkend te kap, om die Amalekiete te vernietig.  En nie een van hulle is vleeslik, of uiterlik nie.

Daar is geen meganiese sisteem, of seremonie of ritueel nie.  Dit sal jou niks help nie.  Sonde word nie vernietig deur wettisisme of asketistiese handelinge of om soos ‘n monik op ‘n berg te gaan bly en jouself te onttrek van die samelewing nie.

Die doodmaak proses vind in jou hart plaas.  Dit is deur die Gees wat ons die werke van die liggaam doodmaak.  Dit is ‘n geestelike ding, nie ‘n vleeslike of fisiese ding nie.  Die Heilige Gees is daar, maar ek moet Hom toelaat en ek moet aktief betrokke wees.  Ek moet God se Woord gehoorsaam en die Heilige Gees stel my in staat om dit te doen.

Wat kan ek doen?

1 Pet 2:11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;

Onthou julle van vleeslike begeertes.

Jak 1:14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.
15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

As jy sonde gaan doodmaak in jou lewe, sal jy begeerlikheid moet stop.  Jy sal moet daarmee moet deel en jy sal dit ‘n definitiewe hou moet gee.  Hou op om te begeer.  Dit is nie ‘n mistieke ding nie.  Hou op om te begeer, want dit is waar dit begin.

1 Kor 6:18 Vlug vir die hoerery...

Vlug vir sonde.  Dit is nie so kompleks nie.  Daar is nie een of ander terapie wat jy moet deurgaan nie.  Vlug eenvoudig daarvoor.  Dit help nie jy sit en wag totdat een of ander hemelse krag jou begeertliheid gaan uitwis nie.  Daar is nie een of ander formule wat jy kan gebruik om die demoon van wellus weg te jaag nie.  Dit is baie eenvoudig.  Vlug vir sonde.  Onthou jou van begeerlikheid.

Rom 13:14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Maak geen voorsorg.  So hier is die wyse waarop jy sonde gaan oorwin deur die Gees wat jou krag gee.  Vlug vir begeerlikheid, onthou jou van begeerlikheid, maak geen voorsorg vir die vlees nie.  Dan sal jy nie sondig nie.  As jy nie begeer nie, sal jy nie sondig nie.
As jy ‘n probleem het soos ek met Chocolade het, moenie voorsorg maak daarvoor nie, moenie met ekstra geld en alleen winkel toe gaan nie.  Vat net genoeg geld saam en vat ‘n vriend saam.  Julle verstaan wat ek bedoel.  Moenie jouself in die posisie plaas om te kan sondig nie.

En beklee jou met die Here Jesus Christus.  Streef daarna om soos Jesus te wees.  Moenie te vrede wees nie.  Moenie vergenoegd wees totdat Christus al meer en meer in jou gevorm word nie.

Gal 4:19 my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.

Rig jou hart op Christus.  Fokus op Hom, totdat jy verander word van heerlikheid tot heerlikheid na daardie selfde beeld.  Laat toe dat die Heilige Gees jou van binne af verander.

Wat jy ook nog kan doen is om God se Woord te bepeins.

Psa 119:11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

Wanneer jy God se Woord oordink en dit in jou hart bêre, is jy besig om Agag in stukke te kap.  Is jy besig om sonde te oorwin.  Jesus bid in Sy priesterlike gebed,

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Paulus sê,

Kol 3:16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.


Wil jy ‘n rein gewete hê?  Vernietig die Agags in jou lewe. Kap hulle stukkend.





No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288