Wednesday 20 July 2011

Die doel en motief van valse leraars


1 Tim 1:5 Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof
6 waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies;
7 hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.

Ons het laas week begin om te kyk na wat Paulus vir Timotheus sê oor die valse leraars. Dat Timotheus hulle moet stop om te leer. En ons het gekyk na die fout wat die valse leraars maak en die effek daarvan. Die fout dan is dat hulle iets anders leer as wat die Bybel leer. Hulle kom met ‘n nuwe ding, ‘n nuwe idee, ‘n nuwe openabring, maw hulle voeg dinge by die Woord van God by.

Hierdie ouens stel egter nie belang in die waarheid nie, en hulle is in dit vir hul eie gewin. Die effek daarvan is dat hulle net twisvrae bevorder en dat hulle ook die waarheid van die evangelie aanval.

Ons kom dan vanoggend by die tweede gedagte wat Paulus aan Timotheus wil oordra en dit is: wat is die valse leraars se doelwit?

1 Tim 1:5 Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof

Dit is wat God wil sien moet gebeur in die kerk. Dit is God se doel vir die kerk. Die doel van die gebod is liefde. God wil liefde in Sy kerk hê. Jesus het gesê

Joh 13:35 Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

Dit is waaraan die kerk gekenmerk moet word, liefde. Mense wat God liefhet met hulle hele hart en siel en verstand en hulle naaste soos hulleself. Dit moet die kenmerk wees van die kerk en van elke gelowige.

1 Joh 4:7 Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.
8 Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

So die karaktereienskap van Christene is dat hulle gekenmerk is deur liefde. Die woord is agape, liefde wat ‘n keuse is, liefde omtdat jy wil liefhê, liefde wat maak dat jy jouself verloën, selfopofferende liefde wat sê, “ek lewe my lewe tot voordeel van God”. Dit is my liefde vir God. En “ek lewe my lewe tot jou voordeel”, dir is my liefde vir my naaste. En “ek lewe my lewe tot voordeel van verlorenes”, dit is my liefde vir hulle.

Dit is nie ‘n emosie of ‘n gevoel nie. Dit is ‘n keuse. Dit is die hoogste vorm van liefde. En Paulus sê vir Timotheus, dit is die doel. Dit is egter nie die doel van die valse leraars nie. Die doel van die gebod is liefde. En hierdie liefde bring weer voort ‘n rein hart en goeie gewete en ongeveinste geloof.

Die konsep van ‘n rein hart is ‘n ongelooflike konsep wat ons in die Ou Testament vind. Die psalmdigter skryf in Psalm 24:4 en 51:10 en begeer dat hy ‘n rein hart sal hê, dat sy hart suiwer sal wees.

1 Sam 16:7 ...want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

Wanneer die Bybel praat van die hart, dan praat dit van die beheersentrum van die mens. Die plek van jou gedagtes. Soos wat ‘n mens dink, so is hy. Dit is die middelpunt, die plek van ‘n mens se geloof en oortuiginge en morele karakter. Dit is die middelpunt van jou geestelike begeertes. Jou verlange na God.

Wanneer die hart skoon gewas word deur die bad van wedergeboorte, wannner dit toegewyd is aan Christus deur geloof en wanneer dit soos Rom 6:17 sê, gehoorsaam geword het, dan is dit ‘n rein hart.

En ‘n suiwer hart is een wat toegewy is aan God met 'n onverdeelde trou, want dit is gewas en gereinig deur Christus. En vanuit ‘n rein hart kom daar liefde.

En dan ‘n goeie gewete. Die gewete is jou ingeboude regter. En dit reageer op wat in jou hart aangaan, wat in jou gedagtes aangaan. Watookal in jou gedagtes gebeur, sit jou gewete in werking.

Jou gedagtes is die engine en jou gewete is die flywheel. Die engine dryf die flywheel. Watookal in die engine kamer gebeur, aktiveer die flywheel. En wanneer jy ‘n rein hart het, sal jy ‘n rein gewete hê, maw jou gewete sal jou nie aankla nie. As jou hart skoon is, is daar niks om jou gewete aan te kla nie.

Die regter sal sê, dit is wel met my siel. Jou gewete gaan vir jou vrede en blydskap bring en die vryheid van skuldgevoelens, want jou hart is rein. Dit is wat Paulus sê in,

Hand 24:16 Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.

Hoe lyk valse leraars se gewete?

1 Tim 4:2 deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,

KJV
1 Tim 4:2 Speaking lies in hypocrisy; having their conscience seared with a hot iron;

Dan sê Paulus verder dat hierdie agape liefde kom uit ‘n ongeveinste geloof. Maw dit is nie voorgee geloof nie, dit is ware geloof, egte geloof. Valse leraars het nie ware geloof nie, maar gee voor dat hulle glo. Hulle het ‘n skyn geloof.

Valse leraars se hart is vuil, want dit was nog nooit skoongewas deur die ware evangelie, deur geloof in Christus nie. ‘n Valse leraar het ‘n skuldige gewete, want ‘n vuil hart aktiveer ‘n skuldige gewete. Tensy daardie gewete so punt bereik het waar die skeidsregter van die veld afgestap het.

Die Griekse woord in 1 Tim 4:2 vir gebrandmerk of soos dit in die KJV vertaal is met “seared” is die woord “kauteriatzo” wat letterlik beteken “to render unsensitive”. Maw hulle gewete het onsensitief geraak. Hulle gewete is so beskadig dat dit hulle nie meer pla nie.

En ‘n valse leraar het ‘n geveinsde geloof. Hy is ‘n bedriër. Hy gee voor. Hy is nie opreg nie. En daardie soort lewe sal nooit Goddelike liefde voortbring nie.

So hier is die doelwit van valse leraars, dit is nie om ‘n omgewing van liefde te skep nie, maar die doel is om hulle eie ego’s te streel en ook hulle sakke te vul. Dit is hulle doel. Dit sal nou vir julle nog duidelik word. So vers 6 sê dan,

1 Tim 1:6 waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies;

Waarvan het hulle afgedwaal? Hulle het agfedwaal van die liefde. Die KJV sê,

1 Tim 1:6 From which some having swerved have turned aside unto vain jangling;

“having swerved” , dit is Griekse woord “astocheo” wat beteken, hulle mis die doel, hulle mis die target. En die tweede werkwoord is “have turned aside”, en hulle afgewend het, beteken hulle is op ‘n ander koers. Maw hulle doel was nooit liefde nie. Liefde was nooit die target waarvoor hulle geskiet het nie. Hulle het ‘n ander agenda gehad. Wat is dit?

1 Tim 1:7 hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.

En in hoofstuk 6 sien ons duidelik dat dit gaan oor geld. En die wyse waarop hulle dit doen is om weg te draai van die waarheid, en hulle besig te hou met onsinnige praatjies. Die KJV sê, “vain janglings”, dinge wat irrelevant is. Maw dit is net ‘n groot lawaai.

‘n Verdraaide hart, ‘n geskonde gewete en ‘n skynheilige geloof sal nooit liefde produseer nie. Daar is nie opregte liefde in ‘n valse profeet se hart nie en hy kan ook nie ware liefde gee nie.

Valse godsdiens kan nie die vlees oorwin en beheer nie? Valse godsdiens kan nie jou lewe verander nie. Valse godsdiens kan nie jou hart verander nie. En al wat dit op die einde doen is, dit maak net 'n groot lawaai. Daarom sê,

Tit 1:11 hulle mond moet gestop word...

Kom ons maak gou ‘n opsomming. Paulus sê vir Timotheus, as jy verstaan wat die valse leraars se fout is en die effek daarvan, en jy verstaan hulle doelwit, sal jy verstaan hoekom hierdie ouens se monde gestop moet word en hulle nie toegelaat moet word om iets te leer nie.

Die derde ding wat Paulus wil hê Timotheus moet verstaan oor die valse leraars en wat ons ook dan moet verstaan is hulle motief. Wat is hulle motiewe? Wat soek hulle eintlik? Hulle het ‘n sterk motief, hulle het ‘n sterk begeerte.

1 Tim 1:7 hulle wil leraars van die wet wees...

Dit is hulle sterk begeerte. Die vraag is: Is dit dan so verkeerd? Die antwoord is: Ja. Hoekom? Want hulle weet nie waarvan hulle praat nie. Die res van die vers sê,

...alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.

Dit wat hulle sê of wat hulle beweer verstaan hulle self nie eers nie. Hulle verstaan nie eers self wat hulle sê nie. Hulle verstaan nie die wet van God nie. Hulle wil leraars wees.

Dit gaan nie daaroor dat hulle die wet wil ken nie. Dit gaan nie daaroor dat hulle God wil ken nie. Dit gaan nie daaroor dat hulle vir mense omgee nie. Hulle wil eenvoudig net leraars wees. Hulle wil gesien word. Dit gaan oor hulle ego’s.

Hulle wil in ‘n posisie erken word. Hulle soek die prestige en prominensie. Hulle stel nie belang om mense die waarheid te leer nie. Hulle wil soos Diotrefes wees, waarvan ons lees in 3 Joh 1:9, wat onder hulle die eerste wou wees. Hulle soek prominensie in die kerk.

Hulle wil wees soos wat Jesus vir die Fariseërs gesê het in Matt 23 dat hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en hulle hou daarvan om in die voorste banke in die sinagoges te sit. Hulle wil gesien word. V7 sê hulle hou daarvan as almal hulle groet op die markte en hulle wil deur die mense Rabi’s genoem word. Hulle wil hê almal moet vir hulle sê, pastoor.

Dit is al waaroor dit gaan. Dit gaan nie om die waarheid te verkondig of om vir mense om te gee nie. Hulle is opsoek na die applous van mense. Dit is hulle motief.

Jak 3:1 Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.

Die persoon wat regtig die rol van ‘n leraar verstaan, verstaan dat dit nie iets is om oor trots te wees nie. Maar die valse leraars is trotse mense.

1 Tim 6:3 As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie,
4 dié is verwaand... (He is proud – KJV)

Dit gaan oor trots. En dit is die teenoorgestelde karakter van ‘n ware leraar. ‘n Ware leraar besef altyd die ongelooflike verantwoordelikheid wat op hom rus om die waarheid te verkondig. ‘n Ware leraar besef dat hy onder groter oordeel sal gaan. En dit is nie iets om oor trots te wees nie.

Fil 1:20 volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.

Ek wonder of baie leraars besef wat dit beteken. ‘n Prediker met die naam van John Stott het die volgende gesê,

"I can not help wondering if this may not be why there are so few preachers whom God is using today. There are plenty of popular preachers but not many powerful ones who preach in the power of the Spirit. Is it because the cost of such preaching is too great? It seem that the only preaching God honors through which His wisdom and power are expressed is the preaching of a man who is willing in himself to be both a weakling and a fool. God not only chooses weak and foolish people to save, but weak and foolish preachers through whom to save them, or at least preachers who are content to be weak and seem foolish in the eyes of the world. And we are not always willing to pay that price. We are constantly tempted to covet a reputation as men of learning or men of influence, to seek honor in academic circles and compromise our old fashioned message in order to do so and to cultivate personal charm or forcefulness as to sway the people committed to our care."

God se diensknegte is nederige mense, nie trotse mense nie. So ons moet verstaan wat die motief is van valse leraars. Hulle is nie nederige mense wat die swaar gewig van verantwoordelikheid voel om die waarheid te leer nie. Hulle is trotse mense wat gesien wil word.

Slot

Ons sal nou volgende week kyk na wat die gevolge is van valse leraars.



No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288