Sunday 6 November 2011

Verderflike keterrye



Teksgedeelte: 2 Timotheus 2:15-19

2 Tim 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
16 Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid,
17 en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is,
18 wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.
19 Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.

Hoekom is daar keterrye? Hoekom is daar valse leringe in kerke vandag?  Want daar is leraars wat nie die woord van die waarheid reg sny nie.  Daar is leraars wat nie moeite doen met God se Woord nie.  Hulle gebruik die Bybel soos dit hulle pas.  ‘n Ware prediker is iemand wat sy hele lewe gee vir die waarheid. 

1 Tim 5:17 Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.

Die wat arbei in woord en leer.  Die KJV sê, “they who labour in the word and doctrine”.  Dit is werk.  Dit vereis maksimale effort.  Dit vereis commitment.  Dit vereis excellence.  Paulus sê,

2 Tim 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker...

Hier kry ons ‘n Griekse woord vir “om jou voor God te stel”, die woord “paristemi”.  Dit beteken letterlik “om langs aan te staan”.  Maw jy kom staan langs God.  Jy kom staan beproef langs God.  Dit beteken dat jy bewys jy is waardig om langs God te staan.  Sjoe!  Wat ‘n gedagte!

Wat is die doel van elke leraar?  Om alles in te sit, om maksimale effort in te sit, sodat hy eendag langs ‘n heilige God kan staan en nie skaam hoef te wees nie, want hy het homself bewys.  Om ‘n waardige leraar langs God te wees.  Om hom beproef voor God te stel.

So eerstens moet hy maksimale effort in sit.  Tweedens is hy nie daar om mense te behaag nie, maar om waardig langs God te staan.  Paulus sê aan die Galasiërs,

Gal 1:10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.

Ons is nie hier om mense happy te hou nie en goed te laat voel oor hulleself nie.  Ons is hier om God te behaag, om te hoor wat Sy wil is vir ons, en om ons lewens volgens Sy wil en plan in te rig, al hou ons nie somtyds daarvan nie.

1 Thes 2:4 maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.

Dit moet ons begeerte wees.  Dat ons eendag voor God kan staan, beproefd, en hierdie woorde sal hoor, “goeie en getroue dienskneg.  Oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel”.

‘n Werker wat hom nie hoef te skaam nie.  En die hart van dit alles, hoe hanteer jy God se woord.  Wat doen jy met die woord? 

2 Tim 2:15 ...wat die woord van die waarheid reg sny.

Die Griekse woord is “orthotomeo”“Om ‘n reguit lyn te sny”.  Nou Paulus het met leer gewerk.  Hy was ‘n tentmaker.  Nou, hy het velle gevat en dan tente gemaak.  En wanneer jy dit doen kan jy net dink hoe moeilik moet dit wees om velle aanmekaar te werk om ‘n tent te maak.  Hy moes die velle reguit sny en aanmekaar werk en maak pas.  As hy dit nie reguit gesny het nie, sou dit nie gepas het nie.

En dit is wat hy sê.  As ons nie weet hoe om gedeeltes van die woord reg te sny nie, gaan die hele ding nie uitwerk nie.  As jy nie al die dele in die Bybel kan vat en byemakaar sit sodat hulle pas nie, kan jy nie ‘n leraar wees nie.  Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons die woord van God reg moet interpreteer.

Vandag gebruik mense enige interpretasie soos dit hulle pas.  Alles wat hulle laat beter voel en hulle gehoor streel.

2 Kor 2:17 Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.

Dit is wanneer mense die Bybel gebruik vir persoonlike gewin.  Hulle verdraai dit en verander dit om te kry wat hulle wil hê.  Mense gooi Skrif rond om dinge te regverdig sonder om te gaan sit en dink wat God regtig vir ons wil sê met daardie Skrif.  Ons moet die woord van die waarheid reg sny.

Wat is die woord van die waarheid?  Wel, ons kry dit op baie ander plekke in die Bybel.

Ef 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,

Hier verwys die woord van die waarheid na die evangelie.  Ook in Jak 1:18,

Jak 1:18 Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.

Hy het ons voortgebring deur die woord van die waarheid.  Dit beteken God het ons wedergeboorte geskenk deur die woord van die waarheid.  Dit is deur die woord van die waarheid, deur die evangelie wat ons gered word.  Jy kan nie sonder die woord van die waarheid gered word nie.

Maar dit gaan verder,

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Ons word daardeur geheilig.  Daarom is dit so belangrik dat ons die woord van die waarheid sal reg sny.  Daar is vandag soveel verwarring oor die evangelie en hoe om gered te word.  Hierdie een sê jy moet dit doen.  En dan sê hierdie een, nee so!  Dit is die een ding waaroor ons nie mag verkeerd wees nie.  Ons saligheid hang daarvan af.

Daarom noem die Bybel valse leringe, verderflike ketterye.  Want dit verdoem mense wat dit glo.  Dit is die eerste gevaar wat ons gesien het van valse leringe.  Dit lei die hoorders daarvan tot ondergang.

Die tweede gevaar is dat die leraars eendag hulle kop in skaamte gaan sak voor ‘n heilige God.  Mense wat die Bybel gebruik soos hulle wil vir eie gewin behoort skaam te wees.

Derdens is valse leringe ‘n gevaar, want dit lei tot goddeloosheid.

2 Tim 2:16 Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid,

V16 begin met die woord “maar”.  En dit is in teenstelling met die vorige gedeelte wat praat van werkers wat die woord van die waarheid reg sny.  Maw, mense wat die waarheid nie reg sny nie is mense wat hul self besig hou met onheilige en onsinnige praatjies.  En dit is wat dit is.  Onheilig en onsinnig.

Wat sê die Bybel moet ons doen met dit?  Vermy dit!  Werk met die waarheid, maar vermy die res.  KJV sê,

2 Tim 2:16 But shun profane and vain babblings: for they will increase unto more ungodliness.

Hy noem dit “vain babblings”, onsinnige praatjies, letterlik beteken dit “leë woorde”.  En wat doen onheilige en leë woorde?  Dit lei tot goddeloosheid.  Woorde wat nie van God af kom nie word onheilige woorde.  Valse leraars se leë woorde lei ons nie tot geestelike groei en nuwe waarhede nie.  Dit lei tot goddeloosheid.

2 Pet 2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring;
2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word;

Hoor wat sê v2.  Baie sal hulle verderflikhede navolg.  Die KJV sê, “many shall follow their pernicious ways...”  As jy eers in die vloei van al die onheilige en onsinnige praatjies is, sal dit net verder lei tot meer goddeloosheid.  Goddeloosheid beteken eenvoudig, sonder God.  Goddeloosheid is die vrug van goddelose leringe.  Goddelose leringe, skep goddelose mense.

So valse leringe help nie net die hoorder tot sy ondergang nie, of beskaam die leeraars nie, maar dit lei tot goddeloosheid.  Valse leringe kan nie ‘n mens se hart verander nie.  Dit kan nie godsvrug produseer nie.  Dit bring net die teenoorgestelde.

Die vierde gevaar van valse leringe lees ons in v17,

2 Tim 2:17 en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is,

Die vierde gevaar van valse leringe waarvan ons lees uit die teksgedeelte is dat dit versprei soos ‘n kanker.  Dit ruïneer nie net die wat daarna luister nie, dit beskaam nie net die wat leer nie, of lei nie net tot goddeloosheid nie, maar dit versprei soos kanker.  Hulle woorde sal voortwoeker soos ‘n kanker.

Die Griekse woord is “gaggraina”, waar ons die woord “gangrene” vandaan kry.  Gangrene kan op een klein punt van van jou liggaam begin, dan versprei dit baie vinnig. 

Judas 23 sê dat wanneer jy naby iemand kom in ‘n valse sisteem, met die doel om hulle te red deur hulle uit die vuur te ruk, moet jy pasop dat jou kleed nie daarmee bevlek word nie.  Valse leringe bevlek en besmet almal om hulle wat dit hoor en leer.

Jy sien, wêreldse mense hou van valse leringe eerder as die waarheid, want dit is deel van die sisteem waaraan hulle behoort.  Die hele wêreld word net in twee verdeel, gelowiges en ongelowiges.  The saints and the aints.  Die gelowiges het die Woord van God lief en die wêreld het valse godsdienstige sisteme lief.

Ongelowige mense luister nie na die waarheid nie.  Hulle luister na die leuens van Satan.  Hulle leef op die wêreld, die vlees en die duiwel.  So gee vir hulle godsdiens wat duiwels geïnspireer is het hulle koop daarin.  Dit versprei soos ‘n vuur.

En dan vyfdens, keer dit die geloof van sommige om.  In v17 noem Paulus Himenéüs en Filétus.  Let op  !  Paulus noem name.  In 1 Tim 1:20 noem hy Himenéüs, een van die leiers, dalk een van die valse pastore in Efese, wie hy uit die kerk uitgesit het.

Maar daarna het hy steeds sy leuens verkoop en hy het ‘n ou gekry om hom te help, Filétus.  Hulle het leringe van duiwels verkondig.  En Paulus noem hulle by die naam, sodat Timoteüs presies kon weet wie hulle is en hulle kon vermy.

2 Tim 2:18 wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.

Hulle was soos die ouens in Jak 5:19-20 wat sê dat hulle van die waarheid afgedwaal het.  Hulle is afvalliges.  Hulle het die merk van die waarheid gemis.  Hulle het die waarheid gemis.  Dit is wat dit beteken om afvallig te wees.

Hulle was soos Heb 10 sê, het die waarheid ontvang maar daarvan weggedraai.  V29 sê dit is mense wat die “Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”  Maw hulle het waarheid verwerp.  Hulle het van die waarheid afgedwaal.

Hulle het geweet wat die waarheid is, maar nou draai hulle om en sê dat die opstanding nie plaasgevind het nie.  Hulle het die opstanding van die liggaam verwerp.  Nou, is dit dan so belangrik dat ek in die opstanding moet glo?  Verseker.

Paulus sê in 1 Kor 15 dat as daar nie ‘n opstanding is nie, dan het nie opgestaan nie.  En as Christus nie opgestaan het nie, dan is daar ook nie ‘n opstanding vir ons nie.  Dan is ons geloof tevergeefs.  Jy sny die hart van die evangelie uit.  Die opstanding is die hoop van elke gelowige.

En die gevolg is dat dit sommige se geloof omkeer.  Nou wat beteken dit?  Wel, ons moet vra watter geloof het hulle gehad om mee te begin.  Obviously was dit nie ware geloof nie.  Obviously het hulle nie reddened geloof gehad nie.  Petrus noem hulle in 2 Pet 3:16 as ongeleerde en onvaste mense.

2 Pet 2:18 Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel.

Maw dit skets mense wat op ‘n sekere manier tog na God soek en wil graag glo en hulle maak oop, maar kom onder dwalinge en verkeerde leringe.  En dit vernietig hulle geloof.  Dit is mense met geloof, geloof wat soekend is en wat antwoorde soek, maar hulle het nog nie reddende geloof gevind nie.

Luister!  Daar is valse sisteme van leringe en valse godsdienste wat sit en wag vir mense wat die pyn en druk van die lewe voel en wat na antwoorde soek.  Hulle sit en wag vir mense wat kwesbaar is om hulle in te trek.  Dit is hulle wie se soekende geloof omver gegooi word. 

Kan ek dit net baie duidelik stel, en ons het dit alreeds so baie gesê en uit die Woord bewys, dat ‘n ware gelowige, ‘n ware weergebore kind van God se geloof kan nooit omver gegooi word nie.  Glo julle dit?  Wel dit staan net in die volgende vers.

2 Tim 2:19 Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.

Goed!

Ons kyk na die laaste een.  Die sesde gevaar van valse leringe.  En dit is dat valse leringe is kenmerkend van hulle wat nie aan die Here behoort nie.  Dit is die vrug van ongeredde mense. 

KJV
Isa 8:20 To the law and to the testimony: if they speak not according to this word, it is because there is no light in them.

V19 sê, Ewenwel, tens pyte van die wat ondergaan, ten spyte van die goddelose, ten spyte van diegene wie se geloof omver gegooi word, ten spyte daarvan, staan die fondasie van God vas.

Wat is hierdie fondasie wat vas staan?  Dit is die kerk.  Die gereddes.  Die ware kinders van God.  Hulle is die onbeweegbare soliede fondasie van God wat valse leraars nie kan omver gooi nie.  Die valse leraars sal sommige ruïneer en sommige sal beskaamd staan.  Hulle sal sommige lei tot goddeloosheid, en sommige se geloof omver gooi, maar nooit die kerk van die Here nie.

Die fondament van God staan vas.  Ons is ‘n gebou wat nie met hande gemaak is nie.  Ons is die tempel van die lewende God.  Ons is die kerk wat Jesus Christus bou en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Dit is die kerk, dit is ons in wie God ‘n werk begin het en dit sal voleindig.  Dit is ons wat nie geskei kan word van die liefde van God wat daar in Jesus Christus is nie.  Jesus het gesê dat al wat die Vader aan Hom gegee het, Hy daarvan nie sal verloor nie, maar Hy sal hulle opwek in die laaste dag.

Al die gemors en valse leringe wat die rondte doen, bring net skade en vernietig mense se siele.  Dit mag ook ware gelowige verwar van tyd tot tyd, maar weet verseker, dat die fondasie van God, die kerk van die Here Jesus Christus staan vas.

1 Joh 2:14 sê dat ons is sterk in die Woord en die Woord bly in ons en ons het die bose oorwin.  Watse waarborg het ons?  Daar is ‘n seël op ons.

2 Tim 2:19 Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid

Ons dra die seël van eienaarskap.  Ons behoort aan Hom.  Die Here ken die wat syne is.  Dit is hoekom die ware kerk nie deur valse leringe omver gegooi sal word nie.  God bewaar Sy kerk.  Hy hou ons in Sy soeweine krag.  Ons is syne verewig.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288