Thursday 1 December 2011

Christenskap is prakties


Rom 12:9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;

Christenskap moet prakties wees.  Ons moet nie net belydende Christene wees nie, maar doenende Christene.  Ons moet die Bybel lees, leer en lewe.  Die Bybel bevat nie net leerstelings nie, maar dit is ‘n praktiese boek in elke opsig.

As die duiwel dit gaan regkry dat jy nie jou Bybel lees of leer nie, dan sal jy dit nie lewe nie.  Jy kan ook nie Christenskap uitleef sonder die woord nie.  Geloof is uit die gehoor, en gehoor is deur die Woord van God.  Die woord en die praktyk gaan saam.  Daar is nie ‘n woord sonder praktyk nie en daar is nie ‘n praktyk sonder die woord nie.

Ek het al in die verlede gesê dat ons moet by die woord aanpas en nie die woord by ons nie.  En wanneer ons lewens nie in lyn met die woord is nie, dan moet ons verander.  As ons nie wil verander nie, dan openbaar dit ons motiewe.

Rom 12 gee vir instruksies vir praktiese Christenskap.  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, weerlegging, teregwysing, en onderwysing in die geregtigheid (2 Tim 3:16).  Maw wanneer ek die vermanings wat Paulus gee in Rom 12, lees en skuldig voel in sekere opsigte, dan is dit omdat die Heilige Gees my oortuig om te verander.

Christenskap is nie net ‘n belydenis nie, maar dit is ‘n leefstyl.  Dit omvat elke aspek van jou lewe.  Toe Jesus gesê het dat ons moet deur ‘n nou poort gaan om in die hemel in te gaan, is dit presies wat Hy bedoel het.  Praktiese Christenkap is baie duidelike en spesifiek uitgespel.

Aan die eenkant het ons vryheid, vry om te doen wat reg is en vry om God te dien, aan die ander kant is ons beperk in die sin dat ons alles moet doen wat Hy ons beveel.

Maw Rom 12:9-21 is riglyne en beginsels vir hoe ‘n Christen moet leef.  Ek is vry en het die keuse om daarvolgens te leef.  Ek doen hierdie dinge nie omdat ek moet nie, maar omdat ek wil en omdat God liefhet.  In hierdie vryheid van gehoorsaamheid vind ons God se seën.

Ef 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Ons is gemaak om die vrug van geregtigheid te openbaar.

Nou, Christenskap is prakties en nie een of ander mistieke leefwyse nie.  Dit is nie een of ander onbeskryflike, onverklaarbare of misterieuse mentaliteit wat nie in die alle daagse lewe toegepas kan word nie.  Christenskap is baie prakties.  Dit gaan daaroor, om die woord te bedink, te bely en te doen.

Agtergrond

Rom 1-11 gaan oor die leerstellinge van saligheid.  Rom 12:1-2 gaan oor toewyding van elke Christen, v3-8 oor geestelike gawes wat elkeen het en vanaf v9 gaan dit oor praktiese Christenskap.  Die eerste 11 hoofstukke is die fondasie.  12:1-2, Wy jou toe aan die Here, v3-8 gebruik jou gawes, en vanaf v9, dis hoe jy moet leef.

Ons teksgedeelte, Rom 12:9 is persoonlik – dit begin by my.  Dit gaan oor die kwaliteit van my liefde.  Dit sê ook: verafsku dit wat sleg is, hang die goeie aan.  Dit is ‘n persoonlike commitment.  Rom 12:10-13 gaan wyer as net myself.

Rom 12:10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;

Vanaf v14-16 gaan dit wyer as die familie van God.

Rom 12:14 seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie;

V17-21 sluit in al jou persoonlike vyande en hoe jy moet reageer.  Ons moet nie boosheid aanvaar nie, maar ons moet ook nie kwaad met kwaad vergeld nie.

Rom 12:18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Ons praat vandag dan spesifiek oor v9, wat gaan oor jou persoonlike verantwoordelikheid.  Hoe moet jy as persoon jou Christenskap prakties uitleef?

Persoonlike verantwoordelikheid (v9)

Paulus gee hier drie basiese beginsels vir hoe ons gesindheid moet wees: “Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan.”

·         Ongeveinsde liefde/ Opregte liefde

Die belangrikste element van ‘n Christen se lewe is liefde.  Paulus sê in 1 Kor 13:13 En nou bly geloof, hoop, liefde--hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”

Rom 13:8 Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul.

Luk 10:27 En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.

In Gal 5:22 lys Paulus liefde as die eerste vrug van die Gees.  Alles begin met liefde.  Die eerste beginsel van praktiese Christenskap is liefde.

Fil 1:9 En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring,

1 Pet 4:8 Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.

Hierdie liefde waarvan die Bybel praat is nie oppervlakkige liefde nie, maar ‘n diepgaande opregte liefde.

D. L. Moody het gesê, "There are a lot of people who talk cream, but live skim milk."

Hierdie liefde is nie skim-milk liefde nie.  Hierdie liefde is nie self-vervullende liefde nie.  Die Griekse woord is die woord “agapé".  Hierdie is nie familie “storgé” liefde of “eros”, die intieme liefde tussen man en vrou of “phileo” vriendskaplike liefde nie.  Hierdie agapé liefde is liefde wat alleen van God af kom.

Christelike liefde reik uit en voorsien aan behoeftes.  Jesus sê in Joh 13:34 dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het.  Jesus het op daardie oomblik Sy liefde aan hulle bewys deur hulle voete te was, wat vuil was.  Dit was hulle behoefte.  En Hy het voorsien.  Sulke liefde kom in nederigheid af na iemand wat in nood is.

Rom 12:9 sê: Julle liefde moet ongeveins wees.  Sommige vertalings vertaal dit met “without hupocrisy”.  Wanneer Jesus die geveinstes aanspreek in die evangelies, dan gebruik hy die woord, “hupokritēs” wat letterlik beteken, ‘n akteur, of in engels, ‘n stage player.  Dit is iemand wat alles na maak.  Dit is iemand wat voorgee.

Paulus sê: julle liefde moenie aangeplak of ‘n toneelspel wees nie, dit moet “genuine” wees.  Julle liefde moet eg wees.  Die NV sê julle liefde moet opreg wees.

Geveinsdheid, “hupocrisy” is sekerlik die lelikste sonde van alles, want dit is liefde wat voorgee, wanneer dit eintlik gevul is met haat.  Daar is niks meer verwoestend as geveinsdheid, of hupocrisy nie.  Aan die ander kant is daar nie ‘n beter kwaliteit om te kan hê as om die agape liefde te hê nie.

Hierdie opregte liefde wat na ander uitreik, word van Christene verwag.

1 Joh 3:14 Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.

Wanneer daar liefde in ons harte is vir God se mense, dan kan ons verseker weet dat ons God se kinders is.  Die toets van hierdie liefde is in v18

1 Joh 3:18 My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.

Opregte, agape liefde sal nie net woorde en mooi belydenisse wees nie, maar dit sal gesien word in dade.  Agape liefde is ‘n praktiese liefde.

Die teenoorgstelde van agape liefde sien ons in Luk 22:48.

Luk 22:48 En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus?

Nadat Jesus in Luk 10 gesê het dat ons ons naaste moet liefhê, vra hulle: wie is ons naaste.  En Jesus vertel die verhaal van die man wat langs die pad gelê het, nadat hy deur rowers aangeval, uitgetrek en geslaan is.  Jesus probeer sê dat wieookal langs jou pad kom wat in nood is, is jou naaste en jy moet jou liefde aan hom bewys.

Agape liefde beteken om uit te reik na jou naaste wat in nood is.

1 Kor 13:1 Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword.
2 En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.

Alles - liefde = niks.  Christenskap word prakties gedemonstreer deur agape liefde.

Joh 13:35 Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

·         Verafsku wat sleg is

Hierdie opdrag volg logies op die eerste opdrag.  As jy God lief het met jou hele hart en jou naaste liefhet, sal jy die slegte verafsku.  Hoe kan ek sê ek het jou lief en ek verdra ook die kwaad wat ons verhouding vernietig?  Enigiemand wat God en sy naaste liefhet, haat sonde.

Psa 97:10 o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!

(KJV) Psa 97:10 Ye that love the LORD, hate evil:

Om God lief te hê, en om deel te neem aan kwaad is twee dinge wat lynreg teenoor mekaar staan, want God is heilig en verdra nie sonde nie.
Hab 1:13 U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie…

Sonde staan reg teenoor God se heilige natuur.  God is heilig.  Heilig beteken om afgesonderd te wees van die wêreld en sonde.  God is heilig en nie soos die mens nie, want Hy is absoluut sonder sonde.  Gevolglik, kan Hy nie sonde verdra nie.  Daarom as jy God waarlik liefhet, sal jy sonde haat.

Die woord “verafsku”, kan ook vertaal word met “haat”, maw: “haat wat sleg is”.  Hierdie woord in Grieks staan in die teenwoordige tyd en dit is ‘n opdrag.  Daar staan in der waarheid: jy moet aanhoudend dit wat sleg is haat.  Ons kan nie sonde op enige vlak verdra nie.  Ons moet dit haat met ‘n passie.

Spr 8:13 Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.

Haat u hierdie dinge?  Of het jy aan hierdie dinge gewoond geraak.  Verdra jy maar net mense.  Voel jy gemaklik in ander mense se teenwoordigheid wat vuil taal gebruik, hoogmoedig is, en trots is?

Jud 1:20 Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid
21 en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.
22 En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys;
23 maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.

Judas sê: as jy in die wêreld gaan om ander vir Christus te bereik, moet jy vrees vir die dinge wat deur die wêreld se goddelose sisteem bevlek is.  Jy moet versigtig wees wanneer jy ander red wat oppad hel toe is.  Jy moet hulle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk, en pasop dat jy nie in die proses brand nie.

Jy moet sonde haat omdat jy weet watter vernietgende mag dit is.

1 Thes 5:22 Onthou julle van elke vorm van kwaad.

Onthou jou nie net van elke kwaad nie, van elke vorm van kwaad.  Wanneer enigiets net die vorm van kwaad aanneem, moet jy padgee.  Don’t stick around.  Al het dit net die vorm van kwaad.  When in doubt, get out.

Hier is een gedeelte in die Bybel om te sien dit wat God haat.

Spr 6:16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:
17 trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
18 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.

Ons lees ook in Jes 1:12-16 dat God valse godsdiens haat.

Praktiese Christenskap beteken nie net om te sê: dit en dit is sonde nie, maar dit beteken om waarlik sonde te verafsku en oorlog te verklaar teen sonde.  Om dit te haat in elke vorm, al neem dit net die vorm van kwaad aan.  Jy het alleen waarlik tot bekering gekom wanneer jy sonde haat soos wat God dit haat.

·         Hang die goeie aan

Die Griekse woord hier is die woord “kollao”, wat beteken “om met gom te plak”.  Dit is dieselfde woord wat gebruik word wanneer dit praat van die band in die huwelik.  Die man en die vrou word een, hulle word aan mekaar geplak.  Maw, jy en die goeie moet aan mekaar plak.

Psa 1:1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

Kyk na die verloop van sonde:  eers wandel jy, dan gaan staan jy stil ek kyk, en dan gaan sit jy en neem deel.  Welgeluksalig of geseënd is die man wat nie deel het aan enige van hierdie fases nie.

Fil 4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is--watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Hoe hang ek die goeie dinge aan? Bedink die dinge wat goed is.  Daarom sê Spr 4:23 dat jy jou hart moet bewaak meer as alles, want daaruit is die oorspronge van die lewe.  Die taal wat jy praat, openbaar die toestand van jou hart.

Of jy hang die goeie aan, jy plak dit vas aan jou lewe.  Of jy gaan agter die selgte dinge aan.  Hoe weet ons dan wat is die goeie dinge?  In die Woord van God. 

Ef 5:26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,

Hierdie gedeelte sê: Christus het Homself gegee om die gemeente te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord.  Christus reinig die gemeente met deur die woord.

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Praktiese Christenskap begin by ‘n opregte liefde, ‘n haat vir sonde, en ‘n commitment om die goeie dinge te doen.  Dit beteken dat jy ‘n liefde vir God se mense het en wil uitreik na hulle toe.  Dit beteken dat jy oorlog maak teen sonde.  Dit beteken om die goeie dinge na te jaag.





No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288