Thursday 8 December 2011

Geestelike volwassenheid


1 Pet 5:5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.

6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Elke Christen wat waarlik deur die Gees wandel glo ek wil graag geestelik volwasse wees.  Dit is iemand wat begeer om geestelik effektief te wees en om dit te wees wat God wil hê hy/sy moet wees.  Dit is ‘n goeie begeerte, maar dit kom nie vanself nie.  Jy moet ‘n daadwerklike poging aanwend om jou lewe te bou op sekere fundamentele beginsels. 

Ons het laas week gepraat oor praktiese christenskap.  En dit gaan nie soseer oor ‘n klomp leringe en geloofsbelydenisse nie, maar christenskap is ‘n lewenswyse.  Geestelike volwassenheid word nie gemeet aan hoeveel jy weet nie, maar in die mate wat jy die woord lees, leer en lewe.

Jak 2 sê: geloof sonder die werke is dood.  Jy kan nie sê: ek glo, maar jy tree nie so op nie.  Dis soos om na die diens te sê: sjoe, die pastoor het darem nou maar mooi gepreek, dit was baie interessant, baie dankie vir die inligting.  Maar jy doen niks aan jou eie lewe nie.

Wanneer dit kom by die geestelike volwassenheid, kom dit nie net vanself nie, maar is daar ook verantwoordelikheid.  Jy moet geestelike oefeninge doen.  Jy moet geestelike gedissiplineerd wees.

Hand 24:16 Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense 'n rein gewete te hê.

Hierdie gedeelte sê: ek moet oefen om ‘n rein gewete te hê.  Maw. ‘n rein gewete kom nie vanself nie.  Die Gees van die Here versterk ons en help ons, maar ek is nie onbetrokke in die hele proses nie.

1 Tim 4:7 Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid.
8 Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.

Jy moet jou oefen in die godsaligheid.  Dit sê nie jy moet geestelike oefenninge doen totdat jy die godsaligheid verkry nie.  Nee, dit sê: oefen jou in die godsaligheid. Ons weet saligheid is alleen te vind in Christus Jesus.  Daar is nie ‘n geestelike oefening of godsdienstige ritueel wat jy kan doen om jou saligheid te verdien nie.  Dit is alleen uit genade.  Baie van die engelse vertalings sê: “exercise yourself into godliness”.  Dit beteken jy oefen jouself om heilig te wees, soos wat God heilig is. 

Geestelike volwassenheid kom daardeur dat ‘n mens tyd saam met God en tyd saam met Sy woord spandeer.  Dit is wanneer God jou verander en vorm, sodat jy daar buite jou christenskap prakties kan uitleef.

Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Geestelike volwassenheid beteken om geestesvermoëns te besit.  Hoe besit ek hierdie geestesvermoëns?  Die vers sê: deur die gewoonte geoefen.  Ja, jy kan ook geestesvermoëns besit, maar jy kry dit deur die gewoonte geoefen.

Wat is hierdie geestesvermoëns?  Die vers sê: om goed van kwaad te onderskei.  Iemand wat geestelik volwasse is, is iemand wat die geestesvermoëns besit en hierdie vermoëns is om te kan onderskei tussen goed en kwaad.

Jy kan nie verwag om geestelike te groei en geestelik volwasse te word as jy so af en toe jou Bybel lees en so af en toe bid en so nou en dan kerk toe gaan nie.

Hierdie geestesvermoëns kom deur die gewoonte geoefen.  Kom ons kyk na ‘n slegte gewoonte.  Heb 10:25 sê ons moet nie die onderlinge byeenkomste versuim soos sommige die gewoonte het nie.  Hoekom bly mense eerder by die huis as om kerk toe te kom op ‘n Sondag?  Dit is ‘n slegte gewoonte. 

Ons praat oor geestelike volwassenheid kom ons kyk nou ons teksgedeelte in 1 Pet 5:5-7:

Petrus noem drie belangrike fundamentele beginsels wat deel moet wees van jou geestelike samestelling.

1.            Onderdanigheid
2.            Nederigheid
3.            Vertroue

Petrus sê dat iemand wat geestelik volwasse is, is iemand wat hierdie fundamentele en basiese beginsels klaar reg het.  Dit is nie dinge waaroor daar nog geworstel moet word nie.  Hierdie beginsels moet klaar in plek wees.

V5 begin hy dan met ‘n klomp opdragte: die jonges moet aan die oueres onderdanig wees.  Almal moet met ootmoed bekleed wees.  Onderdanig aan mekaar.  Dit het alles te doen met die gesindheid wat pas by ‘n geestelike volwasse persoon.  Hierdie geestelike beginsels is die boustene van geestelike volwassenheid.

Ons sien vanaf v1-4 vermaan hy die ouderlinge.  Hulle moet as herders toesig hou oor die kudde van God.  Maar in v5 praat hy met die kudde en hy sê: “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees;”

Net soos wat? Net soos wat hy oor onderdanigheid genoem het, so moet die jongeres ook onderdanig wees.  In 1 Pet 2:13, 18 en 3:1 praat hy oor onderdanigheid in verkillende kontekste, maar die fundamentele beginsel wat hy uitlig is onderdanigheid.

Dan kom hy in hoofstuk 5:5 en sê: net so moet julle jongeres onderdanig wees.  Petrus gaan die heeltyd terug na die basiese fundamentele beginsels.  Die beginsel waarop hy die heeltyd hammer is die beginsel van onderdanigheid. 

In hoofstuk 2 het daaroor gepraat.  In hoofstuk 3 het hy daaroor gepraat.  En nou noem hy dit weer.  Onderdanigheid is nie ‘n nuwe tema wat hy hier gebruik nie.  Inteendeel is dit ‘n tema wat regdeur die brief loop.

In 5v5 praat hy nie soseer van ouderdom nie.  Wat hy wel duidelik sê is dat die kudde moet onderdanig wees aan die herders.  Maw hulle moet onderdanig wees aan die wat oor hulle aangestel is in die Here.  Die geestelike jonges moet onderdanig wees aan die geestelike oueres.

Onderdanigheid is die fondasie van ‘n gesonde gemeente.  Daarom is daar soveel talentvolle persone, en aan wie God wonderlike gawes gegee het, maar hulle kan alleen tot geestelike volwassenheid kom wanneer hulle leer om onderdanig te wees. 

Geestelike volwassenheid beteken om onderdanig te wees aan mekaar, aan die geestelike oueres en om mekaar te dien.  Jesus het nie gekom om bedien te word nie, maar om te dien.

Ons praat oor basiese fundamentele beginsels van geestelike volwassenheid.  As ons nie hierdie beginsels toepas soos dit uiteengesit word in die woord van die Here nie, sal dit ‘n struikelblok wees vir ons geestelike groei.

Geestelike volwassenheid vra altyd vir ‘n gesindheid van onderdanigheid.  As daar nie onderdanigheid is nie, kan daar nie effektiewe bediening wees nie.

‘n Tweede gesindheid wat Petrus noem wat hand aan hand gaan met onderdanigheid is die gesindheid van ootmoedigheid of nederigheid.

1 Pet 5:5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar…

Die woord ootmoedig in die KJV is “humility”.  Om bekleed te wees met iets of ‘n persoon, is die Grieke se manier om te sê jy moet dit word waarmee jy jou beklee.  Wanneer Rom 13:14 sê: beklee julle met die Here Jesus Christus, dan beteken dit: word soos die Here Jesus Christus.  In hierdie geval sê Petrus: word ootmoedig.  Hierdie woord, is dieselfde woord as nederigheid.  Maw word nederig.

Trots en self-liefde is vyande van ‘n gesindheid van nederigheid.  Hierdie kleed van nederigheid pas almal en almal moet dit aantrek.  Die woord “ootmoed” is die Griekse woord wat beteken “om nie baie van jouself te dink nie.”  Dit is ‘n vreemde konsep vir die wêreld waarin ons leef wat vir ons leer jy moet baie van jouself dink.  Vandag is die dag van die “macho man”.

Matt 18:4 Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.

Matt 23:12 Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.

In Petrus se tyd en dan ook vandag is ootmoet of nederigheid in die wêreld se oë net vir die swakkes en vir die lafaarts.  

Fil 2:3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

Fil 2:8 en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Geestelike volwassenheid beteken om die gesindheid van nederigheid te hê, en dit beteken om te dien en nie om gedien te word nie.  Dit beteken om nie dinge uit selfsug of uit ydelele eer te doen nie, maar om ander hoër as jouself te ag.

Jy kry twee tipes Christene:  Een wat net wil ontvang.  Ek noem hulle “Bless me” Christene.  Al hoekom hulle kerk toe kom is om iets te ontvang.  Dan is daar die ander groep wat sê:  Here, wat kan ek vir U doen.  Ek kom nie om te ontvang nie, maar om te gee.

Fil 2:4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n.
5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

Hoekom moet ons nederig wees?  Petrus sê, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.  Ons lees dit ook in Jak 4:6.  Hoekom weerstaan God die hoogmoediges?  Baie eenvoudig.  Want Hy haat trots.  Spr 6:17 sê God haat trotse oë.

Spr 8:13 Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.

Jes 57:15 Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.

Die Here sê: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek.  En wie is dit wat by My woon?…nie die “high and mighty” nie, maar die verbryselde en nederige van gees.

Jes 66:2 Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

Aan die nederiges gee God genade.  Daar is mense wat misluk, wanneer hulle hul lewens wil regmaak.  Daar is mense wat dit nie reg kry om hulle probleme op te los nie.  Daar is mense wat elke vorm van terapie gebruik het om van probleme in hul lewens ontslae te raak. 

Daar is mense wat elke boek in die hande gekry het oor hulle dillema, maar die uiteinde is dat daar geen bevryding is nie.  Dalk is dit juis as gevolg van trots en hoogmoed.  Dalk is dit juis om ‘n selfgerigte lewe.  Die wêreld draai om jou.  En as dinge begin verkeerd gaan is dit die wêreld om jou en almal se skuld.

Daarom sê Petrus: wees aan mekaar onderdanig, sodat julle die genade van God kan ervaar en nie Sy teenkanting nie.  Verder sê hy in v6: verneder jou onder die kragtige hand van God

Mig 6:8 Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?

Die kragtige hand van die Here is ‘n Ou Testamentiese simbool van God se oorheersende mag, God se soewereiniteit.  God is in beheer.  Is God in beheer van jou lewe?  Dit is die kragtige hand van God wat jou sal verlos van benoudhede.  Dit is die kragtige hand van God wat jou sal beskerm in tye van nood.

Dis een van twee dinge:  Of jy kies om onder die kragtige hand van God te kom of jy val in die hande van God.  En die tweede een is ‘n verskriklike ding. 

Heb 10:31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.

Petrus sê: verneder jou onder die kragtige hand van God.  Dit is beter.  Elke mens gaan eendag voor God staan.  Jy gaan voor Hom staan of as jou Vader of God as jou Regter.  Of die kragtige hand van God verlos jou, of die kragtige hand van God veroordeel jou.

Hoe verneder ek myself onder die kragtige hand van God?

1 Pet 5:7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Dit is hoe ek myself verneder.  Dit is hoe ek onder God se kragtige hand bly.  En dit bring ons by die derde gesindheid van ‘n geestelike volwasse persoon, naamlik: vertroue.

Jy kan jouself nie verneder onder God se hand as jy nie glo dat God vir jou sal sorg nie.  Maar ek kan myself verneder onder Sy hand as ek glo dat Hy vir my sal sorg.  Daarom: werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Die gedeelte sê eintlik letterlik, ruil jou bekommernisse in vir vertroue op die God wat vir jou omgee.

In die wêreld se oë, sou volwassenheid beteken, sorg vir jouself en jy mag nie bang wees op jou probleme in die gesig te staar nie.  Maar geestelike volwassenheid beteken om jou bekommernisse op Hom te werp.  Geestelike volwassenheid beteken om God te vertrou, want jy weet Hy sorg vir jou.

Psa 55:22 Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.

Fil 4:19 En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Geestelike volwassenheid kom nie vanself nie.  Jy moet jouself in die godsaligheid oefen.   Dit begin by die basiese fundamentele geestelike beginsels van (1) onderdanigheid, (2) nederigheid, en (3) vertroue op God.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288