Monday 2 April 2012

Die Koninkryk van God op aarde gevestig


Sagaria 6:1-8

Sagaria is ‘n boek wat vir ons in baie detail God se plan met Israel en die nasies uitbeeld.  Dit is ook ‘n profetiese boek en ek glo dat elke Christen reg oor die wêreld hierin ‘n belang het.

Almal wil die toekoms ken en Christene het die unieke openbaring van God.  Dit gee vir ons baie detail oor die toekoms.  En daarom was profesie nog altyd fasinerend vir Christene om te bestudeer.  En hierdie is een van daardie boeke.

Die mens was nog altyd geïnterreseerd in die toekoms.  Daar was nog altyd die towenaars, sieners en profete.  Hulle kyk in kristal balle, lees teeblare, en bestudeer die sterre om te kan sien wat die toekoms vir ons inhou.

Maar die enigste ware bron weet ons is die Bybel en wat die Bybel vir ons sê oor die toekoms.  Net God ken die toekoms en net Hy ken die einde van die begin af.  Net Hy bepaal die einde van die mensdom en die wêreld.  God weet alles.  Hy is Alwetend.  Hy ken die verlede, hede en toekoms.

Jes 46:9 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;
10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;

Hand 15:18 Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.

God ken al sy werke, tot die laaste werk wat Hy doen aan die einde, van die begin af.  Wat dan van die negatiewe dinge?  Het jy geweet dat God weet van al die boosheid van alle mense en dat niks vir Sy oë verberg is nie.

Amos 9:2 Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal.
3 En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt.
4 En al gaan hulle as gevangenes voor hulle vyande uit, Ek sal van daar die swaard ontbied om hulle dood te maak; en Ek sal my oog op hulle rig ten kwade en nie ten goede nie.

Maw God sal die kwaadoener orals vind.  God weet alles.  Hy weet van elke sonde wat elke mens gedoen het.  Maar daar is ‘n positiewe kant ook.

Mal 3:16 Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.
17 En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien.
18 Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.

Aan die een kant sal God alle ongeregtigheid vind en weet Hy van alles.  Maar aan die ander kant, ken Hy die regverdiges en is hulle name opgeskryf in Sy gedenkboek.   God is Alwetend.  Hy weet alles en ken elke mens en elke daad wat ons gedoen het en nog sal doen.

En iewers in die middel van dit alles het God in Sy Alwetendheid ‘n plan daargestel en Hy sal Sy plan deurvoer.  Die Bybel vertel ons van God se plan, maar die toekoms word dan spesiek aan Sy profete geopenbaar.

Baie van die dinge wat ons lees wat alreeds gebeur het, was nog toekoms vir die skrywers.  Al die profesië waaroor die Ou Testament profete geskryf het oor die eerste koms van die Messias was ongelooflike profetiese waarhede.  Nou is dit vir ons geskiedenis.  Maar God het nog baie ander dinge vir ons oor die toekoms gegee.

God staan nie aan die buite kant en kyk wat gebeur, en dan reageer Hy nie.  Hy is die Een wat Sy plan laat uitwerk vir Sy doel.  Ons het ook laasweek gesien dat God nie altyd gaan swyg nie en dat Hy ‘n einde gaan maak aan sondaars, ‘n einde aan sonde en ook die bose wêreldse sisteem.

God gaan ook Sy koninkryk op die aarde oprig.  Dink net vir ‘n oomblik.  Kan jy jou indink ‘n wêreld waar geregtigheid altyd geld, waar geregtigheid en goedheid heers, waar daar totale en blywende vrede gaan wees?  Waar blydksap heers, waar gesonheid sal wees en as iemand op die ouderdom van 100 jaar sterf, sal hy sterf as ‘n babatjie?

‘n Wêreld waar kinders speel by ‘n gat van ‘n slang en leeus en lammers saam wei?  Kan jy jou indink ‘n wêreld waar landbou oorvloedig sal wees en dat daar oorgenoeg kos is vir almal, selfs met die grootste bevolkingsontploffing in die mens se geskiedenis?

Kan jy jou indink aan ‘n wêreld wat regeer word deur die liefdevolle, reddende, volmaakte Heerser, Jesus Christus? ‘n  Wêreld waar ons saam met Hom gaan regeer en die goddelose geoordeel sal word en goddeloosheid sal met ‘n ysterstaf regeer word deur God self.

Dit is die Millenium Koninkryk van God en dit is wat God beplan vir die toekoms.  Dit is oppad.  Dit is ‘n nuwe wêreld wat kom wanneer Jesus kom.

In Sagaria 6 dan, sien ons twee finale elemente wanneer dit kom by die Koninkryk wat op aarde geverstig gaan word: Eerstens is dit die negatiewe element, nl. die vernietiging van die vyand.  Tweedens is dit die positiewe element, nl. die vestiging van God se Koninkryk hier op die aarde.

Die wêreld word ontroon van hul goddelose monarge.  God gaan skoonmaak, regeringse onttroon, en Christus vestig as die groot finale Heerser.  God gaan alles terugvat wat aan Hom behoort.   Hy gaan alles terugvat wat die duiwel gesteel het.

Kom ons begin en kyk eers na die negatiewe:

1.    God oordeel Sy vyande

Sag 6:1 En ek het weer my oë opgeslaan en gekyk—daar was vier strydwaens wat tussen die twee berge uit te voorskyn kom, en die berge was berge van koper.
2 Voor die eerste wa was bruin perde, en voor die tweede wa swart perde,
3 en voor die derde wa wit perde, en voor die vierde wa bont perde, sterkes.
4 Daarop het ek aangehef en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?
5 En die engel het geantwoord en vir my gesê: Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan nadat hulle hul gestel het by die Here van die ganse aarde.
6 Dié met die swart perde trek uit na die land van die noorde, en die wittes trek uit agter hulle aan; en die bontes trek uit na die land van die suide.
7 En toe die sterkes uittrek, het hulle begeer om weg te trek om die aarde te deurkruis; en Hy het gesê: Trek weg, deurkruis die aarde! En hulle het die aarde deurkruis.
8 Toe het Hy my geroep en aan my dit gesê: Kyk, die wat uittrek na die land van die noorde, hulle bring my Gees tot rus in die land van die noorde.

Nou dit is die einde van die visie.  En hierdie visie spreek van God se oordeel oor Sy vyande.  Hierdie gedagte kry ons ook dan regdeur die Bybel.  Trouens, ons kry in Openbaring 14:6 die verklaring van die engel wat in die middel van die lug vlieg en die ewige evangelie verkondig.  Baie Bybel uitleêrs het al gewonder oor wat  hierdie ewige evangelie is.

As jy net die volgende vers lees, dat sien jy wat dit is.

Op 14:7 En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.

Luister! Die ewige evangelie is die boodskap wat God van die begin af tot aan die einde gegee het.  Dit is die boodskap dat God sonde straf en geregtigheid beloon.  Dit is die inhoud van die ewige evangelie.

En so word hierdie tema oor en oor in die Bybel herhaal.  Dit is ‘n tydlose boodskap.  Vanaf Lucifer geval het tot en met die nuwe hemel en nuwe aarde, sal die ewige evangelie voortgaan om God se handelinge met die mens uit te beeld.  Hy gaan die sondaar straf.  Hy gaan die regverdige beloon. 

Sag 6:1 En ek het weer my oë opgeslaan en gekyk—daar was vier strydwaens wat tussen die twee berge uit te voorskyn kom, en die berge was berge van koper.

Die vier strydwaens verteenwoordig oorlog strydwaens.  Hulle het deel uitgemaak van die storm troepe van ‘n ou weermag.  Hierdie strydwaens is dan die voertuie van God se oordeel op die nasies. 
Let op! Dit sê, dat dit het tussen die twee berge te voorskyn gekom en die berge was van koper.  Hy sê nie net twee berge nie.  Hy sê, tussen die twee berge.  So dit was bekende berge.  En berge spreek van sterkte en die feit dat hulle van koper is, is want koper simboliseer ook op baie ander plekke in die Bybel, oordeel.

Op 1:15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.

Dit beeld Jesus se oordeel uit wanneer Hy verbrysel met Sy voete.  So die berge wat spreek van sterkte en die koper wat spreek van oordeel is ‘n ongelooflike uitbeelding van God se oordeel.  En tussen hulle kom vier strydwaens wat storm in die vallei.

Bybel skoliere was nog altyd eens dat hierdie twee berge verwys na die berg Sion en die Olyfberg.  Maw hierdie strydwaens gaan tussen hierdie twee berge te voorskyn kom.  Die Dome of the Rock (slide) is gebou op Sion en die muur reg agter dit is die oostelike muur van Jerusalem.  Die berg aan die anderkant van die vallei is die Olyfberg.  En in die middel is die Kidron vallei. (slide)

Joël 3:2 sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.

Waar is die dal van Josafat?  Wel, daar is nie so vallei nie, maar dit beteken letterlik Jahwe oordeel.  Dit is die vallei van oordeel.  En Bybelstudente het nog altyd gesien as die vallei van Kidron.  Jode en Moslems stem saam dat dit die plek is waar die finale oordeel van die wêreld gaan plaasvind.

Sag 14:4 En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.

Wanneer Jesus weer kom, gaan Hy op die Olyfberg staan, waar?  Aan die oostekant.  Wat is aan die Oostekant?  Die dal van Kidron.  Die Kidron vallei gaan oop split, die een helfte van die berg na die noorde en die ander helfde na die suide.  Maw God gaan ‘n nuwe vallei skep.  ‘n Groot massiewe vallei en dit is waat Hy gaan oordeel.

Sag 6:2 Voor die eerste wa was bruin perde, en voor die tweede wa swart perde,
3 en voor die derde wa wit perde, en voor die vierde wa bont perde, sterkes.

Hier openbaar God die kleur van die perde.  Die eerste is bruin.  Die KJV sê, red.  So kom ons aanvaar hulle is rooi.  En dan die tweede is swart.  V3 Die derde is wit en die vierde is bont.  So hoekom juis vier waens met perde?  Want dit spreek van universaliteit.

Jesaja 11:12 praat van die vier hoeke van die aarde.  Die Bybel praat van die vier winde van die hemel, noord, oos, suid, wes.  So die idee is dat God se oordeel gaan universieel wees.  Dit gaan ‘n wêreldwye oordeel wees.
Die oordeel van God begin dan wanneer Jesus kom en Sy voete op die Olyfberg sit.  Wanneer dit begin by die vallei van Kidron en daarna die hele wêreld sal oorspoel.

Sag 6:4 Daarop het ek aangehef en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?
5 En die engel het geantwoord en vir my gesê: Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan nadat hulle hul gestel het by die Here van die ganse aarde.

Net interresant is dat die KJV dit vertaal het met “four spirits of the heaven”.  Die “ruachs”.  Dit ka nook dan wys na vier engele.  Engele wat God se oordeel uitvoer.  En let op!  Hierdie vier winde, of dan engele was eers gestel by die Here.  Hulle het voor die Here gestaan.  Dan word hulle uitgestuur.

En as jy mooi lees, sal jy sien word die millennium titel van die Here word hier gebruik. “die Here van die ganse aarde”.  Dit verwys na die dag wanneer Hy die ganse aarde gaan oorneem.

So, die perde spreek van God se oordeel en die strydwaens is die vier engele.  Engele wat uitgestuur word deur die goddelike oordeel teen die goddelose wêreld.  Dit is wat ons hier sien. 

En wat interresant is, is die feit dat Israel nog nooit van die ooste of die weste kant af aangeval is nie.  Hulle het altyd van die noorde af aangeval en van die suide.  Aan die suide kant het jy Egipte.  So waarheen word hierdie strydwaens gestuur?  Na die noorde en die suide.

Sag 6:6 Dié met die swart perde trek uit na die land van die noorde, en die wittes trek uit agter hulle aan; en die bontes trek uit na die land van die suide.

So God is besig om finale oordeel te bring, veral op die nasies wat teen Israel was.  Ons less hiervan in Matteus 25.  Diegene wat geringstes, nl die Jode goedgesind was, en die wat nie die geringstes goedgesind was nie.  In Gen 12 lees ons,

Gen 12:3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

So die weermag van God, strydwaens sal na die noorde toe uittrek en ook na die suide.  Niks van die ooste of weste, bloot om die feit dat die Middellandse see en die Arabiese woestyn dit verhoed.

Sag 6:7 En toe die sterkes uittrek, het hulle begeer om weg te trek om die aarde te deurkruis; en Hy het gesê: Trek weg, deurkruis die aarde! En hulle het die aarde deurkruis.

Dit is baie interessant dat niks word gesê van die rooi perde.  Daar word nie gesê waarheen hulle moet gaan nie.  Hoekom nie?  Die beste wat ons sover kan sê is dat hulle klaarblylik teruggehou word vir laaste.

Eers as die swart perde en die wittes en die bontes die aarde deurkruis het dan kom die verskriklike bloedvergieting.  So op die ou einde deurkruis hierdie strydwaens, die goddelike oordeel, die hele wêreld.

Dit begin in die Kidron vallei, na die noorde en die suide en dan na die hele aarde.  God se oordeel gaan die hele wêreld dek.  Die vraag is dan: wanneer gaan dit gebeur?  Die antwoorde is eenvoudig, wanneer Jesus weer kom.

Ons lees in Matt 24 & 25.  Christus gaan kom in al Sy heerlikheid.  En as jy dit vergelyk met Sagaria, dan dien jy Hy staan op die Olyfberg.  Die Olyfberg sal in twee verdeel.  Die nasies van die wêreld sal in die vallei van Jehosasafat bymekaar kom en hulle sal geoordeel word.

Nou aan die einde van die 1000 jaar vrederyk sien ons is daar weer ‘n finale vonnisoplegging, die wittroon oordeel. 

Sag 6:8 Toe het Hy my geroep en aan my dit gesê: Kyk, die wat uittrek na die land van die noorde, hulle bring my Gees tot rus in die land van die noorde. 

Vers 8 is dan die laaste woorde van hierdie visioen wat Sagaria sien.  En dit praat van tevredenheid.  Die oordeel bring God se Gees tot rus.  Maw God se Gees was nog altyd in ‘n warboel totdat Hy wraag neem en met sonde, sondaars en die sondige wêreldse sisteem afgereken het.  Dan sal Hy tevrede wees.

En ons sien in vers 8 dat Hy veral te vrede is oor die wat na die noorde toe uitgetrek het.  Wat dink julle sit noord van Israel?  Babilon.  En ons sien dit ook in Openbaring.  Ons het laas week daarna gekyk. Die finale vorm van boosheid is Babilon.  Babilon is uiteindelik vernietig.  Sagaria noem die Sinear.

Israel kan nooit in die Koninkryk van God ingaan, as al hierdie dinge nie gebeur het nie.  En dit bring ons by die volgende gedagte, wanneer die Koning gekroon sal word.  Ons sal dan volgende week daarna kyk.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288