Wednesday 25 April 2012

Die lewende water


Teksgedeelte: Joh 4:1-14

Joh 4:1 Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes—
2 alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels—
3 het Hy Judéa verlaat en weer na Galiléa gegaan.
4 En Hy moes deur Samaría gaan.
5 Hy kom toe by ‘n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het.
6 En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.
7 Daar kom ‘n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink—
8 want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop.
9 En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.
10 Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
11 Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?
12 U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?
13 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;
14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

Julle sal onthou toe ons in die verlede na die evangelie van Johannes gekyk het, het ons gesê dat die enkele doel van Johannes is om Christus te beskryf as God was mens geword het.  God in ‘n menslike liggaam.

Die sleutel van Johannes hoofstuk 4 is v26 waar Jesus sê vir die Samaritaanse vrou sê, “Dit is Ek wat met jou spreek!”, maw “Ek is die Messias.”  En wanneer ons hoofstuk 4 lees is die fokus nie hier op die Samaritaanse vrou nie.  Die fokus is nog altyd Jesus.  God in ‘n menslike liggaam.

Dit is ook interessant om te sien dat Jesus nie gepla was oor die tipe persoon waarmee Hy te doen het nie.  Hy was lief vir alle mense.  Hy was nie kieskeurig nie.  Hy het nie gunstelinge gehad nie.  God is geen aannemer van die persoon nie.

En in hierdie gedeelte sien ons hoe Hy in liefde deel met ‘n vrou wat vir ander ‘n totale uitgeworpene was.  Vir Hom was dit nie ‘n probleem om met haar te deel nie, want Sy liefde word nie bepaal deur die objek wat Hy lief het nie.  Sy liefde word bepaal deur die karakter van Sy liefde.  En dit is die verskil tussen die mens se liefde en goddelike liefde.

Menslike liefde sê, “Ek is lief vir jou, want ek hou van wie of wat jy is.”  Goddelike liefde sê, “Ek is lief vir jou, maak nie saak wie of wat jy is nie, want dit is die karakter van liefde.”  God het lief, want dit is liefde, dit is Sy karakter, om lief te hê.  God se liefde is nie oordeelkundig nie.

Ons het dan ook hier in ons teksgedeelte met ‘n baie interessante persoon te doen.  Ons het egter nie baie besonderhede van haar lewe nie.  Wat ons wel weet is dat sy met mans deurmekaar was.  En dit is al wat ons hier hoef te weet, want dit was ‘n illustrasie van haar sonde.

Sy was ‘n Samaritaan, net die teenoorgestelde van Nikodemus wat ‘n Jood was.  Sy was ‘n vrou en Nikodemus was ‘n man.  Sy was ‘n uitgeworpene, Nikodemus was ‘n geleerde.  Sy was laer klas en Nikodemus ‘n hoër klas.  Sy was arm en swak, Nikodemus was ryk.

Nikodemus het Jesus erken en gesê, “Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.”  Maar sy het nie geweet wie Jesus was nie.

Twee totaal en al verskillende mense.  Maar Jesus lei hierdie vrou tot kennis van Homself.  Want dit gaan alles oor Hom.  Dit gaan alles oor Jesus Christus.  Dit openbaarmaking van die Messias.  Dit is wat saak maak.

Terloops, dit is die eerste keer wat Jesus Homself as die Messias bekend stel, en dit nog aan ‘n onbekende vrou van Samaria.  En baie het gevra waarom het nie Hy eerder nie net na Jerusalem toe gegaan, na die tempel en vir die leiers daar gaan vertel wie Hy was nie.  Hoekom openbaar Hy Homself aan ‘n onbekende vrou?

Wel, God se gedagtes is nie ons gedagtes nie, maar wat ons wel weet is dat God verkies het om nie dit aan die verstandige mense en wyse te openbaar nie, maar aan die kindertjies.  En toe Hy uiteindelik dit aan Israel geopenbaar het, het hulle in elk geval nie geglo nie.

Vers 1-6 gaan dan oor die omstandighede wat gelei het tot hierdie konfrontasie.

Joh 4:1 Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes—
2 alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels—
3 het Hy Judéa verlaat en weer na Galiléa gegaan.

So, daar is ‘n storie wat soos ‘n veldbrand versprei het, dat Jesus baie suksesvol was.  Baie mense het na Jesus toe gegaan.    Hy het meer dissipels gehad as Johannes die Doper.  En Johannes die Doper se dissipels kon dit nie verstaan nie.  Waarom sou hulle Johannes verlaat en na Jesus toe gaan.  En julle onthou wat Johannes gesê het, “Hy moet meer word, maar ek minder.”

Johannes sê inderwaarheid, dit is veronderstel om so te wees.  Hulle moet na Hom toe gaan.  Dit is wat ek kom doen het.  Net om die weg van die Here in die woestyn te berei.  Dit gaan oor Hom.  En dit gee my vreugde.

Joh 3:28 Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is.
29 Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.

Die skare het na Jesus toe gegaan en dit het die Joodse leiers ontstel.  Hulle het eers nie van Johannes gehou nie en nou nog minder van Jesus.  Hoe weet ek dat hulle nie van Johannes die Doper gehou het nie?  In Markus 6 lees ons dat hulle het sy kop afgekap en hulle was bly daaroor.  Vir die Joodse leiers was dit ‘n groot dag.

In hulle oë het hulle ontslae geraak van die godsdienstige afvalligheid.  As daar enigiets was wat ontoelaatbaar was, was dit iemand wat die waarheid verkondig het in die midde van valsheid.  Dit is juis as gevolg van hulle geveinsdheid dat hulle nie iemand wat die waarheid verkondig het kon verdra nie.

Johannes die Doper was iemand wat die waarheid verkondig het.  En as hulle nie van hom gehou het nie, wat het hulle nie van Jesus gedink nie?  Hulle was voortdurend in konflik met Jesus totdat hulle Hom uiteindelik dood gemaak het.

En toe Jesus verneem dat die fariseërs gehoor het van al die mense wat na Hom toe gekom het, het Hy na Galilea gegaan.  Hoekom?  Was Hy bang vir hulle?  Nee!  Kon Hy hulle nie face nie?  Nee!  Dit was eenvoudig nie God se tyd dat Hy in konfrontasie met hulle moes kom nie.  Dit was nie die regte tyd nie.  Daarom het Hy gegaan.

Jesus het ook nie net weggegaan om weg te kom van die fariseërs af nie.  Hy moes na Samaria toe gaan, want dit was ‘n goddelike noodsaaklikheid.  Hy het gegaan na Samaria, want daar het Hy ‘n goddelike afspraak gehad met ‘n vrou.

‘n Ou kon sê dat Jesus moes deur Samaria gaan om na Galilea toe te gaan.  Dit sou die korste en maklikste pad gewees het.  Maar die Jode het eenvoudig net nie deur Samaria gegaan nie.  Die Jode het ‘n ander roete gehad.  Hulle wou nie hulle voete in Samaria sit nie.

Jode en Samaritane wou niks van mekaar af weet nie.  Hulle het mekaar gehaat.  Maar Jesus het deur Samaria gegaan.  Maar hoor wat sê vers 4,

Joh 4:4 En Hy moes deur Samaría gaan.

Dit was ‘n goddelike noodsaaklikheid.  In God se raadsplan was dit so dat die Verlosser deur Samaria moes gaan, want Hy het ook ‘n afspraak gehad met sondaars daar.  God se genade het ook begin om te verskuif na heidene.  God se guns het begin swaai na die heidene.

Joh 4:5 Hy kom toe by ‘n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het.
6 En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, somaar by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur.

Jesus het ook op die regte tyd daar opgedaag.  As Hy twee ure later daar aangekom het, sou daar geen vroue daar aangekom het nie.  Maar God is altyd op tyd.  God se skedule is nooit verkeerd nie.  Sy goddelike tydsberekening was perfek.

Jesus was moeg en het daar by die fontein gaan sit.  Hoekom?  Want Hy was in God se plek op God se tyd om God se wil te doen.  En dit is ‘n ongelooflike gedagte.  Luister!  Dit is wat God van elke gelowige wil hê, dat ons God se man sal wees in God se plek op God se tyd om Sy wil te doen.

Die hartseer is dat meeste van ons wil wees waar ons wil wees, wanneer ons daar wil wees met die doel om dit te doen wat ons wil doen.  So min Christene is sensitief vir die Gees van God om te hoor wat God wil hê ons moet doen op die regte plek op die regte tyd.

So hoe weet ek dan wanneer God wil hê ek moet iewers op ‘n plek iets vir Hom doen?  Die vraag is, as God wil hê jy moet iets vir Hom doen, dink jy nie Hy sal jou laat weet nie?  God sal jou laat weet!  Al hoekom ek nie sou weet wanneer God wil hê ek moet iets doen nie, is omdat ek te besig is om my eie dinge te doen en nie sensitief is vir die Heilige Gees nie.

Dit gaan alles oor beskikbaarheid.  Die meeste van ons is nie beskikbaar nie.  Ons is te besig met ons eie lewens.  Ons moet net beskikbaar wees.

Joh 4:7 Daar kom ‘n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink—
8 want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop.

Die fontein waar Jesus sit is ‘n halwe myl uit die dorp van Samaria uit.  En daar was genoeg water in die dorp.  Waarom sou sy dan so ver loop vir water as daar water in die dorp is?  Heel waarskynlik as gevolg van haar agtergrond en dalk wou die ander vroue haar nie daar gehad het nie. 

Sy sê ook later vir Jesus, “Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.”

Jesus praat oor die geestelike water en sy praat van fisiese water.  Maar sy was ‘n uitgeworpene, verstoot deur die samelewing.  Daarom kom sy ‘n half myl om water te kry.  Jesus sê toe vir haar, “Gee vir My water om te drink”.  Hoekom?  V8, want sy dissipels was in die stad om kos te koop.

Die vraag is tog:  Hoekom kry Jesus nie vir Homself water nie?  Want Hy het nie ‘n skepding gehad nie.  Dit is waarom die vrou vir Jesus sê, “Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?”

En ek wonder wat hierdie vrou gedink het toe sy hoor dat die dissipels in die Samaritaanse stad is om kos te kry.  Kan jy jou indink aan die skok van die Samaritane toe ‘n klein groepe Jode in hulle stad kom.  Hulle het seker gedink hierdie ouens is mal.  Hulle haat ons dan.

Dit vertel ons ook iets mooi, dat in die paar maande wat die dissipels saam met Jesus was, Hy hulle reeds iets geleer het van Sy liefde wat nie grense het nie.  Hulle was in die dorp en die Bybel sê nie vir ons wat gebeur het nie, maar dit sou nogals ‘n interessante storie gewees het.

Terug by die put vra Jesus die Samaritaanse vrou vir water en dit moes haar natuurlik gerattle het.  Eerstens het die manne nie met die vroue in die publiek gepraat nie.  Dit was teen die wet.  Jy het selfs nie met jou eie vrou of sister of dogter in die openbaar gepraat nie.  Daar was wel voorsiening dat jy met jou ma kan praat.

Tweedens het ‘n Rabi of godsdienstige leier nie met ‘n prostituut gepraat nie.  Nog meer het hulle nooit met vroue gepraat nie, die rabi’s en godsdienstige leiers.  Daar was selfs ‘n groep fariseërs wat nie eers na ‘n vrou gekyk het nie.  Hulle het hulle net toegemaak en aangehou loop.

Derdens het Jode en Samaritane eenvoudig net nie met mekaar gepraat nie.  Hulle het mekaar gehaat. 

Joh 4:9 En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.

Nou hoe het sy dan geweet dat Hy ‘n Jood is?  Hy moes soos ‘n Jood gelyk het.  Sy moes dit ook in Sy klere gesien het wat Hy aan gehad het.  Die klere wat ‘n Rabi gedra het.  So sy het geweet.  Maar sy kon dit nie glo nie.  Die Jode het dan geen gemeenskap met die Samaritane gehad nie.  Daar was rasse-haat.  Bitterheid oor die ontrouheid.

Sy was geskok waarom ‘n Jood uit haar eie drink emmer sou drink.  En dit is Jesus.  Hy vebreek elke grens.  Sy liefde verbreek grense.  Sy liefde ryk uit na mense wat nie eers na Hom soek nie.  Mense wat dit nie verwag nie.

Joh 4:10 Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.

As jy die gawe van God geken het.  Wat is die gawe van God? Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het...”  As jy dit geweet het sou jy My gevra het vir die lewende water.

Jesus draai dit om.  Hy is dors en sy het die bron om vir Hom water te gee.  Nou het sy dors en Jesus is die bron.  Jesus begin by die fisiese dors en draai dit om na ‘n geestelike behoefte en sê, Ek het dit wat jy die nodigste het.  Dit is bedekte stelling, soortgelyk aan die een wat hy gemaak het aan Nikodemus, “Jy moet weer gebore word.”
In die Ou Testament kry ons ‘n belofte van die lewende water.

Jes 55:1 o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!

Jesus praat nie van die fountain of youth nie.  ‘n Geheime fontein nie.  Maar sy het waarskynlik gedink Jesus weet van ‘n spruit waarvan sy nog nie weet nie.

Joh 4:11 Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?
12 U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?

So vra sy vir Hom, as jy ‘n geheim het om hierdie lewende water te kry, dan moet jy iets kan doen wat selfs Jakob nie kon doen nie of nie geweet het van nie.  Jy is tog nie groter as Jakob nie?  Sy is steeds verward.

Joh 4:13 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;
14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

En haar reaksie hierop sê, nou weet sy, iets is anders.  Maar sy is nog nie 100% seker nie.  Jesus sê vir haar, wat hierdie fisiese water vir jou droë mond kan doen, so sal My water vir jou droë siel kan doen.

Elke mens dors, elke mens soek water.  Hoeveel te meer het die mens nie die lewende water nodig nie.  En ek is seker dat haar reaksie was positief alhoewel sy nie heeltemaal alles verstaan het of die implikasies besef het nie.

Joh 4:15 Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.

En Jesus kon gesê het “goed, hier is dit”, maar is dit wat Hy doen?  Nee!  Hoekom nie?  Anders was dit ‘n goedkoop bekering, en hoeveel van hulle is daar nie?  Wat bedoel ek?  Hoeveel mense sou nie graag reageer as jy vir hulle ‘n oorvloedige lewe belowe nie?  Baie.  Baie mense soek oorwinning en as jy dit aan hulle belowe en ‘n uitnodiging maak, gaan hulle kom.

Maar Jesus werk nie so nie.  Wat doen Jesus toe die vrou sê, gee my daardie water?  Wat doen Jesus?  Hy spreek ‘n belangrike ding aan en dit is sonde!  Sy moet eers besef dat Sy ‘n sondaar is en Sy moet besef wie Christus is.  Net ‘n behoefte om die ewige lewe te hê, of om oorwinning te hê, of om jou ewige dors te les is nie genoeg nie.

‘n Behoefte na die ewige lewe is nie genoeg nie.  Daar moet ‘n besef van sonde wees en ‘n daadwerklike bekering van sonde, ‘n wegdraai van sonde en ‘n draai na Jesus Christus toe.  En hierdie  vrou het nog nie daar uitgekom nie.

Sy het nog nie geweet wie Jesus is nie.  Sy het nog nie besef dat sy ‘n sondaar is verlore sonder God nie.

Daar is te veel goedkoop bekerings in die kerk.  Mense wat ‘n behoefte het na ‘n beter lewe, wat graag hemel toe wil gaan, maar hulle besef nog nie dat daar iets tussen hulle en God staan nie, en dit is sonde.  En dit is wat Jesus doen.  Hy maak haar bewus van haar sonde, as jy verder lees wat gebeur.

Jesus het gekom om te soek en te red die wat verlore is.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288