Monday 2 April 2012

Die Nagmaal


1 Kor 11:26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

In die Nuwe Testament is daar twee sakramente en dit is belangrik dat ons dit sal verstaan, omdat daarin ‘n groot seën is vir die gelowige.  Ons gaan nagmaal bedien vanoggend en daarom vir van die geleentheid gebruik maak om oor die nagmaal te gesels.

1. Wat doen ons as ons die nagmaal gebruik?

Wanneer ons die nagmaal gebruik is ons besig om te verkondig!  “Verkondig” is die Griekse woord “kataggellō”, wat beteken, “om iets te verkondig / om iets uit te beeld / om iets voor te hou”.

Maw. met die nagmaal word die dood van die Here verkondig, dit word uitgebeeld of dit word voorgehou.

Deurdat ons die dood van Christus verkondig, verklaar ons dit.  Wanneer ons om die tafel met brood en wyn saamkom, dan verklaar ons ons geloof dat Jesus, die Seun van God, mens geword het en gesterf het as ‘n offer vir ons sondes. 

Soms as daar ‘n belangrike gebeurtenis plaasvind in die geskiedenis, dan besluit mense ons moet iets doen om dit te herdenk.  Soms word ‘n klip opgerig as ‘n monument, maar dit is nie altyd so effektief nie. 

Die uittog uit Egipte was ‘n baie belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Israel, maar God rig nie ‘n monument op nie, Hy stel ‘n seremonie in wat op ‘n sekere dag gehou moet word.  Dit word die Pasga genoem.

Jesus het op die laaste pasga die nagmaal ingestel om sy dood te herdenk.  En nou, amper 2000 jaar na die kruisiging van Jesus, verklaar en verkondig ons steeds die dood van Jesus Christus wanneer ons die nagmaal gebruik.

Die nagmaal beteken egter nie net ons verkondig sy dood nie, maar ons beeld ook die dood van Jesus uit.  Sommige mense hang ‘n skets of prent van Jesus op sy muur, of hang ‘n kruis op om hulle aan Hom te herinner.  Maar nêrens vind ek dit in die Bybel nie.  Sulke dinge lei gewoonlik na afgodery.

Daar is selfs vertonings of dramas of wat die dood van Jesus probeer uitbeeld.  Terwyl God vir ons ‘n wyse gegee het hoe om die dood van Jesus aan onsself uit te beeld en aan ander te verkondig.  Dit is die nagmaal.  Hierdie is die Christen “vertoning”.  Hier verkondig ons die dood van Christus, God se manier.

Daar is net drie maniere in die Bybel wat God gekies het om die dood van Christus uit te beeld: deur die Woord te lees, deur die prediking van die Woord en deur die nagmaal.

Die derde betekenis van “katagello” is “om iets voor te hou” of “om bekend te maak”.  Maw ons kan nie Christenskap bekend maak of aan iemand voorhou sonder die dood en opstanding van Christus nie.  En ons kan nie na die tafel van die Here toe kom sonder om hierdie waarheid aan ander voor te hou nie.

Die oomblik wanneer ons om die tafel van die Here bymekaar kom en die brood breek en die wyn drink, mag daar niemand wees wat vra: “maar wat beteken dit alles nie.”  Ons moet die betekenis bekend maak.  Mense moet weet waarom dit gaan.

U moet weet, dat die brood gaan om Jesus se liggaam wat vir ons gebreek is en die wyn gaan om sy bloed wat vir ons gevloei het.  Hierdie tafel spreek van Jesus se dood.  Dit spreek van die gekruisigde Jesus.

Dit is hier waarop die saligheid van die mens berus.  Jesus het opgestaan en is verheerlik, wat ‘n wonderlike boodskap vir die gelowige, maar eers moet die dood van Christus aan ‘n verlore wêreld verkondig word.

Wat doen ons as ons die nagmaal gebruik? Ons verkondig dat Jesus gesterf het, hierdie waarheid word uitgebeeld in die simbole van die brood en wyn, en dan maak ons dit bekend, ons hou dit voor aan mense.

2.  Wat verkondig ons, en hoe verkondig ons dit?

Ons teksvers sê: “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”

Wat verkondig ons?  Eerstens verkondig ons dat God Sy Seun gestuur het vir die mens.  Net soos die manna in die woetsyn gestuur is, so is Jesus in die wêreld gestuur.  Hoe verkondig ons dit?  Deur die simbole, die brood en wyn op die tafel. 

Die bedoeling waarom daar brood en wyn op die tafel geplaas is, is dat dit geëet sal word en die wyn gedrink sal word.  Die tafel wat gedek is, spreek van voorbereiding vir ‘n maaltyd of ‘n fees. 

Die nagmaal bied ‘n uitnodiging aan diegene wat honger en dors na geregtigheid.  Hy wat honger is, kom eet.  Hy wat dors het, kom drink.  Die brood en wyn op die tafel verteenwoordig Jesus.

Nou, Christus is gestuur vir die mens en dit wat vir ons voorberei is, is genoeg om die mens se geestelike honger te vul.  Die brood vervul die geestelike honger en die wyn vervul die geestelike dors.  Maw Christus vervul die geestelike nood van die mens.  Christus is genoegsaam. 
Die mens wat geestelik wil lewe moet weet, dat God het voorsiening gemaak.  Hierdie voorsiening is in Jesus Christus se kruisisging.  God skenk aan ons die brood van die lewe. 

Die brood en wyn verteenwoordig Christus as mens.  Dit verteenwoordig Sy vleeslike liggaam, en sy bloed.  Die brood en die wyn wil vir jou en my wys dat Jesus was vlees en bloed, net soos ek en jy vlees en bloed is.  Het u al gewonder waarom daar brood en wyn op die nagmaalstafel is en nie net brood of net wyn nie?

Die nagmaal verkondig sy dood.  Die brood en wyn verteenwoordig nie net dat Hy mens was nie, maar dat Hy dood was.  Die brood en die wyn is nie vermeng nie, want dan sou dit spreek van ‘n lewendige mens.  Maar die brood en wyn is apart. 

Lev 17:11 Want die siel van die vlees is in die bloed.

Die woord siel is die Hebreeuse woord “nephesh”, wat beteken, “die lewe of die asem”

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem (die nephesh) van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword.

Wat gebeur as jy ophou asem haal?  Jy gaan dood.  Interesant dat die mens se bloed vervoer suurstof na al die dele van jou liggaam.  Hierdie mediese feit lees ons al reeds van in Lev 17:11.

Die lewe, die asem, die siel van die vlees is in die bloed.  Nou wat gebeur as jy al jou bloed uit jou liggaam tap?  Jy gaan dood.  Daarom spreek die brood en die wyn wat nie gemeng is nie, maar apart van mekaar is op die nagmaal tafel, van die dood van Jesus Christus.

En toe die bloed uit sy liggaam vloei, het die lewe uit sy liggaam uit gevloei.  Die liggaam is bloedloos en die wyn is ‘n teken van dood.  Die brood en wyn beeld die dood van Jesus uit.

Ons verkondig dat God Sy Seun gestuur het, dat Hy ‘n mens was.  Ons verkondig sy lyding en dood, maar deur die nagmaal te gebruik, verkondig ons ook ons deelname daarin.

Ons teksvers sê nie: “Want so dikwels as julle na hierdie brood en na hierdie beker kyk of daarna staar nie.”  Maar so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink.  Daar is deelname.

Christus gaan jou nie verlos, solank as wat jy na die brood van die lewe staar of daarna kyk nie.  In ‘n geestelike sin, moet jy die brood eet.   Die brood stil nie jou honger, solank as wat dit op die tafel bly lê nie.  En jou dors word nie geles, solank as wat die beker net daar staan nie.  Jy moet die brood eet en die wyn drink.
Dit is belangrik dat ons dit ook net sal verstaan!  Net soos die doop jou nie kan red nie, net so kan die nagmaal jou nie red nie.  Hierdie fisiese brood en wyn gaan jou nie red nie.  Wanneer Jesus sê in:

Joh 6:54 Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Dan praat Jesus nie van sy fisiese vlees en bloed nie. Nee, in die konteks van Joh 6 maak Hy die onderskeid tussen die fisiese brood, die manna uit die hemel, wat hulle vaders geëet het en tog gesterf het, en die geestelike brood, die brood van die lewe uit die hemel, wat as jy daarvan eet jy nooit sal sterwe nie.  Hierdie brood van die lewe is Jesus Christus.

En wanneer jy die brood van die lewe eet, dan beteken dit altyd in hierdie konteks, dat jy glo.

Joh 6:27 Moenie werk om die spys wat vergaan nie (maw die letterlike), maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe (die geestelike), wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.
28 Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?
29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.
30 En hulle sê vir Hom: Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U?

Die skare vra: Watter teken doen U dan?

Joh 6:31 Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.
32 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.
33 Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.

Wat is die teken wat God gee, sodat hulle kan sien en glo vlg v30?  Die brood uit die hemel.  Wie het die brood gegee? V32 “…my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.”  Wie is die brood? Jesus. V33 “…want die brood van God is Hy (Jesus) wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.”

Joh 6:34 Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood.
35 En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.

Maw. wie hierdie brood van die lewe eet sal nooit honger kry nie.  Jesus sê in der waarheid, wie in My glo sal nooit honger of dors kry nie.

Om te eet en om te glo is dieselfde ding.  Wanneer jy die brood eet, dan glo jy.  Wanneer jy glo, dan eet jy die brood van die lewe.

Ek hoef jou nie te leer om te eet as jy honger is nie.  Dit is so maklik soos om kos in jou mond te sit.  Net so is dit om in Jesus te glo.  Daar is die Verlosser.  Eet Hom.  Nie letterlik nie, maar geestelik.  So maklik is dit.  Om te glo, om in Jesus te vertrou is nie veronderstel om ‘n moeilike ding te wees nie.  Party mense probeer geloof so ingewikkeld maak, dat jy later sommer voel jy wil dit maar eerder los.

Nee!  Selfs dom mense kan eet.  Maak nie saak hoe skuldig hy is nie, hy kan eet.  Daar is geen meriete of kwalifikasie nodig om te eet nie.  As jy Hom wil hê, kan jy Hom kry.  Die daad van geloof in Christus word uitgebeeld in die brood wat jy eet.

Deur die brood te eet en die beker te drink, verklaar ons dat Jesus Christus ons Verlosser is, en met eenvoudige geloof, glo ons dat Hy ons alles is.

3. Wie moet dit verkondig?

1 Kor 11:26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

“julle” verwys dan na al die gelowiges van God.

Net soos met die doop, kan net gelowiges deel hê aan die nagmaal.  Net ‘n gelowige kan gedoop word.  Die doop spreek van iets wat reeds in die verlede plaasgevind het.  Die doop sê: op ‘n dag, op ‘n sekere oomblik in my lewe is die ou lewe begrawe en ek het opgestaan in ‘n nuwe lewe.  Want hulle wat in Christus is, is ‘n nuwe skepsel.  Die ou dinge het verby gegaan, alles het nuut geword.

Met die doop verkondig ek aan die wêreld, ek maak aan almal bekend dat ek gered is.

Matt 28:19 sê maak dissipels van alle nasies en doop (wie?), doop hulle.  Doop dissipels.  ‘n Sondaar wat gedoop word, is ‘n droog sondaar in die water in en ‘n nat sondaar uit die water uit.

Net so kan die nagmaal jou nie red nie, maar verkondig ons die dood van Jesus en dat Hy ons gered het.  Tweedens beeld die nagmaal ook die dood van Jesus uit in die simbole van die brood en die wyn.  En derdens word die dood van Jesus voorgehou, maw dit is ook ‘n uitnodiging aan die sondaar om tot bekering te kom en die brood van die lewe te eet, maw om in Jesus te glo.  Dan eers kan hy saam aan die nagmaalstafel sit.

Die twee sakramente in die Bybel, wys terug na die verlede, maar wys ook vorentoe na die toekoms. 

Die doop wys terug na jou bekering, maar ook vorentoe, na jou opstanding, wanneer jy jou verheerlikte liggaam gaan ontvang.

Die nagmaal wys terug na die dood van Jesus, maar ook vorentoe na die bruilofsmaal van Christus.

By die laaste pasga waar Jesus die nagmaal ingestel het, sê Hy: Ek sal nie meer saam met julle eet en drink, voordat die koninkryk van God vervul is nie.

Wanneer ons die nagmaal gebruik, dan herinner dit my nie net aan die dood aan Jesus nie, maar ook aan die feesmaal wat voorlê.  Die bruilofsmaal van die Lam.




No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288