Tuesday 6 September 2011

Die Goddelike Woord

Teksgedeekte: Joh 1:1-5

Regdeur die evangelie van Johannes kry ons te doen met Jesus Christus, die Seun van God. En dit is hoe Johannes Hom beskryf.

Joh 20:31 maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.

Die hoofrede waarom Johannes skryf is om Christus voor te stel as die Seun van God, God wat mens geword het, sodat ons in Hom kan glo.

Johannes begin nie soos die ander evangelies met ‘n geslagsregister nie. Hy begin nie met mense nie. Hy gaan terug tot by die begin. Hy sê dat Jesus was daar toe alles begin het. Jesus het nie ‘n begin nie, Hy was altyd daar gewees. So Johannes stel ons voor aan God.

Hy vertel ons van Sy menslikheid, van Sy diensbaarheid, van Sy koningskap, maar primer gaan dit oor Sy goddelikheid. Christus is die tema van Johannes se evangelie. Hy is ook die tema van sy drie sendbriewe. En Hy is ook die tema van Openbaring wat deur hom geskryf is. Hoe dit ookal sy, Johannes was lief vir Christus en Christus het hom liefgehad.

En soos wat Johannes Jesus Christus voorstel, het sommige geglo en ander het Hom verwerp. Dit is die boodskap van Johannes. Wat jy maak met Jesus Christus bepaal nie net jou lewe hier en nou nie, maar dit bepaal jou ewige eindbestemming.

1. Die ewige Christus

Joh 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

Johannes gaan verder as die begin van Gen 1:1.

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Maar Johannes se begin gaan verder as die begin van die skepping. In die begin nog voor die begin was, nog voor die skepping begin het, was die Woord. Dit beteken nie dat God het ‘n begin gehad nie. In die begin was die Woord, maw die Woord was nog altyd van ewigheid daar gewees.

Christus was daar. Hy was van ewigheid nog altyd daar. Hy het nie in bestaan gekom nie, maar Hy was nog altyd gewees.

Die Woord was nie geskep nie. En toe God die hemel en aarde geskep het, was die Woord reeds daar. En die Woord, natuurlik, verwys na Christus. Hoor wat sê Spr 8:27-31,

Spr 8:27 Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy ‘n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed;
28 toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het;
29 toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het—
30 toe was ek ‘n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd,
31 en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.

Christus sê, toe dit alles begin het in die begin, was Ek daar. Nou, hoekom sê dit “In die begin was die Woord” en nie, in die begin was Christus nie? Hoekom die Woord? Twee redes: Eerstens, want die Jode sou dit verstaan, en tweedens, want die Grieke sou dit verstaan. Beide van hulle het die konsep van die Woord gebruik.

Die Griekse woord vir Woord is logos. “In die begin was die logos”. Die Jode het dit verstaan. In die Ou Testament was dit die woord van God waardeur God die heelal geskape het. God het ‘n woord gespreek en dit was so.

Nou kom Christus en Johannes sê vir die Jode: al ooit gewonder wat die woord van God is? Kyk na Christus. Die wil en krag van God wat regdeur die Ou Testament gesien was as die Woord, kyk na Christus. Hy is daardie Woord. Jesus Christus is die beliggaaming van daardie Ou Testamentiese konsep van die Woord. Daarom sê die Hebreër skrywer in,

Heb 1:1 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete (Hy het Sy woord gespreek deur die profete), het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun (Want Jesus is die Woord).

So die Jode sou dit verstaan. Wat van die Grieke? Die Grieke was nou weer gepla met filosofie. Hulle het oor alles gefilosofeer. Hulle het geglo in ‘n bonatuurlike krag. Hulle het geglo God het krag en ‘n verstand en rede, want mense het ‘n verstand en rede. Iewers moes ons sin vandaan gekom het.

Griekse filosowe het geglo dat God se verstand en wil het iewers in die heelal rondgesweef en dit het die mense die vermoë gegee om te kan redeneer. Dit het die mens intelligensie gegee. Maar hierdie God van hulle was ‘n onpersoonlike god. Dit was een of ander filosofiese krag.

En raai wat het hulle hierdie filosofiese krag genoem wat rond sweef in die heelal? Die woord. Hulle het dit genoem die “logos”.

So wanneer Johannes sê “In die begin was die Woord”, wat het dit beteken vir die Grieke? Hierdie rede en verstand en krag van God, raai wat, dit is beliggaam in Christus Jesus. God is ‘n persoon. Die antwoord waarna julle soek, dit is Christus. Jesus is die antwoord.

En met een woord “logos” sê Johannes vir die Jode, “vir eeue het julle die Woord van God gesoek,” en vir die Grieke, “vir eeue het julle die antwoord gesoek”, hier is Hy, Jesus Christus. Dit is wat Johannes sê wanneer hy sê in v14,

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon...

Die Jode kon dit verstaan en die Grieke kon dit verstaan. Met een eenvoudige woord het Johannes die wêreld bereik met hierdie eenvoudige konsep. Johannes vertel vir die mense wie Christus werklik is. Hy is die beliggaaming van al God se krag. In die begin was die Woord.

Dan gaan hy nog bietjie verder as dit. Hy sê, nie net was die Woord in die begin daar nie, maar was die Woord ook by God.

Joh 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God...

Die Griekse woord is “proscontheon” en dit beteken van aangesig tot aangesig. God was van aangesig tot aangesig met Jesus Christus. Wat ‘n ongelooflike realiteit is dit nie. Hy was by God. Maar weet jy wat? Hy het dit opgegee? Paulus sê,

Fil 2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;
8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

En Jesus het begeer om weer Sy Vader van aangesig tot aangesig te sien. Hy bid die priesterlike gebed in Joh 17, dan bid Hy,

Joh 17:5 En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.

Dit is die gebed wat Hy gebid het net voordat Hy gekruisig sou word. Hy bid en sê, Ek wil wees soos wat dit was. Ek wil daardie heerlikheid hê wat Ek gehad het toe en by U was. En dan later aan bid Hy, “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Die Woord was by God en dit is waar Jesus wou wees. Hy het daardie intieme gemeenskap met die Vader gehad. En dan gee Johannes nog ‘n groot sprong. Wat sê hy? Eerstens sê hy, in die begin was die Woord en die Woord was by God en dan sê hy, en die Woord was God.

Die Woord was letterlik God. Jesus Christus is God in die vlees. Niks minder nie. Die volkome goddelikheid van Christus beliggaam in ‘n mens. So hier in die eerste vers wat Johannes skryf, maak Johannes dit duidelik dat Jesus Christus, die lewende Woord, is die volmaakte openbaring van God.

Daar is geen ander nie. Dit is Christus en Hy alleen. Hy is God in ‘n menslike liggaam. Alles wat God is, is Christus. Dit is hoekom Jesus gesê het,

Joh 14:9 ... Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.

Joh 10:30 Ek en die Vader is een.

Let op wat sê Joh 1:2,

Joh 1:2 Hy was in die begin by God.

En dit het ons alreeds gesien. In vers 1 was die Woord by God. Christus was by God. Hy was by God. Dit is so eenvoudig. Die Bybel gebruik hierdie eenvoudige ongelooflike konsepte. Alhoewel ons verstand dit nie kan begryp nie, kan ons geloof dit aangryp. Hy is God. Hy was nog altyd God.

En om Jesus minder as God te maak is godslasterlik. Daar is godsdienste en kulte en mense wat nie glo dat Jesus Christus nog altyd God was nie, en dat Hy nie ten volle God is nie, en daarom laster hulle teen God.

En hulle het al twee twee by jou huis opgedaag en vir jou vertel dat Jesus is net ‘n Seun van God. Daar is ander wat sê Hy is net een van baie gode. En ander sê Hy was net ‘n goeie mens. Sommige sê Hy het ‘n god geword. Dit is godslatering.

2 Joh 1:7 Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.

Maw hulle sê dat Christus nie is God in die vlees is nie. En wanneer enigiemand na jou toe kom sê dat Christus is enigiets minder as God, dan is hy ‘n verleier en die antichrist.

2 Joh 1:10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.

Dis hoe ernstig dit is. Hoekom?

2 Joh 1:11 Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.

Dis godslastering! Jy weet hoe God daaroor voel wanneer iemand ‘n ander Christus preek as die ware Christus? Gal 1:9 sê, laat so iemand ‘n vervloeking wees. Dit is hoe God voel. God plaas ‘n vloek op die mens wat Jesus Christus se godheid verwerp. Dit is nie iets waarmee ‘n mens speel nie.

Dit beteken nie ons moet nie Christus aan hierdie mense verkondig wat Hom nie ken nie. Dit beteken net ons moet nie toehoorders wees van hierdie veleiers nie. Jy moet nie na hulle luister nie, hulle moet na jou luister. Godslasteraars verdien nie ‘n groet nie.

Joh 1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

En dit is ‘n baie eenvoudige verklaring. Jesus Christus is Skepper. Hy het alles gemaak. Alles! Maar Hy het dan nie my kar gemaak nie, of het Hy? Hy het alles gemaak waarmee die mens die kar gemaak het. Dit is alles syne. Hy besit die wêreld. Dit behoort aan Hom...en my! Hoekom? Want ons is mede-erfgename.

Alles het deur Hom onstaan en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. Sonder Hom het nie een ontstaan nie. So God het alles uit niks gemaak. En Johannes kry so paar houe in by die Gnostici.

Daar was ‘n groep wat genoem was die Gnostici. Hulle was ketters en het gesê dat God nie die wêreld geskep het, want die wêreld was boos. Johannes sê, Jesus het alles gemaak. Net omdat dit geskend en gebroke is, beteken nie dit is Sy skuld nie. Hierdie is Christus se wêreld. Hy het dit gemaak. Dit behoort aan Hom.

En weet jy wat? Wanneer dit kom by saligheid, dan is Hy in werklikheid besig om alles terug te wen wat Hy gemaak het. Wanneer Hy weer terug kom, gaan Hy die skepping verlos. Rom 8 sê dat die skepping is in barensnood en sug met afwagting van die aanneming tot kinders.

Die skepping is in ‘n worstelstryd tot die dag wanneer Jesus weer terug kom en nie net die mens gaan red nie, maar ook die skepping. En wanneer Jesus kom en regeer vir ‘n duisend jaar, wat gebeur? Die leeu en die lam lê bymekaar, die suigeling speel by die gat van ‘n adder. Die skepping is beseer, maar wanneer Jesus terugkom, gaan Hy ook die skepping genees, want dit is syne.

Ons praat van die ewige Christus. Hy was nog altyd gewees.

2. Die vleesgeworde Christus

Joh 1:4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Hierdie woorde skets vir ons Christus as die beliggaaming van lewe en lig wat in die wêreld gekom het en hoe die duisternis daarop reageer. Hierdie is Sy vleeswording. Johannes wys vir ons twee dinge. Christus is die lewe van God en die lig van God. V4 sê, In Hom was lewe.

As jy terug gaan na v3 dan sê dit dat Hy alles gemaak het. Lewe kom van Hom af. In Hom was lewe. Hy is die bron van alle lewe.

Maar Johannes is nie hier te veel gepla oor fisiese lewe nie. Dit gaan vir hom hier oor geestelike en ewige lewe. Hy gebruik die Griekse woord dzoay wat verwys na geestelike lewe. Bios is die Griekse woord vir fisiese lewe, waar die woord biologie vandaan kom. Dzoay verwys na geestelike lewe.

In Hom is geestelike lewe. Wat is geestelike lewe? As ons geestelike dood kan defineer, dan sal ons dalk geestelike lewe beter verstaan. Paulus sê,

Ef 2:1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes

Maw die ongeredde persoon is dood in sy sonde. Geestelike dood beteken dat jy nie kan reageer op God nie. ‘n Dooie lyk kan nie reageer nie. Iemand wat geestelik dood is kan nie op geestelike waarheid reageer nie. Maar Christus kom en kom gee vir ‘n dooie mens lewe.

Die wêreld is vol van dooie mense. Mense wat nie geestelik lewe nie. En Christus het gekom om vir hulle lewe te gee. Geestelike lewe. Ewige lewe. Geestelike lewe is ewige lewe. Geestelike lewe is nie iets wat kan sterf nie.

Hierdie lewe kom van Christus alleen.

Joh 10:10 Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe...

1 Joh 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.

Jesus Christus het gekom sodat mense wat geestelik dood is, geestelik lewend gemaak kan word. In Hom was lewe en Hy het lewe in die wêreld gebring en dan gaan die vers aan en sê, en die lewe was die lig van die mense.

Hierdie lewe wat Christus bring was soos lig. Christus is die lig van lewe. Lig illustreer lewe. Dit is nie iets anders nie. Dit is dieselde ding wat gïillustreer word. Net soos wat lig kom van ‘n bron af, so kom lewe van Christus af.

Christus se lewe was die lig van mense. Die lewe van Jesus Christus, die opgestane Jesus, geestelike lewe het oor die wêreld versprei en weet jy hoeveel mense se lewens het dit geraak?

Joh 1:9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.

Sy lig verlig elke mens, maw elke mens kom onder die lig wat Christus gebring het. En wat jy met daardie lig doen is wat saakmaak. Elke mens weet genoeg om te reageer op God se genade. Maar wat van die ou op ‘n eiland wat nooit die evangelie gehoor het nie?

Tit 2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn

Christus het gekom en daardie lewe wat in Hom was, was soos lig. Dit het mense se harte verlig. Nou moet jy daarop reageer. So hoe kan daardie lewe ontvang? Baie eenvoudig. Deur te glo. 70 keer praat Johannes oor om te glo. Wat moet ek glo?

Eerstens, jy moet glo dat Jesus Christus die Seun van God is. Tweeedens, jy moet glo dat alles wat Hy gesê het is die waarheid, en derdens moet jy jou lewe commit tot daardie dinge. Dit is wat dit beteken om te glo.

Dit gaan nie net daaroor om te sê, Ja ek glo in die Seun van God en ja ek glo in alles wat Hy sê nie, maar dit gaan ook daarom om jou lewe te commit tot daardie geloof. Geloof sonder dade is dood.

Wanneer jy dit doen gaan jy ophou om te sterf en ophou om dood te wees en jy gaan begin om te lewe met ‘n hoofletter L. Luister! Dit is nie net geestelike lewe hier en nou nie, dit het ewige kwaliteite.

Het jy geweet as jy ‘n Christen is leef jy nou reeds ‘n ewige lewe. Ewige lewe is nie ‘n tydperk van lewe nie, dit is ‘n kwaliteit van lewe. En dit is ewig soos wat dit sê dit is. Ewige lewe hou nie op nie. Anders is dit nie ewige lewe nie. Maw ‘n wedergebore kind van God kan nie geestelik sterf nie, anders het hy nie ewig lewe gehad nie.

Hierdie lewe was die lig van die mense. Die karakter van lig is om te skyn en die lewe wat van Christus kom uit Hom soos ‘n lig wat skyn. 21 keer in Johannes sê hy Christus is die lig. Maar die hartseer saak is dit, dit wat ons lees in,

Joh 3:19 En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

Christus kom met ewige geestelike lewe wat skyn soos lig, maar mense het duisternis liewer. Dit is jammer. Om net te dink wat Jesus alles opgegee het, sodat Hy vir ons lewe kan bring, dan sê mense nog nee daarvoor.

Vers 9 sê Hy is die waaragtige lig. The true light. Hy is die enigste lig, die enigste lewe. En sonder Christus is daar net ewige duisternis wat vir die mens voorlê.

Joh 1:5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Die lig skyn in die duisternis. Dis waar. Die wêreld is ‘n donker plek. En mense wat die duisternis lief het en ‘n bose lewe lei, sit dit nie op die spotlight sodat ander dit kan sien nie. Hulle hou van die donker plekke en donker hoekies. Hulle doen hulle sonde in die donker en steek dit weg.

Maar Christus se lig kom skyn in die duisternis en oral waar Hy is, is daar lig. Die lig is Christus. Hy verdryf die duisternis weg. En die duisternis het probeer om Hom dood te maak, maar dit kon Hom nie oorweldig nie. Satan wou van die lig ontslae raak. Maar hy het nie geslaag nie.

Slot

Een van die dae gaan Christus kom in Sy volle glorie en Sy lig sal die hele aarde vul. Die aarde sal vol van Sy heerlikheid wees. Ja, God se lig skyn reeds in baie van ons harte. En die duiwel gaan probeer om die ware kind van God se lig uit te blus. Maar die duisternis sal nooit die lig oorweldig nie.

Ek vertrou dat die goddelike lig van Christus ‘n realiteit is in jou. Ek vertrou dat die lig van God in die persoon Jesus Christus jou hart aangesteek het, dat jy geestelike lewe ontvang het, ewige lewe ontvang het.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288