Tuesday 21 February 2012

Kenmerke van ‘n toegewyde Christen - vervolg


Joh 13:32 As God in Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik en Hy sal Hom dadelik verheerlik.
33 My kinders, nog ‘n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie—so sê Ek nou ook vir julle.
34 ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.
35 Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

Ons het laasweek begin deur te sê dat ‘n toegewyde Christen is iemand wat leef om God te verheerlik.  Sy hele lewe word geabsorbeer met die heerlikheid van God.  In alles wat jy doen wil jy God verheerlik.

Ons het ook gesien dat die kruis van Golgota is die grootste vertoning van God se heerlikheid.  Die heerlikheid van God is wie Hy is.  En God is almagtig.  God is heilig.  God is getrou.  God is liefde.  Al die eienskappe van God word die beste vertoon op die kruis.  En dit verheerlik God.  God is in Christus verheerlik.

So Christus word op die kruis verheerlik.  Tweedens word God in Hom verheerlik.  En derdens sal God ook in die toekoms Christus verheerlik.  God sal Hom verheerlik.

Joh 13:32 As God in Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik en Hy sal Hom dadelik verheerlik.

Nou sien ons die ander waarheid ook raak.  Daar was ‘n sekere soort heerlikheid in die kruis, maar daar is ook heerlikheid wat volg na die kruis.  Die Vader het nie gestop by die kruis nie.  Daar was ook ‘n opstanding.  Daar was ook ‘n hemelvaart.  Christus word verheerlik wanneer Hy gaan sit aan die regterhand van God.  En in die wederkoms sal daar ‘n totale verheerliking wees.

So in v32 voeg Jesus ‘n derde dimensie by van die heerlikheid.  Die feit dat Jesus nie net verheerlik is in die kruis nie, en ook nie net met Sy opstanding en hemelvaart nie, maar dat daar ‘n toekomstige heerlikheid van Christus is.

Fil 2:9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Sien jy dit!  Daar kom ‘n dag wanneer elke knie sal buig en elk tong sal bely dat Jesus Christus die Here is, TOT heerlikheid van God die Vader.  God gaan die Seun verheerlik.  Heb 1:3 sê dat Jesus is die afskynsel van God se heerlikheid.

1 Pet 3:22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.

Jesus word nie net verheerlik in Sy dood nie, maar ook in Sy opstanding, Sy hemelvaart, in die hemel aan die regterhand van God en ook met Sy hemelvaart.  Hy is reeds verheerlik in die hemel en gaan nog in die toekoms verheerlik word met Sy wederkoms.  En dit is wat Joh 13:32 sê.

Kyk nou wat sê die volgende vers.

Joh 13:33 My kinders, nog ‘n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie—so sê Ek nou ook vir julle.

Terwyl Jesus dink aan die verheerliking en al die groot dinge wat in Sy heerlikheid sal wees, dink Hy ook aan die teknia, die Griekse woord vir kindertjies.  Dit is die enigste plek in die Johannes evangelie waar dit gebruik word.  Teknia en hier wys Hy dan spesifiek na die elf dissipels.  Hy sê vir hulle, al hierdie heerlikheid beteken dat ek julle gaan moet verlaat.  En waar Ek gaan, kan julle nie kom nie.

En die woord teknia wat Hy gebruik spreek van die liefde wat Hy teenoor hulle het.  Hy sou dit nie gebruik het as Judas nog daar was nie.  Maar Hy noem die ander elf dissipels, teknia, My kinders.

Jesus verwys ook dan na dit wat Hy vir die Jode gesê het.  Terug in Joh 7 lees ons,

Joh 7:34 Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie.

Joh 8:21 En Jesus het weer vir hulle gesê: Ek gaan weg, en julle sal My soek en in julle sonde sterwe. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie.

Joh 8:24 Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.

Jesus het voorheen aan die Jode gesê, “julle sal in jul sondes sterwe”.  Hy sê dit egter nie vir Sy dissipels nie.  Vir hulle sê Hy, “My kinders”.  Jesus sê dat hulle nie nou kan kom waarheen Hy gaan nie.  Hy gaan sterf en opstaan en na Sy Vader toe gaan en hulle gaan Hom mis.  Hy gaan nie fisies by hulle wees nie.

En ‘n mens kan tog net wonder hoeveel keer het die dissipels gewens dat Jesus nie by hulle sou wees nie.  In al hulle beproewings en probleme.  En julle onthou toe Jesus opgevaar het hemel toe, Hand 1, toe hulle staan en kyk hoe Hy weggaan.  Daar was sekerlik trane in hulle oë, maar twee engele het hulle bemoedig en gesê dat Hy weer sal terugkom, net soos wat Hy opgevaar het.

Jesus het geweet dat Sy verheerliking dit ingesluit het, dat Hy hulle moes verlaat het.

Joh 14:1 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

Nou waarom was die dissipels so ontsteld?  Dit is waarskynlik, want Hy sou hulle verlaat het.
Joh 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Daarom was hulle so ontsteld.  Die Een vir wie hulle so lief is, gaan hulle verlaat.  En so, probeer Jesus vir hulle sê, dat Hy moet gaan, maar hulle moet bly om die werk verder te doen.  Hy moet verheerlik word.  Hulle sal ook eendag verheerlik word, maar nie nou nie.

Nou, ‘n toegewyde Christen is iemand wat hom bemoei met Christus se verheerliking.  Sy kruisiging, die opstanding en verhoging, Sy wederkoms.  En dit is die hart van ons boodskap.  Dit is die evangelie.  Sy dood, Sy opstanding, Sy verhoging en Sy wederkoms.  En dit moet ‘n passievolle liefde hê vir Sy heerlikheid bo alles.

‘n Sendeling met die naam van Henry Martyn het na Indië toe gegaan om sendeling werk te doen.  En hy het gesê, “Let me burn out for God.”  Hy by ‘n Hindoe tempel gesien hoe mense buig voor beelde en skryf toe, “This excited more horror in me than I can express.”  Hy kon net nie valse godsdienste verdra nie.  Dit was vir hom baie erg.  Hy sê toe, “I could not endure existence if Jesus was not glorified, it would be hell to me.”  En iemand vra toe vir hom, hoekom is jy so bemoei met Sy heerlikheid?  En hy sê toe, “If anyone plucks out your eyes there’s no saying why you feel pain, it is feeling, it is you, it is because I am one with Christ that I am so deeply wounded.”

As ons ook so kon voel oor Sy heerlikheid, en ook gewond wees wanneer Hy verneder word deur mense, maar ons bly so dikwels stil.  Jy sien, die toegewyde Christus is bemoeid met die heerlikheid van Jesus.

‘n Tweede kenmerk oor ‘n toegewyde Christen is liefde.  Toegewyde Christene word hieraan geken, aan liefde.

Joh 13:34 ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.
35 Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle mekaar lief het.  Die kind van God het die Godgegewe vermoë om lief te hê.  Die liefde van God is in ons harte uitgestort het.

Rom 5:5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

Watter liefde is dit?  Joh 13:34 sê, julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.  En dit is die standaard.  Dit is ‘n onselfsugtige, opofferende, vergewende liefde, soos Christus se liefde.  Dit is dieselfde liefde wat Hy gehad het.  En totdat jy nie daardie liefde het nie, het jy nie die wet vervul nie.

Dalk sê jy, ek is nie so bad nie, daar is ‘n paar mense vir wie ek lief is.  Nee!  Meet jou liefde aan diegene wat jy nie lief het nie.  En as daar iemand is, dan het jy misluk.  Let op!  Jesus sê, dat julle mekaar moet liefhê.  En as die liggaam van Christus net daardie soort liefde gehad het, sou dit die wêreld omgekeer het.  Maar ongelukkig is dit nie so nie.

Daar is altyd groepies en splits en cliques en hierdie ou wat daar op sy hoop sit met sy teologiese haelgeweer gereed om almal uit te haal wat nie saam met hom stem nie.  En almal veg in die kerk, en hierdie ou hou nie van daardie ou nie, en mense skinder en byt mekaar en kritiseer en die wêreld staan ek kyk en sê, nee wat, hier is nie veel liefde in die kerk nie.

Jesus sê, hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, dat julle mekaar liefhet.  Francis Schaeffer sê, “God gave the world the right to judge us on our love.”  Die wêreld kyk na ons en sê, daar is liefde, hulle moet van God wees, of daar is nie liefde nie, hulle is nie van God nie.

Hoe kan ons liefde wys sodat ander dit kan sien?  Op twee maniere.  Deur te sê, ek is jammer.  En dit is moeilik.  Om vir iemand jammer te gaan sê vir wie jy nie lief is nie, is nog moeiliker.  Maar as jy nie bereid is om dit te doen nie, om na iemand toe te gaan en jammer te sê, vir wie jy nie lief is nie, wil jy nie ‘n toegewyde Christen wees nie.

Dit wat verdeeldheid in die liggaam van Christus bring is nie teologiese verskille nie, maar dit is ‘n gebrek aan liefde.  En die eerste manier waarop jy sigbaar jou liefde kan wys, is om te sê, ek is jammer.

Die tweede manier waarop jy sigbare liefde kan wys, is om te sê, ek vergewe jou ... of iemand daarvoor gevra het of nie.  Kan jy jou in dink as jy na iemand toe moet gaan wat jou nie liefhet nie, en nog nooit verskoning gevra het nie, en jy sê vir hom, ek vergewe jou omdat jy my nie liefhet nie.  Jy slaan hulle van hulle voete af.

‘n Vergewens gesindheid, vertoon ‘n gesindheid van liefde.  Dit wys net liefde.  Ja, maar jy verstaan nie.  Jy verstaan nie wat hulle alles aan my gedoen het nie.  Hoe moet ek hulle ooit vergewe?

Luister!  Watookal aan jou uitgedeel word, vat dit, prys die Here en sê dit is ok!  Ek vergewe jou en ek is lief vir jou.  Die wêreld ken nie hierdie soort liefde nie en dit sal die wêreld verstom.  Dit is ‘n duursame liefde.  Dit is ‘n opofferende liefde.  Jy verloor dalk vleeslik, maar jy geestelik wen jy al die pad.

En dit is nie net liefde vir jou mede-gelowiges nie, maar dit strek verder.

1 Thes 3:12 en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is.

Dit is die omvang van ons liefde.  Liefde vir ons broeders, maar ook liefde vir almal.  Nie net Christene nie, nie net vriende nie, maar vir almal.

En dit is die kenmerke van ‘n toegewyde Christen.  Eerstens dat jy lewe tot God se eer.  Alles wat jy doen, doen jy om Hom te verheerlik.  Jy lewe vir Christus se heerlikheid.  En tweedens liefde.  Liefde vir mekaar en liefde vir almal.  Soos wat Hy ons liefgehad het.

Hoe kan ek so liefhê? Slegs op een manier, en dit is nederigheid.  Trotse mense kan nie liefhê nie.

Fil 2:3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.
4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.

Is dit maklik?  Om te dink dat almal beter is as jy.  Die enigste mens wat kan liefhê, is ‘n nederige mens.  As jy sukkel om ander lief te hê, is dit omdat jy trots is.  En God haat ‘n trotse hart.

2 Thes 1:3 Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word,

Elkeen se liefde moet groter word.  Jy het nooit gearriveer nie.  Jy moet groei daarin.

Slot

‘n Toegewyde Christen is iemand wat lewe tot eer God en wat ander liefhet.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288