Tuesday 15 May 2012

Die vrou in aksie


Ef 5:22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.
24  Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.
25  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

Hierdie is die patroon wat God ontwerp het vir  die huwelik en die familie.  En ons leef in ‘n tyd wat dit ‘n baie moeilike ding is om te verkondig, want die wêreld wil dit nie aanvaar nie.

Wanneer dit kom by hoe die familie moet funksioneer, het God baie duidelike rigtlyne of beginsels neergelê.  Die rol van die vrou is nog die maklike deel.  Wanneer dit kom by die man, dan is dit nog moeiliker, maar gelukkig is dit nou nie ons tema vandag nie.

V22 sê: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.” 

Geen voorwaarde word hier gestel nie.  Dit sê nie: wees onderdanig as jy so voel nie.  Dit sê baie eenvoudig: wees onderdanig!  As die Bybel sê dat die vrou onderdanig moet wees, dan is dit belangrik dat ons sal vra, maar wat beteken dit.

Onderdanigheid

Wat beteken dit? “Onderdanig” is nie dieselfde woord as “gehoorsaam” nie.  “Gehoorsaamheid” is die woord “hupokouo” en “onderdanig” is die woord “hupotasso”.  Onderdanig beteken om onder iemand in te beweeg wanneer dit kom by jou funksie of rol as persoon. 

Die woord “gehoorsaamheid” gebruik Paulus wanneer hy praat oor kinders of slawe.  “Hupokouo” beteken “om te antwoord, om aandag te gee, of om te gehoorsaam.”  Dit word gebruik by ‘n dienskneg.  ‘n Vrou is nie ‘n kind, ‘n dienskneg of slaaf nie.

Sy staan nie in die huis en wag vir opdragte nie.  “Doen dit.  Kry dit.  Sal jy dit vir my kry!  Sal jy dit doen!  Is my klere skoon!  Het jy al my klere gestryk nie?  Dit is nie wat hupotasso beteken nie.

“Onderdanigheid” beteken nie, die vrou is ‘n slaaf nie.  Dit is ‘n meer intieme woord, baie meer persoonlik, of innerlik, en baie meer belangrik, soos wat dit aangedui word in v22 deur die term “jou eie man.” 

“Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig.  Maw, daar is ‘n sekere sin van besitting hier betrokke.  Dit veronderstel dat ‘n vrou uit haar eie wilsbesluit reageer in onderdanigheid op haar eie man - wie sy besit.  Dit het niks te doen met die een is beter as die ander een nie.

God het hierdie verskil in funksie so bepaal, sodat daardie gemeenskap so onderhou kan word.

Gen 3:16 …na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers.

God het hierdie rol so bepaal, en tog sien on in Genesis dat God sê, die twee sal een, wat word? Een vlees.

Terwyl jy hierdie wonderlike, intieme, innerlike belangrikheid, daardie eenheid, daardie uniekheid van twee wat een is het, word die funksie of outoriteit en onderdanigheid nie ontbreek nie.

Gen 3:16 sê: “Hy sal oor jou heers”.  Hoekom?  Vir die doel van eenheid, vir die doel van werkbaarheid, is sy onderdanig aan die hoofskap van haar man – nie as ‘n slaaf nie, maar as een aan wie voorsien word, vir wie omgegee word, wie beskerm word deur haar man.  Dit het nie veel meer te doen met wat sy vir hom doen nie, as die verantwoordelikheid wat hy teenoor haar het nie.

Die hoofskap behoort aan die man.  Fisies het God hom sterker gemaak.  Fisies is die man deur God ontwerp om te werk, om te beskerm, om te voorsien, en om sekuriteit te gee aan die vrou wat 1 Pet 3:7 noem, as die swakkere. 

Fisies is dit die waarheid, en sommige sou sê, dat dit ook emotioneel so is.  Die man is gemaak om die sterker maat te wees.  Iemand moet die berskermer wees, iemand moet voorsien, en omgee.  Volgens Gen 3:16 was dit nog altyd God se standaard.

Kol 3:18 Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.

Paulus sê ook in hierdie vers dieselfde ding, maar hier is ‘n woord wat baie belangrik is.  Hier sê hy nie soos Ef 5:22, soos aan die Here nie.  Hier sê hy: soos dit betaamlik is.  Die Griekse woord is “aneko” wat beteken “soos dit pas”.  Maw dit is die regte ding om te doen.  Dit is hoe God dit wil hê.

1 Pet 3

1 Pet 3:1 Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word.

Die woord “onderdanig” is ook hier dieselfde woord “hupotasso”.  Dit het niks te doen daarmee dat jy minder belangrik, of selfs dommer, of minder geestelik moet wees nie.  Dit het te doen met jou rol of funksie van leierskap en outoriteit in die huis.

Hy sê: “Aan jul eie mans” moet julle onderdanig wees en weer het te doen met besitting.  Jy besit hom.  Hy behoort aan jou.
Verder sê hy: as sommige mans aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word.  Ek is bly Petrus sê dit, want daar is vroue wat sê: Jy ken nie my man nie.  As ek aan my man onderdanig moet wees, sal dit verskriklik wees.  Hy is nie ‘n Christen nie.  Hy gehoorsaam nie die Here nie.  Hy gehoorsaam nie die Woord nie.

Daarom sê Petrus: wees in elk geval onderdanig, en sonder om enigiets te sê, sal hy gewin word.  Sonder om die woorde “bekeer jou” op sy bierbeker vas te plak, sonder klein briefies saam met sy lunch in te pak, sonder om hom gereeld een of ander evangelie aanbieding te gee. 

As jy jou lewe inrig volgens God se patroon vir die huwelik, kan jy, sonder om enige woord uit die Bybel vir hom te gee, hom wen met jou optrede.  Dit is wat Petrus sê.

Nou, van watter gedrag praat Petrus?  Hoe moet jy voor hom wandel? V2 sê:

1 Pet 3:2 as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.

Nie net lewe jy ‘n rein lewe nie, jou gedrag en jou optrede nie, maar jou wandel is godvresend.

1 Pet 3:3 Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,

Dit is wat in ons tyd aangaan.  Dit is ongelooflik.  Orals waar jy kom, is mode die inding.  Ons word daardeur gebombardeer met tydskrifte, met die TV, in elke winkelsentrum.  Dit is hoe jy moet lyk.  Nee!  Petrus probeer sê: dit is nie die uiterlike wat tel nie, dit is die innerlike wat tel.  Jou wandel moet rein, godsvresend wees.  Dit is die innerlike kwaliteit van die vrou wat haar man beïndruk.

Kyk net watter verdraaide geslag het ons vandag.  Manne wat deesdae kettings en goud dra.  Manne met lang hare, oorbelle en neusringe.  Die Bybel sê niks daaroor nie, want manne het in daardie tyd dit net eenvoudig nie gedoen nie, maar nou is dit orals. 

Ek sê nie dat almal soos klooster tannies moet lyk nie, maar ons commitment moet altyd wees om die innerlike rein en skoon te hou, meer as die uiterlike.

Lizelle sê vir my toe sy en haar sussie nog tieners was dan het haar ma altyd vir hulle gevra: het jy net soveel tyd aan jou binnekant spandeer as wat jy tyd aan jou buitekant spandeer het.  Dit is hierdie reine en godsvresende lewe wat jou man vir die Here gaan wen.

Dr. John MacArthur sê die volgende ding oor hierdie gedeelte in 1 Pet 3.  Hy sê:  “if you preoccupy yourself with that, then you are in violation of the standard, because you are not submissive. Why? You are calling attention to yourself--you are putting yourself on parade, you are adorning yourself. You are pushing your own cause and your own case.”

Daar is ‘n verskil tussen mooi lyk en om te adverteer.  If you are not in business, don’t advertise.

1 Pet 3:4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.

V4 sê jy moet eerder bekommerd wees met dit wat verborge is in jou hart.  Dit gaan oor die motiewe van jou hart.  Maw moenie aan die buitekant werk nie, maar werk aan die binne kant.  Versier jou eerder met ‘n sagmoedige en stille gees.  Dit is baie kosbaar voor God.

Dit is nie die vrou se plek om op te staan en haar stem te laat hoor nie.  Vandag betoog die vrouens en maak hulle groot ophef om hulle stemme dik te maak, sodat almal moet luister.  Maar die Bybel sê dat dit wat vir God kosbaar is, is ‘n sagmoedige en stille gees.

‘n Vrou wat haar man wen met ‘n sagmoedige en stille gees.  Dit is die rol van die vrou.

Dit beteken nie dat die vrou moet wegkruip en nooit haar opinie gee nie.  Dit beteken dat sy verstaan wat God van haar verwag en dit is om nederig en stil te wees.  Dit is die skoonheid van ‘n vrou – sy is ondersteunend – dit is haar sterkte.

1 Pet 3:5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,

Petrus verwys hier na die vroue van die Ou Testament.  Hy sê: hulle het hulleself so versier.  Hoe?  ‘n Sagmoedige en stille gees.  Petrus sê: dit het nie verander nie, dit is vandag nog steeds dieselfde. 

En nou staan ek hier vandag 2000 jaar later en ek sê vir julle dat die Bybel is steeds vandag nog so relevant soos daardie tyd en vandag is dit ook hoe die vrou haar moet versier.  Met ‘n sagmoedige en stille gees.  Dit het nie verander nie.  Dit is wat by God tel.  Dit is wat vir God kosbaar is.

‘n Godvresende vrou was nog altyd iemand wat die binnekant versier het.  Dit beteken nie jy moet lelik aantrek nie en lelik lyk nie, maar waaraan spandeer jy die meeste tyd?  Wat is jou motiewe?

Die vrou in aksie is ‘n vrou wat haar plek ken, wat met ‘n sagmoedige en stille gees haarself aan haar man onderwerp.

1 Pet 3:6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.

Sara het Abraham heer genoem.  Dit gaan nie oor die titel nie, maar oor die respek wat sy vir hom gehad het.  Die laaste deel van v6 sê: “en geen enkele verskrikking vrees nie.”  Sommige vroue sê, “ek is darem maar bang om aan my man onderdanig te wees.  Ek sal my regte verloor.  Hy sal oor my hardloop.” 

Jy moet onthou dat hierdie vroue het God vertrou, daarom het hulle geen vrees gehad om God te gehoorsaam nie.  En wanneer daar enige misbruik of mishandeling was het hulle geweet dat God daarmee sal handel.

Doen jy jou deel.  God sal Sy deel doen.  Jy is aan God gehoorsaam.  Onderwerp jou aan jou man soos heilige vroue dit doen, in ‘n sagmoedige en stille gees, soos wat God van jou dit verwag en dan, moenie vrees nie.  Jy kan God vertrou.

1 Kor 11

In Korinthe was daar ‘n Vroue Vryheids Beweging: vroue wou dieselfde werk as die mans doen.  Vrouens het probeer soos mans lyk en optree.  Dit was ‘n groot ding.  Sommige vrouens in die kerk het by hierdie beweging betrokke geraak.  Daarom skryf Paulus vir hulle hier in hoofstuk 11 om hierdie ding aan te spreek.

Die vroue in die Korinthiese gemeenskap was veronderstel om onderdanig te wees, en hulle het ‘n simbool gehad, ‘n teken van onderdanigheid, en dit was ‘n sluier.  Die vroue in ‘n Korinthiese of heidense gemeenskap het in daardie tyd en in daardie wêreld ‘n sluier gedra as ‘n teken van onderdanigheid.  Dit was ‘n simbool van hul nederigheid.  Dit was nie ‘n Bybelse gebruik nie, maar dit het aangesluit by God se beginsel van onderdanigheid.

Daar was net twee tipe vrouens wat nie ‘n sluier gedra het nie, die een was ‘n prostituut en die ander was ‘n feminis.  Vroue wat betrokke geraak het by hierdie beweging. 

Die feministe wou gelyke regte met ‘n man hê.  Nou skryf Paulus vir hulle in 1 Kor 11 en sê dat hulle hulle hoofde moet bedek.  Dit was ‘n Korinthiese en heidense teken van onderdanigheid en Paulus sê dit is wat in julle gemeenskap erken word as onderdanigheid.

Hoekom sou Paulus dan sê dat hulle ook ‘n bedekking moet dra?  Hy sê dit dat die wêreld nie sal sê: die kerk rebelleer teen ‘n God-gegewe beginsel nie.  Want onderdanigheid is ‘n God-gegewe beginsel.  Hy sê dan verder ook dat ‘n bedekking is nie ‘n slegte beginsel nie, want God het dit selfs in die natuur gedoen.

1 Kor 11:14 Of leer ook die natuur self julle nie dat as 'n man lang hare dra, dit vir hom 'n oneer is nie;
15 maar as 'n vrou lang hare dra, dit vir haar 'n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as 'n bedekking?

Dit sê nie dat dit vir ‘n man sonde is om lang hare te dra nie, maar wat hy sê is dat die natuur ons leer dat ‘n vrou se hare langer is as ‘n man sin om ook dan so as ‘n bedekking te dien.  Wat het die natuur daarmee te doen?  Navorsing het bewys dat ‘n vrou se hare vinniger groei as ‘n man se hare.  Dit is hoe God die vrou gemaak het. 

God het die vrou hare gegee wat vinniger groei, sodat die langer hare vir hulle ‘n teken sou word van onderdanigheid of bedekking.  Paulus sê in der waarheid, dit is nie ‘n slegte ding om ‘n sluier te dra nie; hierdie gebruik van die gemeenskap is baie naby aan hoe God haar gemaak het.

Paulus sê: bly by hierdie beginsel wat onderdanigheid openbaar.  Al wat Paulus sê is dat ‘n vrou moet die plek van onderdanigheid inneem en selfs in die gemeenskap moet sy nie haar posisie verloor nie.  So hy sê: dra die bedekking, dit is nie teen God se beginsel nie.  Dit openbaar julle onderdanigheid. 

Nou vra ek:  Is die bedekking ‘n Bybelse instelling? Nee.  Maar Paulus sê: vir die vroue in die Korinthiese kerk, deur julle hoofde te bedek, openbaar julle jul onderdanigheid in die gemeenskap.  As jy dit nie doen nie, dan is jy in opstand, maw jy is ‘n feminis of mense sal dink jy is ‘n prostituut.

Is die sluier vandag ‘n simbool van onderdanigheid in die gemeenskap?  Nee.  Tye het verander, maar die beginsel van onderdanigheid het nie verander nie.  Maw as jy jouself uiterlik versier om die aandag op jou te vestig, dan is jy nie onderdanig nie.

Luister! ‘n Goeie vrou trek aandag na haar man toe.  Nie na haarself toe nie.

Tit 2

Tit 2:3 Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is,

Nou wat sê dit?  Wat moet die ou vroue wees?  Leraresse.  Hulle moet leraresse wees van wat goed is.  Wie moet hulle leer? 

Tit 2:4 sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê,

Hier is ‘n wonderlike patroon vir die lewe van ‘n vrou.  Die ou vroue moet die jong vroue leer.  Wat moet hulle hul leer?  “om versigtig te wees”, die KJV het dit reg vertaal.  Dit sê: “That they may teach the young women to be sober…

Maw dit sê: Leer die jong vroue om groot te word, om hulle prioriteite te ken, om ernstig te wees, om die belangrike dinge wat saak maak in ag te neem.  Wat moet hulle doen?  Hulle mans en kinders liefhê.

Dan sê ons mos: Ef 5:22 sê “manne julle moet julle vroue liefhê”, en ons looi hulle.  Dan sê ons: as die vrou nie sy man liefhet nie, is dit omdat hy nie haar liefhet nie.  Ons sê dit is sy skuld.  In ‘n sekere mate dalk, maar die vrou het ook ‘n opdrag: hulle moet hulle mans en kinders liefhê.

Die vrou het net soveel verantwoordelikheid om haar man lief te hê as wat die man die vrou moet lief hê.  Dit geld altwee kante toe.  Hierdie liefde beteken dat sy haarself vir haar man en haar kinders sal gee.  Dit is ‘n opofferende liefde.

Tit 2:5 ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie.

Waaroor gaan dit alles?  Dat God se woord verheerlik sal word.

2 Thes 3:1 Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle;

As ons nie leef volgens die woord nie, dan belaster ons die Woord.  Ons sê in der waarheid: Wat’s die verskil wat die Bybel sê?  Wat maak dit saak wat die Bybel sê?

Slot

Ek wil so laaste klip in die bos gooi, wat julle self kan gaan ondersoek.  Ek het my eie mening daaroor.

Tit 2:5 sê dat die jong vroue word geleer om ingetoë te wees, kuis (skoon en rein), en dan huislik…”

Kom ek lees vir julle die KJV:

Tit 2:5 To be discreet, chaste, keepers at home…

“Keepers at home”, is die Griekse woord, “oikourous”, wat letterlik beteken, iemand wat by die huis bly.

1 Tim 5:14 Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie.

KJV
1 Tim 5:14 I will therefore that the younger women marry, bear children, guide the house…

Younger women, nie jonger weduwees nie.  Ons afr vertaling is verkeerd.  “Guide the house” is die Griekse woord “oikodepotein” wat beteken om “huis te hou.”

Nou kom ons stop daar.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288