Thursday 27 October 2011

Johannes die Doper se getuienis (vervolg)

Ons is by Joh 1:23 en ons gaan saam kyk wat Johannes se drie getuienisse is tot by v37

Ons het laas week begin om na Johannes die Doper se getuienis te kyk.  En hy sê, ek is maar net ‘n stem.  Dit is nederigheid.  Dit is alles uit genade.  Hy haal Jesaja 40:3 aan en sê,

Joh 1:23 Hy antwoord: Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.

Maak die pad van die Here reguit.  Wat beteken dit?  Wat hy daardeur bedoel is, maak ‘n weg in jou hart oop vir die Here.  Berei jou hart voor vir die Here.  Maak plek binne in jou hart, sodat Christus kan inkom, want Hy is oppad.

So Johannes die Doper sê, ek is niks, maar die Koning is oppad, ek is maar net ‘n slaaf wat vir julle die boodskap bring dat Hy kom.

Joh 1:24 En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs.

En dit het ons reeds gesien.  Hulle was Leviete en priesters.  En dan lees ons in v25,

Joh 1:25 En hulle vra hom en sê vir hom: Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie?

As hy dan nie die Christus is, of Elia is of die profeet is nie.  Waarom doop hy die mense?  Maar hoekom sou hulle vir hom so iets vra?  Jy sien, in die Ou Testament was die koms van die Messias geassosieer met ‘n soort reiniging.  Byvoorbeeld,

Eseg 36:25 Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.

En ons lees ook in hoofstuk 37 dat daar gaan ‘n reiniging plaasvind wanneer die Messias kom.

Sag 13:1 In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid.

So water word geassosieer met reiniging.  Wanneer die Messias kom gaan Hy Israel kom reinig.  En dit is wat die Jode verwag.  En dit is wat die doop gesimboliseer het.  Die reiniging.  En daarom het hulle gedink dat wanneer die Messias kom, gaan Hy mense doop.  En as Johannes dan nie die Messias is nie en ook nie Elia of die profeet nie, hoekom is hy besig om mense te doop?

Maar wat hulle nie verstaan het nie is dat Johannes het gekom in die krag en die gees van Elia en hy het gedoen wat moet gebeur voor die Messias kom.  Johannes antwoord hulle, maar wat hy vir hulle sê is, dit is nie so groot ding nie, dit is net water.
Joh 1:26 Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie—

Ek doop maar net met water.  En dan sê hy ook verder aan in v33,

Joh 1:33 En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.

Ek doop met water, maar Hy doop met die Heilige Gees.  My doop is net water.  Christus, Hy doop met die Heilige Gees.  Jy sien, Johannes het bekering gepreek en wanneer iemand hom bekeer het, het hy hom gedoop met water as ‘n simbool van reiniging en voorbereiding van hul harte want die Messias is oppad.

Dit het niks te doen gehad met die doop waarmee Christus gaan doop wanneer Hy kom en die Heilige Gees gee nie.  So Johannes sê, my doop is maar net water.  Dit is net ‘n simbool van reiniging en bekering.  Maar dan voeg hy by in v26,

Joh 1:26 Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie—

So wat sê Johannes vir hulle.  Dit gaan nie soseer oor die idee dat die Messias letterlik onder hulle staan of dat Hy al reeds in die wêreld onder hulle woon en hulle dit nie weet nie.  Dit gaan nie soseer daaroor nie. 

Johannes probeer eintlik sê, julle is meer gepla oor dit wat ek sê, maar eintlik mis julle punt.  En wanneer Christus finaal kom, gaan Hy julle nie met water doop nie, maar met die Heilige Gees.

En kom ons maak net seker dat ons hierdie waarheid nie verkeerd begryp nie.  Dat elke gelowige, die oomblik wat Hy Jesus Christus aanneem, word hy gedoop met die Heilige Gees.  En dit gebeur net een keer.  Jy word nie oor en oor gedoop met die Heilige Gees nie.

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

En Paulus skryf hierdie aan die Korinthiërs wat ‘n slegte voorbeeld van al die gelowiges is.  En as hulle, wat so messed-up was, die doop met die Heilige Gees ontvang het, dan is die doop beslis deel van elke gelowige.  Jy kan nie deel word van die liggaam van Christus sonder die doop met die Heilige Gees nie.  Ons almal is van een Gees deurdronge.

So die oomblik wat jy jou geloof in Jesus Christus plaas, word jy gedoop met die Heilige Gees wat jou heilig en reinig en jou aanvaarbaar maak vir God.  Dit is ‘n gebeurtenis wat een keer by jou bekering plaasvind, en nie herhaal word oor en oor nie. 

Mense wat die doping met die Heilige Gees wil gebruik as iets wat aan en af is en wat dit koppel aan die spreek in tale verstaan nie waaroor die doping met die Heilige Gees gaan nie.  Die doping met die Heilige Gees word nie eenkeer in die hele Bybel geassosieer met die spreek in tale nie.  Contrary to popular belief.  Dit gebeur wanneer mense met woorde rondspeel en termes herkonstruktureer.

Doping met die Heilige Gees vind plaas die oomblik wat jy gered word.  Johannes sê, ek doop met water wanneer iemand hom bekeer, maar Hy doop met die Heilige Gees.  Ons word nie gewas met fisiese water nie.  God stuur Sy Gees in ons om ons te reinig en skoon te was. 

Tit 3:5 nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees

Johannes se doop was ‘n simbool.  Christus bring die werklike en kom was ons van binne af met die Heilige Gees.

So Johannes se eerste getuienis aan die eerste groep mense was, hier is die Messias.  Hy is hier.  Hy is onder ons.

Joh 1:27 dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie.

Kan ek dit byvoeg?  Die laagste van die laagste slaaf se werk was om sy here se skoenrieme los te maak.  Daar was ‘n sê ding onder die rabbi’s dat selfs ‘n dissipel nie gelaat word sonder om sy here se skoene los te maak nie.  En Johannes sê, ek is nie waardig om sy skoenerieme los te maak nie.  Ek is nog nie eers die onverdienstelike slaaf geword nie.  Dit is nederigheid.

Joh 1:28 Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

Dit was sy eerste getuienis.  Priesters en Leviete wat vir hom vra, wie is jy?  Hy sê, ek is niks.  Moenie oor my bekommerd wees nie, wees eerder bekommerd oor die feit dat die Christus, die Seun van die Lewende God hier is en dat julle Hom nie ken nie.

So kom ons kyk na sy tweede getuienis:

Joh 1:29 Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Hierdie is die volgende dag en hier getuig Johannes weer.  Let op wat hy sê!  Hy sê, Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld, enkelvoud.  Nie sondes nie, maar sonde.  Maw Hy neem nie net elke enkele sonde of simptome weg nie, maar hy neem die sonde van die wêreld weg.  Die een groot siekte van die wêreld.

En verwys hy na Hom as die Lam van god.  Wel, die Jode het dit verstaan.  Hulle het die offersisteme geken.  Hulle het geweet van Abraham en Isak en dat God vir Abraham gesê het dat Hy ‘n lam sal voorsien.  Hulle het die pasga geken waar die lam op die deurposte gesmeer is.  Hulle het geweet van die lam wat elke dag in die tempel geslag is vir die volk se sonde.  Hulle het dit geweet.

Hulle het ook Jesaja se profesie geken wat sê dat ‘n lam sal kom wat geslag moet word.  En nou sê Johannes, hier is Hy.  Hy is Lam van God.  Hy is die finale offer.  Hy was die volmaakte offer en na Hom is daar nie meer ‘n offer nodig nie, soos die Hebreër skrywer vir ons vertel.

Maar die Jode wou ‘n profeet gehad het, en God gee vir hulle ‘n lam.  Hulle wou ‘n koning gehad het, maar God gee vir hulle ‘n lam want hulle kan nie saam met God regeer as hulle nie in verhouding met Hom staan nie.  En daar is geen verhouding met God as jou sonde nie eers weggeneem word nie.  So God het eers ‘n lam gestuur om van sonde ontslae te raak voordat die mens in ‘n verhouding met Hom kan kom.

As jy nie eers tot die besef van sonde kom en die offer van Christus vir jou sonde aanvaar nie, is daar nie plek vir ‘n verhouding tussen jou en God nie.  Jou sonde moet eers weggeneem word.  So Johannes se eerste getuienis is, Hy is hier.  En sy tweede getuienis is, Kyk na Hom.  Sien Hom vir wie Hy is.  En dit is die tweede stap in saligheid.

Eerstens moet jy besef dat Christus is en dat Hy leef en tweedens moet jy Hom sien vir wie Hy is.  Die lewe Woord en die Lam van God.  En wanneer jy Hom sien as die Lam van God, dan sien jy jou eie sonde raak.  So kyk na Hom, die Lewende Woord, die sterwende Lam.

Joh 1:30 Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom ‘n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek.

En ek dink Johannes wil seker maak ons verstaan dit.  Dit is die derde keer wat hy dit sê.

Joh 1:31 En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop.

Nou sê Johannes ‘n interesante ding.  Hy sê, ek het Hom nie geken nie.  Het julle geweet dat Johannes die doper was Jesus se neef?  Hy het vir 30 jaar Jesus geken en nie geweet wie Hy is nie.  Want Jesus het nooit Sy Messiaanskap uitgedruk tot na Sy doop nie.  Johannes het nie geweet nie.

Wat hy wel geweet is dat die Messias gaan kom en aan Israel geopenbaar word.  Hy het nie geweet wie dit was nie.

Joh 1:32 En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.

Toe Johannes vir Jesus gedoop het en die Heilige Gees op Hom neergedaal het soos ‘n duif, toe eers besef hy wie Jesus werklik is.

Joh 1:33 En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.

Hoe het Johannes geweet?  God het vir Hom gesê.  En hoe weet jy dat Jesus die Seun van God is?  God sê vir jou.  Jy kan nie Christus ken sonder dat God Hom aan jou openbaar nie.

Matt 16:13 En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?
14 En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.
15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?
16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.

Die mens kan God nie ken as God Homself nie aan jou openbaar nie.  Die mens kan nie uit homself God vind nie.  Die natuurlike mens kan nie die dinge van God begryp nie.  Dit is vir hom dwaasheid en hy kan dit nie verstaan nie.  Die enigste manier waarop die mens God ken ken, is wanneer Hy Homself aan jou openbaar.

Johannes het vir 30 jaar Jesus as sy neef geken, maar nie geweet dat Hy die Christus is nie.  Hoekom nie?  Want God het dit nog nie aan hom geopenbaar nie.  So Johannes sê, ek het finaal besef dat Jesus die Christus is, want God het vir my gesê wie Hy is. 

En dit is Johannes se tweede getuienis.  Kyk na Hom, Hy is die Lam van God, die Seun van God.  Die eerste getuienis is, Hy is hier.  Die tweede getuienis, Kyk na Hom, en sien wie Hy is.  Die Lam wat gesterf het vir jou sonde om dit weg te neem.

Joh 1:34 En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.

Kan jy dit ook sê?  Al het jy Hom nie gesien met jou fisiese oog nie, kan jy getuig dat Jesus Christus is verseker die Seun van God?

Kom ons kyk gou laastens na die derde getuienis:

Joh 1:35 Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels;

Dit was die volgende dag.  En hier saam met hom is twee van sy dissipels.  Daar was mos maar ‘n groep wat hom gevolg het.

Joh 1:36 en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!
37 En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg.

So wat is Johannes die doper se derde getuienis?  Volg Hom.  Eerstens, Hier is Hy, tweendes, Kyk na Hom, en derdens, Volg Hom.

Moenie my volg nie.  Hoekom staan julle nog hier by my?  Daar is die Lam van God.  Volg Hom.  En hulle het.  Hulle het Jesus gevolg.  Johannes het van die voorgrond af verdwyn.  En jy weet wat gebeur in die res van die evangelie?  Volg Jesus.  Johannes die doper kom nog eenkeer gou voor in hoofstuk 3, maar dit gaan alles oor om Jesus te volg.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288