Monday 20 May 2013

Inspekteur Bybel: Evolusie


Kan die Bybel en evolusie met mekaar versoen word?  Meeste Christene verwerp Darwin se evolusie teorie, maar ongelukkig het die kerk oor die jare nie ‘n goeie job gedoen om die skeppingsleer teen die evolusie te verdedig nie.  Instede daarvan dat hulle Darwin se teorie oor die evolusie ontbloot as leuens, het sommige teoloë probeer om die Bybel daarmee te versoen.

Sommige teoloë sê dat God se metode van skepping was evolusionêr.  Die ses dae skeppingsverhaal volgens hulle verteenwoordig ‘n tydperk van duisende of miljoene jare, want hulle sê vir God is een dag soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaar soos een dag.  Dit staan bekend as teïstiese evolusie.  En ander teoloë sê weer dat die mijoene jare en die tydperk van die dinosourusse pas tussen Gen 1:1 en 1:2.  En dit staan bekend as die “Gap theory”.  

Maak dit regtig saak wat ek glo?  Of dit nou letterlik ses dae was of duisende jare?  Verseker maak dit saak wat jy glo.  As ‘n Christen nie die skeppings verhaal glo soos dit daar in die Bybel staan nie, gaan sy commitment teenoor baie ander gedeeltes in die Bybel ook sku wees of gevul wees met ongeloof.

Luk 16:31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan. 

Jesus vertel van die rykman en Lasarus in die doderyk.  Lasarus was by die boesem van Abraham en die rykman het in smarte gely.  Die rykman bid dat sy broers wat nog lewe gewaarsku sal word en dan sê Abraham, as hulle nie eers na Moses en die Profete geluister het nie, sal hulle ook nie luister al sou iemand ook uit die dode opstaan.  Moses verwys hier na die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug en dit sluit in Genesis en skeppingsverhaal.

Maw as jy nie eers die skeppingsverhaal glo soos dit in Genesis geskryf staan nie, hoekom sal jy die res van die Bybel glo soos dit daar staan.  Dit is wanneer mense die Bybel begin verdraai en begin om dinge in te lees en alles te vergeestelik.  Dit is agv van ongeloof wat mense dit doen.

Eerder as om net te glo wat God eenvoudig sê, verkies sommiges om die gebeurtenisse wat aanstoot gee vir die skeptici en materialiste, om dit te vergeestelik of te allegoriseer.  Dit sluit in gebeurtenisse soos die vermeerdering van tale by die Toring van Babel, die Rooi See wat oopgekloof het, die manna in die woestyn vir veertig jaar, die storie van Jona, die wêreldwye vloed, Elia wat weggevoer is, en die vernietiging van Sodom en Gomorra.

Terwyl die wetenskap baie wonderlike ontdekkings gemaak het in die wêreld rondom ons, was dit van die begin af oorheers deur mense wat die God van Genesis verag het en net tevrede was met verduidelikings wat naarstiglik Hom uitgesluit het.  Selfs voor die wetenskap, het mense eerder verduidelikings gesoek op ander plekke as in die Bybel.

So kom ons kyk na teïstiese evolusie.  Dit is goddelike evolusie.  Mense wat sê dat God alles geskep het deur ‘n proses van evolusie.  Die problem met hierdie dwaling is dit:

Eerstens weerspreek dit die Bybel se weergawe van die skepping.  Genesis sê dat God die plante en diere geskape het volgens hulle soort.

Gen 1:11 En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. 

Gen 1:21 En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. 

Let op! God het die plante en diere gemaak volgens hulle soort.  Maw daar is definitiewe grense in die variasie wat Hy gemaak het.  Nêrens lees ons dat een soort verander het in ‘n ander soort nie.  God het van die begin verskillende soorte plante en diere gemaak.  Die Nuwe Tetstamentiese skrywers het die skepping in Genesis aanvaar as ‘n historiese gebeurtenis.  Jesus self het die historiese akuraatheid en outoriteit van die skeppingsverhaal aangehaal.

Matt 19:4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie. 

Let op!  Van die begin af man en vrou!  Nie eers ‘n bobbejaan en daarna ‘n man nie.  Let ook op!  God het hulle ook gemaak man en vrou, “Adam and Eve, not Adam and Steve”.

Tweedens is die evolusie teorie teenstrydig met God se metodes.  Deur die evolusie proses was daar ‘n ontelbare wanaagepaste en nuttelose organismes, selfs skadelose organismes.  Dit is vreemd aan God se metode van skepping.  Dit sou beteken dat Hy wrede, toevallige, ondoeltreffende en verkwistende prosesse gebruik het.  Dit sou beteken dat God dood gebruik het om te skep.  Nee!  Die God van die Bybel is ‘n God van orde en genade en nie van verwarring en wreedheid nie.  Die God van die Bybel het nadat Hy geskep het gesien dat dit goed was.

Derdens is die evolusie teorie die intellektuele basis waarop anti-goddelike stelsels gebou word.  Hitler het dit gebruik om sy Nazisme te regverdig. Hy het gesê dat die Joodse mense is die naaste aan ape (anti-semitisme) en dat hulle die laagste van alle rasse is wat uit gewis moet word om sodoende ‘n suiwer ras, natuurlik die Duitsers, te bewaar.  Hy wou die menslike evolusie aanspoedig tot ‘n super ras.  Dan moet ons mos van al die swakkes ontslae raak.

Karl Marx het dit gebruik om kommunisme te regverdig.  Dit is ook die basis van verskillende metodes van psigologie en sosiologie wat die mens gelyk aan ‘n dier stel.  Dit beteken dat moraliteit en etiek relatief is.  Dit is die basis vir rasisme.  Die effek van evolusie op die wêreld en op die mensdom is onberekenbaar skadelik.

Jesus het gesê ‘n goeie boom dra nie slegte vrugte nie.  Die bose vrugte van die evolusie is genoeg bewyse dat sy wortels boos is.

Ons kry ook dan wat sommige teoloë noem, progressiewe evolusie.  Dit beteken dat God op sekere kritiese intervalle geskep het deur die geologiese tydperke.  Maw die mens was eers ‘n aap, toe duisende jare later het God hom verander in ‘n aap-mens, maar hy het nog nie ‘n siel gehad nie, en duisende jare later het God hom verander in ‘n mens en vir hom ‘n siel gegee.

Hierdie konsep is egter nog minder aanvaarbaar is as teïstiese evolusie.  Dit is beskuldig God nie net aan vermorsing en wreedheid nie, maar ook aan onkunde en onbevoegdheid.  Dit veronderstel dat God nie van die begin af geweet het wat Hy wou maak nie en dat Hy deur die evolusie proses gekyk het hoe dit uitwerk.  Dit veronderstel ook dat God nie die vermoë gehad het om van die begin af te kon skep wat Hy in gedagte gehad het nie.  Dit is ‘n aanklagte teen God. 

Nou, wanneer die Bybel in Genesis sê, en dit was aand en dit was more, die eerste dag, verwys dit na ‘n 24 uur dag of verwys dit na ‘n tydperk van duisende selfs mijoene jare?  Enige logies denkende persoon sal vir jou sê, dit verwys na ‘n 24 uur dag.  Die Hebreeuse woord vir dag is die woord “jôm” en verwys na ‘n letterlike dag.

Gen 1:5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. 

Net hierdie een vers sê vir ons dat lig = dag en duisternis = nag en dit verwys na ‘n 24 uur tydperk.  So die konteks gee ons geen rede om dit ‘n tydperk te verstaan nie.  Die meervoud van die Hebreeuse woord “jôm” is “jamim” en kom 700 keer voor in die Ou Testament en elke keer verwys dit na letterlike “dae”.

Eks 20:11 Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig. 

In ses letterlike dae het die Here die hemel en die aarde gemaak.

Die Bybel en die evolusie is nie versoenbaar nie.  Kom ons kyk na verskille:

Die Bybel:  -  Evolusie: 

1. Die aarde is geskape voor die sterre  - Sterre kom voor die aarde
2. Die aarde was eers bedek met water  - Die aarde was eers ‘n rots en toe reën dit
3. Plante was gemaak voor die son  - Die son kom voor plante
4. Eerste diere was groot seediere  - Eers klein eensellige dier wat evolve tot groter diere
5. Voëls kom voor insekte  - Insekte kom voor voëls
6. Man is voor die vrou geskape  - Vrou kom voor die man

Maar die grootste probleem met die evolusie teorie wat sommige teoloë probeer versoen met die Bybel is dat dit God aankla met die direkte verantwoordelikheid vir vyf biljoen jaar van die geskiedenis van nutteloos variasies, toevallige veranderings, talle wanaangepastes en uitwissing, 'n wrede stryd vir die oorlewing, met behoud van die sterkes en die uitwissing van die swakkes, van alle soorte natuurrampe, siektes, versteuring, en verval, en, bo alles, met die dood.

Die Bybel sê toe God klaar geskep het, het Hy gesê dit was baie goed.  Daar was nog nie dood nie.  Dood het deur een mens in die wêreld gekom.

Rom 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Wie is hierdie een mens?  Adam.  So daar kon nie dood voor Adam gewees het.  Maw daar kon nie der duisende diere gesterf het voor Adam nie.  So daar kon nie dinosourusse gewees het wat gesterf het voor Adam nie.  Dood het deur die sonde en die sonde deur Adam in die wêreld gekom.

Wat van die “Gap-theory”?

Die “Gap-theory” sê dat tussen Gen 1:1 en 1:2 is daar ‘n gaping van miljoene jare.  

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 

Dit is dan die eerste skepping.  Maar vers twee sê, 

Gen 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 

God het mos nie woes en leeg gemaak nie.  God het nie chaos geskep nie.  So tussen vers 1 & 2 was die sondeval en dit is hoekom al die dinosourusse gevrek het en die eerste skepping verwoes is en nou leeg is.  En vanaf vers 3 kry ons wat hulle noem, die herskepping.  So die hele geologiese tabel met al die fosiele wys na die tydperk tussen Gen 1:1 en 1:2.

Gepraat van dinge inlees in die Bybel wat nie daar staan nie, en dan nog miljoene jare tussen 2 verse.  Wow!  So instede dat hulle die evolusie teorie aanvat en verkeerd bewys, druk hulle dit hier in tussen vers 1 en 2.  En dit skep baie probleme.  Waarom sou God die eerste skepping so lank oor miljoene jare geskep het en dan word dit verwoes en die tweede skepping word net in ses dae geskape?

Maar daar is ‘n groter probleem met hierdie teorie en dit is, dit maak God die direkte outeur van boosheid en slegte dinge en die dood.  Dit veronderstel dat Hy metodes van stryd, geweld, verval en dood gebruik het op ‘n wêreldwye skaal vir ongeveer drie biljoen jaar om Sy onbekende doel te bereik.

Volgens hierdie teorie is dit die tydperk waar Satan in die hemel gesondig het en God hom uit die hemel geskop het, en toe hy op die aarde val, is dit alles saam daarmee vernietig.  Dit is dan die sondeval en ook hoe sonde in die wêreld in gekom het.  Is dit waar?  Nee!  

Verder kan Satan se sonde egter nie die oorsaak wees hoekom daar soveel stryd en dood was in die wêreld voordat hy gesondig en geval het nie, en daarom kan God alleen die oorsaak wees vir stryd en dood en verwarring, sonder enige rede.

Kan u sien hoe gevaarlik hierdie teorie is en hoe ons dit summier net moet verwerp.

Gen 1:2 En die aarde was woes en leeg…

KJV - And the earth was without form, and void…

Letterlik in die beteken dit, die aarde was vormloos.  God het die hemel en aarde gemaak en die aarde het nog nie vorm gehad nie, want God was nog besig om te skep.  So God het die aarde gemaak en daarna het Hy dit begin vorm.  So eenvoudig soos dit.  So die “gap-theory” is gevaarlik en lê die oorsprong van die dood by God se deur.  Ons moet dit verwerp. 

Rom 5 sê dat sonde het deur een mens in die wêreld gekom en dood deur sonde.  So die sondeval het eers na die skeppingsverhaal van Gen 1 plaasgevind toe Adam en Eva gesondig het.

Jy sien die groot meester brein agter die evolusie teorie is die Satan.  Hy versprei hierdie toerie, want hy wil die spot dryf met die God van die skepping, maar nog meer, mense wat vasgevang word in hierdie evolusionêre denkwyse glo byna enigiets, hoe onlogies of dwaas dit ook mag wees.

Slot

Ek wil jou verseker dat jy kan die Bybel glo net soos hy daar is.  Geloof sal nie beskaam nie.  Jy hoef nie verskonings te maak vir die Bybel nie.  Jy hoef nie en jy moet nie dit verdraai en vergeestelik nie sodat dit by die wêreldse verduidelikings kan inpas nie.  

Num 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? 

God is geen man dat Hy sou lieg of iets sê en dit nie waar maak nie.  God se Woord is onfeilbaar.  Jy kan daaraan vashou.




No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288