Ons harte word geopenbaar op
die wyse waarop ons met God se Woord werk en ook gehoorsaam. Wanneer ons Sy Woord bewaar het Sy liefde in
ons volmaak geword en sal ons weet dat ons in Hom is (1 Joh 5:2). Dit is ongeleerde en onvaste mense wat die
Skrif verdraai tot hulle eie verderf (2 Pet 3:16).
En wanneer dit kom by die
gawes van tale, uitleg en profesie, volgens 1 Korinthiërs 14 moet dit beoefen
word volgens die voorskrifte wat Paulus vir ons gegee het. Dit is ook onsettend belangrik dat ons nie
met vooropgestelde idees na die Skrif toe sal gaan nie, maar dat ons sal
toelaat dat die Skrif met ons sal praat.
In hierdie studie gaan ons kyk
na die voorskrifte wat 1 Korinthiërs 14 vir ons gee rakende die beoefening van
die gawes van tale, uitleg en profesie in die gemeente konteks?
Die sleutelwoord in hoofstuk 14 is die woord “stigting”
of “stig”:
·
v3 – “woorde van stigting”
·
v4 – “stig die gemeente”
·
v5 – “die gemeente
stigting kan ontvang”
·
V12 – “tot stigting van
die gemeente”
·
V19 – “ander te
onderrig”
En dan som v26 dit alles op
met die woorde, “laat
alles tot STIGTING geskied”.
Wanneer die gemeente dan bymekaar kom is die primêre fokus dat die
gemeente gestig sal word. Die Griekse woord
is “oikodom” wat kom van “oikos” (huis) en “dem” (om op te bou). Die fokus en doel van die samekoms is om die
gelowiges soos ‘n geestelike huis op te bou deur hulle te help om te groei tot
geestelike volwassenheid.
Verder is dit ook nie net die
tema van hooftuk 12-14 dat ons “mekaar/ander” moet stig en opbou nie, maar is
dit ook ons goddelike mandaat wat ons regdeur die Nuwe Testament vind. Ons moet ons naaste behaag met goeie dinge
wat tot hulle stigting is, want ook Christus het Homself nie behaag nie (Rom
15:2-3). Christus het nie Sy eie
voordeel gesoek nie, maar die voordeel van ander.
Die goue reël is “LIEFDE” en hoofstuk 13
gaan oor liefde wat ‘n vrug is vir ander, want ‘n boom dra nie vrug vir homself
nie, maar vir ander. V5 sê “liefde handel nie
onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belange nie…”
Om hierdie rede sou dit totaal
en al verkeerd wees om die gawe van tale te sien as ‘n gawe vir selfstigting (1 Kor 14:4 Hy wat in
‘n taal spreek, stig homself) of om dit te sien as ‘n waarheid wat
Paulus beklemtoon en aanbeveel. Hy
beklemtoon eerder die verkeerde gebruik van die gawe van tale deur te sê dat “hy wat in ‘n taal
spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie,”
(v2). En die doel van die geestelike gawes
is om ander op te bou en te stig, en nie jouself nie.
Paulus beskryf in 1
Korinthiërs 14 eerstens die plek van die gawe van tale in die gemeente, en dit
is dat dit sekondêr is (v5), die doel van die gawe van tale, en dit is dat dit
‘n teken is vir die ongelowiges (Jode) v21-22, en dan ook die die praktiese
toepassing van die gawes in die gemeente, v26-40.
Praktiese voorskrifte vir die gawes van tale en uitleg:
1. Twee of hoogstens drie persone
mag in tale praat tydens ‘n gemeente samekoms.
1 Kor 14:27 En as
iemand in ‘n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie…
Maw as ‘n
vierde persoon in tale praat tydens die gemeente samekoms, dan is ten minste
die vierde persoon besig om te sondig.
2. Een spreker op ‘n beurt mag in
tale praat en nie almal gelyktydig nie.
1 Kor 14:27 …en by beurte…
3. Iemand moet dit vertaal.
1 Kor 14:27 …en laat een dit uitlê.
Die woord
“uitlê” is die Griekse woord “hermeneia” wat letterlik beteken “vertaal”. Al die tale (op die meeste drie en by beurte)
moet vertaal word. V28 maak die
belangrikheid daarvan nog meer duidelik wanneer dit sê, “Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in
die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.”
Dit
veronderstel ook dat die persone wat die gawe van tale het, geweet het wie die
gawe van uitleg het. En as daardie
persoon nie teenwoordig was in die gemeente nie, het hulle geen ander rede
gehad om in tale te praat nie, en moes hulle stilbly.
Hierdie 3 punte veronderstel
dat die gawes onder die beheer van die persone is wat dit beoefen het. Die Heilige Gees sal nooit iets deur iemand
doen wat buite beheer is nie. Die vrug
van die Gees is selfbeheersing (Gal 5:22) en die Heilige Gees werk nie teen
Homself nie.
Die gawe van tale was daar vir
die geleenthede waar ongelowige Jode (v21-22) in die gemeente teenwoordig was,
anders sou die doel daarvan, dat dit ‘n teken vir die ongelowiges (Jode) is, vir
niemand anders betekenis gehad het nie.
Praktiese voorskrifte vir die gawe van profesie:
1. Twee of hoogstens drie profete
mag profeteer tydens ‘n gemeente samekoms.
1 Kor 14:29 Laat twee of drie profete spreek…
Dit is
dieselfde beginsel as met die gawe van tale.
Nooit meer as drie persone nie.
“Profete” is die Griekse woord “prophemi” en verwys nie na profete soos
in die Ou Testament nie, maar die woord beteken letterlik “iemand wat voor
praat”. Dit was hulle wat opgestaan het
en voor mense God se boodskap verklaar het.
2.
Laat
ander dit beoordeel
1 Kor 14:29 …laat
ander dit beoordeel.
Die “ander”
verwys na ander profete. Twee of drie
profete mag spreek en die ander (profete) moet dit beoordeel. Hulle moet beoordeel of dit wat gespreek is
die waarheid is. Dit kan ook wees dat
hulle die gawe van onderskeiding gehad het, dat hulle kon onderskei wat van God
af is en wat nie van God af is nie.
Dit
veronderstel ook dat iemand nie net kon voorstaan en ‘n boodskap gee sonder dat
dit beoordeel word nie. Dit moes
beoordeel word, want die Kanon was nog nie afgesluit nie, en daar was nog nie
geskrewe woord waarteen hulle dit kon beoordeel nie, en daarom het die gawe van
onderskeiding so groot rol gespeel.
Baie dankie Pastoor,ek verstaan nou beter
ReplyDelete