Sunday 4 October 2015

DIE DOPING MET DIE HEILIGE GEES

Wat is die doping met die Heilige Gees? Hoe ontvang jy dit? En wanneer ontvang jy dit? Daar is verskillende groepe wat met verskillende benaderinge na Hand 2 toe gaan om hulle standpunte te probeer bewys.  Daarom is dit belangrik dat ons so ver as moontlik nie sal toelaat dat ons eie vooropgestelde idees ons interpretasie sal beïnvloed nie, maar dat ons die Skrif sal toelaat om met ons te praat en in gebed God sal vertrou vir die korrekte interpretasie.

Wanneer vind die doping met die Heilige Gees plaas?

Wanneer die Bybel praat van die doping met die Heilige Gees in die evangelies en in die eerste hoofstuk van Handelinge, word daarna verwys as iets wat nog in die toekoms lê, bv.

Matt 3:11 ...Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

(Mark 1:8; Luk 3:16; Joh 1:33; Hand 1:5)

In Hand 2:38 is dit ‘n gegewe: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, EN JULLE SAL die gawe van die Heilige Gees ontvang.”

‘n Persoon ontvang die Heilige Gees wanneer hy tot bekering kom.  Hy hoef nie daarvoor nog te vra of daarna te soek nie.  Die belofte is dat hy die gawe sal ontvang wanneer hy hom bekeer.


Hand 11:16 verwys terug na die woorde van Jesus aan sy dissipels: “maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.”

Na Hand 2 plaas die Bybel die doping met die Heilige Gees van die gelowige in die verledeNooit word die gelowige beveel of geleer om die doping met die Heilige Gees te soek nie.  En meer nog, is dit nie net in die verlede nie, maar het dit met almal gebeur.

As daar ‘n doping is wat bestaan wat ‘n gelowige dalk nog nie ontvang het nie, iets is waarna hy moet soek, moet daar sekerlik iets daarvan in die Bybel staan, sekere teksgedeeltes wees wat hom aanmoedig om dit te soek of daarvoor te vra, maar daar is geen.

Daar staan wel die volgende:

-          word met die Gees vervul (Ef 5:18);
-          strewe om die eenheid van die Gees te bewaar (Ef 4:3);
-          wandel deur die Gees (Gal 5:25);
-          bedroef nie die Heilige Gees van God nie (Ef4:30);
-          blus die Gees nie uit nie (1 Thes 5:19).

Nêrens in die Nuwe Testament vind ons ‘n soortgelyke voorstelling van die doping met die Heilige Gees nie.  Ons word nie aangemoedig om daarvoor te soek of daarvoor te wag nie.  Die doping met die Heilige Gees is soos die huwelik of saligheid, nadat dit gebeur het, moet dit elke dag uitgeleef word.  Nooit weer hoef dit ontvang of gesoek te word nie.

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Paulus skryf dit aan die gemeente van Korinthe wat ver onder die norm van die Christen lewe geleef het.  Die verlede tyd wat gebruik word skakel die moontlikheid uit van enige foute met betrekking tot die oomblik wanneer dit gebeur het.  In die evangelies en Hand 1 word daarna in die toekoms verwys.  1 Kor 12:13 kyk terug in die verlede.  Waar ontmoet die twee?  Sonder enige twyfel, by die dag van Pinkster.

Is die doping met die Heilige Gees ‘n tweede ervaring?

Hierdie leerstelling is die fondasie van die Pinksterbewing, maar nie almal sien dit in dieselfde lig nie.  Sommige sien dit wel as die oomblik wanneer die gelowige deel word van die liggaam van Christus, maar spreek in tale is die eerste of noodsaaklike bewys van hierdie doping, maw ook die bewys dat jy gered is.

Ander maak weer onderskeid tussen die doping MET die Heilige Gees en die doping IN die Heilige Gees en dat die “doping met” plaasvind by wedergboorte en die “doping in” ‘n tweede ervaring van krag toerusting is. 

Die Griekse woord “en” kan met beide “met” en “in” vertaal word en daarom gee dit ons nie die vryheid om dit te vertaal soos ons wil vanuit die benadering waarmee ons na die teks toe gaan nie.  Die konteks van die teksgedeelte moet bepaal wat die betekenis van die woord is.

a)   Dit was op Pinksterdag en nie weke vroeër in Joh 20:22 waar die dissipels die gawe van die Heilige Gees ontvang het nie.

Dit kon onmoontlik nie anders gebeur het nie, want die Heilige Gees was nog nooit op so wyse gegee soos op hierdie dag nie.

Joh 7:38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.
39 En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.
       
Dit is eers nadat Jesus verheerlik was, dat die Heilige Gees gegee is en nie voor die tyd nie.  Vanuit hierdie leerstellige en kronologiese waarneming, is dit nie moeilik om Joh 20:22 te verklaar nie.  Net voordat Jesus opgevaar het hemel toe lees ons,

Joh 20:22 En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.

Dit was ‘n profetiese belofte waarvan die naderende vervulling daarvan opgeneem is in,

Hand 2:2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.

‘n Franse Pinkster prediker, P Emirian sê:

"This time, I would disagree with my Pentecostal and charismatic brothers, and agree with my evangelical brothers, even if the result of the gift of the Spirit does not have the same meaning for us. I believe with them that this gesture of Jesus, on the evening of the resurrection IS NOTHING OTHER THAN APROPHETIC GESTURE OF THE GREAT PROMISE proclaimed in the text quoted above". (The Gift of the Holy Spirit, p 89)

Pinskterdag was nie ‘n tweede ervaring in die lewens van die dissipels nie, maar die vervulling van die belofte van die gawe van die Heilige Gees wat die Vader sou gee om by die gelowiges te bly en in hulle te wees.  

Hand 1:4 En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het.
5 Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

In v4 beveel Jesus sy dissipels om te wag op die belofte wat die Vader sal gee en die belofte is die Heilige Gees self.  Jesus verwys dan in v5 na die gee van die Heilige Gees as die “doping met die Heilige Gees”.  En wanneer die Heilige Gees gegee word, sal hulle krag ontvang v8.  Die krag toerusting om te kan getuig kom wanneer die Heilige Gees gegee word.

b)    By Cornelius se huis (Hand 10) – Dit wat in Hand 10 gebeur het is nog meer relevant vir ons, in die sin dat Cornelius ‘n heiden was.  Dit is by sy bekering dat die Heilige Gees op hom en sy huisgesin gekom het, soos op die dissipels in Hand 2.

Hier is egter nie die geluid van ‘n geweldige rukwind of tonge van vuur nie, maar Petrus dring daarop aan dat dit soos op hulle in die begin was (Hand 11:15).

c)     Die twaalf dissipels (Hand 19) – Ons kry dieselfde scenario, maar hierdie keer is dit Jode.  Hulle was egter nie dissipels van Jesus nie, maar dissipels van Johannes die Doper.  Paulus vra vir hulle,

Hand 19:2 ...Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?

Dit bewys dat om met die Heilige Gees gedoop te wees, moet jy in die Here Jesus Christus glo.  Dit sluit aan by Ef 1:13,

Ef 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte.

Die reaksie van die dissipels van Johannes die Doper wys vir ons dat hulle nie dissipels van Jesus was nie, Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.”  Nie net het hulle nie geweet van die Heilige Gees nie, maar het hulle ook nie geweet van die Christen doop nie.  Hulle moes daarvan geweet het as hulle dissipels van Jesus en Sy Woord was.  Hoe kon hulle so belangrike deel van Christenskap gemis het wat net na bekering bedien is soos ons sien in Hand gebeur het?

-          Hand 2:41 Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop

-          Hand 8:12 Maar toe hulle Filippus geglo het ... is hulle gedoop

-          Hand 8:38 - die hofdienaar het geglo en is gedoop

-          Hand 9:18 - Saul is gered en gedoop

-          Hand 10:47 - Cornelius en die wat gehoor het is gedoop

-          Hand 16:14, 15 - Lidia het haar hart oopgemaak en is gedoop

-          Hand 16:33 - Die tronkbewaarder het geglo en is onmiddelik gedoop

-          Hand 19:5 En toe hulle dit hoor (geloof in Jesus), is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.

Die twaalf wat in Hand 19 genoem word was emigrante Jode, soos baie ander, en lede van ‘n Joodse kolonie wat in Efese gevestig was.  Hulle het blykbaar geen bande met enige Christene gehad nie.  Dit word duideliker toe Paulus vir hulle vra, “met watter doop is julle dan gedoop?”  Hulle antwoord, “met die doop van Johannes”.  Paulus het onmiddelik verstaan en verduidelik wat hulle geestelike status was.

Hand 19:4 Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.

Hulle het geglo in wat Johannes gepreek het, dat die Messias gaan kom.  Paulus help hulle om te glo in die Een wat gekom het.  Hulle is toe gedoop in die Naam van die Here Jesus en Paulus het hulle die hande opgelê en die Heilige Gees het op hulle gekom.  Paulus se vraag het nou ‘n antwoord: Ja, hulle het die Heilige Gees ontvang toe hulle geglo het.

Nie op een van hierdie geleenthede word die doping met die Heilige Gees as ‘n tweede ervaring beskou nie.

d)      Die Samaritane (Hand 8) – In Hand 8 is dit die enigste keer waar dit verskil met die ander drie kere, want daar is ‘n verloop van tyd tussen die Samaritane se bekering en hul ontvangs van die Heilige Gees.  Dit is die enigste plek in die Bybel waar die doping met die Heilige Gees as ‘n tweede ervaring plaasgevind het.

Die verduideliking, alhoewel dit lank is, is egter nie ingewikkeld nie, maar dit verg ‘n bietjie meer Bybelkennis.

Hoekom het die Samaritane nie die Heilige Gees ontvang soos al die ander gelowiges, die oomblik toe hulle geglo het nie?  Wie was die Samaritane?

Hulle was mense wat die taal en godsdiens van die Jode aangeneem het, maar hulle beoefening daarvan was nie ortodoks nie.  In plaas daarvan dat hulle na die tempel in Jerusalem toe gegaan het, het hulle hul eie weergawe opgerig op die berg van Samaria (Joh 4:20).  Die Jode wou niks met die Samaritane te doen gehad het nie (Joh 4:9).  Daar was godsdienstige, rasse- en kulturele hindernisse tussen hulle.  Hulle het mekaar gehaat.

As die korste pad van ‘n Jood se reistog deur Samaria sou wees, het hulle nie gehuiwer om eerder die lang pad te vat nie.  Een aand toe Jesus en Sy dissipels in ‘n Samaritaanse dorpie gekom het en daar wou oornag, wou hulle nie Jesus ontvang nie want Hy was oppad na Jerusalem. (Luk 9:52, 56).  Die dissipels was kwaad en wou Elia naboots (2 Kon 1:10,12) deur vuur van die hemel te laat neerdaal om hulle te verteer.

Met dit in gedagte, was die dissipels die laaste persone wat die hande op die Samaritane sou lê om die Heilige Gees te ontvang.  En geen Samaritaan sou ooit toelaat dat ‘n Jood op hom die hande lê nie.  Die ergste belediging wat jy vir ‘n Jood kon gee, was om vir hom te sê, “Jy is ‘n Samaritaan”. (Joh 8:48)

As die Samaritane die Heilige Gees ontvang het by hul bekering, met hierdie problem, sou die groot kloof wat hulle geskei het voortgegaan het in die Christelike kerk.  Dit so ‘n ontkenning gewees het van wat die doping met die Heilige Gees beteken, naamlik Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.” (1 Kor 12:13)

Die Samaritane moes erken dat dit wat met hulle gebeur het was nie ‘n Samaritaanse Pinkster nie en dat daar net een geboortedag van die Kerk is.  Pinksterdag was die begin van ‘n nuwe era en die evangelie wat verkondig is in Samaria was ‘n voortsetting van daardie seëninge van die nuwe era en nie die inhuldiging daarvan nie.

Dit wat in Samaria gebeur het was deel van die Kerk se groei en nie sy geboorte nie.  Daarom was dit noodsaaklik dat die Samaritane moes weet dat daar nie twee liggame, twee kerke is nie, maar een.

‘n Vrywillige interval

Dit is opmerklik dat die Samaritaanse gelowiges nie gewag het vir die Heilige Gees nie, maar dat dit eerder die Heilige Gees was wat gewag het vir Petrus en Johannes om te kom van Jerusalem af.  Die gesag van die Joodse apostes moes erken word buite die kultuur en grense van Judaïsme.  Dit was belangrik dat die Samaritane moes erken dat die saligheid uit die Jode is.

Joh 4:22 Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.

Hulle moes ook die gesag van die apostels erken, dat hulle die draers van die waarheid is.  Die interval, die tydsverloop tussen die Samaritane se bekering en wanneer hulle die Heilige Gees ontvang, was nie toevallig nie.  Dit was doelbewus.  Die Samaritane moes sien dat hulle afhanklik is van die gesag van die Joodse apostels en die apostels (wat vuur wou afbid) moes erken dat die Samaritane wat gelowig geword het deel is van dieselfde kerk, dieselfde Christus, dieselfde redding, dieselfde God, dieselfde Heilige Gees.

Dit was die enigste betekenis wat Paulus aan die doping met die Heilige Gees gegee het: om “een liggaam” (1 Kor 12:13) te vorm. 

God het in Hand 8 dit so gedoen om enige hindernisse en bitterheid en skeidingsmuur tussen die Joodse gelowiges en Samaritaanse gelowiges af te breek.

Die handoplegging in Hand 19 was ook nodig soos in die geval van die Samaritane, sodat hierdie geïsoleerde groep wat op die rand van die Christene en heidense gebiede geleef het ook die gesag van die apostels kon erken.

Stuart Olyott, ‘n pastor in Lausanne verduidelik dit so waarom die doping met die Heilige Gees nie ‘n tweede ervaring kan wees nie.  Hy sê,

Being born again is just like being born physically. When a baby comes into the world, he is a finished product; nothing is missing. His tiny little feet are still so tiny but maybe they will be those of an athlete; his little fists will perhaps become those of a nurse or a skilled surgeon; that little brain in that wrinkled little head may one day be that of an eminent mathematician. Would we be less complete and would our potential be less when born from above, not of the will of man but of God? Could our heavenly Father have made us less well than our earthly parents? This is what some people would have us believe. They come to see the baby and tell us, "Oh, but his lungs are missing, or his liver, or his kidneys, but don’t worry, it is not serious, come to our place and we will give him a transplant!" No, thank you! When God regenerates us by His Word and His Spirit, He does not create monsters or little stunted runts. No, not a single part of the sevenfold blessing is missing for those who are born again spiritually, and especially not the baptism of the Holy Spirit, which brings about the unity of the divine family (I Cor.12:13). "You have been given fullness in Christ", says Paul (Col.2:10), and we all have this from the moment we are born again but it is necessary to develop it with the help of all that the Word is for us: milk, bread and meat, so that we may "become mature, attaining to the whole measure of the fullness of Christ" (Eph.4:13).

Die doel van die doping met die Heilige Gees

Die doel van die doping met die Heilige Gees bewys sonder enige twyfel dat dit nie ‘n tweede ervaring kan wees nie.  Dit word duideliker wanneer ons dit baseer op die patroon van die waterdoop, wat

-          in die evangelies aangekondig word
-          in die boek Handelinge beoefen word
-          in die sendbriewe verduidelik word

Dieselfde geld vir die doping met die Heilige Gees.  Dit word in die evangelies aangekondig, dit verskyn in die boek Handelinge as die eerste ervaring van die gelowige, dit word in die sendbriewe verduidelik. 

Daar is egter net een sendbrief waar ons die enigste verduideliking in die hele Nuwe Testament kry met betrekking tot die doping met die Heilige Gees en dit is 1 Kor 12:13.  Daar is geen ander verklaring of verduideliking nie en dit is waarom hierdie vers vir ons van kardinale belang is.

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur (“en” – met) een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Ons is almal deur/met een Gees gedoop...vir watter doel?  Om toegang te hê tot die geestelike gawes? Nee!  Vir persoonlike opbouing? Nee!  Om in tale te spreek? Nee!  Om ‘n meer kragtige getuienis te hê? Nee!

So om watter rede dan?

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur (“en” – met) een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

DOEL: Om die liggaam te vorm, om diegene wat wedergebore is deur die Heilige Gees, saam te voeg.

“Of ons Jode is of Grieke is”, is so noodsaaklik vir die interpretasie van hierdie vers.  Dit help ons om die spreke in tale korrek te interpreteer.  Hierdie twee waarhede van die doping met die Heilige Gees en die spreke in tale hou verband met mekaar, maar nie op die wyse soos wat dit verduidelik word in Pentekostalisme nie.

“Of ons Jode is of Grieke is” neem ons terug na Jerusalem, na daardie dag toe Petrus vir ons verduidelik het waaroor die tale gegaan het en die doping wat hulle ontvang het met die volgende,

Hand 2:17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees...

Nie net die Jode alleen nie, maar dat mense van alle kulture, of Jode of Grieke (wat verwys na almal wat nie-Joods is nie).  Die “of ons Jode is of Grieke is” wys vir ons dat die doping met die Heilige Gees meer as net die insluiting van ‘n gelowige in die liggaam van Christus is, maar dat dit ook die aanvaarding is van gelowiges van elke taal, Jode of Grieke, van elke agtergrond, slaaf of vryman is.

Meer as enigiets anders, wou die Jode dit nie glo nie, dat buitelanders, Grieke, barbare, ander tale, of anders gestel, heidende, saam met hulle ‘n nuwe entiteit gevorm het, die Kerk.  Dit is wat Paulus sê.  Gelowiges van elke taal, volk en nasie is gedoop deur die Gees tot een liggaam.  Paulus beskryf dit op ‘n ander plek so,

Ef 2:11 Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,
12 dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het
15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep
16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.
17 En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was;
18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.
19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God

Ef 3:8 Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig,
9 en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid...

Wat is hierdie verborgenheid?  Paulus se antwoord gee hy in 1 Kor 12:13 en Ef 3:6,

Ef 3:6 dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie

Wat noem die Bybel hierdie gebeurtenis waar een liggaam gevorm uit Jode en Grieke deur die Heilige Gees?  Die enigste antwoord kry ons in 1 Kor 12:13: die doping met die Heilige Gees.

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur (“en” – met) een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Jesus se laaste woorde

Jesus verduidelik die doping met die Heilige Gees op ‘n merkwaardige wyse in Hand 1:4-8.  Dit is Sy laaste woorde op aarde en daarom is dit so belangrik vir ons.  Ons hoef net die teks te volg in die volgorde soos wat God dit gegee het.

Hand 1:4 En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het.
5 Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

Hulle was gekonfronteer met die onmiddelikheid en die belangrikheid van hierdie groot gebeurtenis, en hulle reaksie is geheel en al Joods.

6 Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?

Dit is wat hulle in gedagte het.  Israel en niks anders as Israel nie.  Hulle het nie die international omvang van hierdie gebeurtenis verstaan nie.

7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;

Hierdeur wys Hy vir hulle dat die doping met die Heilige Gees waarna Hy verwys het in v5 is heeltemal iets anders is as wat hulle gedink het.  Hulle dink dit gaan oor die herstel van Israel.  Maar Jesus wys vir hulle in die volgende vers wat die essensie is van hierdie doping met die Heilige Gees, dat dit ‘n veeltalige dimensie het.

8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Met hierdie profetiese woorde van Jesus, hoor ons vooruit Petrus se verduideliking van die doping met die Heilige Gees en die teken van die spreke in tale, “Hand 2:17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees...”, maw   Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.  Dit is ook dan Paulus se verduideliking,

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur (“en” – met) een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Die doping met die Heilige Gees word nie as ‘n tweede ervaring beskryf nie en ons word nie geleer om daarvoor te vra of dit te soek nie.

Die spreke in tale het juis dit gekommunikeer, dat hierdie nuwe entiteit, die kerk nou bestaan het uit elke taal en volk en nasie.  Is daar iemand vandag aan wie God steeds hierdie teken van spreke in tale moet gee om hulle te oortuig dat die kerk bestaan uit verskillende tale? Nee!  Al sou hierdie teken steeds vandag bestaan, sou dit vir niemand ‘n teken gewees het nie.  Die einde van hierdie teken van spreke in tale was egter aangekondig in 1 Kor 13:8, en dit bestaan nie meer vandag nie, behalwe in die vervalste vorm daarvan.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288