Monday 28 September 2015

DIE VERVULLING VAN DIE HEILIGE GEES

Daar is twee basiese benaderings tot geestelikheid: metafisiese of etiese.

Metafisiese geestelikheid leer dat 'n gelowige direk aan God verbind is en dat Sy Gees deur die gelowige vloei, soos wat elektrisiteit vloei deur 'n motor, en dit beweeg tot aksie.  Daar word ook geleer dat wanneer 'n gelowige sondig, kom die vloei tot ‘n stilstand, en wanneer met sonde afgehandel word, word die vloei weer herstel.  Die standaard van geestelikheid mag of mag nie karakter ontwikkeling wees nie, maar gewoonlik is die fokus op interne ervarings en krag vertonings.  Dit is egter die siening wat universeel geleer word deur mistisisme. 

Etiese geestelikheid leer dat ons verhouding met God word indirek bemiddel en groei en ontwikkel soos wat jy fisies groei en ontwikkel.  Christelike groei begin wel met ‘n direkte wonderdaad van God deur middel van wedergeboorte, maar soos by fisiese geboorte waar die kind volmaak geskape is met al sy liggaamsdele, so word die gelowige wedergebore met alles wat hy nodig het om te kan groei (leer die Woord) en oefen (gehoorsaamheid) wat lei tot geestelike volwassenheid (om soos Christus te wees).  Vordering in die geestelike lewe fokus op etiese vordering buite die gelowige en geestelikheid word gemeet in terme van karakter-ontwikkeling.

Die Nuwe Testament ondersteun die etiese benadering van geestelike groei tot heiligmaking.

Vervulling

Lukas beskryf ‘n besonder vervulling met die Heilige Gees wat ‘n soewereine werk van God is.  Dit is ‘n werk van God wat die mens krag gee deur die Heilige Gees om ‘n goddelike diens te verrig.  Hierdie vervulling is tydelik en het sy agtergrond in die Ou Testament.

OU TESTAMENT

Eks 31:3 en Ek het hom vervul met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk,
4 om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper,
5 en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om werksaam te wees in allerhande werk.

Hier word Besáleël die seun van Uri, vervul met die Gees van God, en ontvang hy wysheid en verstand en kennis en word hy bekwaam gemaak vir allerhande werke.  Die Here vervul hom met die Gees om ‘n spesifieke taak te verrig.  Dit was nie ‘n permanente vervulling nie.  Dit was net vir ‘n spesifieke werk, en daar na het die Gees weer vertrek.

Num 11:17 Dan sal Ek neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.

Num 11:25 Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.

Hier sien ons die Gees van God rus op sewentig oudstes en hulle profeteer, maar daarna nie meer nie.  So dit was net tydelik.

Rig 6:34 En die Gees van die HERE het Gídeon vervul; en hy het op die ramshoring geblaas, en die Abiësriete is agter hom aan opgeroep.

Weereens was hierdie vervullling net tydelik en vir ‘n spesifieke taak.

Ons lees ook in 2 Kron 24:20 dat die Gees van God Sagaria vervul het om te profeteer.  Dit was nie ‘n permanente vervulling nie. 

Hierdie gedeeltes help ons om te verstaan dat die Heilige Gees mense bekragtig het om ‘n spesifieke taak te verrig.  Wanneer die taak verrig is, was hierdie spesiale vervulling teruggetrek.  Dit was egter nie ‘n normale ervaring vir die Ou Testamentiese gelowige se daaglikse lewe nie. Nie almal het hierdie vervulling gehad nie en dit was ook nie so bedoel nie.

LUKAS GEDEELTES

In die Nuwe Testament kry ons ook hierdie besondere vervulling met die Heilige Gees vir ‘n spesifieke goddelike diens.   ‘n Spesiale vervulling beklemtoon eerder die gebeurtenis van die vervulling as ‘n stand van volheid. 

SPESIALE VERVULLING – “PLETHO”

Luk 1:15 – Johannes die Doper 

want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word (“plesthesetai” – Toekomstige tyd”) met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. 

Let op!  Johannes die doper was vevul met die Heilige Gees van die skoot van sy moeder af.  Nooit in Sy hele lewe het hy enige teken (Joh 10:41) gedoen en ook het hy nooit in een of ander vreemde, hemelse taal gepraat nie.  Steeds word hy erken as die grootste profeet wat daar was deur Jesus (Luk 7:28).  ‘n Mens kan sê dat sy vervulling was meer permanent, maar dit was vir sy besondere bediening wat hy gehad het. Dit was nie ‘n vereiste vir elke gelowige nie.

Luk 1:41 – Elisabet (“eplesthe” – Aoristus tyd – “is vervul”)
Luk 1:67 – Sagaría (“eplesthe” – Aoristus tyd – “is vervul”)
Hand 2:4 – Hulle is almal (“eplesthesan” – Aoristus tyd – “vervul”)
Hand 4:8 – Petrus (“plestheis” – Aoristus tyd – “vervuld”)
Hand 4:31 – Hulle is almal (“eplesthesan” – Aoristus tyd – “vervul”)

Let op!  Dieselfde Petrus wat in Handelinge 2 vervul is met die Heilige Gees, word weer vervul in Handelinge 4:31 en dit sê nie dat hulle in tale gespreek het nie.  Dit sê “hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.”  Wanneer iemand verkondig dat elke keer wanneer iemand vervul is met die Heilige Gees het hulle in tale gespreek is dit egter nie die waarheid nie.  Ons lees ook nie dat die 3000 wat tot bekering gekom het in Hand 2 in tale gepraat het nie.  Toe die Samaritane in Hand 8 die Heilige Gees ontvang het, staan daar ook nie dat hulle in tale gespreek het nie.

Hulle was met die Heilige Gees vervul vir ‘n spesifieke doel.  Die dissipels wat in die oppersaal met die Heilige Gees vervul was, was vervul vir ‘n spesifieke doel.  En hier het spreek in tale wel ‘n rol gespeel.  Maar dit was nie ‘n permanente vervulling nie.  Ons sien dieselfde gebeur met Paulus.

Hand 13:9 – Paulus (“plestheis” – Aoristus tyd – “vervuld”)

Hand 9:17 En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word (“plesthes” – Aoristus tyd”).

Hier word Paulus vervul met die Heilige Gees.  V20 sê, hy het in die Sinagoges gegaan en Christus verkondig.  Dit was ‘n spesifieke vervulling vir ‘n spesifieke doel.  In Handelinge 13:9 lees ons dat hy vervul is met die Heilige Gees en in beide gevalle sien ons nie dat hy in tale gespreek het nie, alhoewel jy later sê dat hy meer as al die Korinthiërs in tale gepraat het kan dit nie in hierdie twee gevalle veronderstel word nie. 

Handelinge 9:17, en 13:9 sê wel wat gebeur het nadat hy vervul is met die Heilige Gees.  Die skille het van sy oë afgeval en hy kon weer sien en hy het opgestaan en is gedoop (9:18) en hy het Elimas die towenaar bestraf en Elimas het blind geword (3:10,11).  Dit sou oneerlik wees om tale spraak in hierdie gedeeltes te wou inlees.

Wat ons wel moet raaksien is die woord wat Lukas gebruik, die woord “plethos”, wat beteken “vervul”.  Hierdie woord in die Grieks, staan in die aoristis passiewe vorm.  Wat beteken dit?  Die aoristis beteken dat hierdie vervulling ‘n gebeurtenis is en nie ‘n toestand nie.  Die passiewe vorm beteken dat die persoon wat vervul word, passief is by die vervulling.  Maw, hy het niks gedoen om vervulling te ontvang nie, maar hy word vervul deur ‘n soewereine daad van God.


  • Die aard van hierdie vervulling:  Dit is ‘n oombliklike vervulling waardeur die gelowige krag of die vermoë ontvang en dit het meestal te doen met profetiese uitsprake.


  • Die voorwaardes vir hierdie vervulling:  Geen voorwaardes word genoem nie en word die ontvanger eerder deur die Heilige Gees vervul as ‘n soewereine werk van God en nie omdat die mens gewil het nie (passiewe vorm van die werkwoord).
  • Die herhaling van hierdie vervulling:  Petrus was vervul op Pinksterdag (Hand 2:4) en weer in Hand 4:31. Die konteks dui glad nie daarop dat Petrus die aanvanklik vervulling as gevolg van sonde verloor het nie, maar dat die bekragtiging van die Gees weer nodig was vir ‘n nuwe taak.
  • Die doel van die vervulling:  Elke keer was dit vir ‘n spesiale profetiese aktiwiteit.  Die doel was ook vir vrymoedigheid in hul getuienis van die Woord van God.  Dit was ‘n spesiale bekragtiging om ‘n spesiale taak te kan verrig.


  • Die tydsduur van die vervulling:  Solank as wat dit neem om die gegewe taak te verrig.  Ons sien dit by Petrus (Hand 2:4, 4:31) en Paulus (Hand 9:17, 13:9).  Daar is geen voorbeeld waar die goddelike soewereinge werk van vervulling voortgeduur het totdat die persoon sonde gedoen het nie.


  • Die omvang van die vervulling:  By elke geleentheid was die vervulling met die Heilige Gees ‘n soewereine werk van God waar die mens bekragtig word deur die Gees om ‘n goddelike taak te verrig.  Daar word geen voorwaardes genoem nie en niemand word beveel om dit te soek of daarvoor te vra nie.


DIE NORMALE VERVULLING – “PLERES”

Lukas was baie spesifiek met sy woord keuses.  Die normale vervulling (pleres) met die Heilige Gees beklemtoon die blywende toestand van volheid.  Die verskil tussen die woorde wat Lukas gerbuik vir ‘n spesiale vervulling en ‘n normale vervulling is dat die spesiale vervulling dui daarop dat die gebeurtenis van vervulling plaasgevind het en die normale vervulling dui daarop dat ‘n toestand van volheid bereik is.

Luk 4:1 En Jesus het vol (“pleres”) van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,

Die naamwoord “pleres” dui op ‘n normale vervulling wat dui op ‘n toestand van volheid.

Hand 6:3 Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol (“plereis”) van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel;

Hand 6:5 En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, ‘n man vol (“plere”) van geloof en van die Heilige Gees…

So ook in met Stefanus in Hand 7:55, Barnabas in Hand 11:24 en die dissipels in Hand 13:52.  Maar in Hand 13:52 kry ons egter die werkwoord vorm van pleres en dit is pleroo.

Hand 13:52 En die dissipels is vervul (“eplerounto”) met blydskap en met die Heilige Gees.

Hierdie “vervul” was egter nie “pletho”, spesifieke vervulling nie, maar die “pleroo”, normale vervulling.


  • Die aard van hierdie volheid:  Lukas beskryf nie hierdie volheid as ‘n geestelike metode of as ‘n spesiale toedoen van die Gees vir ‘n spesifieke taak nie.
Dit verwys na iemand wat reeds Gees-gemotiveerd is.  Jy word nie vol om ‘n groot maat van geestelike motivering te bereik nie, maar jy is Gees-gemotiveerd en daarom is jy vol van die Gees.  Dit is soos om iemand wat baie wysheid het te beskryf as iemand wat vol van wysheid is.  Hy word nie vervul met wysheid sodat hy wys kan wees nie, maar is vol van wysheid omdat hy reeds wys is.

Iemand wat vol van die Heilige Gees is, is iemand wat voortdurend deur die Heilige Gees beheer word.  Dit het nie in een oomblik gebeur nie, maar deur ‘n groei proses van geestelike volwassenheid.


  • Die voorwaardes van hierdie volheid:  Daar is geen uitdruklike voorwaardes gestel in die Skrif nie.  ‘n Man vol van die Heilige Gees is ‘n volwasse man.  Daarom sou iemand wat vol van die Heilige Gees wil wees, moet streef na geestelike volwassenheid.


  • Die doel van hierdie volheid:  Die volheid is nie ‘n metode tot ‘n einddoel nie, maar eerder die einddoel in sig self. 


"One does not become full in order to live the victorious life, but one becomes so submitted to and influenced by the Holy Spirit that the extent of the Spirit’s influence over his life may be described by saying ‘is full of the Holy Spirit.’" (Timothy Crater, The Filling of the Spirit in the New Testament, p. 46)


  • Die tydsduur van hierdie volheid:  Hierdie toestand van volheid word nie onmiddelik bereik nie (soos die soewereine vervulling nie), maar kom deur ‘n groeiproses.  Wanneer iemand ‘n hoë vlak van die Gees se beheer in sy lewe toelaat, sal hy op die ou einde gekenmerk word as iemand wat “vol van die Heilige Gees” is. 


  • Die omvang van hierdie volheid:  Die volheid van die Gees is ‘n normatiewe waarheid wat op elke gelowige van toepassing moet wees.


PAULUS (EF 5:18)

In die Nuwe Testament is daar net een Skrifgedeelte buite Lukas se verwyssings na “die vervulling van die Heilige Gees” en dit kry ons in Ef 5:18 waar ons die opdrag kry om met die Heilige Gees vervul te word.  Die woord wat Paulus gebruik is “pleres/pleroo” en verwys egter na die normale vervulling van die Gees en nie na die spesifieke vervulling (“plethos”) nie. 

Ons kry die Griekse woorde “en pneumati” egter ook in Ef 2:22; 3:5; 6:18. In hierdie gedeeltes verwys almal na die Heilige Gees as die persoonlike agent.


  • Ef 5:18 verwys na die normale vervulling van die Gees, omdat die beskrywing wat volg op hierdie opdrag (v19-21) blywende kenmerke van ‘n persoon beskryf wat ooreenstem met die gebruik in Luk 4:1; Hand 6:3, 5; 7:55; 11:24 en 13:52.


  • Paulus gebruik dieselfde Griekse werkwoord “gevul moet word (plerousthe)” as Lukas wat die normale vervulling van die Gees beskryf.


Die werkwoord “om te vul” (pleroo) kan meer as een naamwoords vorm hê, bv.


  1. Die genatiewe naamwoord verwys na dit (die materiaal) waarmee vervul word, maw die inhoud van die vervulling is die Gees.
  2. Die datiewe naamwoord verwys na die agent of instrument wat vir vervulling veroorsaak, maw word vervul deur middel van die Heilige Gees.
  3. Die akkusatiewe naamwoord verwys na dit wat gevul is, maw jy word vervul in jou menslike gees.


Meeste Engelse vertalings het Ef 5:18 verkeerdelik vertaal wanneer dit sê “be filled with the Spirit”.  Die AOV ook met “word met die Gees vervul”.  Dit het die gevolg dat die Engelse en Afrikaanse lesers dink dat dit ‘n genatiewe naamwoord is, maar dit is egter nie die geval nie.

Die Grieks is egter in die datiewe vorm.  Die letterlike en korrekte vertaling sou wees “word deur die Heilige Gees vervul”, “be filled by the Spirit”.  Maw die Heilige Gee is die agent of instrument wat die vervulling veroorsaak.  Hy is nie die inhoud waarmee ons vervul word nie, maar die agent, die Een wat die vervulling bring.  Dit is dieselfde werkwoord as Ef 2:22

AOV
Ef 2:22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees. (verkeerd vertaal)

KJV
Eph 2:22 In whom ye also are builded together for an habitation of God through the Spirit (deur die Gees – korrek vertaal).

Dit dui op die Een wat die vervullings werk doen en nie die inhoud waarmee jy vol is nie.

Wat is die vervulling van die Heilige Gees?  Dit wil voorkom dat dit verwys na die teenwoordigheid van die Heilige Gees in die gelowige se lewe, maar die wyse waarop Paulus die Efesiërs vermaan sê dat hulle meer en meer deur middel van die Gees beheer moet word en dat hierdie verhouding dit sal produseer wat Paulus noem (v19-20) in die brief.  ‘n Mens kan tereg sê, dit is nie jy wat meer van die Heilige Gees in die hande kry nie, maar die Heilige Gees wat meer van jou in die hande kry.

DIE BETEKENENIS VAN DIE VERVULLING

1.       Vevulling beteken nie absolute beheer deur die Gees nie.  Dit sou egter beteken dat die mens sondeloos en volmaak sou wees, want die gelowige sou nie in staat kon wees om die soewereinge werk van God te kan weerstaan nie.

As die Heilige Gees absoluut/ten volle in beheer van ‘n gelowige lewe sou wees, sou dit onmoontlik wees om sonde te kon doen.  Die vervulling deur die Heilige Gees is nie totale beheer nie, maar eerder ‘n progressiewe beheer.  En wanneer die gelowige onder ‘n hoë vlak van beheer deur die Gees sou wees, sou hy beskryf word as iemand wat vol van die Heilige Gees is.

2.       Vervulling beklemtoon die effek en gevolg van die werk van die Heilige Gees in die mens se lewe.  Daarom moet ons fokus wees om die waarheid te spreek met ons naaste (Ef 4:25); om mekaar te vergewe (Ef 4:32); om te beproef wat die Here welbehaaglik is (Ef 5:10); om onder mekaar te spreek met psalms en lofsange en geestelike liedere (Ef 5:19); om aan mekaar onderdanig te wees (Ef 5:21); ens.  Daar is baie meer opdragte waarvan Ef 5:18 slegs een is.

3.       Vervulling is ‘n proses wat begin by wedergboorte en progressief vorder na ‘n doel.  Dit is nie volledig of totaal nie.  Vergelyk die volgende teksgedeeltes.

Luk 2:40 En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol (pleroo) van wysheid. En die genade van God was op Hom.

Joh 16:24 Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome (pleroo) kan wees.

Hierdie teksgedeeltes impliseer dat daar vordering was na ‘n doel toe.  Die doel is om deur die Heilige Gees beheer te word.  Ef 5:18 sê “Moenie dronk word van wyn nie…” wat ‘n progressiewe proses illustreer.  Na elke drankie kom die persoon nader aan dronkenskap.  En wanneer die persoon dronk is, dan kan ons sê, “hy is vol van wyn of sterk drank”.  So is dit met die Heilige Gees wat progressief beheer van jou lewe neem sodat ander kan sê, “jy is vol van die Heilige Gees”.

4.       Die betekenis van “vervul” is om beheer/invloed uit te oefen en die werkwoord “pleroo” het sekere implikasies:

a.       “plerousthe” (“word (almal) met die Gees vervul”) –  is in die meervoudsvorm.  Dit is nie ‘n voorreg wat net vir sekeres voorbehou word nie, maar is vir alle gelowiges.

b.       Dit is in die teenwoordige tyd, maw dit is ‘n voorgesette aksie en daarom nie ‘n tydelike vervulling nie, maar ‘n normatiewe vervulling en moet dit ‘n blywende kenmerk wees by die gelowige se lewe.

c.       Dit is ‘n opdrag en nie ‘n opsie nie.  Dit is ‘n duidelike verklaring dat dit God se wil is vir elke gelowige.  Om dit eenvoudig te stel word elke gelowige beveel om geestelike volwasse te wees.

Daar is nie ‘n meganiese metode om hierdie toestand “vol van die Gees/ vervul met die Gees” te bereik nie.  Dit ‘n proses van geestelike groei en nie ‘n tegniek of formule wat onmiddelike resultate oplewe nie.

5.       Daar is geen voorwaardes vir die vervulling met die Heilige Gees nie, maar eerder ‘n aantal vermanings in die Nuwe Testament wat lei tot geestelike groei (Rom 12:1,2; Fil 3:8-10).  Ons moet groei in Christus (2 Pet 3:18; Hand 2:42).  Ons moet die Woord bestudeer (Kol 3:16; 1 Pet 1:23-2:2; Matt 4:4; 1 Tim 2:15; Joh 8:31; Psa 1:2-3).  Deur gebed (1 Thes 5:17; Kol 1:9…; 4:2; Ef 6:18). Gemeenskap (Heb 10:23-25 ​​en Ef 4:11-16).  Getuienis (Rom 1:14-16; 10:9-15, 1 Pet 3:15, 1 Thes 2:8; Kol 4:3-6 5).  Gehoorsaamheid (Rom 6:13-15, Jak 1:22-25).  Reinheid en belydenis van sonde (1 Kor 11:31-32; Ef 4:30, 1 Joh 1:07-02:02). 

Die Heilige Gees is die agent van die vervulling.  Hy is die Een wat stil werk agter die skerms, wat ons die krag en vermoë gee om in ooreenstemming met die Here se norme en standaarde te leef, die Een wat ons verander om soos Christus te wees.

Christus Jesus is die fokus van die gelowige se verhouding met God.  Ons kan duidelik die groei van hierdie verhouding sien wanneer "die vrug van die Gees" sigbaar is. 

Wat beteken dit om met die Gees vervul te wees?  Dit beteken om 'n geestelik volwasse te wees, om soos Christus te wees, wat die vrug van die Gees vertoon!  Dit beteken om met Christus besig te wees, nie met jouself of met iemand se ervaring met die Gees nie.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288