Monday 4 June 2012

Eerste dinge eerste (vervolg)


1 Pet 1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.
14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.
17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;

Ons gesels oor eerste dinge eerste.  Ons word beveel om volkome te hoop op die genade wat ons sal ontvang wanneer Jesus weer kom.  Hoe doen ons dit?  Deur ons verstand agter mekaar te kry en gereed te kry en nugter te wees, maw nie deur die wêreld besoedel te word nie.

In reaksie op die groot verlossing wat God vir jou gegee het, is jy veronderstel om met afwagting en hoop uit te sien na die genade wat kom.  Is jy al so lank ‘n Christen dat jy dalk die smaak van genade verloor het?  Dat jy vergeet het hoe soet dit was to jy dit die eerste keer ontvang het? 

As die Here more sou kom, sou dit op jou lewe inbraak gemaak het?  Sou dit jou planne omver gegooi het?  Of hoop jy dalk dat die Here nie more sal kom nie, want jy het nog te veel ander dinge wat jy wil doen?  Soveel planne wat jy nog het.  Die geld wat jy weggesit vir ‘n vakansie, of daai nuwe kar wat jy nog wil ry.

Ons raak so verswelg in hierdie wêreld.  Daarom sê Petrus, omgord julle lendene van julle verstand, kry julle prioriteite agter mekaar, eerste dinge kom eerste.  As jy jou oorweldigende vreugde verloor het van hoe wonderlik jou redding was, as jy eerder hier op aarde wil bly as om saam met Christus in die hemel te wees, dan het jy nie Sy verskyning lief nie.  Jy het nog nie jou verstand agter mekaar gekry nie.  Jou prioriteite is deurmekaar.

Ek dink dit bedroef Hom wanneer ons nie wens dat Hy moet kom nie, want ons het te veel ander planne.  Ek dink dit bedroef Hom wanneer ons nie leef in die konstante afwagting van Sy heerlikheid, wat aan ons Sy genade op genade bewys het en Sy genade ook by wederkoms aan ons wil gee.  Kry jou hart reg.  Hoop volkome op die genade wat jou deel sal word.

Ons reageer op God se verlossing deur volkome te hoop, heiligmaking na te streef en om Hom te eer.  Dit is ons verpligting teenoor God.  Ons het dan nou laasweek gesels oor hoop.  Kom ons kyk vandag dan ook na heiligmaking.

1 Pet 1:14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

Die tweede verpligting wat ons teenoor God het, in reaksie op die groot verlossing wat Hy vir ons gegee het, is heiligmaking.  Ek wil die volgende stelling maak: Hoop produseer heiligmaking.  Hoop lei tot heiligmaking.

1 Joh 3:3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

As jy in hoop leef, sal jy in heiligmaking leef.  Jy leef elke dag met jou verstand omgord, gefokus op die genade wat jou deel sal wees by die openbaarmaking van Christus.  En dit produseer heiligmaking.   En dit is ons tweede verpligting teenoor God.

Die sleutel woorde is v15, “julle moet heilig word”.  Dit is die gedagte, maar die agtergrond daarvan is in v14, “Soos gehoorsame kinders”.  Wat is heiligmaking?  Dit is gehoorsaamheid.  Jou karakter word gebou vanuit gehoorsaamheid. 

In Ef 2:2 word die ongelowiges genoem die kinders van ongehoorsaamheid.  Maw dit is in hulle sondige natuur om ongehoorsaam te wees.  Hulle word gekenmerk deur ongehoorsaamheid.  En dit is die verskil tussen ‘n Christen en ‘n nie-Christen.  Die nie-Christen is ongehoorsaam aan God en die Christen is gehoorsaam aan God.

En dit is wat Petrus sê, Soos gehoorsame kinders, juis omdat dit in jou natuur is, juis omdat God jou geskape het tot goeie werke, daarom moet jy so lewe, en dit is heilig.

Ef 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Rom 6:22 Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.

Ons het diensbaar geword aan God.  Die KJV sê, “we become servants of God”.  En ons het die vrug tot heiligmaking.  ‘n Christen se lewe word gekenmerk deur gehoorsaamheid.  En juis omdat dit in julle geestelike natuur is om God te gehoorsaam, juis daarom moet julle heilig leef.

As dit ons geestelike natuur is, om God te gehoorsaam, kan ons Hom ongehoorsaam?  Ja ons kan, maar dit is nie ons lewenswyse nie.  Dit is nie die patroon nie.  Ongehoorsaamheid verbreek egter hierdie patroon.  Daarom roep hy selfs hulle wat van nature gehoorsaam is, om heilig te wees, want die gehoorsame natuur is steeds gevange in ‘n sondige vlees waar daar sonde is.

Dit is belangrik dat ons sal sien wat Petrus probeer sê is dat ons sal leef volgens ons geestelike natuur en dit is gehoorsaamheid.  Dit is wie ons is.  Dit is ons natuur, om gehoorsaam te wees.  Daarom moet ons so leef.

Hoop volkome en wees heilig.  Leef rein, regverdig, sonder om te sondig, afgesonder van die wêreld.

2 Kor 7:1 Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.

KJV sê, “perfecting holiness in the fear of God.”

Ef 5:1 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;
2 en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad...

Maw, word soos die een wie se beeld jy dra.  En die vraag is, hoe? 

Die eerste verpligting wat ons teenoor God het is om volkome te hoop.  Hoe doen ons dit?  Deur die lendene van ons verstand te omgord, en nugter te wees, deur ons prioriteite agter mekaar te kry.

Maar hoe moet ons heiligmaking nastreef?  V14,

1 Pet 1:14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.

Moenie lewe soos wat julle geleef het nie.  Toe julle nog kinders van die ongehoorsaamheid was nie.  Moenie julle lewens so inrig nie.  Die KJV sê, “not fashioning yourselves according to the former lusts in your ignorance.”  Die CEV sê, “Don't let your lives be controlled by your desires, as they used to be.”  Die Griekse woord is “susgematizo”.  Ons kry dieselfde woord in Rom 12:2,

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie.  Moenie jou lewe inrig soos die wêreld nie.  Maw jy moet totaal en al breek met jou vorige sondige lewe.  Jy gaan nooit heilig wees as jy dit nie doen nie.  Paulus sê in 1 Thes 4:4, 5 dat ons nie moet leef soos die heidene wat God nie ken nie.  Moenie leef soos wat jy van te vore geleef het voordat jy gered was nie.  Jy bestaan nie meer in onwetendheid nie.

Ef 4:22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,
23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed
24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

Dit is die definisie van die nuwe natuur, die nuwe skepping, ‘n heilige lewe.  Jy is nie meer dieselfde nie.  Jy is ‘n kind van gehoorsaamheid en moet so leef en nie soos wat jy geleef het nie.

So hoe leef ons heiligmaking?  Deur nie gelykvormig te word aan die wêreld nie, deur nie jou lewe in te rig soos dit was nie.  Jy moet breek met jou vorige lewe.  En dan noem Petrus die standaard van heiligheid.  Hier is die standaard:

1 Pet 1:15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,

Dit is die standaard.  God is heilig.  So moet ons heilig wees.  Heiligmaking beteken, “om soos Jesus te wees.”  Hou op om te doen wat jy gedoen het as ‘n sondaar en doen wat God doen.  En luister!  God het nie die standaard gestel nie.  Hy is die standaard.

Matt 5:48 Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Ef 5:1 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;

Die standaard is hoog.  En ons sal dit nooit wees nie.  Ons sal nooit so heilig wees soos wat God is nie.  Maar ons kan heilig wees, want God is heilig.  God het ons geroep om heilig te wees.  Ef 1:4 sê dat Hy ons uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek in liefde voor Hom te wees.

1 Pet 1:16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

Dit is die beginsel.  Ons moet heilig wees, want God het so gesê.  En dit staan in Lev 11:44. En in kort sê dit dat die Israeliete moet heilig wees, nie vir hulle eie onthalwe nie, maar vir God se onthalwe.  Want hulle word as God se volk geïdentifiseer.  Dit gaan om Hom te vereer.

Waarom moet ons heilig leef?  Want Hy is heilig en ons word met Hom geïdentifiseer.  As ons nie heilig leef nie, dan vereer ons Hom nie.  Die naam wat ons dra, kry ‘n slegte naam.  God wil nie geïdentifiseer word met onheilige mense nie.  En as jy met Hom geïdentifiseer wil word, dan moet jy heilige leef, want Hy is heilig.

Na alles wat Hy vir ons gedoen het, dat Hy vir ons so groot verlossing gegee het, skuld ons dit aan Hom.  Waarom moet ons heilig leef?  Want Hy is heilig en as met Hom geassosieer wil wees, moet jy ook heilig wees.  Dit is die rede.

Ja, om heilig te leef is vir jou voordelig, maar dit is nie die rede nie.  Om heilig te leef is sodat God deur jou lewe verheerlik kan word.

Baie keer voel ons gedruk om heilig te leef en hierdie druk word op ons geplaas deur ons kerk of ons Christen vriende of uit vrees dat ons geoordeel sal word.  Maar dit is nie die rede hoekom ons heilig moet leef nie.  Ons moet heilig leef, want God is heilig.

En dit bring ons by die derde verantwoordelikheid wat ons het teenoor God.  En dit is om Hom te eer.

1 Pet 1:17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;

Die sleutel woorde hier is: “wandel dan in vrees”.  Die ESV sê, “conduct yourselves with fear”.  Die CEV sê, “So you must honor God while you live as strangers here on earth.:

Watter vrees is dit?  Nie bang wees vrees nie.  Maar vrees in die sin van respek en eerbied.  Eerstens moet ons volkome hoop, tweedens heilig leef en dan lewe tot eer van God.  Om God te vrees, om God te eerbiedig.  Ons roep Hom aan as Vader, maar ons vergeet nie ons respek en eer vir Hom nie.  Hy is God.

Hy is ons Vader, maar Hy is ook ons Regter.  Alhoewel ons nie veroordeel word tot die ewige verderf nie, maar moet ons nog steeds rekenskap gee voor Hom eendag vir ons lewens.

Kom ek stel dit so:  Hoe meer jy Hom persoonlik ken as jou Vader, hoe meer vrees jy God. 

Ons moet leef in hoop, heiligheid en vrees.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288