1
Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud,
losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is
nie,
19
maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en
vlekkeloos,
Eendag was daar ‘n jongseun en hy het ‘n bootjie
gemaak. Hy het ‘n stuk hou gevat en die
bootjie daaruit gekerf. Hy het vir dit
‘n seil opgesit en dit mooi geverf. Met
trots het hy die bootjie na ‘n rivier toe gevat en daar met dit gespeel. Skielik het daar ‘n sterk wind opgekom en die
bootjie weg geblaas. Die jongseun was baie
hartseer oor sy bootjie wat weg is.
‘n Paar dae later loop hy in die straat af verby
die speelgoed winkel en met groot verbasing sien hy sy bootjie in die venster
op ‘n rak. Hy storm by die winkel in en
vertel vir die eienaar dat dit sy bootjie is wat hy gemaak het en verloor het
by die rivier. Die eienaar wou hom nie
glo nie en sê dat hy kan die bootjie koop vir die volle prys.
Die jongseun gaan toe huis toe en kry al sy
spaargeld wat hy het, alles wat het en gaan koop sy eie bootjie terug by die
speelgoed winkel. Dit is net soos God. Hy het ons nie net gemaak nie, maar Hy het
ook die volle prys betaal om ons te koop.
En dit is wat Petrus in hierdie gedeelte sê. God het ons nie net gemaak nie, maar Hy het
ons ook gekoop. Hy het ons verlos. V18 sê Hy het ons losgekoop. Die KJV sê “redeem”. En elke keer wanneer jy sê, ek is gered, sê
jy ook, ek is losgekoop, ek is verlos.
Wanneer jy Jesus jou Saligmaker noem, dan noem jy Hom ook Verlosser.
‘n Bekende prediker, Thomas Watson het gesê, “Great was the
work of creation but greater the work of redemption. It costs more to redeem us
than to make us. In the one there was but the speaking of the Word, in the
other there was the shedding of blood. The creation was but the work of God's
fingers, Psalm 8:3. Redemption is the work of His arm, Luke 1:51,"
God se skeppingswerk is groot en wonderlik, maar
sy verlossingswerk is nog groter.
Matt
20:28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar
om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.
Die prys waarmee God ons losgekoop het, waarmee
Hy jou verlos het, was Sy Seun Jesus Christus.
Dit het Sy Seun gekos om ons te verlos van die hopelose toestand waarin
ons was. Terwyl saligheid dan ‘n
algemene term is, is verlossing ‘n spesifieke term oor hoe God ons weer Sy eie
gemaak het. Hy het ons terug gekoop om
weer Syne te wees.
Ons teksgedeelte is ‘n tipe van dit wat ons in
die Ou Testament sien. Ons sien
byvoorbeeld in Eks 12 ‘n skadubeeld van wat Petrus graag wil sê,
Israel was gevangeniskap in Egipte. Moses en Aaron was die leiers en dit is nie
lank voordat hulle die Israeliete uit Egipte gaan lei nie. Hulle moet vir almal sê om ‘n lam te neem wat
sonder gebrek is op die tiende dag van die maand. En dan op die 14de dag teen die aand moet
almal dit slag. Let op! Vir ‘n paar dae moes die lam in die huis
geneem word soos ‘n troeteldier en daarna doodgemaak word.
Daarna moes hulle die bloed vat en aan die deurposte
smeer van die huise waarin hulle dit eet.
Eks 12:11 sê dan dat hulle dit moet eet met hulle heupe omgord, hulle skoene
aan hulle voete, en ‘n staf in die hand.
Hulle moet dit ook baie haastig eet.
En julle weet wat gebeur. God het deur Egipteland getrek en al die
eersgeborenes getref, mense en diere, maar die huise waarop die bloed gesmeer
was, was gespaar. Die Here het daar verby
gegaan. Dit is waar “Passover” vandaan
kom. The Lord passed over the houses
with blood on the doorposts.
En dit is ‘n skadubeeld van wat Petrus hier
beskryf. En net om dit aan te vul,
onthou julle nog vir Josef. Hy was deur sy
eie broers as slaaf verkoop. Hy was as
slaaf na Egipte geneem en was gevange daar gewees, maar omdat hy ‘n bonatuurlike
vermoë gehad het om drome te kan uitlê, het Farao hom oor die hele Egipteland
aangestel.
En toe daar hongersnood in die land was het Josef
se pa, Jakob en sy familie na Egipte toe getrek. En met God se voorsiening, was Josef se
broers wat hom in slawerny verkoop het, van sy goedheid afhanklik. Hulle het na Egipte toe gekom en het daar
vermenigvuldig. Eks 1:7 sê die kinders
van Israel was vrugbaar en het vermeerder en hulle het buitengewoon magtig
geword.
Daar het toe ‘n nuwe koning gekom wat nie van
Josef geweet het nie en hy het nie gehou van wat gebeur met die Israeliete
nie. Hy was bang hulle word ‘n
bedreiging en besluit toe om van hulle slawe te maak.
So die Here het toe Farao en Egipte met plae
getref, maar hy wou nie die Israeliete laat gaan nie. Die 10de en laaste plaag het God ‘n doodsengel
gestuur om deur Egipteland te trek en al die eersteborenes dood te maak. Daarna het meer as 2 miljoen Jode Egipte
verlaat. 70 Jode het daar aangekom in
Egipte en nou verlaat meer as 2 miljoen Jode.
Hier is die punt.
Die lam se lewe was die prys wat betaal moes word vir die lewe van die
eersgeborenes. Die lam het in die plek
van die eersgeborenes gesterf. Die lam
was die plaasvervanger. Dit is wat God
vereis het om hulle te verlos.
En kan jy jouself net indink oor die
voorbereiding hiervan. Elke familie moes
‘n lam gaan soek wat geen gebrek gehad het nie.
En dan moes hulle alles reg doen en die bloed op die deurposte gesmeer
het.
En toe die aand aanbreek, was hulle sekerlik angstig
gewees. Om die tafel, hulle heupe omgord,
hulle skoene aan, hulle staf in hulle hand.
Hulle was gereed om te trek en hulle het vinnig alles geëet.
Eks
12:33 En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou—om hulle gou uit die
land uit te stuur. Want hulle het gesê: Ons is almal dood!
En dit was die simbool van hulle verlossing deur
die dood. Dit was die plaasvervangende
dood. En God het vir Israel gesê dat hulle
moet die pasga vier om hierdie dag te onthou om hulle te herinner aan hierdie
groot verlossing wat gekom het deur die bloed van die lam.
En dit is sekerlik wat Petrus is gedagte gehad
het toe hy gesê het,
1
Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud,
losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is
nie,
19
maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en
vlekkeloos,
Vandag vier die Jode nogsteeds die Pasga as die
grootste wonderdaad van God in Israel se geskiedenis. In Eks 15 wanneer Moses en die seuns van Israel
sing en God prys, dan sing hulle,
Eks
15:13 U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u
krag na u heilige woning gevoer.
So die uittog uit Egipte het gegaan oor
verlossing. Hulle was verlos. Hulle was losgekoop en die prys van die dood
van ‘n lam.
Psa
78:35 en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die
Allerhoogste, hul verlosser.
God is hulle verlosser. Maar so groot soos wat hierdie verlossing vir
hulle was, kan dit nie vergelyk met die verlossing waarvan Petrus skryf
nie. Hier is die grootste verlossing. Daarom vier ons nie meer die pasga nie, maar
ons vier die nagmaal wat groter is. Ons
word herinner wanneer ons die nagmaal gebruik van die grootste verlossing.
Ons het dan gesien in vers 13 oor ons reaksie op
hierdie groot verlossing. En ons het
gesien dat dit vereis van ons, ons verpligting teenoor God, teenoor ander en
teenoor onsself. Ons verpligting teenoor
God, in reaksie op hierdie groot verlossing, is om volkome te hoop op die genade,
om heilig te lewe en om God te vrees.
Die vrees van die Here is die begin van wysheid
(Spr 9:10). Deur die vrees van die Here wyk
‘n mens af van die kwaad (Spr 16:6). ‘n Gesonde
vrees wat God eer as ‘n heilige God.
So in v18 en 19 gee Petrus net nog motivering
waarom ons volkome moet hoop, heilig moet leef en God moet vrees.
Die term wat hy gebruik, “losgekoop/redemption”
beteken om ‘n losprys te betaal om iemand te vry te laat. Hier is dan net nog ‘n rede waarom jy volkome
moet hoop, heilig moet leef en God moet vrees, want God het jou losgekoop. Hy het vir jou ‘n losprys betaal om jou vry
te maak.
En hier is vier vrae wat ons moet antwoord. En dit sal vir ons ‘n goeie gesonde leer gee
oor verlossing. Eerstens, waarvan is ons
verlos? Tweedens, waarmee is ons verlos?
Derdens, deur wie is ons verlos?
En vierdens, waarom is ons verlos?
Waarvan is ons verlos?
Die waarskynlike antwoord is...sonde. En ja, die skrif ondersteun dit, dat die mens
onder die slawerny van sonde was.
Rom
6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die
liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou
dien nie.
V17 sê ons was slawe van sonde en v18 sê ons is vrygemaak
van sonde en het dienaars geword van geregtigheid. Ja, so ons is verlos van sonde. Maar ons sien ook byvoorbeeld in Gal 3:13 dat
God ons losgekoop het van die vloek van die wet.
Wat beteken dit?
Die vloek van die wet is die straf van sonde. Die siel wat sondig moet sterwe. Die wet sê dat die loon van sonde is die
dood, die ewige dood. So ons was verlos
van sonde en ook van die vloek van die wet, die loon van sonde, die straf van
sonde, die ewige dood.
Ef
1:7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade
na die rykdom van sy genade.
Ons is verlos van die misdade, van sonde. En ook in Kol 1:14 “die verlossing deur sy
bloed, naamlik die vergifnis van sonde.”
So ons verlossing het te doen met sonde.
En dan hierdie ongelooflike teks,
Tit
2:14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en
vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.
So dit het te doen met sonde. Ons is verlos van sonde, van ongeregtigheid,
van misdade. Dit is die algemene gedagte. Maar kom ons gaan terug na ons teksgedeelte en
sien waarna dit spesifieks verwys. Die
eerste is in v14.
1
Pet 1:14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die
begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
So een kenmerk van sonde is begeerlikheid. Sondaars word beheer deur begeerlikheid. ‘n Begeerte na dit wat boos is. Hierdie kenmerk word dan ook verder beskryf
in 1 Thes 4:5 wat sê dit is hoe die heidene is wat God nie ken nie. So sondaars word gedryf deur hulle harstogtelike
begeerstes.
Jak
1:14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en
verlok word.
15
Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot
volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.
Begeerlikheid begin in jou gedagtes. Jeremia 3:17, 7:24 in die KJV noem dit, “the imagination of their evil heart.” Die Afr praat van die verharding van die
hart, maar die letterlike vertaling sou wees, die verbeeldings van jou bose
hart.
En dit is hoe sonde werk. Sonde begin in die verbeelding van jou
hart. In jou gedagtes.
Kom ek gee ‘n voorbeeld: Ek word versoek om iets verkeerd te
doen. Die versoeking kom na my toe. En as ek dit nie hanteer nie, kom dit in my
gedagtes. Ek dink daaraan en koester die
gedagte. Ek oorweeg om dit te doen. En wanneer ek daaroor dink, dan verander my
gedagtes in verbeeldings.
En nie lank nie word hierdie verbeeldings impulse
wat my gedrag bepaal. En hoe langer jy
daaroor dink hoe meer voed jy dit. En
dit sal soos Jakobus sê jou wegsleep en verlok en op die ou einde baar dit
sonde. Sonde werk in jou verbeeldings. En ‘n sondaar se verbeeldings word beheer
deur sonde.
Kyk wat sê die volgende vers,
Luk
1:51 Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van
hulle hart het Hy verstrooi.
KJV sê, “he hath scattered the proud in the imagination of their
hearts.”
Sonde begin as ‘n gedagte. Dit word gevoer in die verbeelding. En die verbeelding lei tot aksie. Maar as kind van God, word jou verbeelding nie
meer net beheer deur die begeerlikhede van die hart nie. Want die Heilige Gees het inspraak in jou
gedagtes. Die Heilige Gees oortuig jou,
dit is sonde.
Daarom kan ‘n wedergbore kind van God nie rustig en
sonder skuldgevoel in ‘n leefstyl van sonde bly nie. Die Gees sal hom nooit tot rus laat nie. Daar sal altyd ‘n stryd wees in sy
binneste. En as jy wandel deur die Gees,
sal jy nie die begeerlikhede van die vlees volbring nie.
As jy in die vlees wandel, gaan die vlees jou
gedagtes beheer. So as jy lank genoeg
voor die TV sit en jou gedagtes net voer met allerhande gemors, dan gaan dit
jou verbeelding begin beheer. En dit gaan
impulse word wat lei tot aksie. Daarom
moet jy jou gedagtes oppas. Jy moet jou hart
bewaar.
Jos
1:8 Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag,
sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan
sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.
Psa
19:14 Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik
wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!
Die oordenkinge.
The meditation of my heart. Dit
is jou verbeelding. Jy moet dit goeie en
gesonde bybelse waarhede gee en dit sal jou gedrag bepaal.
So om alles nou op te som, sê dit vir ons dat ons
verlos is van die feit dat ons totaal en al deur die begeerglikhede en bose
gedagtes beheer was. Dit het voorheen in
onwetenheid bestaan soos vers 14 sê.
Kyk net na die wêreld. Dis geen wonder dat mense doen wat hulle doen
nie. Dis geen wonder dat mense die
verskriklikste dinge aanvang nie. Mense
se gedagtes is besoedel met boosheid.
Dit is nie veel anders as wat ons lees in Gen 6 nie.
Gen
6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en
al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,
Al die versinsels wat hy in sy hart bedink. KJV sê, “every imagination of the thoughts of
his heart was only evil continually.”
So die eerste vraag: Waarvan is ons verlos? Ons is verlos van die bose versindsels van
die hart. En daarom moet ons ons gedagtes
en ons hart bewaar. Mag ons gedagtes op
Hom gefokus wees. Mag ons die dinge
daarbo bedink en nie dit wat op die aarde is nie.
Ons het rede om te hoop. Ons het rede om heiligmaking te leef. Ons het rede om God te vrees, want Hy het ons
verlos van die begeerlikhede waarin ons voorheen gewandel het. God het ons verlos van die slawerny van sonde,
van alle ongeregigheid. Hy het ons
verlos van die straf van sonde. Hy het
ons verlos van die ewige dood.
No comments:
Post a Comment